Oor die wet

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-06-10
Teks: 
Johannes 8:7b & 11b
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – nagmaalsdiens: Johannes 8:1-11; lees Johannes 7:37-8:11

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Miskien ‘n effens vreemde vraag as ‘n mens in gedagte hou hoe ek u sopas aangespreek het (“gemeente van Jesus Christus”), en tog is dit ‘n vraag wat elkeen persoonlik raak, naamlik: wat is jou houding teenoor hierdie Jesus Christus? En moenie net hierdie vraag aanhoor nie, nee, stel dit ook aan jouself – nou! Dit is dringend! En die vraag raak soveel dringender wanneer ons daaraan dink dat ons net hierna die brood en die wyn – die vlees en bloed van Jesus Christus! – gaan eet en drink. Wanneer jy die brood en wyn uit die hand van Jesus self gaan ontvang – want onthou: Hy is die Gasheer – dan kan jy die vraag nie ontwyk nie: wat is my houding teenoor hierdie Jesus?

Nou, broers en susters, in Johannes 8 word hierdie vraag nie eksplisiet gestel nie, en tog is dit ten diepste waaroor hierdie gedeelte gaan: wat is jou houding teenoor Jesus Christus? En hierdie vraag geld sowel die aanklaers as die aangeklaagde in hierdie stukkie geskiedenis. Kom ons kyk wat hier gebeur…

 

1. Leraars van die wet kry ‘n les in die gebruik van die wet

Die episode wat hom in Johannes 8:1-11 afspeel, is nie ‘n geïsoleerde episode nie. Nee, dit het ‘n duidelike aanloop. Dit begin alreeds in hoofstuk 7:37, waar Jesus se indrukwekkende uitspraak die skare aan die praat het. Sy opmerklike uitnodiging aan almal wat dors het om by Hom te kom drink, is onder die feesgangers die gesprek van die dag. En ons sien dat die menings sterk gewissel het oor Wie Jesus nou werklik was. Johannes sê in vers 43 selfs dat daar verdeeldheid onder die skare oor Hom gekom het. Dit wil sowaar voorkom asof die geestelike eenheid van die jode daar in Jerusalem skeure begin vertoon het toe dit kom by die vraag oor hulle houding teenoor Jesus Christus.

Maar gelukkig, ten minste het die godsdienstige leiers een front teenoor Jesus gevorm, want – so lui die retoriese vraag in vers 48 – het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Nee, natuurlik nie! In teenstelling tot die vervloekte skare wat die wet nie geken het nie (vers 49), het húlle ten minste uit een mond laat hoor dat Jesus ‘n verleier is! Sonder om werklik Jesus se woorde en sy leer te ondersoek, sonder om Hom eers te hoor en te weet wat Hy doen – soos wat Nikodemus in vers 51 tereg aantoon – het die leiers Hom alreeds veroordeel as ‘n oortreder van die wet! En die volk, wat die wet nie geken het nie, het Hom soos blinde skape gevolg. Maar, gemeente, hoe goed het die leiers sélf die wet geken…?

 

Die volgende môre vroeg is Jesus alweer aan die werk in die tempel. Hy het daar gesit en die skare, wat op Hom afgekom het, geleer. Die rus word egter versteur deur ‘n nuwe aksie van die godsdienstige leiers. Hulle bring ‘n getroude vrou na Hom toe wat betrap was op owerspel. Hulle gebruik haar vir ‘n konkrete gevallestudie in wetstoepassing wat hulle aan Jesus wil voorlê: “Jesus, hierdie vrou is betrap op owerspel, en volgens die wet van Moses moet sy gestenig word. Nou, wat sê u hiervan? Wat is u houding teenoor hierdie vrou?” Baie slim! Die leiers dink dat hulle met hierdie vraag Jesus in ‘n onmoontlike dilemma geplaas het, want kies Hy die kant van die vrou, onderhou Hy nie die wet nie; kies Hy die onderhouding van die wet, waar is dan sy liefde vir sondaars?

