Die Here Jesus is die gesalfde Kneg van die Here

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2007-06-24
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 12
Preek Inhoud: 

Sondag 12, Vraag en Antwoord 31

Ds C Kleijn - Sondag 24 Junie 2007

Lees: Jesaja 42:1-7; 61; Sondag 12, Vraag en
Antwoord 31.
Sing: Ps 34:1,2; Ps 34:6,8; Ps 45:1-6; SB 16:1-6;
SB 24:1-3..

Tema: Die Here Jesus is die gesalfde Kneg van die Here

  1. die profesie
  2. die vervulling

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

By Sondag 11 het ons gesien wat die naam Jesus beteken. In
vandag se Sondag gaan dit oor die ander naam van die Seun van God:
die naam Christus. Dis goed om die name Jesus en Christus
duidelik te onderskei.

Jesus is die naam waarmee ons Heiland aangepreek is toe Hy op
aarde rondgestap het. Die naam dui sy persoon aan, dit is sy
noemnaam. Die naam Christus dui sy amp aan, die posisie wat Hy
ontvang het. As jy bv praat van die president dan praat jy oor
die amp wat hy beklee. Noem jy die naam Thabo Mbeki, dan praat jy
oor die persoon wat die amp ontvang het. Jy kan hom natuurlik ook
by sy ampsnaam aanspreek. Maar sy noemnaam is anders.

So is dit ook met die naam Christus. In die 4 evangelies word
byna altyd die naam Jesus genoem. Daarin word immers oor die mens
Jesus vertel; wat Hy geleer en gedoen het. Die nadruk val op sy
persoon. Soms word dan die naam Christus genoem. Dan gaan dit
uitdruklik oor sy amp. Neem byvoorbeeld Petrus se belydenis:
"U is die Christus, die Seun van die lewende God." Hier
gaan dit nie oor sy persoon nie, maar oor sy amp. Hy is die
beloofde Messias. Voor die lyding en dood van Jesus moes die
dissipels selfs oor sy ampsnaam swyg, omdat mense anders Hom op
’n verkeerde manier tot Koning sou uitroep.

Na die hemelvaart van Jesus word dit anders. Die apostels
gebruik dan meestal sy ampsnaam: Christus. Of hulle gebruik albei
name: Jesus Christus. Daarmee sê hulle: Hy, Jesus, is die
Christus.

Maar waarom die Naam Christus? Christus is ’n Griekse
woord. Dit is ’n vertaling van die Hebreeuse woord Messias.
Dit beteken: gesalfde. Jesus word met die naam dus aangewys as
die gesalfde van die Here. So is hy reeds in die OT aangekondig.
Daar word geprofeteer van die gesalfde Kneg van die Here, die
Messias.

Ek verkondig vir julle: Die Here Jesus is die gesalfde Kneg
van die Here

  1. die profesie
  2. die vervulling

Jesaja 42 stel die kneg van die Here aan ons voor: Daar,
oftewel, hier is my Kneg, wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in
wie my siel ’n welbehae het. God vra aandag vir die Persoon
wat Hy in sy besondere diens gaan neem. Hy noem hom “my
Kneg”, “My uitverkorene”.

Die Here God voeg daar dan aan toe: "Ek het my Gees op
Hom gelê." Dit sien op sy salwing. Daarom kan hierdie
beloofde kneg in Jes 61 sê: "Die Gees van die Here HERE is
op My, omdat die Here my gesalf het."

In die OT is profete, priesters en konings gesalf. ’n
Soort fyn “parfuum” is oor hulle uitgegiet. Die Bybel
noem dit salfolie.

Maar wat het die salwing dan beteken? Allereers dat die
persoon wat gesalf is daardeur in sy amp aangestel is. Hy is so
van ander onderskei. Wie gesalf was, was bevoeg om die amp uit te
oefen. Niemand het homself so ’n amp aangematig nie. Mense
is daartoe geroep en dan gesalf. Gesalfdes ontvang van die Here
’n besondere volmag. Wanneer hulle die salfolie voel en ruik,
dan weet hulle: "Ek is deur God self aangestel om hierdie
besondere taak namens Hom te verrig."

