God die Vader aanvaar Christus se plaasvervangende offer

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-04-02
Teks: 
Matthéüs 27
Preek Inhoud: 

Mt 27:51-53

 

Johannesburg, 2 April 2010

Lees: Mt 27:45-56

Sing: Ps 98:1,2; Ps 98:3,4,; SB 6:4-7; SB 7:4,5,8; SB 8:1,2

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

 

Wanneer Christus aan die kruis sterwe, gebeur daar wonderlike dinge: die voorhangsel van die tempel skeur in twee, die aarde skud, die rotse skeur en baie liggame staan op.

 

Beide die tempel en die aarde word getref.  God se volk word in die fondamente van sy bestaan geskok.  Die fondamente wankel.

 

Eers die tempel – Israel se vertroue – die hart van die erediens, die werkplek van die priesters.  Die voorhangsel skeur van bo tot onder.  Die heiligdom word bloodgelê en ontheilig.

 

Daarna die aarde – die bodem waarop ons mense leef en werk.  Gewoonlik gee die aarde vaste grond onder jou voete.  Dit lyk onwankelbaar te wees.  Jy voel jou daarop veilig.  Maar dan is daar skielik ’n aardbewing.  Die grond skud, bewe.  Daar is geen vaste grond meer onder jou voete nie.  Jy voel jou lewe onveilig.  Die laaste vasthede word onder jou voete weggeslaan.  Geen wonder dat mense bang word nie.  Hulle voel dat die fondamente van hul bestaan wankel.

 

Dis opmerklik dat die werkwoorde in die teks in die lydende, passiewe vorm staan: die voorhangsel het geskeur, die aarde het gebewe, die rotse het geskeur, die grafte het oopgegaan ens.  Dis nie die werk van mense nie.  Dis die werk van die Here God self.  Hy skeur die voorhangsel, Hy skud die aarde.  Nou sy Seun sterwe, het Hy iets om vir die mense te sê en te wys.  Hy laat sien dat sy Seun nie ’n mislukking is nie.  Vader laat sien dat Hy die offer van sy Seun aanvaar.   Hy wys vir die wêreld die waarde en krag van daardie offer.  Eers tav die tempel: die voorhangsel skeur.  Dan tav die aarde.  Die skepping ondervind die skokgolf van Christus se kruisdood.  Die hele skepping is betrokke.  Dit gaan ten slotte oor die versoening van hemel en aarde.  En daardie kosmiese teken – die aardbewing – laat graftes oopgaan en baie gelowiges opstaan.

 

Laat ons nou kyk na die geweldige tekens rondom Christus se dood.

Ek verkondig vir julle: God die Vader aanvaar Christus se plaasvervangende offer

  1. Hy open die weg na sy hemelse troon
  2. Hy open die poorte van die doderyk

 

Een van die tekens is dat die voorhangsel van bo tot onder middeldeur skeur.  In die tempel was daar twee voorhangsels.  Die tempel het uit drie afdelings bestaan wat deur voorhangsels van mekaar geskei is.  Eers was daar die voorhof, ’n publieke ruimte vir die gewone volk.  Daarna, meer na binne toe was daar die heilige.  ’n Gebied waar die priesters hul werk moes doen, onttrek aan die oog van die volk deur ’n voorhangsel.  Ten slotte was daar die allerheiligste, ook agter ’n gordyn.  Die allerheiligste was die mees intiemste afdeling van die tempel.  Daar mog net die hoëpriester kom en dit net een keer per jaar, op die groot versoendag.  Dit was so te sê die woonplek van God self, beeld van die hemel.  Net die hoëpriester mog daar in God se teenwoordigheid verskyn om daar die diens van die versoening te verrig.  Wanneer hy sy werk daar voltooi het, moes hy weer vertrek en die gordyn agter hom toesluit.  Die taal van die voorhangsel was: verbode  toegang.  Geen toegang tot God vir volk en priesters nie, ja vir elkeen behalwe vir die hoëpriester, eenmaal per jaar en dan uitsluitend met die bloed van versoening.

 

Die voorhangsel tussen die voorhof en die heilige het ook gepraat van verbode toegang, nou egter vir die gewone volk.  Daardie gordyn het immers skeiding gemaak tussen die volk en die priesters. 

 

Watter van hierdie twee voorhangsels geskeur is, word nie uitdruklik genoem nie.  Ons kan daarom nie 100% seker daaroor wees nie.  Onder die verklaarders word daar verskillend oor gedink.  Baie kan gesê word ten gunste van die binneste voorhangsel.  Daardie voorhangsel tussen die heilige en die allerheiligste was immers ’n duidelike skaduwee, beeld van die feit dat die toegang tot God se troon nog verbied was.  Daar was net toegang met die bloed van versoening.

