God se karakter word weerspieël in ons verlossing!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-08-28
Teks: 
NGB 20
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – NGB artikel 20; lees Exodus 34:1-7, 2 Korinthiërs 5:17-21

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Verlosser,

Het jy al ervaar dat iemand met die een hand iets vir jou gee, maar dit met die ander hand weer wegvat? Op een punt gee die minister van finansies verligting van belasting, maar op ‘n ander punt verhoog hy dit weer, sodat jy jouself afvra: maar het ek nou eintlik iets gewen? Die petrolprys gaan af, maar die tolgelde verhoog, sodat jy vir ‘n rit na Johannesburg uiteindelik nog net so baie betaal. Iemand belowe om jou te kom help met ‘n taak wat môre klaar moet wees, maar hy voeg by dat hy eers oormôre kan kom help – sodat jy uiteindelik nog steeds met dieselfde probleem sit.

Nou, op ‘n soortgelyke wyse voel dit asof God in Exodus 34:6 en 7 met die een hand gee, maar met die ander hand weer wegvat. Met die een hand gee Hy mildelik wanneer Hy Homself aan Moses bekend maak: “En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy (dus, die Here!) geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe…” Pragtig, alles wat God van Homself gee! Maar dit is asof Hy net daarna alles weer terugvat wat Hy gegee het: “… wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie.” Maar… as God die sonde nie ongestraf laat bly nie, wat help dit dan dat Hy dit vergewe? Wat beteken God se genade wanneer sy regverdigheid dit, vir ons gevoel, weer ongedaan maak?

En so beland ons, broers en susters, in die middel van die vraagstuk oor God se regverdigheid en sy barmhartigheid, en oor die verhouding tussen hierdie twee – en dit is waaroor ons vanaand saam wil nadink. Ek verkondig aan u die evangelie onder die volgende tema:

Tema: God se karakter word weerspieël in ons verlossing!

  1. Sy regverdigheid
  2. Sy barmhartigheid
  3. Sy oplossing vir die probleem van regverdigheid en barmhartigheid

 

1. Gemeente, daar was waarskynlik nog nooit so ‘n sterk wanpersepsie oor en ontkenning van God se regverdigheid as juis in ons eie tyd nie. En as ek praat van God se regverdigheid, dan gebruik ek dit in die betekenis van artikel 20, naamlik as God se straffende en wrekende regverdigheid oor die sonde! Hoe baie mense hoor ons nie in vandag se tyd nie, wat sê: “Ek glo in ‘n God van liefde...” Hoe dikwels hoor ons nie die verkondiging van hierdie goedkoop evangelie nie: “God is lief vir jou en het ‘n plan vir jou lewe…” Of mense wat sê: “die regverdige en straffende God is iets van die Ou Testament.” In feite is dít natuurlik niks nuuts nie – Marcion het dit in die tweede eeu ook alreeds gesê. Marcion wou ook niks met hierdie God van die Ou Testament te make hê nie. En hy was nog konsekwent ook – vanuit sy oortuiging het hy die hele Ou Testament verwerp as die boek wat gaan oor die regverdige en straffende God. En enige gedeelte van die Nuwe Testament wat iets laat blyk het van God se toorn en straf, het hy ook verwerp. Marcion het dus eenvoudig ‘n skêr gevat en God se straffende regverdigheid uit die Bybel weggeknip. En wat hy oorgehou het, was sy persepsie van ‘n liefdevolle God.

 

Broers en susters, die gesig van die Christendom vandag is vol van hierdie aversie en onverskilligheid teenoor God se regverdigheid. ‘n Mens sien dit op talle fronte… Dink maar net aan die soort christelike musiek wat in ons tyd so gewild is. Ek wil ons jongmense uitdaag om bietjie te gaan kyk hoeveel keer daar na God se regverdigheid verwys word in die ‘praise & worship’ musiek wat hulle sing – en vergelyk dít dan met die talle verwysings na God se regverdigheid in die Psalms (ons het alreeds ‘n paar daarvan gesing vanmiddag). Dink ook aan die prediking van ons tyd – in hoeveel preke of dagoordenkings waarna jy op RSG of Radio Pretoria luister, word daar nog gepraat oor God se regverdige straf oor die sonde? Watter saal- of dagopening by ons skole belig nog hierdie aspek van God se karakter?

