Keer terug na God!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-08-12
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 33
Verwysing: 
HK 33-0
Preek Inhoud: 

Sondag 33

Ds HH van Alten - Sondag 12 Augustus 2007

Lees: 1 Samuel 7:2-17
Teks: HK Sondag 33
Sing: Sien liturgie

Tema: Keer terug na God!

  1. Bekering vra die hele hart
  2. Bekering is konkreet
  3. Bekering bring jou terug by die Here en sy seën

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Aan die einde van Sondag 32 word die vraag gestel of dié mense wat hulle nie tot God bekeer nie enigsins salig kan word. Gevolglik bring die opstellers van die Kategismus in Sondag 33 die hele saak van bekering ter sprake. Nou, gemeente, bekering vorm ‘n deel van, wat algemeen bekend staan as, die heilsorde. En dan is dit belangrik dat ons nie heilsorde met heilsgeskiedenis sal verwar nie – onthou maar hierdie twee terme: heilsorde en heilsgeskiedenis. In die heilsgeskiedenis gaan dit oor God se werk deur die loop van die bybelse geskiedenis om, tot heil van sy volk, die Christus gebore te laat word, terwyl dit in die heilsorde gaan oor God se werk in die individuele gelowige. In die heilsgeskiedenis gaan dit oor God se gang deur die geskiedenis, terwyl dit in die heilsorde baie meer gaan oor God se ingang in menselewens. By die heilsorde gaan dit oor hoe u en ek deel kry aan Christus se verdienste; oor God se werkwyse, die stappe wat Hy volg, om die heil in u en my te bewerk… 

Maar, broers en susters, waar pas bekering dan presies in hierdie heilsorde in? Wel, ons kan onsself dit baie eenvoudig soos volg voorstel: God roep ons deur middel van sy Woord – u kan daarvan lees in DL, 1:3, asook 3/4:6. As vrug van hierdie roeping werk God vervolgens deur sy Gees die wedergeboorte in ons. Die Dordtse Leerreëls beskryf die wedergeboorte pragtig in hoofstuk 3/4:11 en 12. Ons lees daar: “Deur die kragtige werking van die Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy … deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is, en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam…. Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking, waarvan die Skrif so heerlik spreek, wat God sonder ons in ons werk." Pragtig!

Maar, gemeente, hierdie wedergeboorte werk God nie in ons asof ons stokke en blokke is nie. Ons is nie dooie klippe wat deur God teen ons sin gedwing moet word nie. Inteendeel, kyk maar wat sê die Dordtse Leerreëls verder: “Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos ‘n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra… Dan word die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God gedryf word, werk dit ook sélf. Daarom word ook tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer.” Sien u, hoewel ons vólle heil deur God bewerk word, doen Hy dit op so ‘n manier dat ons ook sélf werksaam word. Soos wat die profeet Jeremia in hoofstuk 31:18 sê: “Bekeer my, dan sal ek my bekeer…” Nadat God ons dus wederbaar het, nuut gemaak het, kan ek my ook bekeer. Bekering is dus óns Godgegewe antwoord op die roeping van die evangelie, dit is my dankbare antwoord wat God in my werk, elke dag opnuut. Elke keer maar weer keer ons terug na God, en na die heil wat Hy in Christus vir ons bestem het.

Die oproep van die preek van vanaand is:

Tema: Keer terug na God!

  1. Bekering vra die hele hart

  2. Bekering is konkreet

  3. Bekering bring jou terug by die Here en sy seën

1. In 1 Samuel 4-6 vind ons die geskiedenis van die ark van die Here wat in die hande van die Filistyne geval het, maar wat vanweë die rampe wat dit oor die Filistyne gebring het, na Israel teruggestuur word. Die feit dat die ark weer terug is by God se volk, maak die toestande onder die volk egter nie beter nie. Inteendeel, ons lees in 1 Samuel 6:19 dat die Here, toe die ark in Bet-Semes aangekom het, ‘n groot slagting onder die mense van Bet-Semes aangerig het, omdat hulle in nuuskierigheid die ark bekyk het. Ten einde raad word die ark na Kirjat-Jearim gestuur, en meer spesifiek na die huis van Abinadab. Sy seun Eleasar word daar as priester geheilig om die ark van die Here te bewaak.

