Die Evangelie oor Christus se kerk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-09-06
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 27
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik
kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word voorbehou.

PRETORIA-MARANATA, 6 September
2015 AD, 17:30

Voorsang: Sb 37:1-3

Votum

Seën

Ps 77:1,6

Gebed

Skriflesing: 1 Konings 19

Ps 82:1,2

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 27

Preek

Ps 81:6,7,10,15,16,17,18

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 27:5

Kollekte

Sb 17:2,4,5,6

Seën

 

 

 

 

Preek: Nederlandse
Geloofsbelydenis art. 27

 

 

Die NGB skenk, net soos die ander
belydenisskrifte, proporsioneel heelwat aandag aan die kerk.

Daar is ses artikels – art. 27-32 – wat
spesifiek oor die kerk handel.

Art 27 beskryf wat die kerk is.

Art 28 beklemtoon dat elkeen verplig is om by
die kerk aan te sluit.

Art 29 wys die onderskeid tussen ware en
valse kerk aan.

Art 30 verduidelik hoe die kerk regeer word
deur die ampte.

Art 31 beklemtoon dat alle ampsdraers diensknegte
van Christus is.

Art 32 handel oor die kerklike orde en tug.

 

Ek verkondig u die blye boodskap met hierdie
tema:

 

Tema: Die Evangelie oor Christus
se kerk

1                   
Die kerk is ‘n geloofsaak

2                   
Die Koning van die kerk sal nooit sonder
onderdane wees nie

 

1       
Die kerk is ‘n geloofsaak

Om terug te kom by art. 27, dit begin met die
woorde:

Ons glo en bely ‘n enige katolieke of
algemene kerk.

Dalk het dit u al opgeval, maar die woordjie
‘in’ ontbreek hier.

Daar staan nie dat ons in die kerk glo nie.

Die NGB formuleer hier net soos die
Apostoliese Geloofsbelydenis.

Ons glo in
God die Vader.

Ons glo in
Jesus Christus.

Ons glo in
die Heilige Gees.

Maar ons glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk.

Die kerk mag nie die plek van God inneem nie.

Die kerk is ‘n hulpmiddel, ‘n instrument, om
ons by God te bring.

Die kerk is die plek waar die Woord verkondig
word.

Die Woordverkondiging bewerkstellig geloof in God.

Geloof in God is die uiteindelike doel, nie
die kerk nie.

 

Verder vestig ek u aandag op hoe art. 27
begin, naamlik: “Ons glo en bely...”.

Die kerk is ‘n geloofsaak.

Hier staan nie: Ons neem ‘n kerk waar, of:
Ons sien ‘n kerk nie...

Want wat ons van die katolieke kerk sien (net
vir die duidelikheid: katoliek beteken hier wêreldwyd, versamel uit alle volke,
versamel uit alle sosiale klasse, versamel uit alle tye), wat ons van die
katolieke kerk sien, is maar weinig in verhouding tot die geheel.

Soms word daar gepraat oor die onsigbare
kerk.

Dis dalk beter om te sê dat die kerk
onoorsigtelik is.

Ons moet besef dat die kerk soos ‘n huis is
wat nog besig is om gebou te word.

Van ‘n huis in aanbou sien mens die
fondamente, en dalk mure, hier en daar deure, vensterrame en kosyne wat al in
posisie staan.

Maar vir die res lyk dit nog nie soos ‘n
voltooide huis nie.

Hoe die finale huis gaan lyk, dit weet mens
net as jy na die argitek se planne kyk.

So kan net Christus, die Boumeester van die
kerk, die Argitek, vir ons inlig oor hoe die kerk lyk.

En dit vind ons in sy Woord.

Daarom skryf die NGB dus: Ons glo en bely ‘n enige katolieke of
algemene kerk.

Die bouprojek van die kerk het al in die
paradys begin.

Rees in Genesis 4 lees ons dat in die dae van
Enos hulle die Naam van die Here begin aanroep het (Gen 4:26).

Die bouprojek duur deur die eeue voort.

Die bouprojek sal voortduur tot op die
jongste dag.

Hoewel die bouprojek onophoudelik deur die
woede van die wêreld aangeval word, word die bou nooit stilgelê nie.

