Ons God is drie in een

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2007-04-15
Teks: 
Sondag 8
Preek Inhoud: 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Is die onderwerp van Sondag 8 nie baie leerstellig en moeilik begrypbaar nie? Wat maak jy met hierdie leer van die Drie-eenheid? Is dit nie iets wat ons beter aan die teoloë kan oorlaat nie?

Vanweë daardie gevoelens is dit goed om vantevore duidelik te stel dat jy nie oor God moet dink en praat op ’n abstrakte manier nie. Kom ons bly by die konkreetheid en eenvoud van die Skrifte. Dan praat jy nie oor die drie-enige God nie. Jy praat dan van jou God as Vader, Seun en Heilige Gees. Ons drie-enige God is nie ’n vaag en abstrakte God wat ver van ons lewe verwyder is nie. Nee, Hy is die God wat omgang met ons wil hê, aan ons verbind wil wees juis as Vader, Seun en Heilige Gees.

Waarskynlik is elkeen van julle gedoop. Water is op jou voorhoof gesprinkel. By die geleentheid is jou volle naam genoem. Saam met die naam van God, ook sy volle naam: Vader, Seun en Heilige Gees. Julle is vir die lewe aan mekaar verbind: ’n klein mensekind en die ewige God. Jou naam is verbind met die een naam van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Onthou ook, broeders en susters, dat die Heidelbergse Kategismus jou belydenis is. Jy is vanaand besig met jou eie belydenis. Dit wat jy met die hart glo en met die mond bely. Ons is nie besig met ’n saai teorie nie, maar met iets waarby jy baie persoonlik betrokke is. Die goeie nuus van jou verlossing. Van jou God. Ons glo in een enige goddelike Wese, wat uit drie Persone bestaan, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

So verkondig ek vir julle die evangelie van ons drie-enige God: Ons God is drie in een.

Hierdie waarheid word

  1. geopenbaar in die Skrifte
  2. bestry in die geskiedenis
  3. ervaar deur ware gelowiges

Waar staan dit in die Bybel dat God ’n drie-enige God is? Probeer maar om ’n teks te vind waarin die woord Drie-eenheid gebruik word. Jy sal so ’n teks nie vind nie. Daaruit konkludeer sekere mense: die leer van die Drie-eenheid is net ’n konstruksie van geleerde mense. Dis ingewikkeld en onverstaanbaar. Los dit maar.

Maar, geliefdes, dat die woord Drie-eenheid in die Bybel nie voorkom nie, maak nie saak nie. Die Bybel is geen handboek wat die Christelike leer sistematies behandel nie. Die Bybel is juis nie ’n ingewikkelde handboek nie. Dis ’n boek waarin God wys hoe Hy met sy volk omgaan; hoe Hy vir hulle omgee en sorg dra; hoe Hy met die wêreld besig is. Wanneer die Here dit in sy woord wys, wys Hy ook wie Hy is. En wat Hy is: ’n drie-enige God.

Jy sien dit sodra jy die Bybel begin lees. Jy hoef dan nie ingewikkeld te doen nie. Jy hoef nie moeilike konstruksies te bedink nie. Dit val jou gewoon op dat die Here ’n drie-enige God is. Wanneer jy rustig die Bybel lees, kan jy dit nie misloop nie.

Slaan die eerste bladsy van die Bybel maar oop. “In die begin het God (enkelvoud) die hemel en die aarde geskape.” “En God het gesê: laat daar lig wees.” “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en dit wat baie goed.” Steeds in die enkelvoud. ’n Eenheid. Die een God het hemel en aarde en alles wat daarin is geskep.

’n Ander teks wat die eenheid noem is Deut 6:4: Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE. God se volk moet dit altyd onthou. Dit het as Israel se geloofsbelydenis gefunksioneer. Hulle leef onder heidene wat meerdere gode ken. Maar daar is net een God. Die HERE onse God is ’n enige HERE. Hy is nie net die enigste nie, maar ook een. Een in wese. Dit beteken dat God nie verdeel kan word nie. Jy kan nie ’n versameling van dele hê wat minder as God is nie, hulle saamvoeg en so een God kry nie. Hy is nie soos ’n legkaart nie. Ook nie soos ’n menslike liggaam wat bestaan uit verskeie organe, onderdele nie. Nee God is ondeelbaar. Hy is een.