Die politieke en ekonomiese omstandighede word egter daarna eerder slegter as beter. Die Filistyne doen met Israel net wat hulle wil. Maar dit neem die volk nogtans twintig jaar om te besef dat hierdie omstandighede nie gaan verbeter nie, tensy hulle na die Here terugkeer. Hy is immers die God wat hulle van die Egiptenare verlos het, wat hulle deur die woestyn gelei het, en wat aan hulle die land Kanaan gegee het. En het Hy nie telkens deur rigters die volk van hulle vyande verlos nie? Gevolglik lees ons aan die einde van 1 Samuel 7:2: “… en die hele huis van Israel het agter die Here aan geweeklaag.” Daar kom dus weer ‘n openlike soeke na die Here; die volk besef dat, ondanks die terugkeer van die ark, die Here nog nie gelukkig is met sy volk nie. Die volk wil graag met die Here versoen word. Ons kan aanneem dat Samuel se onderrig, soos wat ons daarvan lees in hoofstuk 3:20 en 4:1, grootliks tot hierdie geleidelike verandering van gesindheid bygedra het.  

Samuel verneem van die geweeklaag van die volk, en hy reageer soos volg daarop: “As julle met jul hele hart julle tot die Here bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astartes onder julle uit, en rig julle hart op die Here en dien Hom alleen…” Baie duidelik uit hierdie woorde van Samuel is dat bekering tot die Here in die hart begin; dáár in die kern van die mens, in sy enjinkamer, dáár soek die Here heel eerste die verandering. Natuurlik moet dit konkreet sigbaar word, maar hier in jou binneste begin die omkeer, terug na God. En wanneer ons die Kategismus se antwoord lees op die vraag wat die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens behels, dan sien ons dat die Kategismus presies dáár begin: die afsterwe van die ou mens is naamlik ‘n ‘hartlike berou’, dit is dat ons die sonde hoe langer hoe meer ‘haat’; en die opstanding van die nuwe mens is ‘n ‘hartlike vreugde’ en ‘‘n lus en liefde’.

Sien u, alles woorde wat die innerlike bewegings van die menslike hart beskryf. Dáár moet ons begin – by elkeen van ons se diepste wese. Immers, wanneer jou kar nie meer wil start nie, dan beteken dit dat die enjin stukkend is. Dan gaan dit jou mos niks in die sak bring om jou kar te was en nuwe bande op te sit nie. Dit gaan mos nie kar aan die gang kry nie? Nee, jy moet by die egte probleem uitkom, by die hart – die enjin. Só begin die daaglikse bekering van die mens ook elke keer maar weer in die hart, die hele hart. Die Here soek waarheid in die binneste! As dít ontbreek, dan behoort iemand se hart nie volkome aan die Here nie, ook al kan daar op sy uiterlike gedrag niks aangemerk word nie.  

En, gemeente, dit is baie opvallend om te sien hoe Samuel, nadat hy die bekering van die hart as eerste eis aan die volk gestel het, dit op twee ander plekke in hierdie hoofstuk beklemtoon en onderstreep: die hele hart vir die Here!

Die eerste keer is in vers 6. Samuel het ‘n volkvergadering te Mispa belê. En hy belê hierdie vergadering sodat hy vir die volk tot die Here kan bid. Ons hoef hier nie te dink dat die hele volk – hoof vir hoof – by hierdie vergadering aanwesig was nie. Waarskynlik was dit slegs afgevaardigdes van die verskillende stamme, maar tog sodanig dat die hele volk verteenwoordig was. En dan sien ons dat, nadat almal bymekaar gekom het, water geskep en dit voor die aangesig van die Here uitgegiet word. Wat sou die betekenis van hierdie simboliese handeling wees? Wel, gemeente, ons kom die betekenis van hierdie handeling waarskynlik die duidelikste op die spoor wanneer ons in Klaagliedere 2:19 lees: “Staan op, skreeu in die nag by die begin van die nagwake, stort jou hart uit soos water voor die aangesig van die Here…” Hierdie simboliese handeling gaan dus oor ‘n onsigbare uitgieting van die gebroke en verslae hart voor die Here. Die water wat uitgegiet word, dien as beeld van die persoon wat deur smart en ellende as’t ware innerlik opgelos word, en homself in diepe ootmoed voor die Here uitstort en van Hom redding uit sy ellende verwag. Met hierdie simboliese handeling lei Samuel die volk om elke keer weer by die hart te begin, en om juis dáár geen geheime te hou nie, maar om alles voor die Here neer te lê.  

