Wees wys in jou arbeid, en vind jou wins in die Here!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-10-14
Teks: 
Prediker 2:25
Preek Inhoud: 

Prediker 2:25

Ds HH van Alten - Sondag 14 Oktober 2007 - Biddag vir gewas en arbeid

Lees: Prediker 2
Teks: Prediker 2:25
Sing: Sien liturgie

Tema: Wees wys in jou arbeid, en vind jou wins in die Here!

  1. Moeitevolle arbeid bring ‘n deel, maar geen voordeel nie
  2. Moeitevolle arbeid moet jy agterlaat vir ‘n ander
  3. Genieting vind ons slegs by die Here

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Dit is ‘n mooi gewoonte om elke jaar ‘n biddag te hou vir gewas en arbeid. Daarmee toon ons ons afhanklikheid van die Here vir ons daaglikse arbeid, asook vir die rykdom en die voedsel wat ons daardeur verdien. Dit is ‘n kragtige belydenis teenoor die wêreld wanneer ons op so ‘n biddag sê: ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Ons bely dus dat daar slegs Een is uit wie se hand ons lewe, en dit is die hand van die Vader in die hemel, wat – soos ons sopas vanuit die doopsformulier gehoor het – ons “met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil beskik.”

Maar, broers en susters, dit help natuurlik nie ons onderhou hierdie goeie gewoonte, as dit verder geen impak op ons lewens het nie; hierdie goeie gewoonte verloor sy betekenis wanneer dit vir ons ‘n kortstondige aansporing en bemoediging is op Sondag in die kerk, maar een wat verder nie hande en voete kry op Maandag en Dinsdag en die res van ons werksweek nie.  

Daarom is dit so belangrik dat ons die woord van die Here met betrekking tot ons arbeid ‘n plek sal gee in ons lewens van elke dag. En as ons nie daarin slaag nie, dan lê die probleem nie by die Woord nie; nee, die Woord van die Here is daarvoor konkreet genoeg. Die Skrif sweef in hierdie opsig nie êrens bo ons nie, maar kom tot op grondvlak – dáár waar my kantoor is, dáár waar ek my werkers moet gaan aflaai, dáár waar ek ‘n besigheidstransaksie moet sluit, dáár waar ek my werkslas moet hanteer.

Nee, die probleem is nie die relevansie van die Skrif nie. Die probleem is dikwels ons onvermoë om te sien waaroor dit werklik in hierdie lewe gaan, ons mis die wysheid om ons arbeid te plaas binne die groter geheel van die lewe met God. En, gemeente, dit is presies waaroor dit gaan in Prediker 2 wat ons saam gelees het – ons sien in hierdie hoofstuk iets van die Prediker se worsteling om arbeid en rykdom ‘n regmatige plekkie te gee in ons lewe binne God se Koninkryk.  

Die tema vir die preek is:

Tema: Wees wys in jou arbeid, en vind jou wins in die Here!

  1. Moeitevolle arbeid bring ‘n deel, maar geen voordeel nie

  2. Moeitevolle arbeid moet jy agterlaat vir ‘n ander

  3. Genieting vind ons slegs by die Here

1. Die Prediker noem nêrens in hierdie boek sy naam nie, maar hy gee wel vir ons duidelike aanduidings oor wie hy was. In hoofstuk 1:1 noem hy homself immers “die seun van Dawid, die koning in Jerusalem.” Dit laat min twyfel dat ons hier te make het met Salomo, die koning wat van die Here wysheid gevra en ontvang het, en vir wie die Here ook nog geweldige rykdom geskenk het. Uit ander dele van die boek kan ons aflei dat hy, tydens die skryf van die boek Prediker, al op leeftyd is; ‘n ou man, dus. En op sy oudag kyk koning Salomo terug, en doen hy – volgens hoofstuk 1:13 – ‘n tipe ondersoek na alles wat onder die hemel gebeur, in ‘n poging om die waarde daarvan te bepaal. Hy ondersoek onder andere die waarde van lag en genietinge (2:1-2), hy ondersoek die waarde daarvan om die liggaam met wyn te verkwik (2:3), hy ondersoek die waarde van arbeid en rykdom (2:4-11 en 18-26) en hy ondersoek die waarde van wysheid en dwaasheid (2:12-17).  

