Christus het die Ou Testament vervul

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-08-16
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 25
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
16 Augustus 2015 AD, 17:30 (nagmaal)

Voorsang: Sb 31:1-3

Votum

Seën

Sb 28:1,2

Nagmaalsformulier

Gebed (& Onse Vader)

Sb 28:3,4 (tafel in gereedheid)

1e tafel: Lofverheffing &
Gebed; Sb 6:6

Skriflesing: Hebreërs 8

Ps 5:3,6

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis artikel 25

Preek

Ps 20:3,4

Gebed

Geloofsbelydenis (Nicea)

Ps 66:6

Kollekte

Ps 107:10

Seën

 

 

 

 

 

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 25

 

 

Lank gelede het die volk Israel
elke jaar die Paasfees gevier.

Die paaslam is geslag.

Ons mog vandag die nagmaal vier.

Die nagmaal het uit die Paasfees
voortgekom.

Tog is dit nie meer dieselfde
fees nie.

Wesenlike elemente het verander.

Jesus Christus het die nagmaal
ingestel, en vir die Nuwe Testament voorskrifte gegee hoe om dit te vier.

Hy het self die Paasfees tot
vervullig gebring.

In die nagmaal mag ons herdenk
dat Jesus Christus die paaslam is wat vir ons geslag is.

 

Art. 25 van die NGB het baie
hiermee te make.

Hierdie artikel is van groot
betekenis wat betref die verhouding tussen die Ou en Nuwe Testament.

Wat betref die plek van die wet
in ons lewe.

Wat betref die inrigting van ons
eredienste.

Wat betref die bediening van die
sakramente.

Ensovoorts.

 

 

Tema: Christus
het die Ou Testament vervul

-         
Die seremonies en heenwysings van
die Ou Testament is nou verouderd

-         
Maar die waarheid en inhoud is
nog steeds relevant

 

-         
Die seremonies en heenwysings van
die Ou Testament is nou verouderd

Die seremonies en heenwysings van
die wet het met die koms van Christus opgehou.

Met die woord seremonies word
verwys na die plegtige handelinge wat deel was van Israel se erediens, soos die
besnydenis, die offerkultus, die reingingsvoorskrifte, ensovoorts.

En die woord ‘heenwysings’ kan
ook vertaal word as ‘afbeeldings’.

Dan kan mens dink aan voorwerpe
wat in Israel se erediens gebruik is, soos die tabernakel en die tempel en
alles wat daarin was, soos die ark van die verbond,die kandelaar, die tafel met
die toonbrode, die brandofferaltaar, die borslap van die hoë-priester met
edelstene daarop, ensovoorts.

Al hierdie dinge was voorafskaduwings
– daarom het hulle tot ‘n einde gekom.

Mens kan dink aan wat daar in
Hebreërs 8:5 staan, waar die priesters en hulle offerkultus ‘n afbeeldsel en
skaduwee genoem word van die hemelse dinge.

Hemelse dinge dui op Jesus
Christus, wat vanuit die hemel gestuur is om werklike versoening te
bewerkstellig.

En verder word in Kolossense
2:16-17 Oudtestamentiese gewoontes soos die spyswette, die en bepalings oor die
feeste en sabbatte ‘n skaduwee genoem van die toekomstige dinge.

Die doel van hierdie bepalings,
hierdie seremonies en heenwysings, was om Israel gefokus te hou op die
verwagting van die beloofde Messias.

Om die volk daaraan te herinner
dat werklike genoegdoening, werklike betaling van die skuld, werklike
geregtigheid, net sou kon plaasvind deur God se genade, as Hy in die toekoms ‘n
oplossing sou bied.

Ongelukkig het die volk Israel
dikwels die uiterlike handelinge, die handhawing van die seremonies, begin
misbruik asof hulle deur die nakoming daarvan geregtigheid sou kon verwerf.

Die profete van die Ou Testament
het onophoudelik die volk hieroor vermaan.

Die bloed van diere, van bokke en
skape, kan nie versoening bewerkstellig nie.

Die offerkultus was slegs bedoel
om die herinnering wakker te hou, die verlange na egte versoening.

 

Tussen die Ou en Nuwe Testament
is daar wat dit betref nie ‘n teenstelling nie.

Dis nie so dat in die Ou
Testament mense deur hulle werke, deur hulle seremonies, geregverdig is nie.

Die Ou Testament verkondig ook
die geregtigheid deur die geloof alleen.

