Die merkwaardige werkwyse van die Kneg van die Here!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-08-05
Teks: 
Jesaja 42:1-4
Preek Inhoud: 

Jesaja 42:1-4

Ds HH van Alten - Sondag 5 Augustus 2007   

Lees: Jesaja 41:21-42:7,  Matthéüs 12:9-21
Teks: Jesaja 42:1-4
Sing: Sien liturgie

Tema: die merkwaardige werkwyse van die Kneg van die Here!

  1. Sy onopvallendheid (v. 2)
  2. Sy nederigheid (v. 3)
  3. Sy betroubaarheid (v. 4)

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

U het waarskynlik in die Kerkblad gelees dat ons in die komende maande in die prediking wil let op ‘n baie belangrike aspek van ons geloof, naamlik diensbaarheid – spesifiek met die oog op die diensbaarheid van en in ons gemeente. Dien ons mekaar nog in die gemeente? Is ons nog diensbaar in die samelewing waarbinne die Here ons gestel het? Hoe is ons diensbaar, of hoe behóórt ons dit te wees? En, hoe kan ons groei in ons diensbaarheid?

Maar voordat ons oor diensbaarheid onder mekaar en oor ons diensbaarheid aan die samelewing kan praat, moet ons eers begin by die wortel van die diensbaarheid van die christen – en dit is die diensbaarheid van die Christus. Slegs wanneer ons, deur die geloof in Hom, iets van sy diensbaarheid leer verstaan, word ons in staat gestel om self diensbaar te wees. En daarom begin ons hierdie reeks preke deur te kyk na Christus en sy diensbaarheid. 

Ons het vanoggend saam gelees uit die profesie van Jesaja. In Jesaja 42 het ons te make met die eerste van vier baie bekende profesieë oor die sogenaamde “Kneg van die HERE”. Die tweede van hierdie profesieë is in Jesaja 49, die derde in Jesaja 50 en die vierde in Jesaja 52 en 53. En die groot vraag wat telkens met die behandeling van hierdie vier profesieë na vore kom, is: wie is die Kneg van die HERE? Met wie kan ons die Kneg van die HERE identifiseer?

Sommige meen ‘die Kneg’ dui op die volk Israel – en inderdaad, op sommige ander plekke in Jesaja word inderdaad na die volk verwys as die kneg van die Here. Maar die beskrywing van die Kneg in hierdie vier profesieë gaan telkens oor ‘n individu met eienskappe wat nie pas by die volk nie. Dus, ons kan hierdie profesieë nie op die volk betrek nie. Ander weer is van mening dat ‘die Kneg’ dui op ‘n historiese persoon in daardie tyd, miskien die profeet self… Maar ook hierdie siening moet ons afwys. Dit is te duidelik dat die beskrywing van die Kneg in hierdie profesieë nie dui op ‘n persoon in daardie tyd nie, maar op ‘n figuur in die toekoms. Neem daarby nog in ag hoe die skrywers van die Nuwe Testament, en in besonder die evangeliste, hierdie Kneg-profesieë gebruik en toepas, en dan het ons geen ander keuse nie as om te sê dat Jesaja hier oor die Messias as die Kneg van die HERE profeteer. En ons teks vir vandag bewys dit – hierdie gedeelte in Jesaja 42 word immers deur Mattheus in hoofstuk 12 van sy evangelie direk op Jesus Christus toegepas. Dus, broers en susters, die Gees stel Jesaja in staat om, ongeveer sewehonderd jaar vantevore, al die buitelyne te sien van die komende Messias, die komende Kneg van die HERE.  