‘n Spannende ondersoek… Nee, nie regtig nie, want die Prediker gee sommer dadelik in die begin al vir ons die resultaat van sy navorsing. Kyk maar na hoofstuk 1:14: “Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind.” U hoor sommer dadelik die bekende refrein wat ons so dikwels in hierdie boek teëkom, en wat vir baie mense die boodskap van die boek Prediker geword het – alles is tevergeefs. En dit pas vir baie presies by ons postmoderne tydsgees, die gees van sinloosheid en uitsigloosheid…

Maar, gemeente, ons moet goed verstaan dat die Prediker met hierdie woorde nie wil sê dat alles wat hy ondersoek het, nutteloos is nie. ‘Tevergeefs’ beteken nie dat dít wat hy ondersoek het, geen waarde het nie; inteendeel, dikwels het dit groot waarde. Maar ons moet die Prediker se uitspraak verstaan binne die groter perspektief van die ewigheid saam met God – dus, wat is blywend in God se Koninkryk? Wat het ewigheidswaarde? En binne dáárdie perspektief moet die Prediker erken dat die dinge wat onder die hemel gedoen word, tevergeefs is. Só moet ons dus ook kyk na sy uitsprake oor arbeid en rykdom.  

Vanaf vers 4 begin die Prediker om vir ons te vertel van sy prestasies op die gebied van arbeid en rykdom. En ons sien in hierdie beskrywing ‘n refleksie van die lewe en werk van koning Salomo. Ons lees van huise en wingerde; ons lees van pragtige tuine en parke, ‘n lus vir die oog waarin die koning hom kon terugtrek en rus vind; ons lees van opgaardamme om die jong bosse, wat hy aangelê het, te kan besproei; ons lees van slawe en slavinne, beeste en kleinvee, silwer en goud; daar is ook sangers en sangeresse om tydens die maaltye musiek en plesier te verskaf; en dan lees ons ten slotte ook nog van die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte – en dan gaan dit hier oor Salomo se vrou en byvroue, al duisend van hulle.

Salomo se rykdom was so groot dat die skrywer van die Kroniek-boek in 2 Kronieke 1:15 kan sê: “En die koning het die silwer en die goud in Jerusalem gemaak soos die klippe. En die seders het hy gemaak soos die wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte.” Oënskynlik was niks vir Salomo onmoontlik nie, hy was die rykste man van sy tyd, en daarby het hy nog sy wysheid ook behou (kyk maar na die einde van vers 9).  

In vers 10 wys Salomo watter uitwerking al hierdie rykdom op hom gehad het: dit het hom vreugde verskaf! Hy sê in vers 10: “… my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid…” Nou is dit belangrik om te weet, gemeente, dat die Hebreeuse woord wat hier met ‘vreugde’ en ‘verheug’ vertaal is, nie soseer dui op ‘n diep innerlike vreugde nie, maar meer op ‘n tydelike ervaring van plesier. Salomo het dus tydelike plesier beleef van al sy arbeid. Maar nietemin: sy arbeid – hoewel moeitevol – was tog gedeeltelik suksesvol. Hy het plesier gehad, hy kon geniet van sy prestasies en rykdom; plesier was sy deel, sy porsie – soos wat hy aan die einde van vers 10 sê.

En, gemeente, dit bevestig wat ons hierbo reeds gesê het, naamlik dat die Prediker nie alles as nutteloos beskou het nie. Sy uitspraak “alles is tevergeefs” wil nie sê dat die dinge wat hy ondersoek het, vir hom heeltemal waardeloos was nie. Nee, die Prediker kón geniet! En só mag élke arbeider geniet, gelowige sowel as ongelowige. Die Here laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges – en beide mag geniet van die arbeid van hulle hande. Is dit nie ‘n wonderlike bewys van die Here se genade nie, broers en susters? Die aarde, wat vervloek is om ons ontwil, en waarvan die Here sê: “met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe” – daardie aarde gee, deur die Here se genade, genoeg om ons ook nog te laat geniet. Ten spyte van die vloek is daar steeds plesier. Geniet daarvan, broers en susters, wees plesierig in die arbeid van jou hande – dit is jou deel!  