En as daar vandag nog oor God regverdigheid gepraat word, dan is dit dikwels op ‘n totaal ander manier as wat die Skrif daaroor praat. Een van die mees populêre predikers van ons tyd, Joel Osteen, definieer God se regverdigheid as ‘die regmaak van die verkeerde’. Klink aanvaarbaar? Ja, maar wag tot jy na sy voorbeeld luister… Hy sê: “Ons kry deesdae baie te make met mense wat ‘n gebroke verhouding beleef het… mense wat onregverdig behandel is. Maar God se regverdigheid bly bestaan, Hy gaan op ‘n ander tydstip ‘n wonderlike persoon in jou lewe bring. Jy kan dit nou nog nie sien nie, maar jy gaan gelukkiger wees as ooit tevore. En dieselfde, só sê Osteen, kan natuurlik ook op finansiële gebied gebeur.” Is dít die bybelse beeld van God se regverdigheid, naamlik dat Hy alle onreg in my lewe gaan regmaak? Is dit ‘n kwessie van: ek is onregverdig behandel, maar God sal dit met sy regverdigheid kom regmaak? Is God my persoonlike nutsman?

 

Gemeente, Exodus 34 leer ons iets heeltemal anders. Exodus 34 leer ons dat God die ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie. ‘Ongestraf’ – hier word in die Hebreeus ‘n term uit die regswêreld gebruik, wat beteken ‘om vry te spreek’ of ‘om onskuldig te bevind’. Dus, die hemelse Regter is nie Iemand om die skuldenaar eenvoudig net vry te spreek of onskuldig te bevind nie. Die hemelse Regter is ‘n regverdige Regter, en sy regverdigheid, sy geregtigheid, eis dat die ongeregtigheid gestraf moet word. God se regverdigheid doen altyd wat reg is! En dit beteken dat dit téén God se karakter sou wees om die sonde en die ongeregtigheid – my sonde en my ongeregtigheid – eenvoudig onder die mat in te skuif; God sou nie meer God wees nie, as Hy vir my sou sê: “Jy is skuldig, maar weet jy, Ek gaan jou nog ‘n kans gee, Ek gaan jou oortreding hierdie keer oor die hoof sien.” Die dag as God dít doen, dan is Hy nie meer God nie.

God se regverdigheid is só ernstig en só werklik, dat wanneer die opstellers van die Kategismus in Sondag 4 die vraag stel: “Maar is God dan nie ook barmhartig nie”, dan lui die doodeerlike antwoord: “God is wel barmhartig, maar Hy is ook regverdig. Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat die teen allerhoogste majesteit van God gedoen is, ook met die swaarste straf gestraf moet word – dit is die ewige straf aan liggaam en siel.” Mý sonde eis dat ék moet betaal, en die straf korrespondeer met die sonde; die gewig van my sonde en die gewig van God se regverdige straf stem ooreen; die ewige straf aan liggaam en siel pas by die sonde teen die allerhoogste majesteit van God!

 

En daar staan ons dan met ons goedkoop evangelie van “God is liefde”. Daar staan ons dan met ons vrolike ‘halleluja-liedjies’: “Jesus min my…” Daar staan ons dan met ons kerklike aktiwiteite waarin ons die boodskap oordra: “Jy is spesiaal”, soos wat enkele weke gelede nog in een van ons kerke gebeur het. Nee, jy is nie spesiaal nie! Want as jy spesiaal was dan sou God vir jou ‘n uitsondering gemaak het, dan sou Hy jou spesiaal behandel het. Maar Hy doen dit nie! Selfs Job, daardie diep gelowige man, moet erken: “As ek sê: Ek wil my geklaag vergeet, my droewige gesig laat vaar, vrolik word, dan is ek al bang vir al my smarte: ek weet dat U my nie sal vryspreek nie…” (Job 9:27-29). En die digter van Psalm 143 weet dit ook wanneer hy die Here smeek om nie met hom na die gereg te gaan nie, want niemand wat leef is voor God se aangesig regverdig nie (Ps. 143:2).

