Johannes 4:13-14
Ds HH van Alten - Sondag 11 Mei 2008
Lees: Esegiël 47:1-12, Johannes 4:1-30
Teks: Johannes 4:13-14
Sing: Sien liturgie
Tema: Die Gees laat water vloei waar dors mense dit nie verwag nie
- Die bron loop oor in kanale
- Kanale deurvogtig droë grond
- Droë grond word ‘n gesonde see
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Vanoggend het ons spesifiek gelet op die feit dat die Gees in die nagmaal die hoogtepunt bewerk van ons verhouding met God. Kinders mag saam met hulle Vader die maaltyd van verlossing geniet. Dit is die vertikale verhouding; dit is die verhouding van boontoe-kyk. Maar wie geleer het om boontoe te kyk, moet vervolgens ook leer om om hom heen te kyk. Ook op hierdie vlak skep die Gees verbondenheid, ook op hierdie vlak is Hy ‘n brugbouer van formaat.
Tema: Die Gees laat water vloei waar dors mense dit nie verwag nie
-
Die bron loop oor in kanale
-
Kanale deurvogtig droë grond
-
Droë grond word ‘n gesonde see
1. Jesus is oppad vanaf Jerusalem in die suide na Galilea in die noorde. Sy reisroete voer Hom noodgedwonge deur die gebied van die Samaritane. Teen laatmiddag bereik Hy en sy dissipels die fontein van Jakob, wat waarskynlik naby die pad geleë was. Sy dissipels haas hulle na die nabygeleë dorp om inkopies te doen, en Jesus gaan sit om te rus. Op daardie selfde oomblik kom daar ‘n vrou by die put aan om water te skep – ‘n Samaritaanse vrou. Dit is ‘n ideale geleentheid vir Jesus om ‘n gesprek met haar aan te knoop, en hy doen dit deur water te vra.
Maar volgens vers 9 reageer die vrou nie baie goed op hierdie versoek nie; eintlik reageer sy nogal uitdagend: “Ken hierdie man nie sy reëls nie. Ek is dan ‘n Samaritaanse vrou en die Jode hou mos nie gemeenskap met die Samaritane nie.” Sy sou waarskynlik anders gereageer het as sy geweet het wie hierdie Man is wat voor haar sit. As sy geweet het wie hierdie man is, sou Hy waarskynlik nie vir háár water gevra het nie, maar sou sy Hóm vir water gesmeek het. Hy is immers God se geskenk aan die mense, Hy is die bron waaruit lewende water – dit is die Heilige Gees – uitvloei.
Maar die vrou verstaan nog nie mooi nie. Hoe wil hierdie man-sonder-emmer vir haar water uit die put gee? Of wil Hy dit dalk êrens anders vandaan haal? Wel, dan sal sy dit graag wil sien, want as Hy béter water kan gee as dié uit die put van die geëerde vader Jakob, dan beteken dit dat hierdie man ook groter moet wees as vader Jakob. Jesus wys vervolgens vir haar dat daar twee soorte water is: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie…” Terwyl die fontein van Jakob dus die waterbehoefte van mense slegs tydelik bevredig, is die bron wat Jesus raakgeboor het tot in ewigheid voldoende om mense se geestelike dors te les. Hy laat ‘n stroom van ewige lewe opborrel waaraan mense hulself na hartelus kan laaf. Ja, Jesus is beslis die goeie Herder wat sy skape lei na waters waar daar rus is. En dit alles verniet: kom drink gratis van die water van die lewe!
Maar daar is nog meer: die bronwater wat Jesus gee, is nie net ‘n lafenis vir wie dit drink nie, maar hierdie bronwater word sélf ‘n waterbron by diegene wat hulle deur God se Gees laat lei. Jesus belowe om iemand wat die lewende water by Hom kom soek, ook tot ‘n heilskanaal vir ánder te maak! Nie net word daardie persoon se eie dors geles nie, maar in hom sal die lewende water van God se Gees oorstroom en verderstroom na ander toe! Daardie persoon se Geestelike lewe (‘Geestelik’ met ‘n hoofletter) sal weer vir ander ‘n lafenis word tot die ewige lewe!
