God se regsaak om die hart van sy volk…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-07-01
Teks: 
Miga 6:8
Preek Inhoud: 

Miga 6:8

Ds HH van Alten - Sondag 1 Julie 2007

Lees: Miga 6, Romeine 12:1-3
Teks: Miga 6:8
Sing: Sien liturgie

Tema: God se regsaak om die hart van sy volk…

1.      Leer by God wat goed is
2.      Doen dan wat Hy vra
3.      En wandel só met jou God

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Kom ons kry ‘n vinnige oorsig oor waarna ons tot dusver hierdie jaar in die prediking geluister het – dit sluit nou nie die Kategismusprediking in nie. Ons het die jaar begin deur te luister na die Woord van die Here uit Deuteronomium 10:16 waar ons geleer het dat God se liefde ons wederliefde oproep. ‘n Wederliefde waarin van ons gevra word om die voorhuid van ons harte te besny; dus, om alles weg te sny wat ons verhoed om ons God van harte lief te hê en te dien. Vervolgens het ons vanuit die bergrede, Christus se wet vir die koninkryk, geleer wat dit alles behels om God van harte lief te hê en te dien. Uit die bergrede, waarmee ons verlede week klaargemaak het, het geblyk dat die diens aan God verreikende implikasies het. Hierdie koninkrykswet wat deur Christus self afgekondig is, laat nie toe dat ons ‘n uiterlike vertoon lewer nie. Nee, dit vra ‘n toegewyde hart vir Christus en sy gebooie, dit vra dat ons op Christus as die Rots sal bou en deur die smal poort die weg na die koninkryk sal bewandel.

Die rooi lyn wat dwarsdeur hierdie prediking sigbaar geword het, is dat christen-wees, in antwoord op God se verlossing, ons hele hart en lewe vra. Ons kan nie ontkom aan die boodskap van die Skrif dat niks minder as 100% vir God goed genoeg is nie. Let wel, nie as ‘n weg tot die verlossing nie, maar as antwoord op die verlossing, as lewe in die verlossing. In dáárdie lewe vra God álles!

As voorlopige afsluiting van hierdie prediking van die laaste halfjaar, wil ons vandag vir ‘n laaste keer hierdie rooi lyn spesifiek saamvat. Ek verkondig vandag aan u die radikale woord van God vanuit die profeet Miga onder die tema:

Tema: God se regsaak om die hart van sy volk…

  1. Leer by God wat goed is

  2. Doen dan wat Hy vra

  3. En wandel só met jou God

Die profeet Miga het opgetree in die tyd van die konings Jotam, Agas en Hiskia – al drie konings van Juda. Hierdie drie konings het geregeer in die periode tussen ongeveer 750 en 690 v.C. Hierdie tydperk was van die mees welvarende periodes in die geskiedenis van sowel die twee- as die tien-stammeryk. Beide hoofstede – Jerusalem en Samaria – het groot rykdom geken. En, soos wat ons ook in ons tyd sien, was dit dikwels die rykes wat al hoe ryker geword het ten koste van die armes in die land. Hierdie welvaart en rykdom het in Miga se dae tot toenemende onreg en geweld gelei, en daarmee saam ook tot verontagsaming van God se fundamentele gebooie oor hoe daar met volksgenote – mede-kerklidmate kan ons sê – omgegaan moes word. In besonder die leiers van die land en diegene wat veronderstel was om die reg toe te pas, het hulle skuldig gemaak aan bedrog, afpersery en omkopery.

Maar, gemeente, dit alles het plaasgevind onder ‘n vernislagie van uiterlike godsdienstige handelinge. Soos wat ons lees in Miga 3:11: “Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ‘n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op die HERE en sê: Is die HERE nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie!” Die volk van daardie tyd, en in besonder die leiers, het die kuns vervolmaak om hulle godsdienstige lewe geskei te hou van hulle lewe van elke dag. En dit was hierdie sekulêre klimaat waarin Miga met die boodskap van die Here moes kom, ‘n boodskap van straf en oordeel.

