Die spieël van die Woord leer my wie ek is…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-07-24
Teks: 
NGB 15
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 15; lees Romeine 5:12-6:4

 

Geliefde gemeente, broers en susters,

In die afgelope week lees ek op die webwerf van die Nuwe Hervorming – ‘n groep liberale, vrysinnige teoloë wat op ‘n nuwe manier oor geloof en teologie wil nadink – ‘n gesprek oor die erfsonde. En een van die deelnemers skryf die volgende: “My argumente téén die erfsondeleer staan op sewe bene:...” Vervolgens word die sewe argumente opgenoem, opmerklik genoeg sonder enige begronding (dit is nie nou die tyd om op hierdie argumente in te gaan nie). Maar uiteindelik is die skrywer se konklusie: “Die totale Bybel ken nie so ’n leerstuk nie. Wanneer ’n mens die Bybel noukeurig lees, is dit duidelik dat sonde saamhang met wat ’n mens doen. Mense is nie sondaars nie, en het ook nie sonde nie. Hulle doen wel sonde. Die erfsondeleer is deel van die Latynse teologie van die ortodokse Westerse Christendom. Wanneer ’n mens hierdie leer onder die tradisionele Christendom uitpluk, het die kerk geen verlossingsboodskap om meer te verkondig nie. Kan julle verstaan waarom die kerke wegskram daarvan om oor hierdie leerstuk te gesels? Groete, Sakkie Spangenberg” (miskien sê hierdie naam u nie so baie nie, maar Sakkie Spangenberg is een van die stigterslede van die Nuwe Hervorming en huidiglik een van die mees liberale teoloë in Suid-Afrika)...

 

Maar afgesien daarvan… Sakkie is reg – as ons nie meer glo dat mense in sonde ontvang en gebore word nie, dan het ons Jesus Christus ook nie meer nodig nie. Dan het die evangelie, die goeie nuus van verlossing en bevryding, sy vervaldatum bereik en dan moet ons die kerk se deure maar liewer toemaak. Maar ek is nie oortuig daarvan dat Sakkie werklik so noukeurig gelees het soos wat hy beweer nie. Ek dink hy het in die bybel gelees wat hy wil hoor, maar op dié manier gaan natuurlik niemand die leer van die erfsonde aanvaar nie. Want erfsonde is nie iets wat ek of jy wil hoor nie; dit is iets wat ons moet hoor! Die kerkvader Augustinus, wat terloops deur Sakkie as die uitvinder van die erfsondeleer beskuldig word, het in dié verband ‘n slag gesê: “Vir die prediking is daar niks wat méér bekend behoort te wees nie as die erfsonde, maar vir die verstand is daar niks wat méér verborge is as dit nie. Die skerpste vernuf kan dit nie naspeur nie. Slegs die gesag van die Woord van God moet ons stap vir stap daarin lei. Voor hierdie gesag, wat nie bedrieg nie, moet ons buig.” Ja, gemeente, die leer van die erfsonde is pynlik, dit roep weerstand op, maar die eenvoudige vraag is: gaan ons voor die Woord buig, of nie?

Tema: Die spieël van die Woord leer my wie ek is…

  1. Van nature
  2. In Christus
  3. Deur die Gees

 

1.  Artikel 15 begin deur vir ons te sê dat die ongehoorsaamheid van Adam die oorsaak van die erfsonde is. Nou, gemeente, onmiddellik kom die eerste probleem alreeds op ons af. Want moet ék nou die gevolge dra van Adam se ongehoorsaamheid? Is dit regtig soos wat die volk in die dae van Esegiël vir mekaar gesê het: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword”? Sit ons nou regtig met die gebakte pere van Adam se ongehoorsaamheid?

