Kyk na God in die geestelike mynveld van die lewe!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-04-13
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 52
Verwysing: 
HK 52a-1
Preek Inhoud: 

Sondag 52a

Ds HH van Alten - Sondag 13 April 2008

Lees: Mattheus 26:36-46; 2 Korinthiërs 12:1-10
Teks: HK Sondag 52a
Sing: Sien liturgie

Tema: Kyk na God in die geestelike mynveld van die lewe!

  1. Ons bely ons sterkte in die Here
  2. Ons bely verder dat Hy alle omstandighede beheer

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die sesde bede vloei vanselfsprekend vanuit die vyfde bede, waarna ons enkele weke gelede gekyk het. In die vyfde bede gaan ek met my sondes na God toe; ek bely aan Hom dat ek skuldig staan teenoor Hom; dat Hy my liefde en gehoorsaamheid verdien het, maar dat ek dit nie gegee het nie. Ek erken dat my hart en lewe vervuil is, en dat ek nie self in staat is om daarin verandering te bring nie. En soos wat my verhouding met die Here groei, so groei ook die besef van die erns van my sondigheid. Ek besef al hoe meer wat ek werklik verdien, en dit mag ek ook eerlik teenoor die Here uitspreek.

En tog bely ek dit alles in gebed voor die Here in die vertroue dat Christus in my plek gesterf het. Hy het sy lewe gegee as ‘n losprys vir myne. Hy het my verlos uit my posisie van skuldenaar; Hy het my losgekoop uit die bande van sonde en dood. En elke keer wanneer ek my sondes bely, en besef dat dit om Christus wil vergewe is, dan vul dit my hart met groot vreugde en vrede! Die las van die sonde en die skuld val van my skouers af. Ek is vergewe!  

Wat ‘n heerlike evangelie, wat ‘n ongelooflike genade! Mense wat die ewige dood en hel verdien het, kry Goddelike begenadiging en mag weer lewe. Soos wat Johannes in sy eerste brief sê: “Kyk, wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het dat ons kinders van God genoem kan word” (1 Joh. 3:1).

Nou, gemeente, wat is my reaksie op hierdie heerlike besef? Wat is die gevolg daarvan by my? Die gevolg is – of so behoort dit in elk te wees – dat ek nóóit weer na my vorige toestand wil terugkeer nie. Nooit weer nie! Mag ek tog nooit weer val nie, mag ek tog nooit weer aan my luste toegee nie, mag ek tog nooit weer in woede uitbars nie, mag ek tog nooit weer my naaste beskinder nie, of liefdeloos teenoor my broer of suster optree nie. Laat dit met my nie wees soos wat Petrus sê in 2 Petrus 2:22: “Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.” Gemeente, net nie dít nie! Net nie terug na waar ek was nie! Die sondaar wat vergifnis ontvang het, kan dít nie aanvaar nie. En juis daarom smeek ons: Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose…

Tema: Kyk na God in die geestelike mynveld van die lewe!

  1. Ons bely ons sterkte in die Here

  2. Ons bely verder dat Hy alle omstandighede beheer

1. In 1996 het Mosambiek se minister van verdediging beweer dat daar nog ongeveer 3 miljoen landmyne versteek lê oor die lengte en breedte van Mosambiek. Gemiddeld twingtig mense trap op landmyne elke maand. Die meeste landbougrond is onbruikbaar vanweë die gevaar van hierdie landmyne…

Nou, gemeente, iets soortgelyks speel hom af in die lewe van elke gelowige. Die gelowige lewe in ‘n geestelike mynveld; sy lewe word voortdurend daardeur bedreig. Die gelowige is voortdurend blootgestel aan die gevare van verleidings en versoekings wat die satan so subtiel as moontlik op ons laat afkom. Ja, net soos wat die landmyn goed onder die grond weggesteek is, sodat dit nie met die blote oog gesien kan word, so verpak die satan sy aanvalle op God se kinders baie sorgvuldig sodat dit moeilik herkenbaar is. Elke gelowige lewe in hierdie gevaarlike mynveld! En dit is goed om dit sommer dadelik vir mekaar te sê – immers, ‘n ingeligte gelowige kan homself béter voorberei vir hierdie geestelike mynveld van die verleidings van die satan, as ‘n gelowige wat hiervan niks weet of wil weet nie.  

