Die Koning beskaam sy onderdane deur sy bereidheid tot diens!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-09-09
Teks: 
Johannes 13:8 &14
Preek Inhoud: 

Johannes 13:8 en 14

Ds HH van Alten - Sondag 9 September 2007

Lees: Joh. 12:12-19;  Joh. 13:1-17;   Luk. 22:24-27;   2 Sam. 6:20-23
Teks: Joh. 13:8 en 14
Sing: Sien liturgie

Tema: die Koning beskaam sy onderdane deur sy bereidheid tot diens!

  1. Die ware onderdaan moet leer om hierdie Koningsdiens te aanvaar
  2. Die ware onderdaan moet leer om hierdie Koningsdiens te betoon

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Dit is omtrent alweer ‘n maand gelede dat ons na die Kneg van die Here gekyk het vanuit Jesaja 42. Toe het ons daarop gelet dat Hy die taak ontvang het om die reg van God na die nasies uit te bring. En wat daarin veral opvallend was, was sy werkwyse – die nederige en diensbare houding waarmee die Kneg, Jesus Christus, sy groot taak verrig het. 

Vandag wil ons, as voortsetting van die reeks preke oor diensbaarheid, nog ‘n slag kyk na die opvallende werkwyse van Jesus Christus – hierdie keer vanuit die Nuwe Testament, en meer spesifiek die bekende gedeelte van die voetwassing uit Johannes 13.  

En gemeente, laat ons die onderrig wat deur hierdie verkondiging tot ons gaan kom, ter harte neem. Die Here laat sy Woord vanoggend nie verkondig sodat ons hierna by die kerk kan uitstap en eenvoudig ons ou lewens kan voortsit nie; dit is nie genoeg om hier buite op die kerkplein of daarna by die huis jou opinie oor die preek uit te spreek nie. Nee, die Here se Woord wil geglo en gehoorsaam word! En ek sê dit en ek kan dit juis op hierdie punt sê, omdat spesifiek die konteks van Johannes 13, dus die konteks van Jesus se laaste maaltyd met sy dissipels, vir ons so duidelik wys hoe daar nie op die onderrig van die Here gereageer behoort te word nie. Kom ons kyk wat hier gebeur het.

Ons het gelees dat Jesus sy dissipels se voete gewas het, waarskynlik aan die begin van die maaltyd alreeds. Johannes sê in hoofstuk 13:2 dat Jesus ‘gedurende die maaltyd” opgestaan het, maar ons kan dalk beter vertaal met “toe die oomblik van die maaltyd aangebreek het” – dít vanweë die onwaarskynlikheid dat Jesus en sy dissipels sou begin eet het sonder om hulle voete te was. Dus, reg aan die begin van daardie laaste maaltyd, wat as’t ware ‘n afskeidsmaal was, vind ons die geskiedenis van die voetwassing. Maar lees ons dan vervolgens Lukas 22:24, wat ‘n gesprek was wat ná die voetwassing en týdens daardie einste maaltyd gevoer is, dan staan ons verstom… Die voete van die dissipels is nog klam van die water, en hulle stry alreeds weer oor wie die grootste in die koninkryk is! Skaars was Jesus klaar met sy aanskoulike onderrig, of die dissipels het alweer daarvan vergeet en begin twis oor wie van hulle die grootste geag moet word in God se ryk. Is dít nou die soort reaksie wat Christus se aanskoulike onderwys by sy volgelinge behoort op te roep?

Nee, broers en susters! En juis omdat hierdie konteks van Johannes 13 so duidelik wys hoe dit nie moet gebeur nie, daarom is die dringende oproep vanoggend: hóór en gehóórsaam die woord van die Here wat ek aan u mag verkondig; laat dit tot uiting kom in u lewens, sommer dadelik as ons na die erediens uit die kerk uitstap… Wanneer ons na die erediens by die kerk uitstap, dan gaan voer ons nie, soos die dissipels, twisgesprekke oor wie die grootste geag moet word nie, maar dan gaan gehoorsaam ons die onderrig van die Here – in praktiese en konkrete diensbaarheid aan mekaar. Die tema vir die preek is:

Tema: die Koning beskaam sy onderdane deur sy bereidheid tot diens!