Die salwing beteken egter baie meer as dit. Dit was ’n
teken dat jy bekwaam gemaak is vir die uitoefening van die amp.
Dit was ’n teken dat die gesalfde van die Heilige Gees die
gawes wat vir die amp nodig was, ontvang het. Die salfolie was
dus ’n beeld, ’n teken van die Heilige Gees. Wat
’n pragtige teken was dit. ’n Sondaar wat van homself
so te sê ’n onaangename geur versprei het, is verander tot
iemand wat ’n heerlike lewensgeur versprei het. ’n
Sondaar, uit homself onbekwaam en afgemat, word fris en kragtig
om sy taak te vervul. Sondaars word vir God aangenaam en
bruikbaar; ongeskiktes word bekwaam gemaak. Van Dawid lees ons
daarom dat die Gees van die Here van die dag van sy salwing af en
verder oor Dawid vaardig geword het. (1 Sam 16:12,13).

Gemeente, in Jes 61 sê die beloofde Kneg van die Here van
homself: "Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die
Here my gesalf het." Let daarop dat hierdie Kneg nie met
olie, ’n teken van die Heilige Gees, gesalf is nie. Hy is
met die Heilige Gees self gesalf. Deur sy Heilige Gees rus die
Here God Hom toe.

Wat is dan die taak van hierdie gesalfde kneg van die Here?
Jes 42 vertel ons: "Hy sal die reg na die nasies uitbring."
Hy sal die reg van die Here aan die nasies bekend maak. In
daardie tyd is Jerusalem vol onreg. Die tempel lê verwoes en God
se volk is in ballingskap. Maar hierdie kneg van die Here sal as
profeet die reg van die Here bekend maak. Hy sal die mense laat
sien hoe die Here met sy volk voortgaan en dat die werk van die
Here ook goed en reg is. Miskien mag ons dit ook sien as ’n
antwoord op die twyfel wat deur God se volk verwoord is: "my
weg is vir die Here verborge, en my reg gaan by my God verby"
(40:27). Hierdie kneg sal dus wys op die reg van die Here. Die
Here is reg in al sy weg en werk. Die kneg sal dit vir jou
duidelik maak. Sodat jy die reg van die Here ook in moeilike
omstandighede mag verstaan en glo. Sodat jy ook mag weet watter
pad God in sy reg met jou volg en watter pad jy self moet stap.

Hierdie kneg sal nie net die reg van die Here as profeet
bekend maak nie. Hy sal ook daarvoor sorg dat die reg herstel en
gehandhaaf word. Ons lees in vers 4: "Hy sal nie dof brand
en geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie".
Hy sal nie halfpad misluk nie, maar die reg van die Here op aarde
volkome vestig. Hy sal daarmee klaarkom. Uit ander gedeeltes van
Jesaja se profesie is dit duidelik dat Hy dit sal doen as die
lydende kneg van die Here. Dink aan Jes 53 waar ons van hierdie
kneg o.a. die volgende lees: “Die straf wat vir ons die
vrede aanbring, was op Hom. ... Ons almal het gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het die
ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” En:
“as sy siel ’n skuldoffer aangebied het, sal Hy ’n
nakroos sien.”

Hy sal dus die reg van die Here op aarde vestig as Priester en
Koning.

Hy sal ’n priester-koning wees wat werklik oor die lot
van sy volk bewoë is. Lees maar vers 2 en 3: "Hy sal nie
skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die
geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie
uitblus nie." Hy kom nie met baie rumoer en geweld nie. Sy
optrede is juis rustig, teergevoelig en mild. Vol liefde bekommer
Hy Hom oor God se kinders wat in nood verkeer. Deur die moeites
van die lewe kan ek soms die gevoel hê dat ek soos ’n
geknakte riet is. Ek gaan geboë onder die laste van die lewe,
maar ek is nog nie gebreek nie. Christus sal die geknakte riet
nie verbreek nie, maar juis weer oprig. Soms kan ek soos ’n
dowwe lamppit lyk. My geloof en hoop flikker maar ’n bietjie.
My lampie brand maar dof. Christus sorg daarvoor dat die
flikkerende vlammetjie nie uitgeblus word nie. Hy wakker dit aan
sodat dit bly brand. So ontferm Hy hom oor God se kinders wat as
gevolg van die sonde in nood verkeer.

