Die Evangelie klink ook in die leer oor die twee nature van Christus

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-07-05
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 19
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
5 Julie 2015 AD, 17:30

Voorsang: Sb 25:1-4

Votum

Seën

Ps 122:1

Gebed

Skriflesing: Kolossense 1:24-2:10

Ps 45:1,2

Skriflesing: 1 Johannes 4:1-6

Ps 45:3,4

Skriflesing: 2 Johannes 1:1-13

Ps 45:5,6

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis artikel 19

Preek

Sb 35:1,2

Gebed

Geloofsbelydenis (Nicea)

Sb 35:3

Kollekte

Sb 8:1,2

Seën

 

 

 

 

 

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 19

 

In die Bybel leer ons ook dinge
waarvan ons nie sommer een twee drie die nut vir elke dag insien nie.

As mens sommige Bybelgedeeltes
lees, klink dit baie relevant.

Maar ander Bybelgedeeltes gaan
oor dinge wat vir ons abstrak en onnodig mag klink.

Die onderwerp van artikel 19 van
die NGB is soiets: die twee nature van Christus.

Dit klink dalk nie baie relevant
nie.

Tog is dit onderdeel van ons
belydenis, omdat dit in die Bybel staan.

Dit is deel van God se
openbaring, meer nog, ons eie redding staan of val daarby.

 

Tema: Die
Evangelie klink ook in die leer oor die twee nature van Christus.

-         
Hierdie leer is vir die tydsgees
‘n aanstoot

-         
Hierdie leer is vir die gelowiges
‘n ryke troos

 

-         
Vir die tydsgees ‘n aanstoot

Twee nature is in een Persoon
verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie einskappe behou.

In die Heilige Skrif word oor
Christus sowel Goddelike as menslike dinge gesê, en dit is duidelik dat dit die
heel tyd oor dieselfde Persoon gaan.

Goddelike dinge, byvoorbeeld Hy
word God se Seun genoem.

Hy het die mag om sondes te
vergewe.

Hy het al bestaan voordat Abraham
gelewe het (Joh 8:58).

Maar ook menslik dinge.

Hy het soos die ander kinders
opgegroei.

Hy het honger geraak en dors.

Hy het soms moeg geraak, Hy was
soms bedroef.

 

In artikel 19 gaan dit nie net
oor die feit dat Christus werklik God was, en ook dat Hy werklik mens was nie,
maar ook oor die feit dat hierdie twee nature saam in een Persoon verenig is.

‘n Onmoontlike kombinasie, as jy
dit met jou menslike verstand wou beredeneer.

‘n Onaanvaarbare kombinasie, as
mens na die tydsgees sou luister.

 

Dit was veral die geval in die
tyd van die vroeë Christelike kerk.

Dit word soms die Christologiese
stryd van die eerste eeue genoem.

Op die konsilies van
Konstantinopel (381nC) en Chalceden (451nC) is die dwalinge van teoloë soos
Apollinaris, Eutyches en Nestorius afgewys.

In lyn met die ortodokse teoloë
soos Irenaeus, Athanasius en later Augustinus is bely dat die twee nature van
Christus onvermengd, onveranderd, ongeskei, en ongedeeld is.

Hierdie woorde, wat elkeen met ‘n
‘on-‘ begin, herinner aan die Geloofsbelydenis van Athanasius, waarin die Bybelse
openbaring verdedig word, ook deur dikwels uit te wys op wat dit nie is nie, sonder om te verval in
spekulasies oor hoe dit wel sou wees.

Dinge wat ons verstand te bowe
gaan.

Soos 1 Timotheüs 3:16 dit
verwoord: “onteenseglik, die
verborgenheid van die godsaligheid is groot.”

 

Hierdie Christologiese stryd in
die vroeë kerk het veral te make gehad met die tydsgees van toe.

Die Bybelse openbaring oor wie
Christus was, het totaal haaks gestaan op die tydsgees.

Dit het ‘n geweldige debat tot
gevolg gehad.

Sommige mense het allerhande
konstruksies bedink om die een met die ander te probeer versoen.

Dit was ‘n ‘hot topic’.

 

Ook in ons tyd is daar ‘hot
topics’, kontroversiële onderwerpe.

