Sal Hy die geloof op die aarde vind?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2011-12-11
Teks: 
Lukas 18:8b
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Lukas 18:8b; lees Lukas 17:20-18:8, Lukas 1:5-17

 

Geliefde gemeente,

Dit was stil in die huis van Sagaria en Elisabet. Nie rustig-stil nie; nee, eerder hartseer-stil. En die stilte is nie iets van gister of eergister nie; nee, die stilte hang al daar vir baie jare. Want toe Sagaria en Elisabet nog jonk was, het daar nooit kinderstemmetjies in hulle huis weerklink nie. En noudat hulle oud is, is daar nooit ‘n seun of ‘n dogter wat kom kuier nie. Ag, hulle het so lank en so dikwels gebid vir ‘n kind – immers, kinders is mos ‘n gawe van die Here; Hy moet dit gee. Maar helaas… Hulle het gebid, maar daar het niks van gekom nie. So het hulle jeug verby gegaan, en hulle het ouer en ouer geword. Uiteindelik was die vrugbare jare agter hulle; nou was dit nie meer sinvol om vir ‘n kind te bid nie.

Broers en susters, hoe dink u het Sagaria en Elisabet hierop gereageer? Hulle kon natuurlik maklik verbitterd geword het: “Wat beteken God eintlik as Hy tog nie na jou gebede luister nie?” En tog is dit nie hoe hulle reageer nie. Inteendeel, Sagaria en Elisabet is eerder deur hierdie beproewing gelouter. Hulle het gegroei in geloof en in liefde. Hulle het nie van God af weggegroei omdat hulle nie hulle sin gekry het nie. Nee, ondanks alles het hulle God bly vertrou. Hulle het geweet dat ‘n lewe sonder God nog baie erger sou wees as hulle huidige lewe sonder kinders. En daarom het hulle hartseer hulle juis nader na God toe gedryf. Want as hulle die Here nie gehad het nie… As hulle die belóftes van die Here nie gehad het nie…

En só het God in Sagaria en Elisabet se lewens gewerk, en het Hy hulle lewens gebrei en gevorm – sodanig dat Lukas in hoofstuk 1:6 van albei kan getuig dat hulle regverdig was en volgens al die gebooie van die Here gewandel het. Dis waar, die lewe het nie opgelewer wat húlle daarvan verwag het nie – soos wat maar dikwels die geval is. En tog het Sagaria en Elisabet nie die spoor byster geraak nie. Terwyl hulle lewe stadig maar seker agteruit gegaan het, terwyl hulle liggame stadig maar seker deur ouderdom afgetakel is, het God daarvoor gesorg dat die geloof steeds soos ‘n kers in hulle lewens bly brand het. En daagliks het die rokie van hulle gelowige gebede na die hemel toe opgestyg. Nee, vir ‘n eie kind het hulle nie meer gebid nie, maar vir daardie ander Kind het hulle bly bid!

---------------

Toe, op ‘n dag, moes Sagaria weer gaan diens doen in die tempel. Ja, sowel Sagaria as Elisabet was afkomstig uit die geslag van die priesters, en daarom moes Sagaria gereeld tempel toe gaan vir sy ampswerk. Hierdie keer is dit egter nie ‘n gewone diensbeurt nie, want Sagaria word deur die lot aangewys om tydens die uur van die gebed in die heilige van die tempel in te gaan en daar wierook op die reukofferaltaar te gaan brand. Normaalweg het dit tweemaal ‘n dag gebeur – tydens die uur van die oggendgebed, en tydens die uur van die middaggebed. Op daardie oomblik het die volk dan in gebed in die voorhof neergekniel, terwyl die priester namens hulle binnetoe gegaan het met die brandende wierook, wat ‘n simbool was van die gebede wat na God in die hemel opstyg. En hierdie keer was dit Sagaria se beurt… Dit was ‘n baie spesiale oomblik in die lewe van enige priester, want hierdie geleentheid het jy hoogstens een keer in jou lewe gekry. Nog nooit voorheen het Sagaria die voorreg gehad om in die heilige deel van die tempel in te gaan nie. Maar vandag mag hy die voorhangsel, wat die voorhof en die heilige van mekaar geskei het, versigtig wegskuif en ingaan.

