Die Skrif openbaar

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-09-27
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 29
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word voorbehou.

PRETORIA-MARANATA, 27 September 2015 AD, 17:30

Voorsang: Sb 41:1,2,3,5,6

Votum

Seën

Ps 9:9,10

Gebed

Skriflesing: Handelinge 2:14-47

Ps 35:1,12

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 29

Preek

Ps 100:2,3

Gebed

Geloofsbelydenis (Apostoliese)

Ps 33:6,7

Kollekte

Ps 75:4,6

Seën

 

-          

 

Preek: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 29

 

 

Hierdie artikel begin met ‘n oproep.

Dit is ‘n taak wat elke nuwe generasie moet uitvoer.

Geen generasie kan sê: my ouers het dit reeds gedoen nie.

As jou ouers bepaalde keuses gemaak het, wil dit nie sê hulle keuses is vandag nog korrek nie.

Die generasie van vandag word ook opgeroep om, soos die NGB sê, met sorgvuldigheid en groot oplettendheid uit die Woord van God te onderskei watter kerk vandag die ware kerk is.

Daar is naamlik baie sektes, wat hulle ten onregte die naam kerk toeëien.

Aan die einde van die dag staan of val dit dus nie by daardie woordjie kerk nie.

Maar mens sal inhoudelik moet gaan kyk.

Dit was selfs al so in die geskiedenis dat ‘n kerk wat die ware kerk was, nie die naam ‘kerk’ gedra het nie.

Ek verwys hier na die kerkgeskiedenis van Frankryk.

Soos u moontlik weet, is die Protestante in Frankryk, die Hugenote, geweldig vervolg deur die  Roomse kerk.

Na dekades-lange bloedige vervolgings is aan die Hugenote ‘n sekere mate van godsdiensvryheid verleen, met die Edik van Nantes in 1598.

Tog is hulle nie toegelaat om hulle kerke ‘kerk’ te noem nie, of soos die Franse woord lui ‘église’ nie.

Net die Roomse kerk mog daardie woord gebruik.

Die Protestante het hulle kerke toe ‘tempel’ begin noem.

En tot op vandag is dit nog die gebruik in Frankryk.

Dus nogmaals, mens kan nie net op die woord ‘kerk’ afgaan nie, mens sal die kenmerke van ‘n kerk inhoudelik moet toets, waarby dit soms selfs die geval kan wees dat die ware kerk nie eens die naam ‘kerk’ dra nie.

 

Die NGB gebruik die woord kerk hier in praktiese sin, nie om ‘n leerstellige onderskeid te maak nie.

In die tyd van die Reformasie is daar ook byvoorbeeld oor die Joodse kerk of die Mohammedaanse kerk gepraat.

Dit is in praktiese sin, dit wil nie sê hulle is ‘n vergadering van mense wat deur Christus verlos word nie.

 

Die woord kerk kom ook nie in die Bybel voor nie.

Die woord het eers later in gebruik gekom, afgelei van die Griekse woord kuriakè, wat beteken: dit behoort aan die Here.

 

Die Skrif openbaar aan ons:

1                   Die onderskeid tussen die ware en die valse kerk

2                   Die onderskeid tussen die ware gelowige en die huigelaar

 

1         Die onderskeid tussen die ware en die valse kerk

Die NGB noem vervolgens drie hoofaspekte wat mens behoort te gebruik om te toets of ‘n kerk waar of vals is.

Want dit is uit en uit Skriftuurlik, dat onderskeid aangebring word tussen ware en valse kerk.

Die Skrif waarsku ons juis, om nie elke profeet vir ‘n profeet van die HERE aan te sien nie en om nie elke lering as ‘n boodskap uit God se Woord aan te neem nie, maar om alle dinge te beproef.

Mattheüs 7:15 “pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.”

En Mattheüs 24:5 “baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.”

En Johannes 10:1 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim, hy is ‘n dief en ‘n rower.”

En Paulus waarsku in Handelinge 20:29 “Want ek weet dit, dat na my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.”

En ons lees in 2 Petrus 2:1 “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike kettery heimlik sal invoer ...”

Dit is dus uit en uit Skriftuurlik om onderskeid te maak tussen waar en vals.

Wie hierdie onderskeid nie wil of nie durf te maak nie, is nie in lyn met die Skrif nie.

Die Skrif help ons juis om hierdie onderskeid te kan maak.

 

‘n Kerk is ‘n ware kerk wanneer dit die evangelie suiwer preek.

‘n Kerk is ook ware kerk wanneer dit die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het.