En daarby help die begrip ‘erfsonde’ ook nie regtig om uit hierdie verwarring te kom nie. Want iets wat ek erf, is immers iets wat ek kry sonder dat ek iets daarvoor gedoen het. ‘Oorerflikheid’ is nie deur my eie toedoen nie – my groen oë kry ek van my ma, my blonde hare kom van my pa se familie af, niks wat ék daaraan gedoen het nie. En daarom moet ons eerlik vir mekaar sê: ‘erfsonde’ is nie die mees ideale begrip nie (ons vind hierdie begrip ook nie in die bybel nie) – maar goed, dit is die begrip wat ingeburger geraak het, en so sal ons dit waarskynlik ook bly gebruik. En dit is geen krisis nie, solank ons net verstaan dat die ‘erf’ in ‘erfsonde’ nie maar ‘n passiewe onskuld van my kant is nie. Ek is nie maar net ‘n slagoffer van vader Adam se ongehoorsaamheid duisende jare gelede in die paradys nie…

 

Paulus is daaroor baie duidelik in Romeine 5. Romeine 5:12 begin, interessant genoeg, op dieselfde manier as artikel 15: “… soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het”. Net soos in artikel 15 is die aanvanklike fokus volledig op Adam en sy ongehoorsaamheid gerig. Maar Paulus gaan verder: “soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het…” Heeltemal reg, by die een mens, Adam, begin die geskiedenis van ‘die Sonde’. Paulus maak hier gebruik van personifikasie – hy stel ‘die Sonde’ aan ons voor as ‘n persoon wat die wêreld binnegekom het. Dus, as jy ‘n lewensbeskrywing / ‘n biografie van hierdie persoon, met die naam ‘Sonde’, sou wou skryf, dan moet jy begin by Adam – via Adam het Sonde die wêreld binnegekom. Maar vervolgens sal jy ook elke mens wat ooit op hierdie aarde gelewe het, by hierdie biografie moet betrek – uitgesonderd die Here Jesus – want elkeen het gesondig. En hoe weet ons dit? Want hulle almal sterf: die dood het tot almal deurgedring.

In vers 14 wys dieselfde vanuit ‘n ander hoek, hoewel ons vertaling die betekenis ongelukkig heeltemal verdraai het; in vers 14 lees ons: “Tog het die dood geheers van Adam af tot op Moses, ook oor hulle wat nie gesondig het in die gelykheid van die Adam nie, wat ‘n voorbeeld is van Hom wat sou kom.” Ons vertaling skep die indruk asof Adam ‘n voorafskaduwing van Christus is, ‘n tipe van Christus (tupos is ook die woord wat hier in die Grieks gebruik word). Maar dit kan eenvoudig nie reg wees nie. Want uit die volgende verse blyk duidelik dat Adam nie die tipe van Christus is nie, maar eerder die antitipe. Adam is die teenoorgestelde van Christus! Immers, hoe kan die bringer van die dood ‘n voorbeeld of ‘n tipe wees van die bringer van die lewe? Nee, ons kan hierdie laaste woorde van vers 14 baie beter vertaal met: “en ook al het hulle nie dieselfde oortreding as Adam begaan nie, tog is hy tiperend vir die toekoms.” Adam is die mens wat sondig en sterf: daarin is hy ‘n model vir die hele toekoms ná hom. Adam is nie ‘n voorbeeld van Jesus Christus nie; nee, hy het deur sy sonde en dood die ménslike toekomsmodel geword; hy is die tipe van my en jou (sien Van Bruggen op Romeine 5).

