In die hemel is die HEER, en Hy eers oor die heelal!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-02-26
Teks: 
NGB 36
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – NGB, artikel 36

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons is amper aan die einde van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Amper? Nee, eintlik is ons alreeds aan die einde. Maar… wat dan van artikel 37? Broers en susters, artikel 36 en 37 vorm in werklikheid sáám die slot van hierdie geloofsdokument. Maar hoe so? Wat het die aardse owerheid te make met die laaste oordeel? Wel, helaas het dit uit ons vertaling verdwyn, maar in Guido de Bres se oorspronklike weergawe begin sowel artikel 36 as artikel 37 met die woorde: “ons glo ten slotte…” Ons kry dus ‘n dubbele slot tot die NGB!

En Guido de Bres het dit bewustelik so gedoen. In ‘n tyd toe die ware gelowiges se lewens nie veilig was nie, en nadat De Bres sopas in 35 artikels die geloof van hierdie vervolgde gelowiges uiteen gesit het, beroep hy hom nou in die eerste plek op die aardse owerhede. Húlle is immers “die skilde van die aarde”, waarvan ons sopas in Psalm 47 gesing het; húlle is veronderstel om God se kinders te beskerm. Maar wanneer hy en sy mede-gelowiges by daardie skilde geen reg en beskerming sou vind nie – en ons kry die indruk dat dit inderdaad die geval was, want ons lees in artikel 37 dat dit bekend sal word dat die gelowiges se saak, wat tans deur baie regters en owerhede as ketters en goddeloos veroordeel word, die saak van die Seun van God is – dan doen Guido de Bres heel laaste ‘n beroep op die hemelse Owerheid. Uiteindelik sál die reg seëvier – as dit nie hier op aarde is nie, dan wel in die hemel!

 

Mooi, nie waar nie?! En wat dit nog meer besonder maak, is dat Guido de Bres waarskynlik vooraf alreeds geweet dat hy nie werklik regverdige behandeling van die regering van sy dag te wagte kon wees nie. En nogtans laat hy nie hierdie belydenis oor die burgerlike owerheid weg nie. Hierdie gelowige man, wat uiteindelik deur die owerheid van sy dag opgehang sou word vir sy oortuigings, raak nie sinies en negatief nie. Hy begin nie neerhalend praat oor die koning en die plaaslike owerhede nie. Nee, hy spreek eenvoudig die Skrif na. Dit is immers wat dit beteken om belydenis van jou geloof te doen. Jy spreek die Skrif na, ook oor moeilike sake, ook oor sake waarin jou gevoelens dalk iets ander sê. Laat ons hieruit leer, gemeente! Want die manier waarop óns soms oor ons staatspresident, en oor die regering van die dag, en oor die amptenare by Binnelandse Sake, en oor die polisie praat… - dit is verseker nie in lyn met ons belydenis nie. ‘n Stukkie bekering en nederige navolging van ons gelowige voorgangers sou verseker hier op sy plek wees. En daarom is die tema vir vanaand se preek ook geformuleer in die vorm van ‘n belydenis:

Tema: in die hemel is die HEER, en Hy heers oor die heelal!

  1. Die vergadering van die gode
  2. Die werke van God se eie Seun
  3. Die verantwoordelikheid van al God se kinders

 

1. “God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode” – so begin Psalm 82. Nou, wie is hierdie ‘gode’, broers en susters? Seker maar die afgode, of hoe? Wie anders sal ‘gode’ genoem word? En tog is dit nie so eenvoudig nie. Want die opdragte wat in verse 3 en 4 aan hierdie sogenaamde ‘gode’ gegee word, is nie take wat ons normaalweg met die afgode sal assosieer nie: “Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg. Red die swakke en behoeftige, bevry hulle uit die hand van die goddelose mense.” Nee, hierdie is tipies take wat ons met die owerheid sal assosieer, take wat aan die leiers en die regters van ‘n volk toevertrou sal word, soos wat ons ook op ander plekke in die Ou Testament lees.

