Matthéüs 7:13-14
Ds HH van Alten - Sondag 24 Junie 2007
Lees: Matthéüs 7:13-23, Psalm 23
Teks: Matthéüs 7:13-14
Sing: Sien liturgie
Tema: Soek noulettend die ingang na die Koninkryk…
- Breed is maklik, maar dit lewer niks op nie
- Smal is moeilik, maar dit bring jou tuis.
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Miskien het u dit al agtergekom, miskien al eerstehands ervaar, naamlik dat die mens – dikwels u en ek ingesluit – ‘n kuddedier is. Ons volg die massa. Ons doen wat almal doen, omdat… ja, omdat almal dit doen. ‘n Mens sien dit dikwels in die modegiere. Jongmense, het julle al ooit gewonder waar modegiere vandaan kom? Wie of wat bepaal dat hierdie soort skoene vanjaar in die mode is, en daardie van verlede jaar amper al oudtyds lyk? Wie bepaal dat as ek by daardie winkel my klere koop, ek ‘in’ is? Enkelinge… wie dit ook al mag wees. Maak ook nie so baie saak nie. Maar wat wel saakmaak, is dat die massa daardie enkelinge volg, en ek en jy ook. Ons sien almal doen dit… nou ja, dan is dit seker hoe dit gedoen moet word.
Gemeente, ook in die kerk is die mens dikwels ‘n kuddedier. So maklik volg ons, in ons christen-wees, die massa. So maklik herhaal ons die antwoorde, kom ons die gewoontes na, doen ons die dinge omdat dit nou eenmaal so deur almal gesê en gedoen word. Miskien doen jy dit nie meer van harte nie, maar nou ja, solank as wat jy maar net die groep navolg.
Maar nou kom Jesus teen die einde van sy bergrede met ‘n waarskuwing aan die kerk: dit is nie genoeg om maar net saam met die ánder christen te wil wees en die ewige lewe te wil beërwe nie; dit is nie genoeg om maar net ‘n kuddedier te wees nie, ook al is jy ‘n skaap in die kudde van Jesus Christus.
En, gemeente, ons sien in die kerkgeskiedenis die hartseer gevolge wanneer kerkmense kuddediere word. Kyk maar na die Rooms-Katolieke Kerk met sy middeleeuse kolebrandersgeloof. Die kolebranders was mense wat diep in die bosse gewerk het; hulle was baie min by die huis, en het baie min in die kerk gekom. Toe ‘n slag aan so ‘n kolebrander gevra is wat hy glo, was sy antwoord: “Ek glo wat die kerk glo.” Oor die inhoud van daardie geloof kon hy niks sê nie, maar vir die Rooms-Katolieke Kerk was dit voldoende dat hy die kerk volg, die ‘kerkmode’… Sien ons nie maar dieselfde ook in die groot volkskerke van die wêreld en in ons eie land nie – die grotendeels onmondige kerkmassa wat eenvoudig volg waarheen die teoloë hulle lei. En, broers en susters, ten spyte van die feit dat ons onsself daarin beroem dat ons mondige gemeentes is, is dit ‘n gevaar waarvan ons nie vrygestel is nie. Maar, sê Jesus, dit is nie goed genoeg nie. Wie nie sélf na die smal en goeie weg soek nie, kan met ‘n volkskerk vol mense in die verderf beland, kan met ‘n trop vol kuddediere die ingang na die Koninkryk misloop. En daarom, gemeente – en dit is dan ook die tema vir die preek – :
Tema: Soek noulettend die ingang na die Koninkryk…
- Breed is maklik, maar dit lewer niks op nie
- Smal is moeilik, maar dit bring jou tuis.
1. Jesus gebruik in ons teks – verse 13 en 14 – die beelde van ‘n poort en ‘n pad. Dit is belangrik om vanaf die begin te verstaan dat hierdie twee beelde deur Jesus gebruik word om een en dieselfde saak te verduidelik. Die beelde verduidelik dieselfde saak, maar vanuit verskillende perspektiewe. Moet daarom nie probeer om Jesus se beelde te visualiseer soos op die bekende skildery van die breë en die smal pad nie. Dit is dikwels wel wat ons doen: eers sien ons op die voorgrond die breë en die smal poort, dan volg van daar af die wye en die smal pad, en dit lei ten slotte na óf die verderf óf die lewe. Maar, gemeente, dit is nie hoe Jesus dit bedoel het nie. Beide beelde word deur Hom gebruik om dieselfde saak te beskryf, naamlik die binnegaan – óf in die verderf, óf in die Koninkryk van God. Ja, die perspektief verskil – deur middel van die beeld van die poort fokus Jesus meer op die feit van die binnegaan, terwyl Hy deur middel van die beeld van die pad meer klem lê op die proses van die binnegaan. Maar beide beelde verwys na dieselfde saak. Dit net ter opheldering.