Terwyl Sagaria egter besig is om die wierook op die altaar neer te lê, word hy skielik verskrik deur die aanwesigheid van iemand anders in die heiligdom. Daar staan ‘n engel, die engel Gabriël. Hoewel die gelowige Sagaria geensins aan die bestaan van engele getwyfel het nie, is hy nogtans verskrik. En wie sou nie wees nie?! Maar die engel stel hom dadelik gerus – hy het immers nie gekom om skrik te maak nie, maar om verrassende en wonderlike nuus te bring. Want die groot uur van verlossing het aangebreek! Die gebede is verhoor! Ja, vir eeue lank alreeds buig die volk hulleself op die tempelplein neer om te bid – elke oggend en elke middag. Vir eeue lank alreeds styg die gebedsrook op na God – elke oggend en elke middag. En dit gebeur te midde van alle sonde en ellende om hulle heen; dit gebeur terwyl vyande die volk se vrede bedreig; dit gebeur te midde van ‘n sekulêre Griekse kultuur wat kinders en ouers van die Here af wegtrek; dit gebeur terwyl kinderloosheid en siekte en dood voortwoeker, en terwyl besetenheid hoogty vier in Israel.

 

Ja, gemeente, die toestand van God se volk op daardie oomblik is só ellendig, só stukkend! Êrens in Betesda lê daar nou al vier jaar lank ‘n siek man, en dit is maar goed dat hy op daardie oomblik nie geweet het dat hy nóg vier-en-dertig jaar daar sou lê nie (Joh. 5). Êrens anders in Israel word daar ‘n seuntjie gebore wat blind is – gelukkig weet sy ouers op daardie stadium nog nie dat hy later in sy lewe as bedelaar by die tempelpoort sou moes sit nie (Joh. 9). Êrens in Galilea loop ‘n seun van sy ouerhuis af weg om sy geld met slegte vriende deur te bring – om maar Jesus se gelykenis te gebruik. En te midde van al hierdie ellende en gebrokenheid het daar daagliks gebedsrook vanaf die altaar opgestyg. Hoekom?! Het dit enige sin gehad? Het daardie gebede enige verandering gebring? Getuig Sagaria en Elisabet se lewe van enige werklike verandering as gevolg van hulle daaglikse gebede? Was hulle lewe nie eerder ‘n aaneenskakeling van onverhoorde gebede nie?

Gemeente, dit is hoe dit moontlik met die eerste oogopslag mag lyk. Maar dan kom bring Gabriël die goeie nuus dat God  oppad is om in hierdie versteurde en stukkende lewe van sy volk in te kom. En weet jy wat is nou die wonder? God kom na sy volk toe via die poort van die gebed! Wanneer God die eerste teken aankondig van sy naderende koms in en deur Jesus Christus, wanneer God die adventstyd bekendmaak, dan sluit Hy doelbewus aan by die gebede van die gelowiges! Die gelowige gebede van sy volk vorm die aanknopingspunt vir die adventsaankondiging!

Is dit nie opmerklik nie? Moes Gabriël nie eerder na die Sanhedrin of die Joodse Raad toe gegaan het nie? Hulle was mos die hoogste gesagsliggaam in Israel in daardie dae. Of moes hy nie dalk na die Fariseërs toe gegaan het nie? Hulle was immers die mees noukeurige gelowiges van daardie tyd. Maar nee, die engel kom basuin die goeie nuus nie uit voor die leiers van die volk nie, hy kom verkondig dit nie op die strate van Jerusalem nie.

