Die verhoogde Christus sorg dat die prediking van die Evangelie voortgaan

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-08-02
Teks: 
Handelinge 15 : 36-41
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik
kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word voorbehou.

PRETORIA-MARANATA, 2 Augustus 2015 AD, 10:15

Voorsang: Sb 31:1-3

Votum

Seën

Ps 84:6

Gebed

Wet

Ps 25:1,3

Skriflesing: Handelinge 15:22-16:15

Ps 26:1,2,3,7

Teks: Handelinge 15:36-41

Preek

Ps 67:1,2,3

Gebed

Kollekte

Ps 89:1,6,7

Seën

 

 

 


Preek oor Handelinge 15:36-41

 

Konflikte tussen
mense gaan nie aan die deur van die kerk verby nie.

Waar God aktief is,
maak die duiwel ook sy opwagting.

Die Heidelbergse
Kategismus vat die Bybel in die verband soos volg saam:

’n Christen het drie
vyande:

1)     Die duiwel

2)     Die sondige
wêreld

3)     Jou sondige
self.

Hierdie drie vyande
probeer aanhoudend om die prediking van die Evangelie te dwarsboom.

Om die deurwerking
van God se wil in jou lewe te vertraag.

 

Geen wonder dat dit
ook op die sendingsveld gebeur nie.

Dink net aan die
geweldige sosiale druk van die kant van die sondige wêreld.

Dit kan ondraaglik
raak vir jong onervare Christene.

Selfs ervare
Christene sukkel so baie met sosiale druk.

En moenie vergeet
dat die duiwel aanhoudend probeer om dwalings in die harte en koppe van Christene
te probeer plant nie.

Sendingskerk of
tradisionele kerk, orals kan dwaling die kop opsteek.

Orals kan die sonde
’n voet in die deur kry.

Orals kan ’n konflik
ontstaan.

 

In ons teks vind ons
’n goeie voorbeeld hiervan.

Ons teks handel oor
’n konflik tussen twee sendelinge.

Hoewel beide
toegewyde Christene was, het hulle tog nog baie las gehad van hulle ou self,
hulle sondige vlees.

In elke Christen is
en bly daar twee persoonlikhede.

Jou ou self, daardie
deel van jou wat nog wil sondig, wat nog steeds in beheer wil bly en nie
heeltemal aan die gesag van Christus oorgee nie.

En aan die ander
kant, jou nuwe identiteit in Christus.

Jou nuwe
persoonlikheid, wat gewillig in sy diens wil staan.

 

Tema: Die verhoogde Christus sorg dat die prediking van die Evangelie
voortgaan

1 Sy planne word nie vertraag deur enige konflik nie

2 Hy sorg dat die konflik opgelos word

 

1 Sy planne word nie vertraag deur enige konflik nie

Agv die sondigheid,
ook van die sendelinge Paulus en Barnabas, sien ons dat dit ongelukkig ’n
konflik tot gevolg gehad het.

Vers 39: daar het ’n
verbittering ontstaan.

Wat was eintlik die
oorsaak hiervoor?

Wel, dit was as
gevolg van Markus, ook wel genoem Johannes.

 

Wie was hierdie
Markus?

Hy was ’n Joodse
Christen.

Dit is bekend dat sy
ma ’n huis in Jerusalem gehad het.

Paulus en Barnabas
het hom die eerste keer ontmoet toe hulle Jerusalem besoek het om die spesiale
kollekte te bring vanaf die susterkerk in Antiochië.

Die gemeente in
Jerusalem het deur moeilike tye gegaan.

Daar was vervolging
en ook nog ’n hongersnood.

Tydens sy besoek aan
Jerusalem het Paulus en Barnabas Markus geïdentifiseer as ’n potensiële
evangelis.

Hulle kon hom
oortuig om saam met hulle te gaan.

En so het dit gebeur
dat op hulle eerste sendingsreis, Paulus en Barnabas hom saamgevat het.

 

Hoewel, en hier
begin die probleme, halfpad die reis het Markus skielik besluit om om te draai
en terug te keer na Jerusalem.

Dit was nadat hulle
alreeds deur die eiland Cyprus getrek het.

Hulle het daar in
elke dorp die evangelie gebring.