Kom ons kyk nou eers na die breë poort en die wye pad wat na die verderf lei…
As ek per motor vanaf Pretoria so gou moontlik in Kaapstad wil kom, watter roete sal ek ry? Die N1 natuurlik! Ek gaan nie die moeite doen om allerhande sekondêre paaie te gebruik net omdat dáár nie tolhekke is nie; nog minder gaan ek gebruik maak van grondpaaie waarvan ek die uiteinde nie ken nie. Nee, om my doel te bereik, maak ek gebruik van die snelweg; daarvan weet ek verseker dat dit nie onverwags gaan doodloop nie. En dit blyk ook duidelik uit die hele opset van die snelweg: breë bane en duidelike aanduidings. Die N1 is dus verseker die maklikste bereikbare én maklikste begaanbare roete vanaf Pretoria na Kaapstad, en daarom ook die roete van voorkeur om in Kaapstad uit te kom. Daar is maar min mense wat daarvoor sal kies om ‘n ander roete te ry, en die besige verkeer getuig daarvan…
Gemeente, só is dit ook met die breë poort en die wye pad van die lewe – daar is min mense wat nie hierdie roete kies nie. Die oorgrote meerderheid van mense gaan deur hierdie poort, die massa gebruik hierdie pad. En hoekom dan anders? Hierdie poort is dan so maklik toeganklik – dit maak nie saak of jy nou ‘n paar treë links of regs afwyk nie, jy sal nog steeds deur die poort gaan, só breed is dit. En dit is so maklik begaanbaar – dit maak nie saak of jy ‘n paar treë links of regs gaan nie, jy sal nog steeds op die pad bly, só wyd is dit. Geen struikelblokke op hierdie pad nie, geen doodloopstrate nie, duidelike aanduidings – wat meer wil jy hê op jou lewensreis?
Broers en susters, hoe beleef ons dít nie in ons eie lewens nie, naamlik die gemaklikheid om deur die breë poort te gaan en die wye pad te bewandel. Daar is eenvoudig geen weerstand wanneer ons deur hierdie poort gaan en op hierdie pad loop nie. Dit kos geen moeite om deur die breë poort te gaan nie, dit vra geen inspanning om op die wye pad te loop nie. Dit gaan eintlik vanself, outomaties. Sonder enige moeite, voordat jy dit besef, bevind jy jouself op hierdie breë pad. So maklik soos 1, 2, 3… Wie weet, waar jy hier in die kerk sit, bevind jy jouself miskien al op hierdie pad…
Maar, is dit moontlik? O ja, gemeente. Ons moenie dink dat mense wat die breë pad bewandel, noodwendig sulke goddelose wêreldlinge is nie. Dit is ‘n persepsie wat ons dikwels het, en wat deur die bekende skildery van die breë en die smal weg versterk word; ons sien naamlik dat hierdie skildery die breë pad uitbeeld met allerhande wêreldse vermaak – ‘n kroeg, ‘n bordeel, ‘n teater, ens. En die mense op die pad lyk sommer wêrelds en goddeloos. Maar nee, ék kan as getroue kerkmens myself op die breë pad bevind. Trouens, vanuit Mattheus 7 wil dit voorkom asof dít juis is waarvoor Jesus sy luisteraars waarsku, asof Hy juis ‘kerkmense’ wil beskerm teen die gevare van die breë pad. Kom ons kyk wat Jesus sê.
