NGB Art 3

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-03-06
Teks: 
NGB 3
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 3

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Het jy ook al mense teëgekom wat met volle oortuiging vir jou gesê het: “Die Here het sopas met my gepraat.” In alle erns sal hulle ook nog vir jou vertel wát die Here vir hulle gesê het. Miskien sal hulle met jou deel hoe God gespreek het – dalk in ‘n droom of ‘n visioen, of dalk het Hy met hulle gepraat terwyl hulle in hulle motor oppad werk toe was. Hierdie mense sal gevolglik ook vuur en vlam wees oor die eerste deel van artikel 3 van die Nederlandse Geloofsbelydenis – wanneer hulle hoor dat God tot sy volk gespreek het deur sy knegte (die profete en die apostels), dan is hulle daarvan oortuig dat God vandag nog op presies dieselfde manier werk. Hulle het geen twyfel daaroor nie! Immers, hulle het ‘n baie intieme verhouding met die Here, hulle is op goeie voet met mekaar. En dis mos wat ‘n mens doen met die mense naaste aan jou – jy praat met hulle!

Dit lyk met die eerste oogopslag asof hulle ‘n punt beet het. God het toe direk met dáárdie mense gepraat – hoekom nie nou nie? Maar, gemeente, voordat ons vir hierdie baie gewilde denkwyse swig, kom ons kyk vanmiddag met mekaar na God se kommunikasie deur die eeue. Eers sal ons sien presies hoe God in die verlede met sy volk gepraat het. Daarna sal ons sien dat die Gees God se woorde vir die nageslag laat opteken het. En dan sal ons ten slotte sien dat God vandag deur middel van hierdie geskrewe Woord tot ons spreek.  

Kom ons kyk dus eers hoe en met wie God in die verlede gespreek het.

 

1. Gemeente, ons God is ‘n sprekende God. Dankie tog, daarvoor! As mense sukkel ons maar om met mekaar te kommunikeer, nie waar nie? Ons weet nie altyd wat ons moet sê nie, ons druk onsself nie altyd reg uit nie, ons spreke tot mekaar is soms maar skeef en krom. Maar die wonder van kommunikasie kom by die Here op volmaakte wyse tot uiting. Hy praat werklik met sy volk! Maar, let wel, ons artikel wys vir ons dat die manier waarop God kommunikeer met verloop van tyd verander het. Dát God kommunikeer, bly altyd dieselfde – prys Hom daarvoor! Maar hoe Hy dit doen, het wel verander. As ons die bybel oopmaak, dan sien ons naamlik dat God – veral in die Ou Testament, maar ook nog in die Nuwe Testament – op ‘n baie meer direkte manier met mense en deur mense gepraat het. Spesifieke persone het as’t ware eerstehands God se geïnspireerde woorde ontvang. En dit het op verskillende maniere gebeur. Ons het naamlik saam in Hebreërs 1:1 gelees: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete…” Baiekeer en op baie maniere – ja, daar was inderdaad nogal ‘n verskeidenheid van maniere waarop God sy Woord aan mense bekend gemaak het. Kom ons noem hulle gou…

 

Uiteraard was daar die direkte aanspraak. Dink maar aan Genesis 1:28: “… en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde…” Hier sien ons hoe God direk met die mens praat. Maar dan was daar ook die innerlike werking van die Gees in die mens – dink aan Bileam in Numeri 24: “Toe Bileam sy oë opslaan en Israel sien … het die Gees van God op hom gekom. En hy het sy spreuk aangehef en gesê…” – en dan kan Bileam ook nie anders as om die woorde van die Here te spreek nie; die Gees dwing hom daartoe. Vervolgens het God ook van visioene gebruik gemaak. Om die waarheid te sê, die grootste deel van die boek Openbaring is visioene wat aan die apostel Johannes gegee is. Verder was daar ook drome – hoe kan ons vergeet watter impak Jakob se droom in Genesis 28 op hom gehad het: die leer na die hemel, met al daardie duisende engele wat op en af geklim het. God het verder ook deur middel van wonders gekommunikeer – byvoorbeeld, Moses se wonders voor die Farao in Egipte was God se manier om met die Farao te kommunikeer, om aan die Farao sy woord bekend te maak. Daar was ook nog die lot – hoe die lot presies gewerk het, is nie vir ons duidelik nie, maar wat ons wel weet, is dat God op dié manier sy wil bekend gemaak het. En dan was daar, ten slotte, ook nog die Urim en die Tummim, ‘n kommunikasiemiddel wat vir ons vandag selfs nog meer onbekend is as die lot.