Lukas beskryf in
hoofstuk 13 hoe die goewerneur, die prokonsul van Cyprus, Sergius Paulus
genaamd, tot bekering gekom het.

Na hierdie
indrukwekkende sukses op hulle werk, het Paulus, Barnabas en Markus vanaf die
hawestad Pafos op die westelike puntjie van Cyprus die eiland agter hulle
gelaat en noord geseil, in die rigting van Klein-Asië – teenswoordig Turkye.

Daar het hulle in
die hawe van Attalia aangekom.

’n Paar kilometers daarvandaan
het hulle Perge besoek.

En toe gebeur daar
iets onverwags.

Skielik besluit
Markus om nie verder met Paulus en Barnabas te reis nie,

maar om terug te keer
na Jerusalem, vanwaar hy gekom het.

Die werklike rede is
nie bekend nie, Lukas vertel nie meer daaroor in Handelinge nie.

Die woord wat hy
gebruik het ook nie direk ’n negatiewe konnotasie nie.

Hy het net besluit
om terug te gaan Jerusalem toe.

 

Ons kan maar net gis
na die rede.

Was dit omdat daar
verskil van mening ontstaan het?

Of was dit slegs om
familie-redes, dat Markus teruggekeer het Jerusalem toe?

Ons weet nie.

Maar in Hand
13:13-14 lees ons dat hy hulle verlaat het en teruggekeer het.

En daarna verdwyn
Markus vanaf die toneel.

 

Maar, nou, twee jaar
later,

aan die begin van
die tweede reis, lees ons skielik weer oor hierdie Markus.

Paulus het aan
Barnabas die voorstel gemaak:

Kom ons besoek weer
die plekke waar ons op ons eerste reis was.

Kom ons gaan kyk hoe
dit met die gemeentes gaan, orals waar ons die ampte ingestel het.

Kom ons gaan
stimuleer die ouderlinge.

Miskien kan mens dit
’n soort visitasie noem wat hulle beplan het.

 

Maar op hierdie
oomblik ontstaan daar toe ‘n meningsverskil.

En nie net ’n klein
enetjie nie, maar selfs VERBITTERING – die woord wat Lukas gebruik (Hand 15:39).

Barnabas stel
naamlik voor om Markus weer saam te vat.

Maar Paulus weier.

Hoekom weier hy?

Lukas die skrywer
noem nie hier ’n rede nie.

Was dit dalk so dat
hulle nie so goed oor die weg gekom nie, daardie twee persoonlikhede?

Of het Paulus dit miskien
nie wys geag, omdat Markus nie al die pad saamgegaan het om die eerste reis
nie?

Of was daar miskien leerstellige
verskille?

As ons die
hoofstukke lees wat oor die eerste reis handel, hfst 13 en 14, en veral
hoofstuk 15 wat handel oor die terugvoer wat hulle gegee het in Antiochië en
Jerusalem oor God se wonders in die heidenwêreld, maar ook oor die Joodse
verset omdat die heidene nie verplig is om besny te word en die voedselwette na
te kom nie –

as mens dit so lees,
dan is daar ’n goeie kans dat daar leerstellig ’n verskil was tussen Paulus en
Markus.

Miskien dat Markus
as Joodse Christen ’n bietjie van ’n diskriminerende houding teenoor die
Griekse gelowiges gehad.

Miskien dalk net
onbewus.

Miskien dat hy die
besluit wat geneem is, waarvan ons in hoofstuk 15 lees, nog nie volledig sy eie
gemaak het nie.

Ons weet dat die
verhouding tussen Joodse Christene en die van heidense afkoms baie gevoelig
gelê het.

Die eerste deel van
Hand 15 gaan daaroor.

Aanvanklik was die
Joodse Christene in Jerusalem glad nie so beïndruk met al Paulus se
bekeringsverhale van die mense in die heidenwêreld nie.

Dit het hewige
diskussies tot gevolg gehad.

Moes hierdie
heidense Christene nie ook besny word nie?

Moes hierdie
heidense Christene hulle nie ook hou aan die kosher voedselwette nie?

En so was daar
tallose vrae.

Dit was ’n wonder
van bo – vanaf Christus op die troon – dat daar nie toe daar en dan ’n
kerkskeuring ontstaan het nie.

Die apostel Petrus
het opgestaan, en almal weer aan die kern van die Evangelie herinner.

