Van wie is jy?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-03-11
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 1
Verwysing: 
HK 1-2
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag 1

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“Van wie is jy nou ook al weer? Wie se kind is jy eintlik?… O, jy is Jan se dogter. O, jy is Piet se seun. Aha, ek het nog saam met jou pa op die skoolbanke gesit, goeie ou dae!” Dit is normale vrae en opmerkings wanneer jy iemand probeer plaas wat jy sopas ontmoet het. Maar kom ons wees eerlik, dit kan ook lastige vrae en opmerkings wees – want daarmee word ‘n persoon onmiddellik in ‘n boksie geplaas. “O, jy is sy dogter, jy is haar seun… ‘n Mens kan sien jy is sy seun… Jy het die neus van jou oupa, jy het jou ouma se oë.” Heeltemal reg, maar ek is ook nog baie meer as dit. Ek is ook myself!

Die versugting van ons tyd: jy moet jouself wees! Jy moet wees wie jy is! Natuurlik binne bepaalde aanvaarbare grense… maar om jouself te wees, is voorwaar die slagspreuk van ons tyd, die drang van ons tyd. Ook binne die kerk moet ek myself kan wees, my eie persoon; geloof is immers iets baie persoonliks. Die fiets kan ek by pa erf en die bredie-resepte kan ek by ouma erf, maar nie die geloof nie. Nee, die geloof is iets van myself! As dit nie die geval is nie, is dit dan nog eg? Is dit nog outentiek?

 

Gemeente, die Kategismus neem egter ‘n heeltemal ander vertrekpunt. “Ek moet myself kan wees, ek is my eie persoon”, sê die hedendaagse mens, ook talle hedendaagse gelowiges. Maar dan sê die Kategismus presies die teenoorgestelde: nee, ek is nie my eie nie, ek behoort nie aan myself nie, ek behoort aan Jesus Christus. Dit is my enigste troos in lewe en in sterwe. Dus, die vraag (van wie is jy?) wat in die gewone lewe soms ons weerstand oproep (want: “ek is dan ook myself, ek is my eie persoon!”), daardie vraag is in die geloofslewe die allesbeslissende vraag waarop ons ‘n antwoord moet vind. En hierdie vraag is dan ook die tema vir die prediking vanmiddag…

Tema: van wie is jy?

  1. Eiendomsreg
  2. Eiendomsplig

 

1. Dus, gemeente, volgens die Kategismus kan jy slegs getroos lewe en sterwe wanneer jy nie meer aan jouself behoort nie. Wanneer jy kan sê: “Ek is syne!” Nou, ek daag jou uit om met daardie antwoord die wêreld daarbuite te benader; om vir die mense op die straat te gaan vertel: die beste wat jou kan oorkom, is dat jy nie meer aan jouself behoort nie. Waarskynlik sal mense van jou af weghardloop. Is dit die beste?! Nee, dit is die ergste wat jou kan tref, dat jy nie meer aan jouself behoort nie. Want daarmee skend jy een van die belangrikste menseregte van ons tyd, naamlik die selfbeskikkingsreg! Niemand het iets te sê oor my lewe nie, ek beskik self daaroor. En as ek te veel pyn en hartseer beleef, dan beskik ek ook oor my eie dood. Ek behoort aan myself, in lewe en in sterwe! Want as jy nie aan jouself behoort nie, dan is jy mos nie vry nie? Dan het die ander een beskikkingsreg oor jou lewe. As ek aan Jesus Christus behoort, dan bepaal Hy my lewe. Dan kan ek nie meer self bepaal wat reg en verkeerd is nie. Ja, so sal baie mense daarbuite op hierdie Kategismus-antwoord reageer.

 

Maar afgesien van diegene daarbuite, wat van ons? Wat is ons antwoord op die vraag na die enigste troos in lewe en in sterwe? Sê óns dit nog so maklik en onbevange: ek is syne! Natuurlik, ek is syne omdat Hy met sy kosbare bloed vir al my sondes betaal het, maar daar is tog nog meer om te sê? Ek is syne – heeltemal reg, maar ons moet mos ook die omgekeerde kan sê: Hy is myne! Maar is dit nie arminiaans nie? – só sal waarskynlik die beswaar klink. Dit is mos nie Christus wat aan my behoort nie, dit is ek wat aan Christus behoort? Dit is mos nie ek wat Christus in my hart aanneem nie, dit is Hy wat my in sy hart aanneem?

