In die tweede gebod roei God ons eiewillige godsdiens uit, en vervang dit met die ware Godsdiens!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-09-02
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Verwysing: 
HK 35-0
Preek Inhoud: 

HK Sondag 35

Sondag 35

Ds HH van Alten - Sondag 2 September 2007

Lees: Rigters 17 en 18
Teks: HK Sondag 35
Sing: Sien liturgie

Tema: in die tweede gebod roei God ons eiewillige godsdiens uit, en vervang dit met die ware Godsdiens!

  1. Die dwaasheid van eiewillige godsdiens
  2. Die tragedie van eiewillige godsdiens
  3. Die oplossing vir eiewillige godsdiens

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Wat is die verskil tussen die eerste en die tweede gebod? ‘n Antwoord op hierdie vraag is nie so maklik nie. Trouens, sommige sien nie eens ‘n verskil tussen die eerste en tweede gebod nie, met die gevolg dat hulle hierdie twee gebooie saam behandel as een gebod. Dit sien ons in die Rooms-Katolieke en Lutherse kerk. Ja, in die Rooms-Katolieke en in die Lutherse kerk staan die eerste twee gebooie saam bekend as die eerste gebod. En om uiteindelik tog by tien gebooie uit te kom, breek hulle die tiende gebod op in twee aparte gebooie. 

Maar, gemeente, dit is te duidelik dat daar vir sowel die eerste as die tweede gebod – soos wat ons dit ken – ‘n eie plek is. Tussen beide is daar immers, behalwe vir die samehang, tog ‘n duidelike onderskeid. Maar wat is hierdie onderskeid? Wel, nadat in die eerste gebod alle ander gode afgewys is, sodat net die Here alleen oorbly – soos wat ons verlede week gehoor het – word in die tweede gebod afgereken met elke verkeerde vorm waarin ‘n mens nou die Here sou wou vereer. Want as jy jou rug op die afgode draai (die eerste gebod), dan moet jy vervolgens wel op die regte manier voor die God van Israel kniel. Die eerste gebod wys ons dus die ware God, die tweede gebod wys ons die ware Gods-diens; die eerste gebod wys Wie ons moet dien – en Hom alleen! – en die tweede gebod wys hoe Hy gedien wil word.

En, gemeente, in die vervolg sal blyk dat hierdie tweede gebod nie ‘n oorbodige luukse is nie; ons het hierdie gebod baie nodig. Ja, heeltemal reg, die eerste gebod vra ons onverdeelde harte aan die Here, maar dit is nog geen waarborg dat ons Hom vervolgens ook reg sal dien nie. Want, soos ons verlede week Sondag gesien het, ook onverdeelde harte bly sondige harte. En daarom is die tweede gebod nodig om die voortdurende dreiging van eiewillige godsdiens in ons lewens uit te roei, en die ware Godsdiens te laat blom.

Tema: in die tweede gebod roei God ons eiewillige godsdiens uit, en vervang dit met die ware Godsdiens!

  1. Die dwaasheid van eiewillige godsdiens

  2. Die tragedie van eiewillige godsdiens

  3. Die oplossing vir eiewillige godsdiens

1. ‘n Effens vreemde verhaal in Rigters 17 en 18 – dink u nie? ‘n Man, Miga, wat sy ma se geld steel, en wat dit daarna aan haar teruggee uit vrees vir die vloek wat sy uitgespreek het; vervolgens laat maak sy van die geld ‘n gegote beeld en plaas dit in Miga se godshuis. Ja, skynbaar het Miga sy eie tempeltjie gehad, kompleet met skouerkleed, huisgode en sy seun as priester. Daarna sien ons ‘n Leviet by Miga se huis opdaag, ‘n gebeurtenis wat deur Miga aangegryp word om hom as priester oor sy godshuis aan te stel – terloops, hierdie Leviet word in hoofstuk 18:30 as ‘n afstammeling van Moses geïdentifiseer. In hoofstuk 18 sien ons hoe verkenners uit die stam Dan by Miga se priester opdaag en van hom die Here se seën vra én ontvang in hulle soektog na blyplek vir hulle stam; kort daarna daag ‘n hele leër uit hierdie stam daar by Miga se plek op – klaarblyklik het die verspieders blyplek gekry, en was die leër nou oppad om dit in besit te gaan neem. Hulle koop die priester om om saam met hulle te gaan en húlle priester te word, ‘n aanbod wat hy vrolik aanneem. Ja, die hoogste bieder wen die stryd om die dienste van die godsman.