Want Christus is ‘n ewige Koning, wat nooit
sonder onderdane kan wees nie.

Die bouprojek is so groot, dat dit
onoorsigtelik is.

Maar dit is wel sigbaar in elke generasie.

 

Die NGB sê voorts dat die kerk ‘n heilige
vergadering is.

In die oorspronklike teks van die NGB staan
hier eintlik twee woorde: vergadering én byeenkoms.

Die eerste woord – vergadering – dui op
Christus se vergaderende werk.

Hy is die goeie Herder, wat die kudde
bymekaar bring.

Die tweede woord – byeenkoms – dui op die
menslike aktiwiteit.

Opgeroep deur Christus kom die gelowiges
gehoorsaam bymekaar.

Hulle versamel rondom die stem van die goeie
Herder, sy Woord.

“Want waar twee of
drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” – so het Christus beloof. (Matth 18:20)

 

Wat betref die woord heilig – die kerk is ‘n heilige
vergadering, wil dit sê dat die kerk deur die Heilige Gees met die prediking
van die Woord afgesonder is van die wêreld, en toegewy tot die diens en
verheerliking van God.

 

Ons bely ook ‘n enige kerk.

Daar is slegs een kerk, een bouprojek van die
Boumeester Jesus  Christus.

Dit mag dalk verwarrend wees as die NGB twee
artikels later, in art. 29, skielik praat oor ‘n ware en ‘n valse kerk.

Hoe is dit moontlik as art. 27 sê dat daar
slegs een kerk is?

Die NGB sluit in art. 29 aan by die algemene
spraakgebruik.

In die algemene spraakgebruik kan die woord
kerk vir verskillende dinge gebruik word.

Dit kan dui op ‘n gebou.

Dit kan dui op ‘n erediens, bv. as mens vra:
hoe laat begin die kerk?

Dit kan dui op die gemeente, die gelowiges
wat saam die kerk vorm.

En so kan daar nog meer gebruike wees.

Hier in art. 27 gebruik die NGB die woord
kerk op ‘n belydende wyse, verwysende op die kudde wat die goeie Herder
versamel.

In art. 29 word egter by die algemene
spraakgebruik aangesluit.

Uit die konteks is egter duidelik dat die
valse kerk geensins die naam kerk werd is nie, maar ‘n sekte is.

Net soos ons soms oor die Roomse kerk praat,
sonder dat ons daarmee bedoel dat dit ‘n ware kerk is.

Net soos art. 29 doen, is dit nie verkeerd om
by die algemene spraakgebruik aan te sluit nie.

Ons moet egter wel Bybels bly dink.

Die sogenaamde pluriformiteitsleer beweer dat
Christus se onsigbare kerk verdeel is oor al die verskillende kerke op aarde.

Daar is meer en minder suiwer kerke, maar
saam vorm hulle wel die skakerings van die kleure van die een reënboog, wat
Christus se onsigbare kerk is.

Laat dit duidelik wees dat dit nie is wat
art. 27 bedoel as dit praat oor ‘n enige katolieke of algemene kerk nie.

Die enige kerk is nie onsigbaar nie, wel
onoorsigtelik.

 

‘n Enige katolieke of algemene kerk.

‘n heilige vergadering van almal wat waarlik
in Christus glo.

Hulle wat waarlik glo.

Dit is almal wat hulle volle saligheid in
Jesus Christus verwag, in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die
Heilige Gees.

Hierdie kerk was daar van die begin van die
wêreld af en sal tot die einde daar wees.

 

Die kerk is ‘n geloofsaak.

Dit was die eerste punt.

daarmee bedoel ons dat die bouprojek so groot
en omvattend is, dat dit bo ons waarnemingsvermoë uitstyg.

En, Christus is ‘n ewige Koning, wat nooit
sonder onderdane kan wees nie.

In die tweede punt gaan ons nog meer in
detail hierop fokus.

 

(Tema: Die Evangelie oor Christus se kerk

1       
Die kerk is
‘n geloofsaak)

 

 

2       
Die Koning van die kerk sal nooit sonder
onderdane wees nie

Die NGB skryf: hierdie heilige (= aan God
toegewyde) kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar.

