In die eerste gebod vra die Here ons onverdeelde harte!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-08-26
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Verwysing: 
HK 34b-0
Preek Inhoud: 

Sondag 34b

Ds HH van Alten - Sondag 26 Augustus 2007

Lees: Deut. 18:9-18; Josua 24:13-28; Johannes 21:15-19
Teks: HK Sondag 34 (v/a 94 en 95)
Sing: Sien liturgie

Tema: in die eerste gebod vra die Here ons onverdeelde harte!

  1. Maak die keuse vir die Here,
  2. en verwyder die afgode,
  3. sonder om te bereken wat die konsekwensies is…

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“Wat is afgodery? Dit is om in die plek van die enige ware God …  of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.” In die plek van God iets anders hê, God uit jou lewe verwyder en Hom met iets anders vervang – gemeente, vir die meeste van ons is dit iets ondenkbaars, ons kan onsself dit nie voorstel nie. Daarvoor is God darem ‘n te belangrike deel van ons lewe. Maar, broers en susters, juis hier

lê vir ons dikwels dan ook die grootste gevaar – God is ‘n te belangrike deel van ons lewe. Hy is ‘n aspek van ons lewe – en ‘n belangrike een daarby – maar nietemin ‘n aspek saam met ander aspekte: my werk, my vakansie, my verhouding, my geld… In die plek van die enige ware God – nee, dit sal nie so gou gebeur nie. Maar naas Hom – ja! Die wesenlike gevaar vir ons, gereformeerde gelowiges, is dikwels: die Here én die ander gode. Hierdie woordjie ‘en’ is baie gevaarlik: die Here én… 

Daarteenoor vra die eerste gebod van ons dat ons die Here moet liefhê met ons hele hart, met ons hele siel, en met al ons kragte – kyk maar na die woorde in antwoord 94. En dit kan uiteraard nie gebeur wanneer ons liefde oor meer as een verdeel is nie, wanneer daar by ons ook nog ander gode voor God se aangesig is nie. Ons liefdestoewyding aan die Here moet volmaak en onberispelik wees! Niks minder as ons hele hart is vir die Here goed genoeg nie! Maar wie van ons kan sê dat hy onberispelik, of selfs volmaak, God dien? Wel, gemeente, in die Skrif word dit van meer as een persoon gesê.

Van Noag byvoorbeeld word gesê dat hy ‘n regverdige en opregte man was wat met God gewandel het (Gen. 6:9). Die Hebreeuse woord wat gebruik word om aan te dui dat Noag opreg was, dui letterlik op ‘heelheid’ – Noag se hart was heeltemal op God gerig; van halfhartigheid in die diens aan God was daar by Hom geen sprake nie. ‘n Ander voorbeeld: Jesus sê in Mattheus 19:21 vir die ryk jongman dat hy volmaak kan wees as hy al sy besittings verkoop. Hierdie jongman het baie goeie dinge gedoen; hy was gehoorsaam aan die gebooie wat doodslag, egbreuk, diefstal, valse getuienis en ongehoorsaamheid aan die ouers verbied het. Maar sy hart was nie onverdeeld by God nie… Toe Jesus hom opgedra het om al sy besittings te gaan verkoop om volmaak te kan wees, het geblyk dat hy halfhartig was, hy kon nie los kom van sy besittings nie. Dit was by hierdie jongman God én Mammon. Daar was by hom dus geen heelheid, geen volmaaktheid nie. Nog ‘n laaste voorbeeld: van Dawid word in 1 Konings 9:4 gesê dat hy met ‘n volkome hart en in opregtheid voor God gewandel het. Natuurlik het hierdie koning baie sondes gedoen, gruwelike sondes selfs, maar hy het elke keer tog weer van harte vir die Here gekies. Daar was ‘n duidelike lyn, ‘n duidelike rigting, in Dawid se lewe – sy hart was, ten spyte van sy sondes, onverdeeld aan die Here toegewy.  

En, gemeente, dit is dan ook die groot belang van die eerste gebod – dit bepaal die koers van ons lewens! 100% vir dieHere! Die Here soek by ons geen dubbelhartigheid nie, geen verdeelde harte nie – die Here én… Nee, Hy soek ons hele hart, Hy soek by ons heel harte!

Tema: in die eerste gebod vra die Here ons onverdeelde harte!

