Sondag 6
Ds HH van Alten - Sondag 3 Augustus 2008
Lees: Eksodus 32:7-14, 30-35, Hebreërs 2
Teks: HK Sondag 6 (v/a 15-19)
Sing: Sien liturgie
Tema: nie die Wie nie, maar die hoe en die waarom van ons Middelaar vra groot konsentrasie!
-
Hy is ware mens
-
Hy is ware God
-
Hy is die vervulling van die evangelie
Broers en susters, gemeente van Jesus Christus,
Die deel van die Kategismus waarmee ons tans besig is, praat verskeie kere oor die ‘middelaar’. En hoewel die meeste van ons ‘n goeie idee het wat met hierdie term bedoel word, is dit tog goed om, ook ter wille van die kinders, dit weer ‘n keer kortliks te verduidelik. ‘n Middelaar is iemand wat twee partye, wat in ‘n stryd gewikkel is, met mekaar probeer versoen. Hy gaan staan tussen die twee strydende partye met die doel om die twis en onmin te versoen en hulle weer in eensgesindheid en vrede met mekaar te bring. Wanneer ons dit nou toepas op die verhouding tussen God en die mens, dan is die Middelaar iemand wat tussen God en ons kom staan. Aan die een kant is daar God, wat toorn oor die sondes; aan die ander kant is die hele menslike geslag, wat vanweë die sonde aan die ewige dood onderworpe is. Die Middelaar soek daarna om hierdie partye weer in vrede met mekaar te bring.
Ons het ‘n pragtige voorbeeld daarvan gelees in Exodus 32; ons ken almal die verhaal. Moses is op die berg by die Here, veertig dae en veertig nagte lank – gans te lank na die volk se sin. Naderhand begin hulle twyfel of hy nog gaan terugkom, en daarom roep hulle vir Aäron om vir hulle ‘n goue kalf te maak. Dit lyk nie eens asof Aäron twee keer oor die versoek nadink nie; hy laat die vólk die goud bring, en hý maak die kalf. Dit was die volk se manier om die Here, wat hulle uit Egipteland gelei het, te aanbid. In reaksie op hierdie gebeurtenis stuur die Here vir Moses terug na die volk toe, om te sien hoe verderflik hulle gehandel het. Daarby gee Hy ook onmiddellik aan Moses sy intensie te kenne om die volk te vernietig (verse 7-10).
En dit is dán wanneer Moses as middelaar optree! Hy gaan staan tussen die Here en sy volk in ‘n poging om hulle weer met mekaar te versoen. Hy wys die Here enersyds op die spot van die omringende volke, en andersyds herinner Hy die Here aan sy beloftes aan Abraham, Isak en Jakob (verse 11-13). Deur hierdie argumente probeer Moses die Here oorreed om die volk nie te vernietig nie. Dit is ‘n spannende oomblik… Gaan Moses daarin slaag om die Here van sy toorn te laat afsien? “Toe het dit die Here berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy sy volk sou aandoen” (vers 14). Gelukkig! Die onheil is afgeweer, Moses het suksesvol vir die volk ingetree.
Moses besef egter dat dit nog nie die einde van hierdie episode is nie. Want die Here het miskien afgesien van sy gedagte om die volk te vernietig, maar daarmee is die verhouding tussen Homself en sy volk nie eensklaps weer herstel nie. Vir dié doel klim Moses weer op die berg, want – sê hy vir die volk – “miskien kan ek vir julle sonde versoening doen” (vers 30). Sjoe, om vir die volk te pleit soos Moses in verse 11-13 gedoen het, is een ding. Maar om vir hulle versoening te doen, dit is ‘n perd van heeltemal ander kleur. Moses is selfs bereid om sy eie naam uit God se boek te laat vee, as die Here sy volk maar net sal vergewe.
Gemeente, Moses tree hier op uit liefde vir sy volk, maar tog oorspeel hy sy hand. Moses se middelaarskap bereik hier ‘n grens. Dit is ‘n grens wat die Kategismus ook aandui in vraag en antwoord 13 en 14: Kan ons deur onsself betaal? Nee, ons maak ons skuld elke dag groter. Kan enige ander skepsel vir ons betaal? Nee, want geen skepsel kan die las van die toorn van God teen die sonde dra nie. Moses kon nooit versoening bring tussen God en sy volk nie. Nie jy nie, Moses, nie jy nie… ‘n Hartseer verhaal, ‘n verhaal van afval en sonde deur die volk, kom tot ‘n byna nog meer hartseer einde. Moses is nie die ware Middelaar nie!
