Die Here se goedertierenhede oor sy volk is groot!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-07-08
Teks: 
Klaagliedere 3:21-24
Preek Inhoud: 

Klaagliedere 3:21-24

Ds HH van Alten - Sondag 8 Julie 2007 
(10 jarige jubileum VGK Pretoria-Maranata)

Lees: Klaagliedere 1:1-5, 2:1-5, 4:1-5, 5:1-5
Teks: Klaagliedere 3:21-24
Sing: Sien liturgie

Tema: die Here se goedertierenhede oor sy volk  is groot!
1.      Die wyse waarop dit uitkom
2.      Die wese waarop dit gegrond is
3.      Die waarborg waardeur dit voortbestaan
4.      Die weg waarin dit beantwoord word

 

  1.  

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Herdenkings, soos wat ons vandag het, is altyd ideale geleenthede om terug te kyk, te besin oor die periode wat herdenk word. ‘n Mens kry op dié manier ‘n oorsig oor wat alles wat gebeur het, en jy kry ‘n kans om die balans op te maak. Nou is die vraag: as ons terugkyk na die afgelope 10 jaar van hierdie gemeente, wat sien ons? Watter balans maak ons op? Min van ons gaan hierdie vraag dieselfde beantwoord – dit sal maar baie afhang van wat ons tot dusver in die gemeente ervaar het, en waarskynlik speel ons karakters ook ‘n rol. Sommige sien miskien ‘n gesonde en positiewe gemeente, miskien vanuit positiewe ervarings wat hulle gehad het in tye van siekte of swaarkry, of bloot omdat hulle gelukkig is in die gemeente. Ander sien moontlik ‘n gemeente wat, ten spyte van alle materiële welvaart, geestelike gebreke vertoon – miskien vanweë gebrekkige prediking of gebrekkig reaksie op die prediking. Weer ander is negatief oor die gemeente vanweë een of ander hartseer ervaring wat hulle gehad, en waarop die kerkraad of gemeentelede verkeerd gereageer het.

Talle verskillende reaksies is denkbaar… Maar dit is alles reaksies wat bepaal word deur ons ervarings en belewenisse.

Nou ‘n ander vraag, wat hiermee verband hou: Ons het enkele verse uit al die hoofstukke van die boek Klaagliedere gelees, en ons het daardeur waarskynlik ‘n goeie idee gekry van die toestand van Jerusalem na die verwoesting deur Nebukadnesar – dit is immers waaroor die grootste deel van hierdie boek gaan. As jy nou in Jeremia se skoene was en jy het teruggekyk na alles wat die laaste jare in Jerusalem gebeur het en wat die toestand van die stad en die volk was, hoe sou jy daarop gereageer het? Watter balans sou jy opgemaak het? Waarskynlik sou ons almal in ‘n klaaglied uitgebreek het.

En dit is wat Jeremia ook doen… vir die grootste deel! Want dit is nie al wat Jeremia doen nie. Meer nog: dit is nie die belangrikste wat hy doen nie. Alhoewel sy klaaglied die grootste deel van die boek in beslag neem, is dit nie die hoogtepunt – of miskien eerder: die dieptepunt – van sy reaksie op die toestand van Jerusalem nie. Nee, die hoogtepunt van sy reaksie kom wanneer hy verby die sigbare werklikheid van ‘n verwoeste stad en tempel, en verby sy eie gevoelens van verlatenheid en rou kyk en die goedertierenhede van die Here raaksien! Ons bereik die hoogtepunt van die boek Klaagliedere eers wanneer Jeremia in ons teks – totaal onverwags – begin om die goedertierenhede van die Here te besing! Baie belangrik om dit raak te sien…

Maar, gemeente, wat bedoel ons met goedertierenhede, goedertierenheid? Dit is een van daardie terme wat in talle hedendaagse vertalings eenvoudig vertaal word met ‘liefde’ (NAV) of ‘troue liefde’ (Nuwe Lewende Vertaling). Tog is dit ‘n term met baie meer inhoud, en dit sal die moeite werd wees om kortliks te kyk wat dit alles inhou.

