Die gelowige kry, in die stryd, sy antwoorde van God

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-07-22
Teks: 
Psalm 73:27-28
Preek Inhoud: 

Psalm 73:27-28

Ds HH van Alten - Sondag 27 Julie 2007

Lees: Psalm 73, Psalm 131
Teks: Psalm 73:27-28
Sing: Sien liturgie

Tema: Die gelowige kry, in die stryd, sy antwoorde van God. Ons let op:

  1. die antwoord van God oor die ongelowige
  2. die antwoord van God oor die gelowige
  3. die antwoord van die gelowige oor God

Geliefde gemeente van ons Verlosser, Jesus Christus,

Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is – so begin Psalm 73, met ‘n belydenis; met die oortuiging dat die Here goed is vir sy kinders wat Hom werklik dien. Pragtig, so ‘n eenvoudige geloofsbelydenis.

Maar gemeente, ons weet ook dat die praktyk dikwels so anders is as die belydenis van vers 1. En dit verklaar dan ook die radikale verandering van toon in vers 2: Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly. Die toon van die psalm verander van eenvoudige geloofsbelydenis na, ja, amper vraende opstandigheid. Dit is asof ons die vraagteken op Asaf se gesig sien: Here, hoe dan nou? Hoe werk dit? Ons ken hierdie vrae; vrae uit opstandigheid en vrees. Ons vra dikwels hierdie vrae omdat ons nie verstaan nie, nie verstaan wat die Here vir ons sê nie en nie verstaan die weg wat die Here met ons gaan nie; vrae omdat ons so sukkel om die werklikheid van ons lewens te laat klop met wat God belowe het.

Here, hoekom? Hoekom is daardie egpaar, wat U nie wil ken nie, so gelukkig, terwyl ek en my man so sukkel in ons huwelik? Hoekom ly my man of vrou aan daardie liggaamlike of geestelike siekte? Verdien die ongelowiges dit nie eerder nie? Here, hoekom het u my man of vrou nou van my af weggeneem? Hy of sy kon nog so baie in die gemeente beteken het… Here, hoe weet ek dat ek ook eendag ewig by U mag lewe? Wat gee my die versekering? Hoekom dien ek nog die Here wanneer dit lyk asof dit tog geen effek in hierdie wêreld het nie? 

Baie vrae. Nie almal tereg nie, en tog is hierdie die vrae wat die kinders van die Here vra; tog is dít die worsteling van so baie van ons: “Here, hoekom?”, “Here, hoe nou?” Ook Asaf is in Psalm 73 besig met hierdie vrae. Alhoewel ons nie ‘n direkte vraag van Asaf in hierdie psalm sal vind nie, is dit duidelik dat in elk geval verse 2-14 een groot vraag is. Ja, Asaf sukkel met hierdie vraag: hoekom moet ek so swaar kry, terwyl dit met die ongelowiges so goed gaan? Moet dit nie andersom wees nie? Is die Here nie besig om Homself te misgis nie? Het dit nog enige sin om die Here te dien?

Ja, die Here ken sy kinders; Hy ken ook ons vrae. En daarom is hierdie psalm ook in die Skrif opgeneem. God wys dat Hy weet hoe sy kinders dink, dat Hy weet hoe ons sukkel om sekere dinge te verstaan. En daarom kom hierdie psalm dikwels ook so lewenseg op ons af; so asof ons self die digter van hierdie psalm kon gewees het. Maar God wys meer; Hy wys nie net dat Hy sy kinders ken nie; Hy wys ook wie Hyself is! Hy is die Een wat die antwoorde het en wat hulle ook gee. Hy is die Een wat kom om die antwoorde ‘n groter werklikheid in ons lewens te maak as die vrae! Ek verkondig vanoggend aan u die Woord van die Here onder die tema:

Tema: Die gelowige kry, in die stryd, sy antwoorde van God. Ons let op:

