Beveg die sekularisasie deur die volle verdienste van Christus aan te gryp!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-08-05
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 32
Verwysing: 
HK 32-0
Preek Inhoud: 

Sondag 32

Ds HH van Alten - Sondag 5 Augustus 2007   

Lees: 2 Petrus 1:1-11
Teks: HK Sondag 32
Sing: Sien liturgie

Tema: beveg die sekularisasie deur die volle verdienste van Christus aan te gryp!

  1. Alles wat tot die lewe én godsvrug dien
  2. Maak julle roeping en verkiesing vas
  3. Wen die ander vir Christus

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons lewe in ‘n gesekulariseerde wêreld, ‘n wêreld wat God en sy gebod doelbewus uit die daaglikse lewe verban. Ons sien om ons heen hoe mense daarvoor kies om hulle eie wette te maak, en hulle lewens in te rig volgens hulle eie reëls. Ja, ons sien dit om ons heen… Maar wat van onsself? Is ons nog heilig, of is ons ook al gesekulariseerd? Waarin onderskei ons onsself nog van die gesekulariseerde omgewing waarbinne die Here ons geplaas het, of het die onderskeid al verdwyn? Waarin is ons jeug anders as dié van die wêreld, of het hierdie vraag sy relevansie verloor omdat ons nie meer weet dat daar ‘n onderskeid behoort te wees nie? 

Vrae waarop ons helaas dikwels negatiewe antwoorde sal moet gee… 

Petrus worstel in sy tweede brief met soortgelyke vrae. Hy skryf sy brief aan eks-heidene. En hy sien dat daar van die heidendom steeds ‘n sterk verleiding op sy lesers uitgaan. Dit wil voorkom asof ‘n kombinasie tussen die christelike geloof en ‘n heidense lewe vir baie van sy lesers die beste opsie geword het, en daarby ook ‘n opsie wat deur slinkse dwaalleraars in en om die gemeente aangewakker word. Onder ‘n christelike vernislagie propageer hierdie dwaalleraars vryheid, ‘n plesierige lewe en volledige selfbeskikking.

Maar Petrus besef dat hierdie besmetlike virus uitermate skadelik is vir die geestelike gesondheid. En om besmetting te voorkom wys hy daarom in sy brief op die gevare van so ‘n gesekulariseerde moraal. Hy wil sy lesers as’t ware tydig en voldoende inent teen die lewensgevaarlike virus van die sekularisasie. Broers en susters, is daar by ons nog tyd vir inenting? Of is ons alreeds besmet met die sekularisasie-virus? Kom ons ontvang vanaand die kuur van die woord soos dit na ons toe kom in Sondag 32 van die Kategismus.

Tema: beveg die sekularisasie deur die volle verdienste van Christus aan te gryp!

  1. Alles wat tot die lewe én godsvrug dien

  2. Maak julle roeping en verkiesing vas

  3. Wen die ander vir Christus

1. Waarom moet ons nog goeie werke doen? – dit is in kort die vraag waarmee die derde deel van die Kategismus, die deel oor die dankbaarheid, begin. Baie strategies plaas die opstellers van die Kategismus hierdie vraag op die draaipunt tussen die deel oor die verlossing en die deel oor die dankbaarheid. En gesien die destydse stryd met die Rooms-Katolieke kerk is dit heeltemal verstaanbaar dat hierdie vraag juis op hierdie plek geplaas word. Rome het immers die goeie werke tot die deel oor die verlossing gereken; goeie werke is in Rome die méns se bydrae tot die saligheid.

Die opstellers van die Kategismus maak hier – teenoor Rome – egter ‘n baie duidelike keuse en onderskeid, ‘n keuse en onderskeid wat in ons psalmboekies aangedui word met die woorde in hoofletters net bo Sondag 32: “DIE DERDE DEEL: DIE DANKBAARHEID WAT ONS AAN GOD VIR DIE VERLOSSING VERSKULDIG IS. Die Kategismus maak dus baie seker dat ons besef dat die goeie werke nie by die deel oor die verlossing tuishoort nie; goeie werke is geen bydrae tót die verlossing nie, maar eerder reaksie óp die verlossing, dit is ons antwoord op God se woord van redding. Die goeie werke hoort tuis by die derde deel van die Kategismus, nie by die tweede deel nie! 