Gemeente, voordat ons enigsins kan kom met ons “ja, maar’s” (ja, maar God is mos ook barmhartig… ja, maar Christus het mos vir ons gesterf…), laat ons dít vashou: ek het God se reg vertrap, en God wil nou hê dat daar aan sy reg voldoen moet word. Ek het skuld gemaak, en God wil hê dat daar betaal moet word! Moenie hierdie kant van God se karakter verontagsaam nie, en moenie daarvoor val wanneer ‘n deel van vandag se christendom dit verontagsaam nie. Ons dien nie God omdat Hy hierdie sagte teddie-beer God is wat altyd en onvoorwaardelike vir my liefbly, maak nie saak wat ek doen nie. Nee, luister mooi na die Hebreërskrywer in hoofstuk 12: “Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ‘n verterende vuur.” Dít is die rede wat die Hebreërskrywer aanvoer om God met eerbied en vrees te dien. God se vuur brand regverdig, en ek dien Hom met eerbied en vrees, want ek ken ook dáárdie kant van my God se karakter. En slegs wanneer ek dít verstaan, dan kan ek in verwondering iets verstaan van die diepte en die wydte en die hoogte van sy liefde en barmhartigheid!

Daarop let ons in die tweede plek: God se barmhartigheid.

 

2. Seuns en dogters, kan julle nog onthou wat net voor Exodus 34 gebeur het? Die volk is nog nie so lank uit Egipteland weg nie. Drie, vier maande? En skaars ‘n maand gelede het hulle nog die wet van die Here aangehoor, daardie indrukwekkende oomblik toe die Here uit die vuur en die donder vir hulle sy tien gebooie afgekondig het. Maar die Here se woorde het nog nie eens behoorlik weggesterf nie, of die volk besluit om vir hulle goue kalf te maak. Let daarop, gemeente, dat dit ‘n sonde is wat die Here nie ongestraf laat bly nie (presies wat ons hierbo gehoor het) – drieduisend man het daardie dag deur die swaard van die seuns van Levi geval (Ex. 32:28). Die Here is trou aan Homself. Hy is trou aan sy woord, ook in sy straffende regverdigheid! Ons het hier te make met een van die diepste geestelike laagtepunte in Israel se geskiedenis.

Maar nogtans, ten spyte van die feit dat God die sonde nie ongestraf laat bly nie, trek Hy Homself nie van sy volk af terug nie. Hy los nie maar net sy volk soos ‘n warm patat nie. Inteendeel, in plaas daarvan dat God Homself terugtrek, openbaar Hy Homself juis op ‘n nuwe manier aan Moses in die gedeelte wat ons saam gelees het. En Hy doen dit op ‘n baie besondere manier! Hy doen dit nie, soos op baie ander plekke in die Skrif, in die taal van die geskiedenis nie. Wat bedoel ek daarmee? Wel, as in die Bybel gepraat word oor wie God is, dan word dit dikwels gedoen met die taal van die geskiedenis: “Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland uit die slawehuis uitgelei het…” Of: “’n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde.” Wie die Here is, word dikwels beskryf met wat Hy gedoen het in skepping en verlossing. Maar hier in Exodus 34 hoor ons nie geskiedenistaal nie; nee, hier sê die Here self wie Hy ten diepste is; Hy laat Moses in sy hart kyk. En ons mag oor Moses se skouer saamkyk. Kom ons luister eerbiedig na wat die Here oor Homself sê…

 

HERE, HERE – dit is waarmee God die beskrywing van Homself begin in Exodus 34:6. Hy gebruik dus sy verbondsnaam, Jahwe. En Hy gebruik hierdie Naam, omdat wat Hy vervolgens oor Homself gaan sê, juis tot uiting kom in sy verbondsverhouding met mense, met sy volk. Dit is juis wanneer jy in liefdevolle verbondenheid met God staan, dat jy Hom leer ken vir Wie Hy werklik is.

En wat is dan die eerste wat God van Homself sê? Ek is barmhartig en genadig. Barmhartig – dit is ‘n woord wat in die Hebreeus te make het met die baarmoeder van ‘n vrou. Dit gaan hier dus oor die diep, warm gevoel van ‘n moeder vir haar kind. Die Here het die behoefte om aan sy volk veiligheid te gee, net soos wat ‘n moeder haar ongebore kind veilig in haar dra. So is die Here: moederlik liefdevol. En vervolgens is die Here ook genadig – daarin hoor ons die begeerte van die Here om die mens se lewe heel te maak. Die Here wil nie stukkend maak nie; nee, Hy wil herstel. Hy wil die goeie skenk. Barmhartig en genadig – dit is die heel eerste, dit is die mees tiperende van die Here.

