Laat jouself voorberei om die Christus te ontmoet!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-12-23
Teks: 
Lukas 1:5-25
Preek Inhoud: 

Lukas 1:5-25

Ds HH van Alten - Sondag 23 Desember 2007

Lees: Lukas 1:5-25
Teks: Lukas 1:5-25
Sing: Sien liturgie

Tema: Laat jouself voorberei om die Christus te ontmoet!

  1. God se ingreep
  2. Die voorbereider se werk
  3. Die priester se reaksie

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Is dit vir ons nodig om vir Kersfees voor te berei? Of laat ek die vraag anders stel: het u enige voorbereidings getref vir Kersfees wat oormôre gevier word? Wel, broers en susters, as die wêreld om ons heen vir ons ‘n aanduiding is, dan sou ‘n mens geneig wees om te sê: ja, ons moet voorberei. Immers, teen einde Oktober / begin November kon ons alreeds die eerste voorbereidings vir Kersfees in die winkels opmerk. Dit wil voorkom asof die winkels elke jaar vroeër met hulle kersversierings begin… En vanaf begin Desember kon ons ook sien hoe mense al hoe besiger raak om hulle geskenke voor Kersfees gereed te hê. Terwyl ons op hierdie oomblik in die kerk sit, is die winkels waarskynlik besiger as ooit vir daardie laaste inkopies. Baie voorbereidings word getref vir Kersfees.  

Maar wat van ons, christene? Moet ons ook voorberei vir Kersfees? Moet daar by ons ook ‘n klomp dinge gebeur voor die koms van die Christus-fees oor twee dae? Nee, sal u miskien sê, ons vier mos nie Kersfees soos wat baie mense om ons heen dit doen nie, ons neem mos nie deel aan die uiterlike vertoon waarmee die wêreld Kersfees inkleur nie. Dus, geen voorbereidings vir ons nie!

Maar as ons nou na Lukas 1 kyk, dan sien ons een en al voorbereidings… Ons sien daar hoe die Here groot voorbereidings vir sy volk aankondig voor die geboorte van Jesus Christus. Hy kondig selfs die koms aan van ‘n spesiale voorbereider, iemand wat spesialiseer in voorbereiding. Want die volk kon nie in hulle huidige toestand die Christus ontmoet nie; daar moes eers ‘n groot aantal voorbereidings getref word, die volk moes eers gereed gemaak word vir die koms van Jesus Christus.  

Geen voorbereidings vir ons nie? Nee, nie soos wat ons dit om ons heen in die wêreld sien nie; daaraan hoef ons nie deel te neem nie. Maar in die gelóóf behoort ons wel voor te berei; meer nog: behoort ons wel voorberei te wórd op Kersfees. Nie omdat Christus weer gebore gaan word nie – dit het tweeduisend jaar gelede reeds gebeur – maar omdat Kersfees ‘n beweging opgang gebring het waardeur elke mens onafwendbaar oppad is na ‘n ontmoeting met die kind van Betlehem, die kind wat intussen volwasse geword het, wat intussen gekruisig is, wat opgestaan het, en wat regeer aan die regterhand van die Vader, … en wat besig is om terug te kom. Ja, gemeente, ons leef tussen Christus se eerste en sy tweede koms, ons leef tussen Kersfees en wederkoms. En net soos wat die volk kort voor die geboorte van Christus voorberei moes word op sy koms, so moet ons ook voorberei word op die ontmoeting met Jesus Christus. Kersfees bring ons dus enersyds by Christus se eerste koms na die aarde, maar Kersfees laat ons andersyds ook verder kyk na sy wederkoms. En dit vra voorbereiding, dit vra dat ons voorberei moet word, soos wat God dit aangekondig het in Lukas 1. Ek verkondig aan u die boodskap van voorbereiding onder die volgende tema:

Tema: Laat jouself voorberei om die Christus te ontmoet!

  1. God se ingreep

  2. Die voorbereider se werk

  3. Die priester se reaksie

1. In vers 5 skets Lukas vir ons die situasie van daardie tyd met die woorde: “in die dae van Herodes, koning van Judea…” Onmiddellik moet dit vir ons duidelik maak in watter haglike omstandighede die volk verkeer het. Op die troon sit daar naamlik nie ‘n nakomeling van Dawid, soos die Here belowe het nie, maar ‘n Edomiet, ‘n nakomeling van Esau. En dít in die sentrum van die beloofde land: Judea! Duidelik het die volk deur hulle sonde en afval veroorsaak dat die Here hulle onder die drukkende hand van ‘n vreemde heerser geplaas het. En vir die volk moes dit ‘n verskriklike situasie gewees het.