Ons sien dus, broers en susters, dat die uitwerking van die lewende water in ‘n persoon se lewe ‘n dinamiese proses is, ‘n proses-in-beweging. Die Bron laat nóóit sy water in ‘n geslote reënbak stroom nie. Die water van die Gees in die binneste van die gelowige word nóóit stilstaande water nie. Want, gemeente, wat gebeur uiteindelik met stilstaande water? Stilstaande water, wanneer dit sopas in die reënbak uitgegiet is, is nog vars en bruikbaar. Maar na ‘n tyd begin dit uitlek, verdamp dit, en word dit vuil en ongesond. Dit word ‘n broeiplek vir muskiete en bakterieë. So is dit met stilstaande water, maar so is dit nie – so mag dit nie wees – met die water van die Gees in ons lewens nie. Nee, die Gees wat ons van Christus ontvang, onder andere ook hier aan die nagmaal, mag nooit staties word in die lewe van die gelowige nie.
Uiteraard is die Gees uit Homself nie iets staties nie; Jesus vergelyk Hom nie verniet in Johannes 3 met die wind wat waai waar Hy wil nie. Maar die gelowige kan wel van die Gees in sy persoonlike lewe iets staties máák deur te dink dat Hy die Gees vir Homself kan hou, deur van ‘n persoonlike geloof ‘n egoïstiese geloof te maak – dán word die Gees iets staties in jou lewe. En dít mag nooit gebeur; dit is teen die aard van Bron, dit is teen die aard van die water self. Die water van die Gees wat uit die Bron, Christus, vloei, is bedoel om verder te vloei, daardie water wil beweeg, dit wil die wêreld oorstroom! Ja, die water van die Gees wil van elke gelowige ‘n kanaal maak, sodat dit verder kan vloei en sy werksaamhede kan voortsit.
En word dít nie pragtig sigbaar in die gesig van Esegiël in hoofstuk 47 nie? Wat gebeur met die water wat onder die drumpel van die tempel uitvloei? Broers en susters, daar gebeur iets met die water wat baie ongewoon was in Palestina. Normaalweg in Palestina het ‘n rivier al hoe vlakker geword, hoe verder dit van die bron verwyder geraak het, totdat dit uiteindelik heeltemal uitgedroog het. Dit was die normale gang van ‘n rivier in Palestina. Wat Esegiël hier sien, is abnormaal. En dit is omdat dit die stroom van God se Gees is wat Hom nie laat beheers deur die wette van die natuur nie, maar wat bonatuurlike dinge doen. Hierdie rivier van die Gees word juis dieper en vloei juis sterker hoe verder dit van die bron verwyder is. Die Gees bou stukrag op deur oral waar Hy kom nuwe kanale te vorm in die lewens van mense. Elke gelowige is veronderstel om ‘n kanaal van die Gees te wees in sy gang deur die wêreld en deur die geskiedenis.
En wat beteken dit konkreet vir jou en vir my? Dit beteken vir jou en my dat ons nie maar elkeen gelowiges op ons eie kan wees nie. Die fokus is nie op my met my persoonlike geloof nie. Ja, geloof is persoonlik, en dit is iets wat in die gereformeerde tradisie dalk meer beklemtoon kon gewees het. Maar geloof is nooit só persoonlik dat dit ‘n geslote reënbak word waar ek die Gees vir myself hou nie. Wie dít doen, se geloof – hoe persoonlik ook al – sal uiteindelik ‘n broeines word van ongediertes, en sal uiteindelik heeltemal opdroog.
