In die sesde gebod leer die Here ons dat Hy die enigste Beskikker van die lewe is!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-10-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 40
Verwysing: 
HK 40-1
Preek Inhoud: 

Sondag 40

Ds HH van Alten - Sondag 28 Oktober 2007

Lees: Romeine 12:9-13:14
      Genesis 4:3-8, 19-24
Teks: HK, Sondag 40
Sing: Sien liturgie

Tema: in die sesde gebod leer die Here ons dat Hy die enigste Beskikker van die lewe is!

En daarom:

  1. Laat Hý jou saak verdedig
  2. Leef jý net in vrede met alle mense
  3. En maak so jou vyande skaam

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die sesde gebod lui: “Jy mag nie doodslaan nie” – hoe moeilik kan dit wees? En tog is dit nie heeltemal so eenvoudig soos wat dit klink nie. Die vertaling van die sesde gebod, soos wat ons dit in Exodus 20 en Deuteronomium 5 vind, het toeligting nodig. Die woord wat naamlik hier vir “doodslaan” gebruik word, kom ongeveer 50 keer in die Ou Testament voor. En dit is opvallend dat hierdie woord nooit gebruik word waar God iemand doodmaak, en ook nie vir doodslag tydens ‘n oorlog nie. Hierdie woord word slegs gebruik om te verwys na wederregtelike doodslag. Die sesde gebod gaan oor onregmatige doodslag, doodslag wat in stryd is met die reg. Dus, die owerheid wat besig is om haar swaardmag op ‘n goeie manier uit te oefen, die soldaat wat in die oorlog iemand van die vyand doodskiet, die burger wat uit egte selfverdediging iemand doodmaak, oortree nie teen die sesde gebod nie.  

En dit is belangrik om dit raak te sien, broers en susters, want dit wys ons dat die Woord van die Here geen absolute eerbied vir die lewe ken nie. Daar is immers gevalle, en die Woord van die Here wys dit ook, waar iemand geregtig is om ‘n ander se lewe te neem. Om te praat van absolute eerbied vir die lewe wek die indruk asof DIE Lewe iets heiligs is. En daar is sommige mense wat hierdie eerbied vir die lewe tot die absurde deurtrek, sodat selfs die plante en die diere hieronder val. So byvoorbeeld het ‘n etikus uit die middel van die twintigste eeu gemeen dat iemand wat in die somer by kerslig besig is om te werk eerder die vensters gesluit moet hou en die bedompige lug maar moet inasem, as wat hy insek na insek met verskroeide vlerke op sy lessenaar sien val! Dit is ‘n vergesogte visie op die heiligheid van die lewe. As kinders van die Here ken ons nie hierdie absolute eerbied vir die lewe nie.  

En tog is die lewe van die mens, aan die ander kant, ook weer nie op dieselfde vlak as dié van die plante en die diere nie. Die plante en die diere staan tot beskikking van die mens – die Here gee immers aan die mens die toestemming om van die gewasse van die veld en van die vrugte van die bome te eet (Gen. 1:29 e.v.). Ook mag hulle die vleis van die diere eet (Gen. 9:3). Ons mag bome afkap en diere doodmaak, en plante en diere kan ook vir wetenskaplike ondersoek gebruik word. Plante en diere is skepsele van God wat Hy gee vir gebruik deur die mens. Maar die mens staan op ‘n ander vlak as die plante en die diere. Want slegs van die mens word gesê dat hy geskape is na die beeld van God.  

Ons ken dus enersyds geen asbolute eerbied vir die menslike lewe nie, maar andersyds is daar tog respek vir dié wese in God se skepping wat die beeld van sy Skepper vertoon. En beide moet ons in gedagte hou wanneer ons oor die sesde gebod praat. In die sesde gebod het ons nie te make met die heiligheid van die lewe nie, maar met die heiligheid van die Gewer van daardie lewe. En na Hom wil ons luister…

Tema: in die sesde gebod leer die Here ons dat Hy die enigste Beskikker van die lewe is!

En daarom:

  1. Laat Hý jou saak verdedig

  2. Leef jý net in vrede met alle mense

  3. En maak so jou vyande skaam

1. In antwoord 105 noem die Kategismus ‘n hele reeks aksies wat deur God, in verband met die sesde gebod, verbied word. Ons lees daar: “Ek mag nie … my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad. Ek moet alle wraaksug laat vaar. Ek mag ook myself nie moedswillig in gevaar begewe nie.”

