Ons gebede hunker nie na die amen nie, maar na die God van die amen

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-04-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 52
Verwysing: 
HK 52b-1
Preek Inhoud: 

Sondag 52b

Ds HH van Alten - Sondag 20 April 2008

Lees: Genesis 32:22-32, 2 Korinthiërs 4:16-18
Teks: HK Sondag 52b
Sing: Sien liturgie

Tema: Ons gebede hunker nie na die amen nie, maar na die God van die amen
(dus: ons bid nie maar net om uiteindelik ‘amen’ te kan sê nie, maar in ons gebede is ons op Gód gerig).

In ons afsluiting:

  1. Pleit ons by God
  2. Hoop ons op God
  3. Prys ons God

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het gekom by die laaste sondagsafdeling wat handel oor die gebed. En hierdie laaste deel gaan spesifiek oor die afsluiting van ons gebed. Ja, net soos wat daar ‘n aanspraak in die begin is (“Onse Vader”), so is daar ook ‘n afsluiting aan die einde (“want aan U behoort die Koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid). En laat ons dit maar eerlik vir mekaar sê dat die afsluiting een van die mees verwaarloosde aspekte van ons gebede is. Juis omdat ons gebede dikwels so selfgesentreerd geword het, so gefokus is op myself en my behoeftes, so vol is van óns dinge, ontbreek by ons die besef asook die lus om nog bewustelik in God se Naam af te sluit. Ja, nadat ons uitgebreid ons nood en moeites, ons vrae en vreugdes, voor die Here neergelê het, nadat ons alles gesê het wat ons wou sê, voeg ons nog so vinnig-vinnig ‘n slot daaraan toe. ‘n Slot wat dikwels nie mooi deurdink is nie, ‘n slot waarvan ons die implikasies ook nie ten volle besef nie.  
 

Wat dus die hoogtepunt van ons gebede behoort te wees, kan baie maklik ‘n vloek word, ‘n lastering van die Here in wie se Naam ons afsluit; waar my gebed juis aan die einde sy klimaks behoort te bereik, kan dit baie maklik op daardie punt al sy stoom en krag verloor.

En daarom is dit so mooi dat die Kategismus deeglik by die afsluiting van die gebed stilstaan, sodat ons kan besef dat ook ons laaste woorde saakmaak, sodat ons die inhoud van elke woord moet besef en goed moet weeg. Ek het die tema vir die woordverkondiging van vanaand soos volg geformuleer:

Tema: Ons gebede hunker nie na die amen nie, maar na die God van die amen (dus, daarmee bedoel ek: ons bid nie maar net om uiteindelik ‘amen’ te kan sê nie, maar in ons gebede is ons op Gód gerig).

In ons afsluiting:

  1. Pleit ons by God
  2. Hoop ons op God
  3. Prys ons God

1. Die afsluiting van die Onse Vader – ook die doksologie genoem – is in die eerste plek ‘n pleidooi. In hierdie afsluiting pleit ons by God om ons gebede te verhoor; meer nog, ons gee vir Hom selfs die réde waarom Hy ons gebede behoort te verhoor. Ons sien dit baie duidelik in die feit dat die doksologie van die Onse Vader met die woordjie ‘want’ begin: “want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid…” Daardie woordjie ‘want’ verwys terug na alles wat ons tot dusver gebid het – laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom, laat u wil geskied, gee ons ons daaglikse brood, vergewe ons sonde, lei ons nie in versoeking nie… Hoekom? Hoekom sou die Here dit alles vir ons doen? Hoekom sou Hy al hierdie bedes verhoor? “Want aan U behoort…” – dít is dus die rede, die argument, wat ons aanbied waarom die Here ons gebede behoort te antwoord. Met hierdie rede pleit ons voor God, beargumenteer ons as’t ware ons gebed, worstel ons om ‘n luisterende oor te ontvang by “onse Vader wat in die hemele is”.  