Maar, gemeente, só maklik word die dankbaarheid by ons tog weer verdienstelikheid. Ja, Christus het ons verlos – dit is sy bydrae, deel 2 van die Kategismus. Maar nou kom óns bydrae – die dankbaarheid, deel 3 van die Kategismus. Nou kan ek deur my goeie werke wys dat ek tog werd is om die verlossing te ontvang. ‘n Onbewustelike, maar wesenlike gevaar! Maar dan is dit pragtig om te sien hoe die Kategismus hierdie gedagte onmiddellik, reg aan die begin van die deel oor die dankbaarheid alreeds, in die kiem smoor. Kom ons lees weer ‘n slag v/a 86 deeglik deur…

“Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?” Terloops, eintlik sluit hierdie vraag alreeds enige gedagte van ‘n bydrae van ons kant af uit. Tot drie keer toe in vraag 86 word ons gekeer om te dink dat ons ook iets kan doen. Kyk maar: “sonder enige verdienste van ons kant, alleen uit genade, deur Christus uit ons ellende verlos...” Hoeveel duideliker wil jy dit hê?  

Maar goed, kom ons lees ook nog die eerste deel van die antwoord daarby: Hoekom moet ons nog goeie werke doen? “Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys word.” Gemeente, het u mooi gelees hoe dit daar staan? Kyk weer na hierdie eerste deel van die antwoord… Wat is die hoofsin in hierdie antwoord? Is die hoofsin: “sodat ons met ons hele lewe bewys dat ons God dankbaar is vir sy weldade…”? Nee, gemeente, kyk mooi; die hoofsin is: “Omdat Christus ons ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe…” Dus, hoekom moet ons nog goeie werke doen? Omdat ek daardeur uit dankbaarheid my deel bydra? Nee, inteendeel, omdat Christus ook hierdie deel bygedra het! Omdat ook my goeie werke Christus se verdienste is, omdat my goeie werke deel is van sy totale pakket van verlossing – nadat Hy my gekoop het, vernuwe Hy my ook!

Broers en susters, Petrus probeer juis ook dit by sy lesers tuisbring in 2 Petrus 1:3. Ons lees daar: “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien…” ‘Sy goddelike krag’ – dit is die krag waarmee Christus in sy godheid die verlossing vir ons bewerk het. Deur sy goddelike werk aan die kruis het ons alles ontvang wat tot die lewe én die godsvrug dien – ‘lewe’ dui hier op die herstelde verhouding met God, terwyl ‘godsvrug’ dui op die nuwe lewenswandel voor God se aangesig. Christus se werk aan die kruis bewerk dus sowel die nuwe lewe met God as die nuwe lewenswandel voor God, sowel die regverdiging as die heiliging. Ons totale verlossing – ook die goeie werke – is die verdienste van Jesus Christus.

So wys Petrus dus op die onhoudbaarheid daarvan wanneer sy lesers die christelike geloof wil kombineer met ‘n heidense lewenswandel. Die lewenswandel, die heiliging, die goeie werke – dit staan nie los van Christus nie. Ook dít het Hy verdien.  

En, gemeente, daarom kan Petrus sy gelowige lesers vervolgens ook aanmoedig tot ‘n heilige lewenswandel. Hy moedig hulle nie aan tot selfwerksaamheid nie, hy moedig hulle nie aan om by Christus se verdienste nou hulle eie deeltjie te voeg nie; nee, hy moedig hulle aan om in die skatkis van Christus se verdienste te gaan delf. Lees maar vers 5 en verder: “En daarom ook moet julle … by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.”

Agt kwaliteite word hier deur Petrus aanmekaar geryg soos die skakels van ‘n ketting. En hy roep sy lesers op om by die geloof al hierdie kwaliteite, al hierdie goeie werke te voeg. Die woordjie wat hier met ‘byvoeg’ vertaal is, beteken letterlik ‘verryk’. Verryk dus jouself met al hierdie goeie werke! Verryk jouself met hierdie ketting, hierdie halssnoer, van Christus se verdienste! Broers en susters, wie in Jesus Christus glo, wie deur Jesus Christus weer in die regte verhouding tot God geplaas is, hy mag homself vervolgens ook verryk met Christus se ander verdienstes. Ontvlug daarom die verdorwenheid wat deur begeerlikheid in die wêreld is – soos Petrus in vers 4 sê – ontvlug die sekularisasie en verryk jouself met die goeie werke wat Christus vir elke gelowige verdien het. Só wapen jy jouself teen die virus van die sekularisasie, só sorg jy dat jy te midde van ‘n krom en verdraaide geslag rein en heilig bly.  