Dus, broers en susters, wanneer ons aan Christus behoort, dan is ons nie skielik vry van die invloed van verleidings nie. Ons is nie skielik immuun teen die sonde wat op ons afkom nie. Ons sal ‘n groot fout maak wanneer ons so sou dink. Nee, steeds weer dreig vir die gelowige die gevaar dat hy op een van die goed versteekte landmyne van sy drie doodsvyande – die duiwel, die wêreld, en sy eie sondige natuur – kan trap.

Ons bly dus kwesbaar vir die verleidings van die satan, en daarom ook die oproep van die Here Jesus in Mattheus 26:41: “Waak en bid dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” En Jesus sê dit terwyl Hy self in Getsemane besig is om in sy swaarste aanvegtinge en verleiding tot die Vader te bid. Jesus kan dus self ook nie sonder hierdie gebed nie, hoeveel te minder sy leerlinge!

Nou is die dissipels nie onwillig om hierdie gebed te bid nie; nee, hulle is heeltemal bereidwillig om saam met Hom te bid. Maar bereidwilligheid op sigself is nie genoeg nie, soos wat blyk uit die feit dat hulle elke keer aan die slaap raak wanneer Jesus gaan bid. Die bereidwilligheid is miskien daar, maar die vlees is swak. En die satan weet waar om hierdie swak plekke te vind. En hy vind dit by die dissipels wanneer hy hulle, in die afwesigheid van hulle Meester, met slaap oorval. Waak en bid daarom dat julle nie in versoeking kom nie! 

Gemeente, dit is presies dieselfde oproep van die Dordtse Leerreëls in hoofstuk 5, paragraaf 4. Ons lees daar: “Daarom moet hulle voortdurend waak en bid dat hulle nie in versoekings gelei word nie.” Hoor u hoe mooi die opstellers van die Dordtse Leerreëls na Mattheus 26 geluister het. Hulle herhaal byna woordeliks Jesus se waarskuwing, en vervolg dan daarna: “As hulle dit nie doen nie, kan hulle deur hulle sondige natuur, die wêreld en Satan tot groot en gruwelike sondes verlei word. Soms word hulle ook inderdaad, onder die regverdige toelating van God, daartoe verlei. Die droewige val van Dawid, Petrus en ander heiliges wat vir ons in die heilige Skrif beskryf is, bewys dit.” Presies! As hulle dit nie doen nie, as hulle nie voortdurend waak en bid nie… Ons sien die gevolge by Dawid, by Petrus, by die ander heiliges.

Ja, gemeente, as selfs die man na God se hart, die skrywer van soveel pragtige psalms, die koning van Israel, Dawid, in gruwelike sondes kon val, dan kan ons dit sekerlik ook. As selfs die groot apostel, Petrus, Christus kon verloën, dan moet ons nie dink dat ons vry is daarvan nie. Nee, ons is swak, ons is totaal onmagtig om onsself staande te hou; dit is vir ons, sonder die hulp van God, onmoontlik om nie te sondig nie! Moenie daaroor enige illusie by u self hê nie. Jy ís nie sterk genoeg nie! 

En daarom bid ons die sesde bede, daarom moet ons die sesde bede bid – omdat ons ons eie swakheid ken. Ons bid hierdie bede, nie as heidene nie; nee, ons bid dit as gelowiges. Want selfs as wedergebore Christene moet ons erken dat ons sal val tensy God ons staande hou. Hy is die wynstok en ons die lote – as ons in Hom bly, sal ons vrug dra, maar los van Hom kan ons niks doen nie (Joh. 15:5). Ons bekwaamheid is slegs uit Christus.

Vra uself daarom die vraag, broer en suster: is ek self in staat om die geloof te behou? Is ek sterk genoeg om die verleiding te weerstaan van lus, gierigheid, jaloesie, woede, skinderpraatjies, of watter ander spesifieke verleiding my lewe ook al mag teister? Nee, ek is nie! Dit is nie genoeg om maar net wedergebore te wees nie, dit is nie genoeg om maar net ‘n lidmaat van die kerk te wees nie. God moet met die volheid van sy krag in my werk, of anders sal ek misluk. Hy moet voortdurend aan my sy genade skenk, of anders sal ek val – indien nie vandag nie, dan wel môre. Ek bid daarom die sesde bede omdat ek volledig van God afhanklik is. Ken jy dit van jouself? Besef jy hoe swak en kwesbaar jy is?  

Iemand wat dit baie goed besef het, is Paulus! Ons het daarvan gelees in 2 Korinthiërs 12. Kom ons kyk wat leer hierdie groot apostel van Christus vir ons.

