In die eed word die Naam van die Here ingeroep om die waarheid te laat seëvier!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-10-07
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 37
Verwysing: 
HK 37-1 (1)
Preek Inhoud: 

Sondag 37

Ds HH van Alten - Sondag 7 Oktober 2007

Lees: 1 Samuel 24:17-23;  2 Samuel 16:5-14;  1 Konings 2:36-47
Teks: HK, Sondag 37
Sing: Sien liturgie

Tema: In die eed word die Naam van die Here ingeroep om die waarheid te laat seëvier!

  1. Die Here is waarheid
  2. Die Here vra waarheid
  3. Die Here bevestig waarheid

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Waarheid is ‘n skaars deug in ons wêreld. Ons hoef maar net deur die koerante te blaai en na die nuus te kyk om te sien dat hierdie stelling waar is. Ons sien mense wat lieg en bedrieg om hulle eie posisie in die samelewing of in die politiek te bevorder; ons sien mense wat valse getuienis aflê om skuldiges vry te kry of onskuldiges aan die pen te laat ry; ons sien mense wat belowe om hulle openbare amp in die samelewing getrou uit te voer, maar wat kort voor lank ontmasker word vanweë korrupsie. Dit wil selfs voorkom asof mense wat die waarheid na vore wil bring, stil gemaak en uit hulle poste onthef word.

En helaas is dit nie slegs ‘n samelewingsverskynsel nie; nee, ook in die kerk kom dit voor. As daar in die gemeente moeites tussen twee of meerdere partye is, en ‘n mens luister na die verskillende partye, dan wonder ‘n mens soms: wie praat nou eintlik die waarheid? En selfs in die kerk vind ons dat mense eenvoudig leuens vertel… 

Gemeente, in talle opsigte het ons, mense, die kritieke fondament van die waarheid onder ons samelewing – ons ‘saamleef’ met mekaar – uitgetrek. Harmonieuse ‘saamleef’ word dan ook baie moeilik, indien nie onmoontlik nie. En die praktyk bewys dit oor en oor – ons sien dit in die politiek, ons sien dit in die besigheidswêreld, ons sien dit in huwelike, ons sien dit in gesinne. Ons weet nie meer hoe om met die waarheid om te gaan nie, ons kry selfs ‘n afsku van die waarheid, en dikwels sak ons so diep weg dat ons nie eens meer die waarheid van die leuen kan onderskei nie, sodat ons soos Pilatus moet vra: wat is waarheid? Broers en susters, laat ons dit maar erken: in ons samelewing word die waarheid vermis – soos Jesaja sê in hoofstuk 59:15. Die waarheid is weg, en ons weet nie waar om dit te soek nie. Ons het die lig van die waarheid uitgedoof, en nou dwaal ons in die duister rond… 

As daar dus enige kans is dat die waarheid weer gevind kan word, dat ons weer ‘n fondament onder ons samelewing kan kry, dan het ons hulp van buite af nodig. En, gemeente, dit is nou presies wat die Here in sy genade kom doen. Die Here steek ‘n kleinerige liggie in ‘n pikdonker wêreld aan. Hy gee ons ‘n middel gee waardeur ons, op kritieke punte in ons samelewing, tóg ‘n mate van waarheid kan herstel. Hy gee aan ons sy Naam! Ons kan sy Naam inroep, ons kan Hom sélf inroep as die enigste Kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee en my te straf as ek nie die waarheid praat nie – so bely ons in antwoord 102. Ons kan ‘n eed in sy Naam aflê om mekaar te dwing om in besondere gevalle die waarheid te praat. Só wil die Here die waarheid, stappie vir stappie, terugbring in ‘n wêreld wat agter die vader van die leuen aanloop; só wil die Here deurbreek in ‘n leuenagtige wêreld sodat die waarheid uiteindelik kan seëvier. En daarvan is die eed ‘n kleinerige ligbaken, waardeur ons mag weet: die waarheid is oppad!