Die Israeliete wat gemeen het dat
hulle hulleself kon regverdig deur die offers getrou te bring, hulle tiendes te
betaal, die spyswette en die besnydenis na te kom, daardie Israeliete was op ‘n
dwaalspoor.

Feit is dat die Ou Testament net
soveel oor genade gaan as die Nuwe.

Die Nuwe Testament staan op die
fondament van die Ou Testament.

As jy die Ou Testament nie ken
nie, kan jy die Nuwe Testament nie verstaan nie.

Dink as voorbeeld net aan hoeveel
simbole die boek Openbaring ontleen aan die Ou Testament.

 

Die NGB art. 25 skryf, met
implisiete verwysing na hoe Oudtestamentiese seremonies in die Roomse kerk nog
aangehou is: die gebruik daarvan moet derhalwe onder Christene afgeskaf word.

In die tyd toe die NGB geskryf
is, het die Roomse kerk nog van hierdie seremonies gehandhaaf:

byvoorbeeld die altaar en die
offers.

Maar ons hoef nie net aan die
Roomse kerk te dink nie.

Vandag in ons tyd handhaaf baie
mense in Suid-Afrika wat hulleself Christene noem nog van hierdie seremonies.

Byvoorbeeld mense wat lid is van
die ZCC, Zion Christian Church, bring nog steeds offers; hulle het nog steeds
‘n verbod op varkvleis; daar is bepalings dat vroue nie kerk toe mag kom nie
tydens menstruasie; en so kan mens nog meer voorbeelde noem.

Duidelik is dat die Ou Testament
gelees word, en dan een op een, mens sou kon sê, op ‘n, direk in praktyk
gebring word, sonder om rekening te hou met die heilshistoriese konteks.

Wat hier in art 25 van die NGB
geskryf word, is dus glad nie vanselfsprekend nie.

Ook in bepaalde charismatiese
groeperings, of groeperings wat baie simpatiseer met die Joodse volk, word van
die Oudtestamentiese gebruike weer ingevoer.

 

Daarom is dit belangrik om weer
te fokus op die feit dat hierdie dinge voorafskaduwings
was.

In Christus het ‘n totaal nuwe
era, bedeling, Testament aangebreek.

En dus staan daar hier in die
NGB: die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word.

 

Net nog dit: die feit dat hierdie
artikel direk na die artikels oor Christus se versoening (art. 21), Christus se
regverdiging (art. 22-23) en Christus se heiligmaking (art. 24) staan, is nie
toevallig nie.

Die rooi draad deur al hierdie
artikels is: Christus alleen.

Dit is slegs en alleen deur Jesus
Christus, uit genade, dat ons salig kan word.

En die feit dat Guido de Brès nou
fokus in art. 25 op die seremoniële wette van die Ou Testament, het alles te
make met die debat met die Roomse kerk.

Want in die Roomse kerk het die
offerkultus voortgeduur.

Bepaalde Oudtestamentiese
gebruike wat afgeskaf moes gewees het, het die Roomse kerk weer in ere herstel.

Nie dat in die Roomse kerk nog
diere geoffer is nie, maar die offer as sulks het wel gebly, as herhaling van
Christus se kruisoffer.

Of dit nou Roomse mense is, of
mense hier in Afrika soos die ZCC, of charismatiese groeperings wat bepaalde
visies het oor die posisie van die Joodse volk, wie dit ook al is:

mense wat nog vashou aan die
Oudtestamentiese seremonies en heenwysings om dit nog steeds te onderhou, is in
feite besig om die Evangelie van Christus se koms te verduister.

Dit nog los van die feit dat die
fokus op uitwendige seremonies maklik wettisisme in die hand werk, Judaïsme
soos dit in die tyd van die apostels voorgekom het.

Dit werk ook geveinsheid in die
hand.

Met uiterlike vertoon word die
Here gedien, maar is die hart wel daarby betrokke?

 

In art. 25 van die NGB word dus
hierop kritiek gelewer: aan die voorafskaduwings het ‘n einde gekom.

Daardie Oudtestamentiese
gebruike, soos die offerkultus, hoort nie meer in die Nuwetestamentiese tyd
nie.

Die seremonies en heenwysings van
die Ou Testament is nou verouderd.

God se heilshistoriese klok het
aanbeweeg.

Christus het die Ou Testament
vervul.

Sy kruis op Golgota het groot
veranderings gebring.