Jesus reageer glad nie op die vraagstelling nie. Hy buk neer en skryf met sy vinger in die grond; Hy hou Homself bewustelik afsydig. Eers wanneer die skrifgeleerdes en Fariseërs aanhou vra en op ‘n antwoord aandring, eers dan verbreek die Here sy stilswye: “Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi.” En weer hervat Jesus sy afsydige posisie op die grond. Opmerklik! Jesus kies dus vir steniging as straf, presies soos wat die wet van Moses dit voorskryf. En tegelykertyd word die getuies van die vrou se sonde uitgedaag om sélf met die teregstelling te begin – toevallig óók ‘n voorskrif uit die wet van Moses, maar een wat die Fariseërs en Skrifgeleerdes gerieflikheidshalwe verswyg het! Maar, voeg Jesus by, laat diegene wat skuldvry is, die eerste steen gooi.

 

Sien u, gemeente, Jesus gaan in sy antwoord nie in op die sonde van die vrou nie; die vrou verdwyn heeltemal uit die fokus in hierdie gesprek. Jesus rig Hom tot die aanklaers! Hy dwing die aanklaers tot selfondersoek, want Hy weet dat hulle besig is om, in hierdie spesifieke geval van die owerspelige vrou, die wet op ‘n onwettige wyse te gebruik. Hulle misbruik die wet van Moses en hulle misbruik die skuld van die owerspelige vrou om ‘n onskuldige – Homself! – te kan beskuldig. Ja, Jesus weet dat dit vir hierdie aanklaers nie oor die vrou gaan nie; sy is maar net ‘n speelbal. Hulle soek Hóm! Hulle wil Hóm beskuldig, hulle soek ‘n rede om Hóm te veroordeel. En daarvoor moet die wet nou diens doen. Maar, wys Jesus vir hulle, só het julle self teen die wet van Moses ingegaan, omdat julle haatgevoelens koester, valse beskuldigings teen My oorweeg, en moordplanne teen My beraam. Skielik word die aanklaers op heterdaad betrap deur Hom wat die harte ken.  

Die leiers van die volk wou ‘n konkrete gevallestudie in wetstoepassing misbruik om Jesus vas te vang. Die leraars van die wet het die wet misbruik om Jesus te kan beskuldig. Maar dan wys Jesus dat hulle die wet nooit reg sal kan gebruik, die wet nooit in sy diepte sal verstaan as hulle aanhou om die wet teenoor Hom te misbruik nie. Jesus kan immers nooit teenoor die wet geplaas word nie; Hy is dan die Wetgewer én die vervulling van die wet! Jesus sê as’t ware vir die Skrifgeleerdes en Fariseërs: julle houding teenoor My moet verander, anders gaan julle sterk punt – julle kennis van die wet – altyd julle swak punt bly. Die vraag, sê Jesus, is dus nie: hoe staan Ek teenoor die wet nie, maar die vraag is eerder: hoe staan julle teenoor My? Wetgeleerdes van Israel, wat is julle houding teenoor Jesus Christus?

Die reaksie is hartseer – hoewel hulle gewete hulle wel aangekla het, sluip hulle een vir een weg, in plaas daarvan om na Jesus te gaan. Leraars van die wet wys die Here Jesus af – wat bly dan nog oor van die wet?

 

Gemeente, die selfondersoek wat in die nagmaalsformulier van ons geëis word, bring elkeen van ons ook by die wet van die Here. Elkeen van ons was hooplik in die afgelope week, en sal net hierna wanneer ons die formulier verder lees, met die wet besig wees. Ons is en ons word voor God se wil geplaas. Hoe hanteer ons die wet? Wat is die regte manier om met die wet om te gaan? Want so maklik word die wet ‘n grootheid in sigself wat ons los van Jesus gebruik – in die beste geval kla dit ons gewete aan, maar weet ons vervolgens nie waarheen om te gaan vir hulp nie; in die slegste geval verdraai en misbruik ons die wet om onsself tog effens beter te laat lyk as wat ons in werklikheid is.