 

Hoe dit ook al mag wees, in elk geval hoef niemand onseker te wees oor die bedoeling van hierdie teken nie.  Die brief aan die Hebreërs vorm ’n pragtige verklaring daarvan.  Die voorhangsel van die tempel skeur middeldeur.  Die gordyn wat skeiding maak, wat praat van verbode toegang vir die volk, daardie gordyn breek God nou self oop.  Die verbode toegang word opgehef.  Dit pad lê nou oop.  Daar is vrye toegang tot God se heiligdom.

 

Dis die boodskap van Goeie Vrydag.  Let gemeente op die tydstip van hierdie gebeure.  Dit gebeur die oomblik dat Christus sterwe.  Waarom?  Aan die kruis het Christus homself geoffer, as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.  Hy bring die offer van versoening waarna die hele OT iese offerdiens gewys het.  Hy kon uitroep:  dit is volbring.  Die werk van versoening is voltooi, eers en vir altyd.  Wat die priesters nie kon bereik nie – hulle kon die sondes nie werklik versoen nie – daar het geen einde aan hul offerdiens gekom nie – wat die priesters nie kon bereik nie, dit het Christus nou eers en vir altyd gedoen: dit is volbring.  Nou kan die gordyn van die tempel skeur.  Die tempel het sy tyd gehad.  Die tempeldiens is nie meer nodig nie.  Die offers hoef nie meer gebring te word nie.  Dit is volbring.

 

So ontvang ook die priesters met die daad ontslag.  Deur Jesus te laat doodmaak, het hulle gedink dat hulle hul posisie sou veilig stel.  Maar kyk wat gebeur wanneer Christus sterwe.  Die tempel gordyn wat skeiding tussen priesters en volk gemaak het, word middeldeur geskeur.  Die priesters kry ontslag.  Hul besondere posisie word opgehef.  Nou ons enigste Hoëpriester Homself geoffer het, het ons die priesters as middelaars van die Ou Verbond nie meer nodig nie. 

 

Hier word die oorgang van die Ou na die nuwe verbond aangegee.  ’n Nuwe, ryker bedeling breek aan.  ’n Tyd waarin die geskeidenheid opgehef is.  Voorhangsels is verby.  Almal mag nou toetree tot God die Vader as priesters en konings.

 

Dis, brs en srs, die ryke boodskap van daardie eerste teken by Christus se dood.  God sê tot elkeen van julle: die skeidsmuur is weg.  Daar is nou vrye toegang tot God se troon.  Nie net vir die priesters nie.  Trouens, die priesters het net toegang gekry tot die aardse afbeelding van God se troon.  En dit net een keer per jaar.  Maar nou is die weg tot God self, tot sy hemelse troon, oopgebreek.  En dit vir al God se kinders.  Die skuld is versoen.  Vader het Christus se offer tot versoening van ons sondes aanvaar.

 

Gemeente, dis veral die brief aan die Hebreërs wat dit vir ons duidelik maak.  In Hebr 9 lees ons bv dat die Heilige Gees deur die aardse tempel duidelik maak dat die weg na die heiligdom nog nie geopen is solank as die eerste tabernakel nog standhou nie.  Solank as die eerste tabernakel, die heilige of die hele aardse tempel bestaan het, was die weg na die hemelse heiligdom nog nie oop nie.  Solank was die sonde nog nie versoen nie.

 

Maar met Goeie Vrydag word dit anders.  Dit is volbring.  Die sonde is versoen.  En nou lê die pad na die hemelse heiligdom oop.  Let maar op die gordyn van die tempel wat middeldeur geskeur het.  God maak duidelik dat die skaduwees, die afbeeldings nie meer nodig is nie.  Hy ontsluit die weg na die ware hemelse heiligdom.

 

Wanneer Christus sterwe, kom God in aksie.  Hy laat van homself hoor en sien.  Nie net in die tempel nie, maar ook op die aarde.  So kom ons by die tweede gedagte: God open nie net die weg na die hemelse troon nie, maar ook die poorte van die doderyk.

 

God kom dus in aksie.  Met groot majesteit.  Die vyande in die omgewing van Golgota word bang.  Die aarde skud.  Alles beweeg onder hulle voete.  En die graftes in die omgewing van Jerusalem gaan oop.  ’n Opmerklike verskynsel.  ’n Skrikwekkende verskynsel.  Christus se dood bly nie onopgemerk nie.  God wys die groot waarde en krag van Christus se dood.

