Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.
Preek – NGB artikel 14
Geliefde gemeente, broers en susters,
“‘n Man het twee seuns gehad…” – so begin Jesus sy bekende gelykenis (Luk. 15:1). Wat Jesus hier in enkele woorde vir ons beskryf, gemeente, is die verbintenis tussen ‘n vader en sy twee kinders. Maar dit is meer as net ‘n formele bloed-verbintenis; nee, hier is sprake van ‘n baie meer intieme band. Ons kan dit ‘n liefdesband, of selfs ‘n liefdesverbond noem. Miskien verstaan jy iets hiervan – miskien het jy so ‘n verhouding met jou kinders, moontlik dat jy en jou ouers so ‘n verhouding met mekaar het. En of jy dit nou ken of nie, in elk geval weet ons dat God in die paradys so ‘n verhouding met die mens gehad het, so ‘n liefdesverhouding. Want dit is hoe God die mens in die begin gemaak het. God het die mens gemaak as ‘n relasionele wese – ‘n bietjie groot woord, ek weet, maar dit beteken eenvoudig dat dit in die aard van die mens is om in ‘n verhouding (in ‘n relasie) van liefde te staan.
En die belangrikste verhouding waarin die mens daar in die begin gestaan het, was natuurlik die verhouding met God. Dit was ‘n Vader-kind verhouding soos daar sedertdien nog nooit een op aarde was nie, dit was ‘n verhouding van volmaakte harmonie. Immers, so leer artikel 14 ons, God het die mens gemaak na sy beeld en na sy gelykenis, dit wil sê goed, regverdig en heilig, sodat hy met sy wil in alles met die wil van God kon ooreenstem. God het die mens só gemaak dat sy wil en Adam se wil perfek inmekaar gepas het. Dit was nie in Adam se geskape aard om, soos ‘n opstandige kind, die wil van sy Vader om elke hoek en draai te bevraagteken nie. Adam het nie teëgestribbel nie, hy het nie vasgeskop nie, hy het homself nie op die grond gegooi en daar gelê en skop omdat hy nie sy sin kon kry nie. Nee, daar was volledige harmonie, daar was volmaakte ooreenstemming. God se wil was Adam se wil.
U ken miskien die spreuk uit die Spreuke-boek: “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander” (Spr. 27:17). Dit is ‘n pragtige spreuk… vir vandág; dit is ‘n pragtige spreuk vir die bedéling ná Genesis 3, maar dit is ‘n spreuk wat in die paradys nie gepas het nie. Voor die sondeval was hierdie slypwerk nie nodig nie. Slypwerk impliseer immers dat daar verandering moet plaasvind, dat die growwe kante nog weggeskaaf moet word. Maar dit was glad nie toepaslik in Genesis 1 en 2 nie. Daar het God en Adam perfek gepas. ‘n Man het twee seuns gehad – ‘n pragtige liefdesband.
“En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel” (vers 12). Afgesien van wat die jongste seun hierna nog gaan doen, die blote versoek van hierdie seun is alreeds moeilik verteerbaar, nie waar nie? Die brutaliteit! Pa is nog nie eens dood nie, en die seun wil al sy erfporsie hê. Maar, gemeente, laat ons nie te vinnig praat nie. Vir daardie tyd was dit nie ‘n ongewone versoek nie. Ons kom dit ook in ander geskrifte van daardie tyd teë dat die erfenis alreeds tydens die lewe van die pa verdeel word. Terwyl die pa dan nog gelewe het, het die erfgenaam wel die besitreg gehad, maar nog nie die beskikkingsreg nie. Hy kon byvoorbeeld nie op eie gesag besluit om die grond te verkoop terwyl sy pa nog gelewe het nie. Die versoek van die jongste seun is daarom op sigself nog nie verkeerd en oneerbaar nie.
