Slegs in die vryheid is daar ruimte vir die gebondenheid

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-01-22
Teks: 
NGB 32
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – NGB, artikel 32

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Afgelope Maandagaand was daar ‘n vergadering van die twee gemeentes – Maranata en Pretoria – saam met afgevaardigdes van ons Nederlandse susterkerke rondom ontwikkelinge in Nederland. ‘n Mooi geleentheid om met mekaar verder te praat! Nou sal waarskynlik die meeste van ons erken dat daar inderdaad kommerwekkende ontwikkelinge in ons susterkerke is; baie van ons broeders en susters in Nederland erken dit self ook. Gevolglik was daar ook goeie rede om vrae aan die Nederlandse deputate te stel… En tog het enkele van die vrae my ietwat verbaas. Vrae oor, byvoorbeeld, die kleredrag wanneer lidmate Sondae kerktoe kom, vrae oor die gebruik van ander musiekinstrumente in die eredienste, vrae oor die spesifieke aandag vir kinders in die eredienste… Asof – en dis waarskynlik nie hoe die vraagstellers dit bedoel het nie, maar dit is wel hoe dit oorgekom het – asof hierdie sake vir ons deurslaggewend geword het vir regsinnigheid of vrysinnigheid!

 

Ek het vanoggend netjies aangetrek; die meeste van u ook, sien ek. Verder gebruik ons eintlik maar net die orrel hier in ons midde; ons het selfs ‘n nuwe orrel aangeskaf omdat die ou een nie meer deug nie. En daarby sou ek dit nie waag om tydens die preek ‘n vraag vir die kinders te stel om deur hulle beantwoord te word nie. Maak dit alles my regsinnig? Maak dit ons gereformeerd? Nee, maar natuurlik gaan dit nie daaroor nie, sal u sê. Nou goed, maar dan bly die vraag: wat is die gewig wat ons toeken aan ons kerklike gebruike óf ons kerklike afkeure? Hoe deurslaggewend is dit vir ons?

U ken die verhaal in Rigters 12, waar dit gaan oor Israel wat, as gevolg van ‘n onderonsie kort tevore, die manne van Efraim by die rivier-driwwe voorgekeer het; as enige iemand wou deurgaan dan moes hy ‘sjibbolet’ sê. As hy ‘sibbolet’ gesê het, volgens die dialek van Efraim, is hy summier doodgemaak. Sjibbolet – presies so en nie anders nie! – was dus die wagwoord, hierdie uitspraak was deurslaggewend. Nou, broers en susters, wat is óns ‘sjibbolet’? Wat is vir ons deurslaggewend vir ons kerk-wees? Wat maak dat ek vir u aanvaarbaar is, en u vir my? En so het ons in die middel van artikel 32 van die NGB beland…

Tema: slegs in die vryheid is daar ruimte vir die gebondenheid!

  1. Die christelike orde
  2. Die christelike tug

 

1. Gemeente, reëls en orde is goed, dit is nodig. Dit geld vir ‘n gesin, dit geld vir ‘n besigheid, dit geld vir die regering, vir ‘n skool, vir ‘n sokkerklub of posseëlvereniging, maar dit geld net so goed vir die kerk van die Here. Ons hoef glad nie verontskuldigend te wees oor die feit dat ons ‘n kerkorde het nie, ons hoef ons nie te skaam vir die ‘reëls’ van die kerk nie. Want sonder reëls, sonder ‘n bepaalde orde, sal geeneen van die samelewing-strukture, wat ek sopas genoem het, oorleef nie. En enige iemand wat vanuit ‘n hedendaagse vryheidsgevoel wil maak asof reëls vreemd is aan die kerk en beperkend is vir die lewende geloof, wat wil maak asof die Heilige Gees los is van enige orde, is self ongeestelik besig.

Want dit is nie Wie ons God is nie! Ons hoef maar net terug te gaan na daardie allereerste begin (Genesis 1) om te sien dat God verseker óók ‘n God van orde is – die skepping in sewe dae, met elke dag sy eie, unieke ontwikkeling, getuig immers van baie goeie beplanning. En daarby het God ook binne die geskapene ‘n duidelike orde aangebring: daar was plante wat saad gee volgens hulle soorte, bome wat vrugte dra volgens hulle soorte, seediere en voëls volgens hulle soorte, vee en wilde diere volgens hulle soorte. God het nie maar blindelings en voor die voet geskep nie; nee, daar was orde en beplanning, die geskapene is duidelik geklassifiseer en gekategoriseer.

