Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten
Preek – HK, Sondag 10
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Die sokkergeesdriftiges onder ons weet waarskynlik waaroor dit gaan wanneer ek praat van die doelpunt wat algemeen bekend staan as “die hand van God’. Dit was ‘n doelpunt wat die Argentynse sokkerster, Diego Maradonna, in die 1986-wêreldbeker kompetisie aangeteken het deur die bal met sy hand in die doel te slaan. In die onderhoud ná die wedstryd het hy gesê dat dit die hand van God was wat die doel aangeteken het. Van toe af het hierdie omstrede doelpunt die geskiedenis ingegaan onder die naam “die hand van God”.
Maradonna het hier, waarskynlik sonder dat hy dit self besef het, die waarheid gepraat deur op ‘n verwronge manier toe te gee dat God se hand in hierdie aksie aanwesig was, ‘n aksie wat vir ondersteuners en teenstanders op daardie oomblik van lewensbelang was, maar wat in die perspektief van die ewigheid totaal onbenullig is. Maar tog, gemeente, sy erkenning was meer as wat baie mense vandag bereid is om te doen. Ons hoor in ons tyd nog maar min hiervan, ons hoor bittermin van “die almagtige en alomteenwoordige krag van God, waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof deur sy hand nog onderhou en so regeer…” – soos die Kategismus dit pragtig stel in antwoord 27.
Inteendeel, dikwels praat mense, wat verder niks met God of sy wet te make wil hê nie, eerder van die Voorsienigheid – met ‘n hoofletter. En daarmee bedoel hulle dan nie God nie, maar daarmee dui hulle op ‘n hoër mag. ‘n Hoër mag wat net so goed Boeddha of Allah of die Noodlot kan wees; ‘n hoër mag waaraan elke mens onderworpe is, waarteen jy jou nie kan verset nie, en wat jy – as dit enigsins moontlik is – maar aan jou kant moet hou. Dié Voorsienigheid word dan ‘n afstandelike en koue mag wat op ‘n wispelturige wyse jou lot bepaal… niks wat jy daaraan kan doen nie.
Maar gemeente, die Kategismus praat nie van ‘n hoër mag nie, nie van ‘n wispelturige lot waaraan jy oorgelewer is nie. Nee, die Kategismus praat van “die hand van God”, tot driemaal toe in v/a 27 en 28: “… waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer…”, “… dat alles ons nie per toeval nie maar uit sy vaderhand toekom”, “aangesien alle skepsels so in sy hand is…” Die hand van God – dit is die beeld wat die Kategismus gebruik om uitdrukking te gee aan God se voorsienigheid.
Tema: die hand van God!
1. Die hand van God en ons afhanklikheid van Hom
2. Die hand van God en ons verbondenheid met Hom
1. In Handelinge 17 tref ons Paulus alleen in Athene aan, nadat hy geforseer is om uit Thessalonika en Berea te vlug. Hy stuur dié mense wat hom daarheen begelei het, terug met die boodskap dat Silas en Timotheus hom so spoedig moontlik daar in Athene moes ontmoet. Dit was egter nie in die aard van Paulus om intussen stil te sit en niks te doen nie. Gevolglik vaar hy die stad Athene binne…
Nou gemeente, Athene was die sentrum van die Griekse kultuur en filosofie. In sy bloeityd, enkele eeue voor Christus, was dit die mees bekende stad in die wêreld. Socrates, sy bekende student Plato, en Plato se student, Aristoteles, het almal daar onderrig gegee. So ook Epicurus, stigter van die Epikurisme, en Zeno, stigter van die Stoïsisme – die twee filosofiese strominge wat ons in Handelinge 17 teëkom. En hoewel Korinthe intussen die plek van Athene ingeneem het as die belangrikste politieke en kommersiële sentrum van Griekeland, het Athene nog niks van sy kulturele belangrikheid verloor nie. Dit was steeds die filosofiese sentrum, en tewens die tuiste van die wêreld se mees bekende universiteit. Athene was dus ‘n ware kennis-sentrum!