Ons kan aanneem dat dit ‘n baie ongewilde boodskap was, maar, gemeente, dit was nie ‘n boodskap wat geen indruk gemaak het nie. Allesbehalwe! Dit is opvallend dat wanneer Jeremia ongeveer honderd jaar later met dieselfde boodskap kom en die volk hom as gevolg daarvan wil doodmaak, daar oudstes opstaan en sê: “Miga, die Morastiet, het as profeet opgetree in die dae van Hiskia … en gesê: Sion sal soos ‘n land omgeploeg word, en Jerusalem sal puinhope word en die tempelberg bosrante.” En dan stel hulle die vraag: “Het Hiskia … en die hele Juda hom ooit gedood? Het hy nie die HERE gevrees en die HERE om genade gesmeek … nie?” (Jer. 26:18). Nee, gemeente, Miga se profesie het blywende indruk gemaak; of beter gestel: die Here se Woord het blywende indruk gemaak op ‘n gesekulariseerde kerkvolk.

Ons kan Miga se profesie in drie dele verdeel – hoofstukke 1-2, 3-5 en 6-7. Elkeen van hierdie dele begin met ‘n oproep om te luister, gehoor te gee aan die woord van die Here. Vervolgens word die straf en die oordeel aangekondig, en ten slotte volg daar ook nog ‘n heilsaankondiging. Kom ons kyk nou nader na wat Miga in hoofstuk 6 – dus, die laaste van die drie dele – verkondig as die Woord van die Here…

1. Dit is opvallend om te sien dat die Here in die laaste deel van Miga se profesie nie, soos in die eerste twee dele, dadelik met die straf- en oordeelsaankondiging kom nie. Nee, ons sien dat die Here ‘n ander benadering volg. Hy begin met ‘n regsaak teen sy volk, ‘n spannende regsaak. En nie agter geslote deure nie; nee, in die openbaar, vir almal om te sien. Die Here bepaal dat die héle skepping, wat hier in verse 1 en 2 deur die berge en die heuwels as die oudste inwoners daarvan verteenwoordig word, in hierdie regsgeding met sy volk moet toekyk en getuienis moet lewer: “Staan op, twis in teenwoordigheid van die berge, en laat die heuwels na jou stem luister! Hoor, berge, die twis van die HERE! En onwankelbares, grondslae van die aarde!” Geen geheime hofsitting nie, maar ‘n openbare regsgeding met die hele skepping as gewillige getuies.

Dus, terwyl die volk voortdurend besig was om hulle private godsdienstige lewe geskei te hou van hulle openbare lewe van elke dag, sê die Here nou: “Uit daarmee, laat die hele skepping dit sien! Immers, my magtige dade van verlossing deur die geskiedenis – dít was in die openbaar, almal kon dit sien (lees maar verse 4 en 5). En nou probeer julle om jul antwoord daarop weg te steek in een of ander geheime geloofskluis! Uit daarmee!” Só bepaal die Here die opstelling van hierdie hofsaak…

Maar die vervolg is verstommend… Nadat die Here so duidelik uitgestippel het dat Hy ‘n regsgeding met sy volk wil aangaan – Hy het selfs die getuies ingeroep – verander die atmosfeer vervolgens heeltemal. Ons hoor nêrens van ‘n klagstaat nie, nêrens word lang lyste met beskuldigings voorgelees, soos wat ons vroeër in Miga se profesie teëkom nie. En hoor hoe spreek die Here sy volk nou aan in verse 3 en 5: “My volk!” Ja, die hele opstelling is nog steeds dié van ‘n hofsaak, maar die taal en die atmosfeer het skielik emosioneel en persoonlik geword. En in plaas daarvan dat die Here sy volk bestraf oor alles wat hulle Hom aangedoen het, plaas Hy Homself in die beskuldigdebank: “My volk, wat het Ek jou aangedoen, en waarmee het Ek jou vermoei?”

Ons sien in hierdie spannende hofsitting hoe die Here soos ‘n geliefde voor sy volk gaan staan om te pleit: “Hoekom is jy verveeld met my? Hoekom is dit vir jou so ‘n swaar opgawe om saam met My te wees? Wat het Ek gedoen – of nie gedoen nie – wat by jou so ‘n lustelose en verveelde houding veroorsaak?” En dan sien ons as’t ware hoe die volk hulle koppe wegdraai en hulle oë afkeer in stille erkenning: “Ja, U is reg, ons is verveeld met U…” Maar om net in erkenning stil te bly, is vir die Here nie genoeg nie; Hy soek ‘n rede. “Antwoord My!”, roep Hy sy volk toe. In feite was dit Gód wat die reg gehad het om moeg en verveeld te wees, met die sondes en afval van die volk. Maar nee, dit was die volk wat verveeld was, gruwelik verveeld met die sleur van hulle godsdiens.