Broers en susters, die Here Jesus leer vir ons in hierdie gedeelte van die Onse Vader ‘n baie belangrike beginsel; Hy leer ons naamlik om te pleit in ons gebede. Dit is ‘n gedagte wat vir baie van ons onbekend is, of eerder: waarmee ons onbekend geráák het. Want die Bybel weet baie goed van hierdie beginsel; die Bybel is vol van die pleidooie van God se kinders. Dink maar net aan iemand soos Job, wat in hoofstuk 23 sê: “Dan sou ek die regsaak voor sy aangesig uiteensit en my mond met bewyse vul;… dan sou daar ‘n opregte met Hom staan en pleit, en ek sou vir ewig van my regter vrykom” (Job 23:4 en 7). En wat van Abraham wat by God pleit in verband met laasgenoemde se voorneme om Sodom en Gomorra te verwoes; hoor hoe argumenteer hy: “Laat dit ver van U wees om so iets te doen: om die regverdige saam met die goddelose om te bring, sodat die regverdige gelyk is met die goddelose. Laat dit ver van U wees! Sal die regter van die ganse aarde geen reg doen nie?” (Gen. 18:25). Dink ook aan Moses se pleidooi ná die volk se sonde met die goue kalf, en dink aan Dawid se pleidooie waarvan ons regdeur die Psalmboek kan lees.  

Ja, gemeente, die bybelse gelowiges het geweet wat dit beteken om in hulle gebede tot God te pleit, om met Hom te argumenteer. Ons, daarenteen, is dikwels gewoond daaraan om eenvoudig ons gebede op te sê, om as’t ware met ‘n eentonige temperament alles wat ons nodig het voor God op te noem. Gebed dreig by ons om ‘n dooie lesing te word. Maar, broers en susters, gebed is baie meer as dit. Gebed is om te arbei; gebed beteken harde werk, want in ons gebede worstel ons met God om verhoring.

Ons sien dit pragtig in die geval van Jakob in Genesis 32, wat ons saam gelees het. Jakob, wie se naam ‘bedrieër’ beteken het en wat al so dikwels probeer het om deur middel van sy eie bedrieërye God se beloftes in sy lewe te verwesenlik, word op hierdie kritieke stadium van sy lewe gedwing om homself te verloën en op God te vertrou. Jakob beland naamlik in ‘n geveg met ‘n Man – die profeet Hosea noem hierdie Man “die Engel” (Hos. 12:5), en uit beide hierdie Skrifgedeeltes blyk duidelik dat Jakob met God sélf geveg het. Wanneer God hom uiteindelik op die heup slaan en hom sodoende mank maak, word Jakob geforseer om nie meer op eie krag te bou nie. Jakob word gedwing om sy vertroue op God te stel. En wanneer hy dít leer insien het, weier Jakob om die Man, met wie hy geworstel het, te laat gaan – Hy besef dat hierdie Man meer as hy is, dat hierdie Man God is. En daarom soek Hy sy seën. Hy weier om die Man te laat gaan voordat Hy hom nie geseën het nie; Jakob besef dat hy nie verder kan gaan sonder die seën van die Here nie. En dit is in reaksie op hierdie pleidooi van Jakob om ‘n seën, dat sy naam verander word van Jakob (bedrieëer) na Israel (hy het met God geworstel en het oorwin). Toe sy natuurlike krag verdwyn het, het Jakob besef dat hy slegs in gebed aan God kan vashou. En dit is presies wat hy doen – hy weier om die Man te laat gaan, hy hou Hom vas, hy pleit by Hom, hy worstel met Hom!  

Gemeente, ken ons nog hierdie soort worsteling met ons God? Die worsteling om God nie te laat gaan voordat ons nie seker weet dat ons gebed verhoor is nie. Let wel, ek sê nie dat ons 100% seker wil weet dat God presies gaan doen en gaan gee wat ons van Hom gevra het nie – ons weet almal dat ons nie alles kry waarvoor ons bid nie. Dit is ook nie wat ek in hierdie konteks met ‘verhoor’ bedoel nie. Met ‘verhoor’ bedoel ek dat ons seker wil weet dat God gunstig na ons gebed geluister het, ons wil weet dat Hy ons gehoor het, ons wil weet dat Hy sy oor geneig het toe ons ons stem tot Hom verhef het!

Is daar by ons nog hierdie ywer om te pleit, om met God te argumenteer, om in geloof te stáán op wat ons van Hom vra? Ja, dit voel vir ons onvanpas, dit voel vir ons voor-op-die-wa – immers, wie is ons om te eis? Heeltemal reg! Maar wat daarvan as God vir ons redes gegee het om daarmee voor Hom te pleit? Wat daarvan as Hy die argumente in ons monde lê? Dan móét ons mos pleit!