 

Vreemde dinge gebeur.  Die grafte gaan oop.  En baie grafte blyk leeg te wees.  Die liggame van hulle wat dood was, het verdwyn.  Ons sal die verloop van dinge soos volg ons moet voorstel.  Reeds op Goeie Vrydag het die heiliges opgestaan en uit die grafte uitgegaan.  Dit in teenstelling tot die indruk wat ons vertaling hier gee, naamlik dat hulle eers na Christus se opstanding uit die grafte uitgegaan het.  Die woorde “na sy opstanding” pas beter by die vervolg van die teks, naamlik hul verskyning in die heilige stad.  Ons kan die teks dus beter met die NV soos volg lees: “en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan.  Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.”

 

Ons mag aanneem dat die opgestane heiliges reeds op Goeie Vrydag hul graftes verlaat het.  Die mense van die omgewing van Jerusalem staan vir raaisels.  Grafte gaan oop en verskillende grafte blyk leeg te wees.  Nie alle grafte nie.  Wat het met hulle liggame gebeur?  En waarom is die een graf leeg en die ander nie?  Dit blyk dat ’n sekere keuse gemaak is.  Net die grafte van heiliges word leeg aangetref.  Grafte van mense wat die Christus verwag het, van gelowiges.  Hulle wat nie geglo het nie, het almal in hul grafte gebly.  Wat kan daar dan met die heiliges gebeur het?  Dit bly ’n raaisel tot na Christus se opstanding. 

 

Die heiliges is met Goeie Vrydag opgewek.  Op die oomblik dat Christus die doderyk ingaan, tree hulle uit die doderyk uit.  Wat ’n onverwagse wending.  Deur Christus dood te maak, het die Joodse leiers juis gedink dat hulle ’n einde aan al die opwekkings van dooies sou maak.  Die opwekking van Lasarus was vir hulle die laaste strooi.  Daardie opwekking het hulle definitief laat besluit om Christus dood te maak.  Die evangelis Joh noem dat die opwekking van Lasarus vir baie opwinding in en rondom Jerusalem gesorg het.  Baie het in Jesus geglo en ander het die saak by die Fariseërs kom meld.  Die Joodse leiers raak in paniek.  As hulle Jesus met sy wonders en tekens laat aangaan, dan kan hulle vergeet van hul eie posisie en mag. 

 

Dan kom Kajafas met sy verlossende woord: dit is vir ons voordelig dat een man vir die volk sterwe.  Dit lyk vir hulle die oplossing te wees.  Maak seker dat Jesus dood is en dit sal met sy opwekkings uit die dood afgelope wees.  Dan sal dit afgelope wees met sy invloed deur woord en daad.  Die mense sal hom vinnig vergeet.

 

Maar wat gebeur daar juis wanneer Christus sterwe?  Dit wat hulle so bang gemaak het, gebeur opnuut wanneer Christus sterwe en wel in veelvoud.  Baie staan op uit die dood.  Met Pase gons dit van die gerugte.  Van alle kante hoor hulle dat ou bekendes wat gesterf het, weer lewend gesien is.  Jerusalem is vol van opgestane gelowiges.  Dit is, brs en srs, God se antwoord aan die Sanhedrin.  Hulle het gesê: die hele wêreld loop agter Hom aan.  En hulle het gedink: ons het op tyd daaraan ’n einde gemaak.  Hy is dood.  Maar God antwoord: juis in sy dood is Christus Oorwinnaar.  Sy rol is nie verby nie.  Inteendeel.  Hy het geroep: dit is volbring.  En die eerste vrugte van sy oorwinning tree onmiddellik te voorskyn: baie gelowiges word opgewek.  Die doderyk kan hulle nie langer vashou nie.  Christus het immers vir die heiliges betaal.  Sy sterfdag beteken vir sy volk nuwe lewe, ewige lewe.  Daarom gaan die grafte oop, onmiddellik.  Hulle wat eers dood was, leef.  Hulle gaan uit hul grafte uit, reeds op Goeie Vrydag.  Dis nog nie eers Pase nie.  Jesus sterf en baie wat gesterf het, staan op uit die dood.  Wat ’n krag en waarde het Christus se dood.  Sy rol is allermins uitgespeel.