Maar wie as gelowige gaan staan in die groeiende stroom van die prediking van Jesus Christus deur alle eeue heen, word self ‘n kanaal, gebrei en gevorm deur die Heilige Gees. Die water van die Gees word dan deur middel van ons christelike lewens al verder gevoer deur die landskap van hierdie wêreld. Oral waar jy as christen kom, elkeen wat jy teëkom, word dan aangeraak deur hierdie water. Dus, broers en susters, om die Gees te hê, is nooit ‘n toestand nie, dit is nooit ‘n video waarvan jy die ‘pause’-knoppie kan druk om in daardie toestand agteroor te sit en dit met bewondering gade te slaan nie. Nee, laat die water stroom! Laat jou lewe, wat self deur die Bron aangeraak is, vrugbaar wees vir alles en almal om jou heen. Word ‘n draer van die lewende water!
Ons sien dit duidelik by die Samaritaanse vrou, en daarop let ons vervolgens.
Kanale deurvogtig droë grond.
2. Die Samaritaanse vrou verstaan nog steeds nie heeltemal waaroor dit gaan nie. Nadat Jesus vir haar die lewende water aangebied het, lyk sy gretig om dit te ontvang. Maar uit haar hele antwoord blyk dat sy die punt mis. Sy wil graag die water hê, maar met die eintlike doel dat sy nie meer hier by die fontein hoef te kom skep nie. Haar motivering is nogal pragmaties en egoïsties. Maar Jesus gaan nie werklik op haar antwoord in nie; dit wil selfs voorkom asof Hy die onderwerp heeltemal verander. Want Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom hier.” Wat het dít nou met die saak te make? Vanwaar hierdie skielike oorgang?
Gemeente, sien goed raak dat Jesus hier nie die onderwerp verander nie; dit gaan vir Hom nog steeds oor dieselfde saak van die lewende water. Maar Jesus wil nou vir die Samaritaanse vrou wys wat die uitwerking en die deurwerking behoort te wees van die lewende water wat Hy aan haar skenk. Hy stuur haar met leë hande huistoe om haar man te gaan haal. Man en vrou vorm immers saam ‘n eenheid. Dan is haar lewensmaat mos die eerste wat voordeel behoort te trek van die lewende water wat sy ontvang het? Gaan haal hom dan…
Die Samaritaanse vrou ontwyk egter Jesus se uitnodiging deur eenvoudig te sê dat sy nie ‘n man het nie. Eintlik ‘n kortaf antwoord. Met sy Goddelike mensekennis bevestig Jesus hierdie antwoord: “Jy het reg gesê: Ek het nie ‘n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie” (verse 17-18). Die Samaritaanse vrou is dus nie wettig getroud nie. Reeds vyf keer het sy in die huwelik getree, maar al dié mans is intussen oorlede, of het van haar geskei. En op hierdie stadium woon sy saam met die sesde man in haar lewe. Gemeente, waarmee het ons hier te make? Met ‘n Samaritaanse vrou wat nie baie geluk gehad het in die liefde nie? Nee, ons het hier te make met ‘n sondige vrou in ‘n sondige verhouding en ‘n sondige huweliksverlede. En sy sal self later erken dat sy nie soseer ongelukkig was nie, maar dat sy skuldig is vir die hartseer toestand van haar liefdeslewe. Sy sê immers in vers 29 vir haar stadsgenote: “Kom kyk ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het.”
Maar, gemeente, Jesus fokus nie verder op die sondige verlede nie; Hy laat dit vir wat dit is. Hy wil graag met hierdie vrou en haar man praat, omdat Hy vir hulle wil wys wat die uitwerking en die deurwerking behoort te wees van die water van die lewe, wat sy sopas ontvang het. Weereens geld wat ek in die eerste punt gesê het: hierdie water kan nie maar in haar binneste bly lê nie, dit mag nie ‘n stilstaande broeines word nie. Dit is mos nie moontlik dat sy tot geloof in Jesus kom, maar dat die strukture van haar lewe nog net so vervalle bly nie. Nee, hierdie water van die lewe moet effek hê, dit moet deurwerk; die water wil deur hierdie kanaal vloei om die droë grond van haar lewe – en laat ons eerlik wees: haar lewe het op droë grond beland – om daardie droë grond van haar lewe te deurvogtig. En dit begin by die mees basiese struktuur van samelewing wat God ingestel het, die huwelik. In daardie huishoudelike chaos van die Samaritaanse vrou se lewe wil Christus vernuwing en gesondheid bring deur sy Gees.