 

Maar hoe presies? Wel, daar is verskillende maniere waarop mense probeer om te verklaar hoe ons deel het in Adam se sonde. Sommiges meen dat Adam se doen en late – as verbondshoof, as verteenwoordiger van die hele mensdom – nie slegs gevolge vir homself gehad het nie, maar ook vir al sy nakomelinge; ander meen weer dat Adam se sonde ons toegereken word omdat ons sélf daarin betrokke was (ek hoor die katkisante is lief daarvoor om hierdie argument aan te voer: “as ons in die paradys was, sou ons dieselfde gedoen het”). Daar sit waarheid in hierdie sienings, maar nie een van hierdie sienings bied ‘n volledige verklaring vir die erfsonde nie. Augustinus was reg toe hy gesê het dat die leer van die erfsonde vir die menslike verstand verborge is. Maar ook al verstaan ons nie presies hoe dit werk nie, broers en susters, ook al kan ons nie presies verklaar op watter manier ons in Adam skuldig is nie, nogtans is die bybelse analise van die mensdom baie duidelik. Die ‘hoe’ van hierdie analise is nie vir ons geopenbaar nie, maar die ‘wat’ van hierdie analise kan nie ontken word nie: ons is almal skuldig in Adam. En is ons bereid om voor hierdie analise te buig?

En dan is die vraag nie net of ons die erfsonde as leerstuk – as dogma – aanvaar nie. Nee, dit gaan baie dieper. Die vraag is of ek die erfsonde as realiteit in my lewe aanvaar. Kan ek myself voor die bybelse spieël plaas en bely: “dít is wie ek is! My hele natuur is verdorwe!” Kan ek saam met Dawid in Psalm 51 sê: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore en in sonde het my moeder my ontvang”, en gevolglik ook erken dat dít die wortel is wat in my allerhande sondes laat uitspruit, dat dít die giftige fontein is waaruit die sonde aanhoudend opborrel? En kan ek vervolgens ook myself daarteen bewaak om die erfsonde as ‘n verskoning te gebruik (en mens hoor dit nogal gereeld in die gemeente): “dit is nou eenmaal hoe ek is, dit is nou eenmaal my karakter, so gebore en so laat staan; aanvaar dit of los dit, daar is niks wat ek daaraan kan – of gaan – verander nie”? Gemeente, die bybelse analise van myself is nie die skuiwergat wat elke mens soek om homself van alle blaam te onthef nie – nee, dit dien eerder tot my veroordeling. Dit stel my skuldig! Kan ek dit aanvaar?

 

Rome kon dit nie doen nie; die Roomse kerk het toegegee aan die tipies-menslike neiging om tog nog iets van sy eiewaarde in stand te probeer hou. Natuurlik, sê Rome, het die menslike natuur hier en daar iets verloor, maar dit is nie so dat die menslike natuur volledig geruineer is nie. Want, sê hulle, wanneer ‘n vurige perd sy toom en teuels verloor, dan is dit mos nog steeds ‘n goeie perd. Hy kan nog steeds vrylik rondhardloop. Met al sy onstuimigheid sien ons in hierdie perd ‘pure natuur’. Maar, gee hulle toe, omdat hy nou onbestuurbaar is, kan hy gevaarlik wees. Nou, so het die menslike natuur ook sy toom en teuels verloor, hy het sy band met God verloor. Dit is ‘n gebrek, ‘n tekort. Die mens het teruggekeer tot ‘pure natuur’, en in hierdie toestand is die menslike natuur nie ongevaarlik nie. Maar die menslike natuur self is darem nie verdorwe nie; nee, die menslike natuur mis maar net die leiding van die hoëre, die goddelike. Erfsonde in Rome is slegs die verlies van die bo-natuurlike leiding.

En hoe word ons van hierdie gebrek bevry? Hoe kry ons die leiding van die bo-natuurlike weer terug? Deur die doop, sê Rome. Erfsonde word uitgewis deur die doop! Vandaar ook artikel 15 se opmerklike verwysing na die doop: “dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie…” Dit is téén die Roomse leer geskryf – oppas daarom om uit hierdie woorde van Guido de Bres allerhande gedagtes oor die doop te gaan aflei, of self ‘n volledige doopleer daaraan op te hang. Nee, wat Guido de Bres hier doen, is om eenvoudig die verkeerde Roomse siening, naamlik dat die doop ons van die erfsonde bevry, af te wys. Rome het nie goed verstaan hoe diep verdorwe ons is nie, en gevolglik het hulle ook ‘n baie goedkoop oplossing vir die probleem gevind – die water van die doop.