Tema: In die eed word die Naam van die Here ingeroep om die waarheid te laat seëvier!

  1. Die Here is waarheid

  2. Die Here vra waarheid

  3. Die Here bevestig waarheid

1. In 1 Samuel 24, wat ons saam gelees, vind ons een van talle voorbeelde van die voortdurende stryd en konflik wat daar tussen Saul en Dawid geheers het. Of miskien moet ons eerder sê: ons vind hierin een van talle voorbeelde van die voortdurende vyandskap wat Saul jeens Dawid gekoester het. Want dit was nie soseer Dawid wat vyandig teenoor Saul was nie, maar eerder andersom. Om die waarheid te sê: Dawid bewys in hierdie einste hoofstuk 24 juis dat hy Saul goedgesind is. Hy het immers die geleentheid gehad om Saul dood te maak; sy manskappe het dit selfs aangemoedig. Hulle sê in vers 5 vir hom: “Kyk, dit is die dag dat die HERE aan u sê: Nou gee Ek jou vyand in jou hand, en maak met hom soos goed is in jou oë.” Maar Dawid, heilig daarvan bewus dat Saul die gesalfde van die Here is, sny slegs ‘n stukkie van Saul se mantel af, en hy toon dit vervolgens aan Saul om te bewys dat hy hom goedgesind is. Saul erken dan ook in vers 18: “… jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het.” Saul erken dat hy Dawid vyandig gesind is. 

Maar, gemeente, vanwaar hierdie vyandigheid? Het Dawid enige rede daartoe gegee? Nee, die rede het nie by Dawid gelê nie, maar by Saul self. Saul het bedreig gevoel, hy het gevoel dat hy besig was om sy greep op die koningskap te verloor. Dit het alreeds begin nadat Dawid vir Goliat verslaan het en die vroue gesing het: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tien duisende (1 Sam. 18:7). Van daardie dag af alreeds het Saul bang geword vir Dawid, en was hy Dawid vyandig gesind; vanaf daardie oomblik sien ons telkens pogings van Saul se kant af om Dawid uit die weg te ruim. Want Saul het pynlik seker geweet dat die Here die koningskap van hom af weggeneem, en dit aan Dawid gegee het.

En dit sê hy dan ook in 1 Samuel 24:21: “En nou, kyk, ek weet jy sal sekerlik koning word, en die koningskap oor Israel sal in jou hand standhou.” Ja, gemeente, in sy woede en afguns wou Saul vir Dawid doodmaak, hom uit die weg ruim, maar in hierdie oomblik van besonnenheid erken hy: Ek wéét jy sal koning word. Wanneer Dawid se vyand vir ‘n oomblik nugter nadink, dan besef hy: die Here het dit belowe, Hy sal dit ook doen, daar is niks wat ek daaraan kan verander nie.  

Broers en susters, as ons mooi na hierdie woorde van Saul luister, dan vind ons daarin ‘n duidelike en heerlike bevestiging vir Dawid dat die Here se belofte van die koningskap nog steeds vasstaan; daaraan het nog niks verander nie! En hoe moes Dawid nie bemoedig gewees het nie. Want ja, die Here het wel die belofte van die koningskap vir Dawid gegee toe Samuel hom gesalf het in 1 Samuel 16, maar sedertdien was daar nie werklik ‘n bevestiging van hierdie belofte nie; Dawid se lewe het nou ook nie dusdanig verloop dat ‘n mens daaruit sou kon aflei dat hy die toekomstige koning is nie. Inteendeel, hy moes voortdurend vir sy lewe vlug, en sy volgelinge was nou ook nie werklik van koninklike gehalte nie. Was dít nou die lewe van die toekomstige koning van Israel? U verstaan waarskynlik dat Dawid vanweë hierdie omstandighede kon begin twyfel het.

