Oor te gaan in die verbond van die Here

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-03-17
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 44
Verwysing: 
HK 44-2
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – HK Sondag 44; lees Deuteronomium 29 en 30

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Onthou u nog die verbondsluiting by die Sinai? Daardie aangrypende oomblik toe die volk van aangesig tot aangesig gekom het met die heerlikheid en die majesteit van God in die vuur en in die donder? Onthou u nog hulle ontsag, hulle vrees en bewing? Wel, dit wat die volk nou – meer as veertig jaar later – in die vlakte van Moab meemaak, is dalk nie so skouspelagtig nie, maar tog net so aangrypend. Indien nie nog aangrypender nie! Sien jy voor jou geestesoog hierdie geweldige groot skare? Manne, vroue, kinders, vreemdelinge, selfs houtkappers en waterdraers – van die oudste tot die jongste, van die hoogste tot die laagste in die samelewing. Almal saam staan hulle daar voor die aangesig van die Here om, volgens vers 12, oor te gaan in die verbond van die Here!

 

“Om oor te gaan in die verbond…” – wat word presies hiermee bedoel? Was die volk dan nie alreeds in die verbond van die Here nie? Wel, gemeente, hier word presies dieselfde Hebreeuse woord gebruik as by die verbondsluiting met Abraham in Genesis 15:17, waar ons van die Here lees: “En na sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen die stukke vleis deur.” U onthou mos nog wat daar gebeur het… Abraham moes in opdrag van die Here verskillende diere in die helfte sny en teenoor mekaar plaas, sodat daar op dié manier ‘n soort bloedpad sou vorm. En vervolgens het die Here op sy eie tussen die opgekapte helftes van die verskillende diere deurgegaan (dít is die Hebreeuse woord wat ook in Deuteronomium 29 gebruik word). En dit het gesimboliseer dat, indien die Here die verbond sou breek, Hy dieselfde lot sou ondergaan as hierdie in-stukke-gekapte diere. Dan sou Hy, by wyse van spreke, ook in stukke gekap moes word as verbondsbreker.

Nou goed, dit is presies dieselfde term wat hier in Deuteronomium 29 vir die volk gebruik word! Die Here het in Genesis 15 tussen die stukke vleis deurgegaan en Homself só aan Abraham en sy nageslag verbind, nou moet die hele volk ook deurgaan, in die verbond in! Waar die volk in die vlakte van Moab gestaan het, was daar natuurlik nie letterlik ‘n bloedpad met opgekapte diere aan weerskante nie, maar nogtans was die volk se deurgaan net so werklik soos die Here s’n, en was die implikasies daarvan net so ernstig soos wat vir die Here gegeld het. Wat die Here gedoen het toe Hy met Abraham sy verbond gesluit het – naamlik om Homself te verbind – dít verwag Hy nou ook van sy volk. Dieselfde dodelike erns wat Hy op Homself gelê het – as Ek die verbond breek, dan mag met My gedoen word wat met hierdie diere gedoen is – daardie selfde erns lê Hy nou ook op sy volk wat op die punt staan om die beloofde land binne te trek! Natuurlik, die volk is alreeds in die verbond, maar God soek nou ook hulle verbintenis, hulle bloedverbintenis!

 

Dus, gemeente, hier word nie ‘n nuwe verbond met Israel as volk gesluit nie; dit het reeds by die Sinai plaasgevind. Maar onthou nou, al die twintigjariges en ouer wat daar by die Sinai aanwesig was, het tydens die reis deur die woestyn gesterf. Dit was die Here se straf oor hulle murmurering en ongeloof. Hierdie was dus amper ‘n volledige nuwe generasie wat op die punt gestaan het om Kanaan binne te trek, ‘n generasie wat hulleself nog nie amptelik aan die Here verbind het nie. En dit is die rede waarom die Here die verbond juis met hierdie nuwe generasie vernuwe. Hy verwag nou van hulle algehele toewyding in hulle verhouding met Hom. En die opmerklike, broers en susters, is dat Hy nie eens hulle toestemming daarvoor vra nie. Moses vra nie vir die volk: “Is julle dalk lus om julleself aan die Here te verbind?” nie. “Sien julle kans om die eed van trou af te lê?” Nee, Moses vra hulle niks nie, en daarom het die volk ook niks om te antwoord nie. Moses lê eenvoudig die eed van trou aan die volk op. Die antwoord van liefde, wat die volk as bondgenoot van die Here aan Hom verskuldig is, word eenvoudig as verpligting op hulle gelê. Die volk se aktiwiteit bestaan slegs daarin dat hulle stilswyend aanvaar wat Moses, en uiteindelik die Here self, hulle oplê.