Die besware klink dalk gegrond, gemeente, en tog maak die Kategismus nie hierdie skeiding nie; die Kategismus neem nie deel aan hierdie vals dilemma nie. Die Kategismus sê beide! Die Kategismus sê sonder moeite dat ek nie aan myself behoort nie (dit is die een kant), maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus (dit is die ander kant). Daar staan dit: Hy is my getroue Verlosser, Hy is myne! En dit kan mos ook nie anders nie: hoe kan jy werklik getroos wees deur die wete dat jy die eiendom is van daardie getroue Verlosser Jesus Christus, as jy nie daarby kan sê dat Hy ook jou Verlosser is nie? Dus, gemeente, dié twee moet saamgaan. Ek is syne – ja! Maar: Hy is ook myne!

 

Maar goed, nou die eintlike vraag waarby ek wil uitkom: wánneer mag ek dit sê? Ek is syne, Hy is myne… Wanneer mag ek dit van myself sê? Die Kategismus stel dit baie mooi en stellig, maar geld dit vir elkeen? En wanneer geld dit dan vir my? Is ek syne, eers wanneer Hy myne is? Eers wanneer Hy my getroue Verlosser is deur die geloof, eers dan behoort ek nie meer aan myself nie, maar aan Hom? Is dit so? Gemeente, daar is genoeg christene vandag wat dit so sien. Kind van God word jy eers, wanneer jy – deur die werking van die Heilige Gees – Christus as jou Verlosser aanvaar het. Eers wanneer jy Christus in geloof toegeëien het, eers dan is die verlossing vir jou persoonlik bedoel. En dan kry ons as gereformeerdes dikwels die beskuldiging na ons kant toe geslinger: “By julle is ál die gedooptes kinders van God; hulle word almal outomaties God se kinders genoem sonder dat hulle alreeds Christus in geloof toegeëien het! Dit is pure verbondsoutomatisme.”

Hierdie verwyt vind ook weerklank binne ons eie kringe, by broers en susters wat werklik soos kinders van die Here wil lewe. En omdat hulle soveel erns daarmee maak, loop hulle hulleself soms vas teen die louheid en oppervlakkigheid van mede-broers en –susters. En dan begin hulle hulself afvra: kan ‘n mens ooit sien dat daardie lou broers en susters kinders van God is? Dalk moet ons ‘n bietjie suiniger wees met die benoeming ‘kind van God’. Dalk moet ons hierdie naam reserveer vir diegene waarvan almal kan sien dat hulle die Here liefhet, vir diegene wat voorbeelde is van naasteliefde. Kom ons noem slegs húlle ‘kinders van God’ wat werklik voluit vir die Here en sy gebooie wil lewe.

Ja, dalk nie so ‘n slegte idee nie… Immers, lidmate onder ons dink almal, deur die bank, dat hulle kinders van God is, maar intussen is daar tog diegene wat skaars hulle Bybel lees, en wat in hulle lewenswandel nie werklik onderskei kan word van hulle ongelowige vriende of kennisse nie. Ja, hulle gaan kerktoe, maar vir die res? Dalk is dit beter om die naam ‘kind van God’ maar eerder te reserveer vir mense wat belydenis van geloof afgelê het en ook werklik daarvolgens lewe.

 

Gemeente, hierdie siekte van oppervlakkigheid en louheid is inderdaad ‘n realiteit. Ons kan dit nie ontken nie. Maar is die voorgestelde oplossing werklik die regte kuur vir hierdie siekte? Is dít die medisyne wat die siekte gesond sal maak? Moet ons in ons onderlinge omgang begin onderskeid maak tussen ware gelowiges en skynheiliges en hulle ook as sodang hanteer? Moet ek in die prediking maar begin onderskeid maak tussen bekeerdes en onbekeerdes hier in die gemeente? Immers, daardie onderskeid bestaan mos? Verseker! Ek is onder geen illusie dat almal in die gemeente alreeds werklik tot bekering gekom het nie. En ek het verseker my vrae oor sommige lidmate se geloof en geloofserns; u waarskynlik ook. En ook in my eie geloof gaan dit op en af, is daar mooi tye, maar ook moeilike tye. Dit is alles waar! Máár is ons eers kinders van God wanneer ons Jesus Christus van harte in geloof aangeneem het en elke dag voluit daaruit lewe? Wórd God eers jou Vader wanneer jy deur die geloof sy kind geword het? Dit maak mos nie sin nie, gemeente! Van wanneer af neem ‘n kind iemand as sy vader aan? Dit is dwaasheid! Kinders adopteer mos nie ‘n vader nie; nee, ‘n vader adopteer kinders, selfs klein babatjies wat nog glad nie ja of nee kan sê nie!