Maar onthou, broer en suster, wanneer jy jouself ondersoek in die lig van die wet, as die wet wat elke Sondag gelees word jou sondes pynlik uitlig, dan is die vraag nie: “Wat doen ek nou met die wet?” nie. Nee, die vraag is: “Wat is jou houding teenoor Jesus Christus?” Die wet het nie tot doel om jou by die wet te bring nie, maar het tot doel om jou by Jesus Christus te bring. Dit is wat Jesus die Fariseërs en Skrifgeleerdes wou leer – in die wet het julle met My te make! Kom daarom na My toe. Jammer genoeg het hulle dit nie verstaan nie; een vir een het hulle weggesluip. Moenie jy ook wegloop nie, gaan na Hom toe! Hy is die Wetgewer, Hy is die vervuller van die wet, en daarom kan Hy jou verlos van al jou sondes.

 

2. ‘n Sondares kry nog ‘n kans

En dan is daar nog die vrou… Ja, soos ek reeds gesê het, sy het so ‘n bietjie uit die prentjie verdwyn. Maar noudat die aanklaers weg is, nou bly sy alleen by Jesus agter. Indringend kyk Jesus na haar: “Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie?” Jesus hoef natuurlik nie te vra of sy werklik skuldig is nie, want Hy ken haar en Hy weet dat sy nie ‘n enkele verskoning het nie. Maar dit is ook nie waaroor Jesus se vraag aan haar gaan nie. Nee, Jesus se vraag gaan daaroor of sy deur iemand veroordeel is. Het enige van haar aanklaers agtergebly om die – teregte – beskuldiging tot uitvoering te bring? “Niemand nie, Here”, is haar antwoord, waarop Jesus dan reageer: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”

Wat presies doen Jesus hier, gemeente? Vergewe Hy haar sondes? Dit is nie wat daar staan nie, ook al verstaan ons dit dikwels so. Nee, Jesus vergewe nie haar sondes nie, Hy spreek haar nie vry van skuld nie. Hy volg eenvoudig die wet – is dit nie verstommend om te sien hoe goed die Here Jesus die wet geken het nie! Want onthou: Hy self was nie ‘n getuie van die vrou se oortreding nie, en daarom wil en kan Hy in hierdie saak ook nie die regter wees nie: “Ek veroordeel jou ook nie.” Hy ontslaan dus nie noodwendig die owerspelige vrou van regsvervolging nie, Hy verklaar haar nie onskuldig nie, maar wanneer Hy om Hom heen kyk, moet Hy konstateer dat die aanklaers en getuies weg is; blykbaar wil hulle nie die proses voortsit nie. En sonder aanklaers en getuies is daar geen bewyse nie, sonder bewyse is daar geen vonnis nie, en sonder vonnis kan daar ook geen voltrekking van die vonnis wees nie. Daarmee het die saak verval. “Ek veroordeel jou ook nie” – dit is geen uitspraak van vergifnis nie, dit is eenvoudig goeie regsprosedure.

 

Maar is dit dan nou dit? Is daar niks meer om te sê nie? O ja, Jesus gaan nog meer sê, maar Hy moes eers die opening daarvoor skep. En deurdat Hy hierdie saak op ordelike wyse verdaag het, kom daar nou ruimte vir verdere verwikkelinge. Nou is hierdie vrou nie meer onder die beskuldiging van die getuies nie, maar nou staan sy voor Jesus, en Hy laat haar nie maar net gaan nie. Nee, Hy beveel haar uitdruklik: “… sondig nie meer nie.” Jesus roep hierdie vrou op om ‘n nuwe lewe te begin, om nie meer te lewe soos wat sy voorheen gelewe het nie. Maar hoe moet sy dit doen? Wel, hier staan sy voor Jesus Christus, die Redder van die wêreld. En onmiddelik lê daarmee die vraag by die vrou: Wat is van nou af my houding teenoor Jesus Christus?