En dan die woorde uit die mond van sy vyand, Saul: “jy sal sekerlik koning word…” Maar…  kan die woorde van die vyand vir Dawid werklik goddelike bevestiging bring? Is dit nie so dat die karakter van die spreker die kwaliteit van sy boodskap weerspreek nie? Nie noodwendig nie, broers en susters. Dikwels kom die mees vaste versekerings juis van die vyand af. En dit is ook hier die geval vir Dawid. Dit moes vir hom ‘n geweldige bemoediging gewees het dat sélfs sy vyand die sekerheid van die Here se belofte teenoor hom kan bevestig. Ja, as die Here sinvolle dinge kan sê deur die mond van Bileam se esel, dan kan Hy dit sekerlik ook doen deur die mond van ‘n verwarde koning.  

Dawid ontvang hier dus bevestiging dat die Here se belofte nog steeds vasstaan. Sy vyand wys vir hom dat die Here se woorde altyd betroubare woorde. Uit die mond van ‘n vyand wat telkens belowe het om Dawid nie dood te maak nie, maar dan tog weer aan sy eie beloftes ontrou was, mag Dawid nou hoor dat die Here wel getrou is. Die Here is waarheid!

En daarom dat Dawid vervolgens, op Saul se versoek, ook met vrymoedigheid kan sweer dat hy die huis van Saul nie sal uitroei nie. Immers, hy hoef nie soos Saul uit vrees en jaloesie die dood van sy vyande te soek nie; sy troon staan mos stewig gegrond op God se waarheid, meer nog: op God self! En, gemeente, dit is nou die wonderlike boodskap van die evangelie, naamlik dat die Here waarheid is – ons kan werklik op Hom bou, ons kan op Hom staatmaak. Dit is ‘n boodskap wat selfs uit die mond van die vyand tot ons kom.  

En hoe nodig het ons hierdie boodskap nie! Ek het in die inleiding reeds genoem dat, vanweë die feit dat ons die waarheid verleer en verloor het, ons die fondamente onder ons samelewing verloor het. En sonder hierdie fondament, gemeente, sak ons net dieper en dieper weg in die dryfsand van die sonde, ons verdrink in die sonde. Maar in hierdie stukkie geskiedenis van Dawid en Saul sien ons dat die Here opnuut die fondament onder ons lewens wil teruggee – en daardie fondament is Hy sélf! As dié Waarheid kom die Here na ons toe en kom gee Hy Homself as die vaste grond onder ons voete.

Die hele heilsgeskiedenis – soos wat dit in die Skrif opgeteken staan, en waarvan hierdie verhaal in 1 Samuel 24 maar ‘n klein deeltjie is – is ‘n onophoudelike getuienis van God se waarheid van verlossing en nuwe lewe; ‘n waarheid wat nie onseker is nie, wat nie gestuit kan word nie, maar wat rotsvas staan en voortgang maak te midde van ‘n leuenagtige wêreld, selfs te midde van God se volk wat in talle opsigte leuenaars was. En, broers en susters, waarin sien ons die vastheid en betroubaarheid van God se waarheid beter as juis in Jesus Christus – die weg, die waarheid, en die lewe? In Christus sorg God dat die waarheid weer sy deurbraak maak in ons samelewing! Wie daarom in Hom glo, kry weer vaste grond onder sy voete, hy gaan op ‘n vaste weg, hy het weer rigting in sy lewe.  

En dit is dan ook nie verniet nie, dat die fondamente van die nuwe Jerusalem eendag die name sal dra van die twaalf apostels (Openb. 21). Immers, dit is op die fondament van die apostels – en wat anders is dít as die ware evangelie van Jesus Christus? – dat God sy kerk bou. Wanneer ons in ons gemeente saam in Jesus Christus glo, staan ons op ‘n vaste fondament, en mag ons weet dat ons lewens oppad is na die nuwe Jerusalem.

Vervolgens: die Here vrá ook waarheid. 