Maar tog, gemeente, is daar ‘n ligpuntjie in die donker toestand van die volk, want – so lees ons in verse 5 en 6 – “daar was in die dae van Herodes, koning van Judea, ‘n sekere priester met die naam van Sagaria, uit die afdeling van Abia; en sy vrou was uit die dogters van Aaron, en haar naam was Elisabet. En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel.” Ondanks die afval van die volk en die gerig van God daaroor, was daar dus tog nog mense in wie die Woord van die Here ‘n uitwerking gehad het; daar was nog ‘n ‘res’ van gelowiges, soos deur die profete belowe. Sagaria en sy vrou is die lewende bewys van so ‘n ‘res’, wat deur God bewaar is. Later in hierdie hoofstuk, asook in Lukas 2, sal ons ook nog ander lede van die ‘res’ teëkom – Maria, Simeon en Anna. Almal mense wat trou gebly het in die diens aan God.

Maar ten spyte van die feit dat hulle trou gebly het, is hierdie ‘res’ nie in staat om enige verandering te bring in die situasie van die volk nie; die ‘res’ is daar deur God se genade, maar hulle is amper onsigbaar in die gebeure van daardie tyd. Nee, gemeente, as daar enige kans is op verandering in die toestand van die volk, dan moet dit van God se kant af kom. God sal moet ingryp tot verlossing en voorbereiding van sy volk. En dít doen Hy op besondere wyse. Kom ons kyk wat gebeur… 

In verse 8-10 skets Lukas vir ons die gelukkigste dag uit die lewe van die priester, Sagaria. As priester het jy naamlik twee maal in ‘n jaar vir ‘n week lank diens gedoen in die tempel. Dit op sigself was alreeds ‘n groot oomblik. Maar om deur die lot aangewys te word om die reukoffer in die heilige te gaan bring, dit het hoogstens een maal in ‘n priester se lewe gebeur. ‘n Ongelooflike voorreg vir Sagaria. En dit is tydens hier voortreflike diens in die heilige dat God, deur middel van sy engel, ingryp in die toestand van sy volk. Hier is geen mensewerk ter sprake nie. God kom tot ‘n volk wat nie by magte is om hulle eie verlossing te bewerk nie, ‘n volk wat selfs herstel nodig het om die Here te kan ontvang.  

Broers en susters, die goddelike ingreep blyk uit verskeie punte.

In die eerste plek belowe die engel aan Sagaria dat sy vrou ‘n seun sal baar. Elisabet ‘n baba kry? Hoe is dit moontlik? Sy is dan onvrugbaar, en daarby is beide van hulle op ver gevorderde leeftyd, te oud om nog kinders te kan kry. Dit is eintlik nie so verbasend dat Sagaria hier twyfels het nie. Maar met hierdie wonderlike geboorte wys God dat Hy besig om sy plan tot uitvoering te bring; Hy gryp in!

Verder dra die engel vir Sagaria op om die kind ‘Johannes’ te noem. Dus, die naam van die kind moet nie gesoek word binne die raam van die familie nie. Nee, Gód gee die naam. Dit wys op die afkoms van hierdie kind buite die familiekring. Die kind het sy naam nie te danke aan die familie nie, maar aan ‘n opdrag van God. God het ‘n plan met hierdie kind.

En ten slotte kan ons ook nog wys op die engel se onthulling van sy naam – Gabriël. Waar het ons al voorheen van hierdie engel gehoor? Gemeente, hy is die engel wat eertyds aan Daniël verskyn het om aan hom te verkondig dat God se heerlike dag, ná ‘n tyd van onheil en straf, sekerlik sou kom. Hierdie Gabriël is daarna nooit weer gesien nie. Maar nóú kom hy terug! Hierdie keer om die goeie boodskap te bring van die geboorte van ‘n seun. Blykbaar is die tyd van onheil en straf, wat Gabriël aan Daniël geopenbaar het, verby. Nou kom bring die einste Gabriël die goeie tyding van die dag van die Here.  

