Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten
Preek – HK, Sondag 19
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
“’n Koning hou deur reg die land in stand…” – só leer die Spreuke-boek ons in Spreuke 29:4. Baie wyse woorde! Baie pynlike woorde ook, wanneer ons om ons heen sien en dalk eerstehands ervaar hoe die reg in ons eie land – en nog soveel te meer in ons buurland, Zimbabwe – vertrap word; wanneer ons sien dat die einste mense wat die reg moet handhaaf, hulleself bo die reg verhef. ‘n Koning hou deur reg die land in stand – as dít die geval is, wat is dan die implikasies vir ‘n land waar die reg nie meer gehandhaaf word nie? Wat is die toekoms vir ‘n land waar die reg vertrap word?
Broers en susters, hoe wonderlik is dit dan om vanuit Psalm 122 oor die kerk van die Here te kan sing: “Daar staan die Dawidstroon gestig, ‘n regterstoel vir die gerig.” Of in die woorde soos wat ons dit letterlik in die Skrif vind: “Want daar staan die stoele vir die gereg, die stoele van die huis van Dawid.” Ja, ook God se volk, sy kerk, word in stand gehou deurdat Hy, deur middel van sy koning, die reg handhaaf. Onder die ou verbond was dit koning Dawid en sy nakomelinge wat op die regterstoele gesit het. Die konings was die regters; dáár in Jerusalem het die Dawidiese konings die sleutels van die koninkryk bedien – hulle het versoening uitgespreek vir die gelowiges en straf vir die ongelowiges. En daarom was die digter ook so bly toe daar vir hom gesê is: “Kom, laat ons na die huis van die Here gaan.” Só was dit onder die ou verbond, maar só is dit ook nog onder die nuwe verbond. Met dié verskil dat daar vandag nie meer aardse konings op die regstoele sit nie, maar ons hemelse Koning, Jesus Christus! Deur sy regspraak, deur sy Woord, word sy Koninkryk en word die kerk gehandhaaf en gebou, en deur sy regspraak word die sondaars gestraf. Christus sit op die regterstoel – tot voordeel van sy kerk, maar tot verskrikking vir elkeen wat sy reg vertrap.
Tema: Christus sit op die geregstoel van die hemelse Jerusalem!
- Daar sorg Hy vir sy kerk
- Daar begin sy oordeel
1. Dit blyk verskillende kere uit die eerste brief van Petrus dat die christene in Klein-Asië deur ‘n baie moeilike tyd gegaan het. Hulle word – op die oomblik dat Petrus sy brief skryf – bedroef onder allerhande beproewinge (1:6); hulle staan op gespanne voet met die nie-christelike omgewing. Hierdie beproewinge het nie soseer bestaan uit fisiese vervolging nie, maar eerder uit lastering. Die christene in Klein-Asië word gelaster oor die Naam van Christus – ons kan dit duidelik aflei uit verskeie verse in die brief (bv. 2:12, 3:9, 3:16, 4:4 en 4:14). Die samelewing van daardie tyd was gelaai met die elektrisiteit van vyandskap teen die christene. Agter hulle rug is daar gefluister dat die christene allerhande verskriklike gewoontes gehad het, te skandelik selfs om te noem; hulle is ook beskou as vyande van die staat. Verder kon die christelike slawe in die oë van hulle heidense meesters eenvoudig niks reg doen nie. Ook al het hulle hul bes gedoen om hulle meesters te dien, is hulle nogtans daarvan verdink dat hulle die maatskaplike orde omver wou werp – het hulle dan nie gepraat van die vryheid waardeur hulle vrygemaak is nie? Die slawe-eienaars het gedink dat hulle christen-knegte hierdie nuwe vryheid – wat eintlik ‘n vryheid in Christus was – wou gebruik as ‘n dekmantel vir die bose (2:16). En as daar verder een of ander misdaad bedryf is – moord of diefstal – dan was die christene die eerstes wat daarvan verdink is (4:15). Daarom is die christene gereeld voor die regbank gesleep, en wanneer die regters eers uitgevind het dat hulle ‘n christen voor hulle het, was die vonnis so te sê seker: skuldig!