Inderdaad ‘n vreemde verhaal… En dit word nog vreemder wanneer dit ons opval dat die skrywer nêrens ‘n oordeel gee oor hierdie verhaal gee nie, nêrens sê hy of dit wat hier gebeur reg of verkeerd is nie – in elk geval nie openlik nie. In die res van die boek Rigters, ja dáár sien ons ‘n baie duidelike refrein: die volk handel verkeerd, die Here straf hulle; en wanneer die volk hulle vervolgens tot die Here bekeer, dan stuur die Here rigters om hulle van hul vyande te verlos. Maar in hierdie twee hoofstukke niks nie…

Of sien ons dit net nie raak nie? 

Gemeente, wanneer ons hierdie twee hoofstukke weer baie sorgvuldig lees, dan sal ons geleidelik die subtiele seine van die skrywer begin raaksien oor wat presies hier aan die gang is. Kom ons kyk weer na die verhaal…

Miga se ma neem die geld, wat Miga vir haar teruggegee het, en heilig dit aan die HERE. Dit doen sy deur ‘n gedeelte daarvan na ‘n goudsmid te neem, en daar ‘n gesnede en ‘n gegote beeld te laat maak. ‘n Gesnede en gegote beeld – dan moet ons nie dink aan twee aparte beelde nie, maar aan een beeld wat eers gekerf is, miskien uit hout, en daarna oorgetrek is met silwer of goud; vandaar ‘n gesnede en gegote beeld. Hierdie beeld kry nou ‘n plekkie in Miga se godshuis. Maar hierdie beeld is nie Miga se eerste nie; nee, ons lees dat hy alreeds huisgode in sy godshuis gehad het. Dit is dus ‘n toevoeging tot sy bestaande versameling.  

Maar, gemeente, vanwaar hierdie beelde? Wat is die agtergrond hiervan? Wel, om te verstaan waarom hierdie gesin – en hulle was sekerlik nie die enigstes nie – beelde gemaak het om die Here mee te aanbid, moet ons verstaan wat beelde vir die mense van daardie tyd beteken het. ‘n Beeld was vir die mense van daardie tyd nie ‘n dooie ding van hout of steen of silwer nie; hulle was dus nie so dom dat hulle ‘n dooie ding sou aanbid nie. Nee, ‘n beeld het vir hulle geleef, omdat die godheid daarin aanwesig was. Soos wat die liggaam leef deur die siel daarin, so het die beeld geleef deur die godheid wat daarin was. Natuurlik, ook heidene het geweet dat die beeld en die godheid nie dieselfde is nie, hulle het besef dat hierdie twee nie saamval nie. Ook vir die heidene het hulle gode êrens in die hemel gewoon. Maar hoewel die gode dus enersyds ver was – in die hemel – was hulle andersyds ook baie naby – in die beeld. Die beeld het die godheid verteenwoordig en hom naby aan die mens gebring. En – baie belangrik – die krag van die godheid, wat êrens in die hemel gewoon het, is in die beeld gebundel en gekanaliseer en het die mens in staat gestel om daarvan gebruik te maak.