In vers 1 van ons teks word hierdie Kneg van die HERE deur God vir die eerste keer aan die luisteraars en lesers van Jesaja se profesie voorgestel en vir sy taak aangestel. Ons sien hoe God in vers 1 as’t ware met sy eie vinger na sy Kneg wys: “Dáár is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het.” Ons sien in hierdie beskrywing die innige band wat daar tussen die HERE en sy Kneg bestaan; kyk maar net na die intieme taal wat God gebruik: “wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het.” Hierdie band tussen God en sy Kneg is so innig dat Hy vervolgens sê dat Hy selfs van sy Gees op sy Kneg gelê het. Hierdeur gee God aan sy Kneg die krag en die wysheid vir die taak wat Hy moet gaan uitvoer.

Gemeente, waar vind ons die vervulling van hierdie beskrywing? Miskien het u dit al herken… Ja, by die doop van Jesus Christus in die Jordaan; daar word Hy, terwyl die Gees soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom, openlik deur God voorgestel en aangestel vir sy taak: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het” (Matt. 3:16-17). In Jesus Christus vind Jesaja se profesie dus sy vervulling. Christus het uit die hemel neergedaal; as God en Heer het Hy Knég van die HERE geword, Hy het mens geword om ‘n baie spesifieke taak te kom uitvoer.  

In die laaste woorde van vers 1 vind ons wat hierdie taak van die Kneg presies is: “Hy sal die reg na die nasies uitbring.” Dít is dus sy opdrag. ‘Die reg’ verwys hier na God se reg, sy heilsame orde, vir hierdie wêreld. Die wêreld en die mensdom, wat aanvanklik gemaak is om aan God se reg te voldoen, het vanweë die rebellie in die paradys hulle eie, verdraaide reg gekies. God se reg, wat berus op ware kennis van Hom, is verdryf en ‘n verkeerde reg het in hierdie wêreld sy ingang gemaak. Dit is nie nodig om ver te soek om die hartseer realiteit van hierdie verkeerde en verdraaide reg in die wêreld raak te sien nie.

Maar, broers en susters, God beywer Hom daarvoor om sy reg, wat ware vrede op aarde bring, weer onder die mense te laat terugkeer en te laat heers. En om dit te verwesenlik stuur Hy sy Kneg: Hy moet die reg na die nasies uitbring. Dit is die rede waarom God mens geword het. En daarom dat die engele in daardie wonderlike nag in Betlehem kan sing: vrede op aarde. Want wanneer Christus, die Regverdige, in sy Knegsgestalte op aarde kom, dan sien die engele daarmee saam ook die vrede op aarde terugkeer.  

Gemeente, vir die volk Israel, wat in Jesaja se dae ballingskap in die gesig gestaar het, moes dit ‘n groot troos gewees het. Hulle het al begin wonder of die reg van die Here nog bestaan. Kyk maar na hoofstuk 40:27: Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby?” Maar in reaksie daarop roep die Here dan in hoofstuk 41:1 al die volke en nasies saam: “… laat hulle aankom, laat hulle dan spreek; laat ons saam na die gereg gaan.” En ook in hoofstuk 41:21: “Bring julle regsaak voor, sê die HERE…” Die Here wil vir almal wys dat reg die heersende reg op aarde is, en nie dié van die vorste van die aarde met hulle gode nie. En as duidelike bewys hiervan, voorspel die Here in hoofstuk 41 die koms van Kores. As wêreldheerser word Kores ‘n instrument in God se hand om sy volk uit ballingskap te laat terugkeer. God heers! Hy bepaal wanneer sy volk in ballingskap gaan, Hy bepaal hoe lank hulle daar sal bly, Hy bepaal deur wie hulle sal terugkeer. Sy reg is die heersende reg!

En in sy Kneg, Jesus Christus, sal God sorg dat daardie reg na alles nasies uitgedra word. Daarvoor het Jesus Christus gekom, daarvoor het Hy mens geword. Om die reg van die ewige God, Skepper van die eindes van die aarde – kyk maar na hoofstuk 40:28 – om daardie reg na alle volke, nasies en tale te bring. Maar, gemeente, hoe doen Hy dit? Wel, dit is waarop ons nou verder vanoggend wil let. Ek verkondig aan u die evangelie van die Kneg onder die tema:

Tema: die merkwaardige werkwyse van die Kneg van die Here!