 

Maar, broers en susters, die Bybel is ondubbelsinnig oor ons totale verdorwenheid: “Ag, kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreine – nie een nie”, leer Job sy vriende in hoofstuk 14:4. “Wat uit die vlees gebore is, is vlees”, bevestig Jesus in Johannes 3:6. En “ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander”, leer Paulus sy lesers in Efesiërs 2:3. Persoonlik sou ek wát wou gee om met Sakkie te kan saamstem, ek sou wat wou gee om saam met Spangenberg bevry te kan word van die ‘berg van spanning’ wat my totale verdorwenheid meebring. Maar ek kan nie! God se analise van die mensdom laat my eenvoudig nie toe om dit te doen nie. Terselfdertyd, egter, hou ek ook glad nie van God se analise nie – ek haat God se analise, dit steek my dwars in die krop: “Ek, totaal verdorwe, ‘n giftige fontein? Nonsens! Ek is nie so ‘n slegte ou nie, ek is ‘n goeie mens.”

Broers en susters, dit vra Goddelike insette om my van hierdie pynlike feit te oortuig – ja, die Woord leer my dit, maar die Gees sélf is nodig om dit in my hart te kom inbytel. Bid vir die Gees om dít te kom doen! Wat?! Bid vir die Gees om my van sonde te oortuig? Om my sleg te laat voel oor myself? Om my ellendig te laat voel? Wie wil dít nou doen? Wel, dit is wat die Gees se werk is – Jesus sê immers  in Johannes 16:8 dat die Gees sal kom om die wêreld te oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel. Deel van die werk van die Gees is dus om my die diepte van my sonde te leer raaksien. Om my ‘n skuldkompleks te gee?! Om my minderwaardig te laat voel?! Nee, gemeente, om vir my uitkoms te kan gee – want slegs hy wat deur die Heilige Gees die dieptes van sy eie ellende aandurf, slegs vir hom word die deur geopen na die hoogte van Golgota.  

Dit is ons tweede gedagte: die spieël van die Woord leer my wie ek is, in Christus…

 

2. Terwyl Adam, soos ons in die eerste punt gesien het, tiperend is vir die toekoms van ‘n sondigende en sterwende mensdom, terwyl Adam die tipe is van elke mens wat ná hom sou kom, is daar gelukkig ook nog ‘n ander verhaal wat vertel kan word. Ons sien naamlik hoe daar in Romeine 5:15 ‘n wending kom: “Maar…” Teenoor ‘die Misdaad’ stel Paulus ‘die Genadegawe’ – en weereens maak hy gebruik van personifikasie; hy stel ‘Misdaad’ en ‘Genadegawe’ as’t ware soos twee persone teenoor mekaar.

Die Sonde het die wêreld binnegekom as Misdaad en het die mens tot die dood toe verarm; die Sonde het ‘n beweging op gang gebring wat die dood na alle mense toe laat deurdring het. Maar nou gaan staan die Genadegawe teenoor die Sonde, en Hy oorspoel mense met ‘n oorvloed van verlossing en guns. Die genade van God, en die genadegawe wat bestaan in die een mens, Jesus Christus, oortref by verre die dood, wat deur die oortreding van die een Adam oor die mensdom gekom het. En hierdie Genadegawe kom nie op dieselfde manier die wêreld binne as die Sonde nie; die Genadegawe volg nie maar net dieselfde stroom van die sonde nie, die Genadegawe ry nie maar die golf van die sonde nie. Inteendeel, die Genadegawe gaan stroom-op! Hy roei teen die stroom van die veroordeling in, sodat dit uit baie misdade tot vryspraak kan kom (vers 16). Gemeente, hierdie vryspraak van God is ‘n oorweldigende protes-optog teen die Sonde: ja, dis waar, Adam het die stroom van sonde en dood in beweging gebring, maar God gaan dit keer! God gaan daarteen ingaan!