Die Hebreeuse woord wat in ons vertaling met ‘goedertierenheid’ vertaal is, is ‘n term wat vir die volk van die Ou Testament veral drie dinge beteken het. In die eerste plek: ‘goedertierenheid’ is nie maar net ‘n houding nie, dit is ‘n aksie; dit is ‘n optrede waardeur die lewe van iemand anders bewaar en bevorder word. Goedertierenheid soek daadwerklik na die goeie vir die ander. In die tweede plek: goedertierenheid is ‘n term met ‘n baie sterk sosiale komponent; d.w.s. daar is altyd iemand aan wie jy goedertierenheid bewys. Hierdie term word veral gebruik in die kring van die gesin en die breër familie. En in die derde plek: ‘goedertierenheid’ is ‘n duursame en blywende optrede. Dus, broers en susters, wanneer Jeremia die goedertierenhede van die Here besing, dan besing Hy die daadkragtige en duursame optrede van die Here ter wille van die lewe van sy volk!

Maar hoe is dit moontlik? Hoe is dit vir Jeremia moontlik om dáár waar hy miskien op een van die klippe van die verwoeste stadsmuur gesit het en die slagveld voor hom aanskou het, hierdie loflied aan te hef? Gemeente, omdat hy verder as die sigbare werklikheid gekyk het, verder as sy eie gevoelens gekyk het, en die werk van die Here raakgesien het. Jeremia het oë van geloof ontvang waardeur hy skielik verder as die situasie kon kyk: so sien hy die goedertierenhede van die Here!

En dan vra ek weer: as ons nou terugkyk na die afgelope 10 jaar van hierdie gemeente, wat sien ons? Sien ons net dit wat in ons menslike beperktheid sigbaar is, sien ons net dit wat deur ons ervarings bepaal word? Of sien ons, deur die geloof, die goedertierenhede van die Here? En om ons hierby verder te help, verkondig ek op hierdie besondere dag aan u die loflied uit die Klaaglied onder die tema:

Tema: die Here se goedertierenhede oor sy volk  is groot!
1.      Die wyse waarop dit uitkom
2.      Die wese waarop dit gegrond is
3.      Die waarborg waardeur dit voortbestaan
4.      Die weg waarin dit beantwoord word

1. Die Here se goedertierenhede oor sy volk is groot! So sing Jeremia, eintlik uit die bloute. Want net hiervoor het hy nog getreur. Lees maar verse 17-20: “U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet… My roem het vergaan en my hoop op die HERE… As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my”. Ons kry uit hierdie woorde die beeld van Rembrandt se bekende skildery waar Jeremia besig is om in wanhoop die toestand van die stad en die tempel te betreur.

Maar dan begin Jeremia nadink. Hy besef dat hy net die hele tyd besig is om te treur oor sy en die volk se ellende, en dat hy daardeur steeds meer depressief raak. Gevolglik begin hy nadink oor die Here se genadige omgang met sy volk. Die goeie, waarvan Jeremia in vers 17 sê dat hy dit vergeet het, begin hy nou weer in herinnering roep. Daarom lees ons ook in vers 21: “Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop…” Jeremia kyk dus terug na die Here se omgang met sy volk deur die geskiedenis; hy herinner homself aan die verbond van die Here, hoe trou die Here daaraan was en hoe ontrou die volk so dikwels maar weer was. En dan tref dit Jeremia: maar… die feit dat ons nog lewe, dit is genade!

Want, ja, die verbondsontrou van die volk, hulle ongehoorsaamheid en afval, eis straf en verdelging. In werklikheid verdien hierdie ongehoorsame en wederstrewige volk die dood. En dit is presies wat die Here gedoen het met die volk wat in die woestyntyd gemurmureer het. Ons lees in Numeri 14:35: “Ek, die HERE, het dit gespreek; waarlik, dit sal Ek aan hierdie hele bose vergadering doen wat teen My bymekaargekom het. Hulle sal in hierdie woestyn omkom en daar sterwe.” Iets soortgelyks sien ons in Jeremia 44 in verband met dié deeltjie van die volk wat nie in ballingskap wou gaan nie, maar na Egipte gevlug het; dan sê die Here: “En Ek sal die oorblyfsel van Juda wegneem, wat hulle aangesig gerig het om na Egipteland te trek, om daar as vreemdelinge te vertoef; en hulle sal almal in Egipteland omkom.”