 

Nou, dit was die verskillende maniere wat die Here in die bybelse tyd gebruik het om sy woord aan sy volk bekend te maak. Let wel, al hierdie maniere wys vir ons dat dit nie die mens was wat God opgesoek het nie; nee, dit was God se openbaring aan mense. Hy het na die mens toe gekom! Hy het sekere mense gekies, wat Hy deur geboorte en opvoeding voorberei het, wat Hy geroep het, en aan wie Hy ‘n boodskap gegee het. Hulle was, in daardie fase van die geskiedenis, unieke woordvoerders van Gód se woorde. Soos Petrus sê: “geen profesie is ‘n saak van eie uitlegging nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:20-21). Deur die Heilige Gees gedrywe, deur die Heilige Gees geïnspireer, het hierdie mense God se woorde oorgedra.

Maar, broers en susters, nou leer ons belydenis ons dat hierdie direkte spreke van God tot mense en deur mense iets van die verlede is. Ek sê nie God se spreke is iets van die verlede nie, maar wel hierdie direkte manier van spreke tot en deur mense; vir hierdie rede haal artikel 3 dieselfde 2 Petrus 1:21 aan waarna ek sopas verwys het, waar ons lees: “deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” Dit verwys na die verlede, dit verwys na die bybelse tyd, dit verwys na iets wat nie meer gebeur nie. God se direkte spreke deur mense is dus nie ‘n voortgaande aktiwiteit nie. Nee, dit is hoe God in die bybelse tyd gekommunikeer het, maar daarin het verandering gekom. Daarmee sê ons nie dat God dit nie meer kán doen nie – Hy kan dit enige dag weer doen as Hy wil, en in uitsonderlike gevalle doen Hy dit miskien ook – maar as ‘n reël het Hy daarvoor gekies om op ‘n ander manier met ons te kommunikeer. En dit is ons volgende gedagte:

Die Here het hierdie woorde laat neerskryf.

 

2. Gemeente, ons moet besef: nie alle openbaring wat God ooit gespreek het, is in ons bybel opgeneem nie; daar is dinge waarvan God besluit het om dit nie in die bybel te laat neerskryf nie. So lees ons byvoorbeeld in 2 Kronieke 13:22: “En die verdere geskiedenis van Abia, sy weë en sy woorde, is beskrywe in die Uitleg van die profeet Iddo.” Nou, ons almal weet dat die ‘Uitleg van die profeet Iddo’ nie in ons bybel voorkom nie – ek het dit in elk geval nog nie daar gevind nie. Die Here het besluit: laat dit weg! Of soos Johannes vir ons vertel in hoofstuk 20 van sy evangelie: “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie…” En in hoofstuk 21 sê hy iets soortgelyks: “En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.”

En tog is daar nog geweldig baie wat wel in ons bybel opgeneem is. Hierdie is immers ‘n dik boek! ‘n Boek met ‘n wye verskeidenheid van inhoud, wat oor ‘n baie lang periode ontstaan het, en waarby baie mense en baie plekke betrokke is. Dit is nie soos die Koran, die boek van die Moslems, wat deur een persoon in ‘n relatief kort tydsperiode geskryf is nie. Nee, baie mense was betrokke – Moses, Josua, Dawid, Obadja, Markus, Paulus, Jakobus, om maar net ‘n paar te noem. Elkeen met sy eie gawes, sy eie styl, sy eie woordeskat, sy eie fokus. Ons kry historiese stowwe in die bybel, ons kry wysheidsliteratuur, ons kry briewe, ons kry profesie, ons kry selfs… ‘n egte liefdeslied. En dit het alles oor duisende jare plaasgevind. Vandat Moses die eerste vyf boeke opgeteken het, totdat Johannes sy Openbaring neergeskryf het, het daar ten minste ‘n 1500 jaar verloop.