Ja, gemeente, dit was beslis geen maklike tyd vir die jong gelowiges nie. Maar dit is ook geen vreemde tyd nie. Die swaarkry van die gelowiges is nie onverwags nie. Petrus sê daarom ook in hoofstuk 4:12: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging nie… asof iets vreemds oor julle kom nie.” Ons vind in hierdie moeilike tyd eerder ‘n bevestiging van die woord wat sê: die dienskneg is nie meer as sy Heer nie. Jesus Christus self is immers gespot en belaster; sou sy volgelinge dit dan vryspring? Nee. Ook ons moenie verbaas wees wanneer ons fisiese of verbale vervolging moet verduur nie; dit sou heeltemal ‘normaal’ wees.
Nou, juis in hierdie ‘normale’ omstandighede wil Petrus aan sy lesers perspektief bied, wil hy vir hulle uitsig bied – hy wil vir hulle wys dat Christus, volgens hoofstuk 3:22, ná sy opstanding na die hemele gegaan het en aan die regterhand van God is. Vanuit die hemel is Hy nou die hoof van sy Christelike kerk; Hy regeer háár, maar uiteindelik ook die hele wêreld (v/a 50). Die kerk is in haar bespotting en vervolging dus nie sonder koninklike beskerming nie; die kerk is in haar beskuldigde staat voor die hofsitting van hierdie wêreld nie sonder hemelse regshulp nie. Nee, die kerk het ‘n Koning wat op die hemelse regterstoel sit! En daarom kán die kerk voortbestaan; Jesus Christus láát die kerk voortbestaan, en Hy doen dit deur sowel van binne as van buite vir haar te sorg.
Hy doen dit in die eerste plek van binne deurdat Hy, volgens antwoord 51, hemelse gawes in sy lede uitstort. Christus gee vanuit die hemel en deur die Heilige Gees aan sy kerk intern wat sy nodig het om voort te bestaan. En dit is nou presies waarna Petrus in hierdie gedeelte van sy brief ook verwys, wanneer hy vir die gelowiges wys hóé hulle kerk moet wees teenoor die lastering van die omgewing. Hulle het naamlik van Christus alles ontvang wat nodig is om as kerk teenoor ‘n vyandige omgewing te kan standhou, om laer te kan trek teenoor die wêreld. Hulle het gawes gekry (vers 10)! Ja, God het ‘n geweldige kapitaal in die kerk geïnvesteer; uit die ryk skat van sy hemelse genade het elkeen in die kerk ‘n genadegawe ontvang – nie slegs die rykes en die vooraanstaandes nie; nee, elkeen! Die bron van God se genade stroom oor in sy kerk, en almal mag daarin deel. God se Gees verleen die krag om in die gemeente te kan spreek en te kan dien (vers 11).
Die Griekse woord wat in vers 11 met ‘verleen’ vertaal is, is choregei. Nou, die choregos was in daardie tyd die man wat uit sy eie sak die kostes gedra het vir ‘n koor om in die teater te kan optree – hy was iemand wat die koor geborg het; ons kan sê hy was die beskermheer van daardie koor. Op dieselfde wyse lewe die christelike gemeente volledig op die koste van Christus. Hy betaal vir hierdie gemeente, Hy sorg daarvoor dat sy kan funksioneer deurdat Hy haar, deur sy Gees, voorsien. Koninklik en vanuit die hemel sorg Christus daarvoor dat hierdie gemeente niks kortkom nie. Daar is dus geen rede – behalwe laksheid en ongehoorsaamheid – waarom hierdie gemeente nie na behore kan voortbestaan nie, want Christus het voorsien!
En daarom, broers en susters, word óns vervolgens opgeroep om goeie bedienaars van hierdie veelvuldige genade van God te wees. Ons is immers nie trotse besitters van God se genadegawes nie, my gawes is nie myne nie; nee, ons is dankbare beheerders / rentmeesters daarvan. Alle funksies en bekwaamhede wat hier binne die gemeente bestaan – ook jou gawes – het altyd die karakter van Godgegewe moontlikhede wat jy optimaal moet benut. En ons benut ons gawes optimaal wanneer ons mekaar met daardie gawes dien – wanneer ons mekaar vurig liefhet (vers 8), wanneer ons gasvry teenoor mekaar is (vers 9), wanneer ons woorde van God spreek en wanneer ons met die krag van God dien (vers 11). Só betoon Christus Homself as die Hoof; dít is die manier waarop Christus intern vir sy kerk sorg – deurdat ek jou dien met my gawes, en deurdat jy my dien met jou gawes. Laat ons daarom ons gawes gebruik, en niemand is hiervan uitgesluit nie. Laat ons goeie bedienaars van God se genade wees. Só word Christus se hemelse Hoofskap vir ons nuttig, wanneer ons mekaar met sy gawes dien. Só word sy hemelse Hoofskap sigbaar wanneer ons diensbaar is tot sy heerlikheid!