 

En nou is dit opmerklik dat Paulus, in sy brief aan die gemeente in Kolosse, hom presies híéroor verbly. Hoe weet ek dit? Wel, hy sê in hoofstuk 2:5: “… ek verbly my om julle goeie orde te sien.” Nou, die Griekse woord wat Paulus hier gebruik vir ‘goeie orde’, is taksis, en dit is waarvan die Afrikaanse woord ‘taksonomie’ afgelei is. Taksonomie – nie die vaagste benul wat dit beteken nie (toemaar, jy is waarskynlik nie die enigste nie). Maar die woordeboek sê vir ons dit is die leer van die sistematiek, taksonomie dui op ‘n sisteem van rangskikking en klassifikasie. En nou sê Paulus sowaar: “Ek is so bly om dít by julle te sien!” Ongelooflik, nie waar nie, dat Paulus hom nou oor so iets kan verbly…

Maar oppas, gemeente, dit is nie maar net ‘n koue orde waaroor Paulus hom verbly nie, hy is nie maar net bly om te sien dat die Kolossense ‘n boekie op die rak het waarin hulle opgedateerde kerkorde staan en waarin die liturgie tot op die letter uitgewerk is nie; nee, hy verbly hom oor die orde van die Kolossense se gelóóf! Ons vertaling is op hierdie punt effens verwarrend. In ons vertaling staan daar naamlik: ek verbly my om julle goeie orde te sien… én die vastigheid van julle geloof – asof die orde een ding is, en die vastigheid van die geloof ‘n totaal ander ding. Maar letterlik staan daar: “ek verbly my om te sien die orde en vastigheid van julle geloof.” Die orde verwys dus direk na die geloof. Paulus is bly om ‘n bepaalde orde in die geloof van die Kolossense te sien, om te sien dat hulle as gemeente ordelik in die geloof staan. Geloof is ordelik!

 

Maar voordat jy nou terugsit en dink: “goed, ek het die punt: die geloof is ordelik”, en jy jouself vervolgens voorneem om opnuut die Kerkorde te gaan bestudeer sodat jy goed kan weet wat die reëls is wat ons in die kerk moet nakom… wag eers! Ons moet naamlik nog ‘n bietjie verder gaan. Want ons is nog nie daar nie, ons het nog nie by die kern uitgekom nie. Paulus sê nog meer; hy sê: ek verbly my om te sien die orde en vastigheid van julle geloof in Christus! Ja, nou is ons by die kern, broers en susters – Jesus Christus! Hy is die begin en die einde van alle ordelikheid van die geloof! Sonder Hom is ware orde in hierdie lewe nie moontlik nie! Jesus Christus bring orde in die lewens van chaotiese mense; Hy bevry hulle van die chaos van die sonde.

Ons sien dit pragtig in die gedeelte wat ons saam uit Lukas 8 gelees het. Want het jy mooi na hierdie besetene se lewe gekyk? Hier het ons nou waarlik ‘n wanordelike man, ‘n deurmekaar mens, iemand wat deur die duiwels tot ‘n lewe van chaos gedryf is. Sonder klere het hy daar rondgeloop en sy tuiste gevind in die plaaslike begraafplaas. Die onreine gees het hom oral saamgesleep, en enige poging van die stadsbewoners om hom met kettings en voetboeie tot orde te bring, was tevergeefs. U ken die verhaal: ná ‘n kort gesprek dryf Jesus die duiwels in ‘n trop varke in wat vervolgens van die krans af in die see storm en verdrink. Wanneer die verskrikte wagters daarna stad toe vlug om te gaan vertel wat gebeur het, kom die inwoners uit om dit met hulle eie oë te sien. En wat vind hulle? Hulle vind die besetene aan die voete van Jesus, gekleed en by sy verstand. Hy is gereed om Jesus te volg!

