Hulle het gedoen wat goed was in hulle eie oë

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-04-22
Teks: 
Rigters 21:25
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Rigters 17-21

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Ná ‘n kort onderbreking kom ons vandag by die laaste paar hoofstukke van die boek Rigters – daarmee wil ons ook hierdie reeks preke afsluit. Maar hoekom nou vyf lang hoofstukke in een preek behandel? Is die dominee dan haastig om klaar te maak met Rigters? Wel, broers en susters, ons sou hoofstukke 17-21 sekerlik kon opdeel, dit is waar. Immers, hoofstukke 17 en 18 vertel ‘n ander geskiedenis, ‘n ander verhaal as hoofstukke 19-21. En ook binne die onderskeie verhale sou ‘n mens sekerlik onderverdelings kon maak. En tóg vorm hierdie vyf hoofstukke ‘n besondere eenheid.

In die eerste plek vorm dit ‘n eenheid binne die struktuur van die hele boek Rigters. Soos ek reg aan die begin van hierdie reeks gesê het, kan ons die boek Rigters in drie hoofdele verdeel – daar is die dubbele inleiding in die begin (hoofstuk 1:1-2:5 en 2:6-3:6); daar is ‘n lang middelste gedeelte, die sogenaamde rigter-siklusse (hoofstuk 3:7-16:31); en dan is daar, teenoor die dubbele inleiding in die begin, ook ‘n dubbele slot aan die einde (hoofstuk 17-18 en 19-21) [sien nr. 1 op die papier].

In die tweede plek vorm hierdie vyf hoofstukke ‘n eenheid deur die herhaling van die refrein – ons hoor dit die eerste keer in hoofstuk 17:6 en dan ook weer in hoofstuk 21:25 (“In dié dae was daar geen koning in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy oë”), asook die verkorte weergawe hiervan in hoofstuk 18:1 en hoofstuk 19:1 (“In dié dae was daar geen koning in Israel nie”) [sien nr. 2 op die papier]. Deur hierdie refrein word hoofstukke 17-21 duidelik aanmekaar verbind.

En in die derde plek vorm hierdie hoofstukke ‘n eenheid deurdat beide verhale (die verhaal van hoofstuk 17 en 18, asook die verhaal van hoofstuk 19-21) baie vroeër afspeel as wat hulle plasing in die boek suggereer. Beide verhale word aan die einde van die boek Rigters geplaas, maar chronologies moet hulle eintlik reg aan die begin van die boek geplaas word [die redes hiervoor kan u by nr. 3 op die papier lees]. Maar hoekom word hulle dan aan die einde geplaas? Wel, dit lyk asof die outeur reg aan die einde van hierdie boek nog vir ‘n laaste maal deur middel van hierdie twee uitgebreide verhale ‘n oorsig wil gee van die algemene toestand van die volk. Deur hierdie verhale aan die einde te plaas, wys die outeur dat hierdie gebeure nie maar net eenmalige gebeure was nie, maar dat dít die patroon was onder God se volk. Vir ‘n laaste maal wys hy: só het dit met Israel gegaan toe daar geen koning was nie, en toe elkeen gedoen het wat reg was in sy eie oë.

 

 

Nou goed, ons gaan nie hoofstukke 17-21 nou lees nie, maar ons moet darem weet waaroor dit gaan…

 

Die eerste verhaal gaan oor ‘n sekere Miga wat silwer by sy ma gesteel het. Toe hy dit, vanweë sy skuldgevoelens, vir sy ma teruggee, was sy so bly dat sy dit laat smelt en ‘n gesnede beeld daarvan laat maak het. Dit het Miga vervolgens in sy eie privaat godshuis gaan neersit. Daar in Miga se godshuis het sy seun priester-priester gespeel, totdat daar op ‘n stadium ‘n reisende leviet verby gekom het. Hy word deur Miga oorreed om te bly, en so kry Miga se privaat erediens die status waarna hy verlang het – hy het nou sy eie priester. Só wou Miga en sy familie die Here dien. Hulle het gedoen wat goed was in hulle eie oë.

Vervolgens kom die stam van Dan op die toneel. Hulle kon, helaas, nie hulle beloofde grondgebied in besit neem nie, en daarom het hulle die belofte van die Here maar laat vaar en grondgebied buite die grense van hulle erfenis gaan soek. Op pad om hulle nuwe grondgebied in besit te gaan neem, het hulle Miga se gesnede beeld gesteel en dit in hulle eie heiligdom gaan oprig. So word Miga se huisgod Dan se stamgod. Toe koning Jerobeam jare later sy eie altare laat oprig het, was sy besluit om een daarvan in Dan te laat oprig, nie sommer lukraak nie. Nee, die Daniete het in die rigtertyd alreeds die aanvoerwerk hiervoor gedoen. Hulle het gedoen wat goed was in hulle eie oë.