Maar dit is duidelik dat daar in die hart van hierdie jongste seun wél ‘n probleem was. Sy motiewe vir hierdie versoek was verkeerd; die oorwegings van die hart was die probleem. Hierdie seun het geen of weinig waarde geheg aan die liefdesband wat hy met sy vader gehad het nie, hy het geen of weinig besef gehad van die rykdom waarin hy opgegroei het en waarin hy gedeel het nie. En dit blyk nie soseer uit die versoek self nie, maar uit die optrede wat daarop volg. Want wat doen die seun vervolgens? Wel, hy het skaars sy erfporsie by sy pa gekry, of hy verkoop dit, hy sit dit om in harde kontant, en daarna vertrek hy. “En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ‘n ver land” (vers 13a). Weggereis na ‘n ver land…
Dáár lê nou die ondankbaarheid en die sonde van die jongste seun, broers en susters. Hy wou met alle mag wegkom van sy vader af. Hy het die vryheid geruik! Jongmense, miskien kan julle iets daarvan verstaan – miskien is jy op ‘n leeftyd dat jy ook eintlik uit jou ouerhuis wil wegkom, miskien dink jy ook dat jy dan werklik vry sal wees! Nou, dis wat hierdie jongman in gedagte gehad het – weg van pa, weg van die verantwoordelikhede, vry! Ek kan doen net wat ek wil! In geestelike taal sou ons kon sê: hy breek die verbond met sy vader, hy verag die vader se liefde. In feite is hy ‘n verbondsverbreker. Hy het alles gehad wat sy hart maar kon begeer, maar by homself het hy gedink: ek is seker ek kan beter doen as dit. Hy het nie verstaan hoe ryk hy in werklikheid was nie!
“Maar toe die mens in aansien was, het hy dit nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie” – hierdie woorde beskryf nie die jongste seun nie, nee, hierdie woorde beskryf jou en my. Dit is wat artikel 14 van óns sê. Verskil dit regtig so baie van die jongste seun? Hy, wat in ‘n wonderlike liefdesverhouding met sy pa gestaan het, wat as seun van ‘n welgestelde boer ‘n blink toekoms gehad het… en wat nogtans besluit het om daarvan los te breek – is ons nie maar net soos hy nie? Ja, gemeente, in die optrede van die jongste seun sien ons die sondige drang wat vanaf die sondeval in elke mens heers – die drang om los van God te wees, die drang om die bande wat ons bind, los te breek. Ons verstaan nie ons uitnemendheid nie, ons verstaan nie ons hoë posisie nie, ons verstaan nie die wonder om kind van God te wees nie. En ons dink dat as ons los van God is, dat ons dan werklik vry sal wees. Dan kan ek doen wat ek self wil, dan is ek meester van eie toekoms…
Die seun het dus weggereis na ‘n ver land. “En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe” (vers 13b). Wat ‘n wonderlike tyd het hierdie jongman nie gehad nie; tot op hierdie punt geniet hy van die sonde. Dit lyk geensins asof daar ‘n krisis in sy lewe is nie. Hy geniet van vriende, hy geniet van vroue, hy geniet van lekker kos en baie drank. Maar moenie dat uiterlike voorkoms jou bedrieg nie – sy pa praat later van hierdie periode as die periode waarin die jongste seun dood was: “hierdie seun van my was dood…” (verse 24 en 32). Maar dit raak nog erger. Sy geld raak op; ja, daar is duidelike grense aan die vryheid en die rykdom waarna die jongste seun verlang het. En om skande by die skade te voeg, word die land, waarin hy woonagtig was, ook nog getref deur ‘n swaar hongersnood. In die bybel is hongersnood dikwels ‘n aanduiding van God se straf.
En dan skielik is die seun alleen. Hy het homself selfsugtig gedra; hy was die middelpunt van sy eie lewe. En nou bly hy alleen agter; net hy en sy gebrek. Maar daar is meer… Hy is nie slegs arm nie, hy word ook geforseer om iemand anders te dien, om slawe-werk te gaan doen. Hy word afhanklik van ‘n ander – ‘n oppasser van varke. En nou moet ons onthou, gemeente: varke was, volgens die wetgewing in Levitikus 11, onrein diere. Dus, dit was die laagste, mees vernederende taak wat ‘n Jood in daardie tyd kon verrig. Hy moes hom morsdood geskaam het. En uiteindelik slaan hierdie jongman die diepste bodem wanneer hy met verlange kyk na die kos wat vir die varke bedoel was, naamlik die skille van die vrugte van die Johannesbroodboom, wat in daardie dae bekend was as die voedsel vir die arm mense.