Ons leef nou in ‘n nuwe
dispensasie.

In hierdie nuwe era leef ons nie
meer aan die hand van die ou seremonies en heenwysings nie.

Maar dit wil nie sê dat hulle
glad geen boodskap meer vir ons het nie.

Dit bring ons by die tweede punt
van die preek.

 

(Tema: Christus het die Ou
Testament vervul

-         
Die seremonies en heenwysings van die Ou Testament is nou
verouderd)

 

 

-         
Maar die waarheid en inhoud is
nog steeds relevant

Deur die eeue was dit ‘n
diskussiepunt in die kerk: wat moet wel afgeskaf word, en wat moet nie afgeskaf
word nie?

Om hierdie vraag goed te
beantwoord, is dit belangrik om te onderskei watter soort wette en seremonies
daar in die Ou Testament staan.

Alle wette het naamlik nie
dieselfde aard nie.

Die verskillende soorte wette in
die Ou Testament kan globaal in die volgende drie hoofgroepe onderverdeel word:

-         
siviel

-         
seremonieel

-         
moreel (eties)

 

Siviel:

Die siviele wette wat ons in die
boeke van Moses (veral Exodus tot Deuteronomium) vind, het te make met die
siviele of burgerlike lewe.

In die ou bedeling was daar
naamlik ‘n nou verband tussen kerk en staat.

God se volk het in die Ou
Testament saamgeval met die Joodse volk.

En die Here het deur Moses
spesifieke instruksies gegee vir die burgerlike lewe.

Mens kan dink aan wette ten
opsigte van die funksionering van konings en regters (Deut 16-17).

Bepalings ten opsige van vrystede
(Deut 4 & 19).

Bepalings ten opsigte van die
betaling van belastings, die tiendes (Lev 27; Deut 14).

Oorlogswette (Deut 20).

Voorskrifte tov beskerming van
weduwees, wese en vreemdelinge (Ex 22:21; Deut 10:18; Deut 24:17-22; Deut
26:12-13)

 

Seremonieel:

Onder die seremoniële wette en
voorskrifte kan ons aan die volgende dink:

Voorskrifte mbt die bou en die
funksionering van die tabernakel en tempel, asook die kleredrag van die
priesters (Ex 25-28, Lev 8).

Voorskrifte mbt die verskillende
offers (Lev 1-7), asook die groot jaarlikse feeste (Deut 16).

Voorskrifte oor rein en onrein
diere (Deut 14).

Voorskrifte mbt die eerstelinge
van die vee (Deut 15).

Ensovoorts ensovoorts.

 

Moreel:

Onder morele wette kan mens in
eerste instansie dink aan die 10 gebooie, en die breëre uitwerking daarvan in
die Pentateug, om die etiese lewenswyse van God se volk te reël.

 

Nou is dit so dat nie alle
Mosaïese wette presies pas in een van bogenoemde drie kategorië – siviel,
seremonieel of moreel – nie.

Daar is ook wette wat oorlap, wat
mens byvoorbeeld in meer as een kategorie sal kan onderbring.

Dit bring mens eintlik tot die
konklusie dat dit dalk beter is om te sê dat elke wet sowel ‘n morele dimensie,
‘n siviele dimensie, en ‘n seremoniële dimensie het.

Wanneer mens dan vra na die
relevansie van ‘n spesifieke wet vir vandag, dan maak die opmerking in art. 25
van die NGB meer sin: die waarheid en
inhoud
van elke wet, bepaling of seremonie bly vir ons in Christus Jesus
nog steeds bestaan.

Dit is dus nie so dat net die
morele wette vandag nog vir ons betekenis het nie.

Dit beteken dat elke wet of
bepaling wat ons in die Ou Testament vind, vir ons vandag nog steeds ‘n
boodskap het.

Wel moet ons eerstens daardie wet
uitlê in sy historiese konteks in die Ou Testamentiese bedeling.

Vervolgens moet ons dit toepas op
ons, bewus van ons eie historiese konteks.

Ons moet rekening hou met die
feit dat die heilshistoriese klok aanbeweeg het.

God het nuwe dinge gedoen.

Hy het sy Seun na die aarde
gestuur.

Christus het plaasvervangend die
straf gedra.

Hy is gekruisig, begrawe, maar Hy
het ook weer opgestaan.

Hy het opgevaar na die hemel.

Hy het sy Heilige Gees
uitgestort.