Gemeente, wat sou die agterliggende rede wees vir al hierdie aksies wat deur die Here verbied word? Wat sou die rede wees waarom mense optree op die manier soos wat die Kategismus dit hier beskryf? Hoekom onteer en beledig mense mekaar? Hoekom maak mense mekaar dood met hulle gedagtes, woorde en gebare? Wat is die rede dat een persoon ‘n ander selfs met ‘n mes sal doodsteek? Of meer nog: wat bring iemand daartoe om sy eie lewe te neem?  

Broers en susters, is die rede nie maar dat alle mense, onsself ingesluit, die natuurlike neiging het om vir hulleself op te kom nie, hulleself te laat geld nie? Dink bietjie na oor hierdie stelling: die mens het, vanaf die sondeval, die natuurlike neiging om homself te laat geld. Immers, vanaf die sondeval het die mens God as Koning uit sy lewe verdryf, en het hy self op die troon gaan sit; elke mens is dus koning in sy eie koninkrykie. En as iemand nou my koninkryk aanval of my koningskap bedreig, dan moet ek vir myself opkom, dan moet ek myself verdedig! En ons sien dit op alle moontlike maniere in die praktyk…

As iemand byvoorbeeld op die pad voor my inry, dan betree hy as’t ware my gebied, en watter beter manier om myself dan te verdedig as om daardie persoon met een of ander obsene gebaar uit my gebied te verdryf? Of as daardie meisie by die skool meer aandag as ek kry, dan bedreig sy my koninkryk, en hoe beter kan ek myself verdedig as om haar met woord en daad te onteer en te beledig? Of as die probleme wat my selfgemaakte koninkrykie bedreig vir my te veel word, hoe beter om vir myself op te kom as om my eie lewe te neem? Ja, gemeente, ook selfmoord is in wese ‘n uiting van die natuurlike neiging van elke mens om hom- of haarself te laat geld… 

En sien ons hierdie neiging nie reg vanaf die sondeval nie? Ons het daarvan gelees in Genesis 4. Die gebeure van Genesis 3 was nog vars in die geheue, of Kain gryp alreeds sy broer, Abel, en maak hom dood. Die eerste moord. En hoekom? Wel, Kain was kwaad omdat die Here Abel se offer genadig aangesien het, maar syne nie. Abel was ‘n bedreiging vir Kain, en daarom besluit Kain om vir homself op te kom. Hy besluit om sy broer uit die weg te ruim, sodat daar vir sy koninkryk plek kan kom voor die aangesig van die Here.

En wat van Lameg? Lameg is die klassieke voorbeeld van die mens wat met geweld sy posisie wil verdedig. Ons sien in Genesis 4 dat Lameg vir homself twee vroue geneem het, Ada en Silla. En om een of ander rede voel Lameg homself bedreig – miskien het hy as afstammeling van Kain dié se vrees gedeel; Kain sê immers in vers 14: “’n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan.” Hoe dit ook al sy, Lameg reageer op hierdie dreiging deur sy vuiste te bal, deur ‘groot-meneer’ te wees: “Vroue van Lameg, luister na my woord! Voorwaar, ek slaan ‘n man dood wat my wond en ‘n seun wat my kwes.” Lameg wys dat hy bereid is om enige bedreiging met geweld die nek in te slaan.  

Gemeente, dit is nou presies wat ek bedoel het toe ek gesê het dat die mens ‘n natuurlike neiging het om vir homself op te kom, homself te verdedig. Die mens het ‘n natuurlike en sondige geldingsdrang – hetsy met gedagtes, woorde, gebare, of met die daad. En alle mense het daardie neiging, u en ek ook, maar dit is ‘n neiging wat veral tot uiting kom by mense wat nódig het om vir hulleself op te kom, by hulle wat hul eie koninkrykies bou en dit dan moet verdedig. Dáárdie mense word gedwing om vir hulleself op te staan, anders bly daar niks van hulle oor nie; hulle koninkrykies stort in duie as hulle dit nie self verdedig nie. Hoe moeilik word gehoorsaamheid aan die sesde gebod dan nie… 

Maar, broers en susters, vir die christen is daar dan die heerlike – hoewel, soms moeilike – boodskap van Romeine 12:19 “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” Die christen mag hom in alle rus aan die sesde gebod onderwerp, want hy het nie meer nodig om vir homself op te kom nie! Die christen mag, met die krag van die Gees, sy sondige geldingsdrang afsterf! Want die christen bou nie meer aan sy eie koninkryk nie; die christen is nie meer koning op sy eie troontjie nie. Nee, gemeente, ons het deur die geloof nou diensknegte geword in die Koninkryk van Jesus Christus. Ons is nou bouers aan sy hemelse Koninkryk.  