Tog, gemeente, is dit vanaf die begin ook duidelik dat God meer as een is. Daar is ’n meervoud van Persone in die goddelike wese. Gaan maar terug na die eerste bladsy van die Bybel. Daar lees ons dat hierdie een God wat alles geskep het, met Homself oorleg pleeg. “En God het gesê: laat ons mense maak na ons beeld” (Gen 1:26). Let op die meervoud. Daar blyk meerdere persone in die Goddelike eenheid te wees.

Die Ou Testamentiese gelowige het geweet dat daar ’n meervoud in God was. Ja, hy het selfs ’n vae aanduiding gehad dat die een God drie is. Elke keer as die priester die volk geseën het, het hy die naam van die HERE mos drie maal herhaal. “Die HERE sal jou seën en jou behoud. Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.” En het Jesaja die serafs nie hoor roep: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare nie? Drie maal heilig is die HERE.

Dit alles en nog meer was ’n voorbereiding vir die waarheid wat in die Nuwe Testament ten volle geopenbaar is. God het Homself in die Ou Testament bietjie bietjie geopenbaar. Hy het Homself uiteindelik ten volle bekendgemaak in die Seun. So kan ons nou die Ou Testamentiese verwysings na die drie persone in die een God makliker herken. Ons sien die drie persone in aksie by Jesus se doop in die Jordaan (Matthéus 3). Ons hoor die stem van Vader uit die hemel: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.” Gelyktydig sien ons die Heilige Gees soos ’n duif op Jesus neerdaal. Kort daarna lei die Heilige Gees Jesus die woestyn in om deur die duiwel versoek te word. Dis duidelik: daar is drie onderskeie Persone. Daarom beveel die Here Jesus sy dissipels om te doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Opnuut is daar sprake van eenheid (daar moet in die een Naam gedoop word) en van drieheid (in die een naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees)

So kan die Vader in sy liefde vir die wêreld sy Seun gee sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Johannes 3:16). Maar die Here Jesus kan ook sê: Ek en die Vader is een (Johannes 10:30). En wanneer die Here Jesus opvaar na die hemel stuur Hy sy Heilige Gees wat ook God is.

’n Mens kan dit nie ontken nie: die enige HERE maak homself bekend as die drie-enige God. Daarom is daar aan die einde van die erediens die trinitariese seën: “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees is met elkeen van julle.” Dis hoe God Homself bekend gemaak het. Dis hoe Hy met jou deur die lewe gaan. Vanaf die begin toe jy gedoop is. En na elke diens wanneer jy ’n nuwe week ingaan.

Gemeente, ons het nou gesien hoe die waarheid God is drie in een in die Skrifte geopenbaar word. In die tweede punt wil ons sien hoe die waarheid in die geskiedenis bestry word.

Die Drie-eenheid bly moeilik om te verstaan. So het baie mense in die geskiedenis hierdie leer verklaar op ’n wyse wat nie reg aan die Skrifte doen nie. Mense probeer voortdurend om hierdie leer vir die menslike verstand aanneemlik en grypbaar te maak. Kom ons kyk na die belangrikste slaggate waarin mense geval het. Ons kan dit verdeel in drie groepe.

In ’n poging om reg te doen aan die Skriftuurlike waarheid dat God drie is, het sommiges daarby uitgekom om die eenheid van God te ontken. Hulle het in die slaggat geval om te dink dat die drie Persone drie aparte gode is. Dis die dwaling van die triteïsme. Hulle glo in drie gode. Ons sal waarskynlik nie gou in hierdie slaggat val nie. Tog is daar baie Christene wat geneig is om meer oor God te dink in terme van sy drieheid as van sy eenheid. Die drieheid word dan benadruk ten koste van die een in drie en drie in een. Dit het dan ook gevolge vir hul aanbidding van God en hul gebedslewe.

Na die triteïste is daar die Unitariërs. Hulle wil die eenheid van God verdedig maar hulle ontken die godheid van Christus en die godheid van die Heilige Gees. Slegs God die Vader sou God wees. Die Seun en die Gees word wel as belangrik beskou, maar hulle is nie deel van die Goddelike wese nie. Daarmee word daar ’n kloof geslaan tussen die Vader aan die een kant en die Seun en die Gees aan die ander kant. Dit sou beteken dat die Seun en die Heilige Gees ondergeskik aan die Vader is. Hierdie dwaling handhaaf die drieheid ten koste van die eenheid. Arius in die vroeë kerkgeskiedenis het dit reeds geleer. Vandag word dit verdedig deur die Jehova Getuies en baie moderne liberale “Christene”. Die stryd op hierdie punt is beslis nie oor nie. Ons sal moet bly vashou dat Jesus Christus God is en dat die Heilige Gees God is net soos die Vader God is.

