Die Woord het gesag omdat dit die Woord van God is!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-03-20
Teks: 
NGB 5
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 5; lees 1 Thessalonicense 2:10-16, 1 Korinthiërs 2:6-16

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Watter soort boek is die Bybel? Hoe vergelyk dit met ander boeke? Op die internet kry ‘n mens ‘n lys met die mees verkoopte boeke in die geskiedenis. Op hierdie lys – en dit sal jou waarskynlik nie verbaas nie – is die Bybel die absolute nommer een. Meer as 2,5 miljard kopieë is alreeds daarvan verkoop. Op nommer twee staan die sogenaamde ‘rooi boekie’ met aanhalings uit geskrifte en toesprake van Mao tse Tung, voormalige leier van die Chinese Kommuniste Party. Dit is verpligte leesstof vir alle Chinese. Is dit dalk wat die Bybel vir jou is? Allerhande aanhalings om ‘n bepaalde ideologie deur te gee? Op nommer drie staan die Koran, die boek van die Moslems – hoe vergelyk die Bybel met die Koran? Op nommer vier staan ‘n Chinese woordeboek – is dít dalk wat die Bybel is, ‘n soort woordeboek vir die taal van God? Op nommer vyf en ses staan nóg boeke van die skrywer van die ‘rooi boekie’. Op nommer 7 staan ‘n historiese roman van Charles Dickens – is dít wat die Bybel is? ‘n Geskiedenisverhaal? Op nommer 8 in hierdie lys vind ons ‘n handboek vir verkenners (Boy Scouts) – is die Bybel dalk ‘n soort handboek vir die geloof? Op nommer nege staan ‘The Lord of the Rings’, ‘n fantasieverhaal – daar is baie mense wat só na die Bybel kyk: ‘n spannende verhaal, maar nogtans ‘n versinsel van mense. Op nommer 10 van die lys van mees verkoopte boeke staan die boek van die Mormone, weer ‘n ander godsdiens.

 

Broers en susters, waarin is die Bybel anders as die res van die boeke in die top 10? Hoe verskil dit van al hierdie ander topverkopers? Wel, daarna wil ons vandag en in die komende weke kyk vanuit artikel 5-7 van die NGB. Ons belydenis leer ons naamlik om die Bybel nie slegs te sien as die boek wat bo-aan die lys van topverkopers staan nie, maar om dit uit enige soort lys te verwyder en dit as unieke boek op sy eie te plaas. Die Bybel hoort nie in lyste nie. Die Bybel staan op sy eie. Want die Bybel is die Woord van God. So vanselfsprekend soos wat dit ook al mag klink, juis dít onderskei die Bybel van enige ander geskrif. Elke ander geskrif, hoe invloedryk en mooi, is mensewerk. Die Bybel, daarenteen, kom van God af. Kom ons let vandag in besonder op artikel 5.

Tema: Die Woord het gesag omdat dit die Woord van God is!

  1. Eksklusiewe aanvaarding
  2. Goddelike getuienis

 

1. Aanvaar jy die Bybel as die Woord van God? Erken jy werklik dat hierdie boek met alles daarin van God af kom, en dat dit Hy is wat daarin met ons praat? Daar is waarskynlik weinig onder ons wat op hierdie vraag ‘nee’ gaan antwoord. Kom ons bring dit daarom ‘n bietjie nader… Erken jy dat, wanneer die prediking op Sondae getrou volgens die Woord van die Here is, dat dit ook inderdaad die Woord van die Here is wat op daardie oomblik tot jou kom? Want die verkondiging van die Woord van die Here is die Woord van die Here! In teorie is daar weereens min onder ons wat dit gaan ontken. Maar ons moet dit nog nader bring, want erkenning en aanvaarding kan maklik ontaard in ‘n verstandelike aktiwiteit, en dit mag nie gebeur nie. Erkenning en aanvaarding beteken ook dat ons gehoorsaam luister na die Woord van die Here, dat ons onsself onderwerp wanneer die Here praat. Dat ons nie net hier uitstap en sê: “dit was ‘n mooi preek…” of “dit was nou nie die beste preek wat ek al ooit gehoor het nie”, maar dat ons ook toelaat dat Christus deur sy Gees ons hele geloof en geloofslewe deur daardie Woord bepaal. Aanvaar jy ook in dáárdie sin die gesag van die Woord van God? Want dít is waaroor dit in artikel 5 van die NGB gaan.