Die kerk kan soms vir ‘n tyd lank baie klein
wees.

Dit mag in die oë van mense lyk asof dit tot
niet gegaan het.

Ons kan dink aan die tyd van Elia.

Tog het God sewe duisend mense bewaar wat nie
voor Baäl gekniel het nie.

Ons het ‘n gedeelte gelees uit Elia se
bediening in die Noordelike Ryk Israel, in 1 Konings 19.

Uit hierdie hoofstuk blyk hoe afvallig God se
volk geword het.

Na die skeuring van die ryk, het die afval in
‘n stroomversnelling geraak.

 

Soos uit Elia se woorde blyk, het die koning
van Israel, Agab, en sy vrou Isebel, alle profete van die HERE doodgemaak.

Inderdaad, die HERE het sy afvallige volk
steeds bly opsoek, steeds sy profete onder hulle laat werk.

Maar hulle is almal gedood, op uitsondering
van Elia na.

Toe het die HERE nog ‘n groot teken gedoen,
waarvan ons in hoofstuk 18 kan lees.

Op die berg Karmel het die HERE op Elia se
gebed vuur gestuur om die offer aan die brand te steek.

Die Baälpriesters daarenteen kon niks regkry
nie.

Dit was ‘n duidelike oorwinning vir die HERE,
die Verbondsgod van sy volk.

Ek weet nie of u al ooit ‘n afgodsbeeldjie
van Baäl gesien het nie.

Daar is baie opgegrawe.

Die tipiese beeld van Baäl is iemand wat ‘n
bliksemstraal in sy hand vashou.

Baäl was sogenaamd die god van die vrugbaarheid,
wat die reën stuur.

Tog kon Baäl by die Karmel niks regkry nie.

En die ware God het ‘n bliksemstraal uit die
hemel gestuur.

En kort daarna het die HERE weer oorvloed aan
reën geskenk, na soveel jare droogte.

Die profeet Elia was hier op die toppunt van
sy roem, sou mens sê.

Maar in die volgende hoofstuk kom daar ‘n
diepe val.

1 Konings 19, wat ons gelees het.

Uit hierdie hoofstuk blyk hoe groot die afval
was.

Isebel kon nie haar verlies aanvaar nie, en
het by die gode gesweer dat sy Elia sal opspoor en uitskakel.

Elia moes toe halsoorkop vlug.

En hoewel die volk kort gelede by Karmel
geskreeu het: Die HERE, Hy is God! het niemand dit nou vir Elia opgeneem nie.

Die afval was diepgeworteld.

Elia moes maak dat hy wegkom.

 

Dit was in hierdie konteks dat die HERE vir
Elia opgebeur het:

“Maar Ek sal sewe duisend in Israel laat oorbly, al
die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het
nie.”  (1 Kon
19:18)

Op daardie oomblik het Elia ver weg na die
suide weggekruip in die woestyn.

Maar die HERE het Elia teruggestuur na sy
arbeidsveld, met duidelike opdragte.

Hy moes ‘n nuwe koning oor Aram gaan salf:
Hasael.

Die HERE het begin om Israel se noorderbure
sterk te maak, sodat hulle in die toekoms ‘n roede kon word om sy eie afvallige
volk te tugtig.

Verder moes Elia ‘n nuwe koning oor Israel
gaan salf: Jehu.

En Elia moes vir homself ‘n opvolger gaan
salf: Elisa.

Die HERE was nog lank nie klaar met sy
afvallige volk nie, al was dit nou al meer as sewe dakedes na die splitsing van
die Noord- en Suidryk.

Hy sou sorg dat sy profete by die
spreekwoordelike seweduisend uitkom.

Ook in gevaarlike tye bewaar Christus sy
kerk.

 

Gemeente, die tyd wat aan die groot
Reformasie in die 16de eeu voorafgegaan het, was ook so ‘n tyd van groot afval.

In daardie tyd was daar – wat ons noem –
voorlopers van die Reformasie, ook profete wat God na sy volk bly stuur het, om
die seweduisend te bereik.

Mens kan aan iemand soos Johannes Hus dink.

Ruim ‘n eeu voor die Reformasie het hy op die
brandstapel gesterf.