‘n Kerk is ook ware kerk wanneer dit die kerklike tug gebruik om die sondes te straf.

Hierdie drie dinge word genoem om gelowiges te help om te onderskei tussen waar en vals.

Hierdie drie dinge is nie eksklusief nie, daar sal moontlik meer dinge genoem kan word.

Waaroor dit gaan, is wat die NGB saamvat in die volgende sin:

Kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp, en Jesus Christus as die enigste Hoof erken.

 

In die gedeelte wat ons gelees het, word ook ‘n paar wesenlike elemente genoem van die kerk van Christus.

Vers 42: “hulle het volhard in die leer van die apostels” – dit stem ooreen met wat die NGB noem die suiwer prediking van die Evangelie.

Verder het die eerste bekeerlinge van Pinksterdag volhard in die “gemeenskap en in die breking van die brood.”

Wat die NGB noem die “suiwer bediening van die sakramente soos Christus dit ingestel het”, stem ooreen met wat in hierdie Bybelvers genoem word die “breking van die brood”.

Verder lê hierdie vers ook klem op die feit dat die gelowiges mekaar opgesoek het.

Wat artikel 28 gesê het, beskryf goed die situasie wat daar toe, kort na Jesus se hemelvaart ook geheers het, naamlik:

niemand mag, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig hou nie, inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en daarmee te verenig.

Ook toe was daar baie mense wat weens sosiale druk nie by hierdie groepie Christene wou aansluit nie.

Het iemand soos Nikodemus ooit aangesluit?

Ons ken hom uit die Evangelie van Johannes, hy was ‘n owerste van die Jode, ‘n man van stand en status.

Aanvanklik wou hy net in die nag na Jesus kom, vanweë die groepsdruk.

Maar in Johannes 19 lees ons dat hy na Jesus se kruisiging ‘n mengsel van mirre en alewee van omtrent honderd pond gebring het en gehelp het om Hom te begrawe (Joh 19:39).

Dit lyk of hy die moeilike beslissing geneem het om by die ware kerk aan te sluit.

Eintlik is dit nie so moeilik nie, as mens maar net op Christus en sy Evangelie fokus.

En dan was daar iemand soos Gamaliël, waarvan ons in Handelinge lees.

Hy was ‘n Fariseër, by die hele volk hoog in aansien, sê Handelinge 5:34.

Wat het van Gamaliël geword?

Hy wat Paulus se leermeester was, mens kan aanneem dat hy God se Woord soos geen ander geken het nie.

Maar het hy ooit al sy stand en status onder die Jode opgegee om die waarheid te erken?

Dan noem Handelinge 2 ook as ‘n kenmerk van die ware kerk dat dit volhard in die gebed.

‘n Ware kerk is ‘n biddende kerk.

 

Hierteenoor noem die NGB dan ook ‘n aantal kenmerke tipies aan ‘n valse kerk:

-         dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God;

-         dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie;

-         dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie;

-         dit vertrou meer op mense as op Christus;

-         dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilige lewe, in besonder hulle wat die waagmoed het om die valse kerk oor sy sondes, gierigheid en afgodery te bestraf.

Hierdie lys van die kenmerke van ‘n valse kerk is nie volledig nie, maar dit help ons oppad.

Mens kan, op basis van die Woord, nog dinge hieraan toevoeg.

Byvoorbeeld ‘n kerk wat glad nie die tug bedien nie, en dus die sonde in haar midde toelaat.

Dink aan voorbeelde uit die Bybel, hoe streng God vir sy volk gestraf het, nadat een persoon, Agan, ongehoorsaam was toe Jerigo ingeval is, en van die buit vir homself geneem het (Josua 7).

 

Dit gebeur dikwels, weens historiese ontwikkelinge, dat ‘n kerk ‘n bepaalde aspek begin oorbeklemtoon.

Dit begin hulle identiteit te vorm.

Die Sewende Dag Adventiste hamer geweldig op die vierde gebod en die Oudtestamentiese toepassing daarvan.

Die Jehovagetuies hamer geweldig op die feit dat Jesus net ‘n mens is en nie God nie.

Charimatiese kerke hamer geweldig op die feit dat jy eers ‘n lewende Christen is, as jy oorgedoop is, of as jy in tonge kan praat.

Dit is dikwels kenmerkend vir wat ‘n sekte is.

‘n Kerk word ‘n sekte as dit een aspek uit die Woord oorbeklemtoon.

Daardie aspek is dikwels verkeerd, daardie aspek kan soms selfs korrek wees.

