Sondag 10
Ds C Kleijn - Sondag 6 Mei 2007
Lees: Jesaja 45:1-8; Nederlandse
Geloofsbelydenis, Artikel 13; Sondag 10.
Sing: Ps 33:1,2; Ps 33:5,6; SB 34:1,3;
Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 145:9-12.
Tema: Sonder God se beskikking gebeur niks nie
- God is in beheer
- Satan en sondige mense bly verantwoordelik
- God openbaar sy toorn
Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,
Die belydenis van God se voorsienigheid is vir God se kinders
n pragtige, troosvolle belydenis. Nadat ons goeie God ons
geskep het, het Hy ons nie aan die toeval of geluk oorgegee nie.
Inteendeel, Hy bestuur en regeer alles so dat in hierdie wêreld
niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tot in die kleinste
besonderhede van ons lewe is ons in God se hande. Christus praat
van mossies wat baie goedkoop is; twee vir n stuiwer. Tog
val so n voëltjie nie op die grond sonder die wil van God
nie. God het selfs elke haar van ons kop getel (Mt 10:29,30). Wat
n troos is dit om te weet dat ons volkome in Vader se hande
is.
Hierdie belydenis roep egter ook baie vrae en stryd op. Kom al
die verskriklike dinge waarvan ons daagliks in die koerante lees
en wat ons op die TV sien uit God se hand? Dink aan al die geweld
in ons land en in die wêreld, die kapings, die moorde, die
verkragtings, die armoede, die vigs pandemie, die volksmoorde in
Afrika en Europa ens ens. Kom al die verskriklike dinge uit God
se hand? Na die laaste wêreld oorlog, waarin miljoene Jode in
konsentrasie kampe omgebring is, het baie mense anders oor
hierdie saak gaan dink. Baie mense worstel met God se almag en sy
liefde. Hulle redeneer: Hoe kan jy sê God is almagtig en
liefdevol as daar steeds soveel boosheid in die wêreld is? As
God almagtig is kon Hy al die ellende verhinder het en as Hy
liefdevol is sou Hy dit gedoen het. Kan n mens dan nog wel
na die volksmoorde en ellende van die twintigste eeu bly glo in
n almagtige en liefdevolle Vader wat alles regeer?
Kom ons kyk na wat ons na die Skrifte hieroor bely.
Ek verkondig vir julle: Sonder God se beskikking gebeur niks
nie
- God is in beheer
- Satan en sondige mense bly verantwoordelik
- God openbaar sy toorn
Die Bybel laat geen twyfel daaroor bestaan dat God die
Almagtige is nie. Die HERE stel Homself aan Abraham en aan
Johannes op Patmos voor as die Almagtige (Gen 17:1; Openb 1:8).
Hoe dikwels wys God sy kinders nie na die hemele, na die
ontelbare sterre, om ons van sy almag bewus te maak nie.
Byvoorbeeld Jes 40:26: Slaan julle oë op in die hoogte en
kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Daarom: By wie
sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? Sê die
Heilige. God laat weet: Ek het nie net meer mag as alle
ander magte nie, maar Ek het alle mag. Alles en almal is van My
afhanklik.
Maghebbers hier op aarde het buite My, die almagtige, geen mag
nie, ook nie Hitler, Stalin of Mugabe nie. Ek gee die mens
ook die slegtes die ruimte, die tyd en die krag om te
handel. Daarby maak Ek wel erns met hul eie verantwoordelikheid.
Dis egter geen teken van weerloosheid nie. Want wanneer Ek ruimte
skep, dan is dit n bewuste aktiewe uitoefening van my mag.
Dis n bewys van my oormag. Sonder My kan hulle niks doen
nie. Hulle kan nie meer doen as wat Ek vir hulle moontlik maak
nie. So kan ook die kwaad nie langer duur en swaarder wees as wat
Ek bepaal nie.
Maar broers en susters, seuns en dogters, kan jy dit ook
volhou wanneer alles verkeerd gaan? Kan ek sê: die armoede, die
dodelike siekte, die aanranding, die kaping, die moord is uit God
se hand? Hier kan ons nie anders as om eerbiedig en ootmoedig te
luister na wat God self ons daaroor sê. Hoor Job bely, wanneer
alles, sy kinders en besit, hom ontneem word: Die Here het gegee,
en die Here het geneem: die Naam van die Here sy geloofd! (Job 1:21).
Job bely dus: ook dit is uit God se hand.