Dan volg daar drie uitdrukkings wat eintlik aldrie in dieselfde betekenislyn lê. Lankmoedig – daarin hoor ons die woordjie ‘lank’; ja, dit duur lank voordat die Here kwaad word, voordat Hy in sy toorn uitbreek. Die Here het ‘n lang geduld. Verder is Hy groot van goedertierenheid en trou – dus, die Here is lojaal in sy liefde vir sy volk. God se liefde is nie af en aan nie, God se liefde blaas nie koud en warm nie. Die meeste mense kan ‘n slag liefhê – dis nie al te moeilik nie. En om vir ‘n rukkie lief te hê – dit werk ook nog, veral as die ander een jou liefde beantwoord. Maar God is uitsonderlik: Hy is trou in sy liefde, Hy hou vol. Nie een keer nie, nie twee keer nie, maar blywend, voortdurend. En is dit nie wonderlik, dat die Here dít juis op dáárdie oomblik sê nie?! Op dáárdie oomblik toe die volk sy liefde so gruwelik vertrap het met die maak van die goue kalf. Toe hulle eintlik verdien het om verwerp te word! Watter waarborg het Moses daarna gehad dat die Here nie by die volgende draai sou sê nie: “Weet jy, Moses, jy’s op jou eie, Ek is moeg vir hierdie volk”? Watter sekerheid het Moses gehad? Wel, luister na die Here se selfopenbaring: Ek is trou in my liefde – Ek hou vol! Ek bewaar die goedertierenheid vir duisende! En die Here kán dit van Homself sê, want “Ek vergewe die ongeregtigheid en die oortreding en die sonde.” Wat jou fout ook al mag wees, wat jou misstap ook al mag wees, die Here is trou in sy liefde, Hy vergewe mildelik.

 

Broers en susters, dit is ook Wie God is. Daar was aan die een kant sy regverdigheid, sy straffende regverdigheid, sy regverdigheid wat eis dat daar betaal moet word. Maar nou is daar ook híérdie karakter-eienskappe: barmhartigheid, genade, lankmoedigheid, goedertierenheid, trou, vergewingsgesindheid. Só wil Hy wees vir sy volk, vir sy kinders. Só wil Hy wees vir jou en my.

God se oplossing vir die probleem van regverdigheid en barmhartigheid.

 

3. Maar nou sit ons met ‘n probleem (en dit bring ons by ons laaste gedagte): hoe bring God hierdie twee nou bymekaar? Hoe is Hy én die regverdige God wat die sonde nooit ongestraf laat bly nie (en verstaan dit maar letterlik: God straf altyd die sonde), én die barmhartige en genadige God wat die sonde vergewe? Wat doen God om ons te oortuig dat Hy nie – soos die minister van finansies – met die een hand gee, en met die ander hand weer wegvat nie? Hoe bring Hy sy regverdigheid en sy barmhartigheid in harmonie met mekaar? Vir ons menslike gevoel gaan hierdie twee eenvoudig nie saam nie. En in die praktyk van ons lewe is dit vir ons ook baie moeilik om hierdie twee bymekaar te bring. As ek my kind gewaarsku het om iets nie te doen nie, en hy doen dit tog, en ek gee hom ‘n pak slae, dan is ek regverdig. Maar wat dan van die barmhartigheid? As ek, aan die ander kant, sy oortreding oor die hoof sien en hom net waarsku om dit nie weer te doen nie, dan is ek barmhartig. Maar waar is dan die regverdigheid? Dit is ‘n worsteling, nie waar nie? Maar, broers en susters, wat vir ons dikwels ‘n probleem is, is vir God nie ‘n enkele probleem nie.

