Die geloof verdien niks nie, maar beteken tog alles

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-06-06
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 23
Verwysing: 
HK 23-0 (2010)
Preek Inhoud: 

 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag 23; lees Lukas 7:1-10

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het die Kategismus se bespreking van die Geloofsbelydenis afgehandel. En noudat ons hiermee klaar is, is dit goed om saam vir ‘n oomblik terug te staan en ‘n oorsig te kry van waarmee ons onsself in die laaste maande besiggehou het.

As u terugblaai na Sondag 7 – v/a 22 – dan lees u daar die vraag: “Wat moet ‘n Christen glo?” En dan lui die antwoord: “Alles wat in die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.” Hieruit vloei vervolgens die vraag: “Maar hoe lui die artikels?”, en dan volg die twaalf artikels, oftewel die Apostoliese Geloofsbelydenis. Sondag 8 gee vervolgens ‘n verdeling van die Apostoliese Geloofsbelydenis in drie dele: die eerste handel oor God die Vader en ons skepping; die tweede oor God die Seun en ons verlossing; die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking. En dit is aan die hand van hierdie driedeling dat die Kategismus dan daartoe oorgaan om elke artikel van die Apostoliese Geloofsbelydenis te bespreek. Sondag 9 en 10 handel oor God die Vader, Sondag 11-19 oor God die Seun, en Sondag 20-22 oor God die Heilige Gees.

 

Dit bring ons by Sondag 23… En dit is opmerklik dat die Kategismus dan eintlik terugspring na die saak van die geloof waaroor dit in Sondag 7 gegaan het. In kort dus: Wat moet ‘n Christen glo? (Sondag 7) Wel, die evangelie en die samevatting daarvan in die Apostoliese Geloofsbelydenis (Sondag 8-22). En dan in Sondag 23: maar wat baat dit jou dat jy dit alles glo? Na hierdie lang bespreking van wat jy as christen behoort te glo, kom uiteindelik die vraag: wat is die sin daarvan dat jy dit glo? Bring dit jou enigsins verder? Wat is dus die waarde van jou geloof?

Moontlik is dit ‘n vraag wat jy lankal het… Miskien is dit vir jou nie slegs ‘n teoretiese vraag nie, maar ‘n werklikheid, ‘n worsteling van elke dag… Ja, God die Vader, die maagd Maria, Pontius Pilatus en die kruisiging, die Heilige Gees, die gemeenskap van die heiliges, die vergifnis van sondes, die opstanding van die liggaam – hoekom glo ek dit eintlik? Is dit die moeite werd om geglo te word? Is dit die moeite werd om ‘n christen te wees? Gemeente, ek mag vanaand aan u die evangelie verkondig wat die moeite werd is om geglo te word! Want deur die geloof gaan daar vir jou ‘n nuwe lewe oop, deur die geloof word jou verhouding met die enige God herstel, en só word jy ‘n erfgenaam van die ewige lewe. Nie dat jou geloof enige verdienste het nie, maar deur die geloof omhels jy jou groot Verdienste, Jesus Christus!

Tema: die geloof verdien niks nie, maar beteken tog alles!

  1. Die geloof besef eie onwaardigheid
  2. Die geloof rig die verwagting op Jesus
  3. Die geloof ken die krag van Jesus se Woord

1. Die geskiedenis waarvan ons in Lukas 7 gelees het, speel hom af direk ná die bergrede van die Here Jesus. Jesus het dus sy lang toespraak op die berg voltooi, en Hy keer nou terug na die stad Kapernaum. Die ore van die volk het vir eers genoeg gehoor. Op almal wat na Jesus geluister het, rus nou die verantwoordelikheid om die daad by Jesus se woord te voeg deur Hom gehoorsaam na te volg. Maar helaas, ons lees nêrens van ‘n positiewe reaksie op Jesus se onderrig nie; dit bly opvallend stil rondom Jesus. Totdat Hy Kapernaum binnegaan… Dan kom daar skielik ouderlinge van die Jode op Jesus af. Nou, broers en susters, die ouderlinge was die leiers van die gemeenskap wat in Israel oor sowel burgerlike as godsdienstige sake beheer uitgeoefen het. Hulle kom nou na Jesus om ‘n goeie woordjie te doen vir ‘n hoofman oor honderd, ‘n offisier wat deel was van die leër van Herodes Antipas. Een van sy slawe, een wat vir hom van groot waarde was, het naamlik op sterwe gelê…

