Deur middel van die vyfde gebod wil God ons wys maak tot die lewe

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-02-03
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 39
Verwysing: 
HK 39-0
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – HK Sondag 39; lees Spreuke 23:12-25

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Nie almal van ons se verhouding met ons ouers is ewe goed nie, en nie almal van ons het altyd ‘n ewe goeie band met ons kinders nie. Verskillende faktore kan daartoe bydra dat die verhouding tussen ouers en kinders nie altyd is wat dit behoort te wees nie. Karakters kan meebring dat ‘n ma en haar dogter voortdurend in mekaar se hare is, of dat ‘n pa en sy seun sukkel om mekaar te vind. Verder kan omstandighede – soos finansiële moeites, onenigheid in die huwelik, of druk by die werk – meebring dat daar spanning tussen ouers en kinders is. Of ouderdom kan veroorsaak dat kinders moeite het om ‘n bejaarde pa of ma goed te hanteer. Genoeg redes waarom die ouer-kind verhouding nie altyd glad verloop nie…

 

En tog was, en is dit steeds, God se bedoeling dat daar mooi en gesonde verhoudings tussen ouers en kinders sal bestaan. Só is dit immers binne die Drie-eenheid tussen die Vader en die Seun. Hierdie twee leef in volmaakte harmonie, ‘n pragtige verhouding waarin die Vader kan verklaar: “Dit is my geliefde Seun…”, en waarin die Seun kan uitroep: “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde…”  Nou, gemeente, hierdie verhouding tussen die Vader en die Seun mag en moet ook weerspieël word in my verhouding met my pa en ma, en in my verhouding met my seun en dogter. Die liefde tussen die Vader en die Seun in die goddelike Drie-eenheid mag ook ons s’n wees wanneer pa’s en ma’s met liefde en deernis na hulle kinders kyk, en wanneer seuns en dogters met respek en waardering na hulle ouers kyk.

Maar, broers en susters, in ons sondige bestaan vra dit wysheid. Dit vra insig, dit vra dat ons sal kan onderskei waarop dit aankom. Elke ouer wat die opvoeding van die kinders ernstig opneem, weet hoeveel wysheid dit vra om goed met die kinders te kan omgaan. En elke ouer wat sy eie foute raaksien, verstaan dat ook ons kinders wysheid nodig het om goed met hulle ouers te kan omgaan. Wysheid – dít vind ons slegs in die vrees vir die Here. Slegs wanneer ons God liefhet en wanneer ons sien hoe die verhouding tussen die Vader en die Seun funksioneer, en wanneer ons glo dat Christus gekom het om dit vir ons ook te verwesenlik, slegs dan word ons wys.

 

En so beland ons sonder enige moeite in die boek Spreuke. Die boek van die wysheid in die weg van die Godsvrees. En dit is nie verbasend dat die boek Spreuke hierdie onderwerp van die verhouding tussen ouers en kinders uitgebreid hanteer nie. Telkens hoor ons in Spreuke die oproep aan kinders om na hulle ouers te luister; dink maar net aan hoofstuk 1:8: “My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie.” Verskeie kere vind ons in hierdie boek die opdrag aan ouers om die tugtiging nie van hulle kinders te weerhou nie; dink aan hoofstuk 13:24: “hy wat sy seun liefhet, besoek hom met tugtiging.” En die gevolg hiervan is ‘n wyse kind, waaroor pa en ma hulle kan verheug, soos wat ons lees in hoofstuk 23: “My seun, as jou hart wys word, dan sal my hart hom ook verheug. En my niere sal jubel as jou lippe spreek wat reg is… Die vader van ‘n regverdige juig baie; en as iemand ‘n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom.” Gemeente, die Spreuke-boek is in feite een lang uitwerking van die vyfde gebod: “eer jou vader en jou moeder”…

Tema: deur middel van die vyfde gebod wil God ons wys maak tot die lewe. Ons let op die volgende aspekte van die vyfde gebod:

