Christus is teenwoordig in en by die nagmaal

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-07-15
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 29
Verwysing: 
HK 29-0 (2007)
Preek Inhoud: 

Sondag 29

Ds HH van Alten - Sondag 15 Julie 2007   

Lees: Hebreërs 10:1-23
Teks: HK Sondag 29 en 30 (v/a 78-80)
Sing: Sien liturgie

Tema: Christus is teenwoordig in en by die nagmaal

  1. Hoe Hy aanwesig is
  2. Wat Hy daar doen

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

In die preek oor Sondag 28 van die Kategismus enkele weke gelede, was die fokus baie sterk op die nagmaal as maaltyd van wederkerige gemeenskap. Ja, by ons doop, as klein kindertjies, het ons slegs ontváng sonder dat ons daarop kon antwoord. Maar by die nagmaal kom die antwoord waarop die Here by ons doop al gewag het. Die nagmaal bring omgang, wederkerige gemeenskap tussen die Here en sy gemeente en tussen die gemeentelede onderling.

En daarom is die hele gedagte van die nagmaal as ‘n maaltyd, waarby ons almal saam hier voor om een tafel kom sit, ook so ‘n ryk gedagte. In ons tyd het die maaltyd dikwels ‘n aktiwiteit geword wat so gou as moontlik afgehandel word, of iets wat ons doen terwyl ons TV kyk of ons werk doen. Maar in die Bybelse tyd was die maaltyd werklik ‘n groot gebeurtenis, dít was die tyd vir kommunikasie en omgang met mekaar. Die maaltyd het bo alles gegaan oor die gemeenskap wat daarin beoefen is. En hieraan, gemeente, herinner die nagmaal ons elke keer as ons dit vier.  

En tog is daar vrae; vrae wat ook deur die Kategismus verwoord word. Want, goed, die nagmaal is ‘n maaltyd van wederkerige gemeenskap. Ons beoefen dus gemeenskap met die Here Christus. Maar hoe? Hoe is Hy hier aanwesig? Het Hy ook ‘n plekkie aan die tafel? Kan ons Hom sien, kan ons Hom proe, kan ons Hom beleef? Dit is vrae wat in die tyd van die Reformasie – dus, ook die tyd waarin die Kategismus opgestel is – baie debat veroorsaak het. En ook skeuring veroorsaak het, skeuring tussen die reformatore en die Rooms-Katolieke Kerk, maar erger nog: ook skeuring tussen die reformatore onderling. Dát Christus by die nagmaal aanwesig is vir die beoefening van onderlinge gemeenskap – daaroor het almal saamgestem. Maar oor die hoe van sy aanwesigheid was die antwoorde uiteenlopend. En tot vandag toe is dit’n knellende vraag wat vra om ‘n Skriftuurlike antwoord: Hoe is die Here Christus in die nagmaal aanwesig om met ons gemeenskap te beoefen? Kom ons luister vandag na die Woord van die Here soos ons dit bely in Sondag 29 oor Christus se aanwesigheid in die nagmaal. Die tema vir die preek is: 

Tema: Christus is teenwoordig in en by die nagmaal

  1. Hoe Hy aanwesig is

  2. Wat Hy daar doen

1. Dit is duidelik uit wat ons in Sondag 29 en 30 gelees het dat die opstellers van die Kategismus in hierdie vrae en antwoorde die stryd aangaan met die Rooms-Katolieke Kerk. Veral vraag en antwoord 80 laat daaroor geen twyfel nie: “Wat is die onderskeid tussen die nagmaal van die Here en die Roomse mis?” En, gemeente, dit is nie maar ‘n skyngeveg wat die Kategismus hier met die Roomse kerk aangaan nie; nee, daar bestaan ‘n wesenlike verskil tussen die nagmaal en die Roomse mis. En die opstellers van die Kategismus weet waarvan hulle praat; hulle was aanvanklik deelnemers aan die Roomse mis, en het daarna bewustelik daarmee gebreek. Maar wat is dan die verskil?