Maar – en dit is belangrik om dít raak te sien sodat ons nie opgaan in ons plesier nie – die deel beteken nog nie noodwendig ‘n voordeel nie! Sien u hoe goed die Prediker sy woorde hier kies in verse 10 en 11? Aan die einde van vers 10 sê hy dat plesier sy deel was vir sy moeitevolle arbeid, maar aan die einde van vers 11 moet hy erken: daarin is geen vóórdeel nie. Iemand kan dus ‘n déél hê vanweë sy moeitevolle arbeid, en tog geen vóórdeel hê nie. Wat sou die Prediker hiermee bedoel? Wat is die boodskap wat hy hier probeer oordra?

Wel, gemeente, die woord ‘voordeel’ wat die Prediker hier gebruik, is ‘n woord uit die besigheidswêreld, en dit dui op die oorskot-opbrengs op iemand se arbeidsinvestering. Kom ons gebruik ‘n voorbeeld: as iemand ‘n winkel sou oopmaak wat genoeg geld sou opbring om die dag-tot-dag kostes te dek, maar niks meer nie – nooit ‘n oorskot nie – dan sou die Prediker hierdie genoegsame opbrengs die eienaar se ‘deel’ noem. En die Prediker sou selfs sê dat die voedsel en drank wat hy met daardie opbrengs koop, goed is! Maar, streng gesproke, vertoon die besigheid geen profyt nie, dit lewer geen voordeel nie.

Nou, so is dit ook met ons arbeid op sigself! Daarvan sê die Prediker in hoofstuk 1:3: “Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?” En dit is nog geen ontkenning dat daar ook goeie dinge in die lewe is nie; die Prediker is geen pretbederwer nie. Maar hy is wel ‘n realis, en daarom besef hy dat menslike arbeid en strewe nooit ‘n netto wins kan oplewer nie; ons daaglikse arbeid is ‘n trapmeul waarin ons hardloop, maar waar ons nooit vóór kom nie. Vir die Prediker is plesier ‘n goeie déél, maar uiteindelik ‘doen’ dit niks nie, bereik dit niks groter as homself nie. Plesier is nie ‘n gepaste beloning vir die moeite wat ingesit is om dit te verkry nie.  

Gemeente, sonder om die plesier wat ons arbeid en ons rykdom aan ons kan verskaf, te ontken of weg te wens, leer die Prediker ons hier om ons arbeid in die regte perspektief te plaas. Die opbrings van ons daaglikse arbeid bring, in die lig van die ewigheid met God, geen voordeel nie. Ja, dit gee vir ons ‘n deel hier op aarde, moontlik selfs ‘n goeie deel, maar dit laat ons nog nie vóór kom ten opsigte van die ewigheid nie.

En daarom vra dit van óns – gelowiges – om wys te wees in ons arbeid. Dit het geen sin om iets wat geen voordeel bring in terme van ons saligheid, ‘n sentrale plek in ons lewens te gee nie – en dit is wat ons doen wanneer ons werk ons lewe word, wanneer oortyd normaal word, wanneer ons voortdurend gedryf word om nóg te werk sodat ons hierdie en daardie kan aankoop. Juis in ons wêreld, waarin die druk vanuit die 24-uur ekonomie so geweldig groot is, word dit tyd dat gelowiges standpunt inneem oor die plek wat arbeid in menselewens behoort in te neem: ons werk om te lewe, ons lewe nie om te werk nie. Broers en susters, ons mag op hierdie biddag hoor dat ons arbeid beperkte waarde het – mag die Here ons daarom help om ons daaglikse werk die beperkte plek te gee wat dit toekom, om ons arbeid en ons arbeidsure só vorm te gee dat ons nie die vóórdeel, wat die lewe met die Here bring, misloop nie!

Vervolgens: moeitevolle arbeid moet jy agterlaat vir ‘n ander. 

2. Ná ‘n kort bespreking van ‘n ander onderwerp in verse 12-17 gaan die Prediker in hoofstuk 2:18 verder met sy bespreking van arbeid en rykdom. En hier sien ons die gevaar wanneer ‘n mens aan jou arbeid groter waarde heg, ‘n groter gewig toeken, as wat dit in werklikheid besit. Ons sien hier hoe Salomo die vraag oorweeg wat daar eendag met sy rykdom, die produk van sy moeitevolle arbeid, gaan gebeur. En dit wil voorkom asof hy amper wanhopig raak as hy besef wat die antwoord op hierdie vraag is. Dit slaan hom hard: iemand anders gaan my rykdom kry! Hy gaan die resultaat van sy werk aan ‘n ander moet oorlaat! En weet nie hoe hierdie persoon gaan wees nie… Gaan die persoon wat sy rykdom gaan verwerf ‘n wyse man wees, of gaan hy ‘n dwaas wees? Dit is mos nie regverdig dat hy so hard gewerk het vir sy rykdom en iemand anders dit sonder enige inspanning erf nie?  