Maar as alles van een leerstelling afhanklik gemaak word, dan word die Evangelie, die breedte, wydte, lengte en diepte van die Evangelie versmal.

Vir ‘n ware kerk lê die gevaar om sekte te word, altyd op die loer.

‘n Gesonde kerk moet leer en leef by die volle breedte van die rykdom van God se Woord.

 

Die NGB skryf dan ten slotte oor die ware en valse kerk: hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Aan hierdie sin sal ons beslis nog bietjie meer aandag moet skenk.

Is dit wat Guido de Brès hier opgeskryf het, iets wat net sy spesifieke situasie beskryf het, naamlik dat in sy tyd en omstandighede dit maklik was om die ware en valse kerk te onderskei.

Of is dit hier as ‘n algemene reël neergeskryf, dat dit altyd in alle omstandighede maklik is om waar en vals te onderskei, net soos mens altyd in alle omstandighede kan sien of iets wit of swart is, of iets groot of klein is, of iets lank of kort is.

Gemeente, soos ek al in die vorige preek genoem het, het De Brès, toe hy hier oor die valse kerk geskryf het, spesifiek aan die Roomse kerk gedink.

As hy verwys na die euwels oftewel sondes, die gierigheid en afgodery van die valse kerk.

Verder het Guido de Brès, in lyn met sy leermeester Johannes Calvyn, nie gedink dat net die Calviniste die ware kerk was nie.

Ook die Lutherane, al was daar verskille wat die nagmaalsleer betref, en wat die kerkregering betref, is as broeders in die geloof beskou.

Die verskille wat daar was, is as oorbrugbaar beskou, en mense soos Calvyn het hom beywer vir eenheid tussen Gereformeerdes en Lutherane.

Die Lutherane was ook redelik sterk verteenwoordig in die Nederlande, die gebied waar De Brès vernaamlik gewoon en werk het.

Met ware kerk het De Brès breed verwys na die Protestante wat hulle van die Roomse kerk afgeskei het.

In daardie sin was die ware kerk maklik onderskeibaar van die valse kerk.

Die ware kerk het die band met Rome deurgesny, dit was die Protestante.

Behalwe dan die Anapabtiste, teen wie De Brès duidelik standpunt inneem in die NGB.

Die Anabaptiste of Wederdopers was ook ‘n belangrike faktor in die gebied waar De Brès gewerk het.

Hulle het gesorg vir die beeldestorm, wat De Brès ten sterkste afgekeur het.

En die rede hoekom hy die NGB geskryf het, was om vir die owerhede duidelik te maak, dat die Gereformeerdes nie so opstandig en ongehoorsaam aan die owerheid was soos die Wederdopers nie.

 

Ook moet mens onthou dat in die eerste dekades van die Reformasie die Protestantse kerkverbande nog in die proses was om gevorm te word.

Dit was nie iets wat oornag gebeur het nie.

 

As ons nou na ons eie tyd kyk, en die vraag vra: kan die ware en valse kerk vandag maklik uitgeken word?

Dan is dit duidelik dat ons vandag in heel ander omstandighede verkeer as destyds toe die NGB geskryf is.

Ons verkeer in ‘n situasie waar kerkverbande vaste vorme aangeneem het en dikwels al vir dekades of eeue bestaan.

Ons verkeer in ‘n situasie waar plaaslike gemeentes dikwels binne een kerkverband ver uitmekaar gegroei het.

 

Maar aan die ander kant is daar ook nog baie dieselfde in ons tyd.

By die beoordeling van waar of vals, is die kriteria wat ons in art. 29 vind, nog steeds net so aktueel as toe.

Die kenmerke van ‘n ware kerk.

En die kenmerke wat so tipies is aan ‘n valse kerk: naamlik

-         dat die Woord van God op die agtergrond verdwyn en eie menings en besluite op die voorgrond kom;

-         dat die sakramente bedien word op ‘n manier wat nie meer strook met wat ons in die Bybel vind nie;

-         en dat hulle wat op grond van die Bybel die kerk se swakhede uitwys, vervolg word.

Hierdie essensiële elemente is iets van alle tye.

Soms is daar nuanseverskille.

Die Roomse kerk het hulle wat haar gekritiseer het, dikwels tot die dood vervolg, soos met Guido de Brès gebeur het.

Maar vervolging kan ook in ander vorme plaasvind.

Hendrik de Cock, leier in die Afskeiding, is vir ‘n tyd in die tronk opgesluit.