2. Dit is duidelik uit die voorafgaande dat ons lewens nuwe rigting kry wanneer ons weer vaste grond onder ons voete het, wanneer God sy waarheid onder ons lewens kom indruk. ‘n Heerlike wete – die feit dat die vastheid van ons gang nie van ons afhang nie, maar seker is op die fondament van die waarheid. Maar, gemeente, vervolgens vra die Here ook van óns waarheid, betroubaarheid. Dít waarop ons lewens gegrond is, moet nou ook sigbaar word in ons lewenswandel. Weereens kan Dawid se omgang met die huis van Saul vir ons hierin as voorbeeld dien.  

Dawid het met vrymoedigheid gesweer dat hy die huis van Saul nie sou uitroei nie. Maar het hy sy eed ook gestand gedoen? Want daaruit sou blyk of Dawid ook werklik in die praktyk op God se beloftes gebou het… Wel, volgens Simeï in 2 Samuel 16 het Dawid nie sy eed gestand gedoen nie. En dit wil met die eerste oogopslag voorkom asof Simeï geweet het waarvan hy praat, aangesien hy afkomstig was uit die huis van Saul. Ons lees in 2 Samuel 16 hoe Simeï, by Dawid se vlug uit Jerusalem, skielik te voorskyn kom en begin om Dawid met klippe te gooi en hom te vloek: “Weg, weg jou bloedvergieter en jou deugniet. Die HERE het al die bloed van die huis van Saul, in wie se plek jy koning geword het, op jou laat neerkom…” Duidelik was Simeï van mening dat Dawid die brein agter die geleidelike uitroeiing van Saul se huis was. En dit is inderdaad opvallend dat Saul se huis een vir een tog uitgeroei word.

Maar die Skrif wys tog vir ons dat Dawid nie die brein hieragter was nie. Inteendeel, die Skrif wys vir ons dat Dawid juis geywer het vir die huis van Saul. Hy het byvoorbeeld die Amalekitiese man, wat Saul van kant gemaak het, laat doodmaak omdat hy hom aan die gesalfde van die Here vergryp het (2 Sam. 1). Verder sien ons dat wanneer twee bendeleiers vir Isboset, Saul se seun, vermoor, hulle op bevel van Dawid doodgemaak en opgehang word (2 Sam. 4). Ons sien ook dat Dawid vir Mefiboset, Jonatan se seun, in sy huis opneem en van sy tafel laat eet (2 Sam. 9). En ten slotte sien ons ook nog dat Dawid reël dat die einste Simeï, wat hom gevloek het, na sy dood met groot geduld behandel moet word (ons het daarvan gelees in 1 Kon. 2).  

Die feite wys dus dat Dawid trou was aan sy eed, en moontlik selfs nog verder gegaan het as wat hy in sy eed belowe het. En daarom dat hy in 2 Samuel 16 ook nie nodig het om homself te verdedig teenoor Simeï nie, hy het nie nodig om na die seun van Seruja te luister wat voorgestel het om Simeï se kop af te kap nie. Nee, Dawid laat hierdie saak by die Here. En hy kán dit ook by die Here laat, want hy het in sy eed dan juis op die waarheid en betroubaarheid van die Here se beloftes gebou. Dit was juis op grond van die waarheid van die Here se beloftes oor sy koningskap dat Dawid so vrymoedig kon sweer dat hy Saul se huis geen kwaad sou aandoen nie. Dawid het vertrou dat die Here sy koningskap sal bevestig, en daarom het hy nie nódig gehad om Saul se huis enige kwaad aan te doen nie. Hy is só seker van die Here se beloftes dat hy hierdie vyande van hom selfs gunstig kan behandel! Laat die Here dan maar oordeel of hy, Dawid, getrou was aan sy eed of nie… Dawid het daaroor geen onrustigheid nie.  