En, gemeente, die Grieke daar in Athene het dit geweet; hulle was baie trots op hulle kennis, hulle het al die antwoorde gehad. Polities, kultureel, filosofies én ook godsdienstig het hulle al die antwoorde agtermekaar gehad. Hulle het hulself verhewe gevoel bo die gewone mense in die res van die wêreld, húlle het immers die wysheid in pag gehad, ook op godsdienstige gebied. Vir alles het hulle ‘n god gehad: ‘n god vir die vee, ‘n god vir die appels en die pere, vir die vroue en die kinders, vir voorspoed en teëspoed, vir die oes en die misoes… Elke publieke gebou was aan ‘n god gewy, en Hermes, die god van die paaie, die poorte en die markplein, se kop het oral gepryk; beelde van gode het die hele stad gevul. Vir alles is daar voorsiening gemaak. Pragtig ingedeel, ‘n volmaakte sisteem! Amper…
Want ja, selfs die Grieke moes toegee dat hulle maar mense was, hulle kón hulself êrens misgis het. Hulle het alles probeer dek; daar was, volgens hulle, niks waarvoor hulle nie ‘n god gehad het nie, maar net vir in geval hulle iets gemis het, het hulle ook nog ‘n risiko-faktor in hierdie goed uitgewerkte godewêreld ingebou – ‘n altaar vir ‘n onbekende god! Daarop was hulle minder trots, want dit was die bewys dat hulle nie alles geweet het nie, dit was die swak skakel in hulle sisteem. Verkieslik het hulle die simpel ding nie gebou nie, maar ja, eerlikheid het hulle gebied om dit wel te doen.
En gemeente, juis op hierdie seer plek in die trotse godsdienstige mondering van die Atheners druk Paulus nou die vinger. Die Atheners het gemeen dat hulle alles gedek het, vir alles het hulle ‘n god gehad, en vir daardie onvoorsiene oomblikke… ja, hooplik sou die onbekende god daardie gat toemaak. En híér lê Paulus die vinger om vir hulle te wys dat daardeur hulle hele sisteem in duie stort, dáár is die gat in hulle hele sisteem. Kyk, sê Paulus, daar bestaan nie so iets soos ‘n volmaakte godsdienstige sisteem nie, gooi hierdie gode-sirkus weg, dit deug nie! Paulus lê die vinger by hierdie uitvindsel van die teoloë van Athene wat moes diens doen as susmiddel vir die harte van die mense wat onrustig gewonder het: “Het ons alles gedek?”, hierdie uitvindsel moes as bedekking dien van die skaamte van hierdie kennis-sentrum, wat moes erken: “Ons weet nie alles nie”.
En dan, broers en susters, verkondig Paulus aan die Atheners “die God wat die wêreld gemaak het, en alles wat daarin is; Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie…” En dit is nou presies wat die Atheners gedoen het – hulle het ‘n godsdiens van onder-af geskep, ‘n godsdiens wat perfek in ‘n sisteem gepas het, vir elke aspek ‘n aparte god met sy eie tempel, sy eie rituele, sy eie feesdae; elke god kon jy manupileer deur die regte diens van mensehande, elke god kon jy gelukkig hou deur te gee waaraan hy (of sy) behoefte gehad het, aan elke god kon jy ‘n plek gee deur hom tot sy eie tempel te beperk. Dit is die kamtige wysheid van die Grieke… Dit is die filosofie van die Atheners…
Maar dan wys Paulus op die egte God, wat van bo-af kom! Die Atheners het gedink dat hulle vir elke ding ‘n god gehad het, maar dan wys Paulus hulle op die God van elke ding! By die Atheners het die dinge die gode bepaal, Paulus wys hulle op die God wat die dinge bepaal! Die God waarin daar geen swak skakel is nie, die God waarvoor daar geen “back-up” plan nodig is nie, die God waarin daar geen risiko-faktor ingebou hoef te word nie.
Hierdie God het nie nodig om te wag totdat ons in sy behoeftes voorsien nie, Hy is nie afhanklik van ons diens nie. Lees maar Job 22:2-3: “Kan ‘n man aan God ‘n diens bewys? Het die Almagtige daar belang by dat jy regverdig is? Of is dit voordeel vir Hom dat jy onberispelik lewe?” Nee, sê die Here, Ek het jou nie nodig nie! Kyk na Psalm 50: “Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende… As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid.” Gemeente, God het niks van ons nodig nie, Hy het nie nodig om gelukkig gehou te word met ons offers nie, Hy het nie nodig om gepaai te word nie, Hy het nie nodig dat ons vir Hom ‘n tempel bou nie.
God is immers sélf die Bron van alles! Hy is sélf die Een wat aan almal lewe en asem en alles gee! Lees maar Psalm 104:27-29: “Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd. U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie. U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof.” Hoe sien ons dit nie elke week weer nie: die Here gee nuwe asem aan ‘n klein babatjie, maar dan is daar ook ander van wie hy die laaste asem wegneem – julle het dit as gemeente sopas nog ervaar.
Gemeente, ons en elke lewende wese bestaan slegs by die genade van God! Slegs in Hóm lewe ons, beweeg ons en is ons – ook op hierdie oomblik! Hierdie aarde, elke nasie, elke mens, is totaal van Hóm afhanklik – of ons dit nou erken of nie. So is dit! Ons is in sy hand.