En vir die verdediging van daardie Koninkryk staan Christus self borg! Christus self verdedig sy Koninkryk en die burgers van daardie Koninkryk. Ja, ons mag daarby help, Christus wil ons daarby gebruik, maar nooit met geweld nie, nooit teen die sesde gebod in nie.

Maarten Luther kon, in die konteks van sy tyd, so pragtig hieroor praat. U het miskien al gehoor van die boere-opstand van 1525 in Duitsland; in vandag se taal sal ons praat van ‘n plaaswerker-opstand. Dit was plaaswerkers, wat deur die groot grondbesitters onderdruk en uitgebuit is, en wat as gevolg daarvan in opstand gekom het. En hulle wou die prediking van Luther gebruik as regverdiging van hierdie optrede. Maar Luther het telkemale in duidelike taal gewaarsku dat die wapen van die christen nie geweld is nie, maar slegs die Woord! Die christen kry slegs een swaard in die hand, en dit is die Woord van God.  

En, broer en susters, hiermee mag u gaan veg, selfs tot bloedens toe; met hierdie woord mag u diep in mense se harte sny, sodat hulle tot oorgawe kan kom; met hierdie woord mag u mense sover bring dat hulle hul oog uitruk en hul hand afkap en in die vuur gooi, om sodoende die koninkryk te kan binnegaan. Met die swaard van die Woord kry u die reg om die Koninkryk van Christus te verdedig en die bedorwe geestelike lewe van mense aan te val. Maar oor die fisiese lewe van mense beskik slegs God. Hou jou hande en jou woorde, jou gedagtes en jou gebare af van die lewe van jou naaste, maar gryp hom met die Woord van God tot die ewige lewe.  

Gemeente, wie in die reguit weë van Christus wandel, wie dus soos ‘n christen lewe, het nie meer nodig om homsélf te verdedig nie. Want vir die christen gaan dit nie meer oor homself nie. Hy het nie meer nodig om met woorde of gebare ander mense, wat hom bedreig, dood te maak nie. Sy het nie meer nodig om ander, wat haar domein betree, te onteer of te beledig nie. Immers, daar is geen bedreiging meer vir die christen nie. Vir gelowiges bestaan daar – volgens Paulus in Romeine 8 – nie meer die bedreiging van dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel nie. Ons behoort mos nou aan Christus, en niks kan ons van sy liefde skei nie. 

En as jy as mens te na gekom word – iets wat ons as christene, volgelinge van die Gekruisigde, maar kan verwag – laat dan die wraak aan God oor. Hy sal vergelde. En – let op! – hy doen dit vandag reeds… Ja, ons mag onsself nie wreek nie – volgens Romeine 12:19 – maar God hét sy wrekers hier op aarde. Immers, net hierna praat Paulus van die owerheid as “’n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom. 13:4). Jy mag nie die reg in eie hande neem nie, maar die owerheid ontvang van God die reg om die kwaaddoeners te straf.

Dus, broers en susters, God veg vir jou saak, mede deur middel van die owerhede. Die Here is jou Beskermer. En hierdie Beskermer sluimer of slaap nie. Die Here is jou Bewaarder, jou skaduwee aan jou regterhand. In die sesde gebod lê die belofte opgesluit dat die Here sy kinders bewaar, dat Hy hulle siel bewaar; maar daarin lê ook die opdrag om dan nie vir onsself te wil opkom nie. Kom jy maar net op vir die Here en sy Koninkryk. Gaan voer die stryd met sy Woord in jou hand. En as jy daarvoor moet ly, laat die wraak aan God oor. Jou Koning sal jou saak behartig. [Kom ons sing nou daarvan uit Ps. 72:1, 2 en 7]

Vervolgens: leef jý maar net in vrede met alle mense. 