En weet u wat nou die ongelooflike is? Hierdie verbondsverpligting het nie slegs gegeld vir die volk wat daar bymekaar was nie! Want, sê die Here in hoofstuk 29:14 en 15, hierdie verbond is nie slegs met julle wat hier staan nie, maar ook met die wat hier vandag nie saam met ons is nie. En dit verwys dan nie na diegene wat siek in die bed was of wat toevallig daardie dag ‘n ander afspraak gehad het nie. Nee, dit gaan hier oor die nageslag, die toekomstige geslagte – hulle is ook deel van hierdie verbond, hulle word ook onder dieselfde eed geplaas as die volk in die vlakte van Moab. En daarom is dit so ‘n pragtige teksverwysing wat die vertalers hier in ons Afrikaanse vertaling ingevoeg het, naamlik die verwysing na Handelinge 2:39. Want daar vind ons presies dieselfde! Daar sê Petrus op die Pinksterdag vir die Jode, nadat hy sopas die evangelie van Jesus Christus aan hulle verkondig het: “… die belofte kom julle toe én julle kinders én almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” God se verbondsvernuwing in die vlakte van Moab het dus deur al die generasies voortgewerk tot op die Pinksterdag, en van daar af werk dit weer verder tot op die dag van vandag. Ook ons word daarom vandag, deur die Here self in vers 15, onder die verpligting van die verbond geplaas, en ook ons moet deurgaan, in die verbond in. Die Here lê ook op ons die eedswering van die verbond. Wonderlik, nie waar nie, hoe die Here jou en my verbind met Israel in die vlakte van Moab. Ek staan in dieselfde lyn. Wat dáár gebeur het, is nie veraf geskiedenis nie; nee, dit is werklikheid vir my vandag!

 

Nou goed, broers en susters, Moses plaas dus die volk onder ‘n verpligting; hy lê ‘n eed op hulle. Maar wat het hierdie eed presies ingehou? Wel, dit vind ons aan die einde van hoofstuk 30. Dus, vanaf die begin van hoofstuk 29 moet ons spring na die einde van hoofstuk 30. Want daar vind ons naamlik die tipiese eedsweringsformule wat ons op verskeie ander plekke in die Ou Testament ook vind: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle…” (30:19) ‘n Gewigtige oomblik! En dan plaas Moses vervolgens die lewe en die dood, die geluk en die ongeluk, die seën en die vloek teenoor mekaar. En wanneer Moses hierdie teenstelling gemaak het, dan is sy oproep aan die volk: “kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag.” Gemeente, dít is die verbondsverpligting wat die Here op sy volk lê, dít is die eed wat die Here sy volk oplê. Die verbondsverpligting is nie in die eerste plek dat die volk al die gebooie van die boek Deuteronomium stiptelik moet nakom nie; nee, die verbondslas wat die Here op sy volk plaas, is om te kies vir die lewe. En natuurlik is die lewe nie iets wat in die volk se vermoë lê nie; die lewe is ‘n gawe, die lewe kry ons wanneer God die hart besny sodat ons Hom kan liefhê met ons hele hart en met ons hele siel, soos wat Hy belowe in hoofstuk 30:6. God moet dit gee. Maar Hy roep sy volk op: As Ek dit skenk, kies dan ook daarvoor!

Gemeente, dit is so belangrik dat ons sal besef: as ons vandag steeds in die lyn van die geslagte staan, as ons vandag steeds onder dieselfde verbondsverpligting as Israel staan, dan is hierdie keuse vir die lewe vir ons nie vryblywend nie, dan kan ons nie sê dat dit slegs deur Moses aan Israel opgelê is nie. Nee, die Here lê dit ook op ons, ook ons moet die lewe kies! En natuurlik – ek sê dit weereens – die lewe is ‘n gawe wat God in Jesus Christus vir ons aanbied. Dit is wat ons lees in 1 Johannes 5: “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.” Dank die Here dat die lewe ‘n gawe is! Dank die Here dat ék die lewe nie hoef te maak nie, want ek kan nie! Maar die oproep van die Here is wel: kies dan nou ook vir daardie lewe! Kies vir Jesus Christus, want wie Hom kies, het die lewe! In die verbond waarin ons met die Here staan, is dít die verpligting wat Hy op ons lê. Langs dáárdie bloedpad – Jesus Christus se bloedpad aan die kruis op Golgota – moet ons deurgaan in die verbond in. Verbondenheid met ons God is slegs moontlik langs daardie weg – die nuwe en lewende weg wat Christus vir ons oopgemaak het! Kies daarom daarvoor!