Dan is daar die derde groep wat ons Modaliste noem. Hulle sien God as een Persoon wat soos ’n akteur beurtelings drie verskillende rolle speel. In die OT sou Hy as die Vader verskyn, in die NT voor Pinkster as die Seun en na Pinkster as die Heilige Gees. Omdat die drieheid hier beskou word as net drie wisselende uitdrukkingsvorme van die een goddelike Persoon noem ons hierdie dwaling modalisme.

Hier word die eenheid gehandhaaf ten koste van die drieheid. Die waarheid dat daar in die een God drie onderskeie Persone is word ontken. Vir hulle is daar net een Persoon wat drie verskillende rolle speel. Hieruit volg dat die Persoon wat aan die kruis gesterf het, eenvoudig die Vader was, wat besig was in Sy rol as verlosser. Hierdie gedagte vind ’n mens soms terug in Christelike gebede. Jy begin dan jou gebed met die aanroeping van God die Vader. Kort daarna dank jy Hom dat Hy vir jou aan die kruis gesterf het. So val jy in die slaggat om dinge van die Vader te sê wat net van die Seun gesê kan word. Net die Seun het immers aan die kruis gesterwe en nie die Vader nie. Gelukkig kyk God na ons hart en weet Hy wat ons bedoel. Maar laat ons ook oppas hoe ons bid sodat ons nie verkeerde gedagtes oor God verwoord nie.

Nou die derde gedagte van die preek: die waarheid God is drie in een word deur die ware gelowige ervaar.

Hoe leer ons God ken? As kind leer jy God veral as jou Vader ken. Hy is sterk en magtig. Hy het my gemaak. Hy sorg vir my. Deur my opvoeding, via ouers en onderwysers, het ek God leer ken as die groot Skepper. Ek het toe gedink dat my aardse vader baie sterk was en my onderwyser baie slim. Maar ek het leer ontdek dat God baie sterker is, selfs almagtig, en baie slimmer, Hy weet werklik alles. Aan Hom kan ek myself toevertrou. As ’n Vader sorg Hy vir my. Hy skenk die goeie en gebruik die kwade. Agteraf sien ek hoe Hy die kwade inderdaad tot my heil aangewend het. By Hom soek en vind ek leiding en geborgenheid. So ervaar ek voortdurend God die Vader in my lewe. Vir ’n kind is God die Vader konkreet: God bo ons.

Ek het in die loop van my lewe steeds meer en meer leer nadink oor myself. As tiener het ek baie gehad om mee klaar te kom. Gevoelens van minderwaardigheid, spanning, ontdekking van my moontlikhede en grense. Dit was nie altyd ewe duidelik vir my dat God vir my sorg en my liefhet nie. Ek ervaar ook die afstand tussen die heilige God en myself met my verwarde gedagtes. My sondes pla my. Angs bekruip my. Ook eensaamheid. Hoe geweldig is dit dan dat God na my toekom in die Seun. Hy het mens geword. Hy verstaan my. Hy kan met my meevoel. In Hom is daar vergewing, bevryding. Hy het siekes genees. Sondaars het vergewing ontvang. Nee, ek sou hier nie net in die verlede tyd moet praat nie. Hy is nog so vandag. Na sy dood het Hy opgestaan. Hy leef. Hy is God wat na ons toekom en ons saak verdedig. Christus het op die kruis gesterwe. Hy bevry my van die mag en vloek van die sonde en van Satan. In Hom kan ek voor God bestaan. Ondanks my sondes. Sonder verskrikking. Hy is God met ons en vir ons. Immanuël, God met ons. .