  1. Onderrig en tug
  2. Vryheid en toekoms
  3. Geduld en liefde

 

1. Een van die bekendste en belangrikste beloftes wat ouers by die doop van hulle kinders maak, is dat hulle onderneem om hulle kinders in die leer van die Christelike geloof te onderrig. Natuurlik volg daar ook nog die “láát onderrig”, maar dit begin heel eerste by die eie onderrig, tuis, in die gesin. Dáár lê christelike ouers die fondament vir die lewens van hulle kinders – die fondament van die geloof, maar ook alles wat uit die geloof voortspruit: respek, goeie maniere, taalgebruik, etiket en gehoorsaamheid. ‘n Geweldige groot en verantwoordelike taak, een waarvan ons die gewig en erns maar al te dikwels op ons skouers voel druk.

Maar, broers en susters, lê ons onsself nie ‘n te swaar taak op nie? Of anders gestel: dra ons nie te swaar aan hierdie taak nie? Immers, die doopbelofte word in vandag se wêreld nie meer deur baie erken nie. Nee, in ons tyd het die gedagte van die vrye opvoeding die plek van die doopbelofte ingeneem. Die vrye opvoeding leer vir ons dat ons kinders van jongs af selfstandig moet word; dit leer vir ons dat ons nie ons kinders se vermoë om hulleself uit te druk, aan bande mag lê nie, selfs nie wanneer dit tot groot emosionele uitbarstings in die openbaar lei nie; dit leer vir ons dat ons hulle nie die antwoorde moet gee nie, maar dat hulle die antwoorde self moet ontdek. Ons moet ons kinders vrylaat! Is dit nie die rigting waarin ons ook moet beweeg nie? Wie weet, dalk doen ons dit al…

 

En tog, gemeente, praat die bybel anders oor ouerskap. Wie in bybelse sin oor ouerskap praat, praat in dieselfde asem ook altyd oor onderrig en tug – dié twee is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Ouers is geroep om hulle kinders te leer, aan hulle onderrig te gee. Dink maar net aan wat ons lees in Deuteronomium 6:6-7: “… hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” In hierdie opdrag van die Here is daar nie sprake daarvan om jou kind sy eie besluite te laat neem nie, hier is nie sprake van ‘n ruimhartige “kies maar self” nie. Nee, hier lê die volle gewig van die onderrig, as ‘n bybelse opdrag, by die ouers – en daardie gewig rus op jou as jy rustig by die huis verkeer, maar ook as jy in jou kar ry, en as jy saans gaan slaap, en soggens vroeg wanneer jy opstaan. Dit is ‘n voort-durende verantwoordelikheid!

Ja, broers en susters, in die vormende jare van ons kinders is ons, as ouers, daarvoor verantwoordelik om groot besluite van lewensbelang vir ons kinders te neem. Ons kry die taak om hulle sodanig te lei dat hulle harte wys kan word (Spr. 23:15), dat hulle lippe kan spreek wat reg is (vers 16), en dat hulle kan wandel in die vrees van die Here (vers 17). Só belangrik is die onderrig van ons kinders, veral in die eerste lewensjare waarin ouers meestal nog die enigste opvoeders is. Só belangrik is die onderrig in die bybelverhale, in die sing van die psalms, in die gebede; só belangrik is die skoolkeuse wat ouers vir hulle kinders maak; só belangrik is die christelike sfeer wat kinders by die huis mag inasem. Wat kinders vanaf hulle ouers saamgekry het aan kennis en liefde vir die Here, sal hulle hul lewe lank bybly; dit maak hulle wys tot die lewe!