En ironies genoeg, gemeente, is dit presies wat gebeur het in die lewe van koning Salomo. Ons lees in 1 Konings 12 hoe sy seun Rehabeam hom opgevolg het. Net ná sy troonbestyging wil die volk weet of Rehabeam nie sy pa se harde belastings effens kan verlig nie. Maar Rehabeam luister na die verkeerde raadsmanne, en in plaas daarvan om die las te verlig, maak hy dit selfs nog swaarder. En dit lei daartoe dat die grootste deel van die volk uiteindelik hulle rug op hom draai en hulle van hom afskei – hier vind ons die skeuring van die twee- en die tienstammeryk. Die heerlikheid van Salomo se ryk verdwyn en Rehabeam hou net twee stamme oor. En nog later, in 2 Kronieke 12, sien ons hoe die Here vir Sisak, die koning van Egipte, stuur om Rehabeam en die volk vanweë hulle ongehoorsaamheid te straf. En dan lees ons in vers 9: “En Sisak het … die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning weggeneem; hy het alles weggeneem; hy het ook die goue skilde wat Salomo gemaak het, weggeneem.” Sien u, die Prediker se vrees word in sy eie lewe bewaarheid – sy opvolger maak ‘n gemors van die ryk en die rykdom wat hy opgebou het.  

Gemeente, dit kan ‘n mens inderdaad wanhopig maak as jy net vir jou rykdom lewe en wonder wat ná jou dood daarmee gaan gebeur. Meer nog, dit kan ‘n mens selfs kwaad maak, omdat iemand anders, wat niks daarvoor gedoen het nie, jou rykdom sal geniet. Vers 23 sê van die mens wat voortdurend hieroor bekommerd is: “Al sy dae is smarte en sy bemoeienis is verdriet; selfs snags rus sy hart nie.” Is dít nou die moeite werd, broers en susters? ‘n Lewe van moeitevolle arbeid, net om te besef dat jy geen houvas daarop het nie? Wie in hierdie lewe nie in die Here glo nie, dus, wie ‘n kind van die dood is, vir hom of haar is die dood ook die einde, vir hom of haar is die dood die verlies van alle aardse rykdom.

En, gemeente, daarom is dit só belangrik dat ons sal leer om ons arbeid – ons arbeid waarvoor ons more-oggend weer vroeg gaan opstaan – in die lig van die verlossing deur Jesus Christus, en in die lig van die ewigheid wat Hy verdien het, te verrig. Slegs dán kan ons met doelgerigtheid arbei. Die ongelowige arbei, want ja, wat kan hy anders doen. Maar die gelowige mag met vreugde arbei, omdat hy ‘n verloste van die Here is. So leer ons om met die regte intensie en die regte perspektief môre ons werk te gaan doen. En laat ons ons kinders van jongs af hier perspektief inskerp – ons arbeid is vir die Here!

En, broers en susters, dan mag die gelowige weet dat sy werke hom sal navolg! Soos wat ons lees in Openbaring 14:13: “… salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.” Wie in Jesus Christus glo, kry nuwe aansporing om te arbei. Nuwe aansporing – want ons weet dat ons arbeid in die Here nie tevergeefs is nie, soos wat Paulus sê in 1 Korinthiërs 15:58. Laat ons daarom oorvloedig wees in die werk van die Here! Maar tegelykertyd het die gelowige ook rus – én nagrus – want hy weet dat sy werke in die Here is, dat dit arbeid is wat verrig word op grond van die groot werk van ons Here Jesus Christus. En daarom hoef ons onsself nie uit te put in die trapmeul van die 24-uur ekonomie nie, en snags mag ons rustig slaap, want ons arbeid staan op vaste grond – die werk van Christus.