 

Guido de Brès het dalk gedink dat sy eie tyd
ook so ‘n tyd was.

En dit hoef mens nie te verbaas nie.

Die wêreld, die owerheid, het die ware
gelowiges aanhoudend vervolg in sy dae.

Hy het self aan die galg gesterf in 1567,
soos ek genoem het in my eerste preek oor die NGB.

Ek dink dat as ons in sy skoene sou staan,
dat jy of jou dominee deur die owerheid opgehang word, dat jy ook sal dink dat
daar nie ‘n toekoms vir die kerk is nie.

Maar ook in Guido de Brès se tyd was daar die
spreekwoordelike 7000 wat nie hulle knie voor Baäl gebuig het nie.

Juis deur vervolging heen het Christus ‘n
nuwe tydperk vir sy kerk laat aanbreek.

 

Die kerk kan soms vir ‘n tyd lank baie klein
wees.

Tans kan mens dit dalk veral sê oor die kerk
in die Midde-Ooste.

Die afgelope jare, veral sedert die Arabiese
lente, het die vervolging van Christene geweldig toegeneem.

Vir Christene in die Midde-Ooste is dit tans
‘n gevaarlike tyd.

Wat daar tans van Christus se kerk oor is in
lande soos Sirië en Irak, weet ek nie.

Dit mag dalk so wees dat dit in die oë van
mense tot niet gegaan het.

Ek is soms bang dat ons vanuit ons gemaksone
veel te min meeleef, bid en help vir die vervolgde kerk.

Maar feit is wel dat die kerk in die
Midde-Ooste besig is om tot niet te gaan.

Gelukkig, soos die NGB hier skryf, is
Christus se kerk nie gebonde aan of bepaal tot ‘n sekere plek nie, maar dit is
oor die hele wêreld versprei en verstrooi.

Baie Christene vlug tans, of het in die
afgelope paar jare, vanuit die Midde-Ooste gevlug.

Net soos die Hugenote destyds uit Frankryk
moes vlug, en hulle het die kerke in die lande waar hulle aangekom het
versterk.

Wie weet breek daar ook nog ‘n dag vir ons
aan, dat ons uit Suid-Afrika sal moet vlug.

Al lyk dit tans onwaarskynlik, omdat verreweg
die meerderheid van die land hulleself Christene noem.

Vir ons is daar tans eerder die uitdaging om
uit te reik na geloofsvlugtelinge, wat moontlik in ons land binnestroom.

Mens kan dink aan ander Afrikalande soos
Nigerië, Sudan, Eritrea en Somalië waar vervolging aan die orde van die dag is.

 

Die feit dat Christus se kerk daar sal wees
tot op die jongste dag, beteken nie noodwendig dat dit altyd in elke land
aanwesig sal wees nie.

In die Bybelboek Openbaring het Christus al
vir die kerke in Klein-Asië gewaarsku dat Hy die kandelaar sal wegneem, as
hulle hul nie bekeer nie.

Hierdie waarskuwing het later werklikheid
geword, toe die Islam ‘n roede van God geword het wat die afvallige kerk in die
Middellandse See-gebied getref het.

Weinig het van die bloeiende gemeentes in
Klein-Asië oorgebly.

Die belofte dat die kerk altyd daar sal wees,
mag nie ‘n verskoning word om slap te word nie.

Dit is ‘n eerder bedoel as troos vir hulle wie
te midde van die goeie stryd teenstand en verdrukking ondervind.

 

Ons moet altyd onthou dat ons, Christene, se burgerskap
in die hemel is.

Ons is burgers van die koninkryk van die
hemel.

Christene verkoop nie hulle siel aan ‘n land
as sulks nie.

Dit is ‘n groot probleem, ‘n afgodery, wat
mens in alle lande van die wêreld kry.

Dat mense die land waar hulle in woon, die
stuk grond waarop hulle woon, as hulle bloedgrond beskou.

Geen volk op aarde het ‘n ewige reg ontvang
op die stuk grond waar dit woon nie.

En hoe geheg mens ook mag wees aan die gebied
waar jy opgegroei het, die landstreek waarmee jou kultuur verweef is, as
Christene moet ons oppas dat dit nie ons geloof begin oorheers nie.