Maar dan vat die Here sy volk aan die hand, terug in die geskiedenis. En Hy wys vir hulle wat Hy gedoen het. As hulle dan nie kan sê wat Hy verkeerd gedoen het nie, sal Hy vir hulle wys wat Hy goed gedoen het! En dan wys die Here die volk op enkele kernmomente in die geskiedenis van sy verbondsomgang met hulle: die uittog uit die slawehuis van Egipte, die leiding wat die Here verskaf het deur middel van Moses, Aaron en Mirjam, die verlossing uit die hand van Balak en hoe die Here Bileam gedwing het om die volk te seën, sy leiding van Sittim af tot by Gilgal. En die Here noem hierdie gebeurtenisse, sodat die volk herinner kan word aan die dade van die Here, dade wat geen enkele rede tot verveeldheid gegee het nie, maar wat inteendeel die volk moes bring tot verwondering en dankbaarheid. Die Here sê self aan die einde van vers 5: Ek noem hierdie gebeurtenisse, “sodat jy kennis kan dra van die regverdige dade van die HERE.” ‘n Verveelde en gesekulariseerde kerkvolk moes weer ingeprent word wat die Here regtig vir hulle gedoen het.

En, broers en susters, dit is nou presies wat Miga in die eerste woorde van ons teks sê: “Die HERE het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is…” En – let wel! – dan gebruik hy die woordjie ‘goed’ nie in etiese sin nie; dus, ‘goed’ gaan hier nie oor reg en verkeerd nie. Nee, ‘goed’ gaan hier oor die goeie dade van die Here – soos wat Hy dit sopas opgenoem het. Dit gaan oor sy verlossende dade, dit gaan oor wat goed is vir die heil van die volk! En hierdie ‘goed’, gemeente, is vir die volk nie onbekend nie. Die Here het dit dan bekend gemaak, Hy het dit duidelik en sigbaar voor hulle oë gedoen en dit laat neerskryf vir die nageslag om te lees. “Daar is geen rede om verveeld en vermoeid te wees in julle diens aan My nie. Gaan kyk na My dade in die geskiedenis – dit is goeie dade, goed vir júlle, My volk!”

Gemeente, die volk van die Here, die kerk vandag, u en ek, moet voortdurend, elke dag weer, aan die goeie en verlossende dade van die Here herinner word. God se dade van verlossing moet die lewende besitting word van die kerk in elke generasie – ons moet herinner word sodat ons kan wéét! Ons moet ons kinders herinner sodat húlle kan wéét! Sodanige herinnering en kennis sal die verveeldheid en die doodsheid uit ons godsdiens verdryf, en sal meebring dat ons persoonlike verhouding met die Here elke dag weer nuut is.

Gemeente van Maranata, ook vir u geld: Die Here het u bekend gemaak wat goed is. Die Here het vir u sy goeie dade van verlossing duidelik voor oë gestel, in besonder aan die kruis op Golgota. Nêrens beter as juis daar word vir ons duidelik wat goed is nie. Daar het God goed gedoen, daar het Hy iets gedoen wat goed is vir ons, wat heilsaam is vir die lewe van sy kinders. Sorg dat u elke dag daarmee besig is, elke dag nalees en oplees wat God vir sy volk gedoen het; sorg dat u voortdurend weet en nog beter weet wat die Here vir u gedoen het. Só keer ons dat ons dieselfde pad as die volk Israel gaan. Want ja, ook ons leef in ‘n gesekulariseerde omgewing, en ook by ons dreig die sekularisasie om deur middel van welvaart in ons openbare daaglikse lewe en verveeldheid in ons private godsdienstige lewe in te dring. Ook ons neig om ‘n kunsmatige skeiding aan te bring tussen die lewe daarbuite en ons kerklike lewe. Maar, broers en susters, dra dan kennis van die regverdige dade van die Here! Ken dit, sodat die dreigende verveeldheid en die sekularisasie verdryf kan word, en sodat ons lewens ‘n eenheid kan wees in liefdevolle diens aan ons God. Voorwaar, God is vir Israel goed!