Wel, gemeente, die Rooms-Katolieke Kerk glo dat, wanneer die priester die regte formule uitspreek, die brood en die wyn verander in die liggaam en bloed van Jesus Christus. Wanneer jy dus die Roomse mis gebruik, eet jy – volgens hierdie kerk – nie meer brood en drink jy nie meer wyn nie, maar eet jy fisies die vleis van Christus se liggaam, en drink jy letterlik sy bloed. Daarenteen bely ons dat Christus na sy menslike natuur in die hemel aan die regterhand van die Vader is. Ons kry slegs ‘n stukkie brood en ‘n slukkie wyn as tekens om ons te wys op die offer van Jesus Christus vir ons sondes.  

Maar… het Rome dan nie ‘n groot voordeel bo ons nie? Hulle het immers in hulle misviering nie maar net tékens van Christus se liggaam nie. Nee, hulle het Hom sélf by hulle, fisies en liggaamlik. Elke keer word Hy weer geoffer; by elke misviering word herhaal wat Christus aan die kruis gedoen het. Elke keer weer gee Hy Homself oor soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word. En ons kan Hom proe en voel; ons kom Hom, wat hier in vlees en bloed aanwesig is, aanbid. Christus is in sy vlees en bloed hier in die kerk by ons, Hy sit sy kruis in die middel van ons lewens neer, vir ons om daarna te gryp! Broers en susters, is dit nie ‘n rykdom nie?! Stel u self voor: ‘n kerk vol met mense wat worstel met hulle sondes, maar voor hulle oë word Christus gekruisig, en kan hulle Hom aanraak en proe en weet dat daar vergifnis is; ‘n kerk vol met mense in nood, mense wat groot hartseer in hulle lewens ken, maar Christus is liggaamlik by hulle om hulle te troos!

En kyk dan na ons nagmaalsdiens… Dit is maar sober. ‘n Stukkie brood en ‘n slukkie wyn, want ja, Christus is na sy menslike natuur in die hemel. Dit is ‘n groot afstand. En verder vier ons die nagmaal as gedagtenis aan sy kruisdood, maar ag, dit is al so lank gelede. Sy troon is hoog in die hemel, sy kruis is ver in die verlede. Bied die Roomse mis dan nie baie, baie meer nie? Het ek, in my sondeskuld en my groot hartseer, nie baie meer aan die Christus wat hier voor my oë op die altaar geoffer word nie? 

Maar gemeente, kom ons kyk nou na wat die Here ons leer in Hebreërs 10, wat ons saam gelees het. Daar sien ons dat die Ou Testament, net soos die Roomse kerk, ook ‘n voortdurende herhaling van offers geken het. Tot twee maal toe (verse 1 en 3) praat die Hebreërskrywer van die offers wat jaar na jaar gebring is. En in vers 11 lees ons dat die priester dag vir dag gestaan het om die diens waar te neem en die slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. Máár, vervolg die skrywer, dit is juis wat Christus gekom het om te verander. In Christus se eie woorde in verse 8 en 9: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê nie; kyk, Ek kom om u wil te doen, o God. Hy neem dus die eerste – dit is die voortdurende slagoffer, spysoffer, brandoffers en sondoffers – dít neem Hy weg, om die tweede – sy eie offer – in die plek daarvan te stel; Hy vervang dus die offers wat dag na dag, jaar na jaar, gebring moes word, met die eenmalige offer van sy eie liggaam (vers 10)! Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word (vers 14). En dan lees ons in vers 18: Waar daar nou vergifnis is…, is daar geen offer meer vir die sonde nie. Geen offer is meer nodig nie; dit is ook nie nodig dat Christus se offer herhaal word nie. Nee, Christus het, nadat Hy sy eenmalige slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God, waar Hy – volgens Romeine 8:34 – vir die gelowiges intree.  