 

Ook vers 17 beklemtoon hierdie teen-beweging wat deur God op gang gebring is. In die eerste deel van vers 17 wil dit voorkom asof die dood onstuitbaar is; deur die oortreding van een mens het die dood koning op aarde geword. Die dood is die groot Einde van alle dinge, en niemand ontkom daaraan nie… Totdat God die teen-beweging op gang bring! Die teen-beweging van genade en van die geskenk van vryspraak. En wie hierdie geskenk ontvang, word opgeneem in die lewe van Christus – deur hierdie een Jesus Christus sal die gelowiges heers in die ewige lewe. Die sterwendes word nou lewendes, en dié wat oorheers is, word nou self heersers saam met Christus! Tot op die tyd van Jesus Christus het die Sonde en die dood hier op aarde geheers. Maar nou is dit tyd vir ‘n bewindsoorname, “sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here” (vers 21).

En dit is die wonder van genade, broers en susters: kinders van die dood, mense wat in sonde ontvang en gebore word, mense wat van nature opgeneem is in die onstuitbare stroom van verderf en dood, word deur God deelgemaak van die teen-beweging. Hulle word deur God oorgeplaas na die ander span – waar hulle aanvanklik in dieselfde span gespeel het as die Sonde, speel hulle nou téén die Sonde! Gelowiges word deel van God se massa-aksie teen die slawebande van die duiwel en sy ryk. En onder hierdie nuwe heerskappy van Jesus Christus ontvang ons die wonderlike boodskap: Ek reken julle jul verdorwenheid nie toe nie! Só leer artikel 15 ons: die erfsonde word die kinders van God nie tot verdoemenis toegereken nie maar deur God se genade en barmhartigheid vergewe.

 

Let wel, die erfsonde word nie totaal weggeneem nie! Ook in gelowiges bly die giftige bron steeds aan die werk. Of soos wat ons bely in DL, 5.1: “Hulle wat God na sy voorneme tot die gemeenskap van sy Seun, ons Here Jesus Christus, roep en deur die Heilige Gees wederbaar, verlos Hy wel van die heerskappy en slawerny van die sonde. Tog verlos Hy hulle in hierdie lewe nie heeltemal van hulle sondige natuur en bestaan nie.” Steeds is die erfsonde deel van ons bestaan, en hieruit – so leer die volgende paragraaf van hoofstuk 5 ons – ontstaan die daaglikse sondes van swakheid. In hierdie bedeling word ons nie vervolmaak nie, maar ons word wel vergewe! Geen perfeksionisme nie, maar wel barmhartigheid in Jesus Christus, onse Here! Dit was God se keuse dat hierdie giftige fontein steeds in ons aan die werk bly, ook al is ons bevry van die slawerny daarvan. En dit hou ons klein, dit dwing ons steeds weer terug na Christus. Elke keer wanneer uit die giftige fontein weer sondes voortkom, dan val ek op my knieë: “Here, wees my, arme sondaar, genadig.” Elke keer wanneer uit die giftige fontein weer sondes voortkom, dan bid ons om meer en meer vervul te word met die fontein van die water van die lewe. Elke keer wanneer uit die giftige fontein weer sondes voortkom, dan verlang ons na die tyd wanneer die giftige fontein sal opdroog, en ek volmaak sal word wat ek reeds is in Christus!