En, gemeente, dit is presies die geval. God het aan ons pleitgrond gegee! Hy het Homself as pleitgrond gegee – sy dade in die skepping en in die herskepping, sy groot dade deur die loop van die heilsgeskiedenis, sy verbond met Abraham, Isak en Jakob, sy beloftes van seën en oorvloed, sy wonderwerk in die geboorte en kruisdood van Jesus Christus. Hy het Homself gegee in sy Koninkryk en in sy krag en in sy heerlikheid, nou en tot in ewigheid. Dit alles gee Hy vir ons, en sê: Bid dan nou ook! Stáán op die gronde wat Ek julle gee. Maak die Skrifte oop en vind daarin al die gronde wat jy nodig het om by My te pleit, om met My te argumenteer! 

Ja, dit is ongelooflik om te sien hoe goed en hoe vinnig ons kinders hierdie kuns bemeester om te pleit, om te argumenteer, wanneer hulle voel dat hulle ‘n nuwe hemp of nuwe skoene nodig het; of om te sien hoe vaardig mense skielik kan argumenteer wanneer hulle ‘n verkeersboete verminder wil hê. Dus, wanneer mense probeer om gesagsdraers te oorreed om iets te doen of te gee, dan kom hulle nie net en sê: “Ek soek dit, en dit, en dit” nie. Nee, hulle redeneer, hulle argumenteer, hulle stel hulle saak. Nou, broers en susters, dit is ook die Bybelse manier om te bid. En as daar iemand is wat die reg het om só te bid, is dit die christen!

Die christen het gronde om so ‘n pleidooi tot God te rig, hy het rede om so sy saak voor God te stel. Gebruik dit! Bid tot God – stort jou hart voor Hom uit, noem vir Hom al jou moeites en sorge, vra vir uitkoms, vra vir Hom wat jy nodig het – en bepleit dit dan ook by Hom. Géé vir Hom die pleitgrond; sê vir Hom: “ek bid dit alles van U, want aan U behoort die Koninkryk en die krag en die heerlikheid”, óf “ek bid dit alles van U om Christus ontwil”, óf “ek bid dit alles van U met ‘n beroep op u beloftes.” Dít is wat dit beteken om reg te bid, gemeente. Dít is worsteling met God, dán kom jy naby aan jou God. Moenie verhoring verwag wanneer jy met ‘n eentonige gebedstem jou lysie met behoeftes afwerk nie. Nee, wees hartstogtelik in jou gebed; moenie God laat gaan voordat jy nie in groot vurigheid met Hom geworstel en tot Hom gepleit het nie.

Dus, dit is die eerste: in die afsluiting pleit ons by God. Vervolgens: in die afsluiting hoop ons ook op God.  

2. Gemeente, in iemand se gebed kan ‘n mens dikwels iets terugvind van hoe dit ten diepste met daardie persoon gaan; gebed is dikwels ‘n refleksie van die werklikheid waarin iemand lewe. En die groot vraag is dan hoe ons met hierdie werklikheid omgaan. Hoe hanteer ons die werklikheid – in die daaglikse lewe, maar ook in ons gebede? Wel, in die wêreld waarin ons lewe, is daar verskillende maniere waarop mense met die werklikheid omgaan. Daar is aan die een kant dié mense wat baie optimisties is – ignoreer net die pyn, sê hulle, kyk na die positiewe kant van sake, dan sal die pyn vanself weggaan en alles sal uiteindelik regkom. Hulle dink dat daar groot krag skuil in hierdie positiewe denke. En aan die ander kant van die spektrum is daar dié mense wat op ‘n pessimistiese wyse na die werklikheid kyk – aanvaar maar net die realiteit, sê hulle, só is dit nou eenmaal, niks wat ons daaraan kan verander nie; hierdie mense verval in ‘n soort doemdenke waarin alles negatief beskou word.