 

Gemeente, as ons vandag nadink oor Sondag 44 van die Kategismus, waarin dit vir ‘n belangrike deel gaan oor ons begeerte tot alle geregtigheid en oor ons ernstige voorneme om volgens al die gebooie van God te lewe, dan kan ons nie anders nie as om te begin by ons daadwerklike keuse vir die lewe. Dit is wat God met die volk doen – nadat Hy die tien gebooie so uitgebreid en noukeurig vir sy volk toegelig en uitgewerk het, dan sê Hy nie vir hulle: “Gaan doen dit!” nie. Nee, dan sê Hy vir hulle: “Kies die lewe!” En só werk Hy ook met ons: “Kies die lewe, kies vir Jesus Christus!” Want slegs in Hom lê die wortel vir ons begeerte tot alle geregtigheid, en slegs in Hom lê die wortel vir ons ernstige voorneme om volgens al die gebooie te lewe. Eers as Jesus Christus in jou lewe is – meer nog: eers as Jesus Christus jou lewe is – dan eers word dit moontlik om die gebod van God te wil nakom, dan eers is God se gebod vir ons nie meer swaar nie.

En dit is presies wat Moses vir die volk wil wys in Deuteronomium 30:11-14; hy sê daar: “… hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie swaar nie en is nie ver nie.” Jy hoef nie in die hemel op te klim om dit daar te gaan haal nie, jy hoef ook nie na die oorkant van die see te vaar om dit daar te gaan haal nie. Hoekom nie? Hoekom is die gebod nie swaar nie? Want, sê Moses, naby jou is die woord! En wanneer Paulus eeue later hierdie presiese verse in Romeine 10 aanhaal, dan betrek hy hierdie woord wat naby is, op Jesus Christus. Dus, vir die Nuwe Testamentiese gelowige is God se gebod nie swaar nie, want naby jou is Jesus Christus, die Woord wat vlees geword het! Hy is in jou mond en in jou hart!

 

Sien jy nou waarom die keuse vir die lewe, vir Jesus Christus, so belangrik is? Want sonder Jesus Christus sal ek nooit die begeerte tot alle geregtigheid hê nie, en sonder Jesus Christus sal ek nooit die ernstige voorneme hê om volgens al God se gebooie te lewe nie. Dit is eenvoudig nie moontlik nie. Ek kán nie God se gebooie nakom nie; meer nog: ek wíl nie. Ek is niks lus daarvoor nie! Weet u waarvoor ek lus is? Ek is lus om God se wet te oortree, ek is lus om met my volle gewig daarop te trap, dit in die modder te vertrap. En dit verander slegs as Jesus Christus naby my is, in my mond en in my hart.

Nou, het jy daardie keuse vir die lewe al gemaak, broer en suster? Of is dit iets wat ons gereformeerdes nie doen? Ons kies mos nie, want ons wórd gekies; ons lewe mos van die genade van die Here, of hoe? Natuurlik lewe ons van die genade van die Here, maar so maklik gaan ons nie daarvan afkom nie. Israel het ook van die genade van die Here gelewe – gaan lees maar hoe die Here in die eerste verse van hoofstuk 29 sy genade vir Israel beskryf: die groot tekens en wonders wat die Here gedoen het om sodoende Israel uit Egipteland uit te lei, die beskerming en versorging tydens die reis deur die woestyn, die aanvanklike oorwinnings oor die volke oos van die Jordaan… Israel het uit en uit van die genade van die Here gelewe, sodanig dat hulle klere en hulle skoene deur die veertig jaar in die woestyn nie verslyt het nie. En nogtans roep die Here Israel op: kies dan vandag! Kies die lewe! Nie as ‘n daad van verdienste nie, maar as ‘n geloofsdaad. Kies, juis omdat jy erken dat jy slegs van die Here se genade lewe. En dáárdie keuse as geloofsdaad moet ons ook maak, broers en susters. Ons kom nie daarvan weg nie. En daarom wil ek ons almal ook oproep om onsself te ondersoek: het ons, het ek in my lewe al daadwerklik die keuse vir die lewe gemaak?