Ja, maar húlle word mos nie ‘gode’ genoem nie? Nie so vinnig nie, gemeente! Blaai ‘n slag na Exodus 21:6; daar lees ons ‘n stukkie wetgewing oor wat moet gebeur wanneer ‘n slaaf nie van sy heer af wou weggaan nie: “dan moet sy heer hom na die owerhede bring… en sy heer moet sy oor met ‘n els deurboor.” Hier word vir ‘owerhede’ presies dieselfde woord gebruik as wat in Psalm 82:1 met ‘gode’ vertaal word. En dieselfde sien ons ook in Exodus 22:8 en 9. Dus, ‘gode’ kan ook met ‘owerhede’ vertaal word, en gesien die taak wat in Psalm 82 aan hierdie ‘gode gegee word, kan ons met redelike sekerheid sê dat dit hier gaan oor die owerhede – die leiers en die regters – van die volk. Hulle word in vers 6 verder ook nog ‘seuns van die Allerhoogste’ genoem – dit was hulle taak om God se lewende verteenwoordigers op aarde te wees, om God se gesag uit te voer; hulle het die opdrag gehad om daarvoor te sorg dat sy wil nageleef word. Daar is min take in hierdie lewe wat deur God só hoog geag word soos die taak en die amp van die owerhede!

 

Maar dan – opmerklik! – lees ons in Psalm 82:1 dat God betrokke is in ‘n regsgeding met die owerhede. Hy hou vergadering met hulle, Hy hou gerig in hulle midde. Hoekom? Omdat hulle nie hulle taak nagekom het nie. Hulle het nie die boosheid gestraf, soos wat God van hulle gevra het nie; inteendeel, hulle het onregverdig geoordeel en hulle was partydig vir die goddelose mense (vers 2). En daardeur het hulle die reg van die swakke en die behoeftige, van die ellendige en die arme vertrap (vers 3). Hulle was veronderstel om die swakke en behoeftige juis teen die goddelose mense te beskerm (vers 4). Dit is waarvoor God hulle die swaard in die hand gegee het, sê artikel 36: “vir dié doel het Hy die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf en die deugsames te beskerm.” En net daarna sê artikel 36: “dit is hulle taak om die losbandigheid van die mense in bedwang te hou en te sorg dat alles onder die mense ordelik verloop.” Maar die owerhede van Psalm 82 doen presies die teenoorgestelde!

Net die owerhede van Psalm 82? Nee, gemeente, vir enige iemand wat in Suid-Afrika woon, is hierdie nie maar net teorie nie. Inteendeel, hoe herken ons nie hierdie beskrywing nie. Ons sien dit daagliks in ons land. Ons sien hoe die regering homself ophou met korrupte mense, en met mafia-base saamwerk. Ons eie staatspresident het selfs daarvoor tereg gestaan. Ons lees van duistere besigheids-transaksies, van swak dienslewering juis waar mense dit die nodigste het, van staatsamptenare wat hulleself verryk, van polisie-beamptes wat betrokke is by georganiseerde misdaad. Waar die gewone, wetsgetroue burgers van ons land veronderstel is om deur die owerheid beskerm te word, sien ons eerder die teenoorgestelde. Psalm 82 is ‘n realiteit vir Suid-Afrikaners…

 

Maar, broers en susters, die beskrywing van Psalm 82 eindig nie daar nie. Nee, Asaf – die psalmdigter – gaan verder om vir ons te sê wat met so ‘n goddelose owerheid gebeur. Lees maar vers 5: “Hulle weet nie en verstaan nie; hulle loop rond in duisternis: al die fondamente van die aarde wankel.” Ja, ‘n owerheid wat God nie erken en wat nie regeer volgens die verantwoordelikhede wat God gegee het nie, sal uiteindelik ten onder gaan aan die drie gevare wat in vers 5 vir ons geskets word. Eerstens, hulle weet nie en hulle verstaan nie – dit beteken dat só ‘n regering mettertyd voeling sal verloor met wat in sy eie land aangaan, hy sal later nie meer weet wat die burgers nodig het nie, hy verstaan nie meer hulle behoeftes nie; en die gebeure wat daaruit voortvloei, sal gevolglik uitgroei bo sy vermoë om dit te kan hanteer. Tweedens, hulle loop rond in duisternis – wanneer só ‘n regering uiteindelik wél optree, dan sal dit wees asof hy in die duister optree; sy beleide en programme sal oneffektief en teen-produktief wees, hy sal rondtas na oplossings soos iemand wat in ‘n donker kamer na die ligskakelaar soek. En derdens, al die fondamente van die aarde wankel – die mees basiese instellings van enige samelewing, soos die skole, die hospitale en die howe, sal ontwortel en onstabiel word. Dit is onvermydelik in ‘n samelewing waar die owerheid nie sy taak nakom nie!