Dit is slegs deur
genade dat ons gered word, ONS net soos HULLE.

Ons – dit verwys na
die ervare ou kerklede – ons word nie gered deur ons besnydenis, of deur watter
goeie kerklike gewoonte ook al nie.

Slegs deur genade.

 

Hierdie gesprek het
uitgeloop op die skryf van ’n brief.

Die gemeente in
Jerusalem het ’n brief geskryf aan alle heidense bekeerlinge, om hulle aan te
moedig,

om hulle gerus te
stel.

Ons het daardie
brief gelees in Hand 15:23-29.

Daarin word
uitdruklik gesê:

Dit word nie van die
heidense Christene verwag om besny te word nie.

Hulle hoef hulle ook
nie te hou aan al die Joodse gebruike, soos kosher
kos en die ander rituele nie.

Maar, hulle moet
hulle wel aan die volgende hou:

Hulle moet wegbly
van:

- kos geoffer aan
die afgode.

- bloed.

- vleis van diere
wat gewurg is.

- hoerery.

Vier dinge.

Hoekom is hierdie
vier dinge so essensieel?

Hierdie vier dinge
gaan naamlik oor die kern van die Evangelie, in hulle konteks toe.

Dit gaan oor
bekering tot Christus, en volledige vertroue slegs op Hom.

Geen afgodery nie.

Nie jou vertroue in
iets of iemand anders stel nie.

Soos die eerste
gebod dit saamvat:

Jy sal geen ander
gode voor my aangesig hê nie.

Daarom: bly weg van
bloed.

In daardie tyd het
mense geglo dat jou lewe, jou lewenskrag, in jou bloed was.

By die heidense
tempels het die mense bloed gedrink.

Hulle het geglo dat
hulle op die manier hulleself versterk het met die lewenskrag in die bloed van
die diere wat geslag is.

Sommige mense het
selfs die bloed van ander mense gedrink, bv. hulle vyande se bloed.

Dink aan die
swaardvegters – die ‘gladiators’ – in die Romeinse arena’s.

Deur die bloed te
drink van hulle opponent, het hulle hulle eie krag verdubbel.

So’t hulle geglo.

Sommige heidene het
selfs geglo dat deur die bloed van spesifieke diere te drink, jy ook die
lewenskrag van die ewige lewe kon bekom...

Kortliks: die hele
heidense offerstelsel was in feite afgodery met bloed.

 

En dieselfde het
gegeld vir die eet van die vleis van diere wat gewurg is.

Gewurg, dit beteken
dat die bloed van die dooie dier nog steeds in sy vleis was.

Bewus het hulle die
bloed nie uit die karkas laat uitloop nie.

Om sulke vleis – met
die bloed in – te eet, het ook volgens hulle jou lewenskrag verhoog.

 

En dan lees ons die
verbod op hoerery.

Mens kan ook
vertaal: seksuele losbandigheid.

Hierdie verbod staan
ook in die konteks van die gewoontes by die heidense tempels van daardie dae.

Tempelprostitute was
’n algemene verskynsel.

’n Heiden het die
tempel besoek om te offer, om so sy lewenskrag te vermeerder, deur bloed te
drink, maar ook deur seksuele omgang te hê met die tempelprostitute.

Weereens ’n kwessie
van afgodery, nl. om jou eie lewenskrag te verseker, jou eie toekoms, jou eie
ewige lewe.

 

Die evangelie van
redding en ewige lewe deur Christus staan egter haaks hierop.

En, om terug te kom
by ons teks: om van genade alleen te lewe was ’n groot kopskuif vir hierdie
heidense Christene.

En behalwe vir
hulle, ook vir die tradisionele Jode, met al hulle eerbiedwaardige tradisies.

En die kommunikasie
tussen hierdie twee groepe was nie altyd maklik nie.

Die verhouding het
gevoelig gelê.

Wysheid was bitter
nodig.

Gemeente, hierdie
hele kwessie in die vroeë kerk rondom besnydenis en eetgewoontes, kon die
agtergrond gewees het agter die spanninge tussen Paulus en Silas aan die een
kant, en Barnabas en Markus aan die ander kant.

In elk geval, daar
het hewige verbittering ontstaan, sodat hulle paaie uitmekaargegaan het.