Gemeente, in hierdie fyn puntjies van ons Skrifgedeelte sien ons dat die Hére ingryp om verandering teweeg te bring in die toestand van sy volk. Die volk self se toestand is sodanig dat hulle nie in staat is om hulleself op die komende dag van die Here voor te berei nie; en die ‘res’ is te klein om enige verandering te bewerk. Maar God gryp in, Hy kom met die aankondiging van die spesialis-voorbereider – Johannes die Doper. Deur hóm sal God sy volk voorberei op sy groot dag, die dag wanneer die Koninkryk naby kom deur die lewe en optrede van Jesus Christus. Op wonderbaarlike wyse, ja, op goddelike wyse kom bewerk God die onmoontlike om sy afvallige en hulpelose volk voor te berei. En daarvoor prys Sagaria die Here in sy lofsang, nadat die Here sy mond weer geopen het: “Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het… En jy, kindjie, sal ‘n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak…” (Luk. 1:68 en 76).

Gemeente, as God nie ingegryp het nie, sou sy volk nie voorbereid gewees het op die koms van die Verlosser nie. As God vandag nie ingryp nie, sal ons nooit voorbereid wees nie. Die werk van voorbereiding, die groot werk om ‘n volk gereed te maak om hulle Heiland te ontmoet, is nie ons werk nie – dit kom van bo-af. Laat ons daarom bid dat die Here ons sal voorberei. En Lukas 1 is die bewys dat God hierdie gebede nie afwys nie. Die engel sê immers vir Sagaria: jou gebed is verhoor! En dan moet ons nie dink aan die gebed van Sagaria vir ‘n kind nie, want daardie gebed het jare gelede al stil geword. Nee, dit gaan oor Sagaria se priesterlike gebed namens die volk. Die volk was buite besig om te bid (vers 10), en Sagaria was hulle gebedsverteenwoordiger om die lieflike geur van daardie gebed vanaf die altaar voor die Here te laat opstyg. En dáárdie gebed word deur die Here verhoor – Hy kom met maatreëls om sy volk voor te berei op die komende Verlosser. En dit is ons bede vandag nog dat ons voorbereid mag wees, dat ons gereed sal wees – soos die vyf verstandige meisies – om ons bruidegom te ontmoet en saam met Hom in te gaan in die bruilofsaal.

Ons let vervolgens op die voorbereider se werk. 

2. Om sy volk voor te berei op die koms van Jesus Christus, het God dus die voorbereider gestuur, Johannes die Doper. Maar hoe sou Johannes sy voorbereidingswerk verrig? Wat was sy taak? Wel, die engel wys daarop dat Johannes groot sal wees voor die Here. Sy lewe sal gekenmerk word deur die feit dat hy nie wyn of sterk drank sal drink nie, sodat hy ‘n sober lewe sal lei, sonder luukse.

Maar, gemeente, die belangrikste kenmerk van Johannes se lewe is dat hy vervul sal word met die Heilige Gees, reeds van die skoot van sy moeder af. Deur hierdie vervulling met die Heilige Gees word Johannes vanaf die begin deur die engel aangewys as ‘n proféét! Profesie is in die bybel immers ‘n resultaat van die werking van die Gees. Dus, nie in die eerste plek Johannes die Doper nie, maar Johannes, die profeet van die Here! En wat opmerklik is, is dat hy reeds vóór sy geboorte sal deel in hierdie vervulling met die Gees – ‘n feit wat bevestig word wanneer hy alreeds voor sy geboorte profeteer, by monde van sy moeder Elisabet. Ons lees naamlik in Lukas 1:41 dat toe Elisabet die groet van Maria hoor, die kindjie in haar skoot opgespring het, en dat Elisabet toe vervul is met die Gees. Johannes was nog nie eers gebore nie, toe hy alreeds indirek geprofeteer het.  

Johannes is dus ‘n profeet, en sy profete-werk lê dáárin dat hy baie van die kinders van Israel tot die Here hulle God sal bekeer (vers 16). Duidelik is daar dus afval by die volk, soos ons ook al vroeër gekonstateer het. Maar Johannes is die profeet, wat in die gees en die krag van Elia, die volk sal voorberei vir die koms van die Here. Hy sal – volgens vers 17 wat ‘n aanhaling is van Maleagi 4:5 en 6 – die harte van die vaders terugbring tot die kinders, en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges. Johannes kry dus die taak om die gemeenskap van die heiliges te herstel. Die kloof tussen die regverdiges en mense wat nie aan God gehoorsaam wil wees nie, word deur die profeet Johannes weggeneem. Só sal hy vir die Here ‘n toegeruste volk berei, ‘n volk wat voorbereid is op sy koms.