Josef het in Egipte baie swaar gekry. Ver van sy ouerlike huis
vandaan. Verkoop deur sy broers. En dan nog jare lank in die
tronk omdat hy gekies het teen die sonde waartoe Potifar se vrou
hom probeer verlei het. Josef het dus baie gely as gevolg van sy
broers se misdaad. Maar wat sê Josef later tot sy broers? "Julle
het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink
om n groot volk in die lewe te hou" Gen 50:20. Ja, nog
sterker: "Julle het my dan nou nie hierheen gestuur nie,
maar God" (Gen 45:8). Josef vertel ons as God se profeet:
die broers het wel terdeë skuld, maar God het die leiding gehad.
Dink ook aan die verskriklike moord op die enigste volmaakte
mens op aarde, Jesus Christus. Die Jode sorg daarvoor dat hy
gekruisig word. As ek hierdie volmaakte Jesus aan die kruis sien
hang, moet ek my geloof in God se almag en liefde prysgee? Wat
sê God self hiervan? Luister maar na wat Petrus in sy
Pinksterpreek sê: Hom, wat deur die bepaalde raad en
voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van
goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring (Hand 2:23).
Dit het gebeur volgens die raad en voorkennis van God. Gelukkig
maar. Hier wys God juis sy almag en liefde terwille van ons. So
het Hy my verlossing bewerk.
Gemeente, die Skrif laat geen enkele twyfel daaroor bestaan
nie: God se hand is in die lyding wat sy kinders soms so skrynend
oorkom. Om n teks uit die Nuwe Testament te noem: "Verneder
julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan
verhoog op die regte tyd" (1 Petr 5:6). Hier praat Petrus
oor die lyding en vervolging van die gelowiges. Ook wanneer mense
my kwaad aandoen vanweë my geloof moet ek my verneder onder die
kragtige hand van God.
God se hand is ook in die lyding van die wêreld, in die
oorloë en rampe. Die profeet Jesaja profeteer byvoorbeeld van
die magtige en heersugtige Assur. Hulle plunder, vertrap en roei
allerlei volke uit. Wat n lewensverwoesting! Wat n
leed word mense aangedoen. Wat n skuld laai hulle op
hulleself. Maar wat sê die Here van Assur? Die Here noem Assur
die roede van sy toorn en n stok van sy grimmigheid (Jes 10:5).
So noem God in Jes 45 koning Kores, wat met geweld en lis die
wêreld van daardie dae verower het en die Persiese ryk gestig
het, sy gesalfde, wie se regterhand Ek (die Here), gevat het om
nasies voor hom neer te werp. En dan benadruk die Here in vers 6,7:
Ek is die Here, en daar is geen ander nie; wat die lig
formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil
skep: Ek die Here, is dit wat al hierdie dinge doen.
Dit sal duidelik wees dat God werklik alles in sy hand het,
ook die verskriklike lyding. Aan die hand daarvan kan en moet ek
sê; Ook die armoede, siekte en ellende in Suidelik Afrika, ook
die verskriklike dinge wat in ons land gebeur, is in God se hand.
God is daarby geen weerlose toeskouer nie, maar die Almagtige wat
in beheer is.
Maar wat dan van die verantwoordelikheid van Satan en sondige
mense? Dis die tweede gedagte van die preek: Satan en sondige
mense bly verantwoordelik. .
Hoe moet ons hier God se hand en die menslike
verantwoordelikheid aan mekaar verbind? Josef se broers was
skuldig aan die ellende wat Josef in Egipte beleef het. Tog het
God Josef vooruitgestuur om sy volk in die lewe te hou. Die Jode
was skuldig aan Christus se kruisiging. Tog het die gebeur
volgens die raad van God. God se regering en die skuld van die
mens bly in hul eenheid vir ons n misterie. Ooreenkomstig
art 13 van die NGB moet ons altyd met twee woorde spreek: God het
sy hand in alle lyding, maar nie Hy nie, maar die duiwel en ons
sondige mense is die skuld van die lyding. Satan en goddelose
mense gaan te kere, veroorsaak baie ellende, maar die laaste
woord is nie aan Satan of die goddeloses nie. God het die laaste
woord. Satan of n handlanger van hom, n moordenaar,
kan my doodmaak. Maar ek sê nie by so n sterfgeval: deur
Satan uit die lewe weggeneem nie. Dit sou te veel eer vir hom
wees. Ons bely: God het uit hierdie lewe weggeneem. Alles gebeur
uiteindelik volgens God se raad.
Wanneer Paulus praat oor sy doring in die vlees dan noem hy
dit n engel van Satan wat hom met die vuis slaan (2 Kor 12:7).
Let wel, Christus se dienaar Paulus word deur die Satan gepynig.
