Antieke aardrykskunde met 'n kraakvars boodskap

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-07-17
Teks: 
Rigters 2:1-5
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Rigters 2:1-5; lees Rigters 1:1-2:5

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Verlosser,

Die boek Rigters – dit lees amper soos ‘n sepie. Watter boeiende stories vind ons nie daarin nie. Wie van ons ken nie van kleins af die verhale van Simson met die lang hare, van Gideon met sy bende van driehonderd, van Jefta en sy arme dogter, van Jael wat Sisera met ‘n tentpen doodgemaak het nie… En tog weet ons as gelowiges en as kerk nie altyd wat ons met hierdie verhale moet doen nie. Ons lees dit graag, maar wat beteken dit presies vir my geloofslewe? Wat is die geestelike boodskap van hierdie verhale?  

Gemeente, die enigste manier hoe ons die betekenis van hierdie deel van God se Woord kan begryp, is om ‘n paar treë terug te staan en die boek Rigters nie in isolasie te beskou nie, maar te sien as deel van die hele Ou Testament in sy ontwikkeling na die koms van die Messias; dit is belangrik dat die boek Rigters sy plekkie sal kry in die groter geheel van die heilsgeskiedenis wat oppad is na Jesus Christus. Vanuit daardie breë perspektief kan ons vervolgens effens infokus, en die vraag stel: hoe sluit Rigters aan by die boeke net daarvoor? Wel, terwyl die boek Deuteromium homself afspeel aan die oostekant van die Jordaan waar Israel gereed maak om die beloofde land binne te trek, en Josua vir ons vertel van die eerste inname en verdeling van die land in ‘n soort blitzkrieg-styl, is die boek Rigters gemoeid met die proses waarin die onderskeie stamme nou elkeen hulle aangewese gebied moet gaan opeis en daarmee saam die heidense volke daaruit moet verwyder.

 

En tussen die lyne van hierdie proses, waarin die stamme elkeen hulle kleim in die beloofde land probeer afsteek, lees ons van die oer-ou boodskap van sonde en genade, van afval en verlossing – sonde en afval van die kant van die volk, genade en verlossing van die kant van die Here. En daarin lê vir ons die sleutel tot die verstaan: die God van Rigters is immers vandag steeds dieselfde, die volk in die tyd van die rigters toon baie ooreenkomste met die kerkvolk van vandag, en bo dit alles hang die kruis van Jesus Christus, ons Verlosser. In die boek Rigters was die kruis nog net ‘n belofte wat gewag het op vervulling, vandag is dit ‘n werklikheid. Ja, ons is verder as die volk in die rigtertyd – ons lewe ná Christus, ons lewe in die bedeling van die Heilige Gees – maar ons het die groot Rigter, Jesus Christus, nog net so hard nodig soos hulle. Laat ons op dié manier hierdie spannende boek ondersoek…

Tema: antieke aardrykskunde met ‘n kraakvars boodskap

  1. Die Here gaan voort
  2. Die agteruitgang word sigbaar
  3. Die bekering moet nog blyk

 

1. “En ná die dood van Josua…” – só lui die eerste woorde van die boek Rigters. Broers en susters, laat ons nie hieraan verbylees nie. Dit is nie sommer ‘n terloopse mededeling van die menslike skrywer waarmee hy hierdie boek op sy regte plek in die heilsgeskiedenis wil plaas nie; nee, dit is ‘n vingerwysing van die hemelse Outeur. En dit is nie die eerste keer dat Hy vir ons so ‘n vingerwysing gee nie. Blaai in jou gedagtes bietjie terug in jou bybel. Genesis, soos ons almal weet, begin met die skepping van nuwe lewe, volmaakte lewe. Maar kort daarna vind die sondeval plaas, en word die dood ‘n werklikheid.

En van daardie oomblik af volg daar as’t ware ‘n doodse refrein: ná Genesis begin Exodus met die dood van Josef, die boek Josua begin met die dood van Moses, Rigters begin met die dood van Josua, 1 Konings begin met die dood van Dawid… En jy sou hierdie punt selfs nog ‘n bietjie verder kon forseer as jy dit sou wou doen: 1 Samuel begin met die dood van Eli en sy seuns, 2 Samuel begin met die dood van Saul en Jonatan, en 2 Konings begin met die wegneem van Elia. Dis asof elke nuwe begin in die geskiedenis van God se volk gemerk word met die aardse einde van een van God se diensknegte.

 

Maar ten spyte daarvan – en dit is die wonderlike boodskap! – ten spyte daarvan dat elkeen van hierdie boeke as’t ware rondom die oop graf van ‘n vooraanstaande leier van Israel begin, lui die grafsteen nie: ‘hier rus die van die Koninkryk van God’ nie! God se Koninkryk sak nie inmekaar nie, selfs nie wanneer die dood God se mees bruikbare diensknegte kom wegneem nie. God se Koninkryk gaan onverpoosd voort, hoewel God se diensknegte sterf. En dít is die boodskap wat die boek Rigters rég aan die begin by sy lesers wil tuisbring. Josua het gesterf, maar die Here sê: “Kyk, Ek gee die land in Juda se hand” (vers 2). Josua het gesterf, maar “die HERE was met Juda, sodat hy die gebergte in besit geneem het” (vers 19). Josua het gesterf, maar die Here was met die huis van Josef (vers 22). Ja, die volk betree ‘n nuwe fase in hulle geskiedenis – elke stam moet sy aangewese grondgebied gaan opeis en die heidense volke daaruit verwyder. En hulle moet dit doen sonder hulle geliefde leier, Josua. Maar wie is Josua uiteindelik? Wie is Moses, wie is Josef of Dawid? Wie is Simson of Jefta of Gideon? Almal kwesbare mense, almal mense wat bestem is om te sterf. Maar bo wat wissel en vergaan, bly ewig God se rykstroon staan! Die Hére is by sy volk! En dit is ‘n punt wat christene, wat die kerk vandag nie uit die oog mag verloor nie. Ons hulp is in die Naam van die HERE, en nie in die naam van my gunsteling ouderling wat so baie vir my beteken het toe ek deur daardie moeilike tyd gegaan het, of in die naam van daardie predikant wie se preke so opbouend vir my geloof is, of in die naam van daardie christelike outeur of spreker wat my so inspireer nie. Nee, ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Die Heer is goed en wondersterk, Hy sal sy werk deur niks laat keer nie (Ps. 138:4 ber.)!

En dit gebeur alles, volgens ons teks, omdat die Here trou is aan sy verbond! Dit is die argument waarmee die Engel van die Here die volk in Bogim aangespreek het (2:1): “Ek het julle uit Egipte laat optrek en julle gebring in die land wat Ek julle vaders met ‘n eed beloof het, en gesê: Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie.” God se verbondstrou, sy betroubaarheid, sy onveranderlikheid, is die basis onder die voortgang van sy Koninkryk. Ook al is Josua nie meer daar nie, ook al val die helde een vir een, ook al is die res van die boek Rigters vervuil met uitsprake soos “die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here”, of “elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë”, nogtans gaan God voort! Wat ‘n vertroostende wete waar ons nou ‘n bybelboek begin lees waar ons die refrein van sonde en dood tot vervelens toe gaan aantref. Die bouwerk aan God se Koninkryk word nooit gekeer nie.

 

En, gemeente, hierdie is nie maar ‘n verstandelike teologiese stelling wat niks met my lewe te make het nie. Dis nie maar ‘n cliché sonder krag nie. Nee, die voortgang van God se Koninkryk vind plaas op grondvlak, reg in die middel van die lewe van God se kinders. Miskien het u die paar opmerklike episodes raakgelees wat in die loop van hoofstuk 1 ingeweef is; die outeur onderbreek doelbewus die gang van sy saaklike relaas om vir ons ‘n paar fasinerende stories te vertel. Stories wat vir ons wys hoe lewenseg en konkreet die Here sy Koninkryk voortlei. Probeer jouself vir ‘n oomblik in hierdie stories inleef…

Die eerste storie gaan oor Adoni-Besek – die Here het aan Juda die oorwinning gegee by Besek; Koning Adoni-Besek het vervolgens probeer wegvlug, maar hy word gevang en vermink. Die manne van Juda het sy duime en groottone afgekap. ‘n Weersinwekkende verhaal, in ons oë; jy het waarskynlik gegril toe ons dit gelees het. Maar Adoni-Besek self sien dit anders: “Sewentig konings met afgekapte duime en groottone het onder my tafel krummels opgetel: soos ek gedoen het, so het God my vergeld” (1:7) Sien jy, Adoni-Besek beskuldig nie God van wreedheid nie; inteendeel, hy getuig van God se regverdigheid. ‘n Skynbaar sinnelose episode kry skielik ‘n ryk betekenis: in die voortgang van sy Koninkryk is God nooit onregverdig nie! In die opbou van sy kerk doen God altyd wat reg is.

Die tweede storie het ‘n tikkie romanse daarin – die jong en dapper Otniël reken dat ‘n aanval op Kirjat-Sefer die risiko werd is as hy daardeur Agsa, Kaleb se dogter, as vrou kan verkry. En hy is suksesvol, sy droomvrou is syne! Agsa het egter ‘n duidelik eis: water! Kaleb, haar pa, moet vir die pasgetroude paartjie water gee. Enige Israeliet het immers geweet hoe belangrik water is. En water het hulle gekry – fonteine op die hoogte en fonteine in die laagte (1:15). Hier het ons te make met ‘n vrou wat ernstig was oor die erfdeel wat God gegee het, en ons het te make met ‘n God wat, in die groot geheel van sy Koninkryk, intussen nie vergeet om te voorsien in die lewensbehoeftes van elkeen van sy kinders nie.

 

Gemeente, fasinerende stories met ‘n diep geestelike inhoud wat vir ons wys hoe die Here in die voortgang van sy Koninkryk te werk gaan. Hy is ‘n regverdige God; Hy is ‘n liefdevolle, versorgende Vader. Ons kan Hom vertrou, werklik ons lewe aan Hom oorgee. Persoonlik, maar ook as kerk. Ons God is ‘n toevlug in die nood, ‘n rots wat altyd vas bly staan, al dreig die vyand met die dood, al storm sy leërbendes aan. Laat dan maar buig en beef al wat ons hier omgeef; laat berge uit hul stee wegwankel in die see – ons sal nie beef of rugwaarts gaan. Want die HEER wat van geen wankel weet nie, sal nimmers sy verbond vergeet nie…

En Jósua het gesterf, maar die Hére het gesê: Trek op, Ek gee die land in jou hand! Met daardie God mag ons ook vandag nog verder gaan. Juis vandag! Want Josua hét gesterf – Josua (Hebreeus), Jesus (die Griekse vorm van dieselfde naam). Ons Josua, Jesus Christus, het gesterf – en deur sy dood is die toekoms van die kerk seker. En daarom is dit ook so wonderlik dat, wanneer Josua sterf, dit juis Jesus is wat by Bogim die volk kom toespreek; in sy Ou Testamentiese gestalte van die Engel van die HERE is dit Hy wat sê: “Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie.” En daarom roem ons vandag in die dwaasheid van die kruis, want daarin lê die toekoms van die kerk, ten spyte van dood en sonde.

Maar, in die tweede plek, word ook die agteruitgang sigbaar.

 

2. Gemeente, veral die tweede gedeelte van hoofstuk 1 is van daardie soort Skrifgedeeltes wat ons maar liewer oorslaan. ‘n Mens hoor dit soms op huisbesoek as jy mense uitvra oor hoe hulle hul Bybelstudie vormgee: “Ons lees die hele Bybel deur”, sê sommiges, “behalwe nou die geslagregisters en al daardie lyste met plekname”, word dan dikwels bygevoeg. Heeltemal begryplik. En tog nie altyd tereg nie, want ook hierdie lyste met plekname is deel van God se Woord. Hier in Rigters 1 is nie ‘n gefrustreerde kartograaf aan die woord nie; nee, hier is ‘n prediker aan die woord. En die prediker bly hamer op dieselfde boodskap: hierdie en hierdie stam het so en so nie verdrywe nie. Nie minder nie as sewe keer word hierdie refrein herhaal (verse 27, 28, 29, 30, 31, 32 en 33). Wat ons hier het, is nie aardrykskundige droogheid nie, maar goddelike aanklag! Aanklag teen die agteruitgang van Israel, omdat hulle die nasies van Kanaan nie volledig uit die land verdryf het nie!

Maar hoekom was dit dan so belangrik? Vir praktiese redes? Ja, dit miskien ook. Israel het verseker in later jare die dwaasheid ingesien van die mislukking om Bet-Sean met sy onderhorige plekke te verdryf (vers 27), want dit was dié strategiese punt waardeur die hoofroetes van daardie gebied geloop het. Hulle was sekerlik spyt dat hulle Taanag, Jibleam en Megiddo nie onderwerp het nie, want dan sou Sisera se aanval in Rigters 4 waarskynlik nooit plaasgevind het nie. En Geser (vers 29) was ‘n baie belangrike basis wat nou ongelukkig in die hande van die heidene gebly het. Maar dit is nie waaroor dit vir die Here gegaan het nie, broers en susters. Die motivering om die Kanaaniete te verdryf was nie prakties van aard nie, maar geestelik! Die Here het Moses alreeds in Exodus 23 gewaarsku: “Hulle mag in jou land nie woon nie, dat hulle jou nie verlei om teen My te sondig nie. Want jy sal hulle gode dien, ja, dit sal vir jou ‘n strik wees” (vers 33). Die oorblywende Kanaaniete sou nie soseer ‘n militêre bedreiging wees nie, maar eerder ‘n geestelike kanker. Dít is waarom Israel die Kanaaniete, Hetiete, Feresiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete moes uitroei, hulle totaal moes elimineer. Dít is waarom hulle elke kerk en kapel, elke heiligdom en relikwie van die heidene moes verwoes en verbrand.

 

Natuurlik, die Here het toegelaat dat dit geleidelik sou gebeur. Lees maar Exodus 23:29 en 30: “Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes word en die ongediertes nie teen jou te veel word nie. Ek sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe, totdat jy vrugbaar word en die land beërwe.” Baie wys van die Here! Maar die geleidelikheid het nog nie die erns van die gebod opgehef nie: die heidene moes uitgeroei word! As Kanaan se heidense bevolking getolereer sou word, sou dit onvermydelik lei tot ondertrou – heidense seuns sou met Israelitiese meisies trou, en Israelitiese seuns met heidense meisies, en dan kan jy maar ‘totsiens’ sê vir verbondsgehoorsaamheid. Die sonde teen die tweede gebod sou deurwerk tot in die derde en vierde geslag, en die agterkleinkinders van die generasie wat nou die land binnegekom het, sou waarskynlik net vaagweg kon onthou dat daar op ‘n stadium ‘n God soos Jahwe was.

En daarom: in die refrein – “hulle het so en so nie verdrywe nie” – hoor ons die verbondsirene klink. Hier is verbondsongehoorsaamheid; ongehoorsaamheid wat in die res van die boek Rigters en in die geskiedenis van Israel ‘n vernietigende uitwerking sal hê. Ná die aanvanklike suksesse van Juda, begin die pogings om die heidense nasies te verdryf, al hoe minder ernstig word. O ja, dit lyk oënskynlik steeds asof Israel nie te sleg doen nie – hulle het beheer oor die grootste deel van Kanaan. Teen die einde van hoofstuk 1 is daar van ‘n krisis beslis geen sprake nie. Dis waar, hulle het die Kanaaniete nie heeltemal verdryf nie, maar hulle het hulle vir die grootste deel onder beheer. Maar intussen, gemeente, is Israel soos ‘n chirurg wat net ‘n deel van die kanker verwyder, want selfs kanker het mos die reg om te groei en ‘n plekkie onder die son te kry? En uiteindelik vind ons ‘n omgekeerde beweging wanneer Israel nie meer die heidene verdryf nie, maar die heidene vir Israel; lees maar vers 34: “En die Amoriete het die kinders van Dan die gebergte in gedruk, want hulle het hul nie toegelaat om na die laagte af te kom nie.”  

 

En so kom die beskuldiging van die Engel van die Here dan ook in hoofstuk 2:2 na die volk toe: “julle mag geen verbond met die inwoners van hierdie land maak nie; hulle altare moet julle omgooi. Maar julle het nie na my stem geluister nie. Wat het julle nou gedoen? So sê Ek dan ook: Ek sal hulle nie voor julle uit verdrywe nie, sodat hulle vyande vir julle sal wees, en hulle gode ‘n strik vir julle.” Die aanleiding tot Israel se verbondsongehoorsaamheid word die oorsaak van die verbondsvloek oor die volk. En die res van die boek Rigters is die bewys daarvan. Hierdie einste volke en nasies wat hulle nie verdryf het nie, word die struikelblok in hulle diens aan die Here. Lewe saam met die Kanaaniete, en kort voor lank aanbid jy saam met die Kanaaniete. Verdra Baal se mense, en vroeër of later buig jy voor Baal se altaar.

Gemeente, in God se Koninkryk moet ons met hierdie waarskuwing die grootste erns maak – persoonlik, maar ook as gemeente. Deur Jesus Christus, ons groot Rigter, het God vir ons ruimte gegee, lewensruimte, lewensvryheid, ‘n toekoms vir die kerk. Ons mag dit deur die geloof in Christus onsself toeëien. Ons mag dit ons eie maak. Maar dan beteken dit wel dat daar vir die sonde in ons lewe geen plek meer is nie. Ons kan nie die lewensvryheid wat Christus verdien het, onsself toeëien, maar intussen ook nog steeds ruimte maak vir die sonde in ons lewens nie. Dit mag nie gebeur nie! Ons kan nie sê dat ons christene is, maar intussen is daar sekere sondes in ons lewens wat ons maar ooglopend toelaat nie. En moenie dink dat jy sterk genoeg is om dit te hanteer nie, moenie dink “ek het dit mos onder beheer” nie. Gelowiges moet baie presies wees in hulle lewenswandel, baie noukeurig. Laat die verbondsirene jou wakker maak as daar tog sondes in jou lewe is wat jy koester en ruimte gee om te groei; laat dit jou aanspoor tot daadwerklike bekering. Kyk wat daar in jou lewe nog oor is wat nie daar hoort nie, en roei dit uit – wortel en tak!  

En natuurlik het ons hierin ‘n baie geduldige God – Hy verwag nie van ons dat dit alles in een slag moet gebeur nie. Maar die erns om vordering te maak, moet bly! Die geloof in Christus moet ons voortdryf in ons heiligmaking. Laat ons elke dag ‘n stukkie van die pad aflê, elke dag ‘n ietsie vorder op die pad van die Here. En wees verseker dat God met sy Gees by ons is om ons alle krag te gee wat ons nodig het.  

Ten slotte: die bekering moet nog blyk.

 

3. Die Engel van die Here het Israel van verbondsafval beskuldig en ook duidelik gemaak wat die oordeel is wat hulle sal moet verduur. Uit hoofstuk 2:4 wil dit voorkom asof die reaksie van die volk spontaan en oombliklik was: “terwyl die Engel van die HERE met hierdie woorde al die kinders van Israel toespreek, het die volk hulle stem verhef en geween.” Dit was een en al trane. Soveel trane dat hulle selfs die plék daarna vernoem het: Bogim (wat beteken: huilers, of tranedal). En die trane het aanleiding gegee tot offers. ‘n Mooi reaksie, tot op daardie stadium, dink u nie so nie? Dit is ‘n goeie teken as God se volk nog kan huil oor hulle sondes – dit kan maar meer dikwels in ons lewens gebeur.

En tog laat die teks ons in spanning. Daar is geen netjiese afsluiting nie; ons kry geen antwoord op die vraag: “Maar wat het volgende gebeur?” nie. Ja, hulle het gehuil en geoffer. Maar wat het dit uitgewerk? Die Engel van die Here se woorde het trane gebring, maar was daar nog iets meer? Was daar iets meer blywends as die trane? Die bekende Walliese prediker Martin Lloyd-Jones het ‘n slag gesê: “dit is maklik om ‘n Wallieser te laat huil, maar jy het ‘n aardbewing nodig om hom van gedagte te laat verander…” Het Israel werklik van gedagte verander? Dit sal nog moet blyk…

 

Maar laat óns onsself intussen ondersoek – ons reaksie op die Here se beskuldiging behoort méér te wees as natgehuilde oë; dit is goed om tot trane gedryf te word, maar dis beter om tot bekering gebring te word. Ons droefheid moet ons tot bekering bring, soos Paulus in 2 Korinthiërs 7 leer: “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding… Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God – wat ‘n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing.” Ons berou moet ons in beweging bring, gemeente, om die sonde wat in ons lewens uitgewys is ook werklik te gaan verander. Om die sondes wat aanleiding gegee het tot God se bestraffing, nou ook daadwerklik te verwyder.

En dit hoef ons nie alleen te doen nie. Die Engel van die Here is met ons! Josua Christus het die verbondseise volmaak vervul; Hy het gesterf vir ons verbondsongehoorsaamheid. Hy waarborg dat die verbond wat die Here met ons het vir ewig nie verbreek sal word nie. Gaan na Hom toe! Kom ons vind in Hom ons krag sodat ons die ware Israel mag wees, sonder dat ons onsself met die wêreld vermeng. Soos Johannes in 1 Johannes 5 vir ons leer: “alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin het as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?”

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 83:2-4

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 84:1 en 2

Lees Geloofsbelydenis

Sing Skr. 1:1

Lees: Rigters 1:1-2:5

Sing Ps. 106:15, 18, 19 en 20

Teks: Rigters 2:1-5

Gebed

Preek

Amenlied Ps. 9:3-5, 7 en 10

Wetslesing

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 138:1 en 4

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)