 

Volgens artikel 5 is die Woord van die Here in drie opsigte bepalend vir ons geloof…

In die eerste plek word ons geloof daarna gerig. Die rigting en die koers van my geloof word dus volledig vanuit die Skrif bepaal. Dink gou daaroor na: wanneer ek in ‘n totaal onbekende omgewing my pad wil vind, dan gebruik ek mos die padkaart. En as ek seker weet dat my padkaart betroubaar is, dan gaan ek nie skielik, wanneer die kaart sê dat ek regs moet draai, links draai nie. Dit sou mos dwaas en onverantwoordelik wees? Nou, die Bybel is my padkaart in ‘n donker wêreld. ‘n Wêreld vol met allerhande hoofroetes en afdraai-paadjies, ‘n wêreld waar die paaie van honderde godsdienste kruis en dwars deurmekaar loop. Hoe bly ek in hierdie omgewing op die regte pad van die geloof in die Drie-enige God? Die Bybel! Net die Bybel! Hierdie padkaart het homself immers al oor en oor bewys as betroubaar. Hierdie padkaart raak nie verouderd nie. Al die nuutste paaie en padverleggings, al die versperrings en spoedkameras is vooraf alreeds deur God hierin opgeteken. In jou geloofslewe sal jy nooit met ‘n nuwe pad in aanraking kom waarvan die Bybel jou niks vertel nie.

Moet daarom nie jou ore uitleen wanneer iemand vir jou sê dat daar ‘n nuwe padkaart op die mark is nie, dat daar ‘n nuwe godsdiens of opgedateerde christendom is nie – nee, toets alle nuwe padkaarte en alle nuwe roetes aan hierdie een padkaart. Moet ook nie luister wanneer die wêreld sê dat dit eintlik nie so belangrik is watter padkaart jy gebruik nie, dat dit onbelangrik is watter god jy dien en dat dit onbelangrik is hoe jy hom dien nie. Nee, luister eksklusief na die Bybel. Die Here se Woord bepaal die rigting van jou geloof.

 

Vervolgens: ons aanvaar hierdie boeke, nie net om ons geloof daarna te ríg nie, maar ook om ons geloof daarop te grondves. Dus, nie slegs die rigting nie, maar ook die vastigheid van ons geloof – die fondament! – word deur die Skrif bepaal. Die fondament van my geloof is nie dat ek dit kan uitredeneer of dat ek dit kan bewys nie. My geloof berus nie op menslike wysheid nie. Nee, die inhoud van die Skrif is die enigste fondament van my geloof. Ek glo wat ek glo, eenvoudig omdat die Here in sy Woord so sê. “Ja, maar hoe weet jy dit?”, vra iemand miskien. Wel, die Bybel leer dit my. “Ja, maar wie sê die Bybel is waar”, is die teenvraag dikwels. Wel… die Bybel sê so.