  1. Die ware onderdaan moet leer om hierdie Koningsdiens te aanvaar

  2. Die ware onderdaan moet leer om hierdie Koningsdiens te betoon

1. Kort voor die maaltyd van Johannes 13 gebeur daar iets wat baie belangrik is om in gedagte te hou by ons verstaan van die geskiedenis van die voetwassing – ons het daarvan gelees in hoofstuk 12. Op die Maandag voor die afskeidsmaaltyd van Donderdagaand reis Jesus vanuit Betanië na Jerusalem. Maar Hy reis nie alleen nie; nee, oppad na Jerusalem word duidelik dat Jesus die middelpunt van alle aandag is; die skare om Hom heen, groei. Enersyds is daar ‘n groep wat Hom vanaf Betanië na Jerusalem begelei – dít is die mense waarvan hoofstuk 12:17 praat, húlle wat by Hom was toe Hy Lasarus uit die dode opgewek het. Andersyds is daar ‘n groep wat van hierdie wonderwerk gehoor het en wat nou vanuit Jerusalem kom om Hom te onthaal. Dus, twee groepe wat mekaar vanuit verskillene rigtings nader, en Jesus in die middel. En terwyl hierdie twee groepe al nader en nader aan mekaar kom, vorm hulle ‘n soort spreekkoor wat van voor én van agter Jesus die ‘Hosanna’ laat opklink. In ‘n soort beurtsang word die Koning van Israel besing! 

Maar Jesus, wat die gevaar gesien het dat daar ‘n oorspanne verwagting aan sy koningskap gekoppel sou word, en wat die gevaar gesien het dat die volk Hom sou beskou as die bevryder uit die mag van die Romeine, sorg dat enige verkeerde hoop en verwagting by die volk in die kiem gesmoor word. Terloops, op daardie oomblik het niemand dit opgemerk nie, selfs nie die dissipels nie; daarvoor was hulle te besig om vir hulle Koning ‘n groen tapyt van blare en takke uit te lê. Eers ná Jesus se opstanding en hemelvaart sou die dissipels dit raaksien (12:16). Maar tog gee Jesus tydens sy reis na Jerusalem alreeds ‘n duidelike teken dat Hy nie heeltemal is wat die skare van Hom dink nie.

Hy vind naamlik tydens sy reis ‘n jong esel; Hy klim daarop en ry daarmee Jerusalem binne. Dit is ‘n vervulling van die profesie van Sagaria 9:9 wat deur Johannes soos volg aangehaal word: “Moenie vrees nie, dogter van Sion! Kyk, jou Koning kom en Hy sit op die vul van ‘n esel.” Maar Sagaria sê in sy oorspronklike profesie nog meer: “Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel – op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.” Nederig en Hy ry op ‘n esel – Jesus is dus nie wat die skare van Hom dink nie; Hy is nie die stryder wat die Romeine met geweld kom verjaag nie. Want ‘n esel is in daardie tyd nie beskou as ‘n oorlogsperd nie; ‘n esel was ‘n koninklike rydier in vredestyd! Jesus ontken dus nie dat Hy die beloofde Koning van Israel is nie, maar Hy wys wel: Israel se Koning is ‘n vredesvors! Hy kom nie Jerusalem binne met angsaanjaende wapengeweld nie, maar as ‘n hooggeplaaste wat uitblink in nederigheid…

Dus, gemeente, hoewel Jesus die Koning van Israel is, wys Hy dat die roete van sy oorwinningsmars nie via die slagveld loop nie, maar via die kruis. Só bring Hy die vrede, waarvan Sagaria vervolgens in hoofstuk 9:10 praat. Só behaal Hy sy oorwinning – via kruis en dood en graf …  en opstanding. En op dié manier het Israel Hom nodig gehad, dit is die nederige Koning wat die vrede sou bring. 

En, broers en susters, wanneer ons nou spring van die Maandag na die Donderdagaand daar in die bovertrek, dan sien en hoor ons presies dieselfde boodskap. Ons sien daar enersyds Jesus wat, volgens hoofstuk 13:3, geweet het dat die Vader alles in sy hande gegee het, ons sien Jesus wat Homself op daardie oomblik baie bewus is van sy hoë afkoms en sy hoë bestemming; ons sien Jesus die Koning van Israel! Maar andersyds sien ons Hom ook in sy nederigheid wanneer Hy, as Koning, sy bo-klere uittrek, ‘n doek om Homself vasmaak en sy dissipels se voete begin was. So demonstreer Hy, net soos enkele dae tevore by sy intog in Jerusalem, wat die roete, die weg, van sy oorwinningsmars is – sy Koningskap word slegs in die weg van vernedering bevestig. In nederige slawewerk demonstreer Jesus sy grootheid.