Elke tyd ken so sy eie hobbels,
dinge uit die Bybel wat vir daardie tyd as onaanvaarbaar beleef word.

Ook in ons tyd bots die tydsgees
met bepaalde Bybelse realiteite.

Daar is mense wat absoluut nie
kan verstaan hoekom die Bybel nie vroue in die kerklike ampte toelaat nie.

Daar is mense wat nie meer kan
insien hoekom die Bybel ‘n homoseksuele lewensstyl afwys nie.

Dit is tipiese probleme, hobbels,
wat daar in ons tyd bestaan teenoor die Bybel.

Die feit dat mense nie meer die
nut en die korrektheid van die Bybelse leer oor iets insien nie, is omdat hulle
in so ‘n mate deur die tydsgees beïnvloed is, dat hulle nie meer onbevange en
skoon oor iets kan dink nie.

Vervolgens sien mens dat daar
pogings ontstaan, meestal van die kant van teoloë, wat self ook kinders van
hulle tyd is, om die Bybel en die tydsgees met mekaar te probeer versoen.

Of wat ook soms gebeur, is dat
hulle hulle eksegetiese en hermeneutiese instrumente gebruik (misbruik) om die
Bybel op ‘n nuwe manier te verklaar, sodat die Bybel volgens hulle eintlik iets
anders bedoel as wat die kerk deur die eeue daarin gelees het.

So word die teologiese
instrumente van eksegese en hermeneutiek misbruik om die Bybel te laat
buikspreek.

Wat ook dikwels beklemtoon word,
is dat die tydsgees nie noodwendig sondig hoef te wees nie.

Daar kan ook goeie dinge in die
tydsgees wees.

En dit is waar, soms maak ‘n nuwe
tydsgees die mense se oë oop vir ‘n Bybelse werklikheid wat lank onder die stof
gelê het.

Maar dit voer uiteraard te ver om
alles wat die tydsgees aandra, as goed te bestempel.

Dikwels dwaal die tydsgees ver af
van God se openbaring.

By alles wat die tydsgees na vore
skuif, sal dit deur die kerk van Christus getoets moet word aan die onfeilbare
Woord van God.

 

Presies hierdie prosesse het ook
in die vroeë kerk plaasgevind, hoewel dit toe nie oor die vrou in die amp of
oor homoseksualiteit gegaan het nie, maar wat toe ‘n kontroversiële saak was in
die tydsgees van toe, naamlik die verhouding tussen gees en materie, die
negatiewe konnotasie wat die gnostiek geheg het aan die materie.

In die Skrif word Christus se
gemeente al gewaarsku om op hulle hoede te wees vir die tydsgees.

Paulus skryf aan die Kolossense:
“Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige
misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste
beginselfs van die wêreld en nie volgens Christus nie. Want in Hom woon al die
volheid van die Godheid liggaamlik.” (Kol 2:8-9)

Duidelik word hier beklemtoon dat
daar nie ‘n teenstelling, ‘n onoorbrugbare kloof bestaan tussen Christus se liggaam
en Christus se Godheid nie.

Die antitese is nie tussen
materie en gees, liggaam en siel nie.

Die antitese is tussen die ou
mens en die nuwe mens.

Die ou mens, wat met liggaam en
siel aan die sonde vasklou.

En die nuwe mens, wat na liggaam
en gees deur die Heilige Gees vernuwe word.

 

Die ontkenning van Christus se
liggaamlikheid was iets wat al in die tyd van die Nuwe Testament begin het.

Die apostel Johannes bestry ook
hierdie dwaling in sy eerste brief.

1 Joh 4:2-3: “elke gees wat bely
dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie
bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit
is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom.”

Johannes is hier baie
uitgesproke.

Die tydsgees ontmasker hy hier as
die gees van die Antichris.

Hy skryf in sy tweede brief:
“Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus
Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris.” (2
Joh 1:7)

Die liggaam is as minderwaardig
beskou.

Deur askese moes ‘n mens bo die
liggaamlike probeer uitstyg om geestelike volheid te bereik, en om kontak te
maak met die Goddelike.

Dit was ‘n tipiese gedagte van
die gnostiek.

Agter hierdie gedagte skuil die
idee dat daar ‘n diep kloof bestaan tussen God en die stoflike wêreld.