  1. Sy onopvallendheid (v. 2)

  2. Sy nederigheid (v. 3)

  3. Sy betroubaarheid (v. 4)

1. Die Kneg het dus die opdrag om God se reg, sy heilsame orde vir die wêreld, na die nasies te bring. Dan sou ‘n mens verwag dat Hy dit, vanweë die verwagte teenstand van die sondige wêreld, met groot krag en geweld sal moet doen. Amper op die manier van ‘n heilige oorlog soos wat die volk in die Ou Testament geken het, en soos wat ons dit sien in die middeleeuse kruistogte, en soos wat ons dit vandag nog teëkom onder die Islam. In al hierdie gevalle was en is daar ‘n poging om die reg met geweld na die nasies te bring. Maar die werkwyse van die Kneg van die HERE om die reg van God na die nasies te bring, staan in skrille kontras tot geweld en brute krag. Kyk maar na verse 2 en 3 van ons teks: “Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie.” Is dit nie ‘n merkwaardige werkwyse nie? Wel, kom ons kyk na die Kneg, Jesus Christus, en die manier waarop Hy te werk gegaan het om te sien of dit inderdaad die geval was… 

In Mattheus 12 sien hoe die Fariseërs met ‘n sistematiese aksie teen Jesus begin. In verse 1-8, wat ons nie gelees het nie, word Jesus deur die Fariseërs gewaarsku omdat sy dissipels are op die sabbat gepluk het, iets wat skynbaar nie geoorloof was nie. In vers 9 kom Jesus, nog steeds op die sabbat, in die sinagoge. Die Fariseërs is ook weer daar, hulle soek bewysmateriaal teen Hom. En daarom vra hulle Hom: “Is dit geoorloof om op die sabbat gesond te maak?” Hierdie sistematiese aksie teen die Here Jesus loop uiteindelik in vers 14 daarop uit dat die Fariseërs in hulle vergadering besluit om Hom dood te maak.

Die Fariseërs se planne bly vir die Here Jesus egter nie verborge nie. Hy is immers Here, ook van die sabbat, en daarom weet Hy wat sy teenstanders in die geheim besluit het. Sy reaksie hierop is egter onverwags. Sopas het Hy nog sy goddelike mag aan die mense vertoon deur die man met die verdorde hand te genees, maar nou wil dit voorkom asof daar iets van menslike swakheid in Jesus se mondering na vore kom: Hy gaan daarvandaan weg, Hy wyk voor sy vervolgers. Hoe dan nou? 

Maar, gemeente, laat ons goed raaksien dat Jesus se weggaan allermins ‘n poging is om Homself te verberg; Hy kruip nie weg nie. Inteendeel, sy weggaan is ‘n openbare daad, sodanig dat groot menigtes kan sien waarheen Hy gaan, en Hom volg. En hoewel Jesus weggaan, gaan Hy nog steeds eenvoudig voort met sy werk; ons lees aan die einde van vers 15: “… en Hy het hulle almal gesond gemaak”. Sy vervolgers is dus nie in staat om Hom in sy taak te stuit nie. Deur die week, maar ook op die sabbat, word God se reg uitgedra. Jesus se weggaan is dus nie ‘n teken van swakheid nie.

Maar, broers en susters, daardeur word hierdie optrede des te opmerkliker: uit alles blyk immers dat Hy magtig is, maar Hy ontwyk sy vyande asof Hy ‘n magtelose is. En deur sy opdrag aan die skare in vers 16 om Hom nie bekend te maak nie, word dit nóg vreemder: enersyds maak Hy sy mag alom bekend – immers, Hy het hulle álmal gesond gemaak – maar andersyds verbied Hy die skare om Hom bekend te maak. Dit moes ‘n raaisel vir almal om Hom heen gewees het: sy mag word bekend, maar dit wil voorkom asof Hy die bekendheid vrees. Hy het die mag van ‘n leeu, maar Hy gedra Homself soos ‘n verskrikte bokkie… 

Nou, gemeente, by hierdie raaiselagtige gedrag van die Here Jesus gee Mattheus vervolgens toeligting vanuit die profesie van Jesaja 42. Mattheus reageer op die merkwaardige optrede van die Here Jesus in vers 15 en 16 deur in vers 17 te sê: “sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur Jesaja, die profeet…” – en dan volg ons hele teks – Jesaja 42:1-4 – soms letterlik vertaal uit die Hebreeus, ander kere effens meer vry.