Gemeente, dit is wat gebeur wanneer God sy toorn laat gaan, en tereg laat gaan. Dan kom die volk om, dan sterf hulle vanweë hulle ongehoorsaamheid. Wanneer die Here sy regverdige toorn  laat gaan het, sou daar van die volksbestaan van Israel niks oorgebly het nie. Dus, die feit dat daar nog ‘n groot deel van die volk was wat gelewe het, ook al was dit in ballingskap, die feit dat Jeremia self nog gelewe het, dít was die rykdom van God se genade. En wanneer Jeremia só daaroor nadink, dán besef hy skielik met groot dankbaarheid: dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nog nie omgekom het nie! Skielik kom daar vir Jeremia hoop in sy troostelose omstandighede, skielik weet hy: daar is toekoms vir die volk in ballingskap, want die Here het ons nog nie laat sterwe nie! Daarom hef Jeremia in ons teks sy lofsang aan. Soos wat ons sing in Psalm 115: “Dooies kan die HEER nie prys, maar óns sal – ‘n stemmesee – ewig juig die HEER ten prys, hallelujas op laat rys.” Ons sal juig omdat die Here ons nie laat omkom het nie…

Broers en susters, ons gevoelens oor vandag se feesvieringe mag gemeng wees, ons ervarings in die gemeente mag verskillend wees, maar laat ons vandag verder kyk as ons ervarings, en laat ons almal saam die goedertierenhede van die Here besing in die feit dát ons 10 jaar bestaan. Dus, dan kyk ons nie in die eerste plek na die foute en die gebreke, die te kort aan liefde van mede-broers en –susters, en die onwysheid van die ampsdraers nie. Natuurlik, dit alles hoef nie verswyg te word nie, maar kom ons kyk vandag verder as die sigbare en menslike vlak van ons gemeentelike lewe; kom ons kyk vir ‘n oomblik verby my broeder wat my seermaak, of my suster wat agter my rug praat. Bloot die feit dát hierdie gemeente nog bestaan, dat die evangelie elke Sondag nog hier verkondig word, dat ons trou wil bly aan God se Woord, dít is God se genade in Jesus Christus oor hierdie gemeente. Ons sien op hierdie dag die goedertierenhede van die Here in die feit dat hierdie gemeente nog nie ophou bestaan het nie, maar steeds ‘n brandende kandelaar is. Hoe vanselfsprekend dit ook mag lyk, dit is allermins vanselfsprekend. God se goedertierenheid oor ons is groot!

Kom ons let vervolgens op die wese waarop die goedertierenhede van die Here gegrond is.

2. Gemeente, wat sou die gronde wees vir die goedertierenhede van die Here? Watter rede sou die Here hê om so genadig met sy volk om te gaan dat hulle nog nie omgekom het nie? Hierop wys Jeremia volgende. Hy sê: “… dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie.” Die rede is dus die voortdurende barmhartigheid van die Here. Dit is nog so ‘n term waarvan ons die inhoud nie altyd meer so goed ken nie. Kom ons kyk ‘n bietjie wat hierdie woord ‘barmhartigheid’ beteken.

Die Hebreeuse woord vir ‘barmhartigheid’ wys in die eerste plek op die ingewande, die setel vir die gevoel. Dit gaan daaroor dat jy medelye het, saamvoel met die ander, liefdesverbondenheid ken, en simpatie betoon. En dit veral wanneer die ander een in nood is. In Klaagliedere 4:10 word hierdie selfde woord pragtig vertaal met ‘teerhartigheid’. Ons lees daar: “Die hande van teerhartige vroue het hulle eie kinders gekook” – terloops, dit wys vir ons die ellendige toestand van Jerusalem en die volk, dat selfs liefdevolle moeders hulle kinders moes eet… Maar dit daar gelaat.