Gemeente, wie is nou ryk? Hy wat Christus elke dag weer moet offer, of Hy wat glo in Christus se eenmalige en volmaakte offer? Hy wat sê: “Christus is nog besig met sy offerwerk”, of hy wat weet: “dit is volbring!”? Hy wat saam met Paulus sê: “Christus is dit wat gesterf het”, of hy wat saam met Paulus vervolg: “ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree”? Broers en susters, ons Here het gesterf, Hy is gekruisig – eenmaal! En dit was genoeg! Daarom is Hy nie fisies in die brood en die wyn aanwesig nie, Hy word nie elke dag opnuut gekruisig nie. Hoe arm sou ons gewees het as dít die geval was. Want dan sou ons elke dag opnuut voor die muur gestaan het wat ons van God skei. Elke dag opnuut sou ons die sleutel moes gaan haal om die hemel oop te sluit, net om te sien dat dit die volgende dag wéér gesluit is. Wie Christus elke dag weer kruisig, moenie van Hom enige hulp of voorbidding in die nood verwag nie. Want Hy is dan dag vir dag nog besig om dinge met God te probeer regmaak. Wie Christus elke dag weer kruisig, laat Hom dag vir dag by God werk terwyl sy werk al klaar is. Jy dink dat jy gemeenskap met Hom het omdat jy Hom sogenaamd op die altaar voor in die kerk kan sien, maar intussen bly die hemel bo jou gesluit. 

Maar, gemeente, ons wat glo in Christus se eenmalige offer aan die kruis mag, deur sy bloed, elke oomblik van elke dag met vrymoedigheid in die hemelse heiligdom ingaan. Ons weet dat ons daar ‘n groot Priester het wat vir ons intree, wat by die Vader vir ons bid. Ons weet dat ons daar ‘n groot Koning het, wat die leisels van hierdie wêreld en van ons persoonlike lewens styf in sy hand hou. Hy het tyd vir ons, Hy het ‘n oog vir ons. In ons sondeskuld en in ons moeites is ons nooit alleen nie, want Christus het sy werk voor die Vader voltooi en Hy rig nou sy volle aandag op óns! Laat ons dan in God se hemelse huis toetree met volle geloofsversekerdheid.

En daarom: wanneer die sondes my neerdruk en ek nie weet of daar verlossing is nie, dan weet ek: my Hoëpriester tree vir my in by die Vader met sy eenmalige en volmaakte. Wanneer ‘n geliefde ernstig siek is en jy nie weet wat met hom gaan gebeur nie, weet dan: my Verlosser leef en Hy sorg vanuit die hemel, ook in enige liggaamlike nood. Wanneer jou finansiële situasie jou slapelose nagte gee en jy nie weet waar die uitkoms vandaan gaan kom nie – jou Koning regeer in die hemel oor al die rykdomme van hierdie wêreld. Wanneer jou huwelik in groot nood verkeer en jy geen uitkoms sien nie – jou Verlosser is daar en die hemel is vir jou gebed nie gesluit nie. Wanneer die moeites in ons land en die gevare van geweld en misdaad jou bang maak – vlug dan na die troon van die Koning van hemel en aarde. Gemeente, as mense wat glo in Christus se eenmalige offer aan die kruis, het ons vandag ‘n nuwe en lewende weg, deur die voorhangsel heen, na die God van ons lewe. Met Hóm is gemeenskap nou weer moontlik… in alle omstandighede van jou lewe!  