Jesaja noem verder dat die Here hierdie kneg as ’n
verbond van die volk, as ’n lig van die nasies gee. Die
verbond word in Hom bekragtig. In Hom hoor God se bruid sy
goddelike ja-woord: ons gaan verder met mekaar. Hy is tewens
’n lig van die nasies. Hy is nie net vir God se OT-iese volk
nie. Ook vir die heidense volke wat nog in duisternis lewe.
"Ek gee U as ’n verbond van die volk, as ’n lig
van die nasies, om blinde oë te open; om gevangenes uit die
kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die
duisternis sit" (vers 7).

Ons lees iets dergeliks in Jes 61. Die kneg van die Here uit
Jes 42 blyk dieselfde persoon as die boodskapper van blye tyding
uit Jes 61 te wees. Daar lees ons: "Die Gees van die Here
Here is op My, omdat die Here My gesalf het om ’n blye
boodskap te bring aan die ootmoediges. Hy het My gestuur om te
verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ’n
vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die
gevangenis."

Broers en susters, met hierdie woorde rig Jes hom in die
eerste plek tot die ballinge in Babel. Watter uitsig het hulle
nog? Hul stad en tempel is verwoes. Die land wat hulle van God
gekry het, is uit hul hande weggeruk. Hulle is ballinge in
’n vreemd en ver land. Met sy profetiese woorde wil Jes
hierdie ballinge bemoedig en hulle nuwe uitsig gee. ’n Nuwe
tydperk gaan aanbreek. ’n Tyd van genade. ’n Tyd van
bevryding. Dit sal wees soos tydens die jubeljaar. Ja, daar word
na die jubeljaar verwys wanneer Jesaja praat van die "jaar
van die welbehae van die Here."

Die jubeljaar was ’n groot gebeure in Israel. Dit was
’n jaar van bevryding. Miskien moes jy jou besit of selfs
jouself vanweë armoede verkoop. In die jubeljaar het jy jou
besit en vryheid teruggekry. Jy kon terugkeer na jou familie en
na die besit van jou voorouers. Daarom was die jubeljaar ’n
groot bevrydingsfees, veral vir hulle wat in armoede en slawerny
geval het. Die jaar van God se welbehae sal oor die ballinge in
Babel kom. Hulle sal weer vry kom en na hul erfdeel terugkeer.

Die profesie van Jes wys dus in die eerste plek op die
bevryding uit die Babiloniese ballingskap. Na die terugkeer uit
die ballingskap was daar ’n sekere terugkeer na die reg van
die Here. God se verbond en woorde is weer in Juda gehoor. Haggai,
Sagaria, Esra en Nehemia het die volk weer God se reg voorgehou.
Hulle is egter net voorlopers van die beloofde Kneg van die Here.
Die kneg moet nog kom, die kneg wat die reg van die Here volmaak
ken en dit ook volmaak vestig. Daardie volmaakte profeet,
priester en koning.

Dis duidelik dat die profesie van Jes dus ver uitreik bo die
bevryding uit die Babiloniese ballingskap. Wat Jes profeteer, kan
net in Jesus, die kneg van die Here by uitstek, werklikheid word.
In Hom ontvang dit sal vervulling.

So kom ons by die tweede punt: die vervulling van die profesie
van die gesalfde Kneg van die Here.

Jesus self vertel ons dat hierdie profesieë op Hom wys. Na sy
doop in die Jordaan en sy versoeking in die woestyn, kom Jesus in
die sinagoge van Nasaret. Daar lees Hy die gedeelte uit Jes 61:
"Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het"
ens. Ter verklaring sê Jesus: Vandag is hierdie Skrif in julle
ore vervul. Jesus wys dat Hy die gesalfde kneg van die Here is,
die Messias wat goeie nuus kom bring en lewens kom verlos.