En wanneer ons Jesus se optrede teen die agtergrond van hierdie profesie lees, dan sien ons dat die terugtrekkende beweging van die magtige Christus nie so vreemd is nie. Ver voor sy koms is dit al voorspel: Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie (Matt. 12:19). Die werkwoord ‘twis’ suggereer dat daar teenkanting is. Ook die noodsaak om op die strate te moet uitroep, jou stem téén ander te moet verhef, wys in dieselfde rigting. Maar op hierdie teenkanting en verset word egter nie met getwis en geskreeu gereageer nie. Die Here Jesus reageer nie met geweld op diegene wat sopas besluit het om Hom dood te maak nie. Vir Hom geld nie dat aanval die beste manier van verdediging is nie. Inteendeel, die Kneg van die HERE maak plek vir wie Hom wil aanval, vir wie Hom wil teëspreek. Hy sal Hom láát teëspreek. Die werkwyse van die Kneg van die HERE word gekenmerk deur onopvallendheid. Hy toon Homself bereid om te ly en ten onder te gaan, en dít ter wille van sondaars wat met God versoen moet word.  

Gemeente, hier sien ons ‘n eerste kenmerk van die werkwyse van die Kneg: sy onopvallendheid. Hy reageer nie in die openbaar met geweld op die teenkanting van sy vyande nie. Hy gaan weg, en sit sy werk eenvoudig op ‘n ander plek voort. As Almagtige het Hy nie nodig om in konfrontasie sy mag te toon nie. Sy mag lê nie soseer in die antitese, in die konfrontasie nie, maar in die verkondiging van die blye evangelie met die gepaardgaande herstel van die lewe. En as Kneg was dit ook nie sy taak nie; sy weg was immers van die begin af bepaal as weg van onopvallendheid, teruggetrokkenheid, bereidheid tot lyding.

En, gemeente, sy opdrag in vers 16 wys duidelik dat Hy dieselfde van die skare verwag. Hulle het nie nodig om Hom bekend te maak nie, hulle het nie nodig om met leiers van die volk te gaan twis of hulle stemme te gaan verhef ter wille van Hom nie. Sy krag lê in sy boodskap! En wanneer Jesus ná sy oorwinning aan sy dissipels die sendingsopdrag gee (Matt. 28), dan geld dít nog steeds. Om dissipels van alle nasies te maak, vra nie krag en geweld nie, maar dit vra ‘n Gees van onopvallendheid. Die dissipels – en ons vandag – hoef nie raakgesien te word nie, solank die evangelie maar gehoor word!

Ons let vervolgens op sy nederigheid. 

2. “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie” – só vervolg Jesaja in vers 3 van ons teks. Mattheus haal dit byna letterlik aan. Wat moet ons hierby verstaan? Of miskien moet ons eers vra: wat is die betekenis van hierdie woorde binne Jesaja se profesie? Wel, die meeste is van mening dat hierdie vers dui op ‘n situasie van uitsigloosheid: die geknakte riet het nie meer werklik ‘n funksie nie, en by gebrek aan olie kan die lamppit nog maar net walm. Die Kneg van die HERE sal egter hierdie waardelose riet en nuttelose olielamp nie weggooi nie, maar dit spaar. Só sal die Here sy volk in ballingskap spaar. En in die konteks waarin Mattheus hierdie woorde gebruik, sou dit dan betrekking hê op Jesus se ontferming oor die swakkes en die siekes in Israel, wat Hy sopas genees het. Maar is dit werklik wat hier bedoel word?