Barmhartigheid gaan dus oor innerlike bewoënheid. Dus, wanneer ons praat van God se barmhartigheid, dan gaan dit oor goddelike simpatie, God se bewoënheid wat Hom laat uitreik na dié wat verlore is. En baie belangrik wanneer ons praat van God se barmhartigheid: die rede vir hierdie barmhartigheid kom uit Homself! Daar was nie iets in die volk, en daar is nie iets in ons vandag, wat aanleiding vir sy bewoënheid gee nie. Nee, God se liefdevolle hart is die enigste bron van sy barmhartigheid. En in daardie hart lê dan ook die grond en die rede vir sy goedertierenhede oor sy volk in ballingskap. God se genade oor ‘n sondige volk, kom uit Homself!

En skielik sien Jeremia hierdie wonder raak! Tot dusver was hy nog net vasgevang in die ellendes van die stad en die volk, tot dusver kon hy nog net treur oor die afval en ongehoorsaamheid van die volk. En heeltemal tereg; dit moet gebeur – en die Here sê ook niks verkeerds hieroor nie. Maar Jeremia mag nie daarby bly nie, die Here laat nie toe dat Jeremia homself blindstaar op die sondes van die volk nie. Want dan word dit inderdaad hopeloos en troosteloos. En daarom laat die Here Jeremia verder kyk. Hy het hom eers sy goedertierenhede laat raaksien in die feit dat die volk nog nie omgekom het nie. En nou wys Hy verder vir Jeremia dat hierdie goedertierenhede uit ‘n bewoë Vaderhart kom. Jeremia se lofsang word net mooier wanneer hy raaksien dat die goedertierenhede van die Here in die voortbestaan van die volk enkel en alleen sy grond het in God se barmhartigheid, sy bewoënheid, oor die volk wat Hy verkies het. 

Gemeente, uiteindelik word hierdie barmhartigheid, hierdie innerlike bewoënheid van God, ten volle geopenbaar in Jesus Christus, ons Hoëpriester, wat met ons medelye het soos geen ander dit kan hê nie. Ons lees pragtig daarvan in Hebreërs 2:17: “Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broers gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees…” En in Hebreërs 4:15: “… ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” Sien u – barmhartig, medelydend… By hierdie Hoëpriester, die Koning van die kerk, vind ons barmhartigheid by uitstek. Ook oor ons gemeente!

Broers en susters, die rede vir God se goedertierenheid oor hierdie gemeente vind Hy nie by ons nie; nee, Hy vind dit in Homself, in Jesus Christus. Die grond vir die voortbestaan van ons gemeente lê nie in ons nie; dit lê nie in ‘n goed-funksionerende kerkraad of in hardwerkende kommissies of in ‘n gesonde verenigingslewe nie. Gelukkig nie! O ja, ons is dikwels baie selfvoldaan oor alles wat ons doen in die kerk, en ons kyk na die kerkraad om die geestelike sake en die FK om die finansiële sake glad te laat verloop. Maar, broers en susters, dit is dán wanneer ons begin wakkerlê oor die dinge in die kerk, dit is dán wanneer ons begin bekommerd raak oor waar ons aan die einde van die jaar nuwe ampsdraers gaan kry, dit is dán wanneer kerk-wees mensewerk word en ons ons verwondering verloor oor Christus se kerkvergaderende werk. Laat ons daarom terugkeer na die wese en die grond van ons gemeente se bestaan: Christus en sy liefdevolle hart, Christus en sy barmhartigheid aan die kruis! Daardeur bestaan ons na 10 jaar nog steeds!

En die toekoms dan?

Daarop let ons nou vervolgens: die waarborg waardeur God se goedertierenhede voortbestaan.