Dit is soos met elektrisiteit… Elektrisiteit is lewensgevaarlik, tensy ons dit onder beheer kan kry en bruikbaar kan maak deur middel van transformators. Nou, die godebeelde en die gepaardgaande rituele was soos transformators – daardeur is lewensgevaarlike godskragte getransformeer, sodat die mens sonder risiko daarvan gebruik kon maak. Die beeld was die hanteerbare vorm van die godheid met sy kragte. En, broers en susters, dáároor het dit ten slotte gegaan in die beeldediens, naamlik die beskikking oor die godheid met sy krag. Deur middel van die beeld kon ‘n mens die gode beheer, kon jy sonder risiko van hulle krag gebruik maak, en kon jy so jou eie lewe reël. Dit is die egoïsme van die beeldediens! Die godheid word gedien ter wille van my – my welstand, my voorspoed.  

En dit is nou presies wat ons in Rigters 17 en 18 ook raaksien. Die beeld wat Miga se ma vir sy godshuis laat maak het, en waarvoor hy vervolgens ook ‘n leviet as priester aanstel, word die speelbal vir allerhande partye, ter wille van elkeen se eie welstand en voorspoed. Wie hierdie beeld besit, of van hom gebruik kan maak, kan die kragte van die Here manupileer vir sy eie doel.

Eers sien ons Miga self – hy voel homself baie veilig by hierdie tuisgemaakte godsdiens. Ons lees immers in hoofstuk 17:13: “Nou weet ek dat die HERE aan my goed sal doen…” En dit sê Miga nie omdat hy op grond van sy geloof weet dat die Here hom goedgesind is nie; nee, maar omdat hy meen dat hy, deur middel van sy beeld en selfaangestelde priester, goddelike kragte in sy beheer het.

Vervolgens sien ons dieselfde by die Danitiese verkenners – sodra hulle verneem van die priester wat in Miga se godshuis diens verrig, wil hulle ook van die godskragte gebruik maak: “Raadpleeg God tog, dat ons kan weet of ons pad waarop ons reis, voorspoedig sal wees.” En natuurlik is die antwoord: “Gaan in vrede; voor die HERE lê julle pad waar julle langs gaan.” (18:5-6) U het tog nie ‘n ander antwoord verwag nie? Immers, hier is dan ‘n méns wat sy Gód in beheer het! Wie se pad sal nie voorspoedig wees nie?!

En ten slotte sien ons dat wanneer die Daniete uiteindelik met hulle leër weer by Miga se plek verbykom, hulle besluit om hierdie gebundelde goddelike kragte eenvoudig buit te maak en vir hulleself aan te wend – hulle steel die skouerkleed, die huisgode en die gesnede beeld… En hulle koop die priester om om vir hulle te kom werk. Nou is die godheid in húlle beheer… 

Broers en susters, sien u die dwaasheid van die beeldediens? Mense wat meen dat hulle God kan manupileer, mense wat meen dat hulle vrylik oor die krag van God kan beskik en dit tot hulle eie voordeel kan aanwend, mense wat dink dat húlle die diens aan God kan bepaal deur God aan hulle diensbaar te maak. Dit is só dwaas! Luister maar net na Miga wanneer hy die Daniete agtervolg en probeer om sy gesteelde besittings weer by hulle terug te kry; dit is amper lagwekkend. Hy sê vir hulle: “My gode wat ek gemaak het, het julle weggeneem saam met die priester, en julle trek weg; wat het ek nou oor?” Wat het ek nou oor? – eers druk Miga God in ‘n blik (letterlik), vervolgens ontstaan daar ‘n geveg oor wie se blik dit nou eintlik is, en ten slotte huil die verloorder soos ‘n klein kind omdat sy blik weg is…