  1. die antwoord van God oor die ongelowige

  2. die antwoord van God oor die gelowige

  3. die antwoord van die gelowige oor God

1. Uit die opskrif weet ons dat Asaf die digter van hierdie psalm is. Oor die omstandighede waarin hierdie psalm ontstaan het, kan ons maar net gis. Maar dit is duidelik dat dit ‘n moeilike tyd in Asaf se lewe was. Die vrae wat by hom opkom, bring hom tot opstandigheid, sodanig dat hy dink dat dit tevergeefs was dat hy so rein gelewe het (v. 13). Hy het selfs die neiging gehad om soos die goddeloses, in vers 11, te begin praat: “…hulle sê: Hoe sou God dit weet, en sou daar kennis by die Allerhoogste wees?” Die miskenning van die God van hemel en aarde dring hom by die digter op; die verloëning van die Verbondsgod dreig om Asaf te oormeester. Só ver kan dit kom wanneer hierdie vrae by die gelowige opkom. Sulke opstandigheid bring ons soms tot op die randjie van die afgrond. Asaf sê dit ook: my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly (v. 2). As God ons nie bewaar het nie, hoe sou ons nie almal op die afgrond beweeg het en ook daadwerklik gestruikel en gegly het nie. As God ons nie vasgehou het nie, sou ons ons vrae en ons twyfels gevoed en gekoester het en sou ons uiteindelik in ongeloof verval het.

Maar gemeente, die genadige God laat ons nie los nie; Hy kom met die antwoord, ook in Asaf se lewe. En wanneer die antwoord tot Asaf deurgedring het, dan sien ons ‘n opvallende kontras: ná alle opstandigheid, ná al die vrae, kom daar nou in alle rus die duidelike geloofsantwoord in ons teks (verse 27-28). Asaf het deur die Here nuwe perspektief ontvang, en hy leer sien waaroor dit werklik gaan… 

Maar wat sien Asaf dan? Wel, dit lees ons in die eerste deel van vers 27: Want kyk, die wat hulle ver van U af hou, vergaan;… Asaf sien dus wat die werklike posisie van die goddeloses is. En dit is van die grootste belang dat ons dít sal raaksien: nie die goddelose se rykdom nie, nie sy welvaart en voorspoed nie, maar wat sy posisie voor die Here is. Dit gaan nie oor wie ek is en wat ek het in hierdie wêreld nie, maar dit gaan oor my posisie, voor God! Dit gaan oor wat ek voor God is; dit gaan oor die verhouding waarin ek tot God staan, want dít is wat tel.

Ja, sal u miskien sê, maar vir die ongelowige maak dit nie saak wat sy posisie voor God is nie. Nee, inderdaad, dit leer Ps. 73:11 ons ook: “Hoe sou God dit weet, en sou daar kennis by die Allerhoogste wees?” Nee, vir die ongelowige maak dit nie saak nie, maar gemeente, ook die ongelowige sal leer dat wél saakmaak, want uiteindelik kan geen mens van die aangesig van die Almagtige wegkom nie; uiteindelik is elke mens, vandag reeds, oop en bloot voor die aangesig van God. En daar waar jy voor God staan, kom die vraag in alle erns op jou af: wat is die aard van jou verhouding tot hierdie God? Wat is jou posisie voor die Allerhoogste? Staan jy in die posisie van “sondaar en tog gered deur Jesus Christus” of staan jy in die posisie van “sondaar en trots daarop”? Dit is die vraag! 

En van hierdie laaste groep kan Asaf nou in geloof sê dat dié wat hulle ver van die Here af hou, vergaan. Ja, Asaf het op hulle einde gelet en hy het gesien waarheen hulle oppad is. Die Here stel sulke mense op gladde plekke (v.18). En as die Here die goddeloses op gladde plekke stel, dan beteken dit ook werklik dat hulle sal gly. Vir die goddeloses is die groot werklikheid in hulle lewens die feit dat hulle sal val en nie weer opstaan nie. Hierdie mense is onvermydelik oppad na die dood, die ewige dood…  

Asaf gaan verder in die tweede deel van vers 27: U roei almal uit wat van U afhoereer.  Hierdie term word in die Ou Testament dikwels gebruik om te verwys na verbondsafval deur die volk Israel. Die band tussen die Here en sy volk is soos ‘n huwelik, en verbreking van daardie band is hoerery, owerspel.

Ons sien dus dat Asaf nie in die eerste plek mense buite die volk Israel op die oog het nie, maar dat hy in die eerste plek verwys na mense binne die verbondsvolk. Asaf praat dus van sy volksgenote wat die Here nie meer dien nie. Ja, hulle wat deur God in die regte verhouding tot Homself geplaas is, hulle verag daardie verhouding; hulle soek dit nie. Die goddeloses waaroor Asaf hier praat, is dus in die eerste plek kerkmense; mense wat in die kerk sit en dan tog sê: “Hoe sou God dit weet, en sou daar kennis by die Allerhoogste wees?” Die Here se toorn oor sulke mense is groot; Hy sê dat Hy sulkes uitroei.  