Sien u, gemeente, hierdie man is deur die Here Jesus bevry! Letterlik bevry van die bose geeste wat hom in hulle mag gehad het en wat sy lewe so deurmekaar gemaak het. En dit is danksy hierdie nuwe vryheid dat daar orde in sy lewe kom, dit is hierdie vryheid wat hom bring tot gehoorsaamheid aan sy nuwe Meester. Die eertydse dorpsgek word met sy hele hart en verstand ‘n volgeling en ‘n getuie vir Jesus Christus… gekleed en al. En dit is nie maar net ‘n mooi verhaal waaroor ons ons moet verwonder nie; inteendeel, broers en susters, hierdie gebeurtenis bied aan ons die roete-beskrywing hoe om orde in die geloofslewe te verkry, dit verskaf aan ons die padkaart in ons soeke na ‘n ordelike gemeentelike lewe.

 

As ons orde en vrede in die gemeente wil verkry, dan moet ons ons vertrekpunt neem in die bevrydende evangelie van Jesus Christus, dan moet ons begin met die vryheid! En dit klink snaaks in ons ore, want is vryheid nie juis die teenoorgestelde van orde nie? Staan evangelie en wet nie eerder teenoor mekaar nie? Nee, gemeente, juis in Christus kom die ware orde, die hemelse orde, weer op sy regte plek. Let wel, die ware orde, nie die menslike orde nie, nie die kettings en die voetboeie waarmee ons mekaar sonder sukses probeer bind nie – en dit is presies waarteen artikel 32 van die NGB ons waarsku. Hierdie artikel leer ons dat daar niks mee verkeerd is om ‘n bepaalde orde in die kerk in te stel en te handhaaf nie, maar moet dit nie los van Jesus Christus probeer doen nie. Moenie los van die evangelie – van die vryheid! – met die kerklike orde en reëls probeer werk nie, want op dié manier kry jy allerhande menslike wette en versinsels waardeur gewetens gebind en gedwing word. Moenie los van die evangelie met ons Kerkorde probeer omgaan nie, want dan word die Kerkorde ‘n dwangbuis, dan word ons knegte van die letter en is ons nie meer instrumente van die Gees nie.

En as u dan werklik so graag volgens die letter van die Kerkorde wil werk, goed, dan gaan ek volgende week ‘n klomp gesange opgee om in die erediens te sing, want dit is waarvoor ons Kerkorde in artikel 67 ruimte bied. Maar ek gaan dit nie doen nie – nie omdat ek gebonde is nie, maar omdat ek vry is om die evangelie aan u te bedien. Slegs by daardie evangelie en in die vryheid wat daardie goeie nuus ons bring, kan ons saam die orde vind wat Christus vir sy kerk bepaal het. Saam voor ons Koning vind ons die weg van gehoorsaamheid. Want dát daar ‘n orde is, is seker – Christus is geen reëllose, ordelose vrybuiter nie. Hy is die Heer van die kerk, wat nie gekom het om die wet en die profete te ontbind nie, maar om dit te vervul (Mt. 5:17). Luister daarom na Hom! Maar luister ook nét na Hom, en moenie toelaat dat jou eie voorkeure en ons kerklike tradisie tot norm verhef word nie. Laasgenoemde is nie gehoorsaamheid nie, ook al mag dit so voorkom.

 

Dit is dan ook Paulus se oproep in die tweede helfte van Kolossense 2: “As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? – almal dinge wat bestem is om te vergaan – volgens die gebooie en leringe van mense, wat, alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees” (Kol. 2:20-23). Sien u, weereens redeneer Paulus vanuit Christus: “as julle dan saam met Christus gesterf het…hoekom word julle dan nog deur al hierdie mensgemaakte reëls gebind?” Christus bepaal ons kyk op die orde in die kerk, en deur sy bevrydingswerk word mense van harte gehoorsaam! Op geen ander manier nie.

 