Klaas Schilder, leier in die Vrymaking, is geskors en afgesit en so die mond gesnoer.

Die valse kerk beoefen ook ‘n soort tug, nie om die sonde te straf nie, maar om die waarheid die mond te snoer.

Aan die einde van die dag moet mens vra: is daar in ‘n kerk die ruimte om die Evangelie in al sy diepte, wydte en rykdom te bedien, en ook daarvolgens te lewe.

As dit nie die geval is nie, begin ‘n kerk of kerkverband tekens van die valse kerk vertoon.

As hulle wat die Woord Skrifgetrou wil bedien, as hulle wat Skrifgetrou wil lewe, geïgnoreer, geïsoleer, gemarginaliseer, geviktimiseer, of selfs buitegesluit word.

 

So iets gebeur meestal nie oornag nie.

Dit is ‘n proses wat soms jare kan vat.

In so ‘n proses is daar soms gebeurtenisse, wat as ykpunte kan dien.

Byvoorbeeld wanneer ‘n kerk, of ‘n sinode, toelaat dat dwaling ‘n wettige plek in die kerk kry langs die ware leer.

As dit die geval raak, dan kan daarna ‘n periode volg waartydens die ware leer en hulle wat daarby wil bly, al hoe meer na die kantlyn gedruk word.

In so ‘n proses, wat jare, soms dekades duur, begin ‘n kerk al hoe meer die kenmerke van ‘n valse kerk te vertoon.

By die Roomse kerk was dit ook so.

Deur al die jare van die Middeleeue het die kerk al hoe meer weggegly in dwaling, en die kerkleiding in Rome het hoe langer hoe meer die wat trou wou bly, begin viktimiseer en vervolg.

Dit was al by Johan Hus die geval, wat in 1415 op die brandstapel gesterf het.

Tog het dit nog ‘n eeu geduur voordat die Reformasie kragtig deurgebreek het in baie lande.

 

As ons na ons eie tyd kyk, sien ons dat baie Protestantse kerke al vir eeue in ‘n proses van agteruitgang is, sekularisasie, en van tyd tot tyd ook duidelike tekens van ‘n valse kerk begin vertoon.

Binne verskillende Protestantse kerkverbande sien mens egter ook herlewings, bepaalde groepe wat terugkeer tot die waarheid van God se Woord.

Hierdie groepe vra hulleself dikwels die vraag of hulle moet aanbly in daardie kerkverband waarvan hulle histories deel uitmaak, of dat hulle moet afskei.

Ek dink dat hier ‘n belangrike taak in die hede is vir hulle wat Christus en sy Woord waarlik liefhet.

Hulle is versprei oor verskillende historiese kerkverbande, wat dikwels liberaal en vrysinnig geraak het.

Laat hulle wat trou wil bly aan God se Woord, mekaar opsoek, daardie geloofsverband wat werklik saakmaak, weer vorm gee, pleks van altyd lojaal te bly aan historiese verbande.

Hier lê vir gelowiges vandag ‘n groot taak.

En laat ons versigtig wees om in hierdie proses middelmatige sake tot struikelblokke na eenheid op te werp.

 

Plaaslik hier in die Moot het daar gesprekke plaasgevind met drie Dopperkerke.

Op grond van die kenmerke vir ‘n ware en ‘n valse kerk, soos hier in artikel 29 staan, is die  dankbare gevolgtrekking gemaak dat ook hulle ware kerke is.

Maar daar is die kwessie van historiese kerkverbande wat ons tans van mekaar skei.

As ‘n kerkverband ‘n belemmering begin vorm om die eenheid uit te leef met hulle wat waarlik jou geloofsgenote is, is daar natuurlik iets nie pluis met daardie kerkverband nie.

 

Om saam te vat, ook vir ons tyd geld, aan die een kant, dat dit nie moeilik is om hierdie twee kerke, waar en vals, te onderskei nie.

Maar ook vir ons tyd geld, net soos in Guido de Brès se tyd, dat hulle wat die HERE opreg wil dien volgens sy Woord, soms vir historiese redes nie kerkverbandelik een is nie, maar tog een behoort te wees.

 

2       Die onderskeid tussen die ware gelowige en die huigelaar

Daar is nog ‘n tweede deel van artikel 29, wat net soveel aandag verdien as die eerste.

En dit is naamlik die kenmerke van ‘n ware gelowige.

Hoe kan daar ‘n ware kerk wees as dit nie bestaan uit ware gelowiges nie?