 

En, gemeente, daarom is onderrig en tugtiging ons taak, u en my taak. Ons kan dit nie afskuif nie, ons kan onsself nie daarvan verskoon nie. Óns moet leer, óns moet tugtig. Ja, veral ook tugtig… Dit kans is goed dat ons binne die afsienbare toekoms wetgewing gaan hê wat ouers verbied om hulle kinders lyfstraf toe te dien. Dit is ‘n hartseer ontwikkeling, alhoewel nie heeltemal onbegryplik nie. Immers, hoeveel voorbeelde is daar nie van gevalle waar kinders mishandel is deur die woede-uitbarsting van ‘n pa of ‘n ma nie?

Maar laat ons onsself, ten spyte van die wetgewing en die uitwasse, nie daarvan weerhou om ons kinders met die roede te tugtig nie. Die Spreuke-digter leer ons in hoofstuk 23:13 en 14: “Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterf nie. Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.” Tug is dus lewensreddend. Van ‘n pakslae gaan ‘n kind nie dood nie; ons slaan hom, ja, maar ons red sy lewe van die doderyk! Laat ons as ouers daarom die daad by die woord voeg. Ons kan groot woorde gebruik: “moenie dit waag nie!”, of “as jy dit doen, gaan jy met my te doen kry!”, maar hierdie woorde word leë krete as dit nie deur die tug – ook fisiese tug – ondersteun word nie. En ons vind ‘n duidelike voorbeeld hiervan by die priester Eli… Eli was skuldig omdat hy sy seuns, wat goddeloos gelewe het, nie gestraf het nie. Ja, hy het hulle wel aangespreek, maar hy kon homself nie sover kry om hulle te straf met die middele wat hy as pa, as priester en as leier van die volk tot sy beskikking gehad het nie. En dit het verreikende gevolge gehad – vir Eli, vir sy seuns, maar ook vir die volk.

Straf is, op die oomblik dat dit toegepas moet word, nie aangenaam nie, maar ons sal uiteindelik die vrugte daarvan pluk. Die roede slaan seer, maar die Here wil hierdie roede gebruik om ons kinders te hou op die pad van die lewe.

 

Kinders, luister daarom na die onderrig van pa en ma. Les nommer 1 in die wysheidsboek van die Spreuke is: maak in jou jeug alreeds ‘n gewoonte daarvan om na jou gelowige ouers te luister. Hou altyd vas aan wat pa en ma jou geleer het, en eer hulle vir die weg wat hulle aan jou voorgehou het.

Dit is immers wat Salomo, die digter van die meeste van die spreuke in hierdie boek, self ook gedoen het. Terwyl hy alreeds koning was, het hy sy ma met die grootste respek behandel; hy het vir haar opgestaan en voor haar neergebuig, en hy het haar ‘n plek aan sy regterhand aangebied – lees maar 1 Konings 2:19. Het Salomo daarmee nie gewys dat hy besef wat hy as koning aan sy ma verskuldig was nie? En wat van die Here Jesus self, die Seun van God? Ook Hy was aan sy ouers onderdanig; ons lees daarvan in Lukas 2:51. En net die vers daarna lees ons: “En Jesus het toegeneem in wysheid…” Onderdanigheid aan sy ouers bring ook die Redder van die wêreld tot meerdere wysheid.

 

Vandaar die baie belangrike les van die Spreuke-boek: “Bring jou hart na die tug en jou oor na woorde van kennis” (Spr. 23:12). Neem die onderrig en tugtiging van pa en ma ter harte! Veral as ons op die pad is na volwassenheid is dít wat pa en ma sê nie altyd wat ons wil hoor nie; jongmense in hulle tienerjare dink dikwels dat wat pa en ma sê oudtyds en stowwerig is. Maar sien raak, jongmense, dat agter pa en ma die Here besig is om jou te onderrig. Laat dit daarom vir jou baie werd wees om jou ouers se kennis en wysheid te hoor en jou eie te maak. Vra vir die Here dat Hy jou sal help om verby jou eie weerstand te kyk na wat pa en ma regtig vir jou probeer sê. Soos wat die Spreuke-digter in hoofstuk 23:23 sê: “Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand.” Ja, wie iets koop, het iets daarvoor oor, is bereid om daarvoor te betaal. Wees só bereid om iets daarvoor oor te hê om wysheid en tug en verstand te verwerf, naamlik ‘n oop hart en ‘n luisterende oor vir die ouers wat die Here oor jou gestel het. Bewys aan hulle alle eer, liefde en trou. Onderwerp jou met die verskuldigde gehoorsaamheid aan hulle goeie leer en tug, want daardeur is die Here besig om jou lewe van die ewige dood te red. Deur middel van hulle onderrig en tug lei hulle jou op die smal pad wat na die lewe lei, en bly jy weg van die breë pad wat na die verderf lei.