 

En nogtans vertoon hierdie boek ‘n merkwaardige eenheid! Hoe meer ‘n mens met die bybel werk, hoe meer besef jy: ons het hier nie te make met ‘n klomp losstaande verhale en geskrifte nie. Nee, alles in die bybel het met alles te make. Die boek Openbaring is verbonde aan die boek Genesis, elke Nuwe Testamentiese boek haal aan uit die Ou Testament, elke Ou Testamentiese boek verwys na die Nuwe Testament. Soos ‘n legkaart pas alles inmekaar. Hoe is dit moontlik? Wie is die redakteur van hierdie werk? Wie het daarvoor gesorg dat alles so pragtig bymekaar aansluit? Wie het daarvoor gesorg dat Moses se vyf boeke ‘n slot kry wat nie deur Moses self geskryf kon gewees het nie, omdat hy toe al dood was? Wie het daarvoor gesorg dat die Psalms so gerangskik is dat daar ‘n duidelike patroon sigbaar word: van stryd tot heerlikheid? Wie het besluit om die boek Hooglied in die bybel op te neem, sodat ek en jy mag weet dat ons onsself nie hoef te skaam oor ons seksualiteit nie? Wie het daarvoor gesorg dat ons vier evangelies het, en nie baie meer nie? Immers, in die laaste jare is verskeie evangelies ontdek wat nie in ons bybel opgeneem is nie… Wie het dit alles gerangskik?

Broers en susters, God het daarvoor gesorg! In alles blyk dat ons hier met God se heilige Woord te make het. Dit was voorwaar ‘n goddelike werk om hierdie boek so volmaak in mekaar te sit. Nadat God in die ou tyd baiekeer en op baie maniere tot die vaders gespreek het, het Hy daarna deur sy besondere sorg sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel – só leer atikel 3 vir ons. Ja, dit is die nuwe manier wat God gekies het om met sy volk te kommunikeer. Hy het besluit om sy mondelinge openbaring, wat oor duisende jare plaasgevind het, te laat neerskryf, en dít sou voortaan sy Woord aan sy volk wees. Daaraan moes die gelowiges hulleself voortaan gebonde weet. En om te wys hoe ernstig die Here hieroor is, het Hy hierdie opskrifstellingsproses persoonlik ingelui toe Hy die twee tafels van die wet met sy eie vinger neergeskryf het.

 

Maar hoekom praat die Here dan nie meer direk tot ons nie? Wat het gemaak dat God sy direkte openbaring op ‘n stadium afgesluit het? Wel, broers en susters, ons het vroeër al na die eerste deel van Hebreërs 1:1 gekyk. Maar vers 1 het ook nog ‘n onmisbare vervolg: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in die laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.” Hier het ons die rede vir die afsluiting van God se direkte, mondelinge woord – die Seun! Die Seun is immers self die lewende Woord wat vlees geword het. In Homself het Hy alles vervul waarvan die profete van ouds gespreek het. God se hele direkte spreke tot sy volk onder die ou verbond het gehunker en uitgesien na Jesus Christus. En toe Jesus Christus uiteindelik gekom het, het Hy in sy hoedanigheid as die vleesgeworde Woord die finale woord gespreek. In Christus kom God se openbaring tot ‘n afsluiting. En daarom kan ons belydenis ook sê dat God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid beveel het om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel. Dit gaan vir God oor ons saligheid, en toe Christus gekom het, het die saligheid vlees en bloed aangeneem. Hy is ons saligheid! Wat is daar dan nog meer om te openbaar? Gaan sit daarom gou, en skryf neer wat tot dusver geopenbaar het – nou het die saligheid gekom.

Is die gelowiges ná Christus dus armer omdat hulle nie meer direkte openbarings ontvang nie? Nee, gemeente, die gelowiges ná Christus het… Christus! Hoe kan hulle armer wees? Die gelowiges voor Christus moes nog doen met die skaduwee, met die verwagting van Christus se koms – daarom dat God so direk met hulle gespreek het. Maar die gelowiges na Christus hoef nie meer tevrede te wees met die skaduwee nie. Nee, Christus self het gekom! In Hom is God se openbaring afgesluit. Vanweë sy koms het God se openbaring sy hoogtepunt en finale punt bereik. Toe kon dit neergeskryf word… vir die nageslag.