Paulus word in sy tweede brief aan die gemeente in Korinthe by verskeie geleenthede gedwing om sy apostoliese gesag teenoor valse apostels te verdedig. Sy teenstanders beroem hulleself op allerlei goddelike visioene en openbarings om hulle apostelskap te bewys. In die eerste gedeelte van 2 Korinthiërs 12 wys Paulus dan dat hy nie vir ‘n oomblik hoef terug te staan vir hierdie sogenaamde apostels nie. Want hy het iets veel groters waarop hy homself kan beroem – hy vertel daar hoe hy weggeruk is tot in die derde hemel, tot in die Paradys, en dat hy daar onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie. Nee, Paulus hoef hom geensins te skaam oor sy apostoliese gesag nie, sy getuigskrif getuig van baie beter as dié van sy teenstanders.

Maar alhoewel hy hierdie getuigskrif kortliks beskryf as bewys van sy apostoliese gesag, weier Paulus egter om hom daarin te beroem. Want hy ken maar al te goed sy swakheid. O ja, Paulus weet eerstehand hoe kwesbaar en klein hy is. Immers, die Here het aan hom ‘n doring in die vlees gegee; hy noem hierdie doring ‘n engel van die Satan om hom met die vuis te slaan – wat hierdie doring presies was, kan ons nie met sekerheid sê. Maar Paulus gee vir ons wel die réde vir hierdie doring in die vlees, naamlik dat hy hom nie sou verhef nie; die Here wil Paulus dus klein hou, die Here wil Paulus op sy knieë hou. Tot drie maal toe het hy die Here gevra om hierdie doring van hom weg te neem, maar die Here het vir hom gesê: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” Paulus leer dus om sy doring in die vlees te aanvaar, omdat die goddelike krag en genade meer as genoeg is om sy swakhede te kan dra. Hy is enige tyd bereid om sy menslike swakheid te dra, wetende dat Christus in hom werk. Ja, sê Paulus, dit is nie vir my nodig om te roem in my visioene en goddelike openbarings nie; ek roem in my swakhede. Hoekom? Want hoe swakker ék is, hoe sterker werk die krag van Chrístus in my. As ek swak is, dan is ek sterk – so eindig hy in vers 10. 

Gemeente, u en ek is slegs sterk wanneer ons ons totale swakheid en onvermoë leer ken, en gevolglik al ons vertroue in Chrístus plaas! Dit is hierdie besef van swakheid en die gevolglike afhanklikheid en vertroue op God wat agter die sesde bede lê. Hierdie besef van swakheid dryf my op my knieë, om te bid: “Lei my nie in versoeking nie!” “Waak en bid, sê Jesus, dat julle nie in versoeking kom nie.” Hoekom moet ons dit doen, Jesus? Want “die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Moet daarom nie jouself oorskat nie, moenie dink dat jy sterk genoeg is om sekere situasies van verleiding te hanteer nie. Jy kan nie! Erken eerder dat jy nie kan nie, en gaan soek jou krag in die Here. Nader tot Hom en Hy sal tot jou nader, en die satan sal stert tussen die bene moet wegvlug!

Gemeente, ken jou ‘doring in die vlees’; dit is só belangrik dat jy sal weet waar die swak plekke in jou geloofsmondering is. Dit is só belangrik om te weet en te erken waar jou geestelike mynveld lê – miskien is jy iemand wat nie jou mond kan hou nie, miskien sukkel jy om nederig te bly, moontlik het jy rassistiese neigings of besoek jy verkeerde plekke. Kén dit van jouself! En wanneer jy die versoeking van ‘jou doring’ sien aankom, bid dan tot God dat Hy jou krag sal gee. Bid deur die psalms te sing. Ja, die psalms – dit is immers die gebede van die Skrif. Die psalms is ‘n konkrete handvatsel wat die Here gee in jou tye van versoeking. Gebruik daarom die psalms om in die Here jou krag te vind; gebruik die psalms om die satan weg te jaag en om deur jou swak oomblikke te kom.

Iemand wat hierdie swak oomblikke maar al te goed geken het, was Maarten Luther – ons gaan daarom ná die preek ook sy beryming van psalm 28 sing: “Ek roep U aan, o HERE, hoor! Verleen my bystand, neig u oor. O, hoor as ek, my stem al week, om hulp U aanroep in gesmeek, my hande hef na heil’ge plek waar donkerheid u bondskis dek.” Hoor u die afhanklikheid? Broers en susters, moet daarom nie ‘n held probeer wees nie, moenie self probeer nie. Besef dat jy nie kan nie, en bely dan: My hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het!