  1. Maak die keuse vir die Here,

  2. en verwyder die afgode,

  3. sonder om te bereken wat die konsekwensies is…

1. Toe die volk Israel uiteindelik in Kanaan gevestig was, het Josua kort voor sy dood ‘n verteenwoordiging van die volk uit alle stamme na Sigem ontbied. En dan begin hy sy toespraak deur aan hulle die geskiedenis van die volk voor oë te hou – Abraham, Isak, Jakob, die verblyf in Egipte, Moses en Aaron, die uittog, die reis deur die woestyn, die deurtog deur die Jordaan, die inname van Kanaan, en ten slotte die vestiging in daardie land. En as konklusie tot hierdie historiese oorsig – waarin die klem deurgaans was op die Here se leidende hand in dit alles – sê Josua in vers 14 en 15: “Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE. Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: óf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” En dan sien ons in vers 16 dat die volk dieselfde keuse maak as Josua; hulle kies ook om die Here te dien. En vervolgens word op plegtige wyse, skriftelike selfs, die verbond tussen die Israel en die HERE vernuwe deur die bemiddeling van Josua.

Gemeente, ons sien dus hier dat Josua die volk dwing tot ‘n keuse, ‘n radikale keuse: kies dan vir julle vandag wie julle wil dien. Dit is geen en-en keuse nie, maar of-of. Onthou: die Here soek onverdeelde harte! Óf die HERE, óf… ja, as julle Hom nie kies nie, kies dan maar een van die gode wat in die verlede gedien is, of wat julle nou in die land gaan teëkom. Maar wees in elk geval duidelik in julle keuse vír of téén die Here!  

Broers en susters, as gereformeerdes is ons dikwels skrikkerig vir hierdie uitdrukking: kies vir die Here. En vir ‘n groot deel tereg ook. Want hierdie uitdrukking het in groepe, waar die Arminiaanse gedagtegoed springlewendig is, ‘n heeltemal ander betekenis gekry. Die Arminiane, waarteen die Dordtse Leerreëls ons baie duidelik waarsku, was van mening dat die inisiatief tot geloof en wedergeboorte en bekering by die mens lê. Die mens moet eers optree, en dan eers kan God optree. God wil graag in ons woning kom maak, maar Hy wag geduldig vir ons, Hy breek nooit die deure van ons harte oop nie. God mag miskien almagtig wees, maar dit is een ding wat God nie kan doen nie – deure oopforseer. God wil graag in almal se harte woon, maar die realiteit is dat Hy slegs woon by dié wat hulle deure van die binnekant af oopgemaak het. Lees in dié verband ook in die Dordtse Leerreëls, VD 3/4:8.

U sal saamstem dat “kies vir die Here” hier iets heeltemal anders beteken as wat Josua daarmee bedoel het. By die Arminiane en elkeen wat in hulle spoor voortgaan – en hulle is baie vandag, gemeente – word die menslike keuse die bepalende faktor in die verbond met die Here. Maar by Josua is dit anders. Josua begín met die verlossende dade van die Here, en nadat hy hierdie verlossende dade uitvoerig beskrywe het, dan eers volg: kies dan nou! Die inisiatief lê dus by die Here, soos wat Jesus ook in Johannes 15:16 vir sy dissipels sê: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies…” Die Here neem die leiding: “Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.” En dán eers: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie”. Dán eers: jy mag My nie met ‘n verdeelde hart dien nie, Ek soek jou radikale keuse! 

Broers en susters, wanneer ons só na die Skrif luister, is “kies vir die Here” geen menslike inisiatief nie, maar eerder die mens se antwoord op die inisiatief van die Hére. “Kyk wat Ek vir julle gedoen het… kies dan nou ook vir My!” En wanneer ons dit só beskou, is die oproep tot ‘n keuse vir die Here ‘n Skriftuurlike oproep, en daarby ook ‘n baie dringende een, in besonder vir elkeen wat in die Nuwe Testamentiese bedeling lewe.

Want in die Nuwe Testamentiese vervulling van die eerste gebod staan God voor ons in Jesus Christus. In Christus het God op die mees dramatiese wyse die inisiatief geneem: die Seun van God – God self! – het vir ons sondes gesterf, Hy het die toorn van God oor die sondes gedra. En daarom kan hierdie Christus dieselfde radikale keuse van ons vra as wat die Vader ook vra, soos wat Hy dit doen in Mattheus 10:37: “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.” God vra dus in die Persoon van sy Seun, Jesus Christus, dat ons Hom sal liefhê bo alles, in antwoord op alles wat Hy vir ons gedoen het.  

