Deur sy apostel Paulus groet Christus sy heilige gemeente te Korinthe

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2007-01-21
Teks: 
I Korinthiërs 1
Preek Inhoud: 

1 Korinthiërs 1:1-3

Ds C Kleijn - Sondag 21 Januarie 2007

Lees: 1 Korinthiërs 1-2:5.
Sing: Ps 122; Ps 49:1; SB 27; Ps 89:6,7.

Tema: Deur sy apostel Paulus groet Christus sy heilige
gemeente te Korinthe

  1. die apostel
  2. die gemeente
  3. die groet

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons is nou aan mekaar verbind. Ek mag nou julle predikant wees.
Ons kry van nou af baie met mekaar te make. Hoe gaan die
onderlinge omgang wees? Watter soort omgang gaan dit wees? Op
watter vlak gaan die omgang plaasvind? Op die vlak van vriende,
broers en susters? Ek hoop inderdaad dat ons op die vlak met
mekaar kan omgaan. Maar is dit alles? Is dit wat ons omgang gaan
bepaal, bestempel? Om die vrae te beantwoord moet ons eers
antwoord gee op ander vrae: Hoe sien ons mekaar? Hoe sien julle
my as predikant? Hoe sien ek julle as gemeente? Wat is ons ware
aard en posisie? Volgens God die ontwerper en skepper van ons
verhouding? En wat is die eerste wat ons vir mekaar te sê het?
Dis belangrik om reeds by die begin die regte toonhoogte aan te
slaan. Sodat ons tot onderlinge seën en bemoediging saam mag
leef en werk.

Die inleidende woorde van Paulus se brief aan die Korintiërs
kan ons help by die beantwoording van daardie vrae. Na die
gewoonte van sy dae noem Paulus in die begin van sy brief die
afsender, die geadresseerdes en die groet. Hy stel homself en die
gemeente in die lig van Christus se verlossingswerk. So tipeer hy
na goddelike waarheid sy eie posisie en dit van die gemeente.
Waarna hy die gemeente groet met woorde van genade en vrede.

Kom ons luister na wat die Gees vir die gemeente wil sê. Ek
verkondig vir julle:

Deur sy apostel Paulus groet Christus sy heilige gemeente te
Korinthe

Ons let op:

  1. die apostel
  2. die gemeente
  3. die groet

Wanneer Paulus aan die gemeente van Korinthe skryf, stel hy
homself eers voor as ’n geroepe apostel. Hy skryf maar nie
as ’n vriend aan vriende of as ’n broer aan broers nie.
Nee, Hy skryf as apostel van Jesus Christus. Hy het ’n
opdraggewer wat aan Hom gesag verleen. Sy opdraggewer is niemand
minder as Jesus Christus nie. En sy opdrag is om Christus se
woorde vir hulle deur te gee. Vir hom geld die woord van die Here:
wie na u luister, luister na My!

Waarom begin Paulus om homself as apostel van Christus voor te
stel? Is dit omdat hulle in die gemeente van Korinthe nie weet
dat hy ’n apostel is nie. Nee, juis in Korinthe moet dit
bekend wees. Paulus het daar een en ’n halwe jaar gearbei.
Die gemeente het deur sy arbeid ontstaan. Paulus wil sy lesers
vanaf die begin van sy brief goed duidelik maak: wat ek in
hierdie brief gaan skryf, dit skryf ek as gesant van Christus, in
sy opdrag. Daarin kom Christus self na jou toe. Jy kan my brief
dus nie aan die kant skuif met die gedagte: ag dis net Paulus wat
praat, Paulus kan my meer vertel. Nee, Paulus se woord is die
woord van Jesus self.

So was dit toe. So is dit vandag nog. Daar is vandag mense
– ook mense wat hulleself Christene noem – wat maak
asof die briewe van Paulus net van die feilbare man Paulus kom.
Hulle praat dan oor Paulus se tydgebonde opvattings oor
homoseksualiteit, oor die posisie van die vrou, oor die orde in
die kerk of oor die leer van die versoening. Jy sou jou vandag
nie aan Paulus se opvattings hoef te steur nie. Jy sou dit rustig
met ’n knippie sout kan neem. So het Paulus toe gedink. Maar
ons weet vandag beter.