Daarop let ons dan ook vervolgens: vryheid en toekoms.

 

2. Ek het hierbo reeds vlugtig verwys na die sogenaamde ‘vrye opvoeding’ wat in ons tyd soveel aanhangers het. Die vryheid van die kind staan in hierdie manier van opvoeding hoog op die prioriteitslys. Skynbaar is kinders in die verlede te veel ingeperk, skynbaar het streng opvoedingsmetodes kinders te veel aan bande gelê. En daarom het hulle nou nodig om in vryheid hulleself te ontdek en hulle eie lewenspaadjie te ontplooi. Dit klink natuurlik baie mooi; dit klink baie ruimhartig. Maar in wese is dit naïef, in wese doen ons met hierdie ideologie ons kinders ‘n groot onreg aan. Want watter vryheid is daar werklik in hierdie benadering? Watter voordeel bring dit vir ons kinders? Niks nie! Inteendeel, met so ‘n benadering stuur ons eerder ons kinders oop oë in die afgrond in. Dink daaraan: onervare, onwyse kinders word aan hulleself oorgelaat om die beslissende keuses van die lewe te maak!? Dit is soos om ‘n vierjarige kind agter die stuur van ‘n motor te laat sit, en aan hom die vryheid te gee om self te ry waarheen hy wil…

 

Nee, gemeente, egte vryheid vir ons kinders vind ons nie in totale loslating nie. Natuurlik – en dit is ‘n belangrike les vir ouers – soos wat jou kinders ouer word, gaan jy hulle meer en meer moet loslaat; dit spreek vanself dat ‘n mens ‘n vyftienjarige meer vryheid gaan gee as ‘n sewe-jarige. Maar daar is min vryheid in ‘n opvoedingstyl waar kinders van jongsaf alles sélf kan en moet bepaal…

Nee, broers en susters, egte vryheid vir ons kinders vind ons slegs in die gebod van die Here, die vyfde gebod. Immers, die vyfde gebod is deel van die wet van God, waarvan die aanhef lui: “Ek is die Here, jou God, wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het.” Dit is vryheid – die genadige verlossing deur die Here! En hoe behou kinders nou dáárdie vryheid? Deur die vyfde gebod te gehoorsaam: “Eer jou vader en jou moeder.” Vir die kinders van Israel sou die vryheid van die beloofde land voortduur solank as wat hulle aan hul ouers gehoorsaam sou wees.

En, gemeente, in daardie lig moet ons nou ook die belofte lees wat aan die vyfde gebod verbonde is: “Eer jou vader en jou moeder, sodat jou dae verleng mag word, en dit met jou goed mag gaan in die land wat die Here, jou God, aan jou gee.” Gehoorsaamheid aan die ouers word dus beloon: kinders sal gelukkig wees en ‘n lang lewe hê in die land wat die Here aan hulle gegee het. Nou woon ons natuurlik nie meer in die beloofde land nie, en tog geld hierdie belofte ook nog vir die Nuwe Testamentiese gelowiges, soos wat blyk uit die feit dat Paulus hierdie belofte in Efesiërs 5:2 herhaal.