Kom ons kyk eers na die funksie van die riet en die lamppit… Die riet is bedoel as ‘n soort kierie, dit dien om op te leun. Maar wanneer die riet geknak is, dan kan ‘n mens nie meer daarop staatmaak om ondersteuning te ontvang nie. Lees maar wat die Here net hiervoor in Jesaja 36:6 sê: “Kyk, jy vertrou op die geknakte rietstok, op Egipte, wat, as iemand daarop leun, in sy hand ingaan en dit deurboor.” Dit oor die riet. Wat van die lamppit? Wel, die olielamp met die brandende lamppit dien as lig. Wanneer die olie op is, begin die lamppit te walm en gee dit nie meer werklik lig nie. Dit stel teleur. Nou, gemeente, die geknakte riet en die dowwe lamppit is dus beelde vir iets wat jou in die steek laat. Jy het gedink dat jy daarop kan staatmaak, maar dit stel jou teleur. Dán gooi ons dit maar weg… Maar, die reaksie van die Kneg van die HERE is anders: dié wat Hom in die steek laat, sal Hy nie verbreek en nie uitblus nie. 

As ons nou terugkeer na Mattheus 12 sien ons dat dít inderdaad die situasie was waarin Jesus verkeer het. Diegene waarop Hy as Messias eintlik sou moes kon staatmaak, waarop Hy eintlik sou moes kon leun, naamlik die geestelike leiers van Israel, hulle stel teleur. As geestelike leiers van God se volk sou hulle eintlik sy geesverwante moes gewees het, maar in werklikheid is hulle soos ‘n geknakte riet wat Jesus tot struikeling wil bring. En hierdie geestelike leiers, wat eintlik vir die volk ‘n lig moes gewees het, wat eintlik Jesus as die Messias in die lig moes geplaas het, hulle is soos ‘n lamppit sonder olie – hulle walm, maar is nie in staat om te verlig nie. Hulle maak Jesus eerder swart en verduister sy optrede in Israel.

En, gemeente, Jesus weet dit. En tog verbreek Hy hulle nie, tog doof Hy hulle nie uit nie. Hy laat húlle, wat besig is om sy dood te beplan, begaan. Hy laat toe dat hulle Hom in die steek laat, Hy láát Homself swart smeer. Hy wreek Homself nie, maar aanvaar hierdie weg. Dít is die weg van nederigheid, van vernedering, wat die Here Jesus moet gaan, en ook bereid is om te gaan. Want dit is langs hierdie weg dat God se reg vir alle volke bewerk word. Dít is die raaiselagtige weg van die Koninkryk, God se Koninkryk, wat besig om die wêreld te oormeester.  

En, broers en susters, dan is ons as burgers van daardie koninkryk nie hoër as ons Koning nie. As dít sy houding was, moet daar by ons dan nie dieselfde houding sigbaar word nie? Ons het iets soortgelyks alreeds gehoor in die reeks preke oor die bergrede, waar Jesus in Mattheus 5:39-42 ons leer hoe ons moet optree wanneer ons ter wille van die koninkryk moet ly: as iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe; as iemand jou onderkleed wil neem, gee hom ook die bo-kleed. En Paulus verwoord dit soos volg in Filippense 2:5: “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword…” Die Messias wreek Hom nie op sy vyande nie, maar laat hulle begaan ter wille van die evangelie, ter wille van God se reg aan alle nasies. Hy wat God is, verneder Homself, ter wille van die blye boodskap aan sondaars. Wie sal nie in kleinheid neerbuig voor Hom wat só ‘n groot daad verrig het nie?

Ons let nou nog op die betroubaarheid van die Kneg. 