En daarom leef ons nou,
heilshistories, in ‘n nuwe, in ‘n ander bedeling.

Daarmee moet mens rekening hou.

Seremonies en bepalings wat in
die Ou Testament voorafskaduwings van Christus se koms was, kan ons nie nou
meer nakom asof Christus glad nie gekom het nie.

By elke voorskrif of seremonie
behoort ons dus na die verskillende dimensies te kyk – seremonieel, siviel,
moreel.

Die aspekte wat in Christus
vervul is, het in onbruik geraak.

Maar die waarheid en inhoud bly egter nog steeds vir ons relevant.

Dit is in lyn met wat die Here
Jesus self gesê het:

“Moenie dink dat Ek gekom het om
die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar
om te vervul.” (Matt 5:17)

 

Kom ons noem ‘n voorbeeld om dit
te verduidelik:

In die Ou Testament was daar
voorskrifte dat ‘n priester nie voor God se aangesig in die tempel mog verskyn,
alvorens hy nie ‘n offer vir homself gebring het nie.

Vir ons beteken dit nie dat ons,
voordat ons tot God gaan, ook ‘n offer moet bring nie, maar wel dat ons nie tot
God kan nader buite die offer van Jesus Christus om nie.

 

Nog ‘n voorbeeld: In die Ou
Testament was daar die besnydenis.

Ons hoef vandag nie meer besny te
word nie, maar die waarheid en inhoud van die besnydenis geld nog steeds,
naamlik dat ons die boodskap van die besnydenis ter harte neem, en ons ou mens,
ons sondige vlees, moet kruisig.

 

Nog ‘n voorbeeld: In die Ou
Testament is daar uitgebreide voorskrifte mbt rein en onrein diere.

Wat beteken dit vir ons vandag?

Mag ons vandag varkvleis eet? Of
haasvleis?

Mag ons vandag bloed eet?

In Levitikus 11, byvoorbeeld, kan
mens bepalings vind oor die onderskeid tussen rein en onrein diere.

Wat beteken dit nog vir ons
vandag?

Gemeente, om hierdie vraag te
beantwoord, is dit belangrik om eers goed te ondersoek wat God se bedoeling was
met hierdie bepalings in daardie tyd.

En dan kan mens onderskei tussen
die verskillende aspekte – siviel, seremonieel, moreel, ...

Die verbod op die eet of drink
van bloed, het baie te make gehad met die afgodery onder die heidene.

Hulle het geglo dat mens deur
bloed van diere of ander mense te drink, hulle lewenskrag in jou kon opneem.

Die bloed van diere wat die gode
verteenwoordig, kon selfs vir jou ewige lewenskrag gee.

Daar is dus ‘n sterk morele aspek
in hierdie verbod op bloed.

Dit het direk met die eerste
gebod te make: jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.

Geen afgodery nie.

Vandag maak ons in die Westerse
wêreld nie meer hierdie konneksie nie, asof bloed magiese kragte sou hê.

In die wêreld van die apostels,
die Grieks-Romeinse wêreld, was dit nog wel die geval.

Daarom vind mens byvoorbeeld as
‘n bepaling vir die Christene uit die heidene, in Handelinge 15, wel die verbod
op die eet of drink van bloed.

Omdat dit algemeen gebruiklik was
by die Griekse en Romeinse tempels, as onderdeel van die afgodery.

 

Die verbod op die eet van varkvleis
het waarskynlik destyds veral met higiëne te make gehad.

In varke, wat aasvreters is, se
vleis is daar baie meer parasiete, bakteries en virusse wat gevaarlik vir mense
kan wees.

Dit was waarskynlik in die
omstandighede waarin Israel verkeer het met die woestynreis, toe hulle hierdie
bepalings ontvang het, vir die beswil van die volksgesondheid.

Hierdie wette oor rein en onrein
diere, het dus waarskynlik ‘n belangrike siviele dimensie gehad – ‘n fokus op
volksgesondheid.

Dit is een van die aspekte wat
die NGB art. 25 bedoel met die waarheid
en inhoud
van hierdie bepalings oor rein en onrein.

Daardie bedoeling daaragter is
natuurlik ook vandag nog relevant.

Ons kom nie meer die voedselwette
na soos uit die Ou Testament nie – uit Handelinge 10 met die visioen wat Petrus
gesien het – is duidelik dat dit nie meer hoef nie.

Maar wel is die bedoeling
daaragter – naamlik gesonde eetgewoontes – vir ons vandag nog steeds relevant.