En dit bring ons by ons laaste gedagte: hierdie geskrewe Woord spreek tot ons.

 

3. Broers en susters, hier het ons die antwoord aan daardie mense wat sê dat die Here vandag direk tot hulle spreek. Natuurlik, ons wil nie ontken dat God ons vandag nog lei nie, maar dit gebeur omdat die Gees die Wóórd in ons lewens toepas. Daar is vandag egter nie ‘n nuwe woord van God nie. Ons moet nie illuminasie (of: verligting) verwar met inspirasie nie. Die Gees verlig ons inderdaad om die Woord te verstaan en in ons lewens toe te pas, maar Hy inspireer nie meer met nuwe woorde nie. Daar word vandag nie meer nuwe profesieë uitgespreek nie. Daar is geen besondere gawes waardeur God steeds direk tot ons spreek nie. En dit is nie omdat God skielik stom geword het nie, nee, dit is omdat Christus gekom het! En volgens Paulus in Kolossense 1:19 het dit die Vader behaag dat in Christus die ganse volheid sou woon. Want, sê Paulus net daarna, in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is (Kol. 2:9 en 10). In Christus het ons alles wat ons nodig het! En die afgeslote, op-skrif-gestelde bybel vertel vir ons alles daarvan. Moenie meer wil hê nie – nie omdat ons met die minimum tevrede moet wees, maar omdat ons die maksimum ontvang het! Ons het niks meer nodig nie.  

Jesus maak dit baie duidelik in die gelykenis van die ryk man en die arm Lasarus in Lukas 16. ‘n Ryk man het ‘n bedelaar by sy hek gehad, genaamd Lasarus. Wat hulle aardse omstandighede betref kon daar geen groter kontras tussen dié twee gewees het nie. En toe hulle gesterf het, was die kontras net so groot, maar omgekeerd – die ryk man het in die hel beland, die arm Lasarus in die hemel. Die ryk man het gepleit vir versagting van sy omstandighede, maar dit kon helaas nie aan hom gegee word nie. Toe pleit hy vervolgens vir sy broers wat nog op aarde was. Hy het gevra of Lasarus kan teruggaan om hulle te waarsku. Maar dan sê Abraham vir die ryk man: “Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.”

 

Dus, gemeente, geen nuwe openbaring kan vandag iets aan die Woord van die Here toevoeg of verander nie. Alles is gesê en gedoen… deur Jesus Christus. Daar is meer as genoeg in die bybel om mense met die Woord van God te konfronteer. En daarom moet ons die bybel ook so sorgvuldig oppas. Dit bevat die woorde van die lewe! As jy nie daarna luister nie, sal jy sekerlik sterwe. Ek het êrens gelees dat daar op ‘n stadium ‘n aktrise was wat ‘n slag gevra is wat vir haar die mees kosbare voorwerp is. Haar reaksie was: “Ek het ‘n brief van my pa, die enigste brief wat ek as kind nie verloor het nie. As iemand dit ooit van my sou wegneem, sou dit my hart breek. Vir ander mense beteken dit niks nie, maar ek lees dit tienmaal op ‘n dag, en elke keer raak dit my op ‘n ander manier.” Broers en susters, die bybel is selfs nog meer kosbaar! Dit is die onbetaalbare liefdesbrief van die hemelse Vader aan sy kinders. Dit is hoe ons na die bybel behoort te kyk. Dit is nie maar net ‘n unieke, antieke boek met historiese en godsdienstige waarde nie. Nee, dit is ‘n persoonlike brief van jou hemelse Vader aan jou en alle gelowiges – die enigste een wat daar bestaan.