Ons sien vanaf vers 15 hoe Jesus die skare waarsku teen valse profete wat in skaapsklere in die kerk sal opstaan. Dit is voorgangers – predikante, ouderlinge, diakens – waarvan die buitekant christelik is, en miskien selfs in volle opregtheid, maar wat van binne roofsugtige wolwe is – skadelik vir die kudde. En van hulle sê Jesus: jy kan hulle aan hul vrugte herken! Dááraan kan jy sien dat dit valse profete is. Nee, nie aan die vrugte in hulle eie lewens nie, maar eerder aan die vrugte wat hulle verkondiging uitwerk in die lewens van ánder. Hulle praat miskien baie mooi en openlik oor die toekomstige hemelryk, maar hulle wys die kerklidmate nie op die smal pad waarop hulle in gehoorsaamheid moet gaan nie. Hulle trek nie die duidelike lyne van die gebooie van Christus nie, hulle is uitermate ruim in hulle opvattings oor die gehoorsaamheid aan Christus. Sodanig dat Christus self eendag vir hulle sal sê: “Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk.” Want “nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”
En, broers en susters, wat is die gevolg in die kerk wanneer daar na hierdie wolwe in skaapsklere geluister word? Die gevolg is ‘n kerkvolk wat hierdie voorgangers soos kuddediere op die breë pad navolg; ‘n kerkvolk wat gesus word met die uitsig op die Koninkryk, maar wat nie meer erns maak met die gebooie van daardie Koninkryk vir vandag nie; ‘n gemeente wat dink dat sy oppad is na die Koninkryk, maar wat intussen geniet van die gemak van die breë pad wat lei na die verderf.
Sien u dus, gemeente, dat wanneer die Here Jesus ons hier waarsku teen die breë pad en die valse profete wat ons daarheen verlei, Hy die kerkvolk op die oog het, u en ek. So maklik, so vanself amper, beland kerkmense op die breë pad. Ja, ons wil christene wees, ons wil die Koninkryk binnegaan, maar intussen volg ons die massa op die pad van die minste weerstand. Ons soek nie meer self na die ingang van die Koninkryk nie, ons raak laks in ons gehoorsaamheid aan Christus se gebooie, ons raak lui om dit ons kinders voor te hou. Dit is ellendig, gemeente!
Laat ons daarom met alle krag van die Gees daarteen waak om op hierdie sluimerende doodspad te beland. Want dit is presies wat dit is: soos ek gesê het gaan dit hier vir Jesus nie oor wêreldse mense waarvan as’t ware op hulle voorkoppe geskrywe staan: goddeloos! nie. Nee, ons het hier te make met die stadige versmoring van kerkmense wat hulleself salig ag, maar intussen met die grootste gemak deur die breë poort na die verderf weggly.
Broeders ampsdraers, mag die Here ons daarvan bewaar dat ons – in alle opregtheid – wolwe in skaapsklere word. Ken daarom u verantwoordelikheid daarin om duidelik en sonder kompromie Christus se gebooie aan die gemeente voor te hou. Gaan staan voor elke lidmaat wat dreig om die breë pad te wil inslaan; bring hulle daarvan terug soos ware profete wat die Woord van God verkondig. En, broers en susters, bewaak uself van agteruitgang in die lewe van gehoorsaamheid. Laat ons erns maak met Christus se gebooie in ons huise en gesinne, ook wanneer julle – doopouers – julle kind in die vrees van die Here gaan opvoed.
Breed, gemeente, is so maklik. ‘n Toegewing hier (“ag, kom ons doen dit maar net hierdie keer…”), ‘n vervlakking daar (“ag, kom ons los maar die bybelstudie vir vanaand…”), en voor jy weer kyk bevind jy jouself in die gemaksone van die breë pad. Besef egter dat dit op niks uitloop nie, dat die einde van hierdie pad slegs die verderf is. Want “sondaarspad wat van Hom weggedaal het – dit moet vergaan; onkeerbaar in hul spoed, loop hul oplaas ‘n afgrond tegemoet” (Ps. 1:4 ber.). En daarom: smal is moeilik, maar dit bring jou tuis. Daarop let ons vervolgens.
2. Vanweë die gevare van die breë poort en die wye pad, roep Jesus sy luisteraars vervolgens op om deur die nou poort in te gaan en op die smal pad te wandel. Dit is nie die mees voor die handliggende pad nie; min mense doen die moeite om daarop te gaan. Die meeste bly maar op die breë pad wat maklik en vanselfsprekend is – dit lê trouens in ons sondige aard om hierdie weg van die minste weerstand te volg. Maar Jesus leer ons dat die pad wat na die lewe lei ‘n sekondêre paadjie is, ‘n moeilik vindbare weg, ‘n poort waarna ons met groot noulettendheid moet soek om dit te kan binnegaan. Maar, vra u miskien, wie kan dán gered word? “Min…”, sê Jesus. Min – is ek een van hulle? As dit maar net ‘n klein groepie is, is ek deel van daardie groepie? Sal ek nog binne die afsnypunt val?