 

Dit is nie ‘n keuse waarmee ons ligtelik kan omgaan nie. Moses beskryf naamlik vanaf hoofstuk 29:17 vir ons wat gebeur met die man wat die verkeerde keuse maak, wat sy hart van die Here afwend om die gode van die nasies te gaan dien. Hier het ons te make met iemand wat steeds deel is van die volk, maar wat intussen baie onverskillig met die verbond en die verbondsverpligting omgaan; hy prys homself gelukkig deur te sê (29:19): “Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel.” Dit gaan hier nie oor iemand wat in die algemeen sonde doen en die Here se gebooie oortree nie; nee, dit gaan hier oor iemand wat doelbewus sy hart vir die Here verhard het, wat nog wel deel is van die volk maar intussen nie meer met die Here wandel nie. En dan sê Moses in vers 20: “Die HERE sal hom nie wil vergewe nie, maar dan sal die toorn van die HERE en sy ywer teen dié man rook, en die hele vloek wat in hierdie boek geskrywe is, sal op hom rus; en die HERE sal sy naam onder die hemel uitdelg.” Hierdie man wou nie die keuse vir die lewe maak nie; die Here het vir hom wel die lewe aangebied, hy was deel van die verbond, maar hy het eenvoudig geweier om deur te gaan, in die verbond in.

En dit geld nie slegs van die individu nie, dit geld ook van die geslag of die stam (vers 18), dit geld ook van die gemeente wat nie kom tot die keuse vir die lewe in die Here nie. Die vloek oor daardie gemeente word in duidelike taal in hoofstuk 29:22 en verder vir ons beskryf – dit is dieselfde vloek as wat oor Sodom en Gomorra gekom het. En in hoofstuk 30:17 en 18 verkondig Moses vir die gemeente wat nie die keuse maak nie: julle sal sekerlik omkom. Wie die lewe nie kies nie, kies in feite vir die dood. Wie Jesus Christus nie kies nie, wie Jesus Christus nie as die lewe het nie, gaan dood. Moenie daardie fout maak nie, broers en susters. Moenie dink: “Ek is mos in die kerk, maar intussen wandel ek maar voort in my ou lewe” nie; moenie ‘n kerklid wees, terwyl daar in jou lewe van ware Christus-keuse geen sprake is nie. Want dán word die wet van die Here jou dood, dán sal die gebod jou veroordeel. En dan sal God se vloek jou tref, omdat jy nooit die keuse gemaak het om op die bloedpad te gaan nie. 

 

Maar wat ‘n wonder vir elkeen wat, deur die Here se krag en deur die Gees van genade, wel daardie keuse maak. Want dan kom woon Christus deur sy Gees in ons harte. En vanuit die hart waarin Jesus Christus deur sy Gees woning gemaak het, vanuit die hart wat deur God besny is, kom daar ware liefde vir die Here. En vanuit daardie hart kom daar die begeerte om volgens al God se gebooie te lewe. En vanuit daardie hart kom daar die ernstige voorneme om volgens al die gebooie van die Here te lewe. En dít maak die Here bly, broers en susters! Dit is wat die Here by ons wil sien! Natuurlik, die Here soek daadwerklike gehoorsaamheid, maar dit begin hier – in die hart. Hier is die uitgange van die lewe, hier, in die keuse-sentrum van jou lewe!

Gemeente, die Here is met ons oppad na die volmaaktheid, maar Hy gee dit nie vandag reeds nie. Hoekom nie? Wel, dit is sy soewereine werkswyse, dit is sy keuse. En dit is die rede waarom selfs die allerheiligstes ervaar, dat, solank hulle in hierdie lewe is, hulle nog maar ‘n geringe begin van die gehoorsaamheid het. En daarom kan dit gebeur dat gelowiges – mense wat die lewe kies – struikel en sondig. Dit gebeur – en die Dordtse Leerreëls noem vir ons die klassieke voorbeelde van Dawid en Petrus. Geen gelowige sal in hierdie bedeling die volmaaktheid bereik nie – só sê die Kategismus ook aan die einde van antwoord 115. Waak daarom ook teen ‘n bepaalde triomfalisme en perfeksionisme, ‘n gedagtegang wat dink dat ons dit wel kan bereik. Nee, kyk maar net na jou eie lewe van die afgelope week om te besef dat ons nie volmaak is nie, ook al woon Christus deur sy Gees in ons harte. Maar die ware gelowige kan nogtans vanuit ‘n Geesvervulde hart na God roep en sê: “Here, ek wil! Ek weet, ek doen dit nie altyd nie. Want dit wat ek nie wil nie, dít doen ek; en dit wat ek wil, dit doen ek nie. Maar Here, ek wil. Ek het die hartsbegeerte om U te dien, my hart smag na dít wat reg is. En toe ek vanoggend opgestaan het, was dit my hartlike voorneme om nie teen een van u gebooie te sondig nie. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens!” (Rom 7:22)