Klink dit dalk soos ‘n sirkel-redenasie? ‘n Redenasie wat elke keer terugkom by dieselfde punt? Ja, moontlik klink dit so, maar onthou, broers en susters: daar sit ook iets finaals in ‘n fondament. As ek ‘n muur bou, kan ek sê dat die boonste steen op die steen daaronder rus, en dat daardie steen weer op die een dáár onder rus, ensovoorts. Maar wanneer ek by die fondament kom, dan moet ek kan sê: die fondament is die fondament. Ek kan oor die geloof redeneer, ek kan daaroor diskussieer, ek kan die rasionaliteit van die geloof aantoon, maar uiteindelik moet ek wat betref my hele geloof en geloofsinhoud kan sê: Só sê die Here in sy Woord; dit is my fondament! En dit is nie iets om oor skaam te wees nie; ook die ongelowige of die persoon wat iets anders glo, het ten diepste ‘n fondament waarop hy sy ongeloof grond. Ook hy het ‘n vertrekpunt waarvan hy nie wil wyk nie. Laat ons daarom nie van ons fondament afklim en dink dat ons op ‘n ander manier ons geloof kan begrond of verantwoord nie. Nee, staan vas!

 

En dan in die derde plek: ons aanvaar al hierdie boeke, nie net om ons geloof daarna te rig en daarop te grondves nie, maar ook om dit daarmee te bevestig. Bevestiging – elkeen van ons het dit nodig. Want my geloof is soos my liggaam. My liggaam het kos nodig, dit moet voortdurend gevoed word sodat ek verder kan gaan. As ek dit nie doen nie, word my liggaam swakker en swakker, en gaan ek uiteindelik dood. So het my geloof ook voortdurend voedsel nodig, geestelike kos. Daarom ook die oproep van Petrus in 1 Petrus 2:2: “… verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei…” Jy het hierdie kos nodig, broer en suster! Jou geloof kan nie daarsonder nie. Want ja, ons geloof gaan soms deur moeilike tye, ons geloof kan deur twyfel geteister word – waar vind jy dan die kos om jou geloof opnuut te versterk? Waar vind jy die krag om vanuit die dale opnuut op die hoogtes te kom? Slegs in die Woord van die Here.

 

Sien u, broers en susters, hoe Guido de Bres die belang van die Bybel nie as iets afstandeliks en teoreties behandel nie. Nee, wanneer hy praat oor die Bybel, dan betrek hy onmiddellik jou en my gelóóf daarby. Die gerigtheid (die rigting) van ons geloof, die begronding (die fondament) van ons geloof, en die bevestiging (die voeding) van ons geloof – jou hele geloof, van a tot z, word bepaal deur hoe jy met die Bybel omgaan, met die Woord van die Here. Geloof en Bybel is onlosmaaklik verbonde aan mekaar. Wie jy as christen is, het alles te make met hoe jy die Woord van die Here aanvaar!

En dít is dan ook die rede vir Paulus se groot dankbaarheid in sy brief aan die gelowiges in Thessalonika. Ons weet vanuit Handelinge 17 dat ‘n groot groep Jode in Thessalonika nie Paulus se prediking wou aanvaar nie. Handelinge 17:5 praat spesifiek van die ongelowige Jode – ongelowig omdat hulle hul geloof nie gerig en begrond en bevestig het vanuit die verkondiging van die Woord nie. Maar daar was ook ‘n groep wat wel in geloof by Paulus en Silas aangesluit het – ‘n groot menigte van die godsdienstige Grieke en ‘n groot aantal van die aansienlikste vroue (Hand. 17:4). En daarom dank Paulus die Here sonder ophou dat, toe hierdie groep mense die verkondigde woord van God ontvang het, hulle dit aangeneem het as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God (1 Thess. 2:13).

 

Sien u hoe Paulus dit stel: die woord wat hulle ontvang het, het hulle ook aangeneem – ‘ontvang’ dui in hierdie konteks op die eksterne aanvaarding van die Woord, die uiterlike aanhoor van die Woord; ‘aanneem’ dui egter baie meer op die interne aanvaarding, die gelowige verwerking van die Woord. En Paulus is veral dáároor dankbaar! Dankbaar teenoor God, want dit is sy werk! Hy het gewerk dat hierdie mense besef het dat hulle hier nie met mensewoord te make het nie, maar met God se Woord – en dit dwing hulle tot ‘n totaal ander reaksie as wanneer dit maar net ‘n mens was wat ‘n toespraak sou gehou het. Dit dwing hulle op hulle knieë voor die sprekende God!

