As iemand dors het, laat hom na Christus toe gaan en drink

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2007-05-27
Teks: 
Johannes 7
Preek Inhoud: 

Johannes 7:37b, 38

Ds C Kleijn - Sondag 27 Mei 2007

Lees: Jes 55:1-3; Hand 2:14-23,32,33; Joh 7:37-39;
Jes 44:1-5 (1ste tafel); Joh 4:10-14 (2de tafel).
Sing: Ps 143:5,7,8; Ps 36:3 (na wet); SB 14 (na
preek); Apost Gel; SB 24:3 (voor HN); SB 24:6 (1ste tafel); SB 24:7
(2de tafel); SB 30:1-4.

Tema: As iemand dors het, laat hom na Christus toe
gaan en drink

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Op die laaste groot dag van die fees roep Jesus uit: “As
iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!”
Opvallende woorde op daardie laaste dag van die huttefees. Die
Huttefees was ’n vrolike fees vir die volk van God. Dit word
selfs die fees van die Jode genoem. Dit is uitbundig gevier.
Mense het hulle gelukkig en ryk gevoel. Maar dan hoor ons Jesus
op die laaste groot dag van die fees, terwyl die fees sy klimaks
bereik het, uitroep: “As iemand dors het laat hom na My toe
kom en drink.” Wie praat nou op daardie uitbundige fees van
dors hê?

In die feesdae wat daaraan voorafgegaan het, was daar ’n
vaste water seremonie gewees. Op elke dag van die fees het die
feesgangers water by die Siloamput gaan haal en die na die tempel
toe gebring. Die water is dan by die altaar uitgegooi terwyl die
volk sing, takkies swaai en sitrusvrugte in die lug hou. Die
water was simbool van God se goeie sorg.

Maar dan praat Christus van dors hê. Is daar iemand daar wat
dors ly? Die vraag moet reeds skokkend vir die feesgangers wees.
Jesus suggereer dat mense dorstig is. Daarby sluit Jesus aan by
die taal van Jes 55: “O almal wat dors het, kom na die
waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom koop
sonder geld en sonder prys, wyn en melk.” Dorstig wil sê
dat jy diep in die ellende verkeer, in lewensgevaar. Water is
immers die eerste lewensbehoefte in ’n warm ’n droog
land. Wie kan sonder water leef? Soos Jesaja wys Christus hier op
geestelike ellende. Dit is die ewige dors vanweë die afval van
die lewende God. Dat jy sonder die gemeenskap met God lewe. Moet
Jesus hierna verwys op die hoogtepunt van die fees?

Dan kom daar nog ’n volgende skok. “As iemand dors
het, laat hom na My toe kom en drink.” Dis die taal van Jes
55. Maar wie nooi die mense in Jes 55 uit om na Hom toe te kom?
Daar is dit die Here God self. Hy is die lewensbron. By Hom is
daar bevryding van sonde en ellende, by Hom is ewig heil. Maar
nou haal Jesus daardie woorde van Jes 55 na homself toe. Kom na
My toe. Jesus maak asof hy die Here God self is. Hy sê dinge wat
net God kan en mag sê.

Mense, besef tog: hier het julle te make met God wat in die
vlees verskyn het, die vleesgeworde Seun van God. Wil jy in God
se heil deel, wil jy uit die lewensbron drink, dan moet by Jesus
wees. Die mens Jesus, die gekruisigde Jesus. Netnou sal Hy op
Gólgota die goddelike bronne van lewe ontsluit.

“As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!”
Dis, gemeente, die sentrale boodskap van die evangelie. Die kern
van woord en sakrament. O almal wat dors het, kom na die waters,
kom na My toe, kom na Jesus toe en julle siel sal lewe, ewig lewe.

Broer, suster, erken tog dat jy dors ly. Erken jou ewige
honger en kommer. Dat jy nie jouself kan red nie. Dat jy Christus
nodig het. En kom na Hom toe. Daar is ’n uitweg uit die dors,
uit die ewige honger en kommer. Jy mag drink uit die bron van
lewe. Sommer so, gratis. Kom, koop sonder geld en sonder prys.
Jesus uitnodiging ken geen voorwaardes vooraf nie. Niemand hoef
te sê: Ek is te sleg, ek is nog nie vroom genoeg nie. Want hulle
wat dors het mag sommer kom en drink, verniet. Jy hoef net te kom,
te luister, te glo, stil te aanvaar wat God in Christus wil skenk:
vergewing van sondes en ewige lewe.