Maar hoe ‘n middelaar en verlosser moet ons dan soek? Hoe moet diegene wees wat werklik tussen ons en God kan gaan staan? Gemeente, in hierdie vraag en antwoord, sowel as in die volgende vrae en antwoorde forseer die Kategismus ons om deeglik na te vors hoe die egte Middelaar dan wel moet wees. Want ons almal, selfs die kinders, weet al wie die egte Middelaar is; ons weet almal waarop die Kategismus afstuur. Wanneer in v/a 18 gesê word dat die middelaar ons Here Jesus Christus is, dan het ons almal dit sien aankom. Dus, die antwoord is nie meer ‘n geheim nie, maar nogtans is die ondersoek noodsaaklik.
Tema: nie die Wie nie, maar die hoe en die waarom van ons Middelaar vra groot konsentrasie!
-
Hy is ware mens
-
Hy is ware God
-
Hy is die vervulling van die evangelie
1. “… met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel” – dit is die woorde uit Psalm 8 wat die Hebreërskrywer in hooftuk 2:7 en 8 aanhaal om ons hoë posisie voor God te beskryf. Met heerlikheid en eer is u en ek gekroon – ek weet, ons sien nie so baie daarvan nie. Ons sien eerder die teendeel: mense met groot pyn en hartseer, mense wat eerder gekroon is met lyding en moeite as met heerlikheid en eer; ons sien liggame wat ineenkrimp van ouderdom en siekte, ons sien vertrapte harte, vernederde siele, mense met ‘n minderwaardigheidskompleks omdat ander oor hulle loop.
En verder sê die Hebreërskrywer: ons is oor die werke van God se hande aangestel – wel, daarvan sien ons ook nie so baie nie. Weereens blyk dikwels die teendeel: mense wat God se handewerk vernietig, mense wat misbruik maak van die posisie en die middele wat hulle van God ontvang het, armoede, korrupsie, geweld en oorlog. En dan sê die Hebreëskrywers ook nog: Alle dinge het U onder sy voete gestel – ja, God het miskien alle dinge onder ons voete gestel, maar ons gebruik ons voete om dit te vertrap; ons maak ‘n gemors daarvan.
Gemeente, laat ons eerlik wees, van hierdie hoë en koninklike posisie sien ons nie so baie nie. Immers, die hele toestand van die wêreld en die mensdom laat ons aan alles behalwe heerlikheid en eer dink. Die mens, ook die gelowige mens, bring sy lewe deur onder groot druk, met vrees, gedurig omring deur gevare, onseker oor wat wag. Ons sien dus nie so baie van wat die digter van Psalm 8 oor die mens sê nie. En die Hebreërskrywer stem saam met ons; hy sê in vers 8: “Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom (die mens) onderwerp is nie…” Nee, sê die Hebreërskrywer, julle is reg, van die hoë posisie het daar vanweë die sonde nie so baie oorgebly nie. Maar waarom dan die aanhaling uit Psalm 8? As ons daardie eertydse glorie, daardie heerlike posisie in die paradys verloor het, waarom dit dan aanhaal? Waarom sout in die wonde van ons, soms moeilike, aardse bestaan vryf?
Want, sê die skrywer, hoewel ons Psalm 8 nie by die méns sien nie, sien ons dit wel by Jesus! Jesus het wél hierdie eer en heerlikheid! Hy het die eer en heerlikheid, wat ons verloor het, verkry deurdat Hy vir ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak is en die lyde van die dood gesmaak het (vers 9). Jesus het mens geword, en Hy het as mens die dood gesmaak, die toorn van God tot in die hel toe gedra – en dáárom het God aan hierdie mens heerlikheid en eer gegee!