Vervolgens: doen dan wat Hy vra.

2. Dit wil voorkom asof die Here se pleidooi in die openbare hofsitting tog impak gemaak het. Dit lyk asof daar ‘n besef gekom het van sonde en oortredinge. Want daar kom ‘n reaksie van die kant van die volk (verse 6 en 7): “Waarmee sal ek die HERE tegemoet gaan en my buig voor die hoë God?” Hierdie spreker wil dus terug gaan na die Here… Maar, gemeente, soos wat so dikwels gebeur by ons mense wat God weer ernstig wil begin neem in ons lewens, soek die spreker in hierdie verse heel eerste na maniere waarop hy God weer gelukkig kan maak, maniere waarop hy dinge weer goed kan maak tussen homself en God. Hy sê: “Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers? Sal die HERE ‘n welbehae hê in duisende ramme en tienduisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?”

Ons sien hierin hoe ver die afval onder die volk alreeds gevorder het. In die geldmal Jerusalem van Miga se dae was dít die manier om sake op te los. Solank jy die regte prys betaal het, was die saak reg. En as iemand nie tevrede is met die prys nie, dan voeg ons net nog ‘n nul of twee by – duisend ramme, tienduisend strome van olie… O, en as geld nie kan betaal nie, dan is ek selfs bereid om my eersgebore kind op te gee. Hoe hartseer… ‘n Integrale deel van die Baal-godsdiens, naamlik om jou oudste kind te offer – terloops, ‘n praktyk wat die Here gehaat en verbied het – word hier gebruik om die verhouding met die lewende God te probeer versoen. Afgodsdiens-praktyke moet diens doen om die ware verbond met die Here te herstel.

Inderdaad hartseer, maar is ons nie almal so nie? Maar, gemeente, die Here soek dit nie. Hy soek nie ons pogings en offers om dinge reg te maak nie. Dit is sy werk om dinge reg te maak – en Hy het dit al gedoen, en Hy het dit goed gedoen, so het ons in die eerste punt gesien. Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is, naamlik Jesus Christus, wat deur die Vader gestuur is om vir ons sondes te sterf. In Hom sien ons God se goedheid, Jesus Christus is goed en heilsaam vir ons. En om hierdie goeie te bewerk, het die Here ons nie nodig gehad nie. Die Here hierin geen bydrae van ons kant af nie…

Maar – en dit is die volgende woorde in ons teks – wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag. Die Here vra nie van jou om verlossing te bewerk en om die verhouding te herstel nie. Hy vra nie van jou om jou oudste seun aan Hom af te staan nie – dit het Hy alreeds vir ons gedoen. Al wat Hy van jou vra is dat jy nou jou lewe aan Hom toewy in geloof en gehoorsaamheid. En gemeente, dit is die rooi lyn in die prediking van die laaste ses maande: “Neem my lewe, laat dit Heer, u gewy wees meer en meer.” Die Here het sy Seun se lewe opgeoffer ter wille van ons behoud. Nou is sy radikale eis: “Gee My jou lewe terug. Wy jou lewe volledig in my diens! Nie as ‘n private onderafdeling wat los staan van jou openbare lewe nie.” Nee, die Here soek alles, en Hy soek dit vir 100%. En waarin kom dit tot uiting? Miga wys op twee dinge…

Die eerste is: doen wat reg is. Reg – dit is nie wat sosiaal reg en aanvaarbaar is nie; op hierdie manier hou ons dikwels ‘n front aan die mense voor. Maar dit is nie wat Miga hier bedoel nie. Nee, dit gaan oor wat voor God welgevallig is, dit wat Hy reg ag. Hierdie reg – God se reg, dus – is iets wat in die Israel van Miga se dae maar ‘n skaars item was. Ons lees in hoofstuk 3:9 hoe Miga die leiers van die volk daaroor aanspreek: “Julle wat van die reg ‘n afsku het en al wat reg is, verdraai…” Die goddelike reg was dus skaars, maar dit is wel waartoe die Here sy volk, en ons vandag nog, oproep. En dit beteken, gemeente, dat ons sal luister na die bepalings en wette van die Here. Wie sy lewe aan die Here toewy, kan nie anders, en wil ook nie anders, as om die weg van die Here te bewandel nie. Wie deur die geloof met Christus verenig is, lei gevolglik ook ‘n lewe wat ooreenstem met Christus se wet vir die koninkryk, soos ons in die laaste maande daarna geluister het vanuit die bergrede. Die Here sê dus eenvoudig: “Deur my goedheid behoort jy nou aan My, doen dan ook My wil!”