 

Dalk moet mens net
nog iets noem.

Markus was Barnabas se neef.

Miskien dat hierdie
familieband ook nog ‘n invloed gehad het…

Die uiteinde was dat
Paulus rigting Asië vertrek het.

Barnabas het egter
die kant van sy neef, Markus, gekies.

En Barnabas en
Markus het na Cyprus gevaar.

 

Nou wil ek u graag
uitnooi om na hierdie hele geskiedenis vanuit God se perspektief te kyk.

Vanuit die
perspektief van die verhoogde Christus.

Soos ek gesê het,
die tema is: die VERHOOGDE Christus sorg dat die prediking van die Evangelie
deurgaan.

Die boek Handelinge
begin met die hemelvaart van Christus.

Voordat Hy vertrek
het, het Hy sy dissipels opdrag gegee:

julle sal my getuies
wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste
van die aarde.

(Hand 1:8)

Die hele boek
Handelinge is geskryf vanuit hierdie perspektief.

Alles wat gebeur,
elke voetstap van die apostels, elke bekering, elke planting van ’n nuwe kerk,
elke vervolging, selfs die dood van die eerste martelaar Stefanus, alles word
aangestuur vanuit die hemel.

Christus begin om
vanuit die hemel sy kerkvergaderende strategie vir die Nuwe-Testamentiese era
te ontvou.

Nooit word Hy, wat
op die troon sit, onkant gevang nie.

Selfs nie deur
hierdie skielike verbittering tussen Paulus en Barnabas nie.

Want dit is so
opvallend, nl. dat die eintlike werk nie geaffekteer word deur hierdie
meningsverskil nie.

DIT IS WAT ONS TEKS
VIR ONS WIL LEER.

Op die eerste reis
het Paulus en Barnabas verskeie kerke geplant.

Hierdie kerke moes
weer besoek word.

Hulle het nog ekstra
begeleiding nodig gehad van die sendelinge.

En God sy dank, dit
het gebeur.

Want hoewel Cyprus
nie weer vir Paulus gesien het nie, het Barnabas en Markus wel na hierdie
eiland gevaar en al die kerke besoek.

En hoewel Klein-Asië
nie weer vir Barnabas gesien het nie, het Paulus daarheen gegaan en die kerk
versterk.

So het al die kerke
die visitasie ontvang wat hulle so nodig gehad het!

En selfs meer, want
daarna het Paulus nog verder na die Weste gereis,

om die Evangelie te
bring vir die eerste keer op die kontinent van Europa.

Dit was op hierdie
sogenaamde tweede reis van Paulus dat hy ’n visioen ontvang het om die see oor
te steek, rigting Macedonië.

Dit was nie ’n baie
groot see nie, maar dit was wel die grens tussen twee kontinente: Europa en
Asië.

Vanuit hierdie
optiek dus ’n baie groot stap.

En ons kan dan lees
oor die eerste bekeerlinge in Europa, soos Lydia in Filippi.

En Paulus het selfs
die Griekse hoofstad Athene besoek.

Op hierdie manier
het Jesus Christus dus gesorg dat die prediking van die Evangelie voortgaan,
dat nuwe grense oorgesteek word.

Om te herhaal: sy
planne word nie deur enige konflik vertraag nie.

Die skerp
verbittering het nie die prediking van die Evangelie gestop nie, nie eens
vertraag nie.

Dit was selfs ’n
bydraende faktor dat die Evangelie NOG verder versprei het.

Want Paulus het nou
nie net by sy oorspronklike plan gehou om sy eerste reis oor te doen nie, maar
hy het nou opgeëindig in die Griekse hoofstad, om die evangelie in die hartjie
van Athene te preek.

 

Die verhoogde
Christus sorg dat die prediking van die Evangelie voortgaan.

Sy planne word nie
deur onenigheid geaffekteer nie.

Dit is die boodskap
van ons teks.

 

Maar gemeente, daar
is nog meer.

Die verhoogde Christus
is almagtig.

Deur sy Gees regeer
Hy in die lewens van gelowiges.

’n Hart van steen
verander Hy in ’n hart vol liefde en medelyde,

’n hart bereid om
sondes te bely.

Die verhoogde
Christus kan selfs die verbittering wegneem.

Dit is die tweede
punt waarna ons gaan kyk.