Maar, die feit dat God dit nie
benede sy stand geag het om sy Seun mens te laat word het, moet dit duidelik
maak dat daar nie ‘n onoorbrugbare kloof bestaan nie.

In Christus, wat ook ‘n mens van
vlees en bloed was, in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik.

 

In die lig van daardie tydsgees, soos
die gnostiek, en die Griekse filosofiese denkbeelde, was dit totaal
onaanvaarbaar dat Christus, wat nota bene uit die hemel gekom het, ‘n liggaam
sou aanneem, ‘n liggaam van vlees en bloed, ja materie.

Dit het gevloek met die mees
basiese uitgangspunte van die tydsgees.

Paulus is op die Areopagus
uitgelag toe hy oor die opstanding van die liggaam uit die dood begin praat
het.

Dit was die mees onaantreklike
gedagte vir ‘n eietydse godsdiens.

Die liggaam was soos ‘n hokkie,
waarin ‘n voëltjie gevange gehou word.

Die beste wat met die voëltjie
kan gebeur, is as iemand eendag die deurtjie oop vergeet, sodat hy kan uitvlieg
sy vryheid tegemoet.

So, het hulle gemeen, word die
siel uit die liggaam bevry die oomblik as die liggaam sterf.

Die siel kry uiteindelik sy
vryheid.

Die siel, wat volgens die
gnostiek goddelik is, kan dan weer verenig word met die godheid.

Dis die beste wat met ‘n mens se
siel kan gebeur.

Om binne so ‘n denkraamwerk, so
‘n tydsgees, ‘n godsdiens aan te hang wat glo in die opstanding van die
liggaam, is dwaas en agterlik.

Want dit sou beteken dat die
voëltjie wat eindelik sy vryheid gekry het, weer gevang word en in sy hokkie teruggestop
word.

Dit is nie as ‘n verbetering, as
vooruitgang, beskou nie, maar agteruitgang.

En so is die Christelike geloof as
agterlik beskou, omdat dit die liggaamlike opstanding uit die dood bely het.

Die Christelike geloof wat ook
bely het dat God se Seun uit die hemel gekom het, en die liggaam van ‘n mens
aangeneem het.

Onnosel, agterlik, onbegryplik.

Net soos so baie mense vandag,
beïnvloed deur vandag se tydsgees, dit as onnosel en agterlik en onbegryplik
beskou dat kerke vroue nie in die amp toelaat nie, en dat die kerk ‘n
homoseksuele lewensstyl afwys.

Sit maar net jou radio aan, maak
die koerant oop, kyk op internet, en jy word oorspoel met menings oor hoe
agterlik die kerk is.

So oefen die tydsgees ‘n
geweldige groot invloed op mense se denke uit.

Oor ‘n paar eeue sal mense
terugkyk en hulle kop skud oor ons tyd, dat mense hulle so druk gemaak het
hieroor.

Net soos dit vir ons moeilik
voorstelbaar is, dat in die vroeë kerk daar sulke heftige debatte gewoed het
oor die twee nature van Christus.

Tog het dit gebeur, en die kerk
was genoodsaak om die Bybelse openbaring teenoor die tydsgees van daardie tyd
te verdedig.

Soms, so lyk dit, tot op die millimeter.

Dink byvoorbeeld aan die
geloofsbelydenis van Athanasius, waarin die formulering op ‘n haas tegniese
wyse elke moontlike misverstand probeer uitskakel: “Ons glo en bely dat ons
Here Jesus Christus, die Seun van God, tegelyk God en mens is... volkome God,
volkome mens met ‘n redelike siel en menslike vlees... Hy is een , nie deur
verandering van die Godheid in die vlees nie maar deur die aanneming van die
mensheid in God. Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese
nie maar deur die eenheid van die Persoon.” Aldus die Geloofsbelydenis van
Athanasius.

Ook in die Nederlandse
Geloofsbelydenis word baie presies geformuleer: “Net soos die Goddelike natuur
altyd ongeskpae gebly het, sonder begin van dae of lewenseinde en hemel en
aarde vervul, so het ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit
het skepsel gebly... Hoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheid gegee
het, het Hy die egtheid van sy menslike natuur nie verander nie, omdat ons
saligheid en ons opstanding ook van die egtheid van sy liggaam afhanklik is.”
(artikel 19)

 

Teenoor die tydsgees, en teenoor
alle pogings om die Skrif aan die tydsgees aan te pas, het die kerk in haar
belydenis standvastig bly staan by die Bybelse openbaring.