En, broers en susters, die hoogtepunt van daardie gemeenskap beoefen ons aan die nagmaalstafel. Nie omdat Christus liggaamlik in die brood en die wyn aanwesig is nie. Nee, Hy is met sy menslike natuur in die hemel aan die regterhand van die Vader. En só is dit goed, só kom Hy ons ten goede by die Vader. Christus daal in die nagmaal dus nie na ons af nie, ook trek ons Hom nie daarvandaan af nie. Nee, Hy kom nie af na ons nie, maar ons gaan op na Hom! Dit is die oproep van die nagmaalsformulier: “Om met die ware brood, Christus, gevoed te word, moet ons nie net ons oë rig op die sigbare tekens van brood en wyn nie, maar ons harte ophef na die hemel, waar Jesus Christus ons Voorspraak – ons Voorspraak in al ons sondeskuld en in al ons nood en in al ons hartseer – waar Hy aan die regterhand van sy hemelse Vader is.” Verhef julle harte, broers en susters! Deur die geloof voer die Heilige Gees ons langs die nuwe en lewende weg na die hemelse heiligdom waar ons in Christus ingelyf word en al sy verdienste deel. En dit gebeur in besonder wanneer ons in geloof die brood eet en die wyn drink, maar dit gebeur vervolgens ook elke keer wanneer ons in geloof ons lewende Heiland opsoek. Laat ons ons harte verhef!  

Dus, gemeente, hoe is Christus in die nagmaal, wat ons oor enkele weke weer gaan vier, hoe is Hy daarin teenwoordig? In elk geval weet ons dat Hy nie letterlik/liggaamlik in die brood en die wyn teenwoordig is nie. Die Kategismus noem hierdie leer ‘n vervloekte afgodery, en ons mag dit die Kategismus gerus maar nasê. Want Christus se werk is volbring, Hy beklee nou die ereposisie aan die regterhand van die Vader. Maar daarmee is sy teenwoordigheid by ons nie minder werklik nie. Hy is werklik hier by ons, want Hy laat Homself in die nagmaal verteenwoordig deur sy Gees, in sy Gees is Christus werksaam aanwesig. Deur die Gees skenk Hy Homself en al sy verdienste vir die gelowiges. Deur sy Gees is Hy werklik hier by ons, sodat ons in verwondering kan sê: “Waarlik, die HERE is op hierdie plek” (Gen. 28:16). Laat ons daarom met eerbied en verwondering na die nagmaalstafel kom om gemeenskap met Christus te beoefen. Hy staan hier as Gasheer; Hy berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; Hy maak my hoof vet met olie, my beker loop oor.

Nee, Christus is nie liggaamlik teenwoordig nie, maar deur die geloof is sy teenwoordigheid wel ‘n voldonge werklikheid. Deur die geloof bely ons met die woorde van Psalm 73: “Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat. U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem. Wie het ek buite U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.”

Ons het nou gesien hoe Christus in die nagmaal teenwoordig is; kom ons kyk vervolgens wat Hy daar doen. 

2. As Christus dan nie liggaamlik in die brood en wyn aanwesig is nie, is vraag 79 van die Kategismus nie so onsinnig nie: “Waarom noem Christus dan die brood sy liggaam en die beker sy bloed of die nuwe testament in sy bloed en waarom noem Paulus dit die gemeenskap met die liggaam en bloed van Christus? Ja, goeie vraag. En die Kategismus antwoord dan: Christus wil met hierdie uitspraak twee dinge bereik: in die eerste plek wil Hy ons leer, en in die tweede plek wil Hy ons verseker. En dit is presies wat Christus aan die nagmaalstafel met behulp van die brood en die wyn doen: Hy leer ons en Hy verseker ons. Teken en seël – leer en verseker.

Kom ons kyk vervolgens noukeuriger wat Christus in hierdie twee aksies aan die nagmaalstafel doen… 