Gemeente, daar is dus een mens wat volmaak is, daar is een mens wat met heerlikheid en eer gekroon is. En laat ons die Here dank vir hierdie genade! Want as dit nie die geval was nie, dan het Psalm 8 weg gevrot onder die mishoop van menslike sonde, dan was Psalm 8 ‘n patetiese verlange na vergane glorie. Maar Jesus kom krap Psalm 8 oop, Hy word die mens waarvan Psalm 8 so heerlik spreek, Hy word die mens waarna God so innig verlang het! ‘n Mens wat nie vanweë die sonde van sy heerlikheid en eer beroof is nie, ‘n mens wat vanweë sy sondeloosheid God se handewerk goed kon bestuur, ‘n mens vir wie die las van alles wat onder sy voete gestel is, nie te swaar gedruk het nie. ‘n Mens wat in alles die wil van God nagekom het, een wie se gebede voor God ‘n lieflike geur was. En selfs toe God Hom tot sonde gemaak het, Hom verstoot het, Hom verwerp het, selfs toe het Hy ware en regverdige mens gebly – een wat God liefgehad het selfs tot in die hel, een wat, al is Hy deur God verlaat, Homself nooit van God vervreem het nie. ‘n Mens wat in volmaakte harmonie met God gelewe het, geen sonde gedoen het nie, Homself altyd en hartgrondig van die sonde afgeskei het. Broers en susters, hier is ‘die mens’ by uitstek, die mens soos God hom bedoel het!
Hy is ons band met die lewe! Want, gemeente, as volmaakte mens het Hy die band met die sondige mens nie verbreek nie. Hy het Homself nie van ons afsydig gehou nie, Hy het nie neus in die lug by ons, sondaars, verby geloop nie. Hierdie ware en regverdige mens het Hom nie geskaam vir almal wat, net soos Hy, ware mense is, maar anders as Hy deur en deur sondig is nie (vers 11). Hy het ons vlees en bloed deelagtig geword, want ons, jy en ek, was vir Hom belangrik; nie die engele nie, nee, die geslag van Abraham (vers 16).
Daarom het Hy in álle opsigte aan sy broeders gelyk geword: Hy is gebore as hulpelose babatjie, Hy het opgegroei en leer praat en loop soos elke ander kind, Hy het moeg geword en geslaap, Hy was bly en het gelag, Hy het honger en dors geword, Hy was hartseer en het gehuil, Hy het onder versoeking gely, selfs baie hewige versoekings. Gemeente, uitgesonderd die sonde, was Hy bereid om Homself vir 100% met ons te vereenselwig. Hy het een van ons geword!
En deurdat Hy vanaf die Vader gekom het om een van ons te word, kon Hy baie sondaars as kinders na die Vader bring, en bring Hy hulle steeds daagliks tot die Vader. Deur Hom, die ware en regverdige mens, mag ek – net soos Hy – God se kind wees. En omdat ek saam met Hom God se kind is, daarom mag ek sy broer wees… Die Hebreërskywer sê dit pragtig in vers 11 en 12: “Want Hy wat heilig maak (Jesus), sowel as hulle wat geheilig word (ons), is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie, wanneer Hy sê: Ek sal u Naam aan my broeders verkondig, in die midde van die gemeente sal Ek U prys.” Ja, ek is Jesus se broer! U is sy broer en sy suster! Hy het my sy broer gemaak! Die Seun van die mens – die mens by uitstek – het gesorg dat, deur sy lyde en dood, baie mense soos Hy sou word, naamlik kinders van een Vader, en daardeur broers en susters van mekaar.
Wanneer jy in hierdie mens glo, dan begin die lewe van elke dag sin maak, want dan is jy nie meer alleen nie! Dan is jou eenvoudige gebed om vergifnis van sondes welgevallig voor die Vader deur ons groot Broer wat vir ons bid; dan is jy tydens jou daaglikse taak nie alleen aan die werk nie, omdat jou Broer daagliks die werk doen wat ons as mense veronderstel is om te doen; dan is jy in jou liggaamlike pyn en lyding nie meer alleen nie, dan het jy in jou hartseer en sorge iemand wat saam met jou hartseer en besorgd is, want jou Broer voel saam met jou. Hierdie volmaakte mens, Jesus, doen dit alles vír ons by die Vader. Hy doen wat ons as mense moes gedoen het; Hy is die mens wat ons moes gewees het; Hy staan vir ons in, Hy is ons plaasvervanger-mens: met heerlikheid en eer gekroon, Hy heers in volmaaktheid oor die werke van God se hande.
En daarom kan ons wat glo vandag weer met volle oorgawe Psalm 8 sing: “o Here, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U het die volmaakte mens voorsien sodat ons weer mense met heerlikheid en eer kan word.”