 

Maar hoe moet ons hierdie belofte vir vandag dan konkreet maak? Wat beteken hierdie belofte vir gehoorsame kinders van vandag? Wel, in die eerste plek kan ons sê dat ons hier nie met ‘n reël sonder uitsonderings te make het nie. Dink enersyds maar net aan Abia, die siek seun van Jerobeam, wat jonk gesterf het, ook al was hy die enigste een in die huis van Jerobeam in wie iets goeds gevind is. En andersyds kan ons dink aan Job se vrae oor hoekom die goddelose mense lank bly lewe en vredig in die doderyk neerdaal? Ja, daar bly baie wat ons met betrekking tot hierdie belofte nie kan verklaar nie.

Maar wat ons wel kan sê, in die lig van die Nuwe Testament, is dat ons burgers is van ‘n hemelse koninkryk, en nie van ‘n aardse Kanaan nie. En in daardie lig moet ons die belofte by die vyfde gebod verstaan. Dan kan ons saam met die Spreuke-digter in hoofstuk 23:18 sê: “Waarlik, daar is ‘n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.” Daar is dus ‘n toekoms vir die gelowige wat sy ouers gehoorsaam is. Want in Christus kan ons ons oë rig op die koninkryk van die hemele, waar die belofte van die ewige lewe in die hemel en op die nuwe aarde vir ons wag. Wees dus verseker dat die belofte by die vyfde gebod steeds onverkort in sy Nuwe Testamentiese betekenis geld vir elke gelowige kind wat vader en moeder wil gehoorsaam.

 

Maar daarmee hoef ons nog nie te dink dat die belofte geen betekenis vir die lewe hier het nie. Nee, dit het beslis betekenis vir hierdie lewe. Maar hoe dan? Wel, ons kan onsself dit baie konkreet soos volg voorstel: Kinders is onervare en begaan maklik foute en ongelukke, nie slegs as hulle klein is nie, maar ook wanneer hulle al oppad is na die volwassenheid. En daarom het hulle die praktiese wysheid van hulle ouers nodig. Hulle het nodig om baie konkreet te hoor wat die gevare van die lewe is. Soos byvoorbeeld wat ons lees in Spreuke 23:17, 20 en 21: “Laat jou hart die sondaars nie beny nie… Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal. Want ‘n drinker en ‘n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.”

Jongmense het nodig om deur hulle ouers gewaarsku te word teen slegte vriende, die gebruik van dwelms, die misbruik van seks, of die gevare van ‘n verkeerde lewensmaat. Dit is die praktiese wysheid wat jongmense van hulle ouers moet ontvang. En gehoorsaamheid aan hierdie wysheid waarborg vir jou behoud van die lewe, want daardeur sorg jy dat jy wegbly van die gevare van die lewe en sorg jy dat jy met die Here bly wandel. Laat ons daarom na ons ouers luister. In hulle wil die Here vir ons die weg van die lewe wys. In hulle wil Hy vir ons ‘n toekoms gee!

Ten slotte: geduld en liefde

 

3. Ons het nou heelwat gesê oor die wysheid en kennis van die ouers, aan wie die kinders eer, liefde en trou behoort te bewys. Maar dit is goed om, in lyn met die Kategismus, ook daarop te wys dat ons gelowige ouers nie sonder gebreke is nie. Hulle kan soms groot foute maak – oordeelsfoute, soos wanneer hulle die verkeerde rigting vir hulle kinders aantoon, of wanneer hulle ten onregte een van die kinders straf. Verder kan ons ouers, húlle wat voorheen die steunpilare in ons lewens was, finansiële verpligtinge en emosionele moeites meebring wanneer hulle oud en afhanklik word. Daar kan ‘n punt kom wanneer ons ouers, wat altyd vir ons gedra het, nou deur ons gedra moet word – soms selfs letterlik. Dus, sowel in sondes as in ouderdom sien ons dat ons ouers nie volmaak is nie, dat hulle sterflik is. Maar wat dan van die vyfde gebod wanneer ons met die negatiewe gevolge van sondes of ouderdom by ons ouers te make kry?