Die ouderlinge kom praat dus namens die hoofman – en op sy eie aandrang – met Jesus; van Jood tot Jood wil hulle Jesus oproep om op huisbesoek te gaan by hierdie hoofman, ook al is hy ‘n buitelander. Hy is hierdie buitengewone behandeling werd, aangesien hy ons volk liefhet en selfs persoonlik die sinagoge vir ons gebou het (vers 5) – hierdie laaste beteken waarskynlik dat hy die bou van die sinagoge gedeeltelik of volledig bekostig het. Deur vervolgens met die ouderlinge saam te gaan, erken ook Jesus dat liefde vir die volk Israel ‘n verdienstelike saak is, wat erkenning verdien deur middel van ‘n huisbesoek.

 

Dit is eintlik baie opvallend dat die hoofman oor honderd nie self na Jesus toe gegaan het nie. Immers, hy was as offisier in die leër van Herodes Antipas deel van die besettende mag; hy was in beheer. Dit is nie asof hy geen toegang tot Jesus gehad het nie. As hy wou kon hy eenvoudig brute mag gebruik het om by Jesus uit te kom. Maar hy stuur ander… Hoekom? Wel, gemeente, hieruit kan ons aflei dat hierdie hoofman, hierdie man van redelike aansien en posisie, homself nie waardig geag het om voor Jesus te verskyn nie. Hierdie vermoede word versterk wanneer ons in Mattheus se weergawe lees dat hierdie man Jesus aanspreek as ‘Here’ – daarin betoon hy sy eerbied vir die Here Jesus.

Terug na Lukas se weergawe word ons vermoede, dat die hoofman sy eie onwaardigheid besef het, bevestig wanneer daar – oppad na die hoofman se huis – iets merkwaardigs gebeur. Die hoofman het skynbaar intussen verneem dat Jesus oppad is na hom toe. Onmiddellik stuur hy ‘n aantal vriende na Jesus om te sê dat dit nie nodig is dat Hy kom nie. Hy ag homself nie waardig om Jesus te ontvang nie; hy het dit dan nie eens gewaag om persoonlik na Jesus te gaan met sy versoek nie, hoe sou hy Jesus dan in sy huis kon ontvang. Hy is immers ‘n buitestaander, ‘n heiden. Uit die hoofman se hele optrede blyk dus dat hy in homself geen enkele rede sien waarom Jesus hom moes kom besoek nie. Dit is asof hy Jesus opsoek vir hulp, maar Hom tegelykertyd angsvallig van homself en sy huis af weghou. Desperaat vir hulp, en tog pynlik bewus van sy kleinheid.

 

Gemeente, in hierdie optrede van die hoofman vind ons een van die belangrikste basishoudings van die geloof – ‘n besef van ons eie onwaardigheid, ‘n diepe erkenning dat ons Jesus nie in ons lewens verdien nie: “Ook al wil ek Hom hoe graag daar hê, Hy hoort nogtans nie in my lewe nie.” Dít is die houding wat ons by hierdie hoofman raaksien. En dit is vir ons dikwels moeilik om dít te aanvaar, ons worstel daarmee, dit is vir ons soms onverteerbaar, maar dit is wel die realiteit: die geloof loop altyd bakhand. Die geloof is ‘n bedelaar wat werklik niks het om te bied nie – terloops, daarom is geloof ook so moeilik vir ryk mense, soos wat baie van ons is, want die ryke weet nie wat dit is om te bedel nie. Maar die gelowige is ‘n bedelaar… Die geloof laat die gewete kliphard hierbinne skreeu dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig en nie een daarvan gehou het nie, en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is.

Broers en susters, dit is daarom ook nie verniet dat die Kategismus en ons doopsformulier, ons nagmaalsformulier en die formulier vir die aflegging van belydenis van geloof almal die driedeling van ‘ellende, verlossing en dankbaarheid’ gebruik nie. Die besef van ellende is ‘n hartseer, maar noodsaaklike, deel van die geloof. Só leer die Skrif dit vir ons. Moet daarom nie onder die indruk kom van gelowiges wat skynbaar hierdie aspek van die geloof al lankal agter hulle gelaat het nie, vir wie die kennis van hulle ellende iets van die verlede is nie, wat ook nie meer nodig het om oor hulle sondes na te dink nie. Nee, solank as wat ons lewe, bly die sondebesef ‘n deel van ons geloof: die besef van ons onwaardigheid om Jesus se guns te ontvang.