Hoe dikwels sien ons nie dat hierdie realiteit weerstand oproep nie… Mense wil hulle eie lot bepaal. Dit is wat die Atheners gedoen het – hulle het hul eie lot bepaal met ‘n god vir elke denkbare situasie. So het hulle altans gedink… Wel gemeente, die Athener sit in elkeen van ons – nie met goue of silwer beeldjies nie, nie met altare van klip nie, maar wel met ons pensioene en beleggings, met ons toekomsplanne en voorsieninge. Ons het so dikwels ons eie voorsieninge vir lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede… Ons is Atheners deur en deur! Ons skep ‘n sisteem waarin niks kan foutgaan nie! En wanneer iets foutgaan, dan wil ons weet waar God was; as ‘n tsunami duisende mense laat sterf, dan wil ons weet hoekom God dit nie gekeer het nie; as terroriste met vliegtuie in ‘n gebou vasvlieg, dan vra ons opstandig hoe God dit kon toelaat… Dan skielik wil die kleipot by die pottebakker weet hoekom hy hom so gemaak het! Dan skielik moet God verantwoording aflê, terwyl ons Hom nooit erken het as die Een wat alles in sy hand hou nie. Dan skielik moet die onbekende God, die God wat vir ons onbekend geword het deur ongeloof en afval, regstaan…
Gemeente, leer om ootmoedig te buig voor die God wat alles bepaal; leer om te erken dat jy ‘n skepsel is wat so in die hand van die Skepper is dat jy sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie. Kry die verhouding reg, leer dit vanuit die Skrif: nietige, beperkte mens – almagtige, alomteenwoordige God! Dit is ‘n insig waaraan die gelowige, u en ek, elke keer weer herinner moet word, dit is ‘n insig waaraan die Here ons soms op hardhandige wyse herinner, wanneer Hy dinge in ons lewens laat gebeur wat ons nie voorsien het nie, wat ons nie verwag het nie, dinge wat ons klein maak voor Hom. Buig daarom voor Hom, erken Hom as die Skepper wat nooit die werke van sy hande laat vaar nie, wat tot vandag nog alles in sy hand hou. Hy laat die leisels van hierdie wêreld nie los nie…
Ons let vervolgens op die hand van God en ons verbondenheid met Hom.
2. Dit is belangrik dat ons nie sleg by ons afhanklikheid van God bly nie, want dan is die gevaar groot dat ons God begin sien soos baie ander gode: veraf en willekeurige diktators wat ons lewensloop bepaal sonder dat ons iets daaraan kan doen. Maar gemeente, God se voorsienigheid het nie die doel om ons te dwing om maar gedweë te erken dat ons nie ons eie lewensloop kan bepaal nie; God se voorsienigheid wil nie aan ons ‘n houding gee van: “nou ja, wat moet kom, moet kom” nie. Nee, God se voorsienigheid wil ons juis na Hóm toe dryf, God se hand in alles wil ons juis in daardie Vaderhand inbring!
En dit is presies wat Paulus ook vir die Atheners sê. Kyk vers 26: God het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, Hy het vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel. God bepaal dus alles, ook in die volkere wêreld. Maar hoekom? Kyk na vers 27: “sodat hulle die Here kon soek…” Sien u, God se skepping, onderhouding en regering van hierdie wêreld het tot doel dat mense na Hom sal soek, dat mense na Hom sal vra! In sy onderhouding en regering van die wêreld het God Homself bekendgemaak, sodat mense aangemoedig sal word om Hom te soek, of hulle Hom miskien kan aanraak en vind (17:27). In die effek van sy onderhouding en regering word mense gedwing om terug te vra na die eerste oorsaak – God, sodat hulle by Hom kan gaan skuil!
En gemeente, dit is nie asof Hy onvindbaar is nie, dis nie asof ons ‘n geweldige soektog op tou moet sit om God te vind nie. Nee, God is nie ver van elkeen van ons nie, want Hy het óns opgesoek! Hy het kom wys wie Hy is, Hy wys dit nog elke dag; Hy het – soos Paulus sê in Handelinge 14:17 – “Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.” In die reën wat val, in die kos wat ons eet, in die vrolikheid wat ons beleef, kan ons God se nabyheid sien en beleef!
Broers en susters, besef daarom: God is nie maar besig om van veraf te onderhou en te regeer nie. Hy gee nie maar van veraf reën en kos en vrolikheid nie. Hy is nie soos kersvader wat in die nag sy pakkies in ons skoorstene kom afgooi nie. Nee, in al die dinge wat Hy gee, of dit nou teëspoed of voorspoed bring, kom Hy sélf na ons toe, in alles wat Hy gee, wil Hy hê ons moet Hóm raaksien, wil Hy hê dat ons die hand wat dit alles gee, sal aangryp. Dít is waartoe God se voorsienigheid in hierdie wêreld ons wil bring – om onsself volledig aan daardie Vaderhand toe te vertrou! Hoekom? Omdat dáár altyd kos en klere en oorvloed is? Omdat dit dáár met die gelowige altyd goed gaan? Nee, maar omdat ons in God se handpalm die polsslag van sy liefde vir ons ontdek: Jesus Christus!