Gemeente, wie in Jesus Christus glo, mag ook dít wat Hy aan heiliging en goeie werke verdien het, aanneem en sy eie maak. En as hierdie goeie werke in iemand se lewe ontbreek? Kan ons dan sê: dit goed gaan met daardie persoon se geloof, maar hy kom nog effens kort in die uitlewing daarvan? Nee, wanneer die goeie werke ontbreek, dan moet eerder die vraag gestel word: hoe gaan dit in jou verhouding met Jesus Christus? Het jy Hom met ál sy verdienste in geloof omhels? Het jy Hom werklik lief? Of het jou lewe ‘n christelike vernislagie gekry wat ondermyn word deur ‘n heidense lewenswandel? Gemeente, ons kan daarom nie sê dat ons in Jesus Christus glo, maar intussen neem ons die voortou in die dinge van die wêreld nie! Ons kan nie sê dat ons christene is as ons christenskap eintlik maar ‘n dun lagie vernis is, wat daaronder ‘n lewe van ongeregtigheid en onheiligheid verberg nie! Wie Jesus Christus aanvaar, doen dit vir 100%! Dan ontvang jy, deur die geloof, alles wat Hy verdien het – regverdiging én heiliging, lewe én godsvrug. En dan kan dit nie anders nie as dat in jou lewe die dankbaarheid sigbaar word vir God se weldade, dan kan dit nie anders nie as dat God deur ons lewenswandel geprys word. Glo daarom in Jesus Christus en wees ‘n christen, in woord en wandel…

Vervolgens: maak julle roeping en verkiesing vas. 

2. Petrus betoog nou verder in verse 8 dat as jy jouself versier met die ketting van goeie werke wat Christus verdien het, dan het dit ‘n baie belangrike effek. Ons lees in vers 8: “Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie…” Hierdie goeie werke, hierdie kwaliteite, wat Petrus in verse 5-7 opgenoem het, bring dus geloofsgroei, dit lei tot ‘n verdieping in kennis van en liefde vir Jesus Christus. Hoe meer hierdie kwaliteite in jou lewe aanwesig is – nie as jou eie verdienste nie, maar as die verdienste van Christus – hoe aktiewer en oorvloediger word jou verhouding met jou Heiland, hoe beter leer jy Hom ken, hoe nader kom jy aan Hom.  

Daardie persoon, by wie hierdie kwaliteite egter ontbreek, se geloof gaan stadig maar seker agteruit. So ‘n persoon begin dan ernstige simptome van die sekularisasie-virus vertoon. Kyk maar wat sê Petrus in vers 9: “… want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.” So ‘n persoon begin dus aan geestelike blindheid en bysiendheid ly. Hierdie toestand slaan veral toe wanneer mense hulleself kortsigtig blindstaar op die hier en die nou, op die dinge van hierdie wêreld, op die genietinge van die sonde. Sulke mense verloor die groter doel waarvoor God ons gemaak het, uit die oog; hulle raak vasgevang deur dít wat hier voor oë is, en sien nie meer dat ons oppad is na ‘n nuwe hemel en aarde nie. Helaas is die prognose vir sulke ooglyers maar somber. Hulle sig op die toekomstige heerlikheid raak al hoe wasiger en dit kan uiteindelik heeltemal verdwyn. Hulle vergeet selfs dat God hulle van hul vorige sondes gereinig het.

En, gemeente, ons sien hierdie siekte om ons heen. Ons sien hoe mense, wat al meer deel word van die wêreld en die dinge van die wêreld, stadig maar seker weggly. Ons sien hoe mense, wat hulleself nie, of nie meer, versier met die goeie werke wat Christus verdien het nie, geleidelik begin agteruitgaan in die geloof. Hulle kerkgang gaan agteruit, hulle persoonlike bybelstudie en gebed word verwaarloos, en uiteindelik breek die sekularisasie-virus in al sy krag in hulle lewens los. Ten slotte draai hulle hulself volledig op God.  

