Die volk van die Here moet baie versigtig omgaan met die gawe van die Gees!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-03-18
Teks: 
Rigters 16
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Rigters 16

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“… die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees” – só sê Paulus in Galasiërs 5:17, en só het Simson dit ook in sy lewe ervaar. Die vlees in hom – sy sondige self – het begeer om die sonde te doen, sy vlees is konstant deur die Filistynse verleiding aangetrek, sy vlees het veral begeer om te hoereer (dit lyk asof dit ‘n besondere swakheid in Simson was – die vroue!). Maar die Gees in hom het hom ook telkens weer in stryd gebring met die begeertes van sy vlees; die Gees het hom in konflik gebring met die onbesnede Filistyne en hom daartoe gebring om daardie stryd aan te gaan. Vlees teen Gees; Gees teen vlees…

Kan ons dus sê dat Simson ‘n gesplete persoonlikheid gehad het? Nee, nie as ‘n sielkundige toestand nie; maar gesien in die lig van Galasiërs 5, verseker! Maar, gemeente, in die lig van Galasiërs 5 het elke christen, en die kerk as geheel, ‘n gesplete persoonlikheid. Die vlees en die Gees is twee werklikhede binne-in ons wat mekaar nie kan verduur nie en wat in stryd is met mekaar. Dis nie ‘n aangename stryd nie, ek weet. Dit is ‘n pynlike stryd! Maar hierdie stryd moet bly, broers en susters, hierdie stryd moet gestry word! Sodra die strydbyl begrawe word, het ons die stryd verloor. Sodra die geestelike stryd binne-in jou stil geword het en jy nie meer die oorlogsgeweld kan hoor en kan voel nie, moet jy wonder of een van die strydende partye nie dalk uitgetrek het nie. En indien dít die geval is, weet dan dat dit beslis nie die sonde is wat uitgetrek het nie – daardie voorreg is ons in hierdie lewe nog nie beskore nie. Maar sou dit dan die Heilige Gees wees wat uitgetrek het?

Tema: Die volk van die Here moet baie versigtig omgaan met die gawe van die Gees!

  1. Moenie die Gees bedroef nie
  2. Waak teen selfvertroue
  3. Bid nederig vir die Gees

 

1. Verlede week het ons gesê dat Simson meer was as net ‘n jagter van Filistynse rokke. Ja, dis waar, hy was meer as dit, maar hy was verseker óók ‘n rokjagter. Want na die avontuur met die meisie van Timna, met wie hy getrou het en by wie hy later weer wou gaan kuier, vind ons in hoofstuk 16 nóg twee romantiese verbintenisse. Nou ja, verbintenisse… Die eerste was waarskynlik meer ‘n soort eennag-plesiertjie. Ons sien naamlik dat Simson homself al hoe dieper in Filistynse gebied begewe het, sodanig dat hy uiteindelik in Gasa, die mees suidelike van die Filistynse stede, opeindig. Daar, só vertel vers 1 ons, het hy ‘n hoer gesien en by haar ingegaan. En dan kan ons aanneem, gemeente, dat hierdie kuiertjie sekerlik meer behels het as net ‘n koppie koffie. Daarna was daar ook nog sy verhouding met Delila – van haar word ten minste nog gesê dat Simson haar liefgekry het (16:4). Maar steeds was sy ‘n Filistynse meisie, deel van ‘n onbesnede volk, en haar optrede om Simson teen beloning te verraai, bewys dit.

Gemeente, dit blyk dat Simson, ten spyte van die Here se genade en uitredding aan die einde van hoofstuk 15, nog steeds nie geleer het nie. Sy ervarings met die Filistynse meisie en met die Filistyne in die algemeen, in hoofstukke 14 en 15, moes hom toe alreeds laat verstaan het dat hierdie lewenswyse nie volgens die wil van die Here was nie. Toe alreeds moes hy besef het dat hy besig was om homself in groot geestelike gevaar te begewe; dat hy besig was om in die stryd van die vlees teen die Gees, aan die vlees die oorhand te gee. Dit is ‘n uiters gevaarlike situasie vir enige mens!