Dit word nog wonderliker: Paulus het drie maal die Here, die
Kurios, die Magtige, gebid dat die engel van Satan van hom sou
wyk. Blykbaar sien Paulus die Satan nie as n figuur wat
outonoom kan werk en optree nie. Veelmeer as iemand wat aan God
en sy Seun onderworpe is, ook wanneer hy siekte en onheil
veroorsaak. Hy staan onder die mag van God en sy gesalfde.
Christus sê vir Paulus: My genade vir jou genoeg, want my krag
word in swakheid volbring. Paulus word nie van sy kwaal bevry nie.
Die Here beskik dit vir hom sodat hy hom nie sou verhef nie.
Ursinus het die Heidelbergse Kategismus opgestel in n
tyd van baie lyding. Geloofsgenote is op die brandstapel of aan
die galg gedood. Vroue en dogters is verkrag. Stede is uitgemoor.
Tog bely hy dat alles ons uit God se vaderhand toekom. Bedoel hy
daarmee dat God dan in die letterlike sin van die woord die
bewerker van alle kwaad is? In sy verklaring onderskei Ursinus
tussen die kwaad wat God bewerk en die kwaad wat Hy toelaat. Die
laaste is die kwaad wat die duiwels en goddeloses stig, die sonde.
God doen dit nie self nie. Maar Hy laat dit toe dat dit deur
duiwels en verkeerde mense geskied, d.w.s. Hy belet hulle nie, al
sou Hy dit kon gedoen het. Deur so te onderskei, wys Ursinus hoe
ook hy geworstel het om uitdrukking te gee aan wat die Skrif oor
God se voorsienigheid sê.
Maar broers en susters, as God die verskriklike sondes en
misdade toelaat, is Hy dan nie medepligtig nie? Wanneer jy
n moord kan verhinder en jy doen dit nie, dan is jy mede
verantwoordelik daarvoor. Kan God dan n moord toelaat
sonder om in die minste verantwoordelik daarvoor te wees? Hoe is
dit moontlik? Artikel 13 NGB antwoord: So groot is God se mag en
goedheid. Deur God se mag kan Hy die sondes wat Hy haat toelaat,
terwyl Hy weens sy goedheid beslis nie die skuld daarvan dra nie.
Deur die geloof sê ons terselfdertyd twee dinge: God haat moord,
egbreuk, marteling, diefstal ens en het weens sy goedheid n
afsku aan alle sondes. Maar in die tweede plek het Hy die
onbegryplike mag om dit tog te laat gebeur, terwyl sy haat teen
die sonde steeds aanwesig is. Sy goedheid lê geen beperkings op
sy mag nie. Die omgekeerde is ook waar: wat God weens sy mag doen
of toelaat, gaan nooit ten koste van sy goedheid nie. Hoe sy
goedheid en mag saamwerk, gaan ons verstand te bowe. Daarom bely
ons hier, dat sy mag en sy goedheid so groot en onbegryplik is
dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al
handel die duiwels en goddelose mense onregverdig.
Maar wat van God se toorn? Dis die derde gedagte: God openbaar
sy toorn..
Waarom loop baie mense vas met die lyding in hierdie wêreld?
Dikwels omdat hulle die erns van die sonde en van God se toorn
nie wil aanvaar nie. Na die sondeval praat God meteen van moeite
en smart, ja dat die mens tot stof sal terugkeer. Die hele
skepping is aan die nietigheid onderworpe, nie vrywillig nie,
maar omdat God haar daaraan onderworpe het (Rom 8:20). Vanweë
ons sondes. Deur ons sondes het ons onsself en die skepping in
die ongeluk gestort. Elkeen van ons het die hel verdien. Daarom
sou God niemand onreg aandoen as Hy swaar lyding vir hom of haar
sou beskik nie. In algemene sin kan ons van elke lyding sê: dis
verdien. Sonder sonde sou daar nooit lyding gewees het nie. As
ons nooit sou gesondig het nie, sou daar geen lyding op aarde
gekom het nie.
Die beteken egter nie dat ons n direk verband kan lê
tussen elke lyding en n spesifieke persoonlike sonde nie.
Dit was die fout van Job se drie vriende. Hulle wou sy swaar
lyding verklaar vanuit n spesifieke sonde. Wanneer een
persoon meer as n ander persoon ly, dan beteken dit nie dat
die persoon meer as die ander skuldig sou wees nie. Jesus noem in
Lukas 13:1-5 as voorbeeld die Galileërs wat op n wrede
manier deur Pilatus gedood is en die agtien persone op wie die
toring van Siloam geval het. Christus ontken nadruklik dat hulle
groter sondaars as die ander mense was.