En, let op gemeente, hierdie liefde vir die Here is nie in die eerste plek ‘n gevoel nie. Natuurlik het ons liefde vir God ook ‘n belangrike emosionele aspek, maar dit gaan nie op in die emosionele nie. Nee, hierdie liefde vir God en sy Seun, Jesus Christus, beteken vir ons heel eerste om ‘n keuse vir Hom te maak. Vanweë die werk en inisiatief van God in Christus word ons opgeroep om uit liefde vir Hom te kies! En dan beteken liefde vervolgens ook om by jou keuse te bly! Immers, as daar in ons huwelike spanning is, dan loop ons mos ook nie net weg nie. Nee, dan kom dit daarop aan om lief te hê. En dan kan die emosionele element in die liefde miskien vir ‘n groot deel ontbreek, maar die liefde blyk in die trou, die liefde blyk in die feit dat ons bly by ons keuse vir hierdie een man of vrou.

En dit geld ook vir die verhouding met die Here. Hy het Hom aan ons verbind in Jesus Christus, en nou vra die eerste gebod dat ons daarop sal antwoord met ons eksklusiewe liefdeskeuse vir Hom! Hier mag geen derde party binnedring nie. Die liefde kan nie verdeel word tussen die Here en ‘n ander nie. Wie liefhet, bly by sy keuse, ongeag of daardie keuse gevoelsmatig altyd maklik is. Egte liefde is beproefde liefde, soos wat Jesus van Petrus gevra: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier?... Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief?... Simon, seun van Jona, het jy My lief?” Radikaal! Gemeente, vra die Here vir krag om elke dag opnuut hierdie radikale keuse vir Hom alleen te maak, en om by daardie keuse te bly! Vra dit vir jou persoonlike lewe, maar vra dit ook vir ons gesinne. Josua wys pragtig hoe om dit te doen: “maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” ‘n Onverdeelde persoonlike hart, ‘n onverdeelde gesinshart, ‘n onverdeelde gemeentehart, wat net vir die Here wil lewe en net op Hom wil vertrou. Geen ander gode nie, net die Here alleen.

Dit is dan ook die tweede punt: verwyder die afgode. 

2. Gemeente, wanneer ons radikaal vir die Here kies, dan impliseer dit dat ons ook alles verwyder wat daardie keuse in gevaar kan bring. Dit is ook waartoe Josua die volk oproep: “verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE.” Die Kategismus verwoord dit in antwoord 94 soos volg: “Ek moet alle afgodery vermy en daarvan wegvlug.” Dit is presies dieselfde woord wat die Kategismus gebruik in Sondag 33 wanneer dit gaan oor die afsterwing van die ou mens: ons moet die sonde haat en daarvan wegvlug. Ons moet onsself dus so ver as moontlik van die afgode weghou; in die woord ‘wegvlug’ lê as’t ware ‘n element van vrees. Wees bang vir die afgode en sorg dat jy nie in hulle nabyheid gevind word nie.

Maar, gemeente, is daar dan werklik ander gode? Wil die Here met die eerste gebod sê dat ander gode bestaan, maar dat ons hulle net nie mag aanbid nie? Nee, almal weet dat daar geen ander gode bestaan nie. Al die afgode van die Ou en Nuwe Testament, en al die afgode wat ons vandag nog ken, is in feite geen realiteit nie, hulle bestaan nie, hulle is niks nie. En tóg moet ons vir hulle op ons hoede wees… Hoekom? Want alhoewel hierdie afgode nie werklik gode is nie, is hulle tog reële magte wat die mens totaal in beslag kan neem. Vanweë ons sondigheid gee ons aan hierdie afgode – wat dit ook al mag wees – ‘n mag wat hulle nie van nature besit nie, en laat ons hulle toe om daardie mag oor ons uit te oefen. Dus, iets wat eintlik niks is nie, nie bestaan nie, word deur ons iets gemaak en dit trek ons af van ons diens aan God.  

As voorbeelde van hierdie ‘afgode’ waarvan ons moet wegvlug omdat dit ons totaal in beslag kan neem, noem die Kategismus: towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping van heiliges of ander skepsels. Met die eerste oogopslag lyk dit na voorbeelde wat vir ons nie meer werklik relevant is nie – ons besoek nie waarsêers nie, en bygeloof is eintlik iets van die primitiewe tradisies wat ‘n mens moontlik onder die swart volke nog vind. Miskien is hierdie voorbeelde, wat tiperend is van die tyd toe die Kategismus opgestel is, relevant vir die sendingsgemeentes; miskien moet dit dáár gepreek word. Maar, broers en susters, dit is opvallend dat die Skrif in Deuteronomium 18 hierdie selfde onderwerpe noem.