 

Opmerklik is dan ook dat, waar ons in hoofstukke 14 en 15 op drie belangrike punte lees dat die Gees oor Simson vaardig geword het (14:6, 14:19, 15:14), lees ons daarvan in hoofstuk 16 niks meer nie. Van die Gees se teenwoordigheid in ‘n positiewe sin is daar niks te bespeur nie. Wanneer Simson in die middernagtelike ure die stadspoort van Gasa uit sy skarniere ruk, dan doen hy dit sonder dat daar iets van die Gees genoem word. Uiteraard is dit moontlik dat die Gees Simson steeds tot hierdie kragdaad in staat gestel het, maar dit moet ons in elk geval opval dat die Gees nie genoem word nie. Hoekom nie? Was die Gees nog met Simson? Was daar nog ruimte in Simson se lewe vir die Gees? Of het daar dalk iets verander?

En dan, in die geskiedenis met Delila word dít, wat ons vaagweg alreeds vermoed het, eksplisiet vir ons uitgespel. Want toe Simson wakker word, nadat Delila sy hare laat afsny het, het hy gedink dat hy soos die vorige drie kere sou ontsnap. Maar hy kon nie, want die Here het van hom gewyk! (16:20) Die Gees, wat Simson vir sy amp toegerus het, was nie meer met hom nie. En gevolglik kon die Filistyne hom sonder groot moeite gryp en gevange neem. Dit is ‘n ingrypende oomblik in Simson se lewe – in die stryd van die vlees teen die Gees het Simson die stryd opgegee, soos wat ons duidelik kan sien wanneer hy uiteindelik die geheim van sy krag aan Delila verklap. En die Gees het van hom gewyk.

 

Gemeente, besef goed: dat die Gees van Simson gewyk het, het nie oornag gebeur nie. Nee, dit was ‘n geleidelike proses; geleidelik is die Gees in Simson se lewe verdryf deur die hartstogte van die vlees. Hoe langer hoe meer het hy die Gees in sy lewe bedroef. Ja, dit is die uitdrukking wat die Skrif gebruik om hierdie proses vir ons te beskryf – om die Gees te bedroef, om die Gees te krenk, te beledig. Maar dit is nie net van van toepassing op Simson nie; nee, Simson was, soos wat ons in die vorige preke alreeds gesien het, verteenwoordigend van Israel. As nasireër moes Simson eintlik ‘n voorbeeld vir Israel gewees het, maar helaas het hy vir die grootste deel ‘n toonbeeld geword van Israel se hoerery en afval. En gevolglik lees ons ook van Israel dat hulle die Heilige Gees bedroef het – in Jesaja 63.

In hierdie gedeelte beskryf Jesaja in pragtige taal vir ons hoe goed die Here deur die eeue vir Israel was: “In al hulle benoudheid was Hy benoud en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hy hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd. Máár húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ‘n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry…” (Jes. 63:9-10). Nie net die individu Simson nie, maar ook die volk het die Gees bedroef, gekrenk, beledig. En duidelik blyk hier uit Jesaja 63 dat as die Gees bedroef word en uiteindelik weggaan, dan bly Hy nie maar net neutraal nie; nee, dan verander Hy in ‘n vyand, dan begin Hy stry téén die een in wie Hy eers gewoon het!

 

Gemeente, die stryd van die vlees teen die Gees is ‘n noodsaaklik stryd. Ons het verlede week gehoor dat God self daardie stryd ingestel het. Hy het vyandskap tussen hierdie twee bepaal – tot ons behoud! Dit is ‘n heilsame vyandskap. Nou, as God vyandskap bepaal het, wie is ons dan om dit op te hef? Sodra ons die vyandskap ophef en aan die vlees – die sonde – vryspel in ons lewens toelaat, dan bedroef ons die Heilige Gees, dan bring ons sy posisie in ons lewens in gedrang, dan bedreig ek sy heerskappy in my lewe. As ek die sonde gasvry by die voordeur van my lewe binnelaat, dan dwing ek die Gees geleidelik by die agterdeur uit! En daarom doen Paulus so ‘n dringende beroep op die Efesiërs: “Bedroef nie die Heilige Gees van God nie…” (Ef. 4:30). En in die gedeelte vooraf wys Paulus alreeds hoe die Gees wél bedroef kan word: deur leuens, deur woede, deur diefstal, deur vuil woorde. Kortom, volgens vers 27, deurdat ons aan die duiwel ‘n plek in ons lewens gee.