En daarom, broers en susters, is Petrus se oproep in vers 10 so dringend: “Daarom, broeders, moet julle julself des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” Wat sou Petrus hiermee bedoel? Ons verkiesing is mos nie iets onsekers wat deur ons vasgemaak moet word nie? Ons kan mos nie iets bydra aan ons ewige saligheid nie? Ons kan mos nie ons naam dieper in God se boek skryf as wat Jesus Christus dit alreeds met sy bloed geskryf het nie? Nee, gemeente, dit gaan hier ook nie daaroor dat ons ons roeping en verkiesing voor Gód hoef vas te maak nie. Hy het nie nodig om van ons roeping en verkiesing oortuig te word nie; immers, Hy is dan self die roepende en verkiesende God. Maar dit gaan daaroor dat, wanneer ons onsself versier met die ketting van goeie werke wat Christus verdien het, dus, wanneer die goeie werke in ons lewens sigbaar word, ons ons roeping en verkiesing vir onssélf vas en seker maak. Wanneer ons die goeie werke in ons lewens raaksien, dan kry ons sélf daardeur sekerheid van ons ewige heil! Soos wat die Kategismus in die tweede deel van antwoord 86 sê: “Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry.” 

Maar… word ons sekerheid dan bepaal deur ons werke? Is dit nie ‘n baie onseker sekerheid nie? Nee, gemeente, want die werke wat jy in jou lewe raaksien is immers nie jou werke nie, maar die werke wat Christus in jou plek verdien het. Wanneer jy deur die krag van die Gees hierdie werke begin uitvoer, en dít in jou lewe opmerk, dan mag jy dus seker wees dat Christus in jou lewe aanwesig en werksaam is.

Wie in sy lewe van God afdwaal en homself al hoe meer besig hou met die dinge van hierdie wêreld, wie se aandag opgeëis word deur die mag van die geld en van sy werk, die plesier van allerhande uitspattighede, die aantrekkingskrag van sport en uiterlike dinge, sy geloof sal agteruitgaan, en daarmee saam sal die vastheid van sy roeping en verkiesing ook onseker raak. Wel, miskien maak dit vir so ‘n persoon ook nie meer saak nie… Maar wanneer ek in die veilige omgewing van my God bly en myself versier met die vrugte van die geloof, dan word ek al hoe meer verseker dat ek ‘n kind van God is, en dat my bestemming die hemelse paradys is. Ek kan dit dan sien! Gemeente, hoe meer ek die vrugte van die geloof voortbring, hoe meer ek die verdienste van Christus in my lewe vertoon, hoe vaster word my weg en hoe sterker my geloof. Want deur goeie werke te doen, raak ek hoe langer hoe meer ontslae van myself, my eie sondige self, en sien ek al hoe meer Christus in my.  

En daarom, gemeente, deur die geloof in Christus kan ek vrugte van dankbaarheid voortbring. Ja, dan bly dit vrugte met gebreke. U weet uit eie ervaring dat selfs die beste goeie werke in ons lewens nog met sondes besmet is. Maar hierdie feit maak ons nie onseker nie. Want ek sien deur die gebreke heen dat Christus in my werksaam is. Ek sien die stryd in my, die stryd waarvan Paulus praat in Romeine 7: “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.” En natuurlik, dit maak ‘n mens skaam wanneer jy nog steeds doen wat jy nie wil doen nie en nog steeds nalaat wat jy wil doen, maar ons mag weet dat die feit dat ek die goeie wil en die slegte nie wil nie – dit is alreeds ‘n bewys van Christus se werk in my.

Dit is ‘n wonder as ek die goeie wil doen, dit is ‘n wonder as ek die slegte nie wil doen nie. Die goddelose het verseker nie daardie begeerte nie; inteendeel, die goddelose verhard homself eerder in die kwaad, soos wat v/a 87 duidelik maak. Hy kan daarom ook nie salig word nie. Maar ek, ek mag Christus se werk in my lewe raaksien, ook al is dit nog maar net die begin daarvan. En as ek dit in my lewe raaksien, dan bid ek: Here, volbring u werke in my lewe, moenie laat vaar wat U hand begin het om te doen nie. Laat die goeie wil ook werklik lei tot goeie werke. Goeie werke wat u wil beloon in die dag van die oordeel.

Ten slotte: wen die ander vir Christus. 