Maar, gemeente, die doel is nie om ons moedeloos te maak nie. Die Here Jesus wil nie sê dat die nou poort en die smal pad onvindbaar is nie. Hy wil ook nie sê dat daar ‘n beperking by die toelating is nie. Maar Hy leer ons wel waar ons dit moet soek, en hoe ons hierdie pad moet bewandel. Die toelating is dus onbeperk, maar die toelatingseis is eksklusief: Jesus Christus en gehoorsaamheid aan sy gebooie… En daarom wys Jesus op hierdie punt op Homsélf! Dit is opvallend om te sien dat Jesus hier vir die eerste keer in die hele bergrede Homself prominent op die voorgrond plaas. Gaan lees maar weer die bergrede – oral praat Jesus in bedekte terme van sy gesag as God; nêrens sê Hy eksplisiet dat Hy die Seun van God, dat Hy God self, is nie. Maar, nadat Hy eers in verse 15-20 van die valse voorgangers gepraat het, praat Hy nou vanaf vers 21 vir die eerste keer onomwonde van sy Goddelike gesag: hulle sal my “Here, Here” noem – iets wat Jesus nie negatief beoordeel nie; en verder: hulle sal in my Naam profeteer en kragte doen.
Só toon die Here Jesus duidelik aan dat Hy self God is. En Hy doen dit omdat Hy, teenoor die valse profete, nou sy eie gesag wil laat geld. Die huurlinge – die valse profete – het die kudde laat verdwaal en het die skape op die verkeerde pad na die verderf gelei, hulle het miskien pragtig van die Koninkryk gepraat, maar intussen het hulle die skape op die breë weg gelei. En daarom staan die goeie Herder nou op, en Hy laat sy stem kragtig klink. Hy rig al die aandag op Homself. Teenoor die dwaalligte van die valse profete wys Jesus dat Hy die Lig van die wêreld is. Hy is God, Hy is die Een wat mense nodig het om deur die nou poort in te gaan en die smal pad te bewandel. Ja, almal mag binnekom, maar die ingang is slegs hier, die weg is slegs hier! Ek is die deur van die skape! Ek is die weg, die waarheid en die lewe! En, broers en susters, dáárom is die poort so nou en die weg so smal, want daar is net een poort waardeur ons kan ingaan, daar is net een weg wat ons kan bewandel, daar is slegs een Gids wat ons hierin kan begelei – ons Here, Jesus Christus. U moet daarom by Hom wees. U kan nie maar net die kerkmassa volg nie; nee, persoonlik – en daarom ook almal saam – soek ons na die Here Jesus! Hy het verdien dat daar weer ‘n opening en ‘n pad na God toe is, Hy het bewerk en Hy bewerk dit nog elke dag dat hierdie pad bewandel kan word. En ons sien dit in hierdie gemeente – gelowiges wat werklik die smal pad wil bewandel, wat werklik in liefde die wil van die Vader wil doen. Dank die Here dat Hy in hierdie gemeente sy bidders en sy soekers laat ontvang en laat vind.
Maar, gemeente, laat ons dit maar eerlik sê: smal is moeilik! Jesus laat daaroor geen twyfel bestaan nie. Die woord wat Jesus hier gebruik vir “smal pad” beteken letterlik ‘n “benarde weg”. Ons kan hier dink aan ‘n nou paadjie met aan die een kant ‘n steil bergwand en aan die ander kant ‘n loodregte afgrond. Met so ‘n paadjie kan jy nie bekostig om twee of drie treë na regs of links af te wyk nie; hier moet jy baie presies jou volgende voetstap neersit. Gelowiges moet dus noukeurige mense wees, christene moet pynlik presies wees op hulle lewensweg. Wanneer ons met Christus wil lewe, kan ons nie bekostig om laks te wees in ons lewenswandel nie, kan ons nie bekostig om argeloos te wees in die manier waarop ons Christus se weg bewandel nie. Dit is nie genoeg om net “Here, Here!” te sê, maar nie die gebooie van die Koninkryk na te kom nie.