 

En só gaan dit met die hemelse aanneming ook. Jesus Christus het met sy kosbare bloed vir al ons sondes ten volle betaal en ons uit alle heerskappy van die duiwel verlos. En op grond dáárvan – en daarvan alléén! – het God ons as sy kinders aangeneem. Dít is wat die doop vir ons uitbeeld! En daarom moet ons baie versigtig wees wanneer daar ‘n drang opkom om suiniger te wees met die naam ‘kind van God.’ Tereg verlang ons na meer vrugte van die Gees hier in die midde van die gemeente. Tereg meen ons dat daar fout is wanneer daar ‘n gebrek aan geestelike gawes is. Tereg is ons bekommerd wanneer ons by mede-broers en –susters so min sien van die liefde vir God.

Maar gee dit ons die reg om te twyfel aan die kindskap van daardie betrokke broers en susters? Hoekom sou jý ‘n kind van God wees, en die ander een nie? Omdat daar by jou soveel vrugte van die geloof te sien is? Omdat God iets by jou gevind het wat Hy ongelukkig by die ander een mis? Onthou dan: sonder Christus se dood aan die kruis het jy, met al jou gawes, ook niks beteken nie. Wat sou van jóú geword het sonder die kosbare bloed van Jesus Christus? En dit is op grond van daardie bloed dat ons mekaar hier in die gemeente met vrymoedigheid God se kinders mag noem! Nee, nie selfversekerdheid in onsself nie, maar vrymoedigheid in Christus se bloed, Hy het betaal!

 

Dit is daarom ook nie waar dat ons verbondsoutomatisme sou kweek as ons te rojaal is om mekaar kinders van God te noem nie. Dit is eerder andersom. Want solank as wat ek nie daarvan oortuig is dat God sy Seun ook vir my gegee het nie, voel ek ook nie werklik skuldig oor my sondes nie. As God nie jou Vader is nie, dan kan jy Hom mos ook nie seermaak met jou sondes nie, dan kan jy mos maar doen wat jy wil! Eers wanneer jy besef dat hierdie God jou Vader is, eers dan besef jy wat jy die hele tyd aan Hom gedoen het. Eers wanneer jy besef hoe lief hierdie God jou het, so lief dat Hy sy eie Seun ‘n gruwelike dood laat sterf het, eers dan groei die roeping om ook werklik jou lewe aan Hom te wy.

En dit is presies waarmee Paulus die gemeente in Korinthe oproep: “julle is duur gekoop.” En hy doen dit in ‘n gedeelte waarin dit gaan oor die huwelik en seksualiteit. Duidelik het dit in die gemeente van Korinthe nie baie goed gegaan op hierdie gebied nie; ons lei af dat hulle onder die invloed gestaan het van die vrye seksuele gewoontes van die kultuur van daardie tyd. Dit is ‘n pynlike gedeelte. Lees maar net die eerste verse van hoofstuk 5, dan sien jy watter gruwelike dinge daar plaasgevind het: “hoerery van so ‘n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het.”

En wat doen Paulus dan? Sê hy: maak eers reg voordat julle weer tot God kan nader? Bekeer julle eers voordat julle vergifnis soek by Christus? Kom eers tot bekering voor ons met sekerheid kan sê dat Christus julle gekoop het? Nee, Paulus gaan daarvan uit dat hierdie sondige gemeente, vol van hoerery, deel het aan Christus! “Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? – dit is Paulus se uitgangspunt in vers 15. En dieselfde uitgangspunt vind ons in verse 19 en 20: “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop.” Paulus gaan uit van die realiteit dat Christus met sy kosbare bloed vir die gemeente van Korinthe betaal het! Vir geen oomblik betwyfel hy daardie realiteit nie, vir geen oomblik laat hy die Korinthiërs aan daardie realiteit twyfel nie. Inteendeel, dit is sy vertrekpunt: julle behoort nie aan julleself nie, julle behoort aan God, julle is sy kinders… ook al sien ‘n mens nie altyd so baie daarvan nie! Dít is die krag van Paulus se oproep aan die Korinthiërs – hy spreek hulle aan op die feit dat hulle nie meer aan hulleself behoort nie, op die realiteit van hulle kindskap! Dit is die feite! En nou: gaan lewe nou ook so!