Dalk het jy ’n sekere skroom om na Jesus en so ook na sy
Nagmaal toe te gaan. Mag jy wel? Is jy wel goed genoeg daarvoor?
Kom, nooi Jesus. Kyk nie na jouself nie, kyk na My. Soek nie jou
vrymoedigheid om aan te gaan by jouself nie. My uitnodiging is
tog genoeg? Juis hulle wat dors het, is by my welkom. Jesus sit
die deur wyd oop. Kom na My toe. Daarin klink die stem van God.

Dan hoor ons ook Christus se toesegging: “Hy wat in My
glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy
binneste vloei.” Jesus het uitgeroep: Kom. Die tweede
gedeelte van die teks maak duidelik dat dit gaan oor ’n kom
in geloof. Hy wat in My glo, sê Jesus. Jy kom met ’n oop
hart en uitgestrekte hand om aan te gryp wat Jesus bied. Die heil
van God. die water van die lewe.

Die water word dan ook ’n krag in jou. Jy drink die water
van die lewe. Dit neem jou dors weg. Maar nie net dit nie. Dit
word in jou tot strome van lewende water wat uit jou binneste
vloei. Dis nie net jou dors wat verdwyn nie, ook jou dorheid.

Die beeldspraak word onmiddellik na ons teks verklaar:
“Dit het Hy gesê van die Gees wat die sou ontvang wat in
Hom glo; want die Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie
verheerlik was nie.” Dit gaan hier dus oor die Gees van
Christus soos hy met Pinkster oor die hele gemeente uitgestort
word. Die Heilige Gees was daar ook wel in die Ou bedeling maar
daardie Gees sal Hom na Christus se verheerliking baie
uitbundiger en oorvloediger bewys. Die koms van die Heilige Gees
tydens die Pinksterfees en sy werksaamhede daarna hou direk
verband met Christus se hemelse glorie. In sy Pinksterpreek
bevestig Petrus dit vir ons wanneer hy sê: “Hierdie Jesus
het God opgewek, waarvan julle almal getuies is. Nadat Hy dan
deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die
belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dit uitgestort,
wat julle nou sien en hoor.” (Hand 2:32,33).

“Hy wat in My glo, soos die Skrif sê, strome van lewende
water sal uit sy binneste vloei.” Dis opmerklik dat Christus
hier praat oor ons binneste waaruit stromende water vloei. Die
Gees werk blykbaar so radikaal dat jy as gelowige tot in die
diepste van jou wese daarmee deurdrenk word. Wanneer Jesus jou
dors les, dan doen Hy grondig werk. Hy pak die kwaal tot in die
wortel aan: ons bose hart. As jy in Christus glo, dan neem die
Gees daar intrek om jou radikaal te verander. Om vrugte van die
Gees te laat ryp. Jy word ’n ander, nuwe mens. ’n Mens
wat uit die krag van die Gees weer vir God gaan lewe. Dit gebeur
alles volgens die Skrif, soos God dit in die Skrif reeds op
verskeie plekke aangekondig het.

Wanneer die Gees jou hart tot ’n tempel maak, dan kom
daar in jou strome van lewende water. Terwyl Christus self die
oorspronklike bron van lewende water is, word jy as gelowige
’n soort kanaal waardeur dieselfde water in groot
hoeveelheid na ander toevloei. Die water bly nie in jou binneste
stilstaan nie, maar stroom oor na jou direkte omgewing. Jy word
self ’n lewensbron waardeur ander verkwik word. Jy kan nie
swyg oor dit waarvan jy vol is nie, oor jou Verlosser nie. Jou
getuienis bring lewe in dooie harte. So kom daar groei,
geestelike groei, in die breedte en in die diepte. Jesus laat dit
Pinkster wees vir elkeen wat glo. Hy stort sy Gees uit, nie
mondjiesmaat nie maar in groot oorvloed.

Daarvoor moet jy by Christus wees. Christus koppel dit
nadruklik aan Homself: “Hy wat in My glo: strome van lewende
water sal uit sy binneste vloei.”

Daarom, broer, suster, gaan na Jesus toe. Met jou sonde en
skuld. Maar ook met jou geestelike slapheid. Deur sy dood het
Christus vir ons die lewendmakende Gees verwerf. ’n Mens kan
somber raak wanneer jy al jou mislukkinge in die lewe met God
sien. Vlug maar na Christus toe. Hy kom sy toesegging na: die
fontein van die Gees met die strome van lewende water. Net so kan
jou lewe weer bloei vir God. So sal jou lewe vir God en vir jou
naaste bloei, tot eer van God en tot heil van jou naaste.

AMEN

Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)