Dan is daar nog ‘n tweede geval in hierdie hoofstuk waar Samuel die bekering van die volle hart van die mens beklemtoon. Wanneer naamlik die Filistyne hoor van Israel se volksvergadering, sien hulle daarin ‘n teken van opstand van Israel teen hulle onderdrukkers. Onmiddellik ruk die Filistyne teen Israel op. Gesien hulle onderdrukking onder die Filistyne die laaste twintig jaar en meer was die volk uiteraard bevrees, maar as bewys van hulle nuwe oorgawe aan die Here vra hulle vir Samuel om namens hulle tot God te roep, sodat Hy hulle uit die hand van die Filistyne kan verlos. En interessant genoeg, wat doen Samuel dan voordat hy begin bid? Hy bring eers ‘n suiglam as brandoffer aan die Here. Nou, die brandoffer was dié offer in Israel se offerkultus wat in sy geheel verbrand moes word as teken, as simbool, van totale oorgawe aan die Here. Dus, voordat Samuel tot die Here bid, wys hy as’t ware vir die Here dat die volk namens wie hy nou gaan bid, hulleself in totale oorgawe op God verlaat; hulle hele hart behoort aan Hom. Hulle is bang, ja, maar hulle verwag die verlossing uit die hand van die Here. 

Gemeente, so sien ons dus uit Samuel se hele leiding aan die vergadering van Israel dat bekering begin by totale oorgawe van die hart tot God. God soek nie in die eerste plek uiterlike gedrag nie, maar Hy soek heel eerste dat daar by ons ‘n innerlike verandering plaasvind, só dat my wil en my begeertes en my verlangens in ‘n ander rigting begin beweeg. As sondige mens beweeg my wil en my begeertes en my verlangens, my hele hart, naamlik reguit oppad na die dood. Maar God wil dit radikaal omdraai, sodat my hart Hom soek. Dus, dat ek nie slegs doen wat God wil hê ek moet doen nie, maar dat ek dit ook uit liefde doen, dat dit die lus en die begeerte van my hart is om God te dien.

Gemeente, God deursien dit onmiddellik wanneer mense Hom slegs eer met hulle lippe, terwyl hulle hul harte ver van Hom af hou (Jes. 29:13). Hy verag dit, Hy haat dit wanneer mense maak asof Hy agterlik is deur te dink dat hulle Hom met hulle uiterlike lewenswyse kan oortuig. Laat dit daarom vir ons, almal saam en elkeen afsonderlik, ‘n daaglikse punt wees om onsself met ons hele hart tot die Here te bekeer. Bid God vir ‘n hartlike berou en ‘n hartlike vreugde … in Christus. En presies hier lê dan ook die sleutel tot die hartlike bekering, naamlik ‘in Christus’. Slegs in Christus, slegs in ‘n opregte verhouding met Hom word die bekering van elke dag ‘n hartlike omkeer tot God. Immers, Christus is die Woord, daardie Woord waarvan die Hebreërskrywer in hoofstuk 4:12 sê dat dit lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard is; dit dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en dit is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. Wanneer ons onsself onder hierdie lewende Woord stel, sny Christus deur die uiterlike vertoon, doen Hy chirurgiese ingrepe waar dit werklik saakmaak; en slegs dan word toneelspelers in die geloof van harte bekeer, en slegs dan kan hulle hul ook bekeer.

Maar vervolgens: bekering is ook konkreet! 