 

In die tweede verhaal het ons wéér met ‘n leviet te make. ‘n Leviet met ‘n byvrou – vreemde kombinasie! Hierdie byvrou het van hom af weggeloop, terug na haar pa se huis toe. Vervolgens gaan haal manlief haar daar, en op hulle reis terug moet hulle êrens oornag. Eers oorweeg hulle Jebus, maar omdat dit te gevaarlik is, besluit hulle op Gibea. Min het hulle geweet hoe gevaarlik Gibea vir hulle sou wees! Daardie nag omsingel die manne van Gibea die huis waar hierdie leviet en sy byvrou oornag het – a la-Sodom soek hulle die leviet om met hom homoseksuele dade te verrig. Om homself te beskerm, gee die leviet aan hulle sy byvrou. Die hele nag lank het hulle haar verkrag en mishandel. Half-dood het sy haarself teruggesleep na waar haar man oornag het. En asof niks gebeur het nie, roep die leviet die volgende môre sy byvrou: “Staan op en laat ons trek”, en hy is daar weg na sy huis toe. Hierdie leviet asook die inwoners van Gibea het gedoen wat goed was in hulle eie oë.

Die byvrou is uiteindelik dood as gevolg van die mishandeling, en om sy woede oor hierdie gebeure kenbaar te maak, kap die leviet haar op in twaalf stukke en stuur die stukke deur die hele Israel. Geskok reageer die res van die volk; hulle trek saam op en eis dat die inwoners van Gibea uitgelewer sal word om gestraf te word. Maar die Benjaminiete, die stam waarvan die inwoners van Gibea deel was, weier om hulle oor te lewer. Bloed is klaarblyklik dikker as die band van die verbond! Gevolglik breek ‘n oorlog uit tussen Benjamin en die res van Israel, waarin die Benjaminiete uiteindelik verslaan word – net seshonderd man bly oor van die hele stam. Vir alle praktiese doeleindes is daar nie meer twaalf nie, maar elf stamme in Israel. En dan voel die volk jammer dat hulle dit aan een van die stamme van Israel gedoen het. Wat kan hulle doen sodat hierdie stam weer opgebou word? Hulle kan nie hulle eie dogters aan hierdie seshonderd Benjaminitiese mans gee nie, want hulle het ‘n gelofte afgelê dat hulle dit nie sou doen nie. Nou ja, kom ons dink: wie het nie gekom om saam met ons teen die Benjaminiete te veg nie? A ha, die inwoners van Jabes. Dus word al die inwoners van Jabes doodgemaak, en slegs vierhonderd maagde oorgelaat om sodoende aan die Benjaminitiese mans vrouens te kan verskaf. En die ander tweehonderd vrou-loses? Wel, hulle moet maar vir hulle jong meisies gaan gryp by Silo se jaarlikse wingerd-fees. Die volk doen wat goed is in hulle eie oë.

 

 

Hulle het gedoen wat goed is in hulle eie oë… - baie konkreet word die volk se eiewilligheid in hierdie twee verhale vir ons uitgebeeld. Maar, soos ek reeds hierbo gesê het, dit is nie slegs iets van hierdie twee verhale nie, gemeente. Nee, hierdie twee verhale wys ‘n patroon, hierdie twee verhale is simptomaties van die volk in daardie tyd. Waar Rigters 1:1 begin met: “En ná die dood van Josua het die kinders van Israel die Here geraadpleeg…”, eindig Rigters in hoofstuk 21:25 met: “… elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.” ‘n Goeie begin – naamlik om die Hére se wil te soek – eindig met die onheilspellende klanke van die eiewilligheid! Elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë!

 

En wat dit nog meer onheilspellend maak, is dat die gemiddelde Suid-Afrikaner vandag, en talle kerklidmate ook, sal meen dat daar niks fout is met hierdie uitspraak nie. Doen wat goed is in jou eie oë: “Wat ookal vir jou werk!” “Dit mag vir jou verkeerd wees, maar dit werk vir my…” “Jy moet doen wat reg is vir jou.” “Wie is jy om vir my te sê wat reg en vekeerd is en wat om te doen?” Dit is uitsprake wat ons maar al te goed ken, nie waar nie? En ons ken hierdie uitsprake dikwels so goed, omdat ons hulle sélf gebruik! Ons het gewoond geraak aan die denkwyse wat meen dat elke mens sy eie wet is. Wat in my oë goed is, is my norm!