Maar Paulus self sê heel nadruklik: besef wel, ek skryf as
apostel van Christus Jesus. Daarom geld vir die Korintiërs, maar
ook vir ons vandag: luister na wat die gevolmagtigde van die Here
Christus skryf. Christus self spreek deur hom. Vergeet dit nie
wanneer jy hierdie brief van Paulus lees nie. Deur sy arbeid wil
Christus ons bemoedig, troos en vermaan sodat jy vir en met die
Here bly lewe. Want die evangelie bring heil vir die wat daarna
luister.

Maar ook, as jy nie luister nie, dan verwerp jy daarmee die
woord van Christus self. Dit is die erns van die feit dat Paulus
homself as ’n geroepe apostel van Christus aanbied.

Die gemeente van Korinthe wou nie direk die gesag van Christus
ignoreer nie. Hulle wou Christus wel dien, hulle was mos
Christene? Maar hulle wou God op hul eie wyse dien. Daarom was
daar faksies in die gemeente. Daar was lede wat Paulus nie kon
waardeer nie en nie na hom wou luister nie. Nee, dan liewer die
leraar Apollos wat die gemeente na Paulus se vertrek gedien het.
Wat kon die man preek. ’n Geweldige redenaar. Vergeleke met
Apollos was Paulus maar niks nie.

Dan was daar ook lede wat Cefas oftewel Petrus as hul held
beskou het. Dit was nou ’n ware apostel. ’n Rots van
’n man. Het Christus self nie vir hom gesê: op hierdie rots
sal Ek my gemeente bou nie? Petrus was vir hulle alles en Paulus
was maar niks nie.

Dan was daar ook nog gemeentelede wat nie baie van enige
apostels of leraars wou weet nie. Ons is van Christus het hulle
gesê. Ons is verlos en daarom vry van enige ampsdraer. Die
ampsdraers staan ons Christelike vryheid net in die pad. Ons is
vry van enige wette of reëls. Ons leef en aanbid soos die Gees
dit vir ons wys.

In die eerste woorde van sy brief kom Paulus ook daardie
laaste groep mense teen. Julle maak ’n groot fout, sê
Paulus feitelik. Dis waar dat dit op Christus aankom. Dat jy Hom
moet ken en dien. Maar as jy jou van die gesag van die apostels
losmaak, dan maak jy jou ook los van die gesag van Christus. Ek
Paulus is deur Christus self geroep. Dit het gebeur deur die wil
van God. God wil dit ter wille van julle verlossing. Ek, Paulus,
praat en skryf, met die gesag van Christus self, verlossende
woorde.

Brs en srs, seuns en dogters, dis waar jul predikant is nie
’n apostel nie. Die apostels het die evangelie deur
openbaring van Jesus Christus ontvang. Hulle het met hul
getuienis die fondament van die kerk gelê. Julle huidige leraar
kom nie met direkte openbaringe van Christus nie. Hy kan net bou
op die fondament wat die apostels en profete reeds gelê het.
Maar hy bly ’n gesant van Christus om daardie woord, wat
reeds bekendgemaak is, deur te gee en toe te pas. Onthou hy is
deur God self tot hierdie diens geroep. Deur hom wil Christus
self na julle toekom, julle in die prediking aanspreek, julle
onderrig op die katkisasies, julle troos en vermaan. Laat dit tog
in die eerste plek ons omgang met mekaar bepaal. Ook al wil ons
ook as vriende en broers en susters met mekaar omgaan. Maar dis
nie die eerste en tiperende nie. God self wil julle deur my
tegemoet tree en aanspreek. Neem daarom die woorde aan wat ek
volgens die Skrif tot julle spreek. Sien daarin Christus se goeie
sorg vir julle, ook al sou jy liewer iets anders hoor of die
boodskap op ’n ander manier wil ontvang. Dis die vlak waarop
Christus ons aan mekaar verbind het.