Gemeente, dit is wat ons doen wanneer ons God dien op ons manier, wanneer ons Hom inpas binne ons raamwerk van godsdiens. Eiewillige godsdiens is ‘n strewe om God te beheer, in plaas daarvan om jouself in geloof oor te gee aan die God wat in beheer is. Eiewillige godsdiens is om God by jou diens aan te pas, in plaas daarvan om jouself by die Godsdiens aan te pas. En dit is duidelik by alle partye in Rigters 17 en 18. Niemand van hierdie partye was onwillig om God te dien nie; inteendeel, ons proe in hierdie hoofstukke selfs ‘n opvallende sfeer van godsdienstigheid. Maar wanneer ons na die details kyk, sien ons dat die mens die diens uitmaak: ons sien ‘n man en sy ma wat ‘n gesnede en gegote beeld maak, terwyl die Here in Deuteronomium 27:15 duidelik gesê het: “Vervloek is die man wat ‘n gesnede of gegote beeld maak, ‘n gruwel vir die HERE, werk van ‘n ambagsman se hande, en dit in die geheim opstel…” Ons sien ‘n man met sy eie privaat tempeltjie, terwyl die Here duidelik in Deuteronomium 12 beveel het dat die volk Hom slegs op een plek moes dien, die plek wat Hy sou aanwys. En ons sien ‘n leviet, ‘n leier wat die volk in die wet van die Here moes voorgaan, maar wat homself verhuur aan die hoogste bieder… Hartseer! ‘n Volk wat sy God beheer; altans, probeer beheer.  

En gemeente, dit is presies wat ons doen wanneer ons nie die Here dien soos wat Hy in sy Woord aan ons beveel het nie, wanneer ons ons eie 21ste eeuse beelde maak waarmee ons probeer om God te beheer en ons eie lewens probeer reël. En dan praat ons hier nie van onwilligheid om die Here te dien nie, maar ons praat van eiewilligheid – ek dien die Here op my manier, soos wat dit my pas. Soos wat Miga en die Daniete hulle eie heiligdom gehad het, terwyl die huis van God in Silo was (kyk maar na hoofstuk 18:31 en die kontras wat daardeur geskep word), so bou ons so maklik ons eie privaat godsdiens. Ek wil die Here dien, maar een erediens op ‘n Sondag is genoeg – só pas dit my. Ek wil die Here dien, maar om my kinders gereformeerde onderrig te gee soos wat ek in hulle doop belowe het, is opsioneel – só pas dit my. Ek wil die Here dien, maar om in die gemeente betrokke te wees, is te veel gevra – só pas dit my. Sien u, God totaal in my beheer! Altans, so dink ons, want wat ons dink ons in ons beheer het, is nie meer God nie, gemeente, nie meer die God van die bybel nie. Nee, in hierdie soort godsdiens werk mense met ‘n groot bol jellie – elkeen kan hom draai, en druk en vorm soos wat hy of sy wil. Maar jy moenie dink dat jy meer die God van hemel en aarde, die God van die Skrifte dien nie, want hierdie God laat hom nie draai en druk en vorm nie… Die dwaasheid van eiewillige godsdiens – ons dink ons dien God, maar in werklikheid dien ons slegs onsself…

Kom ons let vervolgens op die tragedie van die eiewillige godsdiens. 

2. Baie subtiel het die skrywer van Rigters 17 en 18 die dwaasheid van die eiewillige godsdiens aan ons beskrywe. Maar hy gee ook nog subtiele aanduidings van die tragiese gevolge van hierdie soort godsdiens. Hy wys vir ons watter ellendige gevolge eiewillige godsdiens het. ‘n Idee wat in Miga se ma se verdorwe brein ontstaan het, groei uit tot ‘n realiteit in Miga se gebruikte-gode-winkel, en sprei uiteindelik soos ‘n kanker uit na ‘n hele stam – die stam Dan. Broers en susters, sien u die bose kringloop van die eiewillige godsdiens?

En hoewel die skrywer van Rigters se beskrywing van die tragedie hier ophou, gee die res van die Skrif genoegsame aanduidings oor watter gevolge dit nog verder gehad het. Jare later, wanneer die skeiding van die twee- en die tienstammeryk ‘n realiteit geword het, rig Jerobeam twee goue kalwers op om te keer dat die volk altyd na Jerusalem moet gaan om daar te aanbid; hy is bang dat hulle ontrou aan hom gaan word. Twee goue kalwers, een in Bet-el en die ander in… ja, in Dan (1 Konings 12:29). Hoekom anders? Immers, in Dan was alles alreeds in plek vir hierdie soort beeldediens, die infrastruktuur het alreeds gestaan.