Wees daarom waaksaam, broers en susters. Kyk na jou eie lewe. Ondersoek jouself om te sien of daar nog werklik die stryd is. Stry jy nog teen jou skerp tong? Baklei jy nog teen jou verkeerde begeertes, teen jou sug na erkenning, teen jou strewe na meer geld? Veg jy nog teen die neiging tot haat en jaloesie in jou binneste? Erken jy nog die sonde as sonde? Of het dit stil geword in jou hart, pynlik stil? Het jy moontlik die stryd al opgegee? Dan is die oproep vanmôre baie dringend: moenie die Gees bedroef nie, moenie die poorte van jou hart oopmaak vir die sonde en sodoende die Gees daaruit wegdryf nie, moenie dat die stryd tussen vlees en Gees ooit ophou nie. Want wie voortgaan in so ‘n valse wapenstilstand, en wie aanhou om die Gees te bedroef, blus uiteindelik die Gees uit. En dan is jy op jou eie…

Nadat die Gees van Simson gewyk het, is hy gevange geneem en is sy oë uitgesteek. Nadat die volk vir eeue lank God se Gees bedroef het, het Hy van haar gewyk en is sy in ballingskap weggevoer. Nou, as Nuwe testamentiese kerk het ons die Gees van die verhoogde Christus in oorvloed ontvang. God het sy Gees ryklik op ons uitgestort. Soveel ernstiger is daarom vandag die oproep aan ons om hierdie Gees nie te bedroef nie.   

Kom ons beweeg gou na die tweede punt, want dit hang saam met die eerste: waak teen selfvertroue.

 

2. Simson was homself salig onbewus van hierdie verandering in sy lewe (nl. dat die Here van hom gewyk het). Ja, toe hy die vierde keer wakker word en sy aanvallers soos die ander kere wou wegkeer, toe het hy dit natuurlik met ‘n skok agtergekom. Maar daarvóór was hy volledig onbewus van hierdie verandering. Selfs toe hy aan Delila die geheim van sy krag bekend gemaak het, het dit nog geen gevaarligte by hom laat flikker nie. Hoekom nie? Hy het mos geweet wat die geheim van sy krag was? Hy moes mos besef het dat, om aan hierdie vrou sy geheim toe te vertrou, ernstig afbreuk sou doen aan sy vertroue op God!?

Gemeente, die probleem was dat Simson se vertrou oorgegaan het in sélfvertroue; sy gelowige moed het oormoed geword. Ja, Simson het waarskynlik raakgesien wat hy alles kon doen, en dit het hom laat vergeet van wie hy hierdie gawe ontvang het. Hy het begin dink dat sy krag sy eie was, dat dit hy was wat al hierdie kragtoertjies reggekry het. Simson het selfs ‘n speletjie begin speel met sy krag, en die speletjie se naam was: “Die Filistyne is op jou!” En toe hy ná drie keer uiteindelik moeg geword het vir die speletjie en uit ongeduld die geheim aan Delila verklap, toe het hy vir geen oomblik daaraan getwyfel dat sy krag hom weereens sou uithelp nie. Só lees ons immers in vers 20: “Toe hy uit sy slaap wakker word, sê hy: Ek sal vry uitgaan soos die vorige kere en my losruk.” Dit is nou selfvertroue! Maar helaas, die dinge het anders verloop… Simson het skielik besef dat hy sonder die Here was, en dat daar sonder die Here geen lewe, geen lig en geen krag is nie. Die Filistyne het hom gegryp, sy oë uitgesteek, en hom na die Gasa Korrektiewe Fasiliteit gestuur – deur die einste poorte wat hy onlangs nog uitgeruk het. Dáár moes hy werk verrig wat in daardie tyd as die mees vernederende werk beskou is – hy moes die meulsteen draai.

 

En weereens moes die volk Israel uit hierdie vernedering van Simson leer. In Simson moes Israel haarself raaksien. Simson is immers deur die Here opgewek terwyl hy uit homself niks was nie, Simson het geweldige gawes van die Here ontvang, gawes wat hy nie aan homself te danke gehad het nie. Maar intussen was sy hart op ‘n ander plek, het hy sy ander liefies gehad. En nogtans het hy gedink dat hy altyd die Here tot sy beskikking sou hê, dat die Here maar net altyd daar sou wees. Net so het Israel genade op genade ontvang, ‘n volk wat uit haarself niks was nie maar deur die Here verhef is tot ‘n bevoorregte posisie. Maar intussen het sy aangehou met haar hoerery agter Baal aan, totaal onkundig oor haar ware toestand, terwyl sy gedink het dat alles wel is in Israel en dat die Here altyd daar is om te help.

Wat Israel nie besef het nie is dat God werklik sou kon besluit om haar te verlaat, soos Hy uiteindelik ook gedoen het! Israel se naam kon werklik verander word in Ikabod – weggevoer is die eer uit Israel! Maar Israel kon dit nie glo nie, net soos wat ‘n kerk vandag nie kan glo dat God ooit die naam Ikabod oor haar naambord sal skryf nie. Hoe tragies is dit wanneer God se volk dink dat sy ryk is en verryk geword het, maar intussen nie kan raaksien dat sy ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie, soos wat Johannes in Openbaring 3 aan die gemeente van Laodicea skryf.