 

En, broers en susters, dit is ook die basis vir God se omgang met ons, en vir ons omgang met mekaar hier in die gemeente. Ek kan my vrae hê oor iemand se geloof, oor die geloofsantwoord wat hy of sy aan God verskuldig is; ek kan wonder of iemand al werklik tot bekering gekom het, werklik sy lewe aan God gewy het. Maar ek betwyfel nie sy kindskap nie, want daardie kindskap is nie gegrond op die geloof nie, maar op God se belofte wat onwankelbaar vasstaan deur die kosbare bloed van Jesus Christus. En daardie kindskap bied dan vervolgens ook aan ons die gronde om mekaar te kan oproep, te kan aanspreek, te kan vermaan tot ‘n lewe met die Vader. Ons spreek mekaar nie aan as moontlike heidene wat nog kinders van God moet wórd nie; nee, ons spreek mekaar aan as kinders van God. En dit is ‘n baie kragtige aanspraak! Dieselfde doen ons ook wanneer ons van die kindskap nog nie soveel sien as wat ons sou wou nie, en wanneer die oorblywende sonde ons selfs kan laat twyfel aan ons kindskap – dan troos ons mekaar met hierdie vastheid in Christus.

Broers en susters, moenie die troos van die kindskap onseker maak nie, moet dit ook nie van die geloof afhanklik maak nie. Natuurlik, ons mag die kindskap ook nie goedkoop maak nie; dit is immers nie goedkoop bloed wat vir hierdie kindskap betaal het nie, maar die kosbare bloed van Jesus Christus. Maar hou vas aan dit waarmee die Kategismus begin: ek behoort aan Christus, want Hy het vir my betaal! Moenie die kindskap onseker maak nie, moenie die kindskap van sy vaste fondament beroof nie. As ons dit wél doen, dan het ons van die genade verval, en is ons weer terug onder die wet, die wet van die verdienste uit goeie werke. Dit sal ‘n hartseer dag wees! [sing Skr. 22:1, 2 en 11]

In die tweede plek let ons op die eiendomsplig.

 

2. Gemeente, die troos van die eerste punt is onbeskryflik vir elkeen wat dit na waarde kan skat. Wat ‘n wonder: ek behoort aan Christus, ek is God se kind. Christus het my met sy kosbare bloed gekoop. En dit is ‘n troos wat sonder onderskeid en sonder aansien van die persoon aan elkeen in die gemeente verkondig mag word.

Beleef u ook iets van hierdie troos in Christus, ook al is dit nog maar ten dele? Ervaar jy iets van die vertroosting van Christus se liefde? Dalk ‘n klein bietjie? Ervaar jy iets van die gemeenskap van die Gees wat God aan sy kinders gee? Enige iets daarvan? Ken jy iets van God se innige tederheid en ontferming oor ons, ook al is dit nog maar min? Hierdie is nie my vrae nie, gemeente. Hooplik het u dit al herken: dit is Paulus se vrae! Hy stel naamlik hierdie vrae aan die gemeente in Filippi.

En hy doen dit op ‘n baie beskeie manier; kyk maar na die manier waarop Paulus hierdie vrae stel (Fil. 2:1). Hy is nie op soek na ‘n volmaakte begrip en ervaring van die troos en liefde in Christus nie. Nee, Paulus stel homself op as ‘n bedelaar wat net ‘n klein bietjie hiervan by die Filippense wil sien – nie omdat die strewe na die volmaakte kennis en belewing hiervan onbelangrik is nie. O nee! Maar omdat net ‘n klein bietjie alreeds genoeg is om iets uit te werk in die lewens van die Filippense; net ‘n klein bietjie sal die Filippense in beweging bring! As julle net iets verstaan van die troos in Christus, dan sal dit julle bring tot eensgesindheid, liefde en nederigheid (vers 2). As julle net iets verstaan van die troos in Christus, dan sal julle nie langer iets uit selfsug of ydele eer doen nie, dan sal jy altyd die ander hoër ag as jouself, dan sal jy altyd ook na die ander se belange omsien (verse 3-4).