 

Maar wil jy weet wat die Skrif ons leer oor ons ‘eie oë’, en wat die Skrif ons leer oor ‘om te doen wat reg is in ons eie oë’? Wel, kom ons luister dan maar net na die boek Spreuke. Spreuke 16:2: “Al die weë van ‘n man is suiwer in sy oë, maar die HERE toets die geeste.” En iets soortgelyks vind ons in hoofstuk 21:2: “Elke weg van ‘n mens is reg in sy oë, maar die Here toets die harte.” Gemeente, hierdie twee spreuke sê nog nie wat die uitslag van die Here se toets is nie, maar dit sê in elk geval een ding vir ons, naamlik: as mense is ons standaard-uitgangspunt altyd dat ons weë suiwer en reg is; my vertrekpunt is altyd om positief na myself te kyk; ons is gewoond daaraan om ons houding en ons optredes te regverdig. Dit is hoe ons inmekaar sit. Maar is dit ‘n regte vertrekpunt? Is my uitgangspunt objektief? Kyk my oë reg?

Wel, kom ons kyk wat sien die Here, Hy wat die harte toets? Die Spreuke-digter sê: “daar is ‘n geslag wat rein is in sy eie oë, en tog van sy vuiligheid nie gewas is nie” (Spr. 30:12). Die Spreuke-digter sê: “Die luiaard is wyser in sy eie oë as sewe wat verstandig antwoord” (Spr. 26:16). Die Spreuke-digter sê: “Die weg van ‘n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad” (Spr. 12:15). Dus, die onrein geslag én die luiaard én die dwaas – hulle almal dink dat dit met hulle nie te sleg gaan nie, dat hulle heeltemal ‘oraait’ is. Maar die Here kyk anders na ons as wat ons na onsself kyk. Die Here sê in sy Woord dat ons nie in staat is om geestelik na onsself te kyk nie. Wee daarom hulle wat in eie oë wys, en na eie oordeel verstandig is (Jes. 5:21). Moenie jou eie oë vertrou nie! En daarom roep Salomo ons op in Spreuke 3:7: “Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die Here, en wyk af van die kwaad.” Jou eie oë is op een of ander manier aangetas, jy het nie meer ‘n 20/20-visie nie. Ons is onbekwaam en onbevoeg om onsself reg en wys te oordeel.

 

Wanneer die boek Rigters daarom met hierdie analise afsluit (“elkeen het gedoen wat reg was in sy oë”), dan moet ons nie daarna luister met ons postmodernisties-geïmdoktrineerde ore wat opgewonde juig as elkeen doen wat goed is in sy oë, en wat die unieke opinie en wil van elke mens besing nie. Die menseregte-ideologie is bly as elkeen doen wat goed is in sy oë, as elke mens sy potensiaal bereik om self te bepaal wat vir hom of haar werk of nie. Die individualisme van ons tyd kan dit nie verduur as iemand anders die rigting van my lewe bepaal nie. Ek is my eie koning!

Maar wanneer ons as gelowiges hierdie analise hoor, dan moet ons daarna luister met ons Skrif-geoefende ore. Elkeen in Israel het gedoen wat reg is in sy eie oë, en die godsdienstige en morele chaos onder die volk is skokkend-sigbaar in die twee verhale in die dubbele slot van Rigters. Anargie, disintegrasie van families, disintegrasie van die samelewing, homoseksualiteit, afgodsdiens en eiewillige godsdiens – dit is die diep, donker, onheilspellende tone waarmee die Rigterboek afsluit. En dit moet ons met vrees vervul, broers en susters, nie net omdat dit êrens in die geskiedenis onder God se volk plaasgevind het nie, maar omdat dit vandag in ons eie land plaasvind.