Tekenend van hierdie twee maniere van omgaan met die werklikheid is die manier waarop daar deur mense na die situasie in ons land gekyk word. Aan die een kant is daar die optimis wat ontken dat daar werklik ‘n probleem is, wat meen dat misdaad nie werklik ‘n krisis is nie, wat sê dat ons slegs moet bly werk aan nasiebou, en wat glo dat die toekoms blink is vir ons reënboognasie. Maar dan is daar aan die ander kant ook die pessimis, wat meen dat Suid-Afrika in dieselfde rigting gaan as Zimbabwe, dat daar geen hoop vir ons land is nie, dat ons óf ons goed moet pak en vertrek óf maar gewoond moet raak aan die chaos wat besig is om in ons land te ontwikkel. 

Gemeente, hierdie voorbeeld wys vir ons hoe die wêreld worstel om die balans te vind in hulle hantering van die werklikheid – moet hulle, teen alle realiteit in, net positief bly? Of moet hulle maar alle moed verloor, want ja, die dinge lyk maar bleek…? Dit is die teenstelling, en die wêreld sal nooit daarin slaag om hierdie teenstelling te versoen nie. Die christen egter hoef enersyds nie ‘n aartsoptimis te wees nie, die christen hoef andersyds ook nie ‘n doemdenker te wees nie. Vir die christen behoort dit anders te wees, broers en susters.

En die rede waarom dit vir die christen anders behoort te wees, is omdat hy hoop het! Die christen het hoop, want die God vir wie hy lewe, en die God tot wie hy bid – aan Hom behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Ons lewe en bid met die hoop dat sy koninkryk en sy krag tot in ewigheid nooit omvergewerp sal word nie; ons lewe en bid met die hoop dat sy heerlikheid nooit sal verdwyn nie. In die reële werklikheid van ons bestaan, het die christen ‘n geweldige uitsig, mag hy bid met perspektief.  

En dit beteken nie dat die christen se gebed een en al positiewe denke is nie. Glad nie! In ‘n sekere sin is die christen selfs méér realisties as die wêreldse pessimis. Ons is realisties, want ons ken die hartseer van die lewe, ons ervaar dit pynlik-eerstehands; ons voel die sonde en die gevolge van die sonde in ons lewens. Ook óns moet erken dat ons emosioneel, spiritueel en selfs fisies geknak is. En dikwels word ons selfs deur ons moeites op ons knieë gedwing om tot God te bid. Ons erken die realiteit, gemeente; dit is nie nodig om te probeer voorgee dat dit nie so is nie. En Jesus sê dit ook in Johannes 16:33: “In die wêreld sal julle verdrukking hê.” En Paulus impliseer dit ook in die gedeelte wat ons saam gelees het uit 2 Korinthiërs 4 – hy praat daar van die verganklikheid van die uiterlike mens en van verdrukking. Nee, ons is volledig realisties oor die toestand van die wêreld en van ons eie lewe daarbinne. En dit reflekteer ook in ons gebede, dit is sigbaar in die klagte wat in ons gebede opklink, en in die trane wat soms vloei wanneer ons bid.

En tog, só leer die Here Jesus ons in die afsluiting van die Onse Vader, eindig ons gebed nóóit in die mineur nie, maar altyd in die majeur. Altyd sluit ons af in hoop! Ja, ons gebede is dikwels vol van moeites en vrae, in ons gebede verwoord ons voluit die aanslae van die lewe. Maar tog is ons gebede nooit uitsigloos nie. Ons gebede behoort altyd gekleur te word deur die hoop wat daar in ons is. Want daar is hoop!  

Ons kan dit vergelyk met twee persone wat beide dieselfde werk onder ha/*glike omstandighede moet doen – tagtig-uur werksweke, ‘n slegte werksomgewing, lae vergoeding, aaklige kollegas. Aan die een word ‘n R100 bonus aan die einde van die jaar belowe, aan die ander ‘n miljoen rand bonus. Dink u dat hierdie beloofde bonus hulle ervaring van die huidige omstandighede gaan kleur? Natuurlik gaan dit! Vir die een sal die werk ondraaglik en eindeloos wees. Hy sal dag na dag met ‘n swaar hart gaan werk. Vir die ander maak die vooruitsig van sy beloning die swaarkry lig en draaglik. Hy kan dit alles verdra, want dit is tydelik, en sy beloning sal beslis die moeite werd wees.

En dit is presies wat Paulus ook sê in 2 Korinthiërs 4:16-18: “… al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n allesoortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” Ja, broers en susters, ons sig op die toekoms beïnvloed ten diepste die gemoed waarmee ons vandag bid. Die hoop waarin ons tans lewe – omdat aan ons God tot in ewigheid die koninkryk en die krag en die heerlikheid behoort – verander moedeloosheid en hartseer en swaarkry in vreugde en blydskap.  