Lukas 3 vertel vir ons hoe Johannes hierdie taak soos ‘n getroue profeet nagekom het. Ons lees in vers 3 dat hy in die hele omtrek van die Jordaan die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig het. Hy roep die volk op: “Dra dan vrugte wat by die bekering pas.” En ons sien die uitwerking van hierdie oproep by verskillende groepe onder die volk. Eers is daar die skare wat vir hom vra: “Wat moet ons dan doen?” En Johannes se antwoord: “Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het moet dieselfde doen.” Vervolgens vra die tollenaars: “Meester, wat moet ons doen?” En Johannes antwoord vir hulle: “Moenie meer invorder as wat vir julle voorgeskrywe is nie.” En ten slotte vra ook die soldate: “En ons, wat moet ons doen?” En hy sê vir hulle: “Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy.” Baie konkreet, in die weg van bekering en werke wat by die bekering pas, berei Johannes die volk voor op die koms van die Here Jesus. Soos wat ons lees in Lukas 3:18: “Hy (Johannes) het dan ook met baie ander vermaninge die evangelie aan die volk verkondig.” Die evangelie – die blye nuus dat Jesus Christus oppad is – word met vermaninge verkondig: bekeer julle, sodat julle gereed kan wees! 

Gemeente, profesie, die verkondiging van die evangelie met die oproep tot bekering, is dié taak van die kerk om die volk van die Here voor te berei op sy koms. Dit wat die Here elke Sondag twee maal hier in die kerk doen, naamlik om sy Woord aan ons te laat verkondig, is voorbereidingswerk. Wanneer die oproep klink om jou te bekeer, wanneer jy opgeroep word om goeie werke te verrig, dan is dit voorbereidingswerk. Wanneer ons saam tydens bybelstudies die bybel oopmaak om na die profetiese woord van die Here te luister, dan word ons voorberei; wanneer ons kinders die katkisasies getrou bywoon en meer van die Here leer, dan word hulle gereed gemaak; wanneer ons in ons gesinne bybelstudie en huisgodsdiens doen, dan brei die Here ons.

Gemeente, laat ons gehoor gee aan die profetiese woord wat tot ons spreek, sodat ons voorbereid kan wees vir die koms van die Here. Laat hierdie gemeente ‘n toegeruste volk wees, sodat wanneer ons Here terugkom op die wolke, Hy – om dit effens vreemd te stel – nie na ons hoef te soek nie; sodat Hy ons onmiddellik sal raaksien: dáár is my volk, en dáár, en dáár. Hy sal ons herken aan die bruilofskleed wat ons dra, die kleed van bekering en werke wat by die bekering pas. Láát jouself voorberei, láát jouself toerus deur die verkondiging van die blye evangelie, met alle vermanings wat daarby behoort.

Ten slotte: die priester se reaksie. 

3. Sagaria is nie oortuig van die engel se aankondiging van Johannes se koms en sy gevolglike taak nie. Hy soek ‘n teken: “Waaraan sal ek dit weet? Want ek is ‘n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd.” Dit is duidelik dat Sagaria hom blindstaar op hierdie een aspek van die engel se boodskap, naamlik die geboorte van ‘n seun. In sy oë is dit onmoontlik, vanweë die hoë leeftyd van homself en sy vrou. Vir die Here egter is die geboorte van Johannes maar net ‘n middel tot ‘n groter doel, naamlik die voorbereiding van die volk vir sy koms; die hoofinhoud van die boodskap van die engel gaan oor die koms van die Here as verhoring van die gebed, en daarin is die geboorte van Johannes slegs die beginpunt. Sagaria moet daarom leer om na die volledige profesie te luister, en hy moet leer dat die vervulling van hierdie hele profesie die werk van God is. Wat by mense onmoontlik is, is moontlik by God! Of soos die engel, juis in verband met Elisabet, net hierna vir Maria sal sê: “Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie” (Luk. 1:37).  