 

Gemeente, let daarom op die heidense hoofman in Israel… Hoekom die heidense hoofman – hy is dan ‘n heiden? Heiden of nie, van hom sê Jesus dat hy so ‘n gróót geloof in Israel nog nie teëgekom het nie. Let op die heidense hoofman met die groot geloof, wat kléín genoeg was om te besef dat die uitkoms nie hier, by homself, te vinde was nie. En wat dan tóg – al het hy sy eie onwaardigheid besef – na Jesus gaan vir hulp. Hoe anders… As die verlossing nie by die mens te vinde is nie, dan dryf dit ons buite onsself na Jesus Christus.

Ons let vervolgens daarop: die geloof rig die verwagting op Jesus.

 

2. Die hoofman se besef van onwaardigheid weerhou hom nie daarvan om tog Jesus op te soek, of eerder: te láát opsoek nie. Uit hierdie optrede van die hoofman blyk dat hy die genesing van sy uiters waardevolle kneg van Jesus verwag het; hierdie offisier rig sy verwagting op Jesus, iets wat tot dusver onder die volk ontbreek het. ‘n Heidense offisier verbreek die opmerklike stilte wat daar ná die bergrede rondom Jesus geheers het, deurdat hy sy verwagting op Jesus rig; hierdie man verwag dit sodanig van Jesus dat hy die taboe deurbreek en as heiden sy heil by die rabbi van Israel gaan soek. En ons moet goed onthou, gemeente, Jesus het nie in die eerste plek vir die heidene gekom nie. Nee, sy prioriteit tydens sy lewe op aarde was die verlore skape van Israel; dit was nie reg om op daardie stadium alreeds die brood, wat vir die kindertjies bedoel was, vir die honde te gooi nie. En tog besef hierdie heidense offisier dat hoop vir genesing van sy dienskneg slegs by hierdie Jood te vinde is… Hy het nêrens anders om heen te gaan as na Jesus nie.

 

Broers en susters, hier vind ons dan ook die volgende basishouding van die geloof wat ons by die heidense hoofman oor honderd herken en waaroor Jesus Hom ook verwonder: die geloof rig die verwagting op Jesus! Die geloof trek ons oë af van onsself of van enige iets anders waarvan ons in ons blindheid moontlik verlossing verwag, en laat ons slegs op Jesus Christus fokus. Dáár is ons uitkoms en verlossing! Gemeente, fokus daarom! Fokus op Jesus Christus. Ons is so dikwels soos ‘n ontroue eggenoot, wie se oë begin dwaal na ander manne of vroue; dit wat in ons eie huwelik ontbreek, verwag ons dan van daardie derde of selfs vierde party. Gemeente, bid daarvoor dat die Gees van Christus ons volle aandag op Christus rig, bid daarvoor dat die Gees ons in die gemeenskap met Christus laat lewe – Hy in ons en ons in Hom. Dít is wat die geloof doen – dit verbind ons met Christus en laat ons in al sy skatte en gawes deel. Dáárdeur – op dié manier – is jy voor God geregverdig en ‘n erfgenaam van die ewige lewe!

 

Let egter op, gemeente, dat daarmee die geloof nog geen verdienstelike karakter kry nie, ons gelóóf verdien nie vir ons die verlossing en die herstel van die verhouding met God nie. So dikwels in die geskiedenis van die kerk het hierdie gedagte sy kop uitgesteek; dink maar aan die Remonstrante in die tyd van die Dordtse sinode. O ja, die Remonstrante wou ook die regverdiging deur die geloof vashou; maar vir hulle was die regverdiging en die vergewing van sondes afhanklik van die geloof; eers geloof en dan, as gevolg daarvan, regverdiging! En as die gereformeerdes hulle dan daarop gewys het dat die geloof ‘n genadegeskenk van God is, dan het die Remonstrante dit heelhartig erken; hulle het nie moeite gehad met die gedagte dat ons deur God se genade die geloof ontvang nie, maar uiteindelik was hierdie deur-God-gewerkte geloof vir hulle tog wel die grond vir die regverdiging van die mens.