Nou, gemeente, ons ontvang gereeld die Woord, elke Sondag tweemaal, en op talle ander maniere en by talle ander geleenthede ook nog. Ons ontvang dit, dit kom na ons toe in oorvloed… maar neem ons dit ook werklik aan? Is daar ook ‘n hartlike verwerking van daardie Woord? As dit ons ore en verstand getref het, sak dit dan ook ‘n voet dieper af na die hart? Nee, die vraag is nie of jy van elkeen van die dominee se preke hou nie – dit hoef nie, dit kan ook nie. Die vraag is wel: kan jy in die gebrekkige woorde van die mensgemaakte preek, en agter die persoon van die prediker, en tussen die krom en skewe formulerings jou God ontmoet en jouself in geloof en gehoorsaamheid voor Hom neerbuig? Lees jy nog met die grootste eerbied jou Bybel omdat dit op ‘n totaal ander vlak staan as enige ander boek in die geskiedenis van die mensdom? Doen ons nog Bybelstudie in die besef dat God hoogspersoonlik ons kom aanspreek? Raak dit jou nog?! Of het ons dalk swaar van ore en oë geword, het ons dalk immuun geword vir die rykdom van die verkondiging, sodat ons kyk en kyk, en tog nie sien nie; en hoor en hoor, en tog nie verstaan nie? – soos wat Jesus in Markus 4:12 van die volk sê. Het ons dalk onbewustelik ‘n skeiding gemaak tussen geloof en Bybel, tussen geloof en verkondiging? Het ons dié twee dalk uitmekaar gehaal sodat ons ons geloof nie meer daarna rig, daarop grondves en daarmee bevestig nie?

 

Gemeente, laat ons asseblief daagliks bid vir die verligting van die Gees, sodat die Woord by ons nie net gehoor vind nie, maar bo alles geloof! Want om jou Bybel te lees is een ding, maar om dít wat jy lees, in te neem en gelowig te verwerk, is ‘n totaal ander ding. Om in die kerk te sit is een ding, maar om die gepredikte Woord aan te neem en jou eie te maak, is heeltemal iets anders. Daarvoor is Goddelike werk nodig. Mag die Here in sy genade aan elkeen van ons gee dat ons sy Woord van harte aanvaar, en in geloof daarmee gaan werk. Ons geloof hang daarvan af. Meer nog: ons lewe hang daarvan af.

Na die eksklusiewe aanvaarding, let ons nou in die tweede plek ook nog op die goddelike getuienis.

 

2. Maar, gemeente, hoe weet ons dat die bybel die Woord van God is? Daar moet sekerlik iets wees wat ons daarvan kan oortuig, en waarmee ons ander mense kan oortuig. Dit sou mos onwetenskaplik en onverantwoordelik wees om iets te beweer – naamlik dat die Bybel die Woord van God is – sonder dat ons enige bewyse daarvoor het? Die wêreld lag vir ons wanneer hulle dit hoor – dit is vir hulle onbegryplik en onaanvaarbaar. En tog leer Paulus ons in 1 Korinthiërs 2 iets anders…

In hierdie en die vorige hoofstuk skets Paulus vir ons die kontras tussen menslike wysheid en Goddelike wysheid. Hierdie twee gaan eenvoudig nie saam nie. God se wysheid is van ‘n totaal ander orde as menslike wysheid. Dit moet wees, want as menslike wysheid en Goddelike wysheid ooreen sou gestem het, sou mense nie die Here Jesus gekruisig het nie (vers 8). Nou, hoewel geen mens hierdie Goddelike wysheid besit nie, het God dit nogtans aan die gelowiges geopenbaar (vers 10a). En in hierdie openbaring speel die Gees ‘n baie belangrike rol; Hy is die Een deur wie God Homself aan mense bekend maak. En dit is logies, want die Gees van God ken God deur en deur. En as hierdie Gees nou aan mense geskenk word, dan stel Hy mense in staat om God óók te ken, en Hy stel mense in staat om dít wat God ons uit genade geskenk het, raak te sien en te erken (vers 12). Om dit te verduidelik, vergelyk Paulus in vers 11 die Gees van God met die gees van die mens. Vat nou die menslike gees: my eie gees, my eie siel, ken my die beste – niemand ken my so goed soos wat ek myself ken nie. Nou, op dieselfde manier ken niemand God so goed soos sy eie Gees nie. Die Gees ken God tot in sy diepste dieptes; Hy weet letterlik alles van God. Dit is Paulus se redenasie in vers 11.