3. Jeremia gaan verder in vers 23: “… hulle is elke môre nuut; u trou is groot.” ‘Hulle’ verwys hier na die goedertierenhede en barmhartighede van die Here waaroor dit in die vorige vers gegaan het. Die goedertierenhede van die Here, en die agterliggende grond daarvan, naamlik sy barmhartighede, is dus nie eendagswonders nie. Dit is nie eenmalige geskenke wat op ‘n goeie dag daar is, maar die volgende dag nie meer bestaan nie. God is nie wispelturig en veranderlik nie, Hy bewys nie sy genade volgens sy giere of buie nie. Anders sou Jeremia ook nie werklik ‘n lofsang kon aanhef nie. As die Here se goedheid oor sy volk eenmalig was, hoe moes dit dan gaan met die volk in ballingskap? Watter hoop het hulle dan gehad?

Maar Jeremia wys in pragtige en beeldende taal dat die goedertierenhede en barmhartighede van die Here elke oggend weer nuut is. Hulle verdwyn nie en hulle verflou nie. Elke dag opnuut skenk Hy aan sy volk die blyke van sy genade; elke dag opnuut is hierdie genade van die Here vars en fris. Want: “U trou is groot!” Soos wat ons lees in Psalm 36:6: “o HERE, u goedertierenheid is tot in die hemele, u trou tot in die wolke.” Ons kan dus op die Here staatmaak. Wie na Hom soek, kan elke môre opstaan met die vaste wete dat die goedertierenhede van die Here en sy barmhartighede wéér daar is. Watter groot troos moes dit nie vir Jeremia gewees het nie… Die goedertierenheid van die Here in die feit dat die volk nog nie omgekom het nie, sal voortduur! Die volk sál die ballingskap oorleef, hulle sál na sewentig jaar terugkom volgens die belofte, Jerusalem sál weer opgebou word, die Verlosser sál kom! Want die trou van die HERE is groot!

Broers en susters, as gemeente van die Here Jesus Christus leef ons vandag onder hierdie selfde waarborg dat die goedertierenhede van die Here nie skielik net sal ophou nie. Die waarborg sal nie verloop nie, die vervaldatum sal nie verstryk nie. Immers, die waarborg is as betroubaar bewys – die volk hét teruggekom, Jerusalem en die tempel ís herbou, die Verlosser hét gekom! En daarom vier ons vandag nie net fees oor die afgelope tien jaar nie, maar ons roem ook oor die toekoms, oor die toekoms van hierdie gemeente totdat Christus terugkom. Ons mag vertrou dat hierdie gemeente sal voortbestaan, ook al kom en gaan die ampsdraers en predikante, ook al sterf die staatmakers in die gemeente, ook al gaan ons deur hoeveel krisisse! Die voortbestaan van hierdie gemeente is gewaarborg in Christus se trou vir dié wat Hom liefhet. Laat ons daarom op ‘n ontspanne en onbesorgde manier gemeente van Christus wees. Nee, daarmee sê ek nie dat daar niks is om oor bekommerd te wees nie, daarmee sê ek ook nie dat ons nie hoef te werk nie. Maar in geloof en vertroue mag ons weet dat selfs die poorte van die doderyk hierdie gemeente nie sal oorweldig nie. Christus staan waarborg, en sy trou is groot!

Ten slotte: die weg waarin die goedertierenheid van die Here beantwoord word.

4. Jeremia se geloofsmoed bereik nou sy hoogtepunt. Die erkenning van God se goedheid en trou borrel op in sy gemoed, sodanig dat ons in die laaste vers van ons teks niks meer agterkom van sy wanhoopstemming van sopas nie. Dit het plek gemaak vir ‘n blye uiting van geloofsvertroue; sonder aarseling getuig hy van sy sekerheid dat hy gemeenskap met God het: “Die HERE is my deel, sê my siel…” Jeremia gebruik hier ‘n beeld uit Numeri 18, waar ons lees van die besondere verhouding wat die Here met die priesters gehad het.