Ten slotte: die spieël van die Woord leer my wie ek is deur die Gees…

 

3. Ook in hoofstuk 6 begin Paulus deur die Sonde as ‘n persoon voor te stel, meer spesifiek as ‘n koning. En sy vraag in vers 1 is eintlik: moet ons, noudat ons ‘n nuwe identiteit in Christus gekry het, by koning ‘Sonde’ bly? Moet ons onder die heerskappy van koning Sonde bly? “Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?” In vers 2 sny Paulus hierdie opsie baie vinnig en duidelik af: in geen geval nie! Die lewe by en onder die Sonde is afgesluit. Christene behoort nie meer tot die ryksgebied van die Sonde nie. Hoe kan ons, wat dood is vir die sonde, nog in die sonde lewe? Ons is immers, volgens vers 3, gedoop in die dood van Jesus Christus. En deur hierdie doop word gelowiges aan Jesus Christus, die gekruisigde, verbind – sy dóód word ons doop! En deur hierdie onderdompeling in sy dood, word ons saam met Christus ook begrawe. Die doopwater is soos die mond van die graf wat homself open vir die dopeling. Die doop wat ons met die gestorwe Christus verenig, word ons seegraf hier op aarde.

Maar hoekom? Wel, gemeente, met die oog op ‘n ander lewe, ‘n nuwe lewe. ‘n Lewe saam met die Opgestane Christus, en deur die krag van die Gees. Die opstanding van Christus, wat op sy dood en begrafnis gevolg het, bring vernuwing van die lewe vir al sy volgelinge. En dan kan ons mos nie meer in die sonde lewe nie?

 

En, broers en susters, dit is die strekking van die waarskuwing in artikel 15: “God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie…” God se vergewing mag ons nie traag maak nie. Psalm 130, wat ons voor die preek saam gesing het, sê dit baie duidelik: “Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word.” Ja, dit is die doel van God se vergewing! Die gelowiges vind dus geen vermaak in die sonde nie. Dit kan ook nie, want ons harte is verander, ons lewensrigting het anders geword. Die ongelowiges, ja, hulle sal hoogstens een sonde verdring om dit weer met ‘n volgende te vervang – want hulle harte is verkeerd. Maar ons, wat in Christus nuwe harte ontvang het, wat in Christus die Gees in ons harte ontvang het, kan nie vrede maak met die sondes wat steeds uit die giftige fontein opborrel nie.

En, broers en susters, laat ons daarmee erns maak! Die giftige fontein gaan ons in hierdie lewe nooit heeltemal toegestop kry nie, maar intussen mag ons nie sê: “Laat maar uitborrel wat moet uitborrel” nie. Dit is hoekom tug een van die kenmerke van die kerk van Christus is – dat ons mekaar kan vermaan, mekaar kan aanspoor, mekaar kan oproep tot heiliging in Christus. Onderdruk die giftige fontein in jou, en help ook mekaar om dit te doen. En dit is nodig: want in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang! Maar dit is nie slegs nodig nie, dit is ook moontlik, want in Christus ontvang ek die geregtigheid, en in Christus ontvang ek die vergewing van my sondes.

 

Gemeente, Sakkie kan die erfsonde ontken met sewe helder-klinkende argumente, maar die geregtigheid in Christus ken hy verseker nie. Sakkie Spangenberg is ‘n berg van spanning, want hy weet nie van die vrede in Christus nie. Maar ek dank God wat aan my die waarheid oor myself bekend gemaak het, want sodoende buig ek my voor die wonder van die kruis. Genade, onbeskryflik groot, het God aan my bewys!

Amen

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 90:4, 5, 7 en 9

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 115:1 en 8

Teks: NGB art. 15

Wetslesing (ons wil nou luister na die wet van die Here, maar voordat ons dit doen, kom ons lees

eers saam art. 15 van die NGB, waaroor die preek van vandag sal gaan. Want daaruit word dit duidelik dat ons sondes teen die wet van God nie maar net sporadiese insidente is nie. Ons doen nie maar net hier en daar sondes nie; nee, ons is sondig! Al ons sondes teen God se wet vloei voort uit ‘n giftige fontein…)

Sing Ps. 51:2 en 3

Gebed

Lees:    Romeine 5:12-6:4

Sing Ps. 130:1, 2 en 4

Preek

Amenlied Ps. 86:1, 3 en 6

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 99:3-5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)