En dan vra die digter van Psalm 11:3: “As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?” Goeie vraag, wat kan ons as gelowiges doen?

 

Broers en susters, ons mag seker wees dat die hemelse hof wel effektief werk! En Psalm 82 getuig daarvan, want God het ‘n hofsaak teen sulke soort owerhede; gode wat sonder God probeer regeer, word deur Hom tot verantwoording geroep; Hy hou gerig onder hulle (vers 1). Die Here herinner hulle daaraan dat hulle ook maar net gewone mense is; hulle sal sterf, net soos alle ander mense, hulle is nie vrygestel van die dood nie. Hulle sal van hulle verhewe posisie verwyder word, net soos alle ander heersers in die geskiedenis (vers 7). Want dit is die Here wat konings aanstel, en dit is Hy wat maghebbers van hulle trone afruk.

Diegene wat tot hierdie hoë amp geroep is, moet daarom weet dat, alhoewel hulle tot ‘n posisie geroep is waarin hulle soos gode funksioneer en waarin hulle deur baie as gode beskou word (soos wat in Suid-Afrika duidelik sigbaar is, veral nou met die siekte van oud-president Nelson Mandela), hulle moet weet dat hulle uiteindelik maar net gewone manne en vroue is. Hulle sal ook sterf, soos enige mens. Met verloop van tyd sal hulle deur ander vervang word. Dit is die gang van God se heerskappy! En daaraan mag ons hulle herinner. Ons mag hulle oproep tot die besef dat hulle aan God verantwoording verskuldig is. Want, sê Paulus in Romeine 13, daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel.

Bid daarom, gemeente, dat ons owerheid dit sal leer insien. Die ANC het geen rede om te dink dat hy aan bewind sal bly totdat Christus terugkom nie; president Jacob Zuma is nie die Messias nie. En ons sê dit nie uit wraaksug of haat nie. Dit is nie opstand teen die regering om dit te sê nie – nee, dit is eenvoudig ons belydenis. En ons mag dit vir hulle sê: “Julle is deur God daar gestel, en daarom eer en respekteer ons julle, maar onthou: net soos elke mens, is julle aan God verantwoording verskuldig. Hy sal eendag in die vergadering van die gode van julle rekenskap eis.” Gemeente, dit voel dalk nie genoeg nie (“is daar nie meer wat ons kan doen nie?”), maar kom ons doen eenvoudig wat Asaf teenoor die owerhede van sy dag gedoen het: wys hulle op God! Sy reg het die hoogste gesag, en ons owerheid en alles wat hy doen, gaan binnekort aan daardie reg gemeet word.

Kom ons let nou in die tweede plek op die werke van God se eie Seun.

 

2. Ons het saam met Psalm 82, ook ‘n deel uit Johannes 10 gelees. En die rede is omdat Jesus in hierdie gedeelte die woorde van Psalm 82:6 oorneem en op Homself van toepassing maak. En dit is daarom belangrik dat ons nou in die tweede punt daardie lyn deurtrek. Ons kan nie slegs by Psalm 82 bly vassteek nie; nee, ons moet ook die vervulling van Psalm 82 raaksien. Die vervulling in Christus.

In Johannes 10 kry ons naamlik die situasie dat die Jode die Here Jesus wil doodmaak. Nie oor sy goeie werke nie – só sê hulle uitdruklik (vers 33) – maar oor die feit dat Hy Homself die Seun van God noem. Vir die Jode is dit godslasterlik. Wat ons dus sien, is dat die Jode ‘n skeiding aanbring tussen Jesus se goeie werke, aan die een kant, en Wie Hy is (sy amp), aan die ander kant. Sy goeie werke, sy wonders van genesing en opwekking en duiwel-uitdrywing – Hy is welkom om dit te doen, dit is goeie werke. Maar om daarmee te wil beweer dat Hy God se eie Seun is?! En dan vat Jesus hulle terug na Psalm 82. Hy wys daardeur dat God die naam van ‘gode’ gegee het aan diegene aan wie Hy ‘n eerbare amp geskenk het, en aan wie Hy deur sy Woord gesag geskenk het. Die owerhede word deur God self ‘gode’ genoem, en dít terwyl hulle daardie amp dikwels nie eens na behore nagekom het nie, soos Psalm 82 reeds vir ons aangetoon het.