Die NGB noem die kenmerke:

-         ‘n ware gelowige het die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem

-         ‘n ware gelowige vlug vir die sonde

-         ‘n ware gelowige jaag die geregtigheid na

-         ‘n ware gelowige het die ware God lief

-         ‘n ware gelowige wyk nie na regs of links af nie

-         ‘n ware gelowige kruisig sy sondige natuur met sy werke.

Ook hier gaan dit nie eksklusief net oor hierdie kenmerke nie, al is hierdies onmisbaar.

En dit is vir ons belangrik om by hierdie kenmerke te begin.

In die hoofstuk wat ons gelees het, Handelinge 2, sien ons ook hierdie volgorde.

In die eerste plek het die apostels die mense opgeroep om hulle te bekeer.

“Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes...” (Hand 2:38)

En daarna het dit gebeur dat die wat hulle bekeer het, ook toegevoeg is (vers 41) en lid geword het van die gemeente van Christus.

Hierdie is nie net ‘n kronologiese volgorde nie, dit is ook ‘n logiese volgorde.

‘n Gemeente van Christus, ‘n ware kerk, kan nie bestaan as daar nie bekeerdes is nie.

‘n Ware kerk bestaan uit ware gelowiges.

 

Dit is belangrik dat ons altyd hierdie verbinding bly lê.

Ook as ons oor die kenmerke van die ware kerk praat.

Veels te maklik praat ons oor die ware en die valse kerk, sonder dat ons die kenmerke vir ‘n ware gelowige aan die orde stel.

Dit is eensydig en ook gevaarlik om te praat oor die ware kerk, sonder om  aandag te skenk aan die noodsaaklike kenmerke vir die lidmate van daardie kerk.

En so kom ook tot ons die oproep vandag, net soos deur Petrus tot die Jode destyds:

Beywer julle om ware gelowiges te wees.

Vertoon die kenmerke van ’n ware gelowige.

Is die Here Jesus Christus groot in jou lewe?

Is Hy jou enigste Verlosser?

Word jou lewe daardeur gekenmerk dat jy vlug vir die sonde?

Jy weet self waarskynlik die beste wat vir jou die moeilikste sondes is om van ontslae te raak.

Maak jy konkrete planne in jou lewe om die invloed van daardie sonde uit te skakel, die omstandighede te vermy wat jou tot hierdie sonde verlei?

Word jou lewe daardeur gekenmerk dat jy besig is om jou sondige natuur met sy werke te kruisig?

Kan die mense wat naby jou is daardie stryd in jou lewe sien?

En verder: is die liefde vir God in jou lewe sigaar?

Kan ander dit raaksien?

Word jou lewe daardeur gekenmerk dat jy nie na regs of links afwyk nie?

Is jy beginselvas?

Op jou werk?

In jou gesin?

In jou familie?

Op die pad?

In die winkel?

Wat maak jy as jou beginselfs ‘n prys begin kos?

 

Artikel 29 wys ook op die realiteit dat daar huigelaars in die ware kerk is.

Dit is nog ‘n aspek waaraan hierdie artikel aandag skenk.

En dit is die feit dat daar in die kerk ook huigelaars is.

Hulle is met die goeies vermeng, maar tog behoort hulle nie aan die kerk nie, al is hulle uiterlik daaraan verbonde.

Nie almal wat lid is van die kerk, wat in die kerkhandboekie staan, sal salig word nie.

Huigelaars, of hipokriete, kan nie altyd van ware gelowiges onderskei word nie.

Die onkruid groei op saam met die koring.

Eers met verloop van tyd raak die onderskeid duideliker.

Broer, suster, laat ons goed besin oor hierdie kenmerke van ‘n ware gelowige.

Wees eerlik met jouself, wees eerlik met jou Heiland.

Sodat jy nie deur Hom as ‘n huigelaar of hipokriet ontmasker sal word nie.

 

Die kenmerke vir ‘n ware gelowige - as ons so deur hulle gaan, een vir een, maak dit ons verleë, nederig.

Voldoen ek wel daaraan?

Ook hier geld, net soos by die ware kerk:

Om ‘n ware gelowige te wees, is ‘n werkwoord.

Laat mens versigtig te wees om dit as ‘n stieker op jouself te plak.

Laat mens dit eerder probeer uitleef, dat ander dit raaksien.

En met die besef, alles is genade.

Die goeie werke wat ek wel gedoen kry, die veldslae wat ek teen die sonde wen, is die Gees sy werk in my lewe.

Dis alles net genade, as ons gered mag word uit hierdie verkeerde geslag, om die woorde van die apostel Petrus te gebruik.

 

Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)