Sien u die agteruitgang? Eers het hierdie seun vrywillig in die sonde gelewe, homself met ‘n valse vryheidsgevoel aan die sonde oorgegee. Maar nou… nou word hy as’t ware verplig om homself aan die sonde oor te gee. ‘n Gedwonge, onvrywillige oppasser van varke. Dit dryf hom teen die mure uit. Hy raak amper van sy kop af. Van sy oorspronklike mens-wees het daar weinig oorgebly; sy hele ‘ek’ is gesloop.
Arme jongman!
Nee, gemeente, nie arme jongman nie – arme ék, arme jý. Want dít is wat ons moet raaksien – hierdie jongste seun se toestand is my en jou toestand. Luister maar na artikel 14. “Ons het (net soos hierdie jongman) onsself willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp (onthou wat die pa gesê het: hierdie seun van my was dood). Ons het immers die gebod van die lewe wat ons ontvang het, oortree en onsself deur die sonde losgeskeur van God, wat ons ware lewe was. So is ons hele natuur verderf en het ons die liggaamlike en geestelike dood verdien.” Dit is nie in die eerste plek hy wat tussen die varke sit nie, dis óns wat tussen die varke sit. Kyk waar het ons vryheidsdrang ons gebring – dit wat soos vryheid gelyk het, was in werklikheid gebondenheid. En die uiteinde daarvan is slawerny, diensbaarheid aan die verganklikheid.
Ja, gemeente, ons het alles verloor, of soos artikel 14 dit stel: “ons het deurdat ons in al ons doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al ons voortreflike gawes wat ons van God ontvang het, verloor…” Ons was goed, regverdig en heilig – só het God ons volgens artikel 14 gemaak – maar ons het goddeloos, verkeerd en verdorwe geword. Driemaal goed het verander in driemaal sleg. En dit alles omdat ons die liefdesband met die Vader nie na waarde geskat het nie, omdat ons daardie band verbreek het. Dít is ons sonde, broers en susters. Sonde is nie primêr “wat mag?” en “wat mag nie?” Nee, sonde is heel eerste verbreking van die band met God, ‘n naiëwe en sondige vryheidsdrang.
Dit is die spieël wat artikel 14 aan ons voorhou; maak oop jou oë en kyk in daardie spieël. As jy nie in die spieël wil kyk nie, dan is jy net soos daardie kind wat ‘n baie slegte rapport vanaf die skool huistoe moes bring. Hy was te skaam om met so ‘n rapport by die huis aan te kom nie, en daarom het hy die ding maar êrens langs die pad in die asblik gegooi. Was sy slegte punte nou skielik iets van die verlede? Nee, dit was nog net so werklik. Jy kan die spieël ignoreer, maar dit gaan nog nie die werklikheid van jou toestand verander nie. Kyk daarom! Sien jouself in die lewe van die jongste seun.
“Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit ‘n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag” (verse 29 en 30). O ja, daar is ook nog die oudste seun. En, gemeente, hierdie oudste seun het miskien nie die liefdesband tussen hom en sy vader verbreek, soos wat die jongste seun gedoen het nie, maar hy was intussen niks beter daaraan toe as sy jonger broer, toe laasgenoemde in die oomblik van sy diepste vernedering in die varkhok gesit het nie. Die oudste seun het dalk nie die liefdesband verbréék nie, maar sy probleem was dat hy die liefdesband ingeruil het vir ‘n besigheidskontrak. Sy vader het in sy oë ‘meneer die direkteur’ geword, en hyself was die werknemer wat in loondiens gestaan het. Dit was die manier waarop die oudste seun gedink het oor die verhouding tussen homself en sy pa: “Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie…” (vers 29).