In Deut. 18:9-14 gaan dit oor waarsêery, goëlery, die verklaring van voortekens en towery; dit gaan verder oor mense wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg. En dan sien ons vervolgens hoe hierdie gruwels vanaf vers 15 teenoor die ware profesie van die Here gestel word. Vanaf vers 15 gaan dit immers oor die ware Profeet, wat alles sal sê wat die Here Hom beveel (vers 18). Só word daar ‘n kontras geskep tussen die valse profesie, gemanifesteer in die gruwels van verse 9-14, en die ware profesie. En, gemeente, hierin lê dan ook die sonde van die gruwels wat sopas genoem is; hulle wat hulle tot hierdie gruwels wend, vertrou nie meer op die ware profetiese woorde van die Here, en soek hulle sekerheid oor die toekoms nie meer by Hom nie! Die sekerheid wat daar by die Here is, wanneer daar in geloof na sy woorde geluister word, word nou gesoek by die waarsêer of by die gestorwe gees. Dít is die groot probleem met hierdie gruwels: ons vertrou nie meer slegs op die Here nie! 

En, gemeente, dit is vandag nog presies so. Ons soek vandag miskien nie meer die waarsêer en die geeste van dooies op nie – hoewel, om so af en toe die sterre te lees nie slegs onskuldige nuuskierigheid is nie – maar daar is vandag nog talle maniere waarop ons wys dat ons vertroue nie ten volle op die Here en sy woord is nie. Ook ons soek ons lewensekerheid en die sekerheid oor ons toekoms op ander plekke. Ook ons het naas die Here en sy Woord nog ander ‘afgode’, middele waardeur ons aan ons lewens sekerheid probeer gee – ons beleggings, ons gesinne, ons kwalifikasies, en vul self maar in wat u afgod is…

En hiervan beveel die Here nou in die eerste gebod: vlug daarvan weg! Nie omdat God bang is vir die afgode nie, want hulle is niks nie. Hy is immers alleen God. Nee, Hy sê dit omdat Hy bekommerd is oor óns. Of soos die Kategismus dit verwoord: “ter wille van my sieleheil”… Dit gaan dus oor my saligheid, dáároor bekommer God Hom. Want Hy is bang dat ons miskien die liefde van ons hart, wat ons aan Hóm verskuldig is, sou weggee aan iets wat géén god is nie; en Hy is bang dat ons miskien te laat agterkom dat ons op ydelheid gebou het.  

Gemeente, laat ons daarom ons lewens ondersoek om te sien wat die afgode in ons lewens is, waar ons naas God iets ander het waarop ons ons vertroue stel. En as u eerlik in die lig van God se Woord kyk, sal u waarskynlik nie ver hoef te soek nie. En waarskynlik sal ons as hele gemeente ook nie so ver hoef te soek om ‘ons’ afgod te vind nie – ek dink maar net aan die mag van die geld en die finansiële sekuriteit wat in ons gemeentelike lewe soms ‘n groter rol speel as wat gesond is. En as ons hierdie afgode gevind het, hulle geïdentifiseer het, kom ons maak dan konkrete planne om van hulle weg te vlug, kom ons stel konkrete maatreëls in om ons keuse vir die Here nie in gevaar te stel nie. So is ons trou aan ons God, onvoorwaardelik trou!

En dit bring ons by die laaste punt: sonder om te bereken wat die konsekwensies is. 

3. Dus, gemeente, in die eerste gebod gaan dit daaroor dat ons op die Here alleen sal vertrou, onvoorwaardelik. Dit is soms makliker gesê as gedaan. Want wat maak ek die dag wanneer lyding en groot hartseer my tref? Moet ek dan nóg op God vertrou, of sal God verstaan as ek dan my vertroue verdeel, as ek naas Hom iets anders het waarop ek my vertroue stel, iets wat my in my unieke situasie oënskynlik beter kan help?

Die opstellers van die Kategismus het waarskynlik gesien dat hierdie vrae gaan kom, en daarom roep hulle ons in antwoord 94 op om ons slegs aan God met alle nederigheid en geduld te onderwerp en van Hom alleen alle goeie dinge te verwag. Dit hou dus in dat ons ook die lyding uit God se hand moet aanvaar; ook wanneer daar swaarkry in my lewe kom, word ons gevra om ons met nederigheid en geduld aan God te onderwerp.