 

Sien u, gemeente, dit begin by die hart. Want as die hart reg is, as die hart vol is van die Here Jesus, dan suiwer dit die begeertes en die voornemens. ‘n Suiwer hart bring die begeerte tot alle geregtigheid voort, en ‘n suiwer hart lei tot ernstige voornemens. En geleidelik sien ‘n mens dan ook die resultaat in jou lewe: goeie vrugte.

Maar wat nou as die vrugte nie altyd so goed is nie? Wat nou as ek vrot vrugte aan die boom van my lewe sien hang? Wel, dan gaan ek terug na die hart – nee, nie na my eie hart nie, maar na die hart, die bron van my lewe, Jesus Christus. Dít is ook presies wat die Here vir sy volk sê in die eerste verse van hoofstuk 30: “as die vloek dan oor jou kom en jy dit ter harte neem onder al die nasies waarheen die Here jou God jou verdryf het, en jy jou tot die HERE jou God bekeer … met jou hele hart en met jou hele siel, dan sal die Here jou God jou lot verander…” Die volk wat sy sonde en die Here se straf daaroor raaksien, mag terugkeer na die Here, moet terugkeer! Die volk wat gesondig het, moet hom bekeer.

En dit is dan ook presies die rede wat die Kategismus aanvoer waarom God die wet so streng aan ons voorhou: “sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter ken leer ken en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek.” Sien u, die Kategismus self jaag ons terug na die bron van ons lewe. God se streng wet, wat ek elke keer maar weer oortree, wil my nie moedeloos maak nie, dit wil nie hê dat ek moet tou opgooi nie. Nee, die streng eise van die wet wil my net elke keer terugjaag na Jesus Christus. Gaan soek dit by Hom! En vanuit Hom beywer jy jouself weer daarvoor om altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe te word. Gemeente, dit is as’t ware ‘n heen-en-weer beweging: vanuit Christus gaan lewe ek volgens God se wet. Maar my sonde en my gebrokenheid jaag my elke keer weer terug na Christus, net om vervolgens weer vanuit Hom die goeie te gaan doen. Vanuit Christus, en weer terug na Christus. Vanuit Christus, en weer terug na Christus.

 

En, broers en susters, ons doen dit die hele tyd met die wonderlike belofte van die Here. Wie die lewe kies, hy kry ook die lewe. Hy kry lengte van dae, sodat hy kan woon in die land wat die HERE aan sy vader Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee (30:20). Ons staan as’t ware saam met Israel op die drumpel van die beloofde land. En natuurlik is die beloofde land vir ons nie Kanaan nie, maar onthou: dit is ook nie noodwendig wat Abraham verwag het nie. Abraham het, volgens Hebreërs 11:10, die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. En ‘n paar verse later word gesê dat Abraham se nakomelinge na ‘n beter vaderland verlang het, dit is ‘n hemelse. Nou, in daardie lyn mag ons staan. Elkeen wat die lewe kies en in gehoorsaamheid met Christus wandel, hy staan op die punt om die beloofde land binne te gaan, die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Ek glo in Jesus Christus as my lewe, en daarom sien ek uit na die lewe in die beter vaderland. En die tien gebooie? Ek begeer om dit na te kom, want hulle is die ligbakens wat my op die veilige spoor hou, oppad na daardie vaderland. Bly op die weg, Jesus Christus. Bly tussen die bakens, sy goeie wet. En dan wens ek u ‘n behoue tuiskoms!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Psalm 94:8-12

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 91:5 en 8

Gebed

Lees: Deuteronomium 29 en 30

Sing Ps. 105:5-8

Teks: HK, Sondag 44

Preek

Amenlied Ps. 18:1, 11 en 12

Gebed

Geloofsbelydenis (singende)

Kollekte

Slotsang Skr. 33:1 en 3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)