Maar, gemeente, Christus is vervolgens ook ekstern besig. Hy sorg nie slegs van binne vir sy kerk nie, maar ook van buite deurdat Hy ons, volgens die tweede deel van antwoord 51, met sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar. Alle vyande – ja, maar agter al die vyande is daar natuurlik die een groot vyand: die duiwel, God se groot teenstander, en daarom ook die groot teenstander van die gemeente. Hy gaan, volgens hoofstuk 5:8, rond soos ‘n brullende leeu, hy soek wie hy kan verslind. Hy is lewensgevaarlik, en hy verlei die wêreld om saam met hom vyandig teenoor die kerk te staan. Maar, gemeente, vir ons word die troos gebied dat hierdie vyand nie maar net met die gemeente kan maak wat hy wil nie; hy het nie vrye teuels om die gelowiges te onderdruk nie. Uiteraard laat God soms toe dat die kerk verdruk word, maar nogtans moet die vyand en al sy aanhangers uiteindelik rekenskap gee aan Hom wat gereed staan om die lewende en die dode te oordeel (4:5). Ook hulle kan sonder God se wil nie roer of beweeg nie.
En daarom ook Petrus se oproep aan die einde van sy brief (5:6-7) om onsself, in die aangesig van die vyandskap van die wêreld, onder die kragtige hand van God te verneder. Let wel, Petrus sê nie dat God se hand ons verneder – ons klein maak – nie; nee, hy roep óns eerder op om onssélf klein te máák deur as’t ware in God se beskermende hand in te kruip. Só oorhandig ons die lewe van die kerk in die hand van Jesus Christus! Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. Die gemeente mag hulle sorge in Christus se hand lê. Ons mag onsself klein maak onder sy hand deur al ons sorge op Hom af te wentel. Dis waar, sorg en angs en onsekerheid kan ‘n swaar las in die gemeente wees, en dit kan selfs ondraaglik word. Maar ons mag onsself daarvan bevry deur dit op Jesus Christus af te wentel. Hy dra sorg vir sy gemeente, Hy beskerm en bewaar ons teen alle vyande. Hy wil dit doen, want sy gemeente is vir Hom ‘n hartsaak. ‘n Huurling sal weghardloop as die kudde met gevaar bedreig word, maar die Goeie Herder sorg vir sy skape. Sy sorg maak ons sorge oorbodig. En laat ons dit ter harte neem, broers en susters. Laat ons voortdurend ons sorge oor die gemeente en ons vrees vir die vyand aan die Here oorgee. Want Hy vergader, beskerm en onderhou sy gemeente deur sy Gees en Woord, van die begin van die wêreld tot die einde toe.
Christus sit op die hemelse regterstoel, en daarom is die kerk veilig. Sowel van binne as van buite dra Hy sorg vir sy kudde. En wie beter om dit te doen as Hy! Met sy kragtige hand wat daar is tot ons beskerming, mag ons sing: “Hoe grondvas staan Jerusalem se walle, Gods eewge bergwerk wat nie skok of skud” (Ps. 87:1 ber) As gemeente mag ons opsien na Hom!
Maar in die 2e plek let ons ook daarop dat juis dáár die oordeel begin.
2. Gemeente, daar waar Christus op die regterstoel aan die regterhand van God sit, is Hy nie slegs die groot Kerkbewaarder nie. Hy is ook die Regter, wat regverdig oordeel. Nee, nie as iets vir die toekoms nie, maar as iets van die hede! Dikwels wanneer ons oor God of Christus as die Regter praat, dan kyk ons vorentoe, na die eindoordeel. Maar Petrus praat anders hieroor. Nadat hy in verse 12-16 gepraat het oor die lyding wat die kerk moet verduur, vervolg hy onmiddellik en in aansluiting daarop in vers 17: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.” Die tyd is daar… - dit gaan hier nie oor die eindoordeel nie; Petrus sien dat die oordeel alreeds begin het, óók in die vervolging en lyding en smarte van sy dae!