Die feit dat Sagaria gevolglik gestraf word met stomheid, wys vir ons dat sy vraag na ‘n teken onvanpas was. Immers, die geboorte van Johannes uit ouers wat te oud is om kinders te kan kry, is die teken! Johannes se geboorte is die teken dat God ook die res van hierdie profesie waar sal maak, en dat Hy werklik oppad is. Maar Sagaria kry, vanweë sy ongeloof, nie die geleentheid om hierdie wonderlike boodskap verder te vertel nie – in elk geval nie op hierdie stadium nie. As straf word die voorreg om tot die volk te spreek, hom ontneem. Hy kan slegs vir die volk beduie…

En tog vind ons in hierdie straf ‘n belangrike boodskap vir die volk, broers en susters. In hierdie straf kry die volk ‘n teken dat geloof noodsaaklik is, noudat God hulle gebed verhoor het. Die volk het gebid, en Sagaria het hulle gebed tot die Here gebring deur middel van die reukwerk. Dáárdie gebed word deur God verhoor. Nou pas dit die priester, sowel as die volk, om hierdie verhoring met geloof aan te neem. Geloof – daarin het Sagaria op hierdie belangrike moment gefaal, en hy word daarvoor gestraf. 

Sagaria se ongeloof kry egter nog ‘n nadraai…

Wanneer naamlik die tyd van sy tempeldiens om is, gaan hy huis toe. Kort daarna word Elisabet swanger. Sy het waarskynlik aangevoel dat hierdie swangerskap nie ‘n privaat-aangeleentheid is wat sy sommer dadelik met buurvroue en kennisse kan bespreek nie. Sy verberg haarself vyf maande lank. Hoekom spesifiek vyf maande? Wel, gemeente, volgens Lukas 1:36 ontvang sy in die sesde maand besoek van Maria, en daarmee kom haar verberging tot ‘n einde. Maar hoekom het sy haarself in die eerste plek verberg? Dit is immers die tyd dat die Here haar aangesien het om haar smaad onder die mense weg te neem!?

Ja, dit is waar, maar daar is vir Elisabet ook nog iets anders. Sy word daar by die huis naamlik elke dag met die stomheid van Sagaria gekonfronteer. En hoe moet sy daarmee omgaan? Moet sy die woord neem wat Sagaria ontneem is, of wag sy vir die oomblik dat die feite vir hulleself begin spreek? Elisabet kies vir die tweede opsie. Sy negeer nie God se straf oor haar man nie. Sy voeg haar stilswye by die stilte van haar man. Só deel sy saam met hom in die beskamende verskyning wat hy in die tempel gesien het. Gesamentlike boetedoening vanweë Sagaria se ongeloof in die verhoring van die volk se gebed, weeg vir Elisabet hier swaarder as ‘n onmiddellike vruegde-uiting oor haar eie swangerskap. Hierin sien ons hoe die geloof van Elisabet tot uiting kom, deurdat sy deel in die straf op die ongeloof van haar man.  

Gemeente, sowel in Sagaria se ongeloof met die daaropvolgende straf van stomheid, as in Elisabet se geloof waardeur sy deel in die straf van haar man, klink vir ons die duidelike oproep: glo in die boodskap wat van God kom! Dit is so ‘n aktuele oproep! Waar die Here vandag nog besig is om sy volk voor te berei vir die koms, die wederkoms, van Jesus Christus, is die vraag steeds: wat maak ons met sy profetiese woord? Wat doen ons met die boodskap wat tot ons kom? Glo ons daardie boodskap? Glo ons die Woord wat tot ons kom? Of is ons voortdurend op soek na ‘n teken omdat dít wat aan ons voorgehou word, nie vir ons moontlik is nie?

Broers en susters, moet ons vir Kersfees voorberei? Ja, sekerlik! Nie deur die winkels in te vaar en groot partytjies met geskenke te reël nie, maar deur ons deur die Woord te laat voorberei om Christus te ontmoet – in die krip, in sy lewe op aarde, aan die kruis, in sy graf, en as opgestane Here. Maar bo alles moet ons ons laat voorberei om Chistus te ontmoet in sy wederkoms. “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie. Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam. Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (Openb. 3:11-13).

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 30:1-3
Wetslesing en Matt. 22:37-39
Sing Skr. 21:1-3 en 6
Gebed
Skriflesing en teks: Lukas 1:5-25
Sing Ps. 103:9-11
Preek
Amenlied Ps. 100
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 2:1, 4 en 5
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.  

Liturgie: 

(kyk in preek)