En dit bring ons by die ondeurgrondelike geheim van God se karakter: in God is al sy deugde één! Tussen die verskillende deugde in God se karakter bestaan daar geen teenstrydigheid nie. Barmhartigheid en toorn, liefde en regverdigheid gaan by God sonder moeite saam. Sy reg is nooit sonder sy liefde nie, en sy liefde ook nooit sonder sy reg nie. Ja, God is liefde, maar sy liefde laat Hom nooit van sy regverdigheid ‘vergeet’ nie. En waarin wys God nou vir ons dat Hy hierdie probleem te bowe gekom het? Hoe bewys Hy dat hierdie twee in Homself sonder moeite versoenbaar is? Die antwoord is: in die Persoon en werk van ons Here, Jesus Christus! Sien u: God se karakter, waarin Hy volmaak regverdig en volmaak barmhartig is, 100% regverdig en 100% barmhartig – daardie karakter bring ons altyd uit by Jesus Christus, by die kruis op Golgota. Want wat het daar presies gebeur?

 

Wel, gemeente, in Hom kom God se regverdigheid en God se barmhartigheid op ‘n volmaakte wyse bymekaar. Wat binne God se karakater volmaak bymekaar pas, kom in Christus tot uiting. God het naamlik sy regverdigheid bewys toe Hy Jesus Christus in die eerste plek mens laat word – immers, die mens het gesondig, en daarom moet die mens vir die sonde betaal – en toe Hy vervolgens ook al ons sondes op Hom laat neerkom het. God het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak. Wat ‘n kragtige uitspraak, broers en susters! Jesus Christus was sondeloos, Hy was van oorsprong wit soos sneeu, Hy was volkome rein. Maar God máák Hom sondig – God laat Hom die sonde-kleed van die wêreld aantrek, God maak Hom vuil van die sonde. Hoekom? Sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom, en sodat ons met God versoen kan word.  

Regverdigheid en barmhartigheid in Jesus Christus – regverdigheid, want die sonde moet deur die mens betaal word, en dit wórd ook betaal deur dié mens, die mens by uitstek! En tegelykertyd barmhartigheid, want ék hoef nie te betaal nie, ék hoef nie die helse pyn en verlatenheid te dra nie. Christus het dit gedoen! En God reken my Christus se geregtigheid toe asof ek nooit enige sonde gedoen het nie. Regverdigheid en barmhartigheid – wat in mense-oë ‘n probleem is, word deur God opgelos in Jesus Christus. In Hom kom God se regverdigheid en barmhartigheid bymekaar. Só bly God die God wat Hy is (én regverdig én barmhartig), en ons kan word wat ons nie is nie: verlostes, nuwe mense! En daarom Paulus se oproep, een van die mees dringende en aangrypende oproepe in die Skrif: “Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: laat julle met God versoen” (2 Kor. 5:20). God soek die antwoord op sy regverdige barmhartigheid en sy barmhartige regverdigheid. Hy soek die antwoord van jou geloof! Hy wil hê dat jy jou regverdigheid in Christus sal vind.

 

En wie dít vind, wie werklik een word met Christus en in Hom God se regverdigheid en barmhartigheid leer ken, hy sal ook die wysheid ontvang om in die praktyk van die lewe regverdig én barmhartig op te tree. Die kuns van die omgang met mekaar, in besonder hier in die gemeente, is om vir mekaar iets te wys van hierdie goddelike kombinasie. Om in alle gevalle regverdig te wees, maar nooit as ‘n onverbiddelike reg waaruit die barmhartigheid verdwyn het nie. En om in alle gevalle barmhartig te wees, maar nie as ‘n slap houding waarin die regverdigheid ontbreek nie. As ons wil groei as gelowiges en as liggaam van Christus, dan moet ons – in ons verbondenheid met die Here Jesus – iets hiervan leer. Laat dit nie só wees dat ons God se regverdigheid en barmhartigheid in Christus leer ken, en vervolgens weggaan en mekaar behandel op die manier soos die onbarmhartige skuldeiser in Jesus se gelykenis dit gedoen het nie. Nee, laat God se handelswyse ons rigsnoer wees – regverdig en barmhartig. Kyk op na die kruis, sien dáár die volmaakte kombinasie van reg en liefde, en laat dit jou lei.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 97:1, 3, 6 en 7

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 100

Gebed

Lees:    Exodus 34:1-7 (spesifiek verse 6 en 7)

            2 Korinthiërs 5:17-21

Sing Ps. 99:3 en 5

Teks: NGB, artikel 20

Preek

Amenlied Ps. 143:1, 2, 4, 8 en 9

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Skr. 16:4 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)