 

En, gemeente, dit is so ‘n subtiele gedagteskuif, so ‘n fyn lyn wat ons hier moet raaksien. Die geloof rig hom op Jesus Christus, en by Hóm vind ons die volle saligheid; en nie: die geloof rig hom op Jesus Christus, en op grond van die geloof word ons dan verlos nie. Nee, sodra hierdie subtiele skuif in ons gedagtes en lewens opkom dan rig ons nie meer ons verwagting volledig op Jesus Christus nie, hoe mooi ons ook al oor Hom praat. Dan rig ons in werklikheid ons verwagting terug op onsself, op ons geloof! Maar dan is dit ook nie meer geloof nie; nee, dan het dit verdienste geword. Ware geloof soek geen verdienste nie, maar rig hom inteendeel op sy groot Verdienste, Jesus Christus! En dit is wat die Kategismus in antwoord 61 sê: “Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is. En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie.”

Ware geloof is ‘n gawe van God wat my in staat stel om Jesus Christus te omhels en sy verdienste myne te maak! Ware geloof is om, soos die hoofman oor honderd, teen alle waarskynlikheid in jou tog te rig op waar jy weet daar werklik verlossing is. Ware geloof is die bedelaar met bakhande, wat sê: “Here, ek het niks om te bied nie, ek kom slegs om u genade te ontvang.” Kom ons wees dit, broers en susters, in elke aspek van ons lewe. Kom ons wees bedelaars voor ‘n ryk God. En dan mag jy verseker wees: Hy sal ryk wees in sy genade oor my!

Ons let ten slotte daarop dat die geloof die krag van Jesus se woord ken.

 

3. Soos ons hierbo reeds gesien het, het die hoofman deur middel van ‘n tweede afvaardiging die boodskap oorgedra dat Jesus nie nog verder moes kom nie; die hoofman kan Jesus nie in sy huis ontvang nie. Immers, hy is dit nie werd dat Jesus onder sy dak inkom nie. Volgens hom kan Jesus dit maar met ‘n woord spreek (vers 7). Let op, hy sê nie dat Jesus maar ‘n woord kan spreek nie – dit sou die indruk wek dat die hoofman gedink het dat Jesus oor ‘n afstand een of ander genesende magspreuk sou kon uitspreek; spreek maar net een van u magiese spreuke en my kneg sal genees. Nee, daar staan dat Jesus slegs met ‘n woord hoef te spreek – dit gaan hier oor ‘n woord wat Jesus tot die hoofman moet spreek; laat Jesus maar net met ‘n woord vir hom sê wat moet gebeur, laat Hy maar mondeling die instruksies oordra. Jesus hoef nie self te kom nie, Hy hoef nie self die genesing te kom uitvoer nie – dit pas nie by die hoogheid van die Here nie, en dit is ook nie nodig nie omdat die hoofman, as Jesus se kneg, die opdragte verder kan uitvoer. As Jesus maar net die opdrag gee; as Jesus maar net kan sê wat hy moet die doen…

 

In vers 8 gee die hoofman die rede vir wat hy sopas gesê het: “Want ek is ook ‘n man wat aan gesag onderworpe is…” Wat sou die hoofman hiermee bedoel? Bedoel hy dat hy self onderworpe is aan die gesag van Herodes Antipas? Nee, dit sou nie werklik sin maak nie. Hy noem homself immers nie ‘hoofman’ nie, maar letterlik ‘mens’ – as méns is hy onderworpe aan góddelike gesag. Die hoofman bedoel hier dus dat hy homself as mens onderworpe ag aan Jesus se gesag. Hy het ook net hiervoor gesê dat Jesus nie in sy huis moes kom nie, want hy is dit nie werd nie, hy is Jesus se kneg. En aan knegte gee ‘n mens mos slegs bevele…?