 

En nou is die wonder: God het besluit om iets van sy eie dieptes met ons te deel. Ons – die gelowiges – ontvang God se Gees, Hy word aan ons geskenk. En daardie Gees lei ons in in die dieptes van God, in sy Goddelike karakter. Die apostels – want dit is waaroor dit in die eerste plek hier vir Paulus gaan – het daardie Gees ontvang sodat hulle oor sake kan praat, nie met woorde wat menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer (vers 13a). Maar daarmee saam het alle gelowiges ook daardie Gees ontvang, sodat ons geestelike dinge met geestelike kan vergelyk (vers 13b).

Die natuurlike mens, die mens wat nie die Gees ontvang het nie, neem die dinge van die Gees van God nie aan nie (vers 14). Hy kán nie die evangelie van ‘n gekruisigde Christus aanvaar nie, hy wíl dit ook nie aanvaar nie. Die geestelike mens, daarenteen, kan dit wel beoordeel. Want hy het die Gees! Die geestelike mens mag na God, die bron van alle wysheid, gaan. En daarom kan hy dinge beoordeel en daarom kan hy leiding gee in ‘n sonde-verduisterde wêreld. Die geestelike mens het kennis van die waarheid; hy kan waarheid en dwaling onderskei, hy kan feit en fiksie onderskei, hy kan egtheid van namaak onderskei. En, gemeente, dít moet ons verstaan wanneer dit gaan oor die Woord van God! Jy kan vir die ongelowige wêreld hoeveel bewyse aandra dat hierdie topverkoper die Woord van God is, maar as hulle die Gees nie het nie, sal hulle nooit tot erkenning kom dat hierdie boek inderdaad die Woord van God is nie. Nooit nie; hulle kan dit eenvoudig nie doen nie. Dit sit net nie in die natuurlike mens, die mens sonder die Gees, om dit raak te sien nie.

 

Maar ek en jy aanvaar hierdie boek as die Woord van God, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Selfs blinde mense, mense wat met die natuurlike oë nie meer kan sien nie, kan met geestelike oë sien dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind. Ons wat die Gees het, ons kyk met ander oë na die Bybel. Ons sien die Woord van God, ons proe dit, ons weet dit. Die bewys daarvan sien ons in die bybel self. En dit is geen rede tot selfverheerliking nie, broers en susters, dit is geen rede om neer te sien op die arme drommels wat dit nie sien nie. Nee, dit is Goddelike ingryping wat ons daardie sig gee, dit is die Gees wat my in my hart daarvan oortuig dat hierdie ou boek die altyd-aktuele, immergroen Woord van God is!

En moenie dat enige ongelowige jou ooit anders probeer oortuig nie. Moenie dat enige ongelowige vir jou kom wysmaak dat die Bybel maar ‘n menseboek is, en dat jy eintlik naief en goedgelowig is om so iets te aanvaar nie. Want, sê Paulus aan die einde van vers 15, self word die geestelike mens deur niemand beoordeel nie! Dit beteken nie dat die gelowige nooit vermaan mag word of nooit kritiek kan verduur nie. Dit sou natuurlik onwaar wees. Nee, in hierdie konteks gaan dit daaroor dat ongelowiges, wat die Gees nie het nie, geen reg van kritiek het op die wysheid van die evangelie en op die Woord van God nie. Ongelowiges is nie kapabel om die Woord van God óf dié wat die Woord glo geestelik te beoordeel nie. Want, vers 16, wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Ongelowiges, wat die Gees nie het, kán nie onderrig gee oor dinge waarvan hulle niks weet nie. En van die dinge van God en sy Woord weet hulle niks nie.