 

Inteendeel, stil-stil kom God via die engel Gabriël na Sagaria, en Hy kom fluister die boodskap as’t ware in sy oor. In die stilte van die heiligdom kom vertel hy dit aan daardie een gelowige priester. Hoekom juis daar? Hoekom in daardie stilte waar die volk in elk geval nooit gekom het of mag gekom het nie? Wel, gemeente, die engel kom vertoon homself in die heilige van die tempel, omdat juis dáár die reukofferaltaar – die altaar van die gebede – gestaan het. Só beskryf  Lukas dit ook vir ons in vers 11: “hy het aan die regterkant van die reukofferaltaar gestaan.” Dít is waaroor dit gaan, op hierdie plek moet dit plaasvind. Langs die altaar van die gebedsoffer, met hierdie heerlike en bemoedigende woorde: “Moenie vrees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor” (Luk. 1:13). Advent – die naderende koms van Jesus Christus – is werklik gebedsverhoring! Kersfees is God se direkte verhoring van eeue se voortdurende gebede van die gelowiges.  

------------

Máár, broers en susters, as die Seun van die mens kom, sal Hy nog steeds híérdie geloof op die aarde vind? So klink Jesus se dringende vraag in Lukas 18. Sal Hy steeds hierdie biddende geloof en hierdie gelowige gebed aantref, soos wat ons dit by Sagaria en Elisabet aangetref het? Sien u hoe die Here Jesus baie jare later – in Lukas 18 – as’t ware teruggryp op hierdie gebeure rondom die reukofferaltaar? En sien u hoe Hy hierdie gebeure, deur middel van sy vraag in ons teks, aktueel maak vir óns vandag? Vir ons – want Jesus stel hierdie vraag ná sy geboorte, ná sy koms in die krip. Hy stel dit vir almal wat ná Kersfees lewe, Hy stel dit vir óns! So maklik kan ons tydens die Kerstyd terugkyk, en onsself verwonder oor die Here se verhoring van eeue se gebede, sonder om werklik in ons eie lewe geraak te word; so maklik loer ons oor ons skouer en verheug onsself oor die aankondiging van Christus se advent in Betlehem, sonder om te besef dat ons vandag weer voor ‘n núwe advent staan, ‘n nuwe aankoms. ‘n Advent wat net so ingrypend, indien nie nog ingrypender, is nie!

Ja, Sagaria en Elisabet en ontelbare ander gelowiges het biddend gewag op die koms van die Messias, en God het hulle op sy tyd verhoor met die geboorte in Betlehem. Maar hoe gaan ons om met die koms – met die advent – van Christus op die wolke? Ons vandag, ons is verbý die eerste advent, ons wag en ons bid nie meer vir die geboorte van ‘n kind nie. Ons bid nie meer vir die koms van die Christus-kind nie; inteendeel, ons vier die féés van die Christus-Koning! “Al was ek nie daar nie, ek weet dit is waar, die krip en Maria met die kindjie by haar… Al kan ek Hom nie sien nie, tog weet ek Hy’s daar, omdat ek God se liefde in my lewe ervaar.” So sing ons vandag. Maar, broers en susters, tog staan ook óns, net soos die gelowiges van die ou verbond, voor ‘n advent, die volgende advent, die volgende koms van Jesus Christus… En hoe gaan ons daarmee om? Hoe gaan ons om met die wederkoms van Jesus Christus op die wolke – dít is die erns van Jesus se vraag in die lig van Sagaria en Elisabet se gebede.

--------------

Wel, gemeente, die verhaal voorafgaande aan Jesus se vraag, wys vir ons die weg. Dit is ‘n eenvoudige verhaal, ‘n gelykenis wat ons sonder groot moeite kan verstaan. Daar was eendag ‘n regter. Hy was nie ‘n aangename man nie. In sy lewe en in sy regspraak het hy geen rekening met God gehou nie. Ook met die mense om hom heen het hy vrede gehad, hulle kon hom nie traak nie. As hy hulle sake behandel het, dan was hulle vir hom maar net nommers, gevalle. En dit het hom min geskeel wat hulle van hom gedink het.