Dit is in ons tyd nie meer ‘n gewilde boodskap nie. Mense wil nie meer daarvan hoor dat lyding van God af kom nie. Nee, dit kom óf van die duiwel af, óf dit is die noodlot – en daarom mag ons ons daarteen verset, daarom moet ons alles in die stryd werp om die lyding teen te gaan. En eintlik word daarmee alreeds weer die eerste gebod oortree, want naas God plaas ons die duiwel of die noodlot as die bron van lyding in ons lewens… 

Maar, gemeente, die eerste gebod wil ons juis leer dat nie die noodlot of die duiwel regeer nie, maar dat God regeer – en dan ook heeltemal! Nie dat Hy die bron is van die kwaad nie; nee, die skuld vir lyding en dood kan nie by Hom gesoek word nie, daarvoor moet ons dikwels onsself ondersoek. Maar God heers wel oor die kwaad en die dood, en Hy kan beide stuur waar en wanneer Hy wil. God gee nie slegs reën nie, maar ook droogte; nie slegs voedsel nie, maar ook hongersnood; nie slegs lewe nie, maar ook siekte en dood. En hoewel ons dit nie kan verstaan nie, kan ons dit nog wel bely. In ons nakoming van die eerste gebod – naamlik ons keuse vir God alleen! – bely ons dat daar één God is wat aan die begin en aan die einde van alle dinge staan, bely ons dat daar één God is wat almagtig is, en wie se almag ons as ‘n ryk troos mag ervaar in die moeilikste tye van ons lewe.

Hierdie God is ons God! En daarom gaan bereken ons nie die konsekwensies elke keer wanneer ons opnuut die keuse vir hierdie God maak nie. Die keuse vir God is nie dieselfde as om ‘n klomp geld te belê, en dan die voor- en nadele van die verskillende beleggingsopsies af te weeg nie. Nee, dit is ‘n onvoorwaardelike keuse vir die Skepper van hemel en aarde, vir die Vader van ons Here Jesus Christus – watter lyding en hartseer ons ook al tref. En dit is ook wat Jesus aan Petrus duidelik maak in Johannes 21. Nadat Jesus tot drie maal toe aan Petrus gevra het of hy Hom liefhet, antwoord Petrus daarop bevestigend. En dan wys Jesus vir Hom wat hierdie keuse gaan meebring: “… toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ‘n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie.” Om Jesus lief te hê, gemeente, om die radikale keuse vir Hom te maak, beteken dat ons nie meer ons eie baas is nie, maar dat ons bereid sal moet wees om in ons lewens God se leiding te aanvaar; dit beteken dat ons alles (selfs die marteldood soos in Petrus se geval) uit God se hand sal aanvaar.  

Gemeente, niemand wil op u lyding en hartseer ‘n goedkoop antwoord gee nie. Niemand wil vir u sê: “Toemaar, alles sal regkom nie.” Maar laat ons mekaar in hierdie aand wel troos met die wysheid van die eerste gebod: “Ek is die Here, jou God, wat jou uit die slawehuis uitgelei het” – dus, Ek is die Here, jou Verlosser, wat jou lewend gemaak het uit die dood! Moet dan nie op ander gode vertrou nie. As jy aanvaar dat Ek die begin van jou verlossing bewerk het, vertrou dan ook vir die res op My! Aanvaar dan ook die lyding en die hartseer en die moeite, én die goeie wat daaruit sal voorkom.  

Broers en susters, ons het hier, in die eerste gebod, te make met ‘n totale oorgawe. Nie langer wil ek myself gord en rondgaan waar ék wil nie, maar steek ek my hande uit, laat ek my gord, en laat ek my bring waar Gód wil: “Here, hier is ek, neem my waar U wil, want waar U wil is dit goed.” Al wat ek weet, is: Egipteland is die beginpunt van die verlossing, Kanaan die eindpunt. Waar die Here my tussen hierdie twee punte wil lei, net Hy sal weet. Maar dit is goed!

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 84:3, 5 en 6
Gebed
Lees: Deuteronomium 18:9-18
      Josua 24:13-28
      Johannes 21:15-19
Sing Ps. 81:9-11
Teks: HK, Sondag 34 (v/a 94 en 95)
Preek
Amenlied Ps. 96:1, 3-5
Bevestiging
Sing Ps. 134:3 en 4
Formulier- en dankgebed
Geloofsbelydenis (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 89:3 en 6
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)