En gemeente, ons word dit hier in die kerk! Hier, in die kerk, groei ons geleidelik terug na wat ons was; hier waar ons onder die Woord van God kom, kom daar geleidelik herstel en genesing. Ons hoef nie meer mense te wees met vertrapte harte en siele nie, mense met ‘n minderwaardigheidskompleks nie. Nee, wat ook al met ons gebeur het, wie ook al op my getrap het, my soos niks laat voel het, watter pyn en vernedering ek ook al verduur – hier, onder die verkondiging van die mens, Jesus, groei daar ‘n nuwe mensdom, mense met heerlikheid en eer, nie soseer in die oë van die wêreld nie, maar voor God! Hier groei mense wat weer egte profete, priesters en konings kan wees, mense wat weer hul oorspronklike taak kan nakom, mense wat weer kan heers oor die skape en die beeste, die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see. Hier, onder die verkondiging van die mens, Jesus, groei daar geleidelik ook ‘n nuwe wêreld, ‘n wêreld waar ons nie verwoes en vervuil en vernietig nie, maar waar ons bewerk en bewoon en bewaak. Hier, onder die verkondiging van die mens, Jesus, groei daar weer skepsele wat weinig minder as goddelike wesens is, met ‘n kroon van heerlikheid en eer op hulle koppe, konings en koninginne, broers en susters van Jesus Christus!
In die tweede plek: ons Middelaar is ook ware God.
2. Gemeente, behalwe dat ons Middelaar ware en regverdige mens moet wees, stel die Kategismus op grond van die Skrif vervolgens ook nog die eis dat Hy ware God moet wees. En die rede daarvoor is eenvoudig: geen mens kan die gewig van God se toorn dra nie.
Om dit te kan begryp moet ons iets besef van wat God se toorn inhou.
God se toorn is altyd sy reaksie op die sonde. Die sonde van die mens is in wese hoogmoed en opstand teen God. In sy sondigheid eis die mens vir homself ‘n plek toe wat slegs vir God bestem is. In sy sondigheid versmaai en verag die mens God se liefde. Dit is wat u en ek doen, broer en suster, elke keer wanneer ons sondig; dis ‘n bewys dat die rebel nog nie heeltemal uit ons is nie. Elke keer wanneer ons God se wet oortree, ag ons onsself hoër as God, en beskou ons ons eie reëls en optrede as reg en goed.
En dit laat God nie net ongesiens verbygaan nie, dit vee Hy nie maar net onder die mat in nie. Nee, daarteen toorn Hy met ‘n heilige toorn. Nie omdat God hierdie geweldige geldingsdrang het nie; God word nie gedryf deur ek-sug nie. Hy is nie soos sommige jongmanne wat graag wil bewys dat hulle ook spiere het nie. Nee, God toorn teen die sonde omdat sy gebod oortree word, omdat sy reg vertrap word. Hy is woedend oor die sonde. Kyk maar wat ons daaroor lees in Nahum 1:2-6: “’n Jaloerse God en ‘n wreker is die Here, ‘n wreker is die Here, en vol grimmigheid; ‘n wreker is die Here vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn van sy vyande … Hy dreig die see en maak dit droog en laat al die riviere opdroog; Basan en Karmel kwyn weg, en die groenigheid van die Libanon verwelk. Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon. Wie sal standhou voor sy grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn? Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom.”
Sien u die verwoestende kragte wat loskom wanneer die Here sy toorn vir ‘n oomblik vrye teuels gee? Niks kan voor Hom bly staan nie; die see, die berge, die rotse – in ons oë dinge wat krag en grootsheid aandui – niks daarvan bly staan voor God se toorn nie.
Hoeveel minder sal ‘n mens dan bly staan?
En dáárom, gemeente, moet ons Middelaar ook ware God wees. Die feit dat Hy ware mens is, meer nog, dat Hy ‘n sondelose mens is, was nie genoeg nie. Hy moes ook God wees. Die oneindige las van God se toorn, deur u en my veroorsaak, sou Hom as mens verpletter het, as dit nie was dat sy oneindige Goddelike krag Hom staande gehou het nie. Hy moes God wees om na sy mensheid te kan betaal. Want wie kan teen God uithou, as slegs Hy wat self God is?
Slegs deur die oneindige krag van sy Godheid kon Hy die ewige toorn van God teen die sonde dra en ons van daardie toorn verlos. Want dit is presies wat gebeur het, gemeente, die toorn en straf wat op ons was, het God op Hom laat neerkom. Daardie verpletterende toorn wat ons verdien het, het Hy gedra! Gemeente, Christus se lyding, tydens sy hele lewe, maar spesifiek aan die kruis, was daarom onvergelykbaar swaar. Niemand van ons se lyding vergelyk met wat Christus aan die kruis moes verduur nie. En Hy kon dit slegs dra omdat Hy God was.