Dít, gemeente, is wat die lewende water doen. Dit bring herstel in strukture, dit bring genesing in verhouding, dit bring uitsig waar hopeloosheid geheers het. Kyk maar hoe pragtig beskryf Esegiël dit in hoofstuk 47. Tussen Jerusalem, vanwaaruit die rivier ontstaan het, en die Dooie See, waarheen dit gestroom het, het ‘n dor en doodse vlakte uitgestrek gelê. En toe Esegiël saam met sy gids langs die rivier in die rigting van die Dooie See geloop het, het hy gevolglik ook géén plantegroei opgemerk nie. Maar oppad terug verander dit. Langs beide oewers van die rivier het bome in groot getalle opgeskiet. Skielik was daar lewe langs hierdie rivier, waar daar eers net die reuk van die dood gehang het! ‘n Beter bewys van die vernuwende krag, wat in hierdie waters geskuil het, kon Esegiël nie ontvang het nie.
Gemeente, dit is nou presies wat die Gees werk. Die water van die Gees bring genesing en herstel al langs die landskap waardeur dit vloei. Dit bring genesing in huwelike, waar man en vrou dalk jare lank nie met mekaar gepraat het nie, sodat dooie huwelike skielik weer kan blom. Dáár waar die Gees vloei, kom daar herstel in gesinne, waar broers en susters in onmin gelewe het, sodat die gesinslewe weer vrug kan dra. Dáár waar die Gees beweeg, bring dit vernuwing in gemeentes en gemeenskappe waar mense moeg geraak het vir die ou, bekende gesigte, sodat die mooi van ons saamlewe weer raakgesien kan word. Ja, broers en susters, waar die Gees vir Homself kanale maak om deur te vloei, dáár word die lewe nuut, daar word droë grond deurvogtig en vrugbaar.
Hoor daarom die onderrig in die Here Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou. Sien raak wat die kragtige werking is van die water van die Gees, maar sien ook raak wat die Here van jou verwag wanneer jy daardie water mag ontvang. Laat daardie water bepalend wees in jou omgang met mense – naby en verder weg. Laat jou lewe en die lewe van diegene om jou heen nuut word en opbloei, laat dit weer word soos in die paradys. Want ‘n lewe vervul met die Gees plaas jou nie op ‘n ander vlak van bestaan nie; nee, dit vat jou terug na die gewone lewe van huwelik en gesin, van kollegas en mede-studente, van winkels toe gaan en kerktoe gaan – en dit maak daardie gewone lewe ongewoon mooi!
Ten slotte: droë grond word ‘n gesonde see.
3. Gemeente, daar is nog een aspek waarop ons moet fokus wanneer dit gaan oor die water van die Gees. Die Samaritaanse vrou gaan nie verder in op die gesprek oor haar man nie. En nie omdat sy dit probeer ontwyk nie. Nee, sy sien in die feit dat Jesus haar geskiedenis ken, die bewys dat Hy ‘n profeet is. Maar as dit die geval is, dink sy, dan weet Hy waarskynlik ook wat die regte plek is waar God aanbid moet word. Dit was vir haar skynbaar ‘n teer puntjie, en soveel te meer vir haar volk in hulle stryd teen die Jode. Immers, terwyl die Jode in Jerusalem aanbid het, het die Samaritane op die berg Gerisim God aanbid. Maar waar moet nou werklik aanbid word?
En dan wys Jesus vir die vrou dat die oomblik nou aangebreek dat die ware aanbidders die Vader nie meer op een geografiese plek sal vereer nie, maar dat hulle Hom sal vereer in Gees en waarheid. Daar sal ‘n nuwe geloofsgemeenskap ontstaan, en dit sal nie gebeur deurdat die berg Gerisim en die tempelberg in Jerusalem saamgevoeg word nie. Nee, deur in die unieke kombinasie van Gees en waarheid die Vader te vereer, is dit moontlik om die ou dilemma van Jerusalem en Gerisim te oorwin en tot ‘n nuwe gemeenskap van ware Godsaanbidders te kom. Jesus Christus word die nuwe versamelpunt van die ware aanbidding van die Vader. Hy is die nuwe tempel, die kerklike sentrum van die Nuwe Testament. Die Gees bring alle ware gelowiges by Hom bymekaar.