En hier is ‘n spesifieke woord aan die regeerders, die ampsdraers, op sy plek. Dít is immers die konteks waarbinne artikel 32 staan – in hierdie gedeelte van die NGB gaan dit oor die regering van die kerk. En so begin artikel 32 dan ook: “ons glo verder dat die regeerders van die kerk…” Nou, broeders ampsdraers, wees gewaarsku deur hierdie artikel. Moenie herders wees wat aan die skape klippe vir brood gee nie. Moenie wees soos die skrifgeleerdes en die Fariseërs wat op die skouers van die mense swaar pakke gebind het, terwyl hulle dit self nie met ‘n vinger wou verroer nie (Mt. 23:4). Moenie dink dat die kettings en voetboeie van ons mensgemaakte wette en tradisies mense tot gehoorsaamheid gaan dwing nie. Moenie dink dat, omdat artikel 32 van eendrag en eenheid praat, almal eenders moet dink en optree nie. Eendrag en eenheid vind ons in Jesus Christus! U taak is daarom om aan gemeentelede die evangelie te bring! Spreek tot hulle woorde van bevryding, rig aan hulle die uitnodiging van die Here Jesus: “kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Mt. 11:28-30). En natuurlik moet die konsekwensies van daardie rus duidelik gemaak word, maar onthou: eers wanneer Christus die harte nuutgemaak het, kom daar ruimte vir die orde van Christus; slegs in die vryheid is daar ruimte vir die gebondenheid. [sing Ps. 124:3 en 4]

In die tweede plek let ons op die christelike tug.

 

2. Gemeente, artikel 32 trek grense – hooplik het jy dit alreeds raakgesien. Grense wat die vryheid, wat Christus met sy kosbare bloed verdien het, wil beskerm en beveilig. In die eerste deel van artikel 32 (en daarmee saam: in die eerste punt van die preek) is daar ‘n grens getrek wat die vryheid wil beveilig teen enige menslike wette en versinsels. Ons mag immers nooit Christus se vryheid inperk met ons mensgemaakte reëls, en daardeur gelowiges se gewetens bo die Skrif bind nie. Ons mag die ruimte wat Christus verdien het, nie kleiner maak as wat Christus dit gemaak het nie.

Máár artikel 32 trek vervolgens ook ‘n lyn by die buitenste grens van die vryheid – artikel 32 praat daarvan in die heel laaste sinnetjie as “die ban en alles wat daarmee saamhang”. Vir diegene wat nog nie weet nie: die ban is die laaste stap in die kerklike tugprosedure – iemand word uit die gemeente geban (of van die gemeente afgesny) wanneer hy, ná baie vermanings en besoeke, hom nie van sy sonde wil bekeer nie. En die daaropvolgende woorde in artikel 32, “die ban en alles wat daarmee saamhang”, dui op die talle vermanings en tugstappe wat aan die ban voorafgaan. Dus, waar artikel 32 ons in die eers deel waarsku om die vryheid nie kleiner te maak as wat dit is nie, word ons nou ten slotte ook nog gewaarsku om die vryheid nie groter te maak as wat dit is nie.

Hierdie buitenste grenslyn, broers en susters, het die doel om die vryheid te beskerm teen ongebondenheid; dit is immers waarteen Judas ons in sy brief waarsku: teen mense wat die genade van God verander in ongebondenheid, mense wat dink dat jy met die vryheid kan maak net wat jy wil. Maar, gemeente, vryheid wat ongebonde raak, is nie meer vryheid nie. As gelowige is jy vry – vry van die sonde, vry van die mag van die satan in jou lewe. Heerlik, nie waar nie!? Maar hierdie vryheid is nie ongebondenheid nie. Inteendeel, die christelike vryheid bind ons juis – aan Christus! Jy is vry om vir Christus te lewe! En dáárom is die tug so nodig in die kerk van die Here, want mense wat buite die grense van die vryheid gaan, maak hulleself los van Christus. Net nie dit nie! Dit is immers ons hartsbegeerte dat elkeen in hierdie gemeente werklik aan Christus verbonde is! En dáárom wil ons as gelowiges ook na mekaar omsien en op mekaar toesig hou…

 

Dus, broers en susters, die christelike tug is heel eerste ‘n taak van die kérk, van die gemeente, die héle gemeente! So min word dit nog verstaan en nagekom. Ons kan so mooi praat van die weg van Mattheus 18, maar selde word dit beoefen. Wanneer ons iemand ‘n openbare of growwe sonde sien pleeg of wanneer iemand ‘n verkeerde leer aanhang, is dit die maklikste om dit maar aan die predikant of ouderlinge te gaan vertel. Dit is immers hulle taak om hierdie soort van sake te hanteer. Nee, gemeente, u het die instrument van die onderlinge tug en vermaning uit die hand van Christus ontvang. Daarom lê die eerste verantwoordelikheid by u! Mattheus 18 leer dit baie duidelik: gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. En as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam. En as hy dan nie luister nie, sê dit aan die gemeente. En as hy na die gemeente nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar. Dít is die weg wat Christus ons leer. 