 

En daarom is die oproep vandag nog net so relevant aan die kerk as aan Israel: oppas dat jy nie jou goddelike roeping verloën, jou eerste liefde verlaat, en die goddelike teenwoordigheid prysgee nie. Oppas dat jy, terwyl jy maak en breek soos wat jy wil, nogtans dink dat die Here jóú besit is wat nooit van jou sal wyk nie. Gemeente, mag die Here gee dat ons Godsvertroue nooit omslaan in selfvertroue nie. En dit is so maklik, want ons het geweldig baie van die Here ontvang – ons is ryklik geseën met die gereformeerde leer, met gereformeerde skole, met sterk ampsdraers, met ryk eredienste, met ‘n sterk kerklike tradisie. Maar nooit is dit iets waarop ons kan roem nie, nooit kan ons sê nie: “Kyk na ons! Kyk hoe doen ons dit, kom leer by ons.” Nooit kan ons sê, soos die gemeente van Laodicea: “Ek is ryk en het verryk geword, en het aan niks gebrek nie.” Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen! Wie dít vergeet, sal nog meen dat hy staan, en dan val hy. En sy val sal groot wees. Simson kan daarvan getuig. Vertroue is noodsaaklik, maar selfvertroue is dodelik.

Ons het nou in die eerste twee punte Simson en die volk se probleem geïdentifiseer. Maar daar is gelukkig ook nog meer om te sê. En dit bring ons by ons laaste gedagte: bid vir die Gees.

 

3. Gemeente, dit kan tog nie die einde van Simson wees nie? As dit die einde was, hoe sou die Hebreërskrywer dan in hoofstuk 11 Simson in die lys van geloofsgetuies kon opneem? Hoe kan die Hebreërskrywer ons oproep om onsself in dieselfde optog te voeg waarin onder andere Simson ons voorgegaan het? Maar dit is gelukkig nie die einde nie, want ons vind in vers 22 hierdie wonderlike mededeling: “Maar die hare van sy hoof het weer begin groei sodra dit afgeskeer was…” Hierdie klein, skynbaar onbenullige sinnetjie, bevat ‘n groot evangelie. Dit verkondig die boodskap: “Die Here het wel van Simson gewyk, maar… die Here keer weer terug! Simson, hierdie gevangenis is nie die einde nie!” Hoe onbegrylik is God se genade nie, en hoe ondeurgrondelik sy trou.  

En Simson het dit verstaan! Hoewel hy niks meer kon sien nie, kon hy die eerste nuwe haartjies voel deurkom. En so was God met Simson besig, daar in die donker gevangenis. So het God hom weer teruggebring by die bron en die geheim van sy krag, naamlik dat sy krag van God af kom! En dit bring Simson terug na die posisie van vertroue en afhanklikheid – daar waar hy hoort! Dit bring hom tot gebed! En dit is hoe ons Simson aantref in die laaste toneel van sy lewe, wanneer hy daar in die tempel van Dagon staan en tot die Here bid: “Here, HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God…” Met hierdie gebed getuig Simson van sy afhanklikheid van die Here, en ons sien dit pragtig in die drie verskillende name wat hy gebruik; in die Hebreeus: Adonai, Jahwe en Elohim. Op hierdie manier doen Simson ‘n beroep op die krag van die Here (Adonai), op die trou van die HERE met hoofletters (Jahwe), en op die godheid van God (Elohim)! Só het Simson weer gekom waar hy moes wees: in verbondenheid met sy God! Hier is Simson weer die man van Roepersfontein in hoofstuk 15:18, waar hy aan God aller erkenning gegee het: “U het deur die hand van u kneg hierdie groot verlossing gegee…” Simson soek nou weer die krag en die lewe buite homself. En daar sal hy dit ook vind!

 

Die Filistyne het naamlik besluit om ‘n groot fees te hou ter ere van hulle god Dagon. Want, so het hulle gemeen, hy het mos aan hulle die oorwinning gegee. Dagon was hierdie keer sterker as die God van Simson. En daarom sing hulle hul loflied: “Ons God het ons vyand Simson in ons hand gegee.” In plaas van ‘n gelowige hallelu-ja (loof die Here), klink hier die heidense hallelu-Dagon. En só word Simson die arena binnegelei, te midde van die Filistynse sangkoor wat die lof van hierdie afgod besing. En dan wek die Gees in Simson die gebed: “Here, HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God, dat ek my oor een van my twee oë op die Filistyne kan wreek.”