Gemeente, dít is nou die soort betroubaarheid wat die Here van ons vra; Hy verwag van ons dat, wanneer Hy die betroubare fondament van ons lewens is, ons dan ook die waarheid in alles sal liefhê – dat ons met groot vrymoedigheid die waarheid sal spreek en sal doen. Dit is daarom ook ‘n onhoudbare situasie wanneer ons die Here die Rots van ons lewens noem, die grond van ons bestaan, maar intussen jok ons vir mekaar, doen ons ons beloftes nie gestand nie, en verdraai ons die waarheid in ons omgang met mekaar. Dit is ‘n skreiende kontras wanneer ons sê dat ons op die waarheid bou, maar intussen is ons lewe een groot leuen. Die vraag ontstaan dan: bou ons nog werklik op die waarheid?

Broers en susters, wie op die Naam van Jesus Christus bou as die weg en die waarheid, hy en sy word opgeroep om ook vanuit daardie waarheid te lewe. En ons beweeg nou na ‘n tyd van die jaar waarin hierdie oproep geweldig relevant is. Ons het jongmense wat binnekort belydenis van hulle geloof gaan aflê – jy gaan getuig dat jy op Jesus Christus wil bou, jy gaan ‘ja’ sê op die vrae wat aan jou gestel gaan word; dit vra dan ook ‘n lewe in die waarheid. Dieselfde geld vir diegene wat alreeds ‘ja’ gesê het, miskien jare gelede, en wat binnekort weer aan die nagmaalstafel gaan sit: getuig jou lewe ook van die waarheid? Verder gaan ons oor enkele weke ampsdraers verkies en bevestig – diegene wat verkies gaan word, gaan belowe om, hetsy as diaken hetsy as ouderling, die gemeente te lei in die waarheid; dan vra die Here ook betroubaarheid daarin. En weereens: dit geld net so goed vir dié ampsdraers wat alreeds in die amp dien.  

Maar, gemeente, ook vir ons lewens in die algemeen is hierdie oproep relevant: laat Christus sigbaar word in jou lewe! By die fondament van waarheid pas ‘n lewe in die waarheid. En dan kan ek ook alle rus hê oor my lewe, kan ek rus hê oor die konsekwensies van my handel en wandel. As ek die waarheid spreek, en dit het negatiewe gevolge, laat dit so wees. As ek in enige moeilikheid of vervolging kom omdat ek voor die aangesig van God slegs die waarheid wil spreek, laat dit so wees. Dan mag ek seker weet dat God, my ware fondament, ook op sy tyd die waarheid van my woorde en wandel sal bevestig.

Daarop let ons ten slotte: die Here bevestig die waarheid. 

3. Koning Dawid moes as vlugteling Jerusalem verlaat; sy seun, Absalom, het sy plek op die troon ingeneem. Maar dit was slegs ‘n tydelike situasie. Die Here het sy belofte aan Dawid gestand gedoen dat sy troon vir ewig sou bestaan. Nadat Dawid se manne dié van Absalom verslaan het, kon Dawid weer na Jerusalem terugkeer. En wie was een van die eerste mense om hom tegemoet te gaan terwyl hy oppad terug was? Hy was nog skaars oor die Jordaan, toe val hierdie persoon al voor die konings se voete neer… Simeï! Ons lees in 2 Samuel 19 dat hy voor die koning neergeval en vir hom gesê het: “My heer moet my die skuld nie toereken en daar nie aan dink hoe u dienaar verkeerd gehandel het nie…” Terloops, dit wil voorkom asof Simeï hier deur vrees en politieke oorwegings gedryf word. Hy besef natuurlik baie goed dat Dawid nou weer die mag het, en daarom sorg hy dat hy vinnig sy kleure verander om weer by Dawid te kan behoort.  