Gemeente, Paulus voeg nog by sy naam as afsender die naam van
Sosthenes, sy medewerker. Hierdie Sosthenes moet ’n bekende
by die Korintiërs wees. Dit is moontlik dieselfde Sosthenes wat
in Hand 18:17 as die hoof van die sinagoge genoem word. Daardie
Sosthenes het Crispus as hoof van die sinagoge opgevolg toe
Crispus hom tot Christus bekeer het. Indien ons teks van
dieselfde Sosthenes praat, dan het ons hier te make met die
bekering van twee leidende persone uit die Joodse gemeenskap.
’n Wonder van God wat wys dat jy nooit te klein van God moet
dink nie. God kan selfs groot leiers van die opposisie, dink hier
ook aan Paulus self, tot bekering bring en tot sy instrumente
maak.

Die noem van Sosthenes in ons teks wys ook daarop dat Paulus,
dat ampsdraers nie op hul eie staan nie. Hulle verkeer nie in
’n ivoortoring hoog bo alles en almal verhewe nie. Hulle ken
in hul diens ook kollegialiteit. Hulle werk saam met ander. Soos
die predikant, ook al is sy amp nie gelyk aan dit van die
ouderlinge en diakens, tog saam met hulle werk. God gee ook aan
sy leiers medewerkers, kollegas sodat die las saam gedra word.

Nou die tweede gedagte: die gemeente.

As geadresseerdes noem Paulus die gemeente van God wat in
Korinthe is. Ook die geadresseerdes is tot iets groots gekies.
Paulus mag ’n gesant van God wees. Die gelowiges mag ’n
vergadering van God wees. Die betreklik kleine groep mense in die
groot wêreldstad Korinthe vorm die Nuwe Testamentiese volk van
God.

Dat daar in die groot wêreldstad Korinthe ’n kerk
bestaan, is op sigself ’n groot wonder van God. Die stad
Korinthe is berug vanweë sy sedeloosheid. Soos jy van enige
groot moderne stad, dus ook van Johannesburg, kan verwag, was
Korinthe vol goddeloosheid en bandeloosheid. Alles was gerig op
vermaak en eer, geld en mag.

In daardie moderne wêreldstad is daar egter ’n gemeente
van God. Ook in daardie stad werk die Gees van Christus deur die
prediking van die evangelie. En wanneer die Gees werk dan is niks
te wonderlik nie. Dan gebeur dit dat selfs in ’n stad waarin
soveel goddeloosheid heers, ’n gemeente van God ontstaan en
in stand gehou word.

Wat ’n bemoediging ook vir ons hier in Johannesburg. Ons
kyk met sorg na die toename van goddeloosheid en ongeloof in ons
groot moderne stad. Waar draai alles om in hierdie stad? Gaan dit
nie om geld en mag, eer en genot nie? Alles draai om die mens en
sy behoeftes. Pasop dat jy nie deur die stroom meegesleep word
nie. Maar moenie moed verloor nie en tou opgooi nie. Die
verhoogde Christus werk ook in ons tyd deur die krag van sy Gees
en Woord. Daarom sal die poorte van die hel die gemeente van God
nie oorweldig nie. As jy maar luister na wat die Gees tot die
gemeente sê en die Gees in sy werk volg.

Die gemeente is die gemeente van God. Gelukkig maar. Die
gemeente is nie die gemeente van ’n sekere persoon, leraar
of gesin nie. Ons praat dikwels te lossies van my kerk of ons
kerk. Paulus korrigeer ons deur daarop te wys dat die kerk die
kerk van God is. Baie probleme in ’n gemeente kan ontstaan
deur ’n selfsugtige besitlikheid. Daardeur gaan ’n mens
stry vir sy eie saak pleks vir God se saak. Die wêreld verwag
dit van mense, van menslike sisteme, menslike metodes, menslike
wysheid en kragte. Hulle sien net die horisontale vlak. Daarom
het hulle geen toekoms nie.

Ons mag egter omhoog kyk en Christus sien, Christus wat regeer.
Daarom word die kerk ook gekenmerk deur die aanroep van die naam
van die Here. (Dink aan die woorde van vers 2: saam met almal wat
die Naam van onse Here Jesus Christus aanroep). Om die naam van
die Here aan te roep, kenmerk die kerk. Jy verwag dan alles nie
van benede nie, nie van mense nie, maar van bo, van God. Ons mag
leef onder die beskerming van God ons Vader in Christus. Dit is
vir ons die belangrikste werklikheid. In die geloof mag ons leef
en werk. By elke wisseling van omstandighede en by elke wisseling
van die wag. Omstandighede kan vinnig verander. Mense kom en gaan,
maar God bly ewig bestaan, God op wie ons altyd kan staatmaak.
Sou ons dan moed verloor?