Ons bely verder dat God alle omstandighede beheer. 

2. Gemeente, dit is nie genoeg om net te sê dat ons sterkte in die Here is nie. Want hoekom is ons sterkte juis in Hom? Wel, ons sterkte is in Hom omdat, soos die Skrif ons leer, Hy alles werk volgens die raad van sy wil (Ef. 1:11). God bepaal die tye en die omstandighede, Hy kan aan die een kant ‘n deur toemaak, en aan die kant ‘n venster oopmaak. Hy is in staat om alle dinge so te bestuur dat alles ten goede vir ons meewerk (Rom. 8:28). En daarom moet ons in die sesde bede ook iets leer erken van die feit dat God alle omstandighede beheer; niks gebeur buite sy raad en wete om nie … ook nie my versoekings nie. En ons sien dit baie mooi raak in die twee dele waaruit die sesde bede bestaan: Lei ons nie in versoeking nie en verlos ons van die Bose. Dit is belangrik dat ons hierdie twee dele van mekaar sal onderskei, sonder om dit van mekaar te skei. Kom ons kyk nou eers na die eerste deel. 

Lei ons nie in versoeking nie – bloot die feit dat ons dit so bid, wys dus vir ons dat God in staat is om ons so te lei dat ons in situasies van versoeking en verleiding kán kom. Natuurlik, God is nie die Een wat ons versoek nie, soos wat Jakobus duidelik in hoofstuk 1:13 sê. Maar Hy laat wel toe – of nog sterker gestel: Hy beplan, Hy bepaal – dat ons in versoekings kom. En God doen dit selfs dikwels, met die doel om ons in ons geloof te toets. Sy doel daarmee is nie om ons af te breek nie, God is nie destruktief wanneer Hy ons in versoekings lei nie. Inteendeel, God wil ons juis opbou en versterk; sy doel is konstruktief.

Daar is dus waarde in die feit dat God ons in versoeking kan lei. Maar God se konstruktiewe doel, moet ons natuurlik nooit na die versoekings laat soek nie. Ja, versoekings is deel van ons lewens, maar dit is net die dwaas wat dit sy voorkeur sal maak. En daarom bid ons ook dat, hoewel dit ‘n realiteit is, God ons tog van sulke verleidelike situasies sal bewaar: Lei ons nie in versoeking nie.  

Nou, gemeente, wat presies verleidelike situasies is, wissel van persoon tot persoon. Nie alle versoekings en verleidings is vir almal dieselfde nie. Vir sommige is daar plekke waarheen hulle liewer nie moet gaan nie. Hulle moenie na die drankwinkel gaan waar alkohol vrylik beskikbaar is nie; sommige kinders moet liewer nie na ‘n speelgoedwinkel toe gaan nie, aangesien dit by hulle ontevredenheid en onvergenoegheid veroorsaak; sommige moet miskien liewer ‘n restaurant vermy as hulle weet dat dit hulle gaan verlei om hulleself te ooreet. Lei ons nie in versoeking nie: Bid God dat Hy jou van dié plekke af sal weghou wat vir jóú ‘n versoeking vorm.

Vir ander mense weer is daar persone met wie hulle eenvoudig nie kan assosieer nie. Paulus waarsku nie verniet in 1 Korinthiërs 15:33 vir slegte geselfskap wat goeie sedes bederf nie. Daar is miskien mense wat my verlei om saam met hulle te sondig, mense wat my daartoe bring om slegte taal te gebruik, mense wat my bring tot oormatige eet en drink, mense wat my verlei om ontrou te wees in my huwelik. Bly dan weg van hulle! Lei ons nie in versoeking nie: Bid dat die Here jou van dié persone af sal weghou wat vir jóú ‘n versoeking inhou, en soek eerder na dié mense wat jou opbou in die geloof, wat jou aanmoedig in ‘n vroom en godvresende lewe met die Here.

En dan is daar ook weer ander mense wat maar beter van sekere produkte af moet wegbly – kos of die internet of die televisie. Ja, die wêreld bied vir ons dinge wat ‘n lus vir die oë is, waarmee ons obsessief raak, en wat ons van God af wegtrek. Bly weg daarvan! Lei ons nie in versoeking nie: Bid tot God dat Hy jou van dié dinge en produkte sal weerhou wat vir jóú ‘n bedreiging inhou.  