 

Maar jy en ek het deur die genade van die Here sy Gees ontvang. Ons – en daarmee sluit Paulus in vers 16 af – ons het die sin van Christus! Daarmee bedoel hy: ons kén Christus deur die werk van die Heilige Gees. Ons kan met geestelike oë sien dat alles wat die Bybel sê, waar en betroubaar is. Ons kan sien dat die Bybel sy eie uitlegger is. Ons mag beleef dat die Bybel vir ons die Allerhoogste God en ons Verlosser, Jesus Christus bekend maak. En dit vul ons harte met die grootste vreugde en dankbaarheid. Dit laat ons elke dag weer na ons Bybel gryp, dit maak ons soos sponse om alles in te drink wat die Woord ons leer.

Ja, maar… ek verstaan nog nie altyd wat ek in die Bybel lees nie. En ek sukkel nog om die lyne te kan trek van die Ou na die Nuwe Testament en terug. En ek ervaar nog nie altyd dat die Here in die Bybel tot my spreek nie. En ek is nog nie altyd bereid om my lewe te verander nie, ook al weet ek dat die Skrif my daartoe oproep. Dit is waar, gemeente. Dit is die ou mens in ons wat nog met alle mag stry teen die Gees van God. Die twee voer oorlog teen mekaar. Die een wil nie ‘n duimbreedte vir die ander een wyk nie. En dit is die ou mens – daardie ou, lelike jy – wat jou verstand verduister sodat jy nie altyd alles in die Bybel verstaan nie, en sodat jy nie wil verander nie, en sodat jy ook nie kan verander nie. En daarom roep Paulus ons op in Efesiërs 5:18: word vervul met die Heilige Gees! As gelowige hét jy alreeds die Gees, maar vanweë die ou mens vul Hy nog nie jou hele lewe nie. Dit is soos ‘n glas wat halfvol water en halfvol lug is. En nou roep Paulus ons op: word al hoe voller met die Gees! Laat daar al hoe meer water in die glas kom, en laat die water die lug verdryf. En laat die water maar oorloop, dit maak nie saak nie. Laat die Gees al hoe meer van jou lewe in beslag neem, sodat die ou mens verdryf word!

 

En hoe doen ek dit? Deur die Woord… Wonderlik, nie waar nie? Die Gees lei my om die Bybel as die Woord van God te lees en te aanvaar. Ek het die Gees nodig om dit te doen. Maar hoe kry ek die Gees – deur daardie einste Woord. Dié twee staan in wisselwerking met mekaar. Nou, broers en susters, oor die Gees het ons geen beheer nie; Hy is God, Hy waai waar Hy wil. Maar die Woord is aan ons gegee. Lees dit gelowig. Bid vir die Gees. En vertrou God se belofte: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Luk. 11:13)

Amen

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Psalm 148:3-5

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 136:4, 5, 10 en 17

Gebed

Lees:    1 Thessalonicense 2:10-16

            1 Korinthiërs 2:6-16

Sing Ps. 143:7 en 8

Teks: NGB, art. 5

Preek

Amenlied Skr. 14

Wetslesing (laat die Gees ons lei om hierdie Woord ernstig te neem en daarna te lewe…)

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 35

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

Votum en seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 136:4, 5, 10 en 17

Gebed

Lees:    1 Thessalonicense 2:10-16

            1 Korinthiërs 2:6-16

Sing Ps. 143:7 en 8

Teks: NGB, art. 5

Preek

Amenlied Skr. 14

Gebed

Sing Geloofsbelydenis

Kollekte

Slotsang Skr. 35

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)