2. In feite is Romeine 12, vanaf vers 9, en die hele Romeine 13, een lang praktiese uitwerking van die liefde. Paulus begin alreeds in 12:9 met: “Laat die liefde ongeveins wees.” Hy vra dus van die gelowiges in Rome opregte liefde. Want die liefde is uiteindelik die vervulling van al die gebooie, soos wat ons lees in hoofstuk 13:8 en 9: “hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul. Want dít: jy mag nie egbreek nie, jy mag doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

God soek in sy gelowiges dus nie die wortel van afguns, haat en woede nie, waarvan die Kategismus praat nie; nee, Hy wil hê dat sy kinders vanuit die liefde lewe. En daarom moet hulle hulself met Jesus Christus beklee, soos wat ons lees in hoofstuk 13:14. Jesus Christus is die vervulling van die liefde, en wanneer die gelowiges hulleself met Hom beklee, dan het dit verreikende gevolge vir die naaste – lees maar weer hoofstuk 12:9-21. Al die praktiese bepalings wat Paulus in hierdie verse gee, en wat met die eerste oogopslag geen verband met mekaar hou nie, is in werklikheid almal klein klippies in die Skriftuurlike mosaiekwerk wat uiteindelik die pragtige woord “LIEFDE” spel. Liefde teenoor mede-gelowige, liefde teenoor alle naaste.

Eerstens het die liefde dus uitwerking in die verhouding tussen broers en susters in die geloof – kyk onder andere maar na vers 10: “wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde”, vers 13: “maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid”, en vers 16: “wees eensgesind onder mekaar.” Dus, die liefde in die gemeente lei tot onderlinge samehorigheid, sorg en omgee. Deur die liefde van Christus word ons mekaar se broeders en susters. Deur die liefde van Christus word die gemeente die heel eerste plek waar ons natuurlike en sondige geldingsdrang ‘n onnatuurlikheid word, ‘n vreemde vis in die see van gelowiges.  

Maar vervolgens moet hierdie liefde ook na buite uitgewerk word. Vir christene dreig daar altyd weer die gevaar dat ons slegs liefde bewys aan gelykgesindes, mense wat in dieselfde kerk is, mense wat dieselfde lewe en dink as ons. Maar nadat Paulus opgeroep het tot liefde teenoor die heiliges, is daar vervolgens ook die oproep om daardie liefde op ‘n radikale wyse uit te werk teenoor dié wat buite is. Hierdie uitwerking van die liefde na buite maak dat christene, wat vervolg word, selfs hulle vyande kan seën. Kyk maar na vers 14: “seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie.”

Ja, onder die ou bedeling was Israel as nasie kwesbaar vir vyande: oorloë en vervloekinge was toe nog onmisbaar. Maar in die nuwe bedeling is die Israel van God onkwesbaar: die ryk van die Messias is stewig in die hemel gevestig. En daarom kan vervolgde gelowiges in hierdie bedeling hulle vervolgers seën en vir hulle bid. Hulle kan selfs, volgens vers 15, met alle mense meelewing betoon: wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween. Die liefde ontwikkel by ons dus ‘n inlewingsvermoë waardeur ons, in lief en leed, deelgenote word van alle mense.

En wie hierdie meelewe leer ken het, vergeld niemand kwaad vir kwaad nie, soos vers 17 sê. Ons is dan nie meer soos Lameg wat die ander wil terugbetaal vir die kwaad wat hulle aan ons gedoen het nie. Ons soek dan nie meer daarna om, soos Lameg gesê het, die ander sewe-en-sewentig maal te wreek nie, maar eerder om sewentig maal sewe keer te vergewe, volgens die opdrag van Christus in Mattheus 18:22. Dan soek ons die goeie vir die medemens, sonder aansien van die persoon. ‘n Goeie kerklid moet dus ook ‘n goeie buurman wees, en ‘n goeie kollega, en ‘n goeie landsburger. Die liefde, wat binne die kerk begin, is nie ‘n groepskode nie, maar dit lei tot die herstel van die beeld van God in sy kinders, en dít teenoor alle mense! 

En dit is dan ook Paulus se konklusie in vers 18: “as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” Ja, gemeente, die werkingsgebied van die liefde word in hierdie lewe nog beperk deur die teenwerking van die kwaad. Daarom is dit nie altyd moontlik om in vrede met alle mense te lewe nie. Maar dit moet ons egter nie daartoe lei om die werking van die liefde te begrens nie. Die vrede kán geweier word, ja, maar tog moet dit te alle tye en aan alle mense aangebied word. En dit kan ‘n moeilike opdrag wees, veral wanneer ons te na gekom is; dit kan vreeslik swaar wees om verontregting en haat met opregte liefde te beantwoord. Maar, broer en suster, probeer dan onthou: dit gaan nie meer oor jou nie. Jy hoef nie meer jouself te laat geld nie; laat Christus na vore kom in jou lewe. Hy moet sigbaar word… deur die liefde!  