Geliefdes, my verantwoordelikhede het met die tyd toegeneem. Ek moet my planne gaan verwesenlik, God se wil uitvoer. Maar hoe teleurstellend is dit dikwels nie. Ek kan net nie doen wat ek weet ek moet doen. Dan word die Heilige Gees en sy krag steeds meer ’n lewende werklikheid vir my. Ek hoef dit nie alleen aan te pak nie. Ek kan dit ook nie alleen aanpak nie. Ek mag iets ervaar van die kontak met God, iets van sy krag in my lewe. Ek ontdek dat ek die ondersteuning van die groot Trooster, die Gees van Christus, nodig het. Hy hou my in kontak met my gekruisigde en opgestane Here Jesus. Wanneer die stryd hewig word, die versoekings sterk, sien ek hoe nodig dit is dat God in my lewe aktief word. Dit doen die Heilige Gees. Hy beloof en gee ’n nuwe lewe, krag om te stry, geloof en groei. Sonder Hom het ek geen doel, geen krag, geen blydskap, geen volharding nie. Hy is God in ons.

Broer, suster, so kom ek dan in kontak met God op drieërlei wyse. Hy kom steeds nader en nader. Bo my as die Skepper, vir en met my as Verlosser en selfs in my as Trooster wat my geloof en volharding skenk. Hy is die begin en die einde. Skepper, Verlosser en Heiligmaker. Jy kan ook sê: God verbind homself aan my op drieërlei wyse. Deur die geloof het ek ’n drievoudige band met God.

Kort voor sy hemelvaart het die Here Jesus sy dissipels belowe: Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid. ... Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. ... In die dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.

Geliefdes, die Bybel maak dit duidelik dat agter hierdie drie verhoudings met my daar die drie verhoudings binne God self is. God die Vader is my liefdevolle Vader. Hy was altyd reeds Vader. Hy is nie net my Vader nie, maar Hy is in die eerste plek die ewige Vader van ons Here Jesus Christus. Daarom reik Hy uit na elkeen wat by sy Seun behoort.

God die Seun is die beeld van die Vader, die ewige Woord. Verstaan jy waarom die Bybel Jesus die Woord van God noem? Deur Jesus Christus gee God uitdrukking aan sy gedagtes. Hy is die beeld van die onsigbare God. In Hom sien jy God. Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon ... vol van genade en waarheid. Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, die het Hom verklaar.

En die Heilige Gees gaan uit van die Vader en die Seun. Hy is een met die Vader en die Seun. Daarom kan Hy ook werklik ons laat deel in Christus en in God. “Die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. ... Niemand weet wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel ontvang die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade skenk (1 Kor 2:10-12).

Die Drie-eenheid beteken dus nie net dat God drie gesigte het nie, drie maniere om met ons kontak te hê nie. So is God: Drie-enig. Vol van liefde en lewe. En so kom Hy ons lewe binne.

In sy werk is God eindeloos: Skepping, Verlossing en heiligmaking is sy werk. Maar agter die rykdom en oorvloed is daar die rykdom en oorvloed van sy eie wese. Hy is Vader, Seun en Heilige Gees. Skepper, Verlosser en Heiligmaker. So is God. Dis hoe Hy werk.

Vroeër of later kom jy dit as gelowige in jou verhouding met God agter. Jy ervaar in jou eie lewe die werke van die drie persone van die heilige Drie-eenheid. Jy ontdek dat hierdie leer nie net teorie is nie, maar dat God inderdaad so wonderlik ryk en gevarieer is. Hyself maak seker dat jy dit opmerk en ervaar. Nie elkeen sal alles verstaan wat ek vanaand probeer verklaar het nie. Daar kan gelowiges wees wat dink dat dit bo hul koppe gaan. Maar broer, suster, as jy God ken en liefhet dan sal jy altyd iets van die grootheid van God herken. Jy kan dit moontlik nie in woorde uitdruk nie. En al die woorde lyk miskien te moeilik vir jou.

Maar God is jou Skepper bo jou. Jy mag jou by Hom veilig voel. Hy sorg. Hy is die God wat jou verlos deur Jesus Christus. Jy mag ervaar dat Hy jou sondes vergewe en jou aanvaar. God vir en met jou. Hy is die God wat jou troos, in jou woon en jou nooit verlaat nie. Die God wat jou geloof en kragte gee. God in jou. Dis hoe Hy is en dis hoe Hy sal wees, ook vir my.

AMEN

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

Lees: Johannes 14:15-31; Sondag 8.
Sing: Ps 96:1,2; SB 24:1,6,7; Apostoliese Geloofsbelydenis; SB 50:1,4,7.
Tema: Ons God is drie in een
Hierdie waarheid word
geopenbaar in die Skrifte
bestry in die geskiedenis
ervaar deur ware gelowiges