Ons moet die eindoordeel dus nie losmaak van alles wat daar reeds voor die tyd in die wêreld gebeur het, asof die eindoordeel ‘n geïsoleerde gebeurtenis by die wederkoms is nie. Nee, God se oordeel is een groot eenheid! God se oordeel is een groot regsitting wat alreeds begin het net ná die sondeval en wat eers voltooi sal word by die finale oordeel. Dit is een groot, onafgebroke regspleging. Een groot drama, met verskillende tonele. Ek het hierdie beeld al vantevore gebruik, maar ons kan dit amper vergelyk met ‘n donderstorm, iets waarmee ons hier in die noorde maar alte goed bekend is – van veraf kondig die storm sy koms dreunend aan. Soms is dit vir ‘n oomblik stil, angstig stil. En die natuur wag; die voëls swyg. En dan skielik, ‘n nuwe dreuning, nog nader. Weer ‘n stilte – geen donder, geen bliksem. Maar die wolke bly aan die beweeg, die lug bly werk. Luister, weer ‘n slag, nog nader. Voortdurend die afwisseling van stilte en van nuwe onweersgeluide, maar elke keer nader. Tot skielik… ‘n geweldige reënbui, ratelende donderslag, die vensters bewe in hulle rame, en dan… daardie krakende bliksemstraal wat huise aan die brand laat slaan en lewens in ‘n oomblik kan beëindig.
Só is dit ook met die oordeel, broers en susters. Voortdurend is dit daar. Ja, dit kan vir lank stil wees. Maar daar is steeds beweging. God berei sy donder voor. Elke keer opnuut is daar ‘n slag. ‘n Storm wat oor die wêreld gaan. Elke ramp, elke aardbewing, elke oorlog, elke moord en doodslag is ‘n openbaring van die oordeel, God se veldtog teen sy vyande. En elke keer kom die oordeel nader, word die donder dreigender. Daar is dus nie verskeie oordele nie, gemeente; nee, daar is slegs die een oordeel, die oordeel van God wat Hy voltrek vanaf die sondeval tot by die voltooiing van die wêreld!
Alles goed en wel, maar wat het dit nou te make met die feit dat Christus die Bewaarder van sy kerk in verdrukking is? Hoekom praat Petrus oor die oordeel in die konteks van die verdrukte gelowiges? Die gelowiges is mos nie goddeloses nie? Nee. En tog sê Petrus: gemeente van Jesus Christus, wanneer die verdrukking losbars en die moeite kom, moenie julleself te vinnig daarvan afmaak nie; moenie maak asof dit julle nie aangaan nie. Want dit is deel van die oordeel! Dít is deel van God se groot veldtog teen die sondaars en teen die sonde. En daardie oordeel begin by die huis van God! (vers 17) Die kerk is dus die wegspringblokke vir God se oordeel. Die gemeente van Jesus Christus – dáár begin dit! En moenie daaroor verbaas wees nie, broers en susters. Want dink weer aan die donderweer… Waar slaan die bliksem die eerste? Mos nie die huisie daar onder in die vallei nie? Nee, die bliksem slaan eerste die hoogste punt – die punt van die kerktoring! Hoe hoër ons is, hoe gouer skiet die bliksemstraal na ons toe. So is dit ook met die gemeente – die gemeente is immers ‘n stad op ‘n berg, sy beklee ‘n verhewe posisie. God se bliksem soek daarom heel eerste na sy woonplek. Eers die hoë plekke, eers die kerk, en daarna laer af.
Verstaan ons dit, gemeente? Eers ons! Eers jy en ek onder God se oordeel! Ons kan so maklik sê dat die dinge wat oor ons lewens kom beproewings en loutering is. En natuurlik is dit ook so. Maar ons moenie miskyk dat dit óók oordeel kan wees nie. Oordeel oor die sonde in die gemeente. As God die sonde wil uitroei, dan moet Hy dit heel eerste in sy gemeente doen, want dáár is die gruwel van die sonde vir Hom groter as op enige ander plek. Hy toorn oor dit wat in sy huis verkeerd gaan, en daarom suiwer Hy eers dáár.
En presies hiervan het ons ook gelees het in Esegiël 9. In hierdie hoofstuk sien Esegiël eers ses manne met wapens, wapens om mee te verbrysel. Daar is ook een man met ‘n inkpot. Hierdie man word eerste aangespreek – hy moet uitgaan, en met die ink ‘n merk maak op die voorkoppe van almal wat sug en steun oor die gruwels in die stad. Hierdie sugtendes is vrygestel van die straf. Maar die ander… wel, hulle sal verdelg word; die ses manne met die wapens kry immers die opdrag: “Trek agter hom aan deur die stad, en slaan; laat julle oog nie verskoon nie, en moet nie spaar nie; slaan dood grysaards, jongmanne en jongedogters en kinders en vroue tot vernietiging toe; maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by my heiligdom.” Ja, daar in die heiligdom, daar het die grootste gruwels plaasgevind – lees maar hoofstuk 8. Begin dus in die tempel!