Dit lyk of in die loop van die
eeue die oorspronklike bedoeling agter die voedselwette by die Jode op die
agtergrond begin raak het, en dat dit vir hulle veral daaroor gegaan het om
hulle van die heidenvolke te kan onderskei, om hulle superioriteit bo die
heidenvolke te wys.

Dit was egter nie God se oorspronklike
bedoeling met die voedselwette nie.

So het die voedselwette ‘n
blokkade begin vorm om ‘n lig te wees vir die nasies.

Daarom het Christus dit afgeskaf
– sien Handelinge 10.

 

Ek noem nog ‘n laaste voorbeeld:

In die Pentateug is daar ook baie
voorskrifte mbt die bou en inkleding van die tabernakel en tempel.

Mens kan dink aan die
verskillende vertrekke: die heilige, die allerheiligste.

Mens kan dink aan die voorwerpe
daarbinne: die kandelaar, die tafel met die toonbrode, die ark van die verbond,
die brandofferaltaar in die voorhof.

Mens kan dink aan al die
versierings, die motiewe, die materiale wat gebruik moes word.

Ensovoorts.

Dit het alles gewentel rondom die
hoofdoel van hierdie gebou, naamlik die bediening van die versoening.

Al die seremonies, waaroor daar
ook baie voorskrifte is, het gegaan oor die bediening van die versoening.

Dat God in die midde van sy volk
gewoon het, maar dat daar vir die skuld betaal moes word.

Dat alles geheilig moes word voor
die aangesig van die Here.

Dit is oorduidelik uit die Nuwe
Testament dat die Oudtestamentiese bediening van die versoening deur Jesus
Christus vervul is.

Die voorhangsel het geskeur.

Agter die voorhangsel was die
allerheiligste, waar geen mens mog kom nie.

Slegs een keer per jaar die
hoë-priester, op voorwaarde dat hy die offerbloed saamgeneem het.

Maar danksy Christus se bloed het
hierdie seremonie oorbodig geword.

Ja die hele Aäronitiese
priesterdiens het oorbodig geraak.

Die seremoniële dimensie van al
hierdie wette en voorskrifte oor die tabernakel en die tempel, oor die
offerdiens, oor die priesters en hulle take, dit is alles in Christus vervul.

Dit was skaduagtige gebruike wat
juis na Jesus Christus en Golgota toegewys het.

Toe sy offer daar plaasgevind
het, het hulle hul doel gedien.

 

Maar ook hier, die waarheid en inhoud het nog steeds vir
ons ‘n betekenis.

Eerstens om des te meer dankbaar
te wees vir wat Christus gedoen het, sy soenverdienste.

Maar verder herinner al hierdie
voorskrifte in die Mosaïese wetgewing ons nog steeds aan God se heiligheid.

As ons daar deurlees, besef ons
opnuut hoe almagtig, hoe hoogheilig die HERE is.

En hoe barmhartig Hy is dat Hy
onder sy volk wou woon.

Dit herinner ons daaraan dat net
die beste vir die HERE aanvaarbaar was.

Dink aan die materiale waarmee
die tabernakel en tempel gebou moes word.

Dink aan die kunstigheid, waarmee
dit versier moes word.

Dink aan die artistieke gehalte,
waarvan die tempelliturgie getuig het.

Dit is elemente wat ook nog
vandag vir ons relevant is.

Getuig ons kerkgeboue vandag van
ons beste gawes, wat ons aan die HERE wy?

Getuig ons liturgie, ons sang en
musiek, ook van die hoogste gehalte?

Blyk daaruit dat ons in alle
eerbaarheid tot God se eer ons lewe en ons erediens inrig?

 

Christus het die Ou Testament
vervul.

Die seremonies en heenwysings van
die Ou Testament is nou verouderd.

Tog is die Ou Testament nog deel
van ons Bybel.

Dit is ‘n onskatbare bron om ons
God te leer ken.

En sonder die Ou Testament sou
ons nooit die Nuwe Testament verstaan nie.

Christus se offer op Golgata kry diepte
teen die agtergrond van God se openbaring in die Ou Testament.

En nog meer selfs.

Al die wette en bepalings van die
Ou Testament is nog steeds vir ons relevant, al leef ons in die nuwe bedeling,
in nuwe omstandighede.

Hulle waarheid en inhoud is nog steeds vir ons van onskatbare waarde.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)