Het God miskien sy volk vergeet?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2012-08-26
Teks: 
Openbaring 6:17b
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Openbaring 6:17b; lees Openbaring 6:1-7:8

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Klein Corli is van geboorte ‘n Suid-Afrikaanse burger. Sy kan aansoek doen vir ‘n Suid-Afrikaanse paspoort. Dit geld vir die meeste van ons. Ander, weer, het ‘n Nederlandse paspoort. En dan is daar ook ‘n klompie onder ons met ‘n dubbele nasionaliteit. Maar, gemeente, Corli het vandag ook nog ‘n ander paspoort gekry. Sy is vanweë haar geboorte uit gelowige ouers ook ‘n burger van Israel. Is sy daarmee ‘n Jodin? Nee, maar sy is wel ‘n Israeliet, deel van die volk wat uit Abraham gebore is (ons het daarvan gesing in Psalm 105). En dit is ‘n belangriker nasionaliteit as haar Suid-Afrikaanse nasionaliteit. Vir haar moontlike toekomstige reise deur hierdie wêreld sal haar Suid-Afrikaanse nasionaliteit en paspoort voldoende wees, maar vir haar reis deur die lewe is haar paspoort van Israel onontbeerlik. Haar ouers moet haar leer – en ons moet almal ons kinders leer – dat ons burgers is van die Israel van God. En daarom gaan die lot van Israel ons aan die hart, en staan ons nie koud wanneer ons hoor dat die Here sy verbondswraak oor Israel laat geld nie. Nou, dit is presies waarmee ons in vandag se Skrifgedeelte te doen kry…

Tema: Het God miskien sy volk vergeet?

 

Gemeente, ons sit ons spannende reis deur die boek Openbaring voort. In die laaste preek uit Openbaring 4 en 5 het ons gesien dat Jesus Christus die boekrol gevat het uit die hand van Hom wat op die troon sit. Deur sy werk aan die kruis is Hy waardig om hierdie boek oop te maak en sy sewe seëls te breek (5:5). Máár… ons het ook gesien (vanuit ‘n soortgelyke boekrol in Esegiël 2) dat hierdie boek God se oordeel en wraak oor sy ontroue verbondsvolk bevat. Dus, wanneer in hoofstuk 6 die eerste ses seëls een vir een verbreek word, dan moet ons oordeel en wraak verwag. Maak jouself gereed hiervoor!

Nou goed, by die oopbreek van die eerste seël kom ‘n wit perd te voorskyn. “En Hy wat daarop sit, het ‘n boog; en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin.” Baie mense dink dat ons hier met Christus te make het, juis vanweë die feit dat ons in hoofstuk 19:11 ook ‘n wit perd teëkom, waar dit sonder twyfel Christus is wat op daardie perd sit. Maar dit sou vreemd wees as Christus as Lam die seël sou oopmaak, en vervolgens op sy eie bevel sou uitry. Verder sien ons in Openbaring 19 dat Christus baie krone op sy hoof gehad het, terwyl aan hierdie figuur slegs een kroon gegee word; ook is Christus in Openbaring 19 toegerus met ‘n swaard wat uitgaan uit sy mond, terwyl hierdie figuur ‘n boog het. Nee, ons moet hierdie eerste wit perd in samehang lees met die volgende drie perde – hierdie vier vorm saam ‘n homogene groep wat die taak het om die verbondswraak te kom toepas. Daarom moet ons by hierdie wit perd, net soos by die volgende drie, eerder dink aan een of ander oordeelsmag. Dit is daarom heel goed moontlik dat ons hier te make het met die oorwinnende Romeinse opmars na Jerusalem in die jaar 67 na Christus. Die ruiter-boogskutter tipeer by uitstek ‘n vyandelike inval, terwyl die kroon en die wit kleur die oorwinning verteenwoordig.

 

Die tweede ruiter ry op ‘n vuurrooi perd. Aan hom word die bevoegdheid én ‘n swaard gegee om die vrede van die land af weg te neem. In Levitikus 26:6 – die bekende hoofstuk oor God se verbondseën en verbondsvloek – belowe die Here vrede wanneer die volk trou sou wees aan sy verbond. Maar wanneer Israel sy God verlaat het, was daar geen rede om ‘vrede, vrede’ te roep nie. “Ek het my vrede van hierdie volk weggeneem, spreek die HERE”, in Jeremia 16:5. Die volk het immers Christus, die Vredevors, verwerp! Daarom word die vrede, waarvan die engele in die kersnag so heerlik gesing het, deur hierdie tweede ruiter uit die land weggeneem. En hoe doen hy dit? Wel, sê vers 4, deurdat hulle mekaar sou doodmaak.

En dit is hartseer om te sien hoe hierdie profesie bewaarheid is by die beleëring en verwoesting van Jerusalem in die jare 67 tot 70 na Christus. Nee, nie in die eerste plek deur die Romeine nie, maar deur die burgeroorlog (die interne party-stryd) wat bínne God se volk gewoed het. Hulle het mekaar doodgemaak! En ons weet eerstehands hiervan omdat Josefus, die bekende Joodse historikus wat uitgebreid oor die Joodse opstand teen die Romeine geskryf het, ons hiervan vertel. Hy sê van hierdie interne stryd onder andere die volgende: “Die opstandelinge het met mekaar geveg terwyl hulle bo-op die opgehoopte lyke gestaan het. Hulle het soos wildes te kere gegaan, so asof hulle krag geput het uit die lyke wat onder hulle voete gelê het. Hulle het steeds nuwe middele bedink om mekaar te vernietig.” Die opening van die tweede seël profeteer dus burgeroorloog en selfvernietiging binne God se volk.

 

Die derde ruiter het op ‘n swart perd gesit. Met ‘n weegskaal in sy hand was dit sy taak om hongersnood onder God se volk te bring. Prysstygings en voedselskaarste was aan die orde van die dag in Israel tydens die Romeinse beleëring. ‘n Enkele porsie koring het ‘n penning gekos – en ‘n penning was ‘n volle dag se loon. Gars was effens goedkoper, maar nog nie genoeg vir die hele gesin nie. Inwoners van Jerusalem en omstreke het hulle hele eiendom verkoop, net om ‘n enkele porsie kos te kan bekom. Uiteindelik het hongersnood die volk in die hande van die Romeine gedryf. Die hongersnood, so vertel Josefus ons, was so erg dat moeders selfs hulle eie kinders geëet het…

En dan die vierde ruiter… Hy het op ‘n vaal perd gery, die kleur van die dood. En die doderyk het hom gevolg. Watter deel van God se oordeel het hy presies kom uitvoer? Wel, as ons die samevatting aan die einde van vers 8 lees: “… aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere…”, en as ons in gedagte hou dat ons reeds die swaard en die hongersnood teëgekom het, dan moet ons by hierdie vierde perd waarskynlik dink aan dood deur die pes en die wilde diere. Met al die lyke wat die stad vol gelê het, het die higiëniese toestande vinnig agteruit gegaan en het die pes spoedig uitgebreek.

 

Gemeente, waarmee ons by die oopmaak van hierdie eerste vier seëls te make het, is God se wraak oor sy verbondsvolk. Swaard, honger, pes en wilde diere – hierdie vier word as ‘n kombinasie deur die hele Skrif gebruik om God se verbondsoordeel mee aan te dui. Lees maar saam met my Levitikus 26:21-29 [lees]. Vervolgens vind ons dieselfde ook weer in Moses se lied in Deuteronomium 32:23-25 [lees]. Daarna vind ons dit in Esegiël 5:16 en 17 en Esegiël 14:21 [lees]. En in die Nuwe Testament word hierdie lyn ook weer opgetel deur die Here Jesus self in sy profetiese rede – Mattheus 24:6 en 7 [lees].

Dus, wat ons hier in Openbaring 6 vind, broers en susters, val nie uit die lug uit nie, maar staan in die lyn van die hele Ou Testament. En daarom kan ons dit ook nie vrylik gaan toepas op alle moontlike rampe van gister en vandag nie. Want dan hou ons nie rekening met God se spesifieke oordeel oor die Heilige land en oor die Heilige stad en oor sy uitverkore verbondsvolk nie. Ons moet Skrif met Skrif vergelyk! En wat van die rol van Josefus? Wel, Josefus bied eenvoudig die illustrasies wat hierdie uitleg van die Skrif bevestig. Wees daarom versigtig om onmiddellik na vandag te spring in die toepassing van Openbaring – ook hierdie Bybelboek moet in sy heilshistoriese konteks gelees word: die konteks van God se verbondswraak oor sy afvallige volk.

 

Ons gaan na die vyfde seël…

Die vyfde seël is van ‘n ander aard as die vorige vier. Hier kry ons, net soos in hoofstukke 4 en 5, ‘n kykie in die hemel, waar die martelare onder die altaar roep om wraak oor die land. Hoekom sou dit spesifiek hier ingevoeg word? Wel, gemeente, die martelare word verseker dat hulle nie verniet vir hulle geloof gesterf het nie; hierdie versekering is ‘n baie belangrike motief om die komende oordeel oor Israel te verstaan. Die vertrapping van die bloed van Christus is natuurlik die hoofoorsaak vir die oordeel oor Israel, maar die vergieting van die bloed van die martelare is ‘n mede-oorsaak.

En dit is presies wat Jesus sê net voordat Hy, in sy profetiese rede, die oordeel oor Jerusalem aankondig. Hy sê aan die einde van Mattheus 23: “Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaria, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar…. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Mt. 23:34-39). En onmiddellik daarna, in hoofstuk 24, begin Jesus met sy profetiese oordeel oor Jerusalem. Dus, die bloed van die martelare is deels die aanleiding tot die oordeel.

 

En dan die sesde seël… Hier sien ons ‘n geweldige kosmiese ontwrigting. Ons sien ‘n aardbewing, ons sien sons- en maansverduistering, sterre wat neerval, die hemel wat wegwyk, en berge en eilande wat verskuif word. Israel se wêreld val uitmekaar onder die toorn van die Lam. In verse 15 en 16 sien ons vervolgens dat alle dele van die bevolking – van hoog tot laag – hulleself in die spelonke en grotte sal wegsteek, en vir die berge en rotse sal sê: “Val op ons en verberg ons…” Josefus bevestig dat dit presies is wat die Jode gedoen het tydens die beleëring deur die Romeine; hy sê: “Op hierdie dag het die Romeine die hele skare wat in die openbaar verskyn het, afgeslag; maar op die volgende dae het hulle die wegkruipplekke deursoek, en aangeval op hulle wat ondergronds en in die grotte was.”

Gemeente, hierdie kosmiese ontwrigting wat deur die verhoogde Christus aan Johannes op Patmos bekend gemaak word, is presies dít waarna Petrus ook in sy Pinkstertoespraak verwys, toe hy gesê het: “Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom” (Hand. 2:19-20). En hy maak soveel erns met hierdie dag van die Here om daarmee die luisteraars van sy dae te kan oproep tot geloof in Jesus Christus, en om aan die einde van sy toespraak vir hulle te kan sê: “Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag” (verkeerde geslag = ongelowige Jode; Hand. 2:40). Terloops, in dáárdie lig moet ons ook kyk na die spreek in tale op die Pinksterdag. Die spreek in tale is nie die onverstaanbare brabbeltaal wat deur baie mense vandag as bewys van die vervulling met die Gees gesien word nie; nee, die spreek in tale is die spreek in bestaande tale. Hoekom? Vir watter doel? Wel, sê Paulus in 1 Korinthiërs 14, Ek sal deur mense van ander tale tot hierdie volk (= Israel) spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie. Die tale is dus ‘n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges (bedoelende: die ongelowige Jode!). Die spreek in tale is ‘n teken van God se verbondswraak oor sy ongehoorsame en afvallige volk.

 

 

Dit was ‘n mondvol wat ons tot dusver gesê het…

 

Maar, gemeente, waaroor dit met die opening van die eerste ses seël gaan, is die skrikwekkende en verlammende oordeel wat oor Israel uitgespreek word. Miskien voel ons dit nie so erg nie, omdat ons ons verbondenheid met Israel nie meer ernstig vat nie, omdat ons nie meer sien dat die kerk vandag ‘n voortsetting is van die eertydse Israel nie. Dan is hierdie oordeel maar net iets van die verlede. Maar as ek nou vir u sê dat hier vandag ‘n jong Israeliet gedoop is? As ek vir jou sê dat jy en ek in die lyn van Israel staan, dat ons die voortsetting van Israel is? Dan kom dit skielik baie naby! Dan vra ons tereg saam met vers 17: “Wie kan bestaan? As dít God se oordeel oor sy verbondsvolk is, het God sy volk dan vergeet?” Dit is die wanhopige vraag waarmee Openbaring 6 eindig.

En dan, broers en susters, sien ons die wonder van Openbaring 7. Voordat die Here Jesus oorgaan om aan Johannes die verdere voltrekking van sy oordeel bekend te maak, voordat die sewende seël oopgemaak en die oordeel nog hewiger word, kry ons ‘n verrassende pouse in die verskriklike oordeelsdrama. Die vier engele wat die vier winde van die land vashou, word opgeroep om nog nie te los nie. “Hou die winde van vernietiging nog vas! Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie” (7:3). Dus, voordat die Romeine Jerusalem bereik en die stad met die inwoners oorweldig, kom daar ‘n breek in die vyandigheid. Hoogswaarskynlik verwys dit na die jaar 68 nC toe keiser Nero selfmoord gepleeg het, en die Romeinse generaals Vespasianus en Titus na Rome teruggedraai en ‘n jaar lank die aanval op Jerusalem gestaak het. En ons weet vanuit ander bronne dat die christene juis in daardie tyd uit Jerusalem na Pella gevlug en daar behoue gebly het.

 

En dit is waarna die verseëling van die honder-vier-en-veertigduisend verwys. Twaalfduisend uit elkeen van die twaalf stamme van Israel. ‘n Simboliese getal – verseker. Maar dit wys dat daar uit Israel tog nog ‘n res is, ‘n oorblyfsel, wat wel in die Lam geglo het, en wat deur God van die oordeel verlos word. Hier het ons die antwoord op die vraag: “Wie kan bestaan?” En die antwoord is: diegene wat deur God self beskerm en verseël word teen die oordeel. As ons enigsins vrae gehad het oor die toekoms van die kerk, wat vanuit die sentrum – Jerusalem – sou uitbrei (Hand. 1:8), dan het ons hier die heerlike antwoord. God het sy belofte, naamlik dat ‘n ‘res’ behoue sou bly, nie vergeet nie!  

En dan moet ons nie dink dat hierdie res die redding aan hulleself te danke het nie; ons moet die rede vir die verseëling nie in die honder-vier-en-veertigduisend soek nie. Nee, die opsomming van die lys in Openbaring 7:5-8 spreek immers van een en al evangelie. Ja, evangelie! Let maar net op die volgorde van hierdie lys. Dit begin nie met die oudste nie – dit is hoe óns waarskynlik sou begin het. Nee, hierdie lys begin met die evangelie van die vrye verkiesing – Juda staan voorop! En ná Ruben kom nie, soos gebruiklik, die ander seuns van Lea nie, maar eers die seuns van die byvroue. En dan éérs die seuns van die tweede byvrou, Silpa. Daarna die seuns van die eerste byvrou, Bilha. Vervolgens die orige seuns van Lea. En dán eers, heel laaste, die seuns van Josef se lieflingsvrou, Ragel, naamlik Josef en Benjamin. Dit is voorwaar sola gratia, genade alleen!

Uit Israel word, deur God se wonderlike genade, ‘n deeltjie bewaar. ‘n Klein deeltjie, dis waar, maar hierdie klein deeltjie vorm die basis, sodat uiteindelik die hele Israel gered kan word. Vanuit hierdie res, wat deur die Here van die oordeel oor Jerusalem gespaar is, volg die uitbreiding van die kerk – vanaf Jerusalem, na Judea en Samaria en tot aan die eindes van die aarde. En hierdie uitbreiding is sodanig dat Johannes, pas nadat hy die honderd-vier-en-veertigduisend aanskou het, in vers 9 die menigte mag aanskou wat niemand kan tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale. Hoor u dit: uit alle nasies en stamme en volke en tale – die stámme (die twaalduisend uit elkeen van die stámme van Israel) vorm ‘n onderdeel van die volledige en ontelbare getal. God het sy volk nie vergeet nie, en daarom is daar ‘n geweldige toekoms vir die kerk, ‘n ontelbare en onbeskryflike: “Heil aan ons God wat op die troon sit, en aan die Lam!”