Maar dit is nie slegs Esegiël 9 wat vir ons wys dat die huis van God die beginpunt van die oordeel is nie. Nee, u kan dieselfde ook lees in Jeremia 25:29. In hierdie hoofstuk praat die Here oor die onheile wat bedoel is vir Egipte, Us, die Filistyne, Edom, Moab, Amon, Tirus en Sidon, Dedan en Tema en Bus, Simri en Elam en Medië en al die ander volke wat daar genoem word. Maar, sê die Here, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, dáár begin Ek met die onheile! Steeds begin die oordeel by die huis van God. As die Here begin suiwer, dan is sy heiligdom die eerste plek wat suiwer moet wees. Dan moet alles, wat nie in die gemeente hoort nie, uitgeban word. Heel eerste! Ja, óns begin so graag met die oordeel by die ongelowiges; ons lig so graag die deksel van die hel op om te sien hoe dit daar binne sal gaan. Maar ons moet by onsself begin, gemeente. Inderdaad, die oordeel eindig in die wêreld, maar dit begin in die huis van God. Laat óns dan ook by die begin begin.
Dit is waar, broers en susters, Petrus praat hier ook oor die lyding en die vervolging van die christene. Hy praat hier oor die swaarkry van diegene wat die merk dra. Maar nogtans sit daar ook in hierdie lyding altyd ‘n element van toorn. Toorn oor die sonde! En daarom is daar rede tot verootmoediging van die gemeente van God. Daar is rede om ons, wat in die heiligdom is, voor God neer te buig en onsself te ondersoek. Ons moet onsself ondersoek of ons, wat in die kerk staan, nie dalk met ons rug na God toe staan nie. Laat ons die aangesig keer na God toe, want slegs dan ontvang ons die teken van beveiliging. Slegs wie ween oor die gruwels ontvang daardie teken. Die ander sal uitgewis word…
Maar… moet ons dan nou twyfel? Moet ons begin wonder of ons nog gemeente van Christus is? Moet ons bevrees wees dat ons by die eindoordeel nie die paal gaan haal nie? Nee, gemeente, hoewel ons behoort te sidder vir God se oordeel, hoef ons nog nie te twyfel nie. Solank as wat ons die oog gerig hou op Jesus Christus, die Leidsman en voleinder van ons geloof! Wie na Hom kyk, kyk na God. Wie deur Hom na God kyk, sien God se vriendelike aangesig. En dan is Christus se wederkoms om die lewendes en die dooies te oordeel vir ons geen vreesaanjaende gebeurtenis nie, maar eerder iets waarna ons – in die woorde van antwoord 52 – met gespanne afwagting uitsien. Want wie verwag ons, gemeente? Wie verwag jy uit die hemel, broer en suster? Die oordeelsregter? Heeltemal reg, maar luister na wat ons belydenis oor Hom te sê het: ek verwag die Regter wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het.
Hoor jy dit? Die Regter is my Redder! Die Regter in die hofsaak van die eindoordeel staan nie teenoor my nie, maar Hy is my goedgesind. Die oomblik wanneer die boeke geopen en al my werke aan die lig kom en ek verdien om deur die Regter geoordeel te word, op daardie selfde oomblik open die Regter sy mond om my deur sy werk aan die kruis vry te spreek. Ek mag voorwaar uitsien na ‘n bevooroordeelde Regter wat my saak sal behartig; ek mag uitsien na ‘n partydige Regter, want ek is deel van sy party – sy hemelse party van uitverkorenes waarmee Hy met sy bloed betaal het. Loof daarom God se mag: want Hy’s reg in sy oordeelsweg; volke het Hy gestraf, Israel reg verskaf. Aan my sal op die laaste dag reg verskaf word – nie deur my werk nie, maar deur my Regter, die Redder. En daarom sê ek met vrymoedigheid: Kom Here Jesus, kom gou! Want ek is nie bang vir die eindoordeel nie. En ek sê dit nie in selfvertroue nie; nee, ek sê dit in die Naam van Jesus Christus!
Amen
Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Skr. 24:4 en 5
Gebed
Lees: 1 Petrus 3:18-5:11
Esegiël 9
Teks: HK, Sondag 19
Sing Ps. 122
Preek
Amenlied Ps. 99:1-3
Gebed
Belydenis van geloof (singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 72:2, 7 en 10
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
(kyk in preek)