En die hoofman weet waarvan hy praat; want hy sê in die res van vers 8: “… ek het soldate onder my; en vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ‘n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit.” Dit is baie duidelik hoe hierdie hoofman sy soldate laat aantree en wegstuur, en hoe hy sy slawe aan die werk sit. Hy weet hoe dit werk… Nou, presies op dieselfde manier mag en kan Jesus as Heer teenoor hom optree. As Heer kan Hy volstaan deur mondeling opdragte te gee oor wat die hoofman moes doen vir die herstel van sy kneg. Terwyl die leiers van die joodse volk dink dat ‘n huisbesoek deur Jesus aan die hoofman gepas sou wees, dink die hoofman self anders daaroor. Terwyl die leiers van die volk meen dat die hoofman ‘n huisbesoek verdien vanweë sy liefde vir die joodse volk nie, pleit hy self eenvoudig op onderdanigheid aan Jesus in die wete dat sy woord krag het.

Gemeente, hierdie hoofman het eerstehands die krag geken van die woord van ‘n meester teenoor sy dienskneg. Hy het eerstehands geweet dat wanneer hy spreek, sy diensknegte dit ook uitvoer; sy woord het dus effek. Daardie selfde erkenning gee hy aan Jesus noudat die rolle omgedraai is. Nou is hy die dienskneg, en hy weet dat wanneer sy goddelike Heer en Meester spreek, dit ook sál gebeur soos wat Hy gespreek het. As hoofman oor honderd het hy die krag van sy woord by sy onderdane geken; net so het hy as mens die krag van die woord van sy goddelike opdraggewer erken en bely.

 

Gemeente, die geloof onderwerp hom dus aan die woord van God in die seker wete dat wat God sê, waar is, goed is; dat dit die moeite werd is om daardie woord uit te voer, en dat wat God spreek ook sál gebeur. Meer nog, die geloof word ook gevoed vanuit daardie woord. Die geloof, as besef van eie onwaardigheid en as volledige oorgawe aan Jesus Christus, word gevoed en gelei deur te luister na die sprekende God – net soos wat die hoofman geluister het na die sprekende Jesus.

Ons geloof rig hom dus op die Woord van God, soos dit ook kortliks saamgevat is in die Apostoliese Geloofsbelydenis en ons ander belydenisgeskrifte. Dááraan onderwerp ons onsself, daaraan is ons gehoorsaam. Want ons weet dat daardie Woord in alles goed is, dat God se spreke deur die werking van sy Gees ook werklik effek het in die lewe van God se kinders. En dit kon die hoofman ook ervaar. Hy het nie ‘n magspreuk verwag nie, Hy het eenvoudig gehoop dat Jesus ‘n woord tot hom sou spreek. Maar dan kry hy ‘n magspreuk, ‘n uitspraak van Jesus Christus, waardeur die siek kneg in ‘n oomblik genees is: “En toe die wat gestuur was, teruggaan na die huis, vind hulle die siek dienskneg gesond.” Toe die hoofman hom aan Jesus onderwerp het, het Jesus sy dienskneg oombliklik en oor ‘n afstand genees.

 

Dus, wat baat dit jou dat jy dit alles glo? Watter sin het dit om te glo? Wel, gemeente, geloof laat my die reddende krag van God in my lewe ervaar. Dít wat ek nie verdien nie, dít waarvoor ek volledig onwaardig is, word werklikheid wanneer ek my in geloof op Jesus rig. Geloof in Jesus Christus is werklik die moeite werd – daar kom genesing vir sondaars, daar kom nuwe lewe uit die dood, daar kom herstel van onderlinge verhoudings. Broer en suster, as jy daarom worstel met die geloof, as jy wonder óf en hoekom jy glo, as jy twyfel of die geloof enigsins wins boek – moet dan nie moedeloos word nie, keer elke keer weer terug na die sprekende God, na sy Woord, wat sê: So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê!

Wat baat dit my alles? Dat ek in Christus mag ek lewe, nou en tot in ewigheid.

Amen

Liturgie: 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Skr. 17:1, 5 en 6

Kort gebed

Nagmaalsviering

· Lees formulier

· Terwyl tafel in gereedheid: sing Ps. 130:2 en 3

· Aan tafel: voltooi formulier

· Sing Ps. 130:4

Lees: Lukas 7:1-10

Sing Skr. 22:1, 5, 8 en 10

Teks: HK, Sondag 23

Preek

Amenlied Ps. 119:12, 23 en 51

Gebed

Belydenis van geloof (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 56:1, 3 en 4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen