Ek deel nie my Christus nie!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-10-30
Teks: 
NGB 26
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – NGB, artikel 26; lees 1 Korinthiërs 1:10-2:5

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het gekom by die laaste artikel in die NGB wat handel oor Christus se middelaarswerk tot ons verlossing. Verlede week het die NGB hierdie eksklusiewe werk van Christus toegespits op ‘n baie spesifieke punt, naamlik die gevaar dat ons aan sekere seremonies en vorms wil vasklou en nie aan Christus alléén nie (artikel 25). Vanuit die stryd teen die Roomse prag en praal kon ons verstaan waaraan hierdie artikel sy ontstaan te danke gehad het, en hooplik het ons ook verstaan dat dit vir ons vandag nog net so relevant is. Nou, waar artikel 25 ons waarsku om nie aan seremonies en vorms vas te klou nie, waarsku artikel 26 ons om nie aan ménse vas te klou nie! Want ook dít is skynbaar ‘n gevaar waardeur die eksklusiwiteit van Jesus Christus bedreig word.

Tema: Ek deel nie my Christus nie!

  1. Moenie van mense te veel dink nie
  2. Moenie van Christus te min dink nie

 

1. Gemeente, net soos in die vorige artikel en soos in so baie ander artikels, is dit duidelik dat ons belydenis hier die stryd aangaan teen die Roomse leer – en in die geval van artikel 26 gaan dit spesifiek oor die Roomse leer van die aanroeping van die heiliges. Hierdie aanroeping van die heiliges wat reeds gesterf het, is in Rome nie maar net ‘n bykomstigheid nie, maar dit staan sentraal in die Roomse verlossingsleer. Wat Rome sê, is dat die heiliges oortollige goeie werke gedoen het. Die heiliges het dus so baie goeie werke tydens hulle lewe gedoen, dat hulle ná hulle dood ‘n oorskot daarvan het, ‘n surplus. Nou, hiermee kan die gelowiges wat nog op aarde lewe, hulle wins doen; hiervan kan die gelowiges wat nog lewe, profiteer. As jy die heiliges aanroep en vereer, dan kom húlle verdienste jóú ten goede. En daarmee is dan ook onmiddellik die oproep gegee: bid tot die heiliges, vereer hulle!

Nou, binne hierdie leer word die heiliges ook nog in verskillende groepe verdeel, en dit bepaal tot watter een jy jouself sal wend – st. George, byvoorbeeld, is die beskermheilige van Engeland, Willibrord is die heilige van Nederland, en st. Patrick is die beskermheilige van Kaapstad. Daarby het die mediese dokters ‘n spesifieke heilige – die heilige Lukas; die ingenieurs het die heilige Vergilius, en die onderwysers die heilige Cassianus. Verder help die heilige Blasius met keelsiektes en die heilige Apollonia help wanneer jy koors het. Enige Roomse webwerf wat sy sout werd is, sal vir jou ‘n uitgebreide lys kan gee van al die duisende heiliges. Maar, gemeente, hoe mooi hierdie leer ook al uiteen gesit is, uiteindelik is dit niks anders nie as ‘n verloëning van die enigste Hoëpriester, Jesus Christus. In plaas daarvan om in Christus álles te soek wat jy vir jou saligheid nodig het na liggaam en siel, word daar naas Christus nog ander verlossers gestel. En uiteraard sal Rome nooit beweer dat hulle op dieselfde vlak as Christus staan nie, maar tog doen hulle afbreuk aan Christus en sy werk. En Christus deel nie sy volmaakte werk en die eer wat Hom daarvoor toekom, met enige iemand anders nie. Christus alleen, solus Christus – só het Luther en Calvyn en ander reformatore teenoor Rome bely! En só bely ons dit vandag nog steeds!

 

Maar, gemeente, hoewel die Roomse verering van heiliges vir ons klink na iets uit ‘n ander wêreld en ‘n ander tyd, tog is daar ‘n onderliggende gevaar aan hierdie heilige-verering wat nie uniek is aan Rome nie. En dit is die gevaar van persoonsverheerliking, die gevaar dat ons rus en sekuriteit in sekere persone soek – en dit is ‘n gevaar waarvan geen mens vry is nie. In elk geval was die gemeente van Korinthe nie vry van hierdie gevaar nie. Sommer vroeg in sy eerste brief alreeds moet Paulus die Korinthiërs baie ernstig hieroor vermaan. Hy het naamlik te hore gekry dat daar in die gemeente van Korinthe ernstige twiste is; twiste wat te make het met groepsvorming.

Verskillende groepe in die gemeente het hulleself met spesifieke persone geassosieer, terwyl daardie persone sélf dit nie wou gehad het nie. Die een het homself aangebied as ‘n volgeling van Paulus, moontlik omdat Paulus die eerste was wat die evangelie in Korinthe verkondig het en daarom beskou is as die stigter van die gemeente. ‘n Ander het verklaar dat hy aan Apollos behoort, waarskynlik omdat Apollos, Paulus se opvolger in Korinthe, ‘n baie begaafde spreker was. ‘n Derde het Cefas – oftewel Petrus – nagevolg, waarskynlik omdat Petrus die gerespekteerde woordvoerder van die apostels was, en deur baie beskou is as die hoof van die kerk. En dit lyk of ‘n vierde persoon homself aangebied het as deel van een of ander Christus-party.

 

En dan stel Paulus aan hierdie verskillende groepe ‘n klompie retoriese vrae wat daarop gerig is om te wys dat hierdie verdeelheid onmoontlik is in ‘n liggaam wat net een Hoof het, naamlik Jesus Christus! * Is Christus verdeel? Dus, kan elke groep in die gemeente ‘n stukkie van Christus opeis? Kan die Hoof opgedeel word? Dit kan mos nie wees nie?! * Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Hoe groot die agting vir Paulus ook al was, niemand in die gemeente sal wil beweer dat Paulus aan die kruis gesterf het om hulle van hul sondes te verlos nie. * Of is julle in die naam van Paulus gedoop? Die doop, wat ‘n teken is dat jy nou die eiendom is van die een in wie se naam jy gedoop is, kan mos nie beteken dat die Korinthiërs nou aan Paulus behoort nie? Nee, hulle is mos gedoop in die Naam van Jesus Christus, en daarom behoort hulle aan Hom om vir Hom te lewe! Hulle is Christene, nie Pauliniste nie!

 

Paulus wys vir die Korinthiërs dat hulle Christus se eer van Hom af wegneem wanneer hulle hulleself op dié manier met spesifieke persone assosieer. Wanneer hulle identiteit as gelowiges deur mense bepaal word en nie meer deur hulle verbondenheid met Christus nie, dan verskeur hulle daarmee Christus. Dan sê hulle daarmee eintlik: ons kan nie doen met ‘Christus alleen’ nie! Ons het nog iets anders nodig; meer nog: ons het iemand anders nodig. Hier het ons dus, net soos verlede week, te make met ‘n ‘Christus +’ – Christus + Paulus, of Christus + Apollos, of Christus + Petrus. En as dít is waarna ons soek, dan moet Christus die roem, wat eksklusief aan Hom behoort, met sondige mense deel. En daarvan sê Paulus aan die einde van hoofstuk 1: “Nee, dit kan nie! Dié wat roem, moet in die Here roem.” Aan die einde van hoofstuk 3 kom Paulus weer daarop terug, wanneer hy in feite dieselfde stelling maak, maar dan net in ‘n negatiewe vorm: “Laat niemand dan op mense roem nie…” (1 Kor. 3:21)

Want wat beteken dit wanneer jy op mense roem? Wat doen jy dan eintlik? Wel, broers en susters, Paulus suggereer dat dit uiteindelik beteken dat jy jouself die eiendom van daardie persoon maak, jy plaas jouself in sy mag, jy word sy slaaf. Maar dit is eenvoudig nie waar nie, sê Paulus dan vervolgens in hoofstuk 3:21, “want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Cefas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge – alles behoort aan julle.” Paulus sê in feite: julle is nie van my nie; nee, ek is júlle s’n, ek staan in júlle diens! En dieselfde geld van Apollos en Cefas. Julle, Korinthiërs, is nie húlle eiendom nie, maar hulle is julle s’n. Hulle is júlle dienaars, want hulle kom bedien julle in al julle geestelike behoeftes, hulle kom bedien julle met die evangelie van Jesus Christus.

Daar is uiteindelik net Een aan wie julle behoort: aan Jesus Christus (só sluit Paulus af in hoofstuk 3:23: “maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God”)! En is dit nie presies wat ons so pragtig in Sondag 1 van die Kategismus bely nie: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Dat ek na liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.” “Want – sê Paulus in Romeine 14:8 – as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”

 

En wie beter om aan te behoort, broers en susters? Is daar enige mens – lewendig of dood – aan wie jy jouself kan oorgee soos aan Jesus Christus? Nee! Want, vra artikel 26, wie het groter liefde vir ons as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog vyande was? Het jy al ooit so ‘n liefde onder mense gevind? Het jou predikant of ouderling al ooit soveel liefde aan jou bewys soos wat sigbaar word aan die kruis op Golgota? Is hier iemand in die gemeente wat daardie liefde kan nadoen, wat bereid is om sy of haar lewe vir jou oor te gee? Of, vra artikels 26 verder, wie het meer mag en aansien as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het? Kan die kerkraad regkry wat Jesus Christus gedoen het en steeds doen? Kan enige lidmaat, ook al is hy ‘n skatryk besigheidsman of ‘n invloedryke persoon in die samelewing, hier in die gemeente wonders verrig? Het hulle die mag om hier op aarde sondes te vergewe? Kan hulle jou lewe vernuwe – het hulle die mag om harde harte sag en ontvanklik te maak? Of, vra artikel 26 ten slotte aan die einde van die eerste paragraaf, wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God? Kan ék jou middelaar wees waardeur jy weer met God versoen word? Kan daardie wyse, ou broeder bewerk dat jou gebede verhoor word? Is enige broeder of suster jou skakel na die hemelse troon?

 

Sien jy hoe naby die gevaar van artikel 26 nou aan ons kom? Dit gaan in artikel 26 nie net oor die reformatoriese leer versus Rome nie; nee, dit gaan oor die leer van die Skrif wat my aan my eie hart ontdek. Want ons is net so geneig soos Rome om in die kerk aan mense vas te klou, om ons vertroue op mense te plaas, om van mense afhanklik te wees, in plaas daarvan om Christus volledig in die geloof te omhels! Miskien wil jy graag huisbesoek ontvang van hierdie spesifieke ouderling en nie van daardie een nie; jy steun dalk op hierdie spesifieke ouderling omdat hy al so baie vir jou beteken het, en jy kan jouself nie voorstel dat hy nie meer by jou op huisbesoek gaan kom nie. Miskien is jy baie bly dat hierdie ouderling vanoggend verkies is, of dalk is jy baie teleurgesteld dat daardie een nie verkies is nie. Miskien is jy teleurgesteld as hierdie predikant preek, maar as daardie een preek, eet jy alles wat hy sê vir soetkoek op sonder om te toets wat hy sê. En wat van diegene onder ons wat altyd na dieselfde christelike outeur gryp, met die gevaar dat sy of haar mening as absolute waarheid aangehang word – wat sê Van Bruggen, wat sê Calvyn, hoe Skrifgetrou beide ook al mag wees? Of wat van die gewoonte wat sommiges het om nie self die Skrif te bestudeer en na Christus te soek nie, maar elke keer na die dominee te gaan, want hy sal sekerlik weet – ek verseker u vandag dat dit nie die geval is nie… Of dalk is ons een van daardie mense wat rustigheid het wanneer ons weet dat hierdie een of daardie een op die kerkraad is – dan weet ons ten minste dat die dinge goed sal gaan. Of as daardie een maar net nie uit die kerk uit weggaan nie? Of wat gaan die gemeente doen as hy of sy nie meer daar is nie?  

 

En dit beteken nie, gemeente, dat ons geen respek hoef te hê vir die heiliges wat reeds ontslaap het nie. Dit sou teen die Skrif wees, wat ons juis oproep om ons voorgangers te gedenk (Hebr. 13:7). En dit beteken nie dat God nie deur ‘n sekere ampsdraer, of deur ‘n wyse lidmaat groot invloed in jou lewe kan uitoefen nie, of dat Hy nie ‘n sekere outeur of spreker kan gebruik om jou gedagtes te vorm nie. Ons weet almal van beter – hoeveel lewens is nie al verander deur ‘n wyse woord van ‘n mede-broeder of -suster nie? Hoeveel harte is nie al aangegryp deur ‘n liefdevolle besoek van ‘n ouderling nie? Hoeveel jong lewens is nie al gevorm deur die kategese van ‘n predikant nie. Nee, gemeente, ons mag die Here dankbaar wees vir die voorbeelde wat Hy in daardie gelowiges aan ons gegee het. Ons mag hulle trou voor oë hou en ons mag hulle geloof navolg.

Maar ook al sou hulle almal van my af weggeneem word – ook al verloor ek ouers, geloofsgenote, ouderling, predikant – Christus is en bly my enigste toegang tot die Vader. Hy het die Goddelike en die menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê. Hy is ons eksklusiewe middelaar! Hy is die waarborg dat die Vader na my gebede luister! Moet daarom nie na ander middelaars soek nie, moenie aan mense vasklou nie. Moenie dat mense die laaste sê het in jou geloof en lewe nie. Moenie te veel van mense dink nie, ook al is hulle hoe gelowig – daarmee doen jy jouself én hulle geen diens nie! Nee, ons het Christus as ons enigste voorspraak! En Hóm deel ek met niemand anders nie!

In die tweede plek: moenie van Christus te min dink nie.

 

2. Rome het natuurlik ‘n baie goeie argument ten gunste van die verering van die heiliges, veral vir die verering van moeder Maria, wat volgens hulle die heiligste van al die heiliges is. En hulle argument is dat Jesus Christus ‘n baie streng Regter is, en dat ons vanweë ons sondigheid totaal onwaardig is om direk tot Hom te nader. Daar bestaan ‘n skildery uit die tyd van die Middeleeue waarin Christus en Maria elkeen as’t ware op die rand van die hemel sit. Vanaf die aarde loop daar vervolgens ‘n leer na Christus sowel as na Maria. Langs beide lere probeer daar baie mense boontoe klim. Maar diegene wat probeer opklim met die leer wat na Christus toe lei, val van skrik weer af wanneer hulle naby Hom kom, terwyl diegene wat met die Maria-leer opklim, vriendelik ontvang en deur haar na Jesus begelei word. Nou, hierdie skildery weerspieël baie goed die Roomse argument vir die verering van heiliges – wie is ons, wie is ek om direk na Jesus te gaan? Ek is totaal onwaardig! En daarom gaan ek deur die heiliges; hulle is my voorspraak by Jesus Christus.

 

Nou, broers en susters, natuurlik is dit in sy algemeenheid waar dat ek onwaardig is om tot God te nader, niemand wat dit sal ontken nie. Ook Paulus ontken nie ons onwaardigheid wanneer hy aan die Korinthiërs skryf nie. Inteendeel, hy erken baie duidelik dat die Korinthiërs nie baie wyse is nie, nie baie magtiges nie, nie baie edeles nie. En sy konklusie in vers 29 is daarom ook dat geen vlees voor God kan roem nie. Ons is onwaardig, dis waar! Hoe ervaar ons dit nie, hoe ken ons dit nie vanuit ons eie lewe nie. En tog val die Nederlandse Geloofbelydenis nie vir hierdie Roomse argumentasie nie; lees maar die eerste reëltjie van die tweede paragraaf: “Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie…” En dit is nie omdat die NGB ons onwaardigheid ontken nie, maar dit is omdat die NGB ontken dat ons onwaardigheid die laaste woord het!

Daar is méér om te sê, God se Woord stop nie baie ons onwaardigheid nie. Inteendeel, ons onwaardigheid is die direkte aanleiding vir die evangelie, vir die goeie nuus van verlossing deur Jesus Christus! En dit is ook waarby Paulus in 1 Korinthiërs 1:30 uitkom: “Geen vlees mag voor God roem nie. Ja, dis waar! Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” Christus het dus ons wysheid geword, broers en susters, en wat behels daardie wysheid? Daardie wysheid behels geregtigheid (dus, dat die verhouding met God weer herstel is), dit behels heiligmaking (dus, dat ons lewens vernuwe word na die beeld van God) en dit behels verlossing (dus, dat ek vry is om vir God te lewe). Sien jy, my onwaardigheid het nie die laaste woord nie; Jesus Christus het die laaste woord! Ek kom nie na God op grond van my waardigheid nie, maar op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof! En Paulus neem homself daarom ook voor om niks anders aan die Korinthiërs te verkondig nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde!

 

Dit mag daarom baie vroom klink om te sê: “Ek kan nie deur Christus na God toe kom nie, want ek is só sondig. My sondes is te groot!” Maar as dit die laaste is wat jy sê, dan mag dit hoe vroom klink, maar dit getuig van ‘n gebrek aan vertroue (só sê artikel 26). Dan ontken jy daarmee dat God vir jou onwaardigheid ‘n volmaakte oplossing gegee het, dan ontneem jy daarmee Christus die eer vir die werk wat Hy aan die kruis volbring het! Dan sê jy daarmee uiteindelik: Christus kan my nie red nie! En net soos in die eerste punt is jy besig om in die plek van Jesus Christus iemand anders te stel: hierdie keer jouself! Christus +, Christus en ek, waarby die ‘ek’ die sentrale posisie begin inneem. Jy word die norm vir wat Christus kan doen. En uiteindelik ontaard dit sodanig dat jy weereens in Roomse vaarwaters beland: ek moet dan maar ‘n bydrae lewer, ek moet harder probeer, ek moet ‘n beter mens wees… voordat ek Christus kan aanvaar.

Gemeente, met behulp van drie aanhalings uit die Hebreërbrief doen die NGB geweldig baie moeite om vir ons duidelik te maak watter soort Middelaar en Verlosser ons het, en probeer ons belydenis ons daarvan oortuig dat ons niemand anders nodig het nie as slegs Jesus Christus. Ons het, volgens Hebreërs 4, ‘n hoëpriester wat ons swakhede ken, wat weet deur watter versoekings ons moet worstel. Jesus weet waardeur jy gaan, broer en suster, want Hy was self ook daar! Behalwe dat Hy nooit enige sonde gedoen het nie, en daardeur het Hy vir ons die toegang tot die hemel verdien. En die oproep is dan ook: kom met vrymoedigheid! Ook die tweede aanhaling uit Hebreërs (Hebr. 10) praat van hierdie vrymoedigheid – dit is ‘n vrymoedigheid deur die bloed van Jesus Christus; deur sy bloed mag ek in die heiligdom ingaan, mag ek tot God nader in my gebede. Hoe belangrik sonde-besef ook al is, nooit mag my sonde-besef groter wees as die werk van Jesus Christus nie; nooit kan my sonde die deur na die hemel toemaak wat Christus oopgemaak het nie. En die derde Hebreër-aanhaling (Hebr. 7) verseker ons daarvan dat ons hoëpriester ‘n ewige hoëpriester is, sodat ons nooit bekommerd hoef te wees dat sy verdienste ooit ‘n vervaldatum sal bereik nie.

 

Broers en susters, geen mens mag ooit Christus se plek inneem nie. Ook mag my eie ek nie Christus se plek inneem nie. Nee, Christus alleen! Niks en niemand anders nie! En vir wie in Christus alleen glo, is daar geen gebedsverhindering nie. Geloof in Christus alleen laat my lewe en bid onder ‘n oop hemel. Wie in geloof sy oë ophef, sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan. Wat ‘n wonder om so te mag bid in die Naam van Jesus Christus. Moenie dat enige iemand jou fokus van Hom aftrek nie.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 75:1, 2, 4 en 6

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 98:2 en 3

Gebed

Sing Geloofsbelydenis

Teks: NGB, art. 26

Lees: 1 Korinthiërs 1:10-13, 1:30-2:5, 3:21-23

Kollekte

Sing Ps. 8:5 en 6

Preek

Amenlied Ps. 146:1-3

Gebed

Slotsang Ps. 146:6-8

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)