 

Sien u, gemeente, Paulus gaan daarvan uit dat die enigste troos in lewe en in sterwe nie dooie kapitaal is nie, maar dat dit iets uitwerk in die lewens van diegene wat dit glo en begryp, ook al is dit nog maar ten dele. Die troos in Christus is nooit passief nie, maar dit doen iets met mense, dit bring mense in beweging. Volgens antwoord 1 maak die enigste troos mense van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe. Nee, ek sê dit verkeerd – dit maak nie ‘mense’ bereid nie, dit maak my bereid! En nou wil ek, net soos Paulus, vir die gemeente van Maranata vra: sien u iets hiervan?

Nog nie? Nog nie genoeg nie? Wel, sê Paulus in vers 5, dan gaan ons terug na Jesus Christus, ons enigste troos. “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was…” – en dan beskryf Paulus vervolgens (tot by vers 11) Jesus se daad van selfopoffering, eers deur sy menswording en vervolgens nog meer deur sy vernedering aan die kruis. En nadat hy op dié manier Jesus se liefde beskryf het, kom die oproep opnuut, en hierdie keer selfs nog sterker, dat dit iets in ons lewens moet uitwerk: “werk julle eie heil uit met vrees en bewing” (vers 12). Let wel, Paulus sê nie dat ons ons eie heil moet bewerk nie, dat ons onsself moet red nie. Nee, ons het reeds die heil! Maar gaan werk dit nou ook verder uit, gee daaraan hande en voete, laat die verlossing in jou lewe tot uiting kom. En om hulle daarmee te help, gee Paulus sommer self alreeds ‘n konkrete uitwerking hieraan in verse 14-15: “Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag…” Sien u, Paulus noem die gelowiges in Filippi sonder moeite ‘kinders van God’ (die eerste punt van die preek), maar hy wys ook dat dit sigbaar behoort te word.

 

Gemeente, dit is ons eiendomsplig! En nee, ons gaan dit nie in eie krag kan doen nie. Dit is die wonderlike dat, wanneer Paulus die Filippense oproep om hulle eie heil uit te werk, hy onmiddellik byvoeg: “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (vers 13). Dit blyk dus dat die goeie werke wat gelowiges verrig, uiteindelik God se werkstuk is; Hy verdien daarvoor die lof en die dank. Maar dit maak die plig op jou en my nog nie minder nie. Dit haal nie die verantwoordelikheid weg nie. En daarmee moet ons as kinders van God groot erns maak.

Ek wil u iets vertel wat ek alreeds enkele weke gelede vir die katkisante vertel het: daar was ‘n meisie, geen lid van ons gemeente nie, wat die laaste jare altyd getrou die katkisasie bygewoon het. Aan die begin van hierdie jaar het sy egter ophou kom. Tydens ‘n gesprek met haar kom toe as een van die redes uit dat dit haar gepla het dat sommige kinders baie mooi kan praat oor hulle geloof, terwyl hulle lewenswandel iets heeltemal anders wys. Kom ons los vir ‘n oomblik die reg of verkeerd van haar beoordeling; dis nie nou ter sake nie. Dit gaan oor die beginsel, naamlik die groot belang vir gelowiges om leer en lewe, regverdiging en heiliging bymekaar te hou. Regverdiging en heiliging is nie as los pakkette verkrygbaar nie. Saam met die eiendomsreg gaan altyd die eiendomsplig. Dit is ‘n saak van gehoorsaamheid… want ek behoort aan Jesus Christus!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 93          

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 75:1 en 4

Gebed

Lees:    1 Korinthiërs 6:12-20

            Filippense 2:1-18

Sing Skr. 7:1, 3, 5 en 7 (beryming van Jes. 53 – hierin sien ons Christus se nederigheid)

Teks: HK, Sondag 1

Preek

  • Na 1ste punt Skr. 22:1, 2 en 11
  • Amenlied Ps 63:1, 3 en 4

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 71:1, 9 en 14

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)