Die apostel Paulus open ons oë vir die werklikheid van God se
toorn. "Want die toorn van God word van die hemel af
geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die
mense" (Rom 1:18). Hoe uit God dan sy toorn? Allereers deur
die mense aan hulleself, aan hul sondige begeertes, oor te gee.
Dit is blykbaar reeds toorn van God wanneer God jou jou gang laat
gaan. So val daar lig op baie lyding uit die wêreldgeskiedenis.
God laat die mense n tydlank hul gang gaan totdat hulle
heeltemal vasloop. Totdat hulle in volkome dwaasheid,
beesagtigheid en hopeloosheid verval.
Bowendien is daar ook toorn van God aanwesig in rampe en
gerigte, in die vernietiging van baie menslike prestasies (dink
aan die verwoesting van New York se Trade Centre in 2001, die
verwoesting veroorsaak deur die tsunami in Suid Oos Asie in 2004
en die verwoesting van Amerikaanse stede deur siklone in 2005).
Die boek Openbaring wys vir ons die verwoestinge in verskriklike
afmetings. Wat kom daar nie los wanneer die 7 seëls geopen word,
die 7 basuine geblaas word en die 7 skale van God se grimmigheid
uitgegooi word nie. En dit is net aankondigings, voorbodes van
die groot dag van die toorn van God en van die Lam.
Maar, gemeente, dat God sonde, toorn en straf soms direk aan
mekaar verbind, moet julle nie daartoe verlei om elke lyding as
uiting van God se toorn te sien nie. God bestraf die goddeloses
met n regverdige oordeel reeds tydens hierdie lewe en in
die lewe wat kom. Dit geld vir die goddeloses. Maar dit geld nie
vir die gelowiges nie. As gelowige spring jy die lyding nie vry
nie. Ook die gelowiges sug onder die lyding van die teenwoordige
tyd. Ons het nog nie deel aan die volle saligheid nie. Ons moet
nog dikwels ly saam met die ongelowiges. Ons kan egter nie met
sekerheid weet watter slagoffers goddeloses is en met watter
slagoffers God n beter plan het nie. Die oordeel laat ons
aan die Here oor. Vir God se kinders is die lyding n
beproewing wat God ten goede laat meewerk (Rom 8:28). In Christus
mag ons weet (ook al verstaan ons dit nie en ervaar ons dit
dikwels nie so nie) dat liefdevolle vaderhande met ons besig is.
Christus het mos die toorn van God vir ons gedra en vir ons
n liefdevolle Vader gegee. Daarom mag ons daarvan verseker
wees dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of
teenwoordige of toekomstige dinge of hoogte of diepte en enige
ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in
Christus Jesus, onse Here, is nie.
Wat beoog die Here met al die dinge wat gebeur? God wil
daarmee die mens met sy skitterende moontlikhede verneder. Deur
rampe en oorloë, deur siekte en dood hou God ons mense klein. So
sny God alle ander verlossingsweë af. So oefen God ons mense om
ons te rig op die enigste Verlosser van die wêreld.
Dit is vandag nog geen hel op aarde nie. Dit was tot nou toe
net op Golgota n hel. Daar is wel aankondigings van die hel
op aarde. Soms laat God toe dat die mens self, binne sekere
grense, n "hel" daarvan maak. Daarvoor hoef God
slegs een oomblik die teuels te laat vaar. Ons het dit gesien in
die tweede wêreldoorlog. Midde in die hoogontwikkelde Europa was
daar die vernietingskampe waarin miljoene Jode vermoor is. God
laat tot ons beskaming sien hoe vinnig sogenaamde beskaafde mense
tot barbaarse handelinge kan kom, wanneer ons God nie vrees in
die gebruik van ons kulturele mag nie. God wys dat die
humanistiese ideaal ydelheid is, dwaasheid, doodlopend. God hoef
die nette, beskaafde mense maar effens los te laat en hulle word
beule vir mekaar.
Auschwitz, Hiroshima, New York en Zimbabwe is nie die einde
nie, ook nie die dieptepunt nie. Dit was/is, hoe verskriklik ook,
nog maar n aankondiging van die hel. Ons hoor daarin die 7
basuine van God uit Openbaring klink. En waarom laat God die
basuine klink? Om ons wakker te roep. Om ons weg te roep van die
afgode na die lewende God toe. Sodat ons op die appel gereed
staan.
Hoe reageer ons? Laat ons ons wegroep van alle moderne afgode
na die lewende God toe? Jesus Christus is aan die kom. In Hom
alleen is daar redding. Verneder julle onder die kragtige hand
van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.
AMEN
Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.
(kyk in preek)