Jesus veroordeel dus nie, want dit is nie waarvoor Hy in die wêreld gekom het nie; Hy het nie in die wêreld gekom om te veroordeel nie, maar om te red. Máár: wat sal hierdie vrou se houding teenoor die Redder wees as sy van Hom heengegaan het? Gemeente, Jesus maak die toekoms vir hierdie vrou oop: Gaan heen! Maar Hy wil hê dit moet ‘n toekoms saam met Hóm wees. Want Hy het gekom om die straf vir die sonde van ander, ook van hierdie vrou, te dra. Self was Hy absoluut sonder sonde. En tog het Hy nie klippe in sy hande aangedra om die doodstraf, soos deur Moses bepaal, te voltrek nie. Nee, Hy is die Lam van God wat eerder die sonde van wêreld wegdra! Daarom kan Jesus op hierdie oomblik die owerspelige vrou laat gaan: sy is betrap, maar nie veroordeel nie. Sondig dan nie meer nie, maar lewe met My! Kyk na My, kyk na wat met My gaan gebeur, kom saam na Golgota en dáár vind jy vergifnis van al jou sondes.

 

Broer en suster, wanneer jy selfondersoek gedoen het en elke keer wanneer jy dit weer gaan doen, en besef dat jy skuldig staan, weet dan dat die sonde as sulks nie die primêre probleem is nie. Ag, natuurlik is die sonde die probleem, natuurlik is sonde die oorsaak van alle verskrikking en ellende in hierdie wêreld. Nee, ons moenie die sonde verklein nie. Maar wat ek bedoel is dat die vraag nie is óf ons sonde doen nie, Jesus veroordeel ons ook nie in die eerste plek op grond van ons sonde nie. Nee, die vraag – en dit is ‘n baie dringender een as die vraag of jy sonde doen – is heel eerste: wat is jou houding teenoor Jesus Christus? Hóm het God gestuur om vir ons sondes versoening te doen, en daarom val die beslissing oor ons sonde by ons houding teenoor Hóm! Is Hy die hoeksteen waarop jy bou? Of verwerp jy hierdie steen? Glo jy in Hom, of vertrou jy op jouself?

Broeders en susters, ons word almal opgeroep om hierdie vraag te stel. Wanneer ons net hierna die wet gaan lees en jy jouself daaraan toets, moenie by jouself bly nie. Moenie, deur jou gewete bestraf, omdraai en in eie krag verder probeer lewe nie. Moet ook nie probeer om tog nog iets goeds in jouself te vind nie. Nee, kom ons vlug saam na Jesus Christus, kom ons eet en drink gretig van die brood en die wyn. En gaan dan heen in vrede, en sondig nie meer nie.

Amen

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Psalm 19:1-4
  • Votum en seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.  
  • Sing Ps. 89:1-3
  • Kort gebed
  • Lees:    Johannes 7:37-8:11
  • Teks: Johannes 8:7b en 11b
  • Preek
  • Sing Ps. 118:3, 11, 14
  • Lees formulier + wet
  • Na lesing van die wet, sing Skr. 26:10 en 11
  • Vervolg lesing van formulier
  • Terwyl die tafel in gereedheid gebring word, sing ons Ps. 23 (wysie soos in die Psalmboek; goedgekeur deur die sinode van 1982)
  • Viering van die nagmaal
    • Eerste tafel – Ps. 32:1
    • Tweede tafel – Ps. 32:3
    • Derde tafel – Ps. 32:4
  • Voltooi formulier & dankgebed
  • Kollekte
  • Slotsang Ps. 65:2 en 3
  • Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)