Christus het nie net ‘n
skynliggaam gehad nie.

Daar is teoloë wat dit beweer het
– om die verleentheid weg te neem omdat die gnostiek ‘n egte liggaam as
minderwaardig beskou het.

Christus het nie net met ‘n
geestelike, ‘n heel andersoortige liggaam opgestaan nie.

Hoewel dit waar is dat Hy met ‘n
verheerlikte liggaam opgestaan het, wil dit nie sê dat dit nie meer van materie
was nie.

Maria kon na sy opstanding sy
voete gryp.

Die dissipels kon aan Hom vat,
selfs aan die kruiswonde wat daar nog was (Joh 20:27).

“Kyk na my hande en my voete” het
Jesus gesê “want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees
en bene soos julle sien dat Ek het nie.” (Luk 24:39)

En die Here Jesus kon met sy
verheerlikte liggaam nog steeds eet, bv. van gebraaide vis geniet.

Hierdie tipe opmerkings in die
Skrif het ‘n geweldige verleentheid gevorm vanuit ‘n gnostiese oogpunt.

Net soos die Pauliniese uitsprake
oor die vrou se posisie vir vandag se tydsgees ‘n verleentheid vorm.

Maar in haar belydenis het die
kerk by die Skriftuurlike openbaring bly staan, teen die tydsgees in.

Inderdaad, die twee nature van
Christus is só saam in een Persoon verenig dat hulle selfs deur sy dood nie van
mekaar geskei was nie, soos daar in artikel 19 staan.

Christus se Godheid was al in Hom
toe Hy ‘n klein kindjie was, en dit was nog steeds verbonde met sy menslike
natuur aan die kruis en in die graf.

As Christus in die Bybel oor
Homself praat, om ‘n voorbeeld te noem, in Johannes 6, as Hy sê: “Ek is die
brood van die lewe” (vers 35), of in Johannes 10: “Ek is die deur van die
skape” (vers 7), en: “Ek is die goeie herder” (vers 11), elke keer as Jesus
“Ek” gesê het, het dit sowel sy Goddelike as menselike natuur ingesluit.

Dit was ‘n volledig onskeibare
eenheid.

 

(Die Evangelie klink ook in die
leer oor die twee nature van Christus.

-         
Hierdie leer is vir die tydsgees ‘n aanstoot)

 

-         
Hierdie leer is vir die gelowiges
‘n ryke troos

Die Bybelse openbaring oor Christus
se twee nature hou nie rekening met enige tydsgees nie.

God se Woord beskryf die feite
soos hulle was.

Soos God dit in sy raadsplan met
die oog op ons saligheid beplan het, en toe ook uitgevoer het.

Ja dit is onderdeel van God se
heilsplan wat in die volheid van die tyd tot ontplooing gekom het.

Dit is onderdeel van wat die Nuwe
Testament beskryf as die geheimenis wat vir eeue verborge was, waar die profete
al op gewys het, al was dit toe nog nie moontlik om die details van God se
verlossingsplan ten volle te begryp nie.

Hierdie geheimenis is egter in
die volheid van die tyd geopenbaar.

In Christus se menswording is God
se verlossingsplan bekendgestel, en het dit tot ontplooing gekom.

Dit is iets wat ons verstand te
bowe gaan.

Ons spreek bloot die feite na,
die feite wat daartoe gelei het dat daar nou vir ons redding en ewige lewe
moontlik is, ons mense wat in sonde geval en in opstand teen God gekom het.

Wat ‘n ryke troos vir die
gelowiges!

Volledige herstel van alle dinge,
oorwinning van die dood, vooruitsig op ‘n ewige lewe, vir siel én liggaam.

Dit het Christus verwerf, dit het
Hy moontlik gemaak, juis deurdat Hy was soos Hy was.

Soos die Vader dit in sy
raadsplan verordineer het.

Dat Jesus, toe Hy na die aarde
gekom het, God gebly het, sodat Hy met sy Goddelike krag die dood kon oorwin.