Dit is u Middelaar, broers en susters – ware en regverdige mens, en terselfdertyd ware God. En nou vir die eerste keer in antwoord 18 gee die Kategismus aan hierdie Middelaar ‘n Naam: ons Here Jesus Christus. Hoor u dit, waar die voorafgaande moontlik die gevoel geskep het van ‘n effens teoretiese behandeling, word die Kategismus nou skielik intiem: ons Here Jesus Christus. Deur die geloof mag ons volledig beslag lê op hierdie Middelaar, op hierdie Een wat tussen ons en God gaan staan om ons weer met mekaar te versoen. Ons Here Jesus Christus – ja, Hy is ons s’n deur die geloof.
Duidelik blyk, gemeente, dat hierdie ‘ons’ ook ‘n keuse impliseer. Ons kan nie neutraal staan teenoor hierdie Middelaar nie – Hy is óns Here Jesus Christus, of Hy is dit nie. In die eerste geval is ons kinders van die Vader en broers en susters van Jesus; maar in die tweede geval is ons vyande van God. Daar is niks tussen-in nie. En daarom die oproep aan ‘n ieder en ‘n elk van ons om hierdie God-en-mens-in-een-persoon, Jesus Christus, aan te gryp en in geloof te aanvaar! Om met God versoen te word, vra ‘n keuse. En niemand kan aan daardie keuse ontkom nie.
Ons let nog ten slotte daarop dat ons Middelaar die vervulling van die evangelie is.
3. Ons keer nog vinnig terug na Hebreërs 2, en hierdie keer na die eerste vier verse. Die skrywer roep sy lesers op om ag te gee op wat hulle gehoor het. Dit verwys na God se spreke deur die geskiedenis heen, waarvan hoofstuk 1 praat. Dwars deur die geskiedenis heen was God besig om die koms van die Middelaar voor te berei; elke keer het Hy ‘n bietjie meer aan sy volk geopenbaar, elke keer het daar ‘n ekstra stukkie inligting bygekom. Deur middel van die engele, en deur middel van sy profete, het die legkaart van verlossing vanuit menslike perspektief geleidelik aan al hoe meer in mekaar begin pas. Dit is ook hoe die Kategismus dit beskryf in antwoord 19.
En nou roep die Hebreërskrywer sy lesers aan die begin van hoofstuk 2 op om die keuse te maak waarmee ons die vorige punt geëindig het. Hierdie Middelaar is deur die hele Ou Testament al verkondig, en toe al was die verkondiging onwankelbaar, dit wil sê vas en betroubaar. Maar nou is die saligheid deur Jesus Christus self verkondig; Hy is die vervulling van alle verkondiging deur die loop van die Ou Testament, Hy is die Een waarna almal uitgesien het, Hy is die Middelaar wat in staat is om tussen God en ons te kan staan. Hoeveel keer het Hy nie tydens sy lewe op aarde vir die mense probeer duidelik maak dat dit Hy is waarna hulle almal uitsien nie? En asof dit nie genoeg is nie, het sy volgelinge, die apostels, dit daarna deur hulle verkondiging bevestig. En om die kersie op die koek te plaas, het God ook nog krag agter hierdie verkondiging gesit deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade. En hierdie evangelie, broers en susters, hoor jy elke week – twee maal. Die Middelaar is vir jou nie onbekend nie, jy kan hom ken, Hy word aan jou voorgehou, Hy word voor jou afgeskilder.
As jy Hom dan nog afwys, hoe sal jy ontvlug? Waarheen sal jy vlug om van God se toorn af weg te kom, wanneer jy Hom nie in geloof aanvaar nie? Wie of wat sal jy tussen jouself en God plaas om sy toorn af te koel as Jesus Christus nie jou middelaar is nie? Want hoewel Jesus Christus God se toorn vir die gelowiges gedra het, sal die ongelowiges self die toorn moet dra, self die verwoestende effek daarvan moet beleef – vir ewig! En daarom weer die vraag: As jy Hom afwys, hoe sal jy ontvlug?
Amen
Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 97:2, 3 en 7
Lees: Eksodus 32:7-14, 30-35
Sing Ps. 106:8 en 9
Lees: Hebreërs 2
Sing Ps. 22:9
Teks: HK, v/a 15-19
Gebed
Preek
Amenlied Ps. 8:3-5, 7
Gebed
Geloofsbelydenis (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 27:4-6
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)