 

Gemeente, in dit alles geld die vyfde gebod nog onverkort! Sowel in sondes as in ouderdom geld steeds: eer jou vader en jou moeder.

As ons slegs aan ons ouers eer en gehoorsaamheid sou bewys wanneer hulle dit verdien, ja dan kom daar vroeër of later ‘n einde aan ons onderhouding van die vyfde gebod teenoor ons ouers. Want hulle verdien dit nie altyd nie – soos ek reeds gesê het, hulle maak foute, hulle sê onwyse dinge, hulle gaan moontlik selfs op ‘n verkeerde pad. En miskien ervaar jy dit, en is dit vir jou baie moeilik. Maar dan is dit belangrik om te besef dat ons ouers se gesag nie gegrond is op húlle woorde en dade nie, maar in die instelling van die Here. En juis daarom moet ons – volgens die Kategismus – met hulle gebreke geduld hê, omdat God ons deur hulle wil regeer.

Natuurlik kan daar tye kom dat jy, in jou keuse vir die Here, téén hulle sal moet kies; daar kan tye wees wanneer jy die Here liewer sal moet hê as vader en moeder. Maar dit beteken nog nie dat jy met jou ouers hoef af te reken nie. ‘n Geloofskeuse teen jou ouers beteken nog nie noodwendig ‘n breuk met jou ouers nie. Paulus ag dit in 1 Korinthiërs 7 selfs moontlik dat in ‘n huwelik die ongelowige en die gelowige party bymekaar bly. Dan hoef sekerlik nie die verhouding tussen ongelowige ouers en gelowige kinders noodwendig verbreek te word nie. In geduld en liefde kan die gelowige kind sy ongelowige ouers bly eer.  

 

Maar ook in hulle ouderdom is die gevraagde geduld en liefde aan ons ouers soms ‘n groot opgawe. Bejaarde ouers kan dinge vir die kinders moeilik maak; hulle begin vergeet of raak dement; en soms begin die remme, wat keer dat ons verkeerde dinge sê, verslyt. Maar ook dan is die vyfde gebod ‘n opdrag van die Here.

Hy stel ons ouers oor ons, selfs op hulle sterfbed. Hulle ‘eer’ bly, ook al het die glans uit hulle lewens verdwyn. Selfs al kan ons ouers nie as ouers funksioneer nie, dan nog moet hulle hul eer bly ontvang. En dit leer die Spreuke-digter ons ook in hoofstuk 23:22: “Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie.” Juis in ouderdom sal moet blyk dat ons ook trou is aan ons ouers deur hulle te versorg en hulle in hul eensaamheid op te soek.

 

Geduld en liefde – dit is wat van ons gevra word in ons omgang as kinders met gebrekkige ouers. En dit is soms die hoogste opgawe in ons onderhouding van die vyfde gebod – om geduldig en liefdevol te bly wanneer ouers foute maak of wanneer die ouderdom sy rol begin speel. En tog is dít die weg wat die Here gekies het om ons, as kinders, te regeer.

 

Gemeente, laat die vyfde gebod só deurwerk in ons lewens dat die kern-eenheid van ons samelewing, die gesin, ‘n nuwe glans in ons gemeente kry. Laat ouers en kinders leer om, aan die hand van die vyfde gebod, só met mekaar om te gaan, dat ouers hulle kan verheug oor hulle kinders, en dat kinders trots kan wees op hulle ouers. Christelike gesinne is ‘n krag in die samelewing. Mag die Here dit uit genade aan ons skenk!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 128

Votum Ps. 121:1

Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Skr. 9:1-3 (kom ons sing saam met die ontelbare skare van gelowiges op die aarde en in die

  hemel die “lied van verlossing”)

Gebed

Lees: Spreuke 23:12-25

Sing Ps. 78:1-2

Teks: HK, Sondag 39

Preek

Amenlied Ps. 78:3-4

Gebed

Belydenis van geloof (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 34:6-8

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)