En, gemeente, só het Dawid, uit wie die Christus gebore sou word, dit eeue daarvoor ook al getoon – ons het daarvan gelees in 2 Samuel 6. Dawid het met net ‘n enkele bedekking aan voor die ark van God gehuppel en gedans, terwyl daardie ark na Jerusalem gebring is. En Migal, wat gemeen het dat hy nie soos ‘n koning opgetree het nie, verag hom daaroor; sy sê: “Hoe het die koning van Israel homself vandag geëer, dat hy homself vandag voor die oë van die slavinne van sy dienaars ontbloot het soos een van die ligsinnige mense hom somaar ontbloot!” Maar dan wys Dawid haar vervolgens baie duidelik dat hý die vors is wat die Here verkies het, bo Migal se pa, Saul. Dawid is deur Here aangestel as koning! Maar dit beteken nie dat hy hoogmoedig word nie, hy bly nederig. Want hy sê vervolgens vir Migal: “En ek sal my nog geringer ag as dit – ek sal nederig wees in my eie oë en met die slavinne van wie jy gepraat het, met hulle sal ek myself eer.” Dit is die nederige koning na God se hart, op wie se troon uiteindelik die ewige Koning sou sit. En hierdie ewige Koning sou op dieselfde wyse sy werk doen as Dawid voor Hom. Hy is Koning langs die weg van vernedering, Vredevors via die kruis.  

En gemeente, juis dít kon Petrus nou nie aanvaar nie. Hy protesteer teen hierdie knielende figuur voor hom, hierdie figuur pas nie by sy koningsideaal nie. Hy het Hom dan in hoofstuk 6:69 nog bely as die Christus, die Seun van die lewende God; en ‘n paar dae gelede het hy nog saam met die skare geroep: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here, die Koning van Israel.” Nee, hy kan nie! Die messiaanse tyd sal mos nie deur ‘n slawemoraal verwesenlik word nie, die hemelse koningkryk kan mos nie in die weg van vernedering kom nie. En Petrus maak dit baie duidelik in sy aanspraak wanneer hy sê: “Here – let op! – Here, gaan U my voete was? … U sal my voete in der ewigheid nie was nie!”

Maar dan wys Jesus hom wat die verstrekkende gevolge van sy afwysing kan wees: “As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie”, het jy geen erfdeel saam met My nie. Hiermee dui Jesus op die erfenis wat vir Hom – Jesus – bestem is en wat Hy in die weg van selfopoffering met ander wil deel. Petrus se deelname in die seën van die heil is dus hier op die spel! Met vuil voete – of anders gesê: sonder om Jesus se dienende liefde te aanvaar – is daar vir Petrus géén toegang tot die ewige koninkryk van sy Heer en Heiland nie. Hy móét aanvaar dat sy deelname in die heil slegs moontlik is in die weg van Christus se vernedering en diensbaarheid. 

Petrus meen dat hy nou verstaan wat Jesus vir hom sê, en daarom sien ons hoe hy vervolgens op ‘n tipiese Petrus-manier van die een uiterste na die ander uiterste deurslaan: “Here, nie net die voete nie, maar ook die hande en die hoof.” As dit dan die geval is dat hy gewas moet word, was dan sommer alles – so meen Petrus. Maar dan wys Jesus dat die voetwassing nie te make het met wassing, of reiniging, nie; immers, die dissipels was alreeds rein deurdat hulle in Hom geglo het (vers 10). Petrus is alreeds gewas, dit is nie nodig dat hy weer gewas word nie. Nee, die voetwassing is nie simbool van reiniging nie, maar is simbool van Jesus se vernedering en diensbetoon wat net hierna aan die kruis tot volle werklikheid gaan kom. En dít moet Petrus leer aanvaar: dat sy reiniging en verlossing lê in ‘n vernederde en diensbare Koning. Petrus en die ander dissipels kan slegs lewe van Jesus se liefde waarmee Hy Homself tot die uiterste opgeoffer het. Jesus is die Kneg in die midde van sy twaalf dissipels, nou moet hulle hulself ook deur Hom láát dien, nou moet die onderdane hulself ook deur hulle Meester láát behandel! Dit is hulle redding!