Maar, gemeente, hoe moeilik smal ook al mag wees, ons reis nooit alleen nie! En dit is ook nie ‘n reis waarvan die uitkoms onseker is nie, want die Here is my Herder – so het ons gelees in Psalm 23. Dawid sê in hierdie psalm dat hy deur ‘n donker dal gaan – en dan hoef ons nie noodwendig en in die eerste plek te dink aan ‘n moeilike tyd in sy lewe nie. Nee, Dawid praat eenvoudig van die smal pad van die lewe wat die kinders van die Here moet bewandel. ‘n Moeilike bergpaadjie met gevare aan weerskante. Maar, sê Dawid van hierdie donker dal, “ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.”
Die stok en die staf was die gereedskap van die herder waarmee hy die skape van gevare beskerm het en afvallige skape terug in die veiligheid van die kudde gedwing het. Net so het die goeie Herder ook sy gereedskap waarmee Hy sy skape op die veilige spoor van die smal pad hou, naamlik sy Woord en sy gebooie. Daarmee beskerm Hy ons, daarmee help Hy ons om elke volgende voetstap op stewige grond te plant, daarmee lei Hy ons in die spore van geregtigheid. Wie die Here Jesus liefhet, wie Hom vind as die poort na die lewe, as die weg van die lewe, daardie gelowige aanvaar ook met blydskap die stok en die staf van die goeie Herder; daardie gelowige soek na die veiligheid van die kerk – die Woordgemeenskap – in besonder op Sondae hier in die kerk; daardie gelowige wil elke dag van sy lewe in gehoorsaamheid Christus se gebooie vir die koninkryk nakom.
En, broers en susters, op dié manier bring die goeie Herder ons na groen weivelde en na waters waar rus is. Hy laat sy skape die smal pad bewandel, Hy laat hulle die nou poort vind, en bring hulle dan ook uiteindelik tuis. Dawid mag in Psalm 23 daarvan getuig dat hy uiteindelik tuis kon kom in Jerusalem, in die huis van die Here, waar die Here vir hom ‘n tafel voorberei het, waar sy hoof vet was met olie en sy beker oorgeloop het, waar net goedheid en guns hom vir die res van sy lewe gevolg het. En dit is dan ook die hoop en die verwagting van die gelowige wat kies om, in Jesus Christus, die smal pad te bewandel.
Soos wat Dawid tuisgekom het by die huis van die Here, as’t ware sy intrek geneem het in een van die by-vertrekke wat vir die priesters bedoel was, só mag die kind van die Here tuiskom by die hemelse Vaderhuis, en sy intrek neem in een van die vele vertrekke wat Christus gegaan het om voor te berei. Die smal pad is moeilik, maar dit lei na die lewe, die ewige lewe.
Gemeente, moenie in hierdie lewe die waarde onderskat van die keuse vir Jesus Christus nie. Ja, dit bring jou menslik gesproke op ‘n moeilike pad, dit is harde werk om vir elke besluit, elke keuse, elke stap van jou lewe noukeurig en presies te wees. Maar jou Herder laat jou nie vir een oomblik alleen op hierdie pad nie. Van die begin tot die einde is Hy daar om elke voetstap te rig. Ja, die Here ken werklik die weg van die regverdiges, en Hy sal sorg dat daardie weg sy bestemming bereik. Daarvoor het Hy gesterf, daarvoor het Hy sy bloed vergiet. Gaan daarom na die kruis van Christus en omhels Hom in geloof. Hy is die deur wat ingang bied tot die ewigheid; Hy is die weg wat jy moet volg na die ewigheid; Hy is die Gids wat jou lei na die ewigheid. Smal is moeilik, maar dit bring jou tuis, saam met ‘n ontelbare skare. Bid en vir jou sal oopgemaak word, soek en jy sal vind!
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 45:10, 12, 14 en 16
Wetslesing
Sing as gebed en skuldbelydenis Ps. 141:2, 3, 4 en 8
Doopsformulier en –bediening en dankgebed
Sing Ps. 105:5 (staande)
Lees: Mattheus 7:13-23
Psalm 23
Sing Ps. 1
Teks: Mattheus 7:13-14
Preek
Amenlied Ps. 25:2, 4 en 6
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 139:1, 8 en 12
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)