Broers en susters, met hierdie antwoord van God oor die goddeloses wil Hy ons troos; Hy wil aan ons perspektief bied. Hy gee vir ons ‘n antwoord op ons hoekom-vrae. En dan leer ons om verder te kyk as net die uiterlike; ons leer om te kyk na ons posisie voor God, die verhouding waarin ons tot Hom staan: dáár val die beslissing. En dan sien ons dat die posisie van die goddelose haglik is; sy staat is ‘n doodstaat, omdat hy die lewe, wat God gee, verag.

Dít is dan ook God se antwoord aan ons oor die ongelowiges: “My kind, moet jouself nie blindstaar op hierdie mense met wie dit uiterlik dalk so voorspoedig gaan, maar wat My nie erken as hulle God en Verlosser nie. My kind, hierdie mense lyk asof hulle die wêreld in hulle hand het, maar hulle is geestelik dood omdat hulle die Skepper en Regeerder van hierdie wêreld nie erken nie.” 

Gemeente, sien dít raak: die wêreld bepaal nie wie jy is nie; Gód bepaal dit. In die hemel val die beslissing. Nie hy is die wenner wat dit op die sportveld is nie, maar hy is die wenner wat reeds die oorwinning in Christus behaal het. Nie hy is die besigheidsman van die jaar wat die meeste profyt gemaak het nie, maar dit is hy wat ‘n skat in die hemel versamel het; hy het geleer wat dit is om besigheid te doen. Nie sy is die gewildste wat die mooiste gesiggie het nie, maar húlle is lieflik in God se oë wat, soos Dawid in Psalm 139, leer sien het hoe vreeslik wonderbaar hulle deur God gemaak is. Nie hy is ryk wat alle stoflike besittings het wat sy hart begeer nie, maar ons is ryk wat weet dat ons tot voor die troon van God mag kom en Hom aan mag spreek as: Onse Vader.

Broers en susters, laat dít ons dra in tye wanneer dit lyk asof God sy kinders vergeet het, wanneer dit lyk asof dit geen sin het om ‘n gelowige te wees nie. Leer dan weer sien dat God nie met wêreldse maatstawwe meet nie, dat Hy reg meet, dat Hy weet wat Hy doen ter wille van die ewige heil van sy kinders.

Ons let vervolgens op die antwoord van God oor die gelowiges. 

2. Asaf het God se antwoord oor die goddeloses gehoor. Hy het geleer dat die wêreld nie bepaal wie jy is nie, maar dat God dit bepaal. Maar waar het Asaf hierdie antwoord gekry?

Dit leer ons in verse 16-17: “Toe het ek nagedink om dit te verstaan, maar dit was moeite in my oë, totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het.” Ja, Asaf het bly worstel met sy vrae, hy het bly stry het in sy opstandigheid, totdat hy in die heiligdomme van God ingegaan het. Toe hy die Hére in die tempel opgesoek het, ja, toe het hy die antwoord gekry.

Maar wat het hy daar in die tempel gevind? Wel, gemeente, in die tempel was die altaar, dáár is die diens van die versoening deur die priester verrig. Ja, daar in die tempel is die lammetjie geslag en geoffer vir sondes van die volk en het die rook na God opgegaan as ‘n lieflike geur van versoening. Dáár waar die versoening bedien is, dáár waar die verlossing voor Asaf afgebeeld word, dáár leer hy sien wat sy posisie voor God is; hy mag weer in die herstelde verhouding met God staan, hy staan nie meer onder God se toorn nie, sy lewe het uitsig op die ewigheid. En daar word hy ook verlos van al sy vrae en twyfels. 

En daarom, broers en susters, kan Asaf gevolglik ook in alle rus sê: “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees” (vers 28a). Asaf kán ook by God wees, want daar ís betaal, die brug tussen God en ons ís weer nuut gebou. Asaf sê dan ook in vers 23: “Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat.” Ja, by die Here vind Asaf rus te midde van al sy vrae.

Psalm 131 wat ons gelees het, praat so pragtig van hierdie rus. Daar sê Dawid dat sy hart nie hoog en sy oë nie trots is nie. Hoogheid van hart en trotsheid van oë is immers kenmerke van die goddeloses? Dit is mos die kenmerke van hulle wat hulle teen die Here verhef? Nee, hierdeur wil die kind van die Here nie meer gekenmerk word nie. Hy wil ook nie meer wandel in dinge wat te groot en te wonderbaar is nie. Hy wil gelowig die antwoord van die Here aanvaar.