3. Ten slotte sê Jesaja nog in ons teks: “Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie.” Ons sien hier in vers 4 presies dieselfde woorde as in die vorige vers: ‘dof brand’ en ‘geknak word’. Hier word dus ‘n doelbewuste kontras geskets tussen die geknakte riet en dowwe lamppit van vers 3 en die Kneg van vers 4. Wat van die geknakte riet en die dowwe lamppit gesê kan word, naamlik dat hulle nie deug nie, dat hulle teleur stel en in die steek laat, dit kan nie van die Kneg gesê word nie. Van Jesus sal nie geld wat van die geestelike leiers van sy dae gegeld het nie. Hy sal ‘n mens nie teleur stel en in die steek laat nie. Nee, ondersteun deur die Here – kyk maar na vers 1 – sal Hy voortgaan met sy werk en sal Hy sy taak klaarmaak, sy taak om die reg na die nasies uit te bring. Hoewel Hy dit onopvallend en met nederigheid doen – sonder ophef, sonder geweld – kan ons nogtans op Hom staatmaak, is Hy nogtans uiters betroubaar. Ons kan verseker wees dat Hy nie sy taak sal versuim nie; of soos dit in die laaste sin van vers 3 verwoord word: “met getrouheid sal Hy die reg uitbring.”  

Ja, gemeente, ons mag seker weet dat Jesus Christus, in onopvallendheid en nederigheid, weer God se reg op aarde gevestig het. Deur Christus se werk is God se reg, sy heilsame orde, weer ‘n permanente feit hier op aarde. Deur sy werk het God se reg deurgebreek, en sal dit ons lei na die nuwe en hemelse koninkryk. En daarom wag die eilande op sy woord. Die eilande dui hier op die eindes van die aarde, die heidendom dus. Mattheus verwoord dit soos volg: “En op sy Naam sal die heidene hoop.” Inderdaad, die hoop van die wêreld rus op die skouers van die Kneg van die Here. Hy het miskenning en teleurstelling aanvaar ter wille van die reg van God. Daarom was Hy geskik om God se reg, sy verlossing, met sukses hier op aarde te laat deurbreek. Die verskrikte bokkie van Israel is die oorwinnende leeu vir die nasies. Deur Hom is daar reg, deur Hom is daar geregtigheid, ‘n nuwe lewe met God, vir elkeen wat op sy Naam hoop.  

Gemeente, ons lewe in ‘n wêreld waar uiterlike mag- en kragvertoon van groot waarde geag word. Dit is in hierdie wêreld belangrik om te wys dat jy kán, dit is belangrik om te kan bewys dat jy saamtel. In só ‘n wêreld is die werkwyse van die Kneg, om die minste te sê, merkwaardig. Hy was alles behalwe wat die wêreld as eis stel. In die oë van die wêreld was Hy die swakkeling, die veragte. En Hy het dit alles oor Hom heen laat kom; Hy het nie daarteen gerebelleer nie, Hy het nie daarteen in opstand gekom nie, Hy het geen rewolusie teen die heersende orde aangewakker nie. Maar, broers en susters, wees verseker, dat Hy alles was en is wat die wêreld nooit sal kan wees – ‘n Redder, ‘n Heiland, vir wie in Hom glo.

En só is Hy ons voorbeeld van diensbaarheid. Onopvallende en nederige diens – dit is wat Hy van ons vra. Die dienskneg is immers nie groter as sy heer nie, en die gesant nie groter as die een wat hom gestuur het nie. Só leer Jesus sy dissipels in Johannes 13, nadat Hy hulle voete gewas het. En dan vervolg Hy: “As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.” Gelukkig is elkeen wat gaan in die voetspore van sy Meester, ‘n onopvallende en nederige, maar tog uiters betroubare Meester.

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 133
Wetslesing (en by 2de gebod HK, v/a 96 en 98)
Sing Ps. 97:1 en 4
Gebed
Lees:  Jesaja 41:21-42:7
      Mattheus 12:9-21
Sing Skr. 22:1, 2, 5 en 10
Teks: Jesaja 42:1-4
Preek
Amenlied Ps. 82
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 8:1 en 2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)