Nou, as God hulle, ten spyte daarvan, nogtans ‘gode’ noem, hoeveel te meer verdien Hy, wat deur die Vader in die wêreld gestuur is, daardie naam! Hoekom verbaas dit die Jode dat Hy Homself die Seun van God noem? Kyk dan na sy werke! As Hy nie die werke van die Vader gedoen het nie, dan het hulle nie nodig gehad om Hom te glo nie, dan het hulle die volste reg gehad om Hom te stenig (vers 37). Maar as Hy dit wel doen, dan is daar alle rede om in Hom te glo (vers 38). Jesus wil hê hulle moet na sy werke kyk om te sien of Hy is wat Hy beweer om te wees. Sy werke is immers ‘n voortvloeisel van sy goddelike amp! En volgens Psalm 82 kry selfs die aardse owerhede geleentheid om hulle pretensies waar te maak; hulle kry geleentheid om deur hulle werke te wys dat hulle regtig ‘gode’ is. “Nou ja, as húlle die geleentheid kry, gee dan dieselfde geleentheid ook vir My”, sê Jesus.

 

En wanneer ons dit doen, wanneer ons na Jesus se werke gaan kyk, dan sien ons inderdaad hoe Hy sy pretensies, naamlik dat Hy die Seun van God is, bevestig. Hy het tydens sy hele lewe op aarde die goddelose beveg en opgekom vir die reg van die swakkes en die armes; Hy het die swakkes en behoeftiges gered uit die hand van die goddelose mense. In Christus se koms het God die hoogmoediges verstrooi, maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog, hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur – so sing Maria in haar lofsang. Jesus Christus het Hom ontferm oor ‘n skare wat honger gehad het, Hy het genade betoon aan sondige manne en vroue. Wanneer Johannes die Doper sy dissipels na Jesus stuur om te verneem of Hy werklik die Messias is, dan sê Hy vir hulle: “Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig” (Luk. 7:22). En selfs aan die kruis betoon die Here Jesus sy deernis, wanneer aan Johannes ‘n moeder gee, en aan Maria ‘n seun.

 

Ja, gemeente, húlle word ‘gode’ genoem, seuns van die Allerhoogste, wat selfs op hulle beste dae nog nie in staat is om na behore te regeer nie. Maar omdat God hulle so noem, daarom behoort ons aan hulle die nodige eerbied en respek te betoon. En doen dit maar gerus – ook al gaan dit teen jou grein in. Doen dit, want ons ken die ware Seun van die Allerhoogste, wat sy Koningstaak in nederigheid kom vervolmaak het. Hy is ons Koning – in sy vernedering alreeds, maar soveel te meer in sy verhoging. En, soos wat ons net hierna uit Psalm 72 gaan sing, Hy verskaf reg aan die ellendiges, Hy verlos die kinders van die behoeftige en Hy verbrysel die verdruktes. Hy red die behoeftige wat roep om hulp, en die ellendige, en elkeen wat geen helper het nie. Hy ontferm Hom oor die arme en behoeftige, en Hy red die siele van die behoeftiges (Ps. 72:4, 12 en 13).

Ons weet wat ons aan ons Koning het, gemeente! Ons is as gelowiges daarom nie in die eerste plek burgers van Suid-Afrika nie, maar heel eerste burgers van die Koninkryk van die hemel! Ons word nie regeer vanuit die parlement in Kaapstad nie, maar vanuit die hemel. Daar regeer ons Koning – en Hy is nie maar net ‘n Koning vol goedkoop beloftes, soos ons staatspresident met sy staatsrede nie. Nee, Hy is Koning deur sy Woord en deur sy werke! Hy doen altyd wat Hy sê.

Ons let ten slotte op die verantwoordelikheid van al God se kinders.