Maar wanneer het Jesus dan hierdie salwing met die Gees
ontvang? Jesus verwys na sy doop. By die geleentheid daal die
Heilige Gees op Hom neer in die gedaante van ’n duif. En ons
hoor die stem van die Vader uit die hemel: "U is my geliefde
Seun; in U het Ek ’n welbehae."

Gemeente, sien hier die pragtige eenheid van die Skrifte. Die
verskillende profesieë van Jes kom pragtig saam in die geliefde
Seun van God, wat deur die Gees gesalf word. Jes 42 maak sy koms
bekend met die woorde: "Hier is my Kneg wat ek ondersteun,
my Uitverkorene in wie my siel ’n welbehae het. Ek het my
Gees op Hom gelê." By Jesus se doop stel die Here God hom
publiek aan ons voor met byna dieselfde woorde en met die daad:
Hy lê sy Gees op Hom. En nie lank daarna verklaar Jesus in die
sinagoge van Nasaret dat Jes 61 in Hom vervul word.

Dis daarom duidelik dat die profesie van Jes baie verder reik
as die bevryding uit die Babiloniese ballingskap. Dit verwys
uiteindelik na die volkome bevryding wat Jesus Christus kom bring.
Dit verwys na niks minder as die ewige jubeljaar wat gaan kom, as
gevolg van Christus se verlossingswerk. Jes se woorde verwys na
niks minder as die bevryding van alle slawerny en nood.

Die Christus is goed bewus van die nood van sy volk. Luister
maar na sy saligsprekings in sy bekende bergprediking. "Salig
is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk
van die hemele. Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos
word. Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.
Salig die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal
versadig word" ens. Hoor hier ’n eggo van Jes se
profesie. Ons lees in Jes 61:3 "om al die treurendes te
troos; om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle
gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ’n
gewaad van lof vir ’n verslae gees; sodat hulle genoem kan
word terebinte van geregtigheid, ’n planting van die Here,
tot sy verheerliking."

Geen wonder dat Jesus hierdie gedeelte uit Jes aanhaal om Joh
die Doper, op ’n oomblik van vertwyfeling, te oortuig dat Hy
inderdaad die beloofde Messias is.

Maar wie is dan die blindes, die armes, die gebrokenes van
hart, die gevangenes? Dit verwys duidelik na mense in nood. Dit
verwys na mense in fisiese nood, maar meer nog na mense in
geestelike nood. Geestelike blindheid is mos baie ernstiger as
fisiese blindheid. Daarmee word fisiese of psigiese nood nie as
onbeduidend afgeskeep nie. Fisiese en psigiese nood bly diep
ingrypend. Jy moet maar in ’n diepe depressie vasgevang sit.
Jy moet maar chronies siek wees. Jy moet maar gestemd wees.
Liggaamlike of psigiese nood is ’n versteuring van God se
pragtige skepping. Christus kom ook daarvan bevry. Het Hy dit nie
gewys tydens sy omwandeling op aarde, in al sy genesing wonders
nie? Van nature is ons almal arm, blind, gebroke en gevange. Ons
het niks uit onsself nie, geen kennis, geen krag, geen vermoë om
onsself te red nie. Ons is van nature skuldig en hulpeloos. Ons
sug onder die druk van die sonde en sy gevolge. Baie mense sit
nog gevange in sondige praktyke. Dink aan verslaafdes,
verslaafdes aan geld, mag, seks, drank of dwelms. In ons land is
daar ook baie wat in ’n bose kringloop vasgevang sit. Sonder
hoop in die lewe. Ook vir sulke mense het Christus bevryding kom
verkondig. Hy wil aan hulle wat in duisternis gevange sit, nuwe
perspektiewe bied.