Die tweede waarop Miga wys, is: betrag liefde. Letterlik vra die Here hier dat sy kinders barmhartigheid – of ook deernis – sal liefhê. Dit dui dus op die manier waarop, die houding waarmee ons God se wil moet nakom, naamlik in barmhartigheid en deernis teenoor ons naaste. Dit het in besonder gegeld vir die rykes van Miga se dae. Miga het hulle opgeroep om barmhartigheid en deernis te betoon teenoor hulle volksgenote, spesifiek dié wat minder bevoorreg en minder suksesvol as hulle was. Hoe relevant is die Skrif hier nie, broers en susters. Ook in ons tyd, waar die kontras tussen ryk en arm dikwels so groot is, is die betoning van barmhartigheid en deernis in ons omgang met ons naaste dié manier om aan God se reg te voldoen.

Gemeente, reg en barmhartigheid, dít is die twee maniere waarop Miga wys, en waaruit blyk dat jy jou lewe in diens van God wil stel, waaruit blyk dat jy Hóm alleen wil dien. Gehoorsaamheid aan God, liefde vir die naaste – dit is ware godsdiens. Paulus beskryf die ware godsdiens in Romeine 12:1 en 2 soos volg: “stel julle liggame (dus, julle hele lewens) as lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Doen dus wat reg is voor God, broers en susters, en doen dit met deernis en barmhartigheid.

Só – en daarop let ons ten slotte nog kortliks – só wandel jy met jou God.

3. Miga sluit ons teksvers af met die woorde: “… en ootmoedig te wandel met jou God.” ‘Om met God te wandel’ gaan daaroor dat God ‘n lewende verhouding met ons wil hê, ‘n intieme vriendskap. Natuurlik altyd met erkenning dat God God is en ons maar net mense – en daarom sal dit van ons kant af altyd ‘n ootmoedige, ‘n nederige, verhouding moet wees. Maar daarmee nie minder eg nie. ‘n Egte verhouding met die God van ons lewe. En, gemeente, is dit nie uiteindelik die doel wat God met ons lewens het en waartoe die prediking van die afgelope halfjaar oproep nie, naamlik dat ons weer met Hom kan wandel, soos wat Adam en Eva in die tuin in die aandwindjie met God gewandel het? Dat God ons sy vriende kan noem, soos wat Hy Abraham sy vriend genoem het (Jak. 2:23) en dat ons in alle eerbied God ons Vriend kan noem, soos wat ons lees in Jeremia 3:4: “My Vader, die vertroude Vriend van my jeug is U”?

Dít is wat God bewerk het met sy goeie dade van verlossing deur die loop van die geskiedenis, en in besonder in Christus. Dít is waartoe Hy ons oproep wanneer Hy reg en barmhartigheid van ons vra. En so gaan ons saam met ons God oppad, hand in hand, al wandelende op die smal pad van die lewe. So kom elke daad, elke woord, elke gedagte onder sy heerskappy, so raak dit vir my ontmoontlik om enige iets te doen sonder my God.

Gemeente, die situasie in Miga se dae vertoon opvallende ooreenkomste met ons tyd. Groot rykdom en welvaart, toenemende sekularisasie, en ‘n dun godsdienstige lagie. Dit is nie altyd maklik om christene, om kerk in ons tyd te wees nie. Maar leer dan by God watter goeie dade Hy verrig het tot ons verlossing, doen dan wat Hy vra, en wandel só met jou God oppad na sy koninkryk. Amen.

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 118:10 en 14
Wetslesing en Romeine 8:33 e.v.
Sing Skr. 31:2 en 3
Doopsbediening en gebed
Sing Ps. 105:5
Lees: Miga 6:1-8
Romeine 12:1-3
Kollekte
Sing Ps. 112:1, 4, 5 en 6
Teks: Miga 6:8
Preek
Amenlied Ps. 26:1, 2 en 7
Gebed
Slotsang Ps. 36
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)