Nou dink u miskien: die Here kan maklik praat; Hy hoef nie my swaarkry te verdra nie. Dink weer, broer en suster. Dit is júís omdat God self, in sy grootste aanvegtinge, hoop gehad het, dat óns vandag hoop mag hê. Ons lees immers in Hebreërs 12:2 dat ons ons oog gevestig moet hou op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. Ons Heiland het perspektief gehad in sy swaarkry; Hy het sy oog gehou op die beloofde vreugde, en daarom kon Hy ook sy kruis verdra.

Gemeente, bid daarom altyd met hoop. Stort jou hele hart voor die Here uit, maar moet nooit ‘amen’ sê sonder dat jy jou hoop uitgespreek het in die God van die amen nie. Daardie hoop laat jou anders kyk na jou verdrukking van vandag, en laat jou uitsien na die alles oortreffende ewige heerlikheid. Die hoop stel in ons in staat om al ons bede, wat ons sopas gebid het, in ‘n groter perspektief te plaas – die perspektief van die ewigheid.

Ten slotte: in ons afsluiting prys ons God.  

3. Ons het dus gesien dat die afsluiting van die Onse Vader ‘n pleidooi sowel as ‘n uitdrukking van hoop is. Maar daar is nog meer wat ons kan sê. Want die afsluiting is ook ‘n uiting van prys. Ja, in hierdie doksologie – en ‘doksologie’ beteken letterlik ‘lofprysing’ – vind ons ‘n uitbundige beskrywing van die realiteit van God. Daarin sê die bidders as’t ware: “Ons het sopas tot U gebid, ons het al ons bedes tot U gerig, want U is die Koning, U is die Almagtige, U is die Heerlike. En juis hierin vind ons die rede waarom ons tot U bid. Ja, ons het begin met lof, en nou eindig ons met lof. Hoekom? Want U is dit waardig! Ons harte loop oor van lof wanneer ons ons node oorweeg, wanneer ons besef hoe afhanklik ons van U is, wanneer ons sien in watter verhouding ons tot U mag staan!” 

Gemeente, besef baie goed dat lof nie maar net ‘n aanhangel is nie. Lofprysing is nie maar vir die gebed, soos wat die blindederm vir die liggaam is nie – iets wat nie werklik ‘n funksie het nie, en wat ons daarom maar verwyder sodra dit begin pla. Nee, lof is die hoogste doel van ons lewe, dit is die uiteindelike rede waarom die Here ons gemaak het. Lees maar antwoord 6 van die Heidelbergse Kategismus: “God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God, sy Skepper, reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.” Dít is waarvoor ons bestaan!

En daarom is dit moontlik om jou geestelike volwassenheid te meet aan die hoeveelheid lof en dank in jou gebede. Loop jou hart oor van lof? Is dit jou groot passie in die lewe om die Here te aanbid en te eer? Dit is ‘n ‘maatstaf’, ‘n betroubare barometer, van ons toewyding aan Christus en van ons onderwerping aan sy wil. Wie aan Christus toegewy is, is ten volle gefokus op sy eer. Ons is volledig tevrede wanneer Hy die eer kry wat Hom toekom. Ons soek niks meer nie as slegs sy eer!  

Gemeente, dit is hoe ons bid, en dit is hoe ons lewe. Om te sê: aan U behoort die Koninkryk en die krag en die heerlikheid is nie slegs ‘n bede nie, dit is ‘n lewenswyse! Want ons is vir ewig burgers van God se Koninkryk; sy krag sal ons altyd lei; en sy heerlikheid sal altyd sigbaar wees. En intussen wag en bid ons vir die heerlike dag wanneer die ‘alreeds’ saamvloei met die ‘nog nie’. Sê ons daarop ‘amen’? Ja, sekerlik, mag dit so wees!

Amen

Liturgie (aand) 

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 98:2-4
Gebed
Lees:  Genesis 32:22-32
      2 Korinthiërs 4:16-18
Sing Ps. 5:1, 2, 10 en 11
Teks: HK, Sondag 52b
Preek
Amenlied Skr. 8:1, 2 en 5
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 150
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)