* In die eerste plek wil Christus ons dus leer; Hy wil aan ons onderrig gee, sigbare onderrig. Antwoord 79 sê: “Christus wil ons leer dat soos brood en wyn die tydelike lewe onderhou, so voed sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed, as die egte voedsel en drank, ons siele vir die ewige lewe.” Christus gebruik dus, soos so dikwels in sy onderrig, ‘n beeld uit die gewone lewe: die beeld van brood en wyn. En wie van ons is nie daagliks hiermee besig nie? Wie van ons dink nie daagliks aan iets om te eet en te drink nie? Soggens eet ons ontbyt, en voor ons weer kyk is dit middagete en kan ons voel dat ons iets vir die maag nodig het. En teen laatmiddag begin ons kosmaak of kom ons huistoe om saam van die maaltyd te geniet. Ons werk hard om te voorsien in ons en ons geliefdes se daaglikse behoeftes, ons werk hard om ook van ‘n bietjie ekstra te kan geniet. Ons hou ons banksake dop en ons kyk na die geldmarkte. Ons gaan winkel toe en oorweeg wat ons vanaand en more-aand gaan eet. Brood en drank is iets waarmee ons elke dag besig is en waarsonder ons ook nie kan klaarkom nie. Nou, presies so – sê Jesus – is dit ook met my liggaam en bloed. Net soos wat brood en wyn die liggaamlike lewe onderhou, só word ons geestelike lewe – ons siele, dus – tot die ewige lewe gevoed deur Christus se gekruisigde liggaam en uitgestorte bloed.

Dit is ‘n eenvoudige en goed-verstaanbare vergelyking vir enige iemand wat besig is met die daaglikse versorging van sy liggaam. Selfs die jong kinders verstaan dit onmiddellik – ek het kos nodig, anders kan ek nie oorleef nie; as ek nie kos kry nie, word ek honger. Nou, net so gaan dit met ons siele. Ons siele het geestelike voedsel nodig, anders kom ons in geestelike hongersnood; en uiteindelik sterf ons geestelik en kan ons nie die ewige lewe beërwe nie – vandag nie, maar ook nie by Christus se wederkoms nie.  

En, gemeente, besef dan dat die ewige lewe soveel belangriker is as die lewe hier. Christus waarsku tydens sy lewe op aarde dat ons nie moet vrees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Maar – sê Hy verder – vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel (Matt. 10:28). Die versorging van die siel moet dus ons prioriteit hê; ons moet fokus op die egte voedsel en drank, soos die Kategismus sê. Die versorging van die siel moet vir ons belangriker wees as die daaglikse brood. En ons almal weet hoe belangrik die daaglikse brood vir ons is; niemand van ons sal daaraan dink om op te hou om ons liggame met kos te versorg nie; daar is min mense wat ‘n dag lank sonder kos kan regkom. Broers en susters, hoeveel te meer moet ons dan nie ons geestelike lewe versorg nie? Wanneer ons só besig is met die daaglikse versorging van ons liggaam, en wanneer ons so rondskarrel om die daaglikse brood te verdien, hoeveel te meer moet ons nie ywer vir die brood van die lewe waarsonder ons nie kan lewe nie.

En ons sien in die wêreld om ons heen, maar ook in die gemeente, hoe hierdie gevaar uitkom in mense se lewens. Mense jaag na die daaglikse brood – want ja, ‘n ou moet darem lewe! – maar intussen loop hulle by die brood van die lewe verby, intussen gee hulle geen of weinig aandag aan hulle geestelike lewe nie; bybelstudie kry ‘n plekkie wanneer daar tyd is, die lengte van die gebed word bepaal deur hoe vol die agenda is, kerkgang staan terug wanneer daar ander belangriker dinge is, ons prop ons hele kerklike lewe op Sondae in want ander dae moet oopbly vir ons eintlike lewe. Maar, gemeente, dan leer die Here Jesus ons dat ons by die versorging van die geestelike lewe moet begín! Daar lê die wortel van ons lewens, ons kan en ons mag dit nie afskeep nie. 

En juis hiertoe word ons in die nagmaal weer opgeroep. Die tekens van brood en wyn leer ons hoe onontbeerlik die égte voedsel en drank is. Soos ek in die preek oor Sondag 28 reeds gesê het: eintlik moet ons die nagmaal baie meer gereeld vier. Want elke keer wanneer ons die brood eet en die wyn drink leer die Here Jesus ons hoe lewensnoodsaaklik sy liggaam en bloed vir ons sieleheil is. Ek het dit nodig, ek het nodig om met Christus gevoed te word.