Ja, dan bly daar baie dinge wat ons nie verstaan nie; dan is daar nog baie dinge in hierdie wêreld wat vir ons teenstrydig en onregverdig lyk; nog steeds kan ek nie verstaan hoekom ek hierdie siekte moet kry en nie my ongelowige buurman nie, hoekom hierdie hartseer my moet tref en nie die goddelose nie. Maar gemeente, laat ons nie wandel in dinge wat te groot en te wonderbaar is nie, maar laat ons met Dawid rus vind by die Here: “waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ‘n gespeende kind by sy moeder, soos ‘n gespeende kind is my siel in my.” Rus, omdat ek God se antwoord oor my mag ken. Rus, omdat ek deur die geloof in Jesus Christus weet wat my posisie voor God is. Rus, omdat ek weet dat ek ‘n lewende verhouding met my Vader het. En gevolglik sluit Dawid ook af in Ps. 131:3: wag daarom op die Here, o Israel, van nou af tot in ewigheid. 

Ja, Asaf het geleer dat dit goed is om naby God te wees. Let egter op, gemeente, dat hierdie “naby God wees” nie maar ‘n passiewe saamwees tydens sekere tye van stilte is nie. Dit is nie slegs bedoel vir my stiltetyd nie. Nee, om naby God te wees, is ‘n werklikheid van elke dag. Dit is ‘n werklikheid by die kantoor waar die goddeloses groot praat oor hulle rykdom; dit is ‘n werklikheid by die skool en universiteit waar jou mede-studente spog oor hulle partytjies; dit is ‘n werklikheid by die huis waar siektes dreig; dit is ‘n werklikheid vir elke stadium van ons lewe, wanneer ons jonk en sterk is, maar ook wanneer ons oud en bejaard is. Ja gemeente, dit is ‘n werklikheid in ‘n wêreld waar dit lyk asof die goddeloses floreer en onbekommerd voortleef. In hierdie wêreld is die nabyheid van God dié werklikheid waarby die gelowige mag lewe.

En waarin kom hierdie nabyheid van God mooier tot uiting as in Jesus Christus. Hy het só naby aan ons gekom, sodat ons nie meer ver van God sou wees nie; Hy is deur God verlaat sodat ons nooit meer deur God verlaat sou word nie. In Jesus Christus roem ons in  ons verdrukkinge (ons swaarkry, ons hartseer, ons siektes), omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is (Rom. 5:3-5). Só naby is ons aan God dat Hy selfs in ons harte woon.   

En Asaf besef hierdie werklikheid van God se nabyheid deur ons hele lewe wanneer hy bely dat God nie net sy hand gevat het nie, maar dat God hom ook lei deur sy raad (v.24); God het nie slegs ‘n begin gemaak nie, Hy gaan ook verder. By hierdie “raad” van vers 24 moet ons nie aan God se raadsplan dink nie; sy raadsplan is immers vir ons verborge. Nee, by “raad” moet ons hier God se Woord verstaan wat sy geopenbaarde wil vir ons lewe is. Sy Woord is die kompas vir ons hele lewe. Wil u daarom naby God wees? Dan moet u by sy Woord wees, ook waar dit in die erediens in die midde van die gemeente verkondig word. Daarin vind ons God se aanwysings vir die lewe met Hom. In God se Woord hoor ons sy stem; daar kry ons sy antwoord oor die einde van die goddeloses en oor ons eie posisie van verloste voor God. Gemeente, ontneem God daarom nie sy reg om Sondag na Sondag met u te praat nie. Laat God spreek, laat Hom antwoord op al u vrae – dit is sy reg en dit is u behoud!  

As u so na die Woord van die Here luister, dan sien u die heerlike antwoord wat die Here oor die gelowiges gee. Dan sien u hoe God oor u dink. Ja, in die wêreld met sy beperkte visie is ons die kleines en die veragtes. Maar vir die gelowige is nie bepalend hoe die wêreld oor hom oordeel nie, maar vir hom is bepalend in watter verhouding hy tot God staan. Die gelowige weet dat dáár die oordeel val. En daarom juig ek, en jubel ek in my hart wanneer ek by my God mag wees en van Hom mag hoor dat Hy my goedgesind is, dat ek sy kind mag wees. Dít is wat saak maak.