En daarom dat Petrus in sy tweede brief, in die gedeelte wat ons gelees het, ook soveel erns daarmee maak om sy lesers by herhaling te herinner aan die woord wat hy oorgelewer het: “Daarom sal ek ook nie nalaat om julle altyd hieraan te herinner nie… En ek beskou dit as reg om julle deur herinnering op te wek… En ek sal my beywer dat julle hierdie dinge in gedagtenis kan hou” (2 Pet. 1:12, 13, 15). Petrus ken eerstehands die gevaar van vergeetagtigheid. Was dit nie hyself wat saam met ‘n paar ander dissipels aan die slaap geraak het toe Jesus hulle opgeroep het om saam met Hom te waak nie? Was dit nie Petrus wat, nadat Jesus gesê het dat hy Hom sou verloën, ‘n paar dae later gesê het: “Ek ken hierdie man nie”? Petrus weet hoe vergeetagtig ons in ons geloofslewe dikwels is. En daarom herhaal hy en herinner hy. Predikante word vandag dikwels aangemoedig om iets nuuts te vertel, om nuwe dinge in hulle preke na vore te bring. Maar Petrus neem nie daaraan deel nie. Hy ken die krag van herinnering rm herhaling! Net soos wat ‘n atleet dikwels dieselfde oefeninge oor en oor moet doen, so moet die gelowige elke keer weer die Woord van die Here lees en bestudeer. Want dít is wat die Here aan ons gegee het!

 

Dit is letterlik so. Petrus sê dit baie duidelik in vers 19: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” Totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte – die môrester verwys na Jesus Christus (só sê Hy van Homself in Openbaring 22:16). Dus, totdat hierdie môrester opgaan, totdat Jesus Christus terugkom en sodoende die jongste dag aanbreek, moet jy en ek ag gee en vashou aan die profetiese woord, aan die bybel. Totdat Jesus Christus terugkom is dít God se spreke tot jou en my saligheid. Ja, dit is mos waaroor dit vir God gegaan het toe Hy sy woorde op skrif laat stel het: deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid!

Jou en my redding, jou en my sieleheil – dit is waaroor dit vir God gaan, en daarvoor gee Hy sy Woord. En ons het dit so nodig in die donker plek waarin ons onsself bevind. En ons moenie verwag dat die wêreld van duisternis waarbinne ons lewe binnekort ligter gaan word nie; daar gaan nie skielik ‘n lig aangeskakel word in ons wêreld van sonde nie. As jy jou weg in hierdie wêreld wil vind, dan moet ons die lig gebruik wat God vir ons gee, dan moet ons met die bybel besig wees. As God ons so ‘n ryk skat gegee het, hoe dom sou ons dan nie wees as ons die minimum tyd met daardie skat bestee nie? Ek hoor onlangs twee jongmense met mekaar praat oor persoonlike bybelstudie, en hoe die een vir die ander sê: “Ek het nie vaste tye vir bybelstudie nie; dikwels vergeet ek daarvan…” En voordat ons nou afkeurend met ons kop skud oor die jongmense van vandag… ons almal ken ons eie swakhede in dié verband. Ons gebrek aan erns, ons gebrekkige selfdissipline, die groef waarin ons beland. Maar die Here roep ons vandag opnuut op: deur sy sorg het ons vandag ‘n bybel. En daardie sorg van die Here het alles te make met jou saligheid. Lees daarom jou bybel, lees dit stukkend. Soek die verbande, trek die lyne, vind Jesus Christus in alles wat jy lees. Dít is jou lamp in hierdie donker wêreld, hierdie is jou padkaart, jou GPS, deur die lewe. Stel jou geloofskoordinate in op Jesus Christus, en laat hierdie kaart jou lei tot in sy arms. Luister na sy stem as Hy sê dat jy moet regs draai, moenie reguit aangaan as Hy sê dat jy moet links draai nie. En dan mag jy eendag ook sy stem hoor wanneer Hy vir jou sê: bestemming bereik. Dán eers kan jy jou bybel toemaak, want dan lewe jy persoonlik met die vleesgeworde Woord.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 18:11, 12, 14 en 15

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 108:1

Wetslesing + NT-bewerking

Sing Ps. 25:4-6

Gebed

Lees:    2 Petrus 1:10-21

            Hebreërs 1:1-2

Sing Skr. 22:5-8

Teks: NGB, artikel 3

Preek

Amenlied Ps. 119:38, 39, 51

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 89:3 en 6

Sing voor die seën: Ps. 125:7

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 124:3 en 4

Gebed

Lees:    2 Petrus 1:10-21

            Hebreërs 1:1-2

Sing Skr. 22:5-8

Teks: NGB, artikel 3

Preek

Amenlied Ps. 119:38, 39, 51

Gebed

Geloofsbelydenis (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 89:3 en 6

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)