By die intog in Kanaan het die Here die land onder die stamme verdeel; elke stam het sy deel, sy porsie, gekry. In Numeri 18:20 lees ons egter dat die Here vir Aaron en die priesters sê: “Jy sal in hulle land nie erwe nie, en jy sal geen deel onder hulle hê nie.” Hiermee doen die Here Aaron en die priesters egter nie te kort nie; hulle kry nie minder as die ander stamme nie. Inteendeel, lees maar wat sê die Here vervolgens: “Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.” Die priesters kry dus die beste deel! Hulle kon nie vir iets beters gevra het as om die Here as hulle porsie te mag ontvang nie.

En hierdie deel omhels Jeremia nou ook as sy eie. Uit die dieptes van wanhoop het die Here hom uitgetrek om hom op die hoogtes van geloofsvertroue te plaas. En dit terwyl die toestand van die volk nog nie verbeter het nie; die omstandighede is nog dieselfde. En Jeremia noem nie eens die omstandighede nie, hy skuif dit op die agtergrond. Hy vra nie uitkoms uit die ballingskap nie, hy vra nie ‘n nuwe stad en tempel nie. Nee, hy het genoeg daaraan dat die Here sy deel is! Let wel, nie iets wat die Here gee of iets wat die Here werk nie, nee, die Here self is sy deel! En omdat dit so is, daarom – so lui die laaste woorde van ons teks – daarom sal ek op Hom hoop. Daarom weet Jeremia dat die toekoms van volk en stad en tempel goed sal kom. Die Here sal daarvoor sorg!

Broers en susters, dit vra geloof om met die Here as jou deel tevrede te wees. In ons kerklike lewe kan ons naamlik nogal veeleisend wees. Ons wil dit hê, en ons wil dat hê – asseblief net ‘n wyse kerkraad, en ‘n predikant wat oog het vir hierdie en daardie en die ander; asseblief net broers en susters wat betrokke is en deelneem aan die kerklike lewe; asseblief net ‘n eie kerkgebou, nuwe badkamers en ‘n afdak. Maar die geloof sê: ook al moet ek onder ‘n boom kerk hou, solank die Here maar net my deel is. Dán het ek hoop, dán weet ek dat die gemeente van Maranata tot op die wederkoms van Jesus veilig is. Gemeente, laat ons ons daarop toelê om die Here alleen as ons erfporsie te omhels. Laat ons priesters wees – dit is immers wat Christus ons gemaak het deur sy bloed – priesters wat tevrede is met hulle deel en wat slegs op die Here alleen hoop!

En in daardie hoop mag ons betrokke raak by die werk van die Here. Want om die Here as jou deel te hê maak ons allermins passief. Inteendeel, die hoop wat ons in Christus op ons Here het, bring ons tot werksaamheid. Dan soek ek binne en buite die gemeente hoe ek die goedertierenhede en barmhartighede van die Here kan laat straal. Dan maak ek erns met die talstelling van nuwe broeders en met die werk van sending, dan het ek medelye met siekes en eensames, dan wys ek in liefde die ampsdraers en medegelowiges waar hulle te kort skiet, dan soek ek na eenheid in die geloof met almal daarbuite wat die Here liefhet, ongeag taal of ras, dan beywer ek my om op te kom vir die eer en Naam van God in die openbare lewe. Ja, wanneer die Here ons deel is, dan wemel die gemeente … in alle rus. Rus in die Here bring ons tot werksaamheid in sy Koninkryk.

Broers en susters, hoe kyk ons na die laaste 10 jaar van hierdie gemeente? Wel, kom ons bely almal saam: dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie. En verder: hoe kyk ons na die toekoms van hierdie gemeente? Dan bely ons weer: hulle is elke môre nuut; u trou is groot. Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. Wat meer het ons nodig, gemeente?

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 150:1 en 3
Wetslesing
Sing Ps. 5:6, 7, 10 en 11
Lees:    Klaagliedere 1:1-5, 2:1-5, 4:1-5, 5:1-5
            Klaagliedere 3:17-24
Sing Ps. 85:3 en 4
Teks: Klaagliedere 3:21-24
Gebed
Preek
Amenlied Ps. 100
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 147:1, 4 en 5

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)