En gemeente, hierdie beeldediens sou uiteindelik lei tot die ondergang van ‘n nasie. Ons lees in Rigters 18:30 dat hierdie beeldediens in Dan bestaan het tot op die dag van die ontvolking van die land. Tot op die dag van die ballingskap van die tienstammeryk deur Assirië het die eiewillige godsdiens wat deur Miga se ma geïnisieer is, homself gewreek in die lewe van God se volk. Of miskien meer korrek: so het Gód die sonde gewreek! 

Immers, Hy is die jaloerse God, of miskien beter vertaal: Hy is die God wat Homself laat geld. Vir dié wat dink dat hulle Hom gelukkig kan hou met hulle eiewillige godsdiens wreek Hy Homself tot in die derde en vierde geslag. As ek God halfpad dien, sal my kinders dit maar vir ‘n kwart doen, en my kleinkinders glad nie meer nie. Natuurlik, almal is vir homself verantwoordelik; niemand kan sy afval verontskuldigend toeskryf aan die sonde van die voorvaders nie. Maar, gemeente, ons moet wel besef dat niemand van ons vir homself sondig nie. My eiewillige godsdiens werk deur na my nageslag, en as die Here hulle nie bewaar nie, sal daar by my klein- of agterkleinkinders géén godsdiens meer wees nie.

Teenoor die seën tot in duisende geslagte vir dié wat God liefhet en sy gebooie onderhou, is daar die tragedie van God se wraak oor dié wat Hom op eiewillige wyse wil vereer. En, gemeente, dit is nie maar ‘n hipotese wat die tweede gebod hier aan ons voorhou nie. Dit is bewys, keer op keer, in die geskiedenis van die kerk, ook in die geskiedenis van hierdie gemeente. Ouers wat slegs een keer per Sondag kerk toe kom, wat nie meer behoorlik huisgodsdiens doen nie, wat nie moeite doen om hulle geloof uit te leef nie… En die uiteinde daarvan? Kinders of kleinkinders wat glad nie meer die Here dien nie.

Ondersoek u diens aan God in die lig van die tweede gebod, broers en susters. Hoe heelhartig buig u uself nog in liefde en gehoorsaamheid voor God en sy gebooie? Hoe trou is u Godsdiens? Of staan God in u diens? Miskien is u alreeds besig om die tragedie van God se wraak in u lewe tot uiting te laat kom… Luister dan na God se oplossing vir eiewillige godsdiens!

Dit is ons laaste gedagte

3. Die skrywer van Rigters gee vir ons in hoofstukke 17 en 18 nog een baie belangrike subtiele aanduiding waarop ons nog nie gelet het nie. Nadat hy in hoofstuk 17:1-5 die oorsprong van Miga se eiewilige godsdiens beskryf het, volg daar in vers 6 ‘n tussenvoeging wat effens uit die bloute kom: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.” Net dit, en dan gaan die verhaal weer verder… Vanwaar hierdie tussenvoeging? Wel, duidelik is die geïnspireerde skrywer van die boek Rigters van mening dat die koningskap ‘n einde sal bring aan hierdie eiewillige godsdiens, dat die koningskap die diens aan God weer in goeie bane sal kan lei.

Dit gee vir ons ‘n aanduiding dat hierdie boek waarskynlik in die tyd van Dawid of Salomo geskryf is, toe daar nog konings was na God se hart, en toe die volk nog positief was oor die koningskap; toe daar nog werklik die verwagting was dat die koningskap ‘n verandering sou bring. Want ná Dawid en Salomo was dit vir die grootste deel maar ‘n treurige herhaling van afval en ongeloof. Dus, waarskynlik skryf die outeur van hierdie boek vanuit die positiewe perspektief van koning Dawid, die man na God se hart, of uit die perspektief van koning Salomo, die man wat wysheid van God ontvang het. Maar laat ons eerlik wees: ook Dawid en Salomo het dikwels gestruikel, ook Dawid en Salomo kon nie daarin slaag om die eiewillige godsdiens volledig uit te roei nie, ook húlle was meer as een keer eiewillig in hulle godsdiens.  