Gemeente, Hy is die Man – waarvan Paulus in Handelinge 17:31 praat – wat deur God aangestel is om vir ons sondes te betaal, Hy is die Man wat deur God opgewek is uit die dood. In Hom word die verhouding tussen ons en God weer herstel, in Hom is ons lewens veilig, in Hom het ons uitsig op ‘n lewe in ewigheid. En daarom dat Paulus sy luisteraars in Athene ook kan oproep tot bekering, omkeer, terugkeer na die Vaderhand. In daardie Vaderhand leer ek die Seun ken wat vir my sondes gesterf het en uit die dood opgestaan het, in daardie Vaderhand word ek self ‘n kind van God; slegs in daardie hand kom daar herstel van die verhouding tussen God en mens, daar kom die kind tuis in die Vaderhuis. Dít is die verhouding wat die Here in ons doop aan ons beseël het – jy is myne, in My Vaderhand is jy veilig! In God se hand is dit goed, Hy laat ons nie val nie!
En dit is slegs dán dat ons leer om alles uit God se hand te aanvaar; dit is slegs wanneer daardie verhouding met God deur Jesus Christus vir ons die hoogste goed is, dat ons leer om in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar te wees. Want dan word ons lewens nie meer beheers deur die omstandighede nie, dan hoef ek nie meer vir elke omstandigheid ‘n plan en ‘n voorsiening te hê nie, dan hoef ek nie meer bang te wees vir die toekoms of die dood nie, want dan is ek veilig by my Vader, dan weet ek dat niks my van sy liefde sal skei nie. Watter liefde? Die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is! Hy haal die Athener uit my uit – die Athener wat vir alles ‘n antwoord het, wat vir elke omstandigheid ‘n plan het – en Hy gee my ‘n vaste vertroue in my getroue God en Vader.
Maklik? Nee, gemeente. Nie maklik nie, inteendeel, dikwels bitter moeilik. Ons weet almal hoe teëspoed en voorspoed mekaar afwissel in die lewe van God se kinders; ons weet almal hoe dit voel om die een oomblik op die hoogste berge te huppel, en die volgende oomblik in die diepste dale te moet struikel. U weet hoeveel trane u al gehuil het oor dit wat God in u lewe gebring het, jy weet hoe seer jou hart is oor dinge wat gebeur het. Die dood van geliefdes, ‘n gebroke verhouding, finansiële moeite, ‘n siekte wat jou lewe amper ondraaglik maak. Maar dan weet jy ook van die voorspoed, die mooi dinge, die oorvloed. Rykdom, gesondheid, ‘n lewensmaat, ‘n splinternuwe verbondskind…
Broers en susters, die lewe van God se kinders is geen gelykpad nie; die bekende gesang sing nie verniet van berge en dale nie. Op en af, op en af… Maar een ding is seker, van een ding sal niemand my beroof nie: oral is my God! Oral is die God wat deur sy Seun lief is vir my, oral is die God wat my in sy Vaderhand vashou, oral is die God wat weet wat goed is om my behoue by die eindpunt te bring.
Gemeente, laat ons mekaar op daardie Vaderhand wys! Ons help mekaar nie verder deur negatief te praat oor ons land en ons omstandighede nie, ons doen mekaar geen guns deur voortdurend ‘n donker prentjie van die gemeente en die kerk hier in Suid-Afrika te skets nie, dit is nie reg om die omstandighede die bepaler te maak van hoe ons praat en dink oor die toekoms nie. Want dan haal ons die Athener weer terug in ons harte, dan begin ons opnuut planne maak en voorsiening tref. Gemeente, laat die voorsienigheid van God – nee, ons kan dit beter stel – laat die voorsienigheid van ons Vader, deur Jesus Christus, ‘n werklikheid wees vir elke dag. Geen hoër mag nie, geen Noodlot nie, maar die hand van Vader in alles.
Amen
Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 132:5, 10 en 11
Wetslesing
Sing Ps. 88:2, 7 en 10
Gebed
Doopsbediening (Eugene Brown)
Dankgebed en sing staande Ps. 105:5
Lees: Handelinge 17:15-34
Kollekte
Sing Ps. 50:5-7
Teks: HK, Sondag 10
Preek
Amenlied Ps. 34:1, 4, 5 en 8
Gebed
Slotsang Ps. 73:10-12
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 100
Gebed
Lees: Handelinge 17:15-34
Sing Ps. 73:10 en 11
Teks: HK, Sondag 10
Preek
Amenlied Ps. 42:1 en 3
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 42:5 en 7
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.
(kyk in preek)