Gemeente, in die konteks van Lukas 15 wil Jesus hiermee ‘n belangrike les aan die Fariseërs en skrifgeleerdes deurgee. Want onthou, dit was hulle wat probleme daarmee gehad het dat Jesus met die tollenaars en sondaars saam geëet het (verse 1-2): “Hierdie is dan sulke slegte mense, met hulle kan jy mos nie gemeenskap beoefen nie!” Natuurlik het hulle wel geglo dat God genadig is, maar hulle was nog sterker daarvan oortuig dat die mens self ook iets aan sy toestand moes doen. Volgens die leiers van die volk het elke persoon ‘n rekening van verdienste en sonde by God gehad; selfs al het die sondelys die verdienstelys slegs met een oortref, dan was so ‘n persoon verlore. Niemand het egter met sekerheid geweet hoe lyk sy verdienste by God nie; dit sou jy eers op die oordeelsdag uitvind. Jy moes daarom aanhou werk, aanhou swoeg, want jou lys van verdienste moes groter bly as jou lys van sondes. Vanuit daardie perspektief was die tollenaars en sondaars verlore mense in die oë van die Fariseërs en skrifgeleerdes, mense waar die sondes die verdienstelys ver oortref het. Na hulleself het hulle egter anders gekyk: “O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie” – so het die Fariseër gebid in Jesus se bekende gelykenis in Lukas 18. By die Fariseërs en skrifgeleerdes was daar baie duidelik die gedagte dat redding ‘n stuk selfwerksaamheid en eie bydrae ingesluit het. Natuurlik met God se hulp, maar jy moes darem self aan die werk spring. Watter skok moes dit daarom nie gewees het nie, toe hulle agterkom dat húlle die oudste seun in Jesus se gelykenis is…
“Wie sal op sy eie wil roem as hy verstaan dat ‘wat die vlees bedink, vyandskap teen God is’ (Rom. 8:7)? Wie sal op sy eie kennis roem as die natuurlike mens die dinge van die Gees van God nie aanneem nie (1 Kor. 2:14)? Wie sal ook maar op ‘n enkele gedagte roem as hy verstaan dat ons uit onsself nie bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie…?” Broers en susters, dit is Guido de Bres se weerwoord in artikel 14 teen die gedagtegoed van die Fariseërs en die skrifgeleerdes; dit is sy antibiotika teen die oudste-seun-sindroom. Laat ons onsself nie net spieël aan die jongste seun nie, maar onsself ook op hierdie punt ondersoek. Die antwoord vir die ellende van die jongste seun lê nie in die loongedagte en selfwerksaamheid van die oudste seun nie. Die gebroke liefdesband van die jongste seun word nie geheel met die saaklike besigheidskontrak van die oudste seun nie. En dit is juis in die kerk dat ons so ‘n houding kan teëkom – dit is ‘n houding wat neerkyk na die sondaar in die gemeente, wat liewer nie in hierdie kerk wil wees as hy of sy ook daarin is nie. “Nee, waar die onreg so groot is dat die vetgemaakte kalf vir so ‘n deurbringer geslag word, ‘n vent wat weet hoe om sy pa se geld op slegte vrouens in die nagklubs en bordele uit te gee, by so ‘n huis waar die pligsgetroue nie eens meer raakgesien word nie, waar die goeie seun nooit eens ‘n bokkie kry nie… by so ‘n huis staan ek maar liewer buite.” Inderdaad, broers en susters, ‘n mens kan in die kerk wees en tog buite staan. As ek meen dat my getrouheid aan die gebod van die Here my ‘n plek in die kerk gee, dan staan ek buite, ook al was ek nog nooit in ‘n varkhok nie.
Gemeente, laat daar nie by ons die gedagte leef dat ons iets het om God aan te bied nie; dat ons, ook al is ons sondig, darem nie heeltemal ellendig is nie; dat ons wil, hoewel dit deur die sonde beseer is, darem nie heeltemal verdorwe is nie; dat ons nog steeds ‘n vrye wil het waarmee ons kan kies om God te dien. Nee, sê artikel 14, ons verwerp alles wat oor die vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as ‘n slaaf van die sonde is nie. Die jongste seun was ‘n slaaf van die sonde daar in die varkhok, maar die oudste seun was dit net so goed daar op sy pa se spogplaas. Beide seuns is ewe verlore, beide seuns het dieselfde kuur nodig – die onverdiende liefde van die vader. Sowel die deurbringer (die jongste seun) as die kontrak-arbeider (die oudste seun) is daarsonder verlore…
En watter liefde is dit nie!
“… toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omgels en hartlik gesoen.” Ná alles wat hy sy vader aangedoen het, ná al die vertrapping van die vaderliefde – wat ‘n wonder! Die vader sien sy sondaar-seun toe hy nog ver was. Soms het ons miskien die gevoel dat ons terugkeer na God vir Hom onverwags is, asof ons skielik net eendag op sy voorstoep staan. Maar ons vergeet dat God met verlangende oë vir ons wag, al is ons nog ver! Soms dink ons dat God die hardvogtige tiran is wat ons by ons tuiskom nie eens wil groet nie. Maar Jesus sê dat hierdie vader sy seun innige jammer gekry het. Die vaderhart is vol ontferming en meegevoel. Soms dink ons dat God maar net daar ver op sy troon bly en nie ‘n milimeter na my in my ellende wil beweeg nie. Maar hier sien ons ‘n vader wat hartloop na sy verlore kind. God is haastig om die kind wat met skuldbesef na Hom toe kom, tegemoet te gaan. Hy hardloop ons selfs tegemoet. En Hy laat nie toe dat sy seun soos ‘n slaaf voor sy voete neerval nie. Daar is geen sprake daarvan dat die seun soos die huurling eers op ‘n afstand moet stilstaan nie.
En dáár, teen die vaderhart, sê die seun wat hy waarskynlik ‘n honderd maal in sy hart herhaal het: “Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor U en ek is nie werd om u seun genoem te word nie.” Maar verder kom hy nie – dit wat hy nog verder wou sê, naamlik dat hy maar net ‘n huurling wil wees, ‘n dagloner – ag, die vader laat hom nie eens toe om dit uit te spreek nie. As die sondaar eers in die omhelsing van die vaderarms is, as jy eers weer in daardie innige verbondenheid met God lewe, dan kan jy nooit ‘n huurling wees nie. Ook al kleef die varkhok-geur nog aan jou boemelaarsklere, ‘n kind kan nooit ‘n huurling word nie. Inteendeel, die seun kry ‘n welkom-soen, ‘n soen van vergewing. En aan sy voete nuwe skoene – skoene van vryheid. Nuwe klere as bewys dat die verhouding herstel is. ‘n Rein vetgemaakte kalf in plaas van die onrein varkkos. ‘n Fees van verlossing!
En die oudste seun? Moenie bekommerd wees nie, die vader het nie van hom vergeet nie. Hy kom soek hom ook op. Hy smeek hom om in te kom na die fees van die evangelie: “Kom kyk tog hoe lyk dit dáár waar sondaars gered word. Kom deel in hierdie fees.” Hierdie seun beskuldig sy pa daarvan dat hy nog nooit ‘n fees saam met sy vriende kon hou nie… “Maar my seun, het jy dan vergeet van die fees van die Lam van God? Het jy vergeet dat Jesus Christus gekom het om sóndaars te red?” So soek God ook na kerkmense wat meen dat verlossing iets van my eie werksaamheid insluit. Ons is almal ewe ellendig, ons is almal slawe van die sonde, maar die fees is juis vir sulkes. Fariseër en skrifgeleerde, sondaar en tollenaar… kom! Kom ons maak die bande nuut, kom ons herstel wat gebroke was, kom ons wees weer wat ons was: Vader en kind. Die uitnodiging is oop, broers en susters. Niemand is daarvan uitgesluit nie. Glo dit, en jy sal gered word!
Amen
Liturgie (aand)
- VOORPSALM Ps. 53:2-4, 6, 7
Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 75:1 en 2
Gebed
Lees: Lukas 15:1-3, 11-32
Sing Ps. 32:1 en 3
Teks: NGB artikel 14
Preek
Amenlied Skr. 19:1-4
Gebed
Belydenis van geloof (singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 19:5-7
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen
(kyk in preek)