Hoe ook al, Dawid laat hom lewe; volgens 1 Konings 2:8 het hy selfs gesweer dat hy hom nie met die swaard sal doodmaak nie. Daarmee word die straf op sy vloek egter nie opgehef nie. Want op sy sterfbed bepaal Dawid dat Simeï op ‘n gepaste wyse gestraf moes word; hy laat dit aan die wysheid van Salomo oor om te bepaal hoe hy dit presies wil doen. En die Here ge ook vir Salomo ‘n baie wyse oplossing vir hierdie situasie: Simeï word beveel om ‘n huis in Jerusalem te bou en die grense van Jerusalem nie te verlaat nie – ‘n soort huisarres. Salomo is dus nie haastig om Simeï se vloek oor Dawid te wreek nie; met hierdie reëling wéét Salomo nie eens of hy ooit die kans daartoe sal kry nie, want indien Simeï vir die res van sy lewe homself aan hierdie reëling sou onderwerp, dan was daar hier op aarde geen wraak vir sy vloek nie.  

Maar, gemeente, Simeï hou drie jaar vol; aan die einde van die derde jaar besluit hy om op eie houtjie twee weggeloopte slawe in Gat te gaan haal. Dit is ‘n besluit waardeur niemand kwaad aangedoen word nie, en wat verder ook niks beteken nie. En tog word hierdie besluit Simeï se dood. Want, volgens vers 42, het hy met hierdie besluit sy eed teenoor koning Salomo verbreek. Salomo sê dan ook in vers 43: “Waarom het jy dan die eed by die Here en die gebod wat ek jou opgelê het, nie gehou nie?” Vervolgens word Banaja opgedra om Simeï se lewe te beëindig: die het uitgegaan en op hom aangeval, sodat hy gesterf het.

Sien u die ironie in hierdie stuk geskiedenis, gemeente? Dawid kry die vloek van Simeï oor hom heen, maar laat dit aan die Here oor. En uiteindelik sterf Dawid. Simeï daarenteen mag bly lewe op grond van sy eed dat hy Jerusalem nie sal verlaat nie. Maar uiteindelik is dit Simeï wat sterf omdat hy die Naam van die Here misbruik het – én deur sy vloek by die vlug van Dawid, én deur sy meineed teenoor koning Salomo. Maar Dawid lewe! Dawid lewe? Ja, hoor maar wat sê Salomo in vers 45: “… mag koning Salomo geseënd wees en die troon van Dawid bevestig word voor die aangesig van die HERE tot in ewigheid!” En vers 47: “En die koningskap is bevestig in die hand van Salomo.” 

Die Here bewys dus hier dat Hy sy Naam nie laat misbruik nie; Hy bevestig die waarheid waaroor sy Naam ingeroep is. Dawid se troon staan vas … volgens die belofte van die Here (ons gaan net hierna daarvan sing uit Psalm 89)! Simeï daarenteen ontvang sy straf, want Hy het die Naam van die Here misbruik. So gaan die geskiedenis voort op die vaste fondament van God se Naam, sy waarheid!

En, gemeente, weereens vind ons die hoogtepunt hiervan by Jesus Christus. Christus is gekruisig vir ons sondes, Hy het gesterf en is begrawe. Maar die dood kon Hom nie vashou nie, want Hy het die dood nie verdien nie. Die waarheid moes uitkom! In die opstanding van ons Here Jesus Christus op Paassondag, vind ons God se bevestiging van die waarheid van die evangelie. En daarom sal elkeen wat in Hom glo ook eendag bevestiging ontvang dat hulle op die waarheid gebou het. Glo in Jesus Christus, broers en susters, glo in die waarheid, léwe daardie waarheid ook uit in al u woorde en werke, en dan mag u van God hoor – vandag al, maar eendag ten van aangesig tot aangesig: hierdie is my ware kind, Hy het op die waarheid gebou. En die waarheid het hom vrygemaak!

Amen

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 24:1, 4 en 5
Gebed
Lees:  1 Samuel 24:17-23
      2 Samuel 16:5-14
      1 Konings 2:36-47
Sing Ps. 24:2 en 3
Teks: HK, Sondag 37
Preek
Amenlied Ps. 89:10 en 11
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 89:12-14
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)