In dieselfde stad was daar ook ‘n weduwee, een van die swakkeres in die samelewing. Wanneer ‘n weduwee, op watter manier dan ook, onreg aangedoen is, dan was sy aangewese op die regter in haar stad. Hy moes aan haar reg verskaf, hy was eintlik haar enigste beroepingsinstansie. Nou, dit is presies wat met hierdie weduwee gebeur het – wát die onreg was wat haar aangedoen is, weet ons nie. Maak ook nie saak nie, sy gaan na die regter. Wat egter wel van groot belang is, is dat hierdie regter weier om haar saak in behandeling te neem, hy weier om reg te spreek – hy gaan nie sy tyd mors op haar onbenullige saak nie.

Maar hierdie weduwee laat haar nie so maklik afskrik nie. Die volgende dag staan sy weer op sy voorstoep, en die dag daarna weer. Sy hou aan! O nee, dit is nie so dat sy voorbarig of brutaal is nie; moontlik is sy selfs bang vir hierdie regter. Sy probeer hom ook nie met geld omkoop nie, en sy skakel ook nie vriende in om hom van gedagte te laat verander nie. Moedig gaan sy self, elke keer weer. Sy hou nie op nie: “Doen reg aan my teenoor my teëparty.” Met verloop van tyd groei daar by hierdie onbeskofte regter vrees en frustrasie; hy is bang dat die weduwee hom eendag te lyf sal gaan en hom blou-oog sal slaan (die woord wat die regter hier gebruik, is ‘n term uit die boks-wêreld). En daarom gee hy uiteindelik toe: “Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen…” (vers 4 en 5). Is die uitkoms van hierdie gelykenis nie pragtig nie, gemeente? Hierdie weerlose weduwee is uiteindelik tog sterker as die onbeskofte regter! Sy het geen wapens om hom te dwing om haar saak in behandeling te neem nie, maar sy het een ding: sy het geduld, sy het volharding. En dít gebruik sy! En op dié manier dwing sy die onregverdige regter om ten einde laaste aan haar reg te verskaf.

 

Ja, gemeente, ons is as gelowiges, as kerk, soos hierdie weduwee. As volgelinge van die verwerpte Christus word daar vir ons geen plek hier op aarde gegun nie. Ons is die swakkes in hierdie wêreld, ons is die vervolgdes, die verwerptes. Ons is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie (1 Kor. 1:26). En verder het ons ook geen wapens om in hierdie ellendige toestand verandering te bring en reg te verkry nie. Al wat ons het, is die onophoudelike gebed tot God dat Hy aan ons reg moet verskaf. Laat ons daarvan gebruik maak! Laat ons, net soos die weduwee, nie ophou bid vir reg nie. Moenie ophou nie! Nee, dit beteken nie dat ons brutaal en voorbarig moet wees nie, maar ons mag knaend wees! Op julle mond, eis van My vrymoedig!

En onthou: by God bid ons nooit tevergeefs nie.

En presies hier vind ons dan ook die kontras van die gelykenis…

Want die aardse regter was ‘n sondige, ellendige mens wat homself gedra het asof hy ‘n god is. Die hemelse regter, daarenteen, is die heilige God, maar wat nogtans nooit Hy onverskillig omgaan met mense en hulle reg nie. Vir die aardse regter was die hulpbehoewende weduwee onbelangrik, maar voor God is biddende gelowiges werklike persone wat sy volle aandag kry. Vir lank was die weduwee se versoek onontvanklik by die aardse regter, maar God bekommer Hom oor elkeen wat Hom dag en nag aanroep in hulle gebede. As die onregverdige regter uiteindelik tog maar moes toegee, sou die liefdevolle God dan nie vinnig optree ten behoewe van sy kinders nie? Ja, broers en susters, Hy sal verseker hoor, Hy word nie moeg om ons aan te hoor nie en Hy sal ons nooit verbied om Hom aan te spreek nie. Waar die onregverdige regter kort van draad en ongeduldig was, het God altyd tyd vir ons. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie? Wat vir die weduwee ‘n bekommernis was (“sal hy ooit aan my reg doen?”), is vir die gelowiges nie eens ‘n kwessie nie: God sal verseker en spoedig aan ons reg doen. Bly net gedurig bid en moenie moedeloos word nie – dit was, volgens vers 1, die doel van hierdie gelykenis. Moenie ophou bid nie!