Paulus noem die lidmate van God se gemeente geheiligdes in
Christus Jesus en geroepe heiliges. Merkwaardig dat Paulus
’n gemeente waarin soveel fout is, heiliges noem. Is hulle
geheiligdes, geroepe heiliges? Hulle onder wie daar soveel
onheilig gedrag is? Dat hulle heilig is wil nie sê dat hulle
volmaak is nie. Ook nie dat hulle uit hulleself die kwaliteit van
heiligheid sou besit nie. Let op die woordjie geheiligdes. Hulle
is geheiligdes. Dit is die werk van God. God het hulle geroep.
God het hulle vir Homself afgesonder. Afgesonder van die wêreld
om vir Hom te lewe. Dit is ’n saak van God se genade. Dit
blyk ook duidelik uit die feit dat die lidmate in Christus
geheilig is. Indertyd is die lidmate deur die krag van die
evangelie tot die geloof in Christus gebring. So is hulle geroep.
Uit die duisternis tot die lig. En sinds die dag geld vir hulle
dat hulle in Christus is. Hulle behoort voortaan by Christus. In
Christus is hulle nuwe mense.

Geheiligdes in Christus Jesus, geroepe heiliges. Wat ’n
pragtige tipering van die lidmate van Christus se gemeente. Dit
is jy deur die geloof in Christus. Dit is jy as jong mens
kragtens die verbond van genade. Afgesonder deur die roeping van
die evangelie. Daarin lê nie net ’n blywende voorreg nie,
maar ook ’n hoë verpligting om nou ook as afgesonderde
mense vir die Here te lewe. Wees tog wat jy in Christus is. Wys
in jou daaglikse lewe dat jy aan Christus behoort. Leef tot eer
van Hom wat jou uit die duisternis na sy wonderbare lig geroep
het.

Die lede van die gemeente Korinthe word deur Paulus
geheiligdes in Christus genoem, geroepe heiliges. Wanneer jy sy
brief lees, dan is dit duidelik met hoeveel sondes en gebreke
juis hierdie gemeente moet worstel. Hoe het Paulus hulle nie moet
vermaan nie. En tog – dit is genade – heiliges. In
Christus. Elke dag weer mag hulle rus in Christus se soenoffer.
En elke dag weer mag hulle weer vra om krag om as toegewyde
Christene te lewe.

So is dit vandag nog. Julle is geheiligdes. Nie omdat julle so
heilig lewe nie, sodat julle sou kan sê: kyk, wat ons gepresteer
het. Nee, julle is geheiligdes in Christus, afgesonder deur die
roeping van die evangelie. Besef tog jul voorreg en jul
verantwoordelikheid.

Wanneer Paulus nadink oor die verhouding tussen die gemeente
en homself, dan speel die roeping van God ’n prominente rol.
U is geroepe heiliges, sê Paulus, soos ekself ’n geroepe
apostel is. Die roeping van God is wat ons verhouding bepaal.
Soos God my tot apostel geroep het, so het God elkeen van julle
geroep om heiliges te wees, om te geniet van die gemeenskap met
sy Seun.

So is dit ook vandag in ons verhouding as predikant en
gemeente: As God my nie sou geroep het nie, sou ek geen gesant
van Christus geword het nie. As God julle nie sou geroep het nie,
sou julle geen gemeente van Christus gewees het nie, ja, sou ons
nie aan mekaar verbind wees nie. Maar nou is die roeping van God
dit wat ons verbintenis tot stand gebring het en onderhou. God
roep elkeen van ons tot diens. Ek, die leraar, tot die besondere
amp en diens. Julle as lidmate tot die amp en dienswerk alle
gelowiges. Laat broers en susters, seuns en dogters hierdie
roeping van God ons verhouding en onderlinge omgang dan ook
bestempel en bly voed. Sodat ons op die gemeenskaplike basis van
God se roeping mekaar met respek kan bly aanspreek, troos en
vermaan. In die besef dat God nog steeds bly roep vir my as
leraar en vir julle as gelowiges. Albei word ons tot diens geroep.