 

 

Broers en susters, hooplik kan u sien dat die vernietigende oordeel oor Israel in die oorlog met die Romeine, asook God se genadige voortsetting in die res, die honderd-vier-en-veertigduisend, dat dit alles te make het met die doop van klein Corli vandag, en dat dit alles te make het met ons kerkwees vandag. Die kerk sou immers nie vandag bestaan het, as God nie ‘n voortsetting met Israel gemaak het nie; die verseëling van die gelowiges vandag het alles te make met die verseëling van die honderd-vier-en-veertigduisend verseëldes uit Israel. Hierin wys God naamlik dat Hy, ten spyte van sy oordeel, ononderbroke voortgaan met die vergadering van sy volk uit Abraham. En dit alles danksy die Lam!

 

Vir elke gedoopte om ‘n toekoms te hê, vir die kérk om ‘n toekoms te hê, moet ons – net soos die ontelbare skare wat ons voorgegaan het – ons klere was en wit maak in die bloed van die Lam (Op. 7:14). Daar is net een manier om God se verskriklike verbondswraak vry te spring, en dit is deur te skuil by die Lam, Jesus Christus. Hy is enersyds die Regter wat die seëls oopmaak om God se oordeel uit te voer. Maar Hy is andersyds ook die Redder wat, elkeen wat in Hom glo, laat wei en na lewende waterfonteine lei (Op. 7:17). Die Jode het God se oordeel oor hulle gekry, omdat hulle Jesus Christus verwerp en aan die kruis gespyker het. Maar vir die einste Jode verkondig Petrus: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus.” Daardie oproep is vandag nog net so dringend en nog net so aktueel.

 

En vir elkeen wat gedoop is in die Naam van Jesus Christus volg daar ook die verseëling – die verseëling met die Heilige Gees. Ja, so praat Paulus op verskeie plekke oor die verseëling. In Efesiërs 1:13 sê hy: “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte…” En in dieselfde brief, hoofstuk 4:30: “Bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.” Die seël wat God ons gegee het om ons daarmee te verseker dat ons aan Hom behoort en om ons te verseker dat ons vry is van die oordeel, is die Heilige Gees. Hy is, soos die Skrif ons leer, die onderpand, die eersteling, die bewys dat ons volledige verlossing aan die kom is. Deur sy werk is die deurposte van ons lewens met bloed besmeer, sodat die Engel van die verderf by ons verbygaan.

 

Gemeente, so was dit met Israel in Egipte ook. Die Engel van die verderf het by hulle verby gegaan, omdat hulle gehoorsaam die bloed van die lammetjie aan hulle deurposte gesmeer het. Maar, helaas, die daaropvolgende geskiedenis – die geskiedenis van die woestyntyd en van die rigtertyd, van die koningskap en van die ballingskap – was vir die grootste deel een lang geskiedenis van afval en ongehoorsaamheid, wat sy hoogtepunt gevind het in die kruisiging van die Messias. Dáároor kom God se oordeel in die boek Openbaring.

Nou, laat ons daaruit leer en die Gees van God, waarmee ons verseël is, nie bedroef nie. Laat ons ons hele lewe lank baie naby aan die Lam bly! Laat toe dat, elke keer wanneer die Woord verkondig word, sy bloed oor ons en ons kinders druppel. Was jou klere, jou lewe, in sy bloed. En dan mag jy seker wees dat die Gees jou sal bewaar, dat Hy jou in die geloof sal vashou. Met hierdie Goddelike seël mag jy seker wees van jou burgerskap van Israel. Wat daar ook al in jou lewe gebeur, wat daar ook al in ons land en in die wêreld gebeur, watter skrik en duisternis ons ook al omring, bo ons – so gaan ons net hierna in Psalm 74 sing – bo ons skyn die helder sterrewag van u verbond! God is trou aan sy verseëldes – aan Corli en aan elkeen van ons. En daarom is die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan ons God tot in alle ewigheid.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 76:1, 4-6

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 108:1 en 4

Wetslesing

Sing Ps. 130:2 en 4

  • Doopsformulier
  • Bediening + dankgebed
  • Sing Ps. 105:4 en 5

Lees: Openbaring 6 en 7

Sing Ps. 85:2-4

Teks: Openbaring 6:17b

Preek

Amenlied Ps. 74:3, 5, 7, 14, 15

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 42:6 en 43:3 en 5

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)