En dan maak Asaf se uitroep in vers 25 skielik soveel sin: Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. Ja, Asaf kan dít uitroep, nie omdat daar iets aan sy situasie verander het nie, want uiterlik het daar niks by Asaf verander nie, maar hy kan dit uitroep omdat hy leer sien het wie sy God is; omdat hy leer sien het dat hy nie oppad is na die dood nie, maar dat hy midde in die lewe staan. Ja, in al sy swaarkry en hartseer, bruis dit in Asaf: Ek is gered! Ook al beswyk my vlees en my hart (v.26a), ook al moet ek op hierdie aarde baie ly en dikwels baie swaar kry en nie verstaan hoekom nie, selfs al moet ek sterf – God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid (v.26b).  

Hoe wonderlik is dit om ‘n Vader te hê wat ons leer om verder te kyk as vandag. Dit is hierdie sig op die toekoms wat ons, as kinders van die Here, help om juis vir vandag te leef. Ons mag vandag leef omdat ons weet dat ons ‘n God het wat sorg vir môre en vir oormôre en vir volgende week en vir hierdie hele jaar, …en vir die ewigheid. Hierdie sig op die ewigheid bepaal ons juis  by vandag, want vandag, hier en nou, is dit vir my goed om naby God te wees.

Ten slotte: die antwoord van die gelowige oor God. 

3. Ons sien aan die einde van vers 28 watter uitwerking God se antwoord op Asaf het: “in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel.” Weereens die geweldige kontras: waar die opstandige Asaf aan die begin van die psalm nie kon stilbly oor die onregverdigheid van die lewe en die inkonsekwentheid van God nie, kan hy nou nie stilbly oor die groot dade van God nie. Ja, Asaf het sy toevlug tot God geneem en dit het tot hoogste doel dat hy nou al God se werke wil vertel. Ja, hy wat die groter prentjie leer raaksien het en sy eie posisie voor God verstaan, kan daaroor nie stilbly nie. Hy moet dit uitjubel: hoe goed is God! 

En met hierdie mooi getuienis wil die gelowige na die ongelowiges gaan. Ons het gesien dat vers 27 en 28 duidelik die kontras tussen die goddeloses en die gelowiges gestel het. As die gelowige dan sy eie ryk posisie voor God raaksien en daarteenoor die haglike posisie van die goddeloses, dan laat dit hom nie koud nie; dan wil hy ook aan hulle God se groot dade voor oë stel. Die goddeloses se oë moet afgetrek word van hulle eie brose voorspoed en rykdom.

In nederigheid en bewoënheid vertel ons dan God se groot werke aan hulle; ons verkondig aan hulle die God wat in Christus by magte is om ook hulle posisie te verander van “verlore sondaar” na “geredde sondaar”. Gemeente, laat die belange van ons naaste ook werklik ons harte warm maak wanneer ons by die Here skuil. As dit vir u goed is om naby God te wees, moet dan nie dat die liefde vir u naaste ver van u is nie.  

Maar wat vertel ons dan? Vertel ons net van God se werke in ons eie lewens? Vertel ek net wat God vir my gedoen het? Natuurlik mag ons dit doen, gemeente, maar daar is meer. God se werke, waarvan ons getuienis aflê, is nie maar net dit wat God in óns lewens gedoen het nie, maar ons verkondig God se hele wêreldbestuur. Die digter van psalm 73, wat nou van sy twyfel verlos is, is nou verseker daarvan dat God alle dinge regeer: “in die Here HERE het ek my toevlug gestel om al u werke te vertel.

Gemeente, verstaan dit goed, Asaf het nie maar net vrede gekry deur vir homself ‘n antwoord te skép nie; hy sus nie maar sy opstandigheid deur ‘n sielkundige gedagteskuif te maak nie. Ook óns is in hierdie moeilike tye nie maar besig om onsself te bluf deur ‘n antwoord te skep wat ons rustig maak nie. Wanneer ons dit sou doen, sou ons vandag die ellendigste van alle mense wees. Nee, wanneer ons ons toevlug by God neem om al sy werke te vertel, dan is ons besig met ‘n lewenswerklikheid. Ons gee getuienis van die geloof dat God beheer oor alle dinge het, ook oor die hartseer dinge in ons lewens. Alles en almal is so in God se hand dat dit sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie. Dít is ons belydenis en van hierdie werke wil ons vertel. Dít is ons God en Hom wil ons prys – ook deur ons trane heen.

Amen 

Liturgie (oggend) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 67:1-3
Wetslesing
Sing Ps. 19:5 en 6
Gebed
Lees: Psalm 73
      Psalm 131
Sing Ps. 131:1-3
Teks: Psalm 73:27-28
Preek
Amenlied Ps. 84:1, 3 en 4
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 43:3 en 4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)