En gemeente, dit is dan ook die groot uitdaging vir die kerk van die Here vandag, naamlik dat ons ons Koning moet leer ken in sy nederigheid en diensbaarheid. Ons lewe so dikwels met die gedagte dat ons Koning óns diens nodig het. Is dit nie so nie? – ons dink dat ons die Here moet dien! En dit hang saam met die wêreld waarin ons lewe, soos wat Jesus leer in Lukas 22:25: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem.” Met ander woorde: in die wêreld gaan mag en eer saam: wie gesag het, heers oor ander; wie mag het, word geëer en gedien. Daarom het ons so dikwels die idee dat Jesus óns diens nodig het. Maar dan leer Jesus dat ons heel eerste, voordat ons enigsins kan begin dink oor ons diens aan Hom, sy diens nodig het. Heel eerste moet ons sover kom dat ons sy diens in ons lewens aanvaar. Daar moet by ons die besef groei dat wie verlos wil word deur sy Koning gedien moet word! In die voetwassing vind ons daarom ‘n uitbeelding van Jesus se Kneg-gestalte; die voetwassing staan in die kader van sy diensbaarheid en vernedering vir ons. God se Seun, ons Koning, kniel voor sondaars! 

En, broers en susters, om dít te aanvaar vra werklik oorgawe en onderwerping. Veral waar die sonde so swaar in ons lewens kan druk, veral waar die skuldgevoelens ons uitmekaar kan ruk, waar ons die realiteit besef dat ons nie waardig is om ‘n kind van God genoem te word nie, waar dit soms skreeu in ons: “Ek, ellendige mens!” Om dan te aanvaar: die Koning het ‘n Kneg geword, sodat die sondige kneg ‘n koning op een van die trone van die koninkryk kan word, en sodat die sondaar kan eet en drink aan Christus se tafel – om dit te aanvaar, vra oorgawe en geloof. Dit vra dat ons ons Petrus-mentaliteit – in der ewigheid sal u my voete nie was nie – dat ons dit laat vaar, en sê: “Here, dien my! Ek het dit so nodig om deur U gedien te word!” Die ware onderdaan moet leer om die Koningsdiens te aanvaar. Selfs wanneer ons in ons lewens op ons knieë is vanweë die sonde en die ellendige gevolge van die sonde, selfs dán sak die Koning nog dieper deur sy knieë in sy diens aan ons.

Broers en susters, ons hou nie altyd van die beeld van ons Koning as ‘n Kneg nie – dit lyk vir ons so minderwaardig, so swak; veral in ‘n wêreld waar groot en sterk tel. Maar gemeente, dank die Here vir hierdie Kneg. Slegs deur sy dienende liefde is ‘n lewe met God en met mekaar weer moontlik.

[Kom ons sing nou eers van Christus se diensbaarheid aan ons uit Ps. 22:1 en 3]

Vervolgens let ons daarop dat die ware onderdaan ook moet leer om Koningsdiens te betoon. 

2. Behalwe die aspek van verlossing deur die nederige Koning waarna ons hierbo gekyk het, is daar nog ‘n ander aspek in Jesus se voetwassing waarop ons moet let. En hierdie tweede aspek is as’t ware ‘n natuurlike uitvloeisel uit die eerste.

Nadat Jesus sy dissipels se voete gewas het, het Hy sy bo-klere geneem en weer aan tafel gaan sit. Waarskynlik het hulle, soos die gewoonte was by besondere maaltye, aan tafel gelê. As’t ware soos dakpanne het die gaste dan langs mekaar gelê. Terug op sy plekkie tussen die ander, neem Jesus die leiding van die tafelgesprek wat nou gaan volg. Hy vra aan sy dissipels of hulle verstaan wat Hy aan hulle gedoen het. Jesus wou naamlik deur middel van die voetwassing ook aan sy leerlinge ‘n voorbeeld stel. Dus, sy dienende liefde, waarsonder niemand gered kan word nie, is tegelykertyd ook ‘n verpligtende leervoorbeeld, iets wat die dissipels self in hulle lewe sou moes gaan toepas. 

En van wie beter om hierdie voorbeeld te ontvang as van Jesus. Immers, Hy is Heer en Meester – só het sy dissipels Hom genoem. En, sê Jesus, dit is reg dat julle My so noem, want Ek is dit. Maar nou, in sy verhewe posisie as hulle Heer en Meester, het Hý neergekniel en het Hý sy leerlinge se voete gewas; soos wat Jesus self in Lukas 22:27 sê: “wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie? Maar Ek is onder julle soos een wat dien.” As Jesus dus gedien het, as Hy sy dissipels se voete gewas het, hoeveel te meer moet hulle nie mekaar se voete was nie? As dít Jesus se houding was, hoeveel te meer moet dit nie ons houding wees nie? Jesus se dienende houding bepaal die dienende houding van die kerk deur alle eeue.