Die armes en gebrokenes van hart sien ten diepste op hulle wat
arm van gees is. Jy en ek wat ’n hartlike berou hê daaroor
dat ons God deur ons sondes vertoorn het. En daarom hoe langer
hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug. Dis mense wat die
duisternis en ellende van die sonde ken en ook hul eie natuurlike
blindheid. Dis hulle vir wie Christus ook vandag die aangename
jaar van die Here verkondig. Julle wat in Sion, in die kerk,
treur, sal uiteindelik van alle nood en vervreemding bevry word.
Aan julle sal met die woorde van Jes 61:3 gegee word sieraad vir
as, vreugde olie vir treurigheid, ’n gewaad van lof vir
’n verslae gees; sodat julle genoem kan word terebinte van
geregtigheid, ’n planting van die Here, tot sy verheerliking.

So hoor julle, broers en susters, in OT iese terme en beelde
wat Christus die gesalfde Kneg van die Here vir julle kom doen
het en doen. As ons hoogste profeet en leraar maak Hy aan ons en
die nasies God se reg bekend. Van nature is ek blind, vasgevang
in die duisternis van die sonde. ’n Mens besef wel dat daar
’n sekere ellende is, maar nie wat die ware aard van die
ellende is nie. ’n Mens weet nie die oorsaak daarvan nie,
nog die oplossing daarvan. Niemand ken uit homself die wil van
God nie, laat staan die wil van God oor ons verlossing. Niemand
ken God se reg nie. Maar nou het Christus die verborge raad en
wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak. Hy
het die goeie nuus kom verkondig van die reg van God wat in Hom
volbring is.

Jy ontvang nie net kennis van die verlossing nie, jy ontvang
ook die verlossing self. Christus het op Goeie Vrydag alle
geregtigheid volbring. Daar het Hy uitgeroep: Dit is volbring. As
ons Hoëpriester het Hy aan al die eise van God se reg voldaan,
ons skuld betaal. Deur sy enige offer aan die kruis. As ons
enigste Hoëpriester wat werklik om my lot bewoë is. Op grond
daarvan het ek weer ’n toekoms, is daar weer lig en lewe.
Ook al staar ek die dood in die oë. Op grond daarvan verbind Hy
ook volgens die profesie gebrokenes van hart. En bevry Hy slawe,
gevangenes van die bande wat hulle knel. Hierdie Kneg van die
Here was ’n lydende kneg om jou en my van die lyding as
gevolg van die sonde te bevry. Dis hoe Hy ons verlos het.

Dank God, Hy is ook ons koning. Sy dood was geen mislukking
nie. Hy het op die derde dag weer opgestaan. Hy het opgevaar na
die hemel en Hy sit aan God die Vader se regterhand as ons Koning.
As ’n Koning wat ewig leef en regeer. My verlossing is in
veilige hande. Hy sal my beskerm en bewaar by die verlossing wat
Hy verwerf het. Nie deur swaard of geweld nie, maar deur sy
lewendmakende Woord en Gees.

Hoe geweldig is dit, broers en susters, om Jesus Christus so
met jou verlossing besig te sien in sy drievoudige amp. Hoor hoe
Hy as profeet die verlossing verkondig, hier, in Johannesburg en
orals in die wêreld. Kyk hoe Hy die verlossing as hoëpriester
tot stand gebring het en steeds weer in jou lewe werklikheid laat
wees. Kyk hoe Hy ons as Koning by die verlossing bewaar. Deur sy
Woord en Gees. Sien hoe aktief Hy in jou lewe besig is.

Dis waar, ons leef nog steeds in ’n gebroke wêreld,
waarin siekte en dood, verdriet en pyn ’n plek het. Ons ken
nog die beproewinge, die stryd. Soms kan dit lyk asof ons soos
’n geknakte riet is, wat onder moeite en sorg gebuk gaan. Of
soos ’n dowwe lamppit. Ons vlammetjie lyk amper uitgebrand.
God het egter sy Christus aan ons gegee. Hy bring vir ons die
aangename jaar van die Here. Die groot fees van bevryding het in
beginsel reeds begin. "Vandag is hierdie Skrif in julle ore
vervul," hoor ons Christus sê. En niks kan Hom hinder om sy
werk te voltooi nie. Om ons te bring na die finale oorwinning,
die ewige jubeljaar.

AMEN

Kopiereg word
voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)