 

Maar, gemeente, dáár lê nou presies Jesus se bekommernis, en daarom sluit Hy ook sy gelykenis af met hierdie baie persoonlike en dringende vraag: wie sal bly glo? Wie sal aanhou bid? Wie sal volhard in gelowige gebed vir die wederkoms van die Seun van die mens? Ja, dit is die spesifieke konteks van Jesus se gelykenis en die daaropvolgende vraag in ons teks: in die laaste gedeelte van hoofstuk 17 het dit immers gegaan oor die koms van die Koninkryk. Daar wys Jesus vir sy dissipels hoe dit sal gaan by die koms van sy Koninkryk – Hy wys vir hulle dat sy Koninkryk nie met groot vertoon sal verskyn nie, maar skielik en onberekenbaar sal aanbreek. En die tyd wat die koms van die Koninkryk sal voorafgaan, sal wees soos die tyd van Noag voor die sondvloed, vol dreiging en ondergang. In hierdie krisistyd is die kerk soos die weduwee van die gelykenis – ‘n verdrukte weduwee wat smeek om reg. Die kinders van God honger en dors na die geregtigheid, hulle hunker na die volkome verlossing, wanneer die druk verwissel word met geluk.

Maar ons sien nog so min daarvan. Dit duur so lank. Ons is ‘n verdrukte kerk wat van alle kante bedreig word deur die voortwoekerende kanker van die sonde in hierdie wêreld. As kerk moet ons van die kant van die wêreld geen reg verwag nie. En dan kan dit ontsaglik moeilik word om te bly bid; hoe langer ons in die swaarkry van ons tyd vasgevang word, hoe moeiliker word dit om te bly bid. Dit is so maklik om moedeloos te word; dit is so maklik om onsself maar saam met die wêreld oor te gee aan eet en drink en trou. En die Here Jesus verstaan dit! Hy ken ons gebede om verlossing van siekte en sorge, van moedeloosheid, van swakheid, van onreg wat ons aangedoen word, van eensaamheid, van sondes in die kerk. Hy weet hoe ons soms verslap in ons gebede; Hy weet hoe ons dalk aanvanklik aanhoudend gebid het, maar hoe daar met verloop van tyd ‘n soort verslaenheid en gebedsmoegheid oor ons gekom het. Hy sien ook ons luiheid – ons het dit dalk so goed in die wêreld, dat ons nie eens meer weet hoekom ons moet bly bid vir die reg van die kerk nie. Ons het ophou bid vir die wederkoms van Christus, want ons het geword soos die mense in die dae van Lot: ons eet en drink, ons koop en verkoop, ons plant en bou… en ons het dit goed (17:28).  Jesus weet van dit alles…

 

En daarom sy dringende vraag aan elkeen van ons vanmôre: Sal Ek, by my wederkoms, geloof op die aarde vind? Ken jy die weduwee se roep om reg, dag en nag? Is dit ook jou roep tot God? Roep jy dit uit tot God wanneer jy die wêreldnuus gesien het, of wanneer jy berigte van siekte of dood ontvang het? En snags, wanneer die nood van die kerk en die wêreld jou wakker hou – stuur jy jou gebede op tot God? Ken jy die gebedsworsteling van die kerk? Hoor dan die woord van die Here Jesus: “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie…? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen.” Christus verseker ons: God hoor! En met hierdie versekering wek Hy ons op om te volhard in die gebed.