Anargie is duidelik sigbaar in die binnekringe van ons regerende party, anargie is sigbaar in ons onderwysstelsel, in ons hospitale, in talle korrupte besigheidstransaksies waaroor in die media berig word. Disintegrasie van families is aan die orde van die dag – en as jy dit nog nie hier in ons midde sien nie, gaan kyk maar net na jou bure, laat onderwysers by die skole jou vertel van gebroke gesinne, gaan besoek ‘n slag ons sendingsgemeentes, en dan sien jy wat familie-disintegrasie is. En ons eie staatspresident gee die leiding daarin met sy soveelste vrou. Disintegrasie van die samelewing – ons het ‘n polisiemag waarvan ons wonder: kan ons hulle vertrou? Ons het ‘n VIGS-pandemie wat kinders van hulle ouers beroof. Ons het die hoogste moordsyfer in die wêreld, en ons regering beweer nogtans dat dit nie buite beheer is nie. Is dit nog ‘n funksionele samelewing? Homoseksualiteit – al meer mense kom uit vir hulle homoseksuele oriëntasie, en kerke wil nie meer daarvoor uitkom dat dit sonde is nie; inteendeel, dit word selfs al hoe meer teologies geregverdig. Afgodsdiens groei wild op allerhande vlakke – van sportverafgoding tot voorvader-verering tot godsdiensgelykheid in ons grondwet; en self ons staatspresident is ‘n bevestigde voorganger in die ZCC. Suid-Afrikaners doen wat goed is in hulle eie oë…

Ja, gemeente, ons lees Rigters en ons verbaas onsself oor die gebeure wat daar beskryf word, maar dan besef ons tot ons skok: óns lewe vandag in die rigtertyd, ons lewe in ‘n land waar elkeen doen wat goed is in sy eie oë. Elkeen is sy eie koning.

 

 

En dit is dan ook presies wat die Gees in die slot van Rigters vir ons aanwys as die oorsaak van hierdie probleem. Elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë, omdat daar geen koning in Israel was nie. Ja, elkeen was sy eie koning, maar een koning om sy onderdane met wysheid en oorleg te lei? Maar… wat dan van die Here? Was Hy nie Koning nie? O verseker! Immers, net voordat die volk die beloofde land binnegetrek het – dus, nie lank voor die gebeure van Rigters 17-21 nie – besing Moses nog die koningskap van die Here: “En Hy het Koning geword in Jesurun, toe die hoofde van die volk vergader het, die stamme van Israel almal saam” (Deut. 33:5). En wanneer die volk by die Sinai kom, dan sê die Here self van sy volk: “Julle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasies wees.” Die Here is verseker Koning, en die volk is verseker sy onderdane. Maar die volk het ‘n staatsgreep uitgevoer. Die Here is van sy troon afgestoot – Hy is nie meer as Koning erken en aanbid en gehoorsaam nie. Daar wás ‘n Koning, maar Israel het geleef asof daar geen koning was nie. En gevolglik het elke Israeliet koning op sy eie ashoop geword.

 

Miga was koning in sy huis – en daarom kon hy sy eie privaat-godsdiens vorm gee. Die Daniete was konings oor hulle grondgebied – en daarom kon hulle self besluit watter volk se grondgebied hulle sou vat. Die leviet was koning oor sy lewe – en daarom kon hy sonder moeite vir homself ‘n byvrou vat. Die inwoners van Gibea was konings van hulle seksualiteit – en daarom was dit hulle keuse om homoseksualiteit te beoefen. Die volk was hulle eie koning – en daarom kon hulle besluit om die stam van Benjamin uit te roei, en daarna ook weer self besluit hoe hulle die stam van Benjamin weer sou opbou.

 

Dus, gemeente, hierdie slot van die Rigterboek is ‘n onheilspellende konstatering oor die toestand van ‘n koninglose volk: “daar was geen koning nie…” Maar dit is tegelykertyd ook ‘n gelowige versugting: “Ons het ‘n koning nodig!” En toe die volk nie lank daarna nie, tydens die lewe van die laaste rigter, Samuel, vir ‘n koning gevra het, het hulle ‘n koning gekry (1 Sam. 8). Israel het ‘n monargie geword. Nooit weer sou iemand kon sê dat daar geen koning in Israel is nie. Maar ons weet almal dat hierdie konings geen oplossing gebied het nie, in elk geval nie permanent nie. Want ook die konings van Israel was mense wat gedoen het wat goed was in hulle eie oë.

Nee, gemeente, wat ons nodig het, is ‘n ware en ewige koning, ‘n goddelike Koning! Ons het Hom nodig om ons lewens te beheer, ons het Hom nodig om ons lewens te verander sodat ons begin doen wat goed is in sy volmaakte oë. Die boek Rigters se laaste note is daarom nie slegs onheilspellend nie, maar dit is ook hoopvol. Dit is ‘n onuitgesproke verlange na Jesus Christus. Hy is die Koning van die Jode! O ja, die Joodse leiers wou sien dat daardie opskrif bo Jesus se kruis verander word. Nie: “Hy is” nie, maar “Hy Hy is die Koning van die Jode.” Maar Pilatus het net geantwoord: Wat ek geskryf het, het ek geskryf.