2. Uiteraard, broers en susters, moet dit wat in die hart gebeur ook konkreet in die praktyk na vore kom. Soos wat ons lees in antwoord 89: ek haat nie maar net die sonde hoe langer hoe meer nie, maar ek vlug ook aktief daarvan weg. En in antwoord 90: God se wil het nie net my lus en liefde nie, maar ek wil dit vervolgens ook konkreet uitleef in alle goeie werke.

Ons sien dan ook in 1 Samuel 7 dat Samuel nie net bly steek by die hart nie; dit is waar hy begin, maar vervolgens eis hy ook daadwerklike terugkeer van die volk. Hy roep die volk enersyds op om die vreemde gode en die Astartes onder hulle uit te verwyder. In vers 4 word die vreemde gode nader gespesifiseer as die Baals. En andersyds eis Samuel dat die volk die Here alleen sal dien. Hier sien ons dus die twee dele van die ware bekering waarvan die Kategismus praat: die afsterwing van die ou mens, verwyder die sonde, én die opstanding van die nuwe mens, dien die Here alleen. Die een impliseer in werklikheid die ander… 

En gemeente, presies op hierdie punt word duidelik hoe belangrik die volle oorgawe van die hart aan die Here is, voordat ‘n mens dit konkreet in jou lewe hande en voete kan gee. Baal en Astarte was naamlik die manlike en vroulike gode van vrugbaarheid. In die teologie van die land Kanaan, waarbinne Israel gelewe het, het die vrugbaarheid van die gewasse, van die vee en van die familie afgehang van die seksuele verhouding tussen Baal en Astarte; die herlewing van die natuur was te danke aan die seksuele gemeenskap tussen hierdie twee. Maar die inwoners van die land het nie niks gedoen nie; o nee, hulle het Baal en Astarte aangemoedig deur middel van heilige prostitusie. ‘n Kanaanitiese man sou na een van die Baal-tempels toe gaan en daar gemeenskap hê met een van die heilige prostitute; hý sou dan die rol van Baal vervul, en sý die rol van Astarte. En só is Baal en Astarte aangemoedig. Hooplik sou hulle die skimp vang, sodat die reën en die graan, die wyn en die olie weer kon begin vloei.

Ons kan nou miskien daaroor lag – dié primitiewe heidene… Maar vir die Israeliet wat in die daaglikse behoeftes van sy gesin moes voorsien, was dit nie so vergesog nie. En die Here het dit ook geweet; Hy het nie verniet by die intog in Kanaan die bevel gegee dat die volke van die land almal uitgeroei moes word nie. Dit was omdat die Here geweet het watter verleiding daar van hierdie volke en hulle gode op sy volk uitgeoefen sou word. Immers, vir die volk was die gode van die land sigbaar en tasbaar, en jy kon self iets bydra tot die werking van hierdie gode. Baie verleidelik, en skynbaar baie eenvoudiger en doeltreffender as om ‘n onsigbare God te dien… Nie werklik soveel anders as die gode van vandag nie, broers en susters! 

En om hierteen weerstand te kan bied, om hierdie gode uit jou lewe te verwyder, kan slegs gebeur wanneer jou hele hart aan die Here behoort. Slegs wanneer ons, deur die krag van die Gees, ons harte tot die Here omdraai, slegs dan word dit ook moontlik om konkreet die sonde te ontvlug. En dít is dan ook wat die Here vra van elkeen wat aan Hom behoort: “Vlug weg van die sonde! Jou hart is immers Myne, jou hart is op My gerig; moet dan nie op die randjie van die afgrond bly loop nie, moenie eers naby die sonde kom nie!” Maar, as gelowiges is ons mos sterk? Ek ken mos my perke, ek weet mos tot hoever ek kan gaan. Nee, broer en suster, in jouself is jy nog net so swak; jy is slegs sterk in die Here, maar dan moet jy ook by die Here wees en jouself nie in die kring van die sondaars beweeg nie.

En daarom dat Paulus in sy briewe herhaaldelike kere die vlug-opdrag laat klink: vlug vir die hoerery (1 Kor. 6:18), vlug vir afgodediens (1 Kor. 10:14), vlug van hierdie dinge weg (1 Tim. 6:11, waar Paulus vir Timotheus waarsku teen die geldgierigheid). En dan lees ons in 1 Tim. 2:22 ook nog: vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid. Dus, ook julle, jongmense, moet die sonde onvlug. Dit is nie genoeg om te sê: “Ons is net eenmaal jonk” nie. Begrip vir die leefwêreld van die jongmense hef nog die oproep op om die sonde te onvlug nie, so ver as moontlik daarvan weg te bly! 