 

Die opgestane heiliges wag tot Christus se opstanding.  Eers na sy opstanding verskyn hulle sigbaar onder die mense.  Waarom so?  Dalk omdat Christus as eersteling, as hoof openbaar moet word.  Hul is net dienaars van Christus.  Ook in hul verskynings, is hulle as dienaars nie meer as hul Meester nie.  Daarom staan hulle vir eers terug.  Hulle laat Christus voorgaan.  Hy die eersteling, die leidsman moet voorloop, hulle volg.

 

Maar waar het hulle in die tussentyd, tussen Goeie Vrydag en Pase, dan gebly?  Ons weet nie.  God ag dit nie nodig om ons daarvan in kennis te stel nie.  Dis daarom ook nie so belangrik nie.  Dit gaan in die eerste plek ook nie oor die heiliges nie, maar oor die Oorwinnaar Jesus Christus.  Die volle lig moet op Hom val.  Hul opwekking moet juis Hom dien, sy eer en heerlikheid.  Daarom wag hulle tot Pase.  In die tussentyd gaan hulle nie publiek nie.

 

Maar kan dit wel, om solank verborge te bly sonder dat iemand hulle vind?  Wat dink julle, sou dit vir God, wat die hele geskiedenis lei, onmoontlik wees?  Trouens hoe het dit gegaan met Jesus self na sy opstanding?  Het Hy homself in daardie tyd tussen opstanding en Hemelvaart nie dikwels verborge gehou nie?  Die situasie van die opgestane heiliges kan julle daarmee vergelyk.  Hul opstanding is anders as die van Lasarus.  Lasarus het na hierdie tydelike, aardse lewe teruggekeer om later opnuut te sterwe.  Lasarus het so te sê aan hierdie kant van die graf opgestaan.  Van die heiliges kry ons die indruk dat hulle aan die ander kant van die graf opgestaan het.  Ons lees in vers 53 dat hulle aan baie verskyn het.  Die woord “verskyn” wys daarop dat hulle nie hul gewone plek onder die mense weer ingeneem het nie.  Daar is geen sprake van gewone verkeer onder die mense nie.  Daar is net verskynings.  Hulle word deur baie gesien, maar verdwyn daarna weer.  Hoe lank hulle dit gedoen het, word nie gesê nie.  Dit gaan daaroor dat hulle lewende getuies is van Christus se dood en opstanding.

 

Hulle moet daardie getuienis gee aan die heilige stad, Jerusalem.   Wat is God tog geduldig.  Jerusalem het die getuienis van Moses en die profete gehad.  Jerusalem het uiteindelik die getuienis van God se eie Seun ontvang.  Maar hulle het die profete gedood, selfs God se eie Seun aan die kruis laat spyker.  En nou wil God hulle nog kom opsoek en aanspreek deur die opgestane heiliges.  God gee nog ’n tyd van genade.  Jerusalem ontvang wat die ryke man uit die gelykenis van die ryk man en die arme Lasarus, gevra het.  Die ryk man het mos gevra of God geen hemelse boodskappers na sy broers kon stuur om hulle te waarsku nie.  Nou, Jerusalem ontvang die hemelbodes, opgewekte heiliges.  Wat ’n geduld van God.  Die mense wat geskreeu het “kruisig Hom, kruisig Hom” word nie aan hul lot oorgelaat nie.  God laat hulle nie met rus nie, Hy bewerk juis baie onrus.  As ’n laaste dringende oproep.  Hulle kan dit nie ontwyk nie.  Van alle kante hoor hulle van die ontmoeting met opgestane heiliges.  En baie ontmoet hulle selfs.  Onvoorstelbaar.  Mense raak nie daaroor uitgepraat nie.  ’n Sigbaar en tasbaar bewys van Christus se oorwinning.  Wie nou nog nie glo nie, roep God se oordeel oor homself.

 

Gemeente, die teks gee julle ryke troos.  Christus het sy werk van versoening voltooi.  God het sy offer vir julle aanvaar.  Let maar op die tekens by Christus se dood.  Let maar op die gordyn van die tempel wat middeldeur skeur.  Die toegang tot die troon van God se genade is oopgebreek.  Julle sondes is versoen.  Jy mag tot God se troon toetree as priester en koning.  Let ook op die grafte wat oopgaan en die heiliges wat opstaan.  ’n Skitterende voorspel van wat op die jongste dag gaan gebeur.  Alle liggame van die heiliges sal dan opstaan.

 

Gemeente, wat ’n krag en wat ’n waarde blyk Christus se dood te hê.  Nie net die hemel, maar ook die doderyk word vir my en jou geopen.

AMEN

 

Net ’n herinnering: Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief C Kleijn

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)