En dán begin ons die teenbeeld sien van die geldingsdrang waarna ons in die eerste punt gekyk het. Daar het ons gesien dat mense wat nie met Christus lewe nie, voortdurend daarop uit is om hulleself te laat geld, al moet dit met geweld gebeur. Maar daarteenoor staan die liefde wat ten diepste die vervulling van die sesde gebod is. Soos wat ons lees in antwoord 107: “terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees, alles wat hom kan benadeel sover moontlik probeer voorkom en selfs aan ons vyande goed doen.” As jou vyand dan honger het, gaan gee hom maar iets om te eet; as hy dors het, gaan gee hom maar iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop [kom ons sing Ps. 35:5 en 6]

Ten slotte: Maak so jou vyande skaam. 

3. Vurige kole op iemand se hoof ophoop… Wat sou Paulus hiermee bedoel? Sommige meen dat dit vir Paulus hier gaan oor die toorn van die eindgerig wat op die vyande van God se kinders sal neerkom. Maar dit is nie heeltemal gepas nie; immers, die Here straf sy vyande nie wanneer en omdat ons aan hulle liefde bewys nie. Die liefde van die christen teenoor sy vyand het ook nie die doel om die gerig aan te wakker nie, maar dit wil eerder bereik dat die vyand tot bekering sal kom.

Ja, dát die Here vergeld en straf – dit is seker, “want aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” En juis daardie sekerheid dat die Here sál vergeld, gee aan die gelowiges die vrymoedigheid om aan alle vyande liefde te bewys in alle nood. En hierdie onverwagse liefde van God se kinders sal die vyande rooi van skaamte maak – dít is wat Paulus hier bedoel met die vurige kole. Vlamme van skaamte sal uitslaan by die vyand wat die christen se liefde ervaar; hy sal rooi word asof gloeiende kole op sy kop lê. So kan ‘n christen sy vyand ongemaklik maak met sy liefde en sorg.  

Gemeente, ons het so dikwels ‘n oog-vir-‘n-oog, tand-vir-‘n-tand houding teenoor ons vyande. Dit wat hulle aan ons doen, doen ons net so hard weer terug. En as hulle in nood is, moet hulle nie verwag dat ons daar sal wees om hulle by te staan nie. En tog leer die evangelie ons iets totaal anders. Die evangelie leer ons: jy het ‘n onuitputlike skat ontvang, jy is deur Christus uitgetrek uit die modder van die verderf, jy het uitsig op die ewige lewe ontvang – deel dit dan ook uit aan alle mense! “Julle moet julle vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” – soos wat Christus leer in Mattheus 5:44. As ons slegs liefhet die wat vir ons liefhet, watter loon het ons dan? As ons net ons broeder en susters in die geloof groet, wat besonders doen ons dan? (Matt. 5:46-47). Dan gee ons juis vir ons vyande rede om te sê dat die kerk ‘n geslote groepie is.

Maar, gemeente, maak die vyand skaam! Laat hom sy woorde sluk! Soos wat Petrus sê in 1 Petrus 3:15 en 16: “wees altyd bereid om verantwoording te doen … met sagmoedigheid en vrees; met behoud van ‘n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie lewenswandel in Christus belaster.” Wandel daarom in Christus, lewe en werk vir sy Koninkryk, en laat die vyand beleef – laat hy dit voel – dat die lewe nuut word by Christus.

En weet dan dat, al kry Christus en sy gelowiges nie die erkenning in hierdie lewe nie, daar ‘n môre is, ‘n môre van die nuwe Jerusalem waarnatoe al die volke sal stroom, waarin hulle hul skatte en gawes sal bring; ‘n môre wanneer alle vyande hulle knie sal buig en met skaamte sal bely dat Christus koning is, en ons saam met Hom! Die erkenning sal kom! Nie in die eerste plek vir ons nie – ons lewe immers vir Christus – maar vir die groot Koning.

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Skr. 15:1-3, 7
Lees:  Romeine 12:9-13:14
      Genesis 4:3-8, 19-24
Lees: HK, Sondag 40
Gebed
Preek

  • Na 1ste punt: Ps. 72:1, 2 en 7
  • Na 2de punt: Ps. 35:5 en 6
  • Amenlied Ps. 71:8 en 9

Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 132:11 & 72:10
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)