 

3. Nog ‘n laaste maal terug na Psalm 82. Want daar het nog een vers oorgebly waaraan ons nog geen aandag geskenk het nie. Vers 8: “Staan op, o God, oordeel die aarde. Want U het erfbesit van al die nasies.” Net soos in vers 1 het ons ook hier weer met God se oordeel te make. Maar daar is ‘n uitbreiding van die hofsitting. Dit sluit nou nie meer net die gode – die konings en presidente en owerhede van die wêreld – in nie. Nee, dit sluit nou die hele aarde in! En daardie oordeel het, net soos in die geval van die gode, te make met die taak van verse 3 en 4. Dit is nie slegs die konings en presidente wat aan hierdie taak gemeet en geoordeel gaan word nie, maar elke mens. God het erfbesit van al die nasies, en daarom sal die hele aarde, elke mens, geoordeel word hoe hy of sy met God se eiendom omgegaan het. Hier kan ons dus nie meer afstandelik bly nie; hier word ons deur die Skrif self betrek…

Wat die misstande en mislukkings van ons regering ook al mag wees, nogtans word elkeen van ons persoonlik geroep om die taak van verse 3 en 4 na te kom: om reg te doen aan die swakke en die wees, om aan die ellendige en arme sy reg te gee, om die swakke en die behoeftige te red uit die hand van die goddelose mense. Gemeente, ons kan nie daaronder uitkom nie. Ons kan baie maklik op ons rusbanke sit en die president se toespraak by die parlementsopening bekritiseer; ons kan baie maklik ons koppe skud wanneer ons op die nuus sien hoe ons hospitale en skole funksioneer; ons kan langs die kantlyn staan en lag oor die vorige regering se kuur vir HIV (knoffel en groente); ons kan ons vererg oor die haglike dienslewering in sommige plekke, en oor die oorbevolking in ons tronke.

 

Maar wanneer die Here Jesus terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel, dan gaan Hy nie slegs vir die regering nie, maar ook vir jóú en mý vra: het jy iemand honger gesien en kos gegee? Het jy iemand dors gesien en iets te drinke gegee? Het jy aan ‘n vreemdeling herberg gegee? Het jy naakte mense geklee, siekes besoek, gevangenes in die tronk opgesoek? Wat gaan jou antwoord hierop wees?  

En, gemeente, hierdie is geen humanistiese motiveringspraatjie, wat sê dat verandering by jou begin nie, maar dit is die oproep van die Koning wat wil hê dat ons sal wees soos Hy! Soos wat Hy gedoen tydens sy lewe op aarde, en in besonder aan die kruis, so moet ons ook gaan doen. Laat sy liefde en deernis jou dryf om dieselfde te gaan doen aan jou naaste. En as jy nie weet hoe of waar nie, kom vra, want die opsies is legio. Raak betrokke by Genadeplaas, waar gemeentelede aan alkohol- en dwelmverslaafdes hulp en bystand bied; raak betrokke by gevangenes in die tronke, waaroor daar by afgelope Donderdag se gemeentevergadering verslag gedoen is; raak betrokke by HIV-lyers se lewens deur die werk van Khotatsong en baie ander organisasies; raak betrokke by een van die kinderhuise in ons omgewing. Broers en susters, wees bewoë oor die lot van armes en siekes. En hoor dan die woorde van die Koning in Mattheus 25: “Voorwaar, Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hirdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.”

 

Dit is nie reg dat ons steen en been kla oor ‘n regering wat ons in die steek laat, maar intussen verroer ons self nie ‘n vinger om die behoeftiges te help nie. nie. Dan doen ons presies dieselfde – dan laat ons daardie einste behoeftiges in die steek. En daaroor gaan ons, net soos die regering, ook eendag tereg staan voor die hemelse Regter. Werk daarom mooi met die nasies, want hulle is die Here se eiendom. En die Here sorg vir sy eiendom, maar Hy doen dit mede deur middel van jou en my. Miskien moet ons minder bid vir die armes en siekes, en meer bid vir onsself. Meer bid dat ons die Here se hande en voete sal word om aan daardie mense God se liefde en deernis te betoon.

En ons weet almal: die aardse regter kan niks aan ons doen as ons dit sou nalaat nie, maar die hemelse regter kan. In hierdie opsig is die dubbele slot van artikel 36 en 37 van die NGB nie slegs tot troos nie, maar ook tot waarskuwing. ‘n Gebrek aan naasteliefde val nie onder die wette van hierdie wêreld nie, maar dit val verseker onder Christus se Koninkrykswet. Laat ons daarom nie slegs ons geloof belý nie, maar laat ons ook ons geloof tóón deur ons werke (Jak. 2:18). En laat die geloof volkome word uit die werke (Jak. 2:22)!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Skr. 6:1-3, 6 en 7

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 100:2-4

Gebed

Teks: NGB artikel 36

Sing Ps. 47:4

Lees:    Psalm 82

            Johannes 10:31-38

Preek

Amenlied Ps. 72:2 en 6

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 82

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)