---------------

Broers en susters, hoe word dit advent in ons lewens? Deur ons christelike aktiwiteite? Deur ons reformasie-pogings? Deur ons lewensheiliging? Nee, slegs deur gebed. In gebed kniel ons neer voor die Heilige God. Wat anders is daar in ons lewens wat ons voor God kan bring en die wederkoms kan bespoedig? Nie so baie nie. Maar as daar uiteindelik niks anders oorbly nie as die gebed om vergewing en verlossing, die smeking om herstel en vernuwing, dan is dit juis hierdie swakheid van die mens waaroor God Hom wil ontferm. En dit is dan ook presies die rede hoekom die Here Jesus die vraag stel of die Seun van die mens nog wel geloof sal vind wanneer Hy terugkom – en dan bedoel Hy met geloof: biddende geloof. Die Here vra nie of Hy ‘n bloeiende wêreldkerk sal aantref nie. Hy vra ook nie of Hy suksesvolle en perfekte christene sal aantref nie. Maar Hy vra wel of daar nog geloof sal wees, soos die geloof van die weduwee wat nie opgehou het om by die regter aan te klop met die versoek om aan haar reg te doen nie.

 

Ja, gemeente, namate die tyd van die ou verbond verbygegaan het, het dit al hoe duideliker geword dat Israel nooit in hierdie wêreld sou oorleef nie. Die volk het weggesink in betekenisloosheid. En dieselfde was die geval in Sagaria en Elisabet se persoonlike lewens – soos wat hulle lewe verbygegaan het, het dit hoe langer hoe leër vir hulle geword. En so is dit vandag nog steeds. Namate die tyd van die nuwe verbond verbygaan, raak die chistendom meer en meer verswak deur verdeeldheid en ongeloof. En hoeveel kinders van God is daar nie wat gebuk gaan onder aanvegting, kinderloosheid, seerkry en dood nie? Ons word oud daarmee – net soos Sagaria en Elisabet.

Maar God gebruik hierdie beproewinge om ons te louter, sodat daar uiteindelik niks anders oorbly nie as opgehewe hande en die aanhoudende gebed. Wat oorbly, is net geloof. Wanneer daardie klein vlammetjie bly brand in lewens wat vir die res heeltemal afbrand soos ‘n kers, dan sal God ons nie verniet laat lewe nie. Hy sal daarvoor sorg dat alle onvrugbaarheid, alle seerkry en hartseer, alle verlies en dood – dat dit alles nie die laaste woord in ons lewens het nie. Hy ontferm Hom oor sy biddende kinders deur sy Seun te stuur – aanvanklik om Homself te verneder vir ons sondes, maar binnekort om hemel en aarde te vernuwe tot een groot fees van vrede, vrugbaarheid, volmaakte verhoudings en blydskap.

Dit is wat Gabriël aan Sagaria belowe: “Hy sal blydskap en verheuging vir jou wees!” Volhard in die gebed, broers en susters, want by God is dit die moeite werd. Ook al kom dinge hier op aarde nooit meer reg nie, in God se toekoms sal alles regkom. Die onvrugbare Elisabet wat, na jare se gebede, tóg ‘n kindjie mag ontvang, is ‘n teken in die nag. God kan woestyne in bloeiende tuine verander. Hy sal ‘n gevalle en sterwende wêreld verander in ‘n heerlike paradys. Want – só sê Jesaja in hoofstuk 9 van sy profesie – ‘n kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee. En die heerskappy is op sy skouer. En ons noem Hom: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van Gabriël se God sal dit doen! Wat soos ‘n droom van Jesaja gelyk het, word die werklikheid van Jesus! Moenie ophou om daarvoor te bid nie! Amen

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Skr. 20:1-3

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 92:1 en 2

Wetslesing

Sing Skr. 20:4, 5, 7 en 8

Gebed

Lees:    Lukas 1:5-17

            Lukas 17:20-18:8

Sing Ps. 141:1 en 2

Teks: Lukas 18:8b

Preek

Amenlied Ps. 123

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 74:8, 15 en 16

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)