Gemeente, ons bid dus in hierdie eerste deel van die sesde bede dat God ons sal weghou van alle omstandighede waarin ons moontlik aan versoeking kan toegee. As ek Josef se krag mis, hou my dan weg van Potifar se vrou; as ek swak in die vlees is soos Dawid, hou my dan weg van Batseba; as ek graag enige vorm van rykdom soek en omhels, bewaar my dan van situasies soos waarin Elisa se kneg, Gehasi, homself bevind het; as dit vir my belangrik is wat mense van my dink, hou my dan weg van geleenthede om ander te beïndruk soos wat Annanias en Saffira gedoen het.

Hierdie gebed is die gebed van die nederige wat weet hoe swak hy is; deur die genade van God ken hy homself. Hy kyk na enige verleiding in hierdie wêreld, en dan weet hy: as dit nie vir die genade van God was nie, was dit ek wat daar verlei is. Wees daarom ook versigtig in u oordeel oor mense wat gruwelike sondes begaan; die persoon wat homself ken, weet dat daardie gruwelike sondes ook binne-in homself sit. In my sit die potensiële moordenaar, die potensiële verkragter, die potensiële dief en egbreker. Gemeente, ken daarom u self en vra of die Here u sal bewaar van plekke, persone of produkte wat u in u swakheid nie kan weerstaan nie.  

Dan nog die tweede deel van die sesde bede: “maar verlos ons van die Bose.” Dit gaan in hierdie tweede deel van die sesde bede tog oor ‘n ander situasie as wat in die eerste deel na vore kom. “Lei ons nie in versoeking nie” is tog anders as “verlos ons van die Bose.” Waar ons in die eerste deel vra om nie in ‘n situasie van versoeking te kom nie, wys die tweede deel op ‘n situasie waar ons alreeds daarin is. Hierdie tweede deel is dus ‘n roep om redding. Ek is dus nou fisies in die verleidelike omstandighede; God het in sy wysheid bepaal dat dit so met my móés gebeur. Wat bid ek nóú? Nou bid ek: Red my! Verlos my van hierdie toets waarin ek staan! Verlos my van die Bose!  

Nou, gemeente, die Bose kan in verskillende gedaantes in ons lewens na vore kom. Die kategismus praat van ons drie doodsvyande – die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur; hulle is al drie deel van die ‘bose’. Al drie kan veroorsaak dat ons in verleidelike situasies beland, en dikwels werk hulle ook nog saam; en die Here laat dit ook soms toe. Maar, gemeente, dan word ons opgeroep om in daardie situasie tot die Here te roep sodat ons nie aan die verleiding sal toegee nie. Selfs binne-in die verleiding is dit nog nie te laat om te bid dat die Here jou daarvan sal verlos nie. Bid dan in vertroue dat die Here dit kán doen – immers, Hy wat in ons is, is groter as hy wat in die wêreld is (1 Joh. 4:4). As die verleiding te veel word, verskaf God die uitkoms sodat ons dit sal kan verduur.

Die uitkoms wat God skenk kan natuurlik in verskillende vorme wees. Soms sterk die Here ons sodanig dat ons die verleiding kan weerstaan; soms verwyder hy die verleidelike omstandighede van ons, en weer ander kere haal Hy óns uit die verleidelike omstandighede weg. Maar hoe Hy dit ook al doen, die Here kán verlos. Moet daarom nie maar net boedel oorgee nie; moenie maar die sonde begaan, want ja, “ek is nou alreeds so ver in die verleiding in” nie. Nee, bid soos mense wat ywerig is om ‘n heilige lewe te lei, smeek soos mense wat die gedagte nie kan verdra om teen die liefdevolle en genadige God te sondig nie. Selfs wanneer jy alreeds besig is om te struikel, is dit nog nie te laat nie. Roep tot God: verlos my van die Bose! 

Gemeente, die sesde bede gaan oor ons – ons verleidings, ons ‘doring in die vlees’, ons geestelike mynveld. Maar hooplik kon ons vandag raaksien dat die sesde bede ook oor nog meer gaan – dit gaan ook oor God! Dit gaan oor sy krag en sy leiding. Die sesde bede wys ons dat dit die moeite werd is om God aan te roep, selfs wanneer ons al met beide voete op die landmyn staan. Want aan Hom behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid, van nou af en tot in alle ewigheid.

Amen 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 127:1 en 2
Wetslesing
Sing Skr. 9:4-6
Gebed
Lees:  Mattheus 26:36-46
      2 Korinthiërs 12:1-10
Sing Skr. 40:2-5
Teks: HK, Sondag 52a
Preek
Amenlied Ps. 28:6-8
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 139:5, 7, 12
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)