En daarom, gemeente, moet hierdie opmerking ons verder laat kyk as Dawid of Salomo. Hierdie opmerking van die skrywer moet ons perspektief gee op ons groot Koning, die Here Jesus Christus. Die gehoorsaamheid aan die tweede gebod, die uitroeiing van alle vorme van eiewillige godsdiens, is slegs moontlik in Hom. Inderdaad, sonder die heerskappy van die koning van die kerk, sal dit gaan soos in Israel van ouds – elkeen sal doen wat reg is in sy eie oë. Sonder Christus in ons lewens en in die lewe van die kerk, sal dit word soos in die rigtertyd – ‘n baie godsdienstige sfeer, maar geen gehoorsaamheid nie.

En daarom moet ons onsself oorgee aan sy heerskappy, sy regering in ons persoonlike en kerklike lewe. Wanneer ons die enigste ware God wil dien, laat Hy dan ook bepaal hoe Hy gedien wil word. En, broers en susters, dít doen Hy deur middel van die lewende verkondiging van sy Woord en deur die uitoefening van die tug. Dít is die manier waarop Christus duidelik maak: só en só wil Ek gedien word, en nie anders nie. En as julle My nie so wil dien nie, dan tugtig Ek julle sodat julle kan terugkeer tot die ware Godsdiens. En hiervoor gebruik Christus die ampsdraers. Ampsdraers wat getrou is om die ware Godsdiens aan die gemeente voor te hou, en nie ampsdraers wat, soos die leviet in die dae van Miga, die wense van die volk uitvoer en na hulle pype dans nie. Ampsdraers wat aan die gemeente gee, nie wat hulle wil hê nie, maar wat hulle nodig het – leiding in die ware Godsdiens, sodat elke lidmaat wat God liefhet tot in die duisendste geslag die seën van die Here kan ervaar. 

En, gemeente, uiteindelik die mooiste uitwerking van die regering van Koning Christus oor sy kerk, is dat ons in die kerk weer ware, Skriftuurlike beelde kry... Of het u gedink dat ons nie beelde in die kerk het nie? Natuurlik het ons beelde in die kerk! U en ek is die beelde! Ons hoef nie beelde van God te maak nie, God het sy eie beelde gemaak – lewende mense, geskape en herskape na die beeld van God! Nee, nie beelde wat vereer moet word nie, maar beelde waarin God Homself kenbaar maak aan die wêreld.

Ons het hierbo reeds gehoor dat die mense van die bybelse tyd die godsbeeld as verteenwoordigend van die godheid beskou het; die krag van die godheid was in daardie beeld aanwesig. Nou, so is dit ook met die gelowige as beeld van God: hy is God se verteenwoordiger, die poort waardeur God sy krag op aarde wil laat geld. Wanneer ons werklik in alles gehoorsaam is aan die Koning van die kerk – sodat elke aspek van ons Godsdiens deur Hom bepaal word – dan vind God in ons geskikte werktuie om Homself aan die wêreld kenbaar te maak.  

Mag Christus daarom regeer in hierdie gemeente. Sy Naam is bo alle naam verhewe, laat ons aan Hom die volle roem en eer gee, solank daar wêreld is. Laat hierdie gemeente ‘n Koning hê, ‘n Koning wat ons wegruk van die eiewillige godsdiens, en ons lei in die ware Godsdiens. In die eiewillige godsdiens mag ons baie vol wees van onsself en van ons godsdienstigheid. Maar in die ware Godsdiens volgens die tweede gebod word ons werklik nuut!

Amen

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 30:1, 3 en 7
Gebed
Lees: Rigters 17 en 18
Kollekte
Sing Ps. 97:1 en 4
Teks: HK, Sondag 35
Preek
Amenlied Ps. 110:2-4
Gebed
Belydenis van geloof
Bevestiging van belydenis en slotsang Ps. 72:1, 4 en 11
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)