3. Die Kategismus sluit antwoord 86 nog af met die woorde: “en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen.” ‘n Laaste aspek dus, wat daarom nog nie onbelangrik is nie. Christus wil deur ons goeie werke, ons godvresende lewe, ook ons naaste se aandag trek. Hy wil hê dat die mense om ons heen ons lewenswandel sal raaksien. En dit is natuurlik slegs moontlik wanneer ons lewenswandel anders is as dié van die wêreld, as ons lewenswandel opvallend is in sy andersheid. En, gemeente, dit is nie maklik nie; ons leef naamlik in ‘n massakultuur, ‘n kultuur waarin die oorgrote meerderheid van mense onopvallend wegraak in die monotone massa. En die druk is geweldig groot om eenvoudig deel van hierdie massa te wees, die verleiding is baie groot om nie meer moeite te doen om jouself, in Christus, van die massa te onderskei nie. Maar Christus vra van ons om onsself met sy verdienste te versier, en dit vervolgens sodanig uit te leef dat mense kan sien dat ons anders is. Mense moet in ons iets raaksien wat in hulle die begeerte laat ontstaan om ook die krag van hierdie geheim te ontdek. Ons moet, deur ons godvresende lewe, mense jaloers en begerig maak na die geheim van die geloof in Jesus Christus.  

En die uiteindelike doel daarvan? Dat ons naaste vir Christus gewen word. Die doel is dus nie ons nie; ja, ons is wel die middel, maar Christus is die doel. Ons is naamlik nogal geneig om onsself as doel te stel. Ons wil nie uitstaan in die massa nie, ons wil nie graag raakgesien word in ons andersheid nie. En gevolglik laat ons die gehoorsaamheid en goeie werke na; ons verkies dikwels om maar eenvoudig te maak soos wat almal maak. Maar gemeente, soos in die gelykenis van die talente is dit nie ons taak om onsself te verryk nie, maar is dit ons taak om Christus ryk te maak. Dit gaan daaroor dat Hy meer en meer onderdane kry, dat sy lof uit meer en meer stemme klink. En daarom mag ons nie, ter wille van eie eer en aansien, die werke wat Christus ons opgedra het om te doen, los nie. Nee, elkeen persoonlik kry ons die roeping om deur ons lewenswyse ander vir Hom te wen. Deur ons lewenswyse moet ons opsoek en vind wat verlore is. 

Gemeente, ons mag nie die geloof vernou tot woorde nie. Dit is waarvoor Jakobus ook waarsku in hoofstuk 2 van sy brief. Daar sê hy: “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?” En, vervolg Jakobus, dit is nie genoeg om vir iemand, wat nie klere of kos het nie, te sê: Gaan heen in vrede, word warm word versadig, maar jy gee hom nie wat hy nodig het nie. Dit help mos niks nie! ‘n Geloof sonder werke is dood. Eintlik is ‘geloof sonder werke’ ‘n innerlike teenstrydigheid, dit kan nie bestaan nie. Want ware geloof is altyd werksaam, altyd werksaam in diens van Christus.

En daarom dat artikel 27 van die NGB, nadat eers die kenmerke van die kerk van Christus beskryf is, ook nog ‘n beskrywing gee van die lidmate van die kerk. Ons lees daar: “ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig.” Sien u, die ware christen kan uitgeken word, hy kan raakgesien word.  

Word ons nog raakgesien, broers en susters? Word ons nog uitgeken as christene? Of het ons lewenswyse, ons moraal, al sodanig vervlak dat dit op een lyn staan met dié van die wêreld? Dan leer die Kategismus ons vandag dat dit nie kan en nie mag gebeur nie. Wie opreg in Jesus Christus glo, ontvang daarmee saam ‘n skatkis vol goeie werke waardeur hy van die wêreld onderskei word. Die christen is anders; hy glo anders, en daarom lewe hy anders! Gemeente, laat dit ook so wees. Soek wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van die Vader is. En laat die wêreld dit dan maar vreemd vind dat ons nie saam met hulle loop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en laat hulle dan maar laster – soos wat ons lees in 1 Petrus 4:4. Maar laat ons Christus en sy volle verdienste omhels. Só hou ons die sekularisasie uit ons kerke en uit ons persoonlike lewens. Só hou ons ons lewenswandel skoon onder die heidene en sal ons eer ontvang op die dag van Christus.

Amen.

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Geloofsbelydenis
Gebed
Lees: 2 Petrus 1:1-11
Sing Ps. 1:1 en 2
Teks: HK, Sondag 32
Preek
Amenlied Ps. 116:5, 9 en 10
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 92:2, 5 en 7
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)