En, gemeente, wanneer die kind van die Here wegvlug van die sonde, dán kom daar vervolgens ook ruimte om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe. En dit is presies wat met die volk ook gebeur het. Hulle het die Baals en Astartes verwyder en die Here alleen gedien – hulle het fisies die beelde en die altare vir die afgode verwoes; daar waar die heidense beeld of altaar gestaan het, was dit nou leeg. Sigbare en tasbare afsterwing van die ou mens, en vervolgens ook opstanding van die nuwe mens. Die ou mens in jou lewe moet steeds kleiner word, en die nuwe mens – Christus in jou! – moet steeds groter word. En hoe verder jy op hierdie pad kom, hoe duideliker word Christus in jou lewe en lewenswandel.

En dán kan ons saam met die digter van Psalm 119 die loflied aanhef op die wet van God. Daardie wet is die riglyn vir ons lewe in goeie werke. En ons leer sien die waarde van daardie wet, ons ontvang insig om daardie wet in ons daaglikse lewe vorm te gee, ons leer sien hoe God geëer word wanneer ons sy wil doen.

Ten slotte: bekering bring jou terug by die Here en sy seën. 

3. Samuel voeg nog ‘n duidelike belofte vir die volk by. “As julle jul bekeer en die Here dien, dán sal die Here julle red uit die hand van die Filistyne.” Die volk het hierdie belofte onthou. Wanneer die Filistyne net daarna teen Israel optrek, en vrees dreig om die volk te oormeester, dan beroep die volk hulle op daardie belofte. Hulle sê vir Samuel: “Laat nie ná om die Here onse God vir ons aan te roep nie, dat Hy ons uit die hand van die Filistyne verlos.” En die Here het sy belofte waar gemaak – Hy het dit dié dag met ‘n groot geluid laat donder oor die Filistyne, en Hy het hulle in verwarring gebring, sodat hulle verslaan is voor Israel.  

In reaksie op hierdie Godgewerkte oorwinning, rig Samuel ‘n steen op, en hy noem die steen Ebenhaeser: tot hiertoe het die Here ons gehelp. Letterlik beteken Ebenhaeser: steen van hulp. En dit is wat die Here is, gemeente, vir dié wat op Hom bou. Hy is ‘n sterkte Rots, een waarop jy kan staatmaak, een waarby jy kan skuil. “God is ‘n toevlug in die nood, ‘n rots wat altyd vas bly staan, al dreig die vyand met die dood, al storm die leërbendes aan. Dit kon die volk eerstehand ervaar – toe hulle die sondes uit hulle midde verwyder het, en weer met hulle harte God gedien het, was geen vyand teen hulle opgewasse nie. En selfs lank ná hierdie bekering was die effek van God se nabyheid vir die volk nog sigbaar en tasbaar. Want ons lees dat die Filistyne verneder is en dat hulle verder nie meer die gebied van Israel binnegekom het nie, en dat die hand van die Here teen die Filistyne was al die dae van Samuel.  

Wie hom tot God bekeer, kry ook werklik ‘n helper, hy mag die seën van die Here verwag. Wie hom tot God bekeer, keer terug na die Bron van lewe uit Wie alle goeie dinge vloei. Gemeente, wees met hart en hande op God gerig. Verootmoedig u self elke nuwe dag voor sy aangesig, vra Hom: bekeer my Here, dan sal ek my bekeer!

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 101:1, 2 en 4
Gebed
Lees: 1 Samuel 7:2-17
Sing Ps. 25:1-3
Teks: HK, Sondag 33
Preek
Amenlied Skr. 19:1 en 2
Nagmaalsformulier en –bediening
Sing terwyl tafel in gereedheid Skr. 19:3-5
Sing aan tafel: Skr. 19:6 en 7
Voltooi en formulier + gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 103:9-11
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)