 

(Tema: Die verhoogde
Christus sorg dat die prediking van die Evangelie voortgaan

1 Sy planne word nie
vertraag deur enige konflik nie)

 

2 Hy sorg dat die konflik opgelos word

Jesus sorg vir
versoening.

Ons teks maak net
kortliks melding van die skerp verbittering, en die gevolg daarvan: dat die
sendelinge se paaie uitmekaar gegaan het.

Maar uit ander
gedeeltes in die Nuwe Testament weet ons dat hierdie toestand nie permanent was
nie.

God sy dank!

Omtrent tien jare
later lees ons ’n baie interessante opmerking in een van Paulus se briewe.

Hy skryf:

Markus, die neef van
Bárnabas, --as hy by julle kom, ontvang hom—(Kol 4:10)

’n Kort aanbeveling.

Maar ons lei hieruit
af dat die verhouding tussen Paulus en Markus dramaties verbeter het.

In ’n ander brief
van Paulus is daar selfs ’n duideliker voorbeeld.

In 2 Tim 4:11 skryf
die apostel

(tussen hakies: die
oomblik dat hy dit skryf is hy in die tronk in Rome as gevolg van die
Evangelie):

Lukas is alleen by my. Markus moet
jy gaan haal en saam met jou bring, want hy kan my baie tot diens wees.

God sy dank,
duidelik was hierdie konflik tien jare later opgelos.

Gedurig is God besig
om deur die krag van sy Woord en Gees, harte van sondige mense te verander.

Somtyds kry ons
aartsvyande dit reg om in die kerk te infiltreer,

selfs in die lewens
van opregte Christene, selfs in die lewens van bedienaars van die Evangelie,
soos Markus, Barnabas, en Paulus.

Maar God sy dank,
sonde is nie daar om te bly nie.

Nie in die kerk nie,
ook nie in die lewe van ’n gelowige nie.

Hulle wat op God bly
vertrou, hulle sal ervaar dat hulle lewens verander word, selfs meer as wat
hulle self sou verwag het.

 

Kom ons dank en
aanbid die Here Jesus Christus vir wat Hy regkry in sondige lewens.

Kom ons dank en
aanbid Hom vir hoe Hy die geskiedenis gelei het, dat die Evangelie nie net Asië
bereik het nie, maar ook Griekeland, en Rome, en Europa, en Amerika, en Afrika,
ook Suid-Afrika.

Kom ons dank en
aanbid die Here vir die feit dat die Evangelie nog steeds verkondig word,
hoewel hulle wat die evangelie bring dikwels so sondig is.

Hoewel hulle ook
self aanhoudend moet veg teen die drie doodsvyande, dat nogtans die Evangelie
so kragtig klink, en dat Christus stap vir stap die harte en lewens van mense
verower.

 

Wie gaan wen?

Wie gaan die
heerskappy voer?

Is dit Satan, met sy
bondgenote – die sondige wêreld, ons ou mens?

Sal hierdie vyand
onomkeerbare skade berokken op aarde?

Somtyds vrees ons
dit gebeur.

Maar laat ons nie
wanhopig word nie.

Die verhoogde
Christus bly in beheer.

Ons mag sy
bondgenote wees.

Kom ons hou aan om
vir die suiwer Evangelie te lewe, dat dit die harte en lewens van so baie mense
in ons land sal infiltreer.

Sodat mense hulle
sondige en korrupte lewe agter hulle sal laat,

die pad wat hulle na
die hel lei.

Sodat ook in ons
land God se gebooie weer gewaardeer sal word.

Miskien voel ons
soms dat ons so swak is, en dat niemand vir ons wil luister nie.

Moenie wanhopig raak
nie.

Ons teks leer ons:
Die Here Jesus gaan aan.

Die verhoogde
Christus sorg dat die prediking van die Evangelie deurgaan.

Selfs in oomblikke
as ons ’n droogmaak, of as ons in sonde val.

Sy planne word nie
vertraag deur konflik of verbittering nie.

Hy sorg dat die
konflik opgelos word.

Dit is sy sending in
die wêreld.

Ons – hoewel dikwels
so swak – ons is so bevoorreg om hieraan deel te neem.

In Christus mag ons.

In Christus moet
ons.

In  Christus kan ons.

 

Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)