Heroïese uitsprake wat mens soms in
volksliedere aantref, kan lei tot afgodery met bloed en bodem.

“Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou
Suid-Afrika”

Of die Nederlandse volkslied: “Het vaderland
getrouwe, blijf ik tot in den dood”

Mens moet versigtig wees met sulke uitsprake.

Soms mag mens opgeroep word om as soldaat te
veg en die mense van jou land teen gevare te beskerm.

Oorlog en geweld is soms noodsaaklik om ‘n
groter kwaad af te weer.

Maar daar is geensins ‘n Bybelse opdrag om
jou vaderland as sulks tot die dood toe te verdedig nie.

Soms het die Israeliete, God se afvallige
volk, dit wel daarvan gemaak.

Maar God het nie met hulle saamgestem nie, en
Hy het dit duidelik laat blyk ook, deur self daarvoor te sorg dat die beloofde
land in die hande van die vyande val.

Die Skrif roep ons op om vas te staan in ons
geloof.

Om burgers van die hemelse koninkryk te wees.

Om jou tyd en geld te spandeer vir die
herskepping van die hele aarde.

Toe Guido de Brès aan die galg gesterf het,
was dit nie in die eerste plek omdat hy sy vaderland – België, teen die
Spanjaarde wou beskerm nie.

Maar hy het trou gebly aan die ware geloof.

Hy het sy medemens gedien met die
verkondiging van die suiwer Evangelie, ook in gevaarlike omstandighede.

Dit het uiteindelik tot sy dood gelei.

Hy het nie ‘n heldedood gesoek nie.

Hy het nie as ‘n patriot gesterf nie.

Hy het, net soos ander Reformatore soos
Calvyn en Luther, soms moes vlug om sy lewe te beskerm.

Hy het, waar nodig soos ook die geval was met
die Nederlandse Geloofsbelydenis, dit anoniem geskryf.

Christus het hom gebruik om sy kerk te
vergader, om die 7000 wat hulle knie nie voor Baäl gebuig het nie, te versterk.

Min het Guido de Brès besef dat sy pennevrug
– al was dit anoniem en weet ons vandag nie met 100% sekerheid of hy die
skrywer van die NGB was nie al lyk dit die waarskynlikste – min het hy besef
dat sy pennevrug veral ‘n instrument sou wees om Christus se kerk te verenig in
die jare wat sou volg op sy dood – nog veel meer as in sy eie tyd.

Ek sê jare, mens kan eerder sê eeue na sy
dood, want nou – amper 450 jaar na sy dood – speel die NGB nog steeds ‘n
belangrike verbindende rol tussen kerke van verskillende kontinente.

 

God bewaar sy kerk teen die woede van die
wêreld.

Is so ‘n stelling relevant vir ons vandag?

Ja, ongetwyfeld.

En dit geld dan nie net vir die Midde-Ooste,
waar die IS-terreurgroep die Christene tans aanval en uitmoor nie.

Die woede van die wêreld is ook relevant in
ons eie land.

Dit word die kerk nie in dank afgeneem, as sy
profeties haar stem laat hoor, as sy pleit vir Sondagsrus, en teen die
uitbuiting van die arm werkersklas.

As sy protesteer teen alle korrupsie in die
staatsdiens.

Sy haar profetiese stem laat hoor teen die afbraak
van waardes en norme.

As sy eiehandig alle advertensies wat aborsie
bemark, verwyder.

As sy waarsku teen die afgode van rassisme,
bloed en bodem, die verabsolutering van volk en kultuur en taal.

En so kan ons nog baie voorbeelde noem.

Laat ons voortgaan om kerk van Christus te
wees, ons self heilig te bewaar teen die sondige invloede van die wêreld.

En laat ons nie bang wees om vir die waarheid
op te kom nie.

Want ons weet dat ons onderdane is van ‘n
ewige Koning.

Ons ewige Koning sal nooit sonder onderdane
wees nie.

Hy bewaar sy kerk, ook in ons tyd.

Hierdie wete mag ons nie gemaksugtig maak
nie.

Solank ons maar net nie die knie voor Baäl
buig nie.

Maar deur die krag van die geloof hou ons
moed, bly ons opkom vir die waarheid, bly ons belydende kerk.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)