En dat Jesus ook ware mens geword
het, na liggaam en siel, ja want sowel liggaam en siel was aangetas en verdorwe
deur die sondeval, en dat Jesus as ware mens, deur die swakheid van sy vlees
vir ons kon sterwe – soos artikel 19 dit verwoord.

As ‘n mens kon Hy vir ons, sy
medemense, borg staan.

 

Wat ‘n openbaring!

Vir elke tydsgees was dit onverwags,
onbegryplik, ja ‘n aanstoot.

Maar Christus se kerk mag dit in
verwondering naspreek en bely.

Want hierdie feite hou vir ons
die beste nuus ooit in!

‘n Ryke troos.

 

In die tyd toe die Nederlandse
Geloofsbelydenis geskryf is, het die Christologiese stryd van die eerste eeue
nie meer gewoed nie.

Tog was daar ook in die eeu van
die Reformasie mense wat Christus se twee nature ontken het, of een van die
twee.

Byvoorbeeld die Wederdopers wat
die materiële of liggaamlike ook as van ‘n laer graad en minder belangrik
beskou het.

Ook was daar mense, soos Servet
in Genève waar Calvyn gewoon het, wat Christus se godheid ontken het.

 

Ook vandag nog onderskryf die
kerk van Christus hierdie belydenis oor die twee nature van Christus.

Uit ‘n kontemporêre oogpunt mag
hierdie belydenis dalk nie so aktueel lyk nie.

Hoewel ons daarop bedag moet wees
dat daar ook vandag mense is wat Christus se godheid ontken, veral in die
vrysinnige teologie.

Daar is ook hulle wat sy mensheid
ontken.

Daar is hulle wat ontken dat Hy
regtig as mens uit die graf opgestaan het, en dat dit ‘n waarborg is dat ons
liggame van vlees en bloed ook eendag regtig uit die graf sal opstaan.

 

Maar tog is dit onderdeel van God
se Woord, en dit het alles te make met ons ewige saligheid.

Daarom is ook hierdie belydenis oor
die twee nature van Christus vir ons ‘n kosbare kleinood.

Ons koester ook hierdie onderdeel
van die leer.

Ons glo dit, want ons glo alles
wat in God se Woord staan, al is sommige dinge vir ons verstand onbegryplik,
maak nie saak nie.

God is veel groter as ons.

Ons bely dit, en ons verdedig dit
as dit moet.

Ons laat nie toe dat iemand
hierdie troos van ons afvat nie.

 

Verder, nog ‘n breër meer
algemene toepassing.

Laat ons die waarskuwing van die
apostel Johannes ter harte neem:

Wees op julle hoede vir verleiers
wat met die tydsgees in julle koppe kom spook.

Hulle doen hulle bes om gelowiges
oor te haal, om te praat.

Glo nie elke gees nie, maar stel
die geeste op die proef of hulle uit God is.

Daar is baie valse profete wat in
die wêreld uitgegaan het.

In daardie tyd, in die vroeg
Christelike kerk, het hulle dit as agterlik en onvaarbaar beskou dat Christus in
die vlees gekom het.

In ons tyd is daar verleiers,
valse profete, wat eweneens die tydsgees gebruik, om die kerk van Christus wys
te maak dat sommige dinge agterlik, ouderwets en onaanvaarbaar is.

Laat ons ons gedagtes, ons
opinies, reinig van opvattings wat op gespanne voet met God se Woord staan.

So sal ook ons ‘n erfenis vir die
nageslag nalaat, naamlik om ook in ons tyd en te midde van die huidige

tydsgees, die waarheid van God se volle Woord te bely,

net soos kerk uit vroeëre eeue
aan ons die belydenis nagelaat het oor die twee nature van Christus.

Iets wat veroorsaak het dat die
wêreld veragtelik op hulle neergekyk het.

Maar aan die einde van die dag
lewe ons mos nie om die wêreld te behaag nie, maar die almagtige en ewige God
wat ons dien.

Jesus Christus, Hy wat regeer op
die troon.

Hy wat opgestaan het uit die
dood.

Hy wat sal terugkom op die
jongste dag, wanneer alle gestorwenes ook liggaamlik sal opstaan.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)