En ons sien vervolgens ‘n voorsmaak hiervan wanneer die Samaritane, op aandrang van die vrou, die stad verlaat en na Jesus uitgaan. En Jesus wys hulle as’t ware met die vinger aan wanneer Hy in vers 35 vir sy dissipels sê: “Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes.” ‘Wit vir die oes’ verwys hier nie fisies na die ryp oeste nie, maar dit verwys waarskynlik na die wit klere van die Samaritane wat oor die velde aangehardloop gekom het. Sien, die velde is wit vir die oes. Hier kom die eerstelinge van die kerk van Christus alreeds aan om rondom Hom te vergader.
Gemeente, waar Jerusalem tot op daardie stadium die geografiese sentrum van die aanbidding van God was, word dit verander in die persoon van Jesus Christus. Hy word die nuwe sentrum, Hy bind mense saam tot ‘n gesonde see van gelowiges. Dit is ook wat gebeur in Esegiël se gesig: al die water stroom saam na die Dooie See. Hierdie see wat vanweë sy chemiese inhoud onbewoonbaar was, geen plante of diere gehuisves het nie, word deur die water van die Gees gesond gemaak. Lewe is weer moontlik daar; meer nog: dáár is lewe in oorvloed!
Broers en susters, die Gees bring mense saam in die kerk rondom Jesus Christus. Al die verskillende kanale waarin die water vloei, se oorsprong kan uiteindelik teruggevoer word na daardie Bron. En dít verbind dan ook die kanale met mekaar; dit maak hulle tot ‘n see van die suiwerste water, almal gevoed deur dieselfde bron.
En dit gee ons ‘n totaal ander kyk op mekaar. Ons beoordeel mekaar dikwels op die uiterlike en menslike vlak; ons kyk na geografiese afkoms of bloedlyn. Ons plaas mense in groepe op grond van uiterlike of gewoontes. En dit bring dan ook skeiding, dit bring konflik, dit maak dat mense soortgenote opsoek – dié wat soos ek is. Maar ons moet leer om met heeltemal ander oë na mekaar te kyk. Nie: uit watter volk kom hy nie, maar: uit watter bron drink hy? Nie: watter familiebloed stroom deur sy are nie, maar: watter water stroom deur sy lewe? Nie: hoe lyk sy uiterlike nie, maar: is hy ‘n kanaal van die Gees? En dan kom daar ware herkenning, dán begin ons by mekaar die Bron raaksien: Jesus Christus.
Gemeente, ons vier nie verniet nagmaal saam om die tafel nie. As dit moontlik was, sou dit mooi gewees het as ons almal saam om die een tafel gesit het. Helaas. Maar tog simboliseer ons met ons maaltyd om die tafel ‘n verbondenheid – ‘n verbondenheid met die Vader, maar ook met mekaar. Ek sit nie net langs iemand nie, ek sit langs my broer of suster, my mede-gelowige, en ek is veronderstel om ‘n kanaal te wees waarvan hy of sy die effek kan ervaar, die vrugte van die Gees in my liefde, blydskap, vriendelikheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Laat ons sulke kanale wees, laat die water van die Gees vloei in hierdie gemeente. Geen reënbakke waarin die geur van ontbinding hang nie, maar lewende water – ek vir jou, en jy vir my!
Amen
Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Skr. 18:1-2
Gebed
Kort nagmaalsformulier
By voorbereiding van die tafel sing Skr. 18:3-6
Aan tafel:
- Voltooi nagmaalsformulier
- Sing Skr. 18:7-8
Lees: Esegiël 47:1-12
Johannes 4:1-30
Teks: Johannes 4:13-14
Preek
Amenlied Ps. 23
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 133
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)