Verstaan goed, gemeente, dit is nie ‘n gebed wat gebore is uit persoonlike wraaksug nie; dit gaan nie vir Simson oor homself nie. Simson smeek immers: máák my sterk, o God! Hy soek sy krag by die Here. En in beskeidenheid durf hy vra om wraak vir een van sy oë, niks meer nie. “Asseblief, Here, nog net een keer! Dit hoef nie baie te wees, slegs wraak vir één van my oë.” Simson durf nie vir meer bid nie, hy weet dat sy blindheid sy eie skuld is. Maar, ag, die smaad – die smaad wat die Here se Naam aangedoen word; hoor hoe juig hulle: hallelu-Dagon! Dagon is God, Dagon is groot en sterk. Here, hier is u Naam in geding! Laat my tog saam met die Filistyne sterf vir die eer van u Naam!

 

Gemeente, voel u die verskil? In sy lewe en lewenswandel het Simson geleidelik die Gees van God bedroef, sodanig dat die Gees uiteindelik van hom gewyk het. Want Símson was mos die sterke! Maar in sy sterwensuur soek hy in geloof die bron van sy krag, en word hy deur die Gees sterk gemaak om sy laaste kragdaad te verrig tot eer van die Naam van die Here. Hier is Simson die swakke! Simson leer biddende afhanklikheid. Hy weet wat sy sonde is, hy ken sy swakheid (in besonder sy swakheid vir die ander geslag), hy weet hoe hy die Gees van die Here bedroef het. Maar die Here werk bekering in Simson, die Here bring Simson op sy knieë. En dan die wonder van alle wonders: die bedroefde Gees keer terug! En só, as’t ware op sy knieë, kan Simson deur die Gees sy laaste kragdaad verrig. Hy sterf vir die eer van God se Naam – halleluja, loof die Hére, en nie Dagon nie!

En, broers en susters, daar lê ook die geheim van ons krag! Ons is nie Simson nie, ons verskeur nie leeus nie, ons slaan nie God se vyande met ‘n eselskakebeen dood nie, ons bind nie driehonderd jakkalse met hulle sterte aan mekaar vas nie, ons laat nie afgodstempels inmekaar tuimel nie. Maar God se krag in ons lewens is nog net so groot! Want, só leer die Skrif ons, die gebed van die regverdige het groot krag! Die gelowige gebed is ook vandag nog die teken van óns swakheid, die teken van óns afhanklikheid, sodat Gód se krag in ons swakheid volbring kan word. Want as ek swak is, dan is ek sterk (2 Kor. 12:10)! In die stryd van die vlees teen die Gees lê hier só ‘n belangrike crux – die gebed! Dikwels wanneer ons hoor van die stryd van die vlees teen die Gees, dan dink ons dat ons aan die werk moet spring, dat ons allerhande dinge moet gaan doen. Ons wil soos ‘n wafferse Simson die bose kaalhande aanvat, net om soos Simson wakkeer te word en agter te kom dat die bose vir ons te sterk geword het. Nee, so ‘n selfvertroue bedroef maar net die Heilige Gees.

Kom ons gaan weer op ons knieë, gemeente. Vra die Here vir krag om die Filistyne in jou lewe die hoof te bied, om ter wille van die eer van die Here hierdie sondes te kan oorwin. Weet waar lê jou swakhede, en bring hulle voor die Here. Op jou knieë! Leer dit, soos wat Simson dit geleer het. “So was dan al die dooies wat Simson by sy sterwe gedood het, meer as die wat hy in sy lewe gedood het.” In sy sterwe was Simson op sy sterkste. En so ook ons! As ek in geloof saam met Christus sterf, dan is ek sterk – want dan lewe nie meer ek nie, maar Christus leef in my deur sy Gees! En dít is ‘n saak van gebed: “Here Jesus, ek glo in U, laat my lewe in u sterwe; Heilige Gees, kom vul my lewe en maak dit nuut.”

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 115:3-6

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 145:1-3

  • Sing voor wetslesing Skr. 26:1

Wetslesing

  • Sing Skr. 32:1 en 4

Gebed

Lees: Rigters 16

Sing Ps. 78:13-15

Teks: Rigters 16:20 en 28

Preek

Amenlied Ps. 51:5 en 6

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 14

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)