Paulus voeg nog die woorde aan die teks toe: saam met almal
wat die naam van ons Here Jesus Christus in elke plek aanroep,
hulle sowel as onse Here. Soos Paulus sy eie dienswerk in vers 1
in kollegiale verband geplaas het, so plaas hy nou ook die werk
van die gemeente in ’n breër verband. Dis altyd goed om van
daardie breër konteks bewus te wees. Soos Paulus nie heeltemal
op sy eie, op ’n eiland werk nie, so is ons as gemeente ook
nie op ons eie nie. Ons staan binne die verband van almal wat die
Here na waarheid ken en dien, waar hulle ook al mag wees. Dis nie
net ons voorreg om geroepe heiliges te wees nie. Ons deel die
voorreg met almal wat die Naam van die Here Jesus aanroep.

Laat hierdie werklikheid ons as klein gemeente te Johannesburg
voortdurend bemoedig. Ons is uiteindelik deel van ’n baie
groot gemeenskap, van die kerk van alle plekke en tye, van
’n skare wat niemand kan tel nie. Ons hoef werklik nie
minderwaardig van onsself te dink nie. Wie durf minderwaardig oor
die kerk van Christus te dink? Die feit dat ons deel is van die
groot skare wat die Here as die enigste redder en heerser aanbid
mag ons dus bemoedig. Dit moet ons ook opskerp. Dit sou nie reg
wees om te maak asof Christus nie ander gelowiges en gemeentes
het nie. Moenie dink dat die evangelie by jou begin het of alleen
by jou gekom het nie, sê Paulus later vir die Korintiërs. Ons
leef nie op ’n eiland nie. Ons leef in die breedte van
Christus se katolieke kerk. Onder die een Here. Daarom het ons
ook ’n roeping na mekaar toe, hou ons rekening met mekaar en
help ons mekaar as kerke van Christus. Daarom wil ons die eenheid
in Christus ook bly soek en demonstreer.

So kom ons by die groet self: genade vir julle en vrede van
God onse Vader en die Here Jesus Christus. Dis die eerste woorde
wat God se volk mag hoor. Genade en vrede. Is dit die woorde wat
julle soek, wat julle graag wil hoor? Genade wys mos op ’n
onverdiende guns. Genade wys mos op ons sonde en skuld. As God
ons ons verdiende loon sou gee, dan sou ons ewig verlore wees.
Genade breek dus alle hoogmoed en selfvoldaanheid stukkend.
Genade leer ons om met leë hande voor God te staan. Is dit wat
jy wil hoor? Dis wat jy moet hoor en mag hoor. Dis die
geweldigste geskenk wat jy mag ontvang. Onverdiende guns van God.
Hy wys my nie weg nie. Hy omarm my in sy guns Hy sê: kom by My.
Ek het jou lief. Ek wil jou red. Nie omdat dit met jou sondes
meeval nie. Ook nie omdat ek die sonde deur die vingers sien nie.
Nee, omdat Christus die skuld betaal het. Daarom genade en vrede
van God onse Vader en die Here Jesus Christus. Jy mag vryuit gaan
danksy die liefde en verlossingswerk van die Vader en die Seun.
En as gevolg van die genade, kom daar weer die vrede. Die vrede
met God. Die herstel van alle verhoudings. Dan kan jou lewe weer
bloei, floreer in die lig van God se vriendelike aangesig.

Broers en susters, kan daar ’n boodskap wees wat mooier
en ryker as dit is? Dit verneder ons om ons juis te kan verhoog.
Wat ’n geweldige boodskap waarmee Christus elke erediens wil
laat begin. So begin ons met mekaar. Met sulke ryke beloftes van
vergewing en vernuwing. Dit gee die toon aan vir ons omgang met
mekaar. Laat daardie seëngroet van die Here jul lewens en gedrag
dan ook bepaal. Aanvaar daardie woorde in geloof. Leef daaruit en
neem mekaar daarin saam as geroepe heiliges.

AMEN

Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)