Gemeente, as daar een mens op hierdie aarde is wat sinvol kan arbei, dan is dit die christen. Hy is die een wie se werke vrug sal dra – nou en in die ewigheid. En daarom bid ons op biddag vir gewas en arbeid vir sinvolle arbeid. Arbeid wat in geloof verrig word, sodat ons nie wanhopig hoef te wees oor wie ons werke en rykdom gaan oorneem nie. Want ons weet dat die Here die vrug van ons arbeid sal oplig tot bo die grense van tyd en ruimte en dit ‘n plek sal gee in sy Koninkryk. Begin met hierdie besef more weer u werk, laat dit ‘n besef wees wat ons onsself telkens weer inskerp. Of jy nou in ‘n fabriek werk, agter ‘n rekenaar sit, ‘n hande-arbeider of ‘n direkteur is – ons arbeid in die Here volg ons na. Vandag reeds bou u en ek aan die nuwe Jerusalem.

Ten slotte: Genieting vind ons slegs by die Here.  

3. Gemeente, die Prediker wys aan die einde van hoofstuk 2 dat die vrug van die arbeid vir die gelowige nie slegs ná hierdie lewe volg nie. Nee, ook vir vandag is daar reeds vrug, naamlik die genieting saam met die Here. Vers 24 behoort daarom ook effens anders vertaal te word. In plaas van die woorde: “Dit is nie ‘n goed wat in die mens kleef dat hy eet en drink… “ ens. kan ons eerder vertaal: “Daar is niks beters vir die mens as dat hy eet en drink en sy siel die goeie laat geniet by sy moeitevolle arbeid nie. Ek het gesien dat dit ook kom uit die hand van God. Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?”

Ons sien hier ‘n opvallende omkeer by die Prediker. In die eerste verse van hoofstuk 2 sê die Prediker vir sy hart: “Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie!” En sy gevolgtrekking: “… kyk, ook dit was tevergeefs” Maar nou, in vers 24, kan die Prediker dieselfde woorde gebruik om te sê dat daar vir die mens niks beters is as om juis die goeie te geniet nie. Vanwaar hierdie verandering? Gemeente, hierdie verandering is die gevolg van die Prediker se nuwe perspektief op die verbondenheid met die Here, “want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?” Sonder die Here is genieting leeg; ja, uiterlik is daar miskien groot partytjies, uiterlik geniet mense van hulle rykdom, hulle gee voor om die gelukkigste mense te wees, maar ten diepste?  

En dan kom leer die Prediker vir ons dat die Here genieting en vreugde kom gee vir wie aan Hom verbonde is. Of miskien moet ons dit effens anders stel: die Here kom gee nie genieting nie, Hy kom gee Homself! Deur die geloof word u en ek opgeneem in die heerlike vreugde wat daar binne die Drie-eenheid bestaan, ons mag deel in die genieting tussen Vader, Seun en Heilige Gees. Dié Drie-in-Een het soveel geluk en vreugde saam met mekaar – die Vader geniet van die Seun, die Seun geniet van die Gees, en die Gees geniet van die Vader en die Seun. En aan daardie volmaakte genieting kry ons deel; deur die geloof word ons in die volmaakte harmonie van die Drie-enige God opgeneem.

En dan praat ons nie van die plesier wat Salomo as deel gehad het nie; dít was ‘n ervaring wat deur sy rykdom – dus, deur sy omstandighede – bepaal is. Nee, ons praat van intense vreugde om môre weer aan die werk te kan gaan, ‘n vreugde wat hom uit in my verhouding teenoor my baas en my kollegas, ‘n diepe genieting wat tot uiting kom in pligsgetrouheid en hardwerkendheid, ‘n genieting wat tot uiting kom wanneer ek op ‘n skaflike tyd huis toe kan gaan om saam met geliefdes te eet en te drink of kerklike werk in die Here se diens te verrig.  

Broers en susters, wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom? Niemand nie. Wie kan dan wel eet en geniet? Elke gelowige, elkeen wat Jesus Christus as Verlosser ken en bely. Hy kom maak die lewe nuut, ook die arbeid wat môre-oggend vroeg weer begin. ‘n Mooi werksweek word u toegewens!

Amen 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 147:1-3
Wetslesing (+ v/a 111)
Sing Ps. 15:1 en 5
Doopsbediening en dankgebed
Sing Skr. 14
Lees: Prediker 2
Sing Ps. 39:3-5
Teks: Prediker 2:25
Preek
Amenlied Ps. 104:8-10, 14, 19 en 20
Gebed
Kollekte
Slotsang: kombinasie van psalms/skrifberymings oor gewas en arbeid:
      Skr. 17:1, 5 en 6
      Ps. 144:5 en 6
      Ps. 85:3 en 4 (staande)
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)