Ek kan die leeftyd van die sterkes behaal, en alles bereik wat ek wou bereik, en dan nog aan die einde van my lewe hoor: Gaan weg van my af, want jy is geestelik dood! Jy het jou nie gelaaf aan die Bron van die lewe nie, jy het dit nie nodig geag om van Christus te lewe nie. Gemeente, hoor hierdie onderrig van die Here Jesus. Ons almal het Hom broodnodig.  

* Maar behalwe dat Christus ons aan die nagmaal wil leer, wil Hy ons verder ook verseker. “Hy verseker ons dat ons net so seker deur die werking van die Heilige Gees aan sy ware liggaam en bloed deel kry as wat ons hierdie heilige tekens met die liggaamlike mond tot sy gedagtenis ontvang. Hy verseker ons ook dat al sy lyding en gehoorsaamheid so seker ons eie is asof ons self in eie persoon alles gely en die skuld vir ons sondes aan God ten volle betaal het.” Ja, gemeente, in die brood en die wyn leer Jesus ons dat ons Hom broodnodig het, maar vervolgens verseker Hy ons nou dat ons in Hom ook álles kry wat ons nodig het.  

Ons lewende Verlosser gee vanuit die hemel vir ons die waarborg: wanneer jy die tekens van gewone brood en wyn in geloof eet en drink, dan kry jy verseker die geestelike voedsel, dan kry jy deel aan My, die brood van die lewe. Christus se verdienste word my toegereken; ja, daar is ‘n volkome uitwisseling: my sondes word syne, en sy verdienste word myne. Sy verdienste word in so ‘n mate myne, asof ek sélf die skuld betaal het.

Só verbind Hy die hemelse werklikheid van vergifnis van sondes en die ewige lewe met die aardse werklikheid van brood en wyn. Hy maak hierdie hemelse werklikhede net so reëel soos die kos en drinkgoed van elke dag. Christus se verdienste is nie iets bo hierdie werklikheid nie, broers en susters, dit sweef nie daarbo nie. Nee, eet van die brood en drink van die wyn, en weet dan: net so seker as wat my liggaam nou deur hierdie brood en wyn gevoed is, so seker voed Christus my siel tot die ewige lewe.  

Gemeente, wat ons nodig het is om die pad terug te vind na die ware betekenis van die nagmaal. Anders bly Christus buite ons lewe staan. En dan kan jy nog so dikwels die bybel lees en elke keer getrou na die nagmaal kom, maar as ons die onderrig en die waarborg van Christus aan die nagmaal, sy lering en versekering, nie meer verstaan en nie meer aanvaar nie, dan bly dit vir jou onwerklik, en uiteindelik sal jy ondergaan in die hartseer werklikheid van jou eie lewe. Ons sukkel so om die betekenis van die nagmaal te verstaan, en dikwels relativeer ons die nagmaal omdat ons nie die betekenis daarvan vir ons daaglikse lewe insien nie. Maar wanneer ons werklik Christus se onderrig ter harte neem, dan word die betekenis van die nagmaal ‘n werklikheid vir elke dag, en leer ons eerder om dit wat in ons eie lewens gebeur, te relativeer. Gemeente, ontvang die brood en die wyn uit Christus se hand, weet wat Hy daarin vir u gee, glo dit, en gaan lewe daaruit.

Amen  

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Skr. 18:5-8
Wetslesing en HK, v/a 95
Sing Skr. 26:1, 2, 10 en 11
Gebed
Lees: Hebreërs 10:1-23
Sing Ps. 40:3 en 4 & Ps. 110:1
Teks: HK, Sondag 29 en 30 (v/a 78-80)
Preek
Amenlied Skr. 24:1, 3 en 4
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 73:10-12
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)