 

En die doel daarvan? Wat wil ons hiermee bereik? Die behoud van die sondaar; dus, dat hierdie betrokke persoon aan Christus verbonde bly! Daaroor het dit immers al in die verse net voor Mattheus 18:15 gegaan: “As iemand honderd skape het en een van hulle verdwaal, sal hy nie die negen-en-negentig laat staan en op die berge die verdwaalde een gaan soek nie? En as hy hom kry, voorwaar Ek sê vir julle dat hy blyer is oor hom as oor die negen-en-negentig wat nie verdwaal het nie. So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.” Enige herder wil graag die verdwaalde skaap vind en red! En nou, in vers 15, wys Jesus vervolgens op die prosedure om hierdie verdwaalde skaap te red, Hy wys vir ons hoe ons te werk moet gaan. Die tug is dus nie om mense uit die koninkryk weg te jaag nie. Ons is nie uitsmyters by ‘n kroeg wat ongewenste indringers verwyder nie. Nee, ons is die kerk van Christus wat daarna soek om die sondaar te red.

Dus, gemeente, ons begin die christelike tug heel eerste deur oop te sluit! Wanneer jy iemand in die gemeente vermaan oor ‘n bepaalde verkeerde leer of oor sy lewenswandel, dan begin jy mos nie deur aan hom te verkondig dat hy geen deel aan die koninkryk het nie. Nee, jy begin deur hom terug te roep van sy verkeerde weg, en jy verkondig aan hom vergifnis in die sterwe en opstanding van Jesus Christus. Jy sluit vir hom die koninkryk oop, jy verbind hom aan Christus! Dis waar die tug begin. Natuurlik, wanneer die sondaar onbekeerlik is, dan word die geestelike dissipline toegepas. En as hy hom op lang termyn daarteen verset, dan word hy uiteindelik uit die koninkryk uitgesluit. Maar dit is die laaste stap. Eers wanneer ons nie verder met die onbekeerlike sondaar kan gaan nie, eers dán sluit ons toe. Terloops, ons sluit ook nie finaal toe nie; ons gooi nie die sleutel weg nie. Want wie hom van harte bekeer, wie weer tot Christus vlug en aan Christus verbind word, daardie persoon word ook weer deel van sy kerk.

 

Gemeente, laat ons die tug – sowel die onderlinge tug as die amptelike tug – nie verwaarloos nie. Tug is immers nie ‘n koue meganisme nie, maar dit is die beveiliging van daardie kosbaarste van alle vryhede! Dit bewaar ons by Jesus Christus.

En is dit nie die wese van ons kerk-wees nie, naamlik om aan Jesus Christus verbonde te bly? Hou die oog gerig op Hom – Hy gee die reëls en die orde vir sy kerk (die eerste punt van die preek), en Hy stel die grense van sy kerk (die tweede punt van die preek). By Hom en in Hom sal dit met hierdie gemeente goed gaan, sal daar vrede wees. Gaan daarom hierna huistoe en ondersoek jouself en ondersoek die gemeente: volg ons nog Christus se orde, of het ek dalk my eie orde bindend opgelê? Het ek dalk ons tradisie die norm gemaak waaraan ek ander meet? Gaan huistoe en vra jouself af: het ek dalk ‘n sonde by my broeder raakgesien, maar niks daaraan gedoen nie? Weet ek dalk van dwaalleer by my suster, maar intussen draai ek myself weg? Ja, die innige band met Christus laat my hierdie soort vrae oor die kerk stel; ja, om vriende en broers soek ek jou vrede; en om Gods huis, my hoogste skat, soek ek vir jou die goeie, o stad, wat skoonste is van alle stede.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 24:2-5

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 108:1 en 4

  • Voor wet sing Skr. 26:1
  • Wetslesing
  • Sing Skr. 26:10 en 11

Gebed

Teks: NGB artikel 32

Lees:    Kolossense 2:4-7, 20-23

            Lukas 8:26-39

            Mattheus 18:11-18 (nie op die bord)

Sing in voorbereiding op Woordverkondiging Ps. 89:6

Preek

  • Ná 1ste punt Ps. 124:3 en 4
  • Amenlied Ps. 141:3-5

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 122

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)