En, gemeente, dan bedoel die Here Jesus nie dat ons moet wees soos die pous wat tradisioneel in die week voor Paasfees arm inwoners van Rome se voete was nie; en Hy bedoel nie dat ons, soos Adriaan Vlok, iemand teen wie ons ‘n onreg begaan het se voete moet gaan was nie. Die Here Jesus vra nie dat ons Hom sal na-aap nie, maar dat ons in dieselfde Gees as Hy sal handel, dat ons dieselfde gesindheid as Hy sal vertoon, dat ons sy voorbeeld sal navolg in die konkrete situasie waarin ons lewe. Soos wat Petrus in 1 Petrus 2:21 vir sy lesers sê: “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg.” En soos wat Paulus in Filippense 2:5 e.v. sê: “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” 

Broers en susters, Christus het dus vir ons die goeie voorbeeld gegee, en vervolgens gee Hy hierdie voorbeeld nou ook as voorskrif: “As Ek dan julle voete gewas het, is julle verplig om ook mekaar se voete te was.” Jesus Christus se dienende liefde, wat by die maaltyd gedemonstreer is in die voetwassing van die dissipels, word ‘n prototipe vir almal wat Hom wil volg en dien. Die diensbaarheid van sy onderdane en die diensbaarheid van die kerk word van daardie oomblik af afgelei van die volmaakte voorbeeld van diensbaarheid van die Koning. In ons omgang met mekaar is nie die wêreld ons voorbeeld en ons voorskrif nie; die wêreld leer ons die oorlewing van die sterkste, die wêreld leer ons om alles in die stryd te werp om bo uit te kom, al moet ek dit doen oor die liggame van ander, die wêreld leer ons dat dit nie goed en gesond is om jou swak kant te wys nie. Maar Jesus leer ons ‘n ander weg, Hy gee aan ons ‘n ander voorbeeld – volg daardie voorbeeld, broers en susters! 

En dan is dit geen gesigsverlies, geen vernedering, om sy voorbeeld na te volg nie. U word niks minder wanneer u bereid is om u naaste te dien nie, dit is geen vernedering om die minste te wees teenoor u broer of suster in die gemeente nie. Al wat u doen, is om eenvoudig ‘n weerspieëling te gee van die kneg-gestalte van Jesus Christus; jy volg eenvoudig jou Koning na. Soos wat Jesus net hierna in Johannes 13:34 sal sê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” Dus, gemeente, om die voorbeeld van Jesus Christus na te volg, sê iets oor jou verhouding met Hom, dit sê iets oor jou bereidheid om Hom te dien, maak nie saak wat die gevolge daarvan is nie, dit wys bo alles jou toewyding aan Hom!

En die heerlike verwagting waarmee ons dan mag lewe, is dat wie hierdie bereidheid tot diensbaarheid vertoon en uitleef, uiteindelik verhoog sal word – lees maar Lukas 22:29-30. Soos wat Christus Homself verneder het en diensbaar was, en as gevolg daarvan deur die Vader verhoog is tot Koning oor alles, so mag elkeen wat in nederigheid sy naaste dien, weet dat hy saam met Christus sal regeer op die trone van sy koninkryk.  

Gemeente, om daadwerklik in Jesus Christus se voetstappe te volg, beteken konkreet: eers agter Hóm aanloop, en dan ook mekaar se voete was. Bereidheid tot dienende liefde ontstaan spontaan aan die voet van die kruis waar ons sien hoe Jesus Homself vir ons opgeoffer het. En wanneer ons in die komende weke en maande meer spesifiek gaan kyk na ons diensbaarheid aan mekaar in al sy verskillende vorme, hou dan hierdie wortel van alle ware diensbaarheid voortdurend voor oë. Elke keer as die weerstand in u opstoot omdat u gevra word om die minste te wees, elke keer as jy opstandig raak oor die liefdevolle diens wat van jou geëis word, word dan vir ‘n oomblik stil en vra: maar wat het Christus vir my gedoen?

Amen. 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 126
Wetslesing & v/a 103 oor 4de gebod
Sing Ps. 27:2 en 3
Gebed
Lees:  Johannes 12:12-19
      Johannes 13:1-17
      Lukas 22:24-27
      2 Samuel 6:20-23
Sing Ps. 132:4-7
Teks: Johannes 13:8 en 14
Preek

  • Na die 1ste punt Ps. 22:1 en 3
  • Amenlied Ps. 116:9 en 10

Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 32:4-6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.  
 

Liturgie: 

(kyk in preek)