 

En dankie tog daarvoor want daar aan die kruis het nie ‘n man gehang met koninklike pretensies nie.  Hy was nie maar net ’n fanatieke Jood wat gedink het hy sou koning word en die Jode van die Romeinse onderdrukking sou bevry nie, nee Hy was die Koning! Hy het dit bewys met Sy opstanding uit die dood en Sy hemelvaart was sy troonbestyging. Jesus Christus is die Koning wat beantwoord aan die versugting van die slotrefrein van die boek Rigters.

Gemeente ONS het ‘n koning nodig.  Dit sit in ons om net soos die volk Israel te doen wat reg is in ons eie oe.  En die resultaat hiervan is net soos by Israel, dit is rampspoedig en dit is skokkend. Kyk maar net na ons land, en kyk maar net na ons kerklike situasie. En dit is nie maar net skokkend wat húlle doen nie; nee, ons kyk geskok na onsself.  Die afskuwelike verhale van Rigters 17 -21, die afskuwelike patroon van die boek Rigters en van Israel is ook ons patroon. 

 

En daarom verkondig ek vandag aan julle Jesus Christus.  Hy is die vervulling van die versugting in Rigters. Hy is die Koning van Israel, die Koning van die Kerk. Ons het daarom geen verskoning vandag dat ons geen koning het nie. Ons het ’n koning, die Skrif vertel ons van Hom en Hy word in die prediking lewensgroot voor u afgebeeld. Die vraag is: gaan ons voor Hom buig of nie? Gaan ons doen wat goed is in Sy oë, of gaan ons buig voor die leuse van ons tyd wat kliphard in ons ore op ‘n permanente basis skreeu: “Hoe goed is dit dat elkeen doen wat goed is in sy eie oe!”

Dit is presies wat die konings en die vorste van hierdie wereld sê. Lees maar in Psalm 2: “Laat ons hulle bande stukkend breek en hulle toue van ons afwerp. Laat ons self koning wees. Laat ons vry wees.” En dan roep die Koning van die wêreld in daardie selfde Psalm ons toe: ”Dien die Here met vrees en juig met bewing. Kus die Seun dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie. Welgeluksalig is elkeen wat by Hom skuil”

 

Wie vandag koning op sy eie ashoop wil speel sal die wrange vrugte daarvan pluk. Maar dit gaan goed met elkeen wat by Koning Jesus skuil. Reeds in hierdie lewe sal ons die gesonde vrugte daarvan pluk, wanneer hierdie Koning ons lewens beheers. Daar sal orde wees in ons midde.  Daar sal vrede wees in die kerk. Hy sal aan ons gesonde huwelike en gesonde gesinne gee.  Huwelike van een man en een vrou, waar homoseksualiteit nog as teen-natuurlik en as sondig benoem kan word. Hy sal aan ons kinders gee wat Sy weg navolg. Kinders wat uitstaande burgers van hierdie land kan wees. Burgers wat ‘n verskil kan maak op alle vlakke van die samelewing. Christen-burgers waarin ander ‘n voorbeeld sal neem. As Jesus koning is, sal afgodery onder ons geen plek meer hê nie. As Jesus koning is, dan is daar vir ‘n ander koning ook geen plek meer nie, ook my eie ego word dan onttroon. En dan word Sy wonderlike vrede-heerskappy sigbaar in my lewe. En as daar dan nog sondes oor is, wat daar verseker is, dan kan jy my daaroor aanspreek sonder dat ek jou toesnou: “Wat het dit met jou te doen? Dit werk vir my.”

Nee dan buig ek en jy saam voor die Koning wat ons van ons sondes bevry het, en wat ons laat deel in alle geregtigheid en heiligheid. Dan dank ons die Koning dat Hy sy bloed vir ons gestort het om ons heilig, sonder vlek of rimpel, voor die Vader te plaas.  Daar is niks wonderliker as om my wil aan Sy wil te onderwerp nie.

Ons het ‘n Koning, Jesus Christus is sy naam. 

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 10:3, 5, 7, 9 en 10

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 63:1 en 3

Wetslesing + HK, Sondag 42

Sing Ps. 62:5-8

Gebed

  • Voor Skriflesing sing Ps. 106:15 en 16

Teks: Rigters 21:25

  • Ná Skriflesing sing Ps. 